GEORGE NUUS -Spesiale aanbiedinge wat oor 'n tydperk versprei is en mense se kommer oor die Covid-19-situasie, blyk van die vernaamste redes te wees dat minder mense vanjaar op Swart Vrydag, 27 November, op die winkels toegesak het.
Anders as verlede jaar was parkeerplek by winkelsentrums Vrydag volop beskikbaar. Net hier en daar het mense buite winkels tougestaan en dit is toegeskryf aan die hoeveelheid mense wat in winkels toegelaat is. Covid-19-protokolle is streng toegepas.
Garden Route Mall
Tumi Masango, bemarkingsbestuurder van die Garden Route Mall, het Maandag gesê daar was vanjaar 63% minder besoekers op Swart Vrydag in vergeleke met verlede jaar. Daar kan verskeie redes voor wees. Die styging in die Covid-19-syfers het beslis 'n rol gespeel. Sakeondernemings wou voldoen aan die Covid-19-regulasies en die sentrumbestuur het moeite gedoen dat daar aan die Covid-regulasies voldoen word. Amptenare van die departement van gesondheid het die sentrum verlede week besoek en was tevrede met die stappe wat in plek was.
Van die sakeondernemings het die hele November spesiale aanbiedinge gehad en dit kon 'n rol gespeel het in die vermindering van mense op Swart Vrydag. Die moeilike ekonomiese situasie kon ook 'n rol gespeel het. Volgens haar is daar in die algemeen 'n neiging om gebruik te maak van aanlyn-inkopies.
In die algemeen sal die November verkoopsyfers eers later in Desember beskikbaar wees, maar vir Oktober het hulle 'n groei van 7,35% beleef, jaar op jaar.
Kloppers
Willem Kloppers (senior) eienaar van Kloppers in George het gesê dit was baie stiller Vrydag vergeleke met dieselfde dag ander jare. Die onderneming se spesiale aanbiedinge was oor 'n maand versprei. Hulle het in die maand beter gedoen as in vergelyking met ander jare. Baie gewild was televisiestelle, horlosies en koffiemakers.
George-sakekamer
Ingrid Cronjé, hoof- uitvoerende beampte van die George-sakekamer, het gesê mense bestee minder geld as gevolg van die ekonomiese situasie. Hulle is onseker oor hul eie finansiële omstandighede. Van die maatskappye is nie vanjaar in 'n posisie om bonusse aan werknemers te betaal nie en sommige werknemers weet ook nie of afleggings in die pyplyn is nie.
AHi-Wes-Kaap
Dr. Willie Cilliers, voorsitter van die AHi-Wes-Kaap, het gesê die ekonomie trek swaar. "Mens voel dit aan hul sakke. Aanlyn verkope het goed gevaar. As daar een wenner is, dan is dit aanlyn verkope. Dis die nuwe besigheidsorde vir die toekoms. Dit het baie makliker geword en dit spaar jou die risiko om in 'n groot winkelsentrum aan infeksie blootgestel te word."
Black Friday, 27 November, was not as busy this year as usual. According to businesses, this can be ascribed to the fact that specials were spread over a few weeks, worry about the increase in Covid-19, the growing trend of online shopping and the struggling economy.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'