GEORGE NUUS - Die belangrike rol van die informele sektor en entrepreneurskap was maar net twee van die aangeleenthede wat verlede Vrydag, 4 November, by die AHi Wes-Kaap se jaarlikse kongres ter sprake gekom en uitgelig is.
Die kongres is deur verteenwoordigers van 18 sakekamers en instansies bygewoon vanoor die provinsie. Onder hulle was verteenwoordigers van Clanwilliam, Kaapstad, Paarl en die Tuinroete.
Dit is reeds Donderdagaand voorafgegaan deur 'n gala-geleentheid waartydens erkenning gegee is vir bydraes in die sakegemeenskap.
George-sakekamer is as die Sakekamer van die jaar aangewys en Pacaltsdorp as die Opkomende sakekamer van die jaar. Piekant Piekniek van George het met die louere weggestap in die afdeling, Klein besigheid van die jaar en die gasvryheid instansie van die jaar was, Pelgrimstog van hoop.
Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van AgriSA, was die gasspreker.
Leon van Wyk, George se burgemeester, het Vrydagoggend se verrigtinge aan die gang gesit. Hy het gesê een van die grootste uitdagings van die sakegemeenskap is hoe om saam te werk met die regeringsfere en hande te vat.
Japie Gouws, voormalige uitvoerende hoof van die ATKV, het gepraat oor 'n sakekamermodel vir die toekoms.
Hy het gesê daar is aanduidings dat sakevertroue daal. Die laaste paar jaar het deelname aan die aktiwiteite van sakekamers gedaal. Elke sakekamer is uniek in 'n dorp.
Baie van die sakeondernemings in dorpe is nie lede van die sakekamers nie en daar sal gekyk moet word na hoekom dit so is.
Volgens hom is daar enorme potensiaal vir werwing van lede. Daar moet sekergemaak word dat die toerismebedryf deel is van die sakekamers. Skole en universiteite behoort ook verteenwoordig te wees. Hy het sakekamers aangemoedig om te kyk hoe die informele sektor werk.
Richard Shumi, voorsitter van die Thembalethu-sakekamer, wat aan die daaropvolgende paneelbespreking deelgeneem het, het gewys op die belangrikheid van die informele sektor. Die sektor skep werk en help met die verligting van armoede. Daar moet hande gevat word. Almal moet betrokke wees en mekaar nie as vyande sien nie.
Divan Botha, aanbieder van die TV-program Winslyn op kykNET, het gepraat oor die rol van klein besighede in die plaaslike ekonomie asook die kritiese rol van sakekamers om klein besighede te ondersteun.
Hy het gesê klein besighede dra 37% by tot BBP. Klein besighede is hoe die VSA se ekonomie so robuus is en dit is die enjin van daardie land se ekonomiese groei.
Klein besighede moenie optree soos groot besighede nie. Die grootste krag van klein besighede is dat hulle vandag besluite kan neem. Volgens hom lê die toekoms van die land in klein besighede.
Nabetragting
Dr. Willie Cilliers, voorsitter/uitvoerende hoof van die AHi, het Dinsdag in nabetragting van die kongres gesê positiewe terugvoering is van kongresgangers ontvang. Die kwaliteit deelname van kongresgangers het bygedra tot die sukses. Insette wat tydens die kongres gemaak is sal binnekort tydens 'n strategiese sessie van die AHi bespreek word.
Sterk klem gaan gelê word op die hervorming van sakekamers. Dis onafwendbaar dat sakekamers sal moet verander. Daar sal gekyk word na die uitdagings en geleenthede van die informele sektor en hoe sakekamers belyn kan word om 'n rol daarin te speel.
AJV van die AHi Wes-Kaap
Na afloop van die kongres is die instansie se algemene jaarvergadering gehou. Dr. Willie Cilliers, voorsitter/uitvoerende hoof van die instansie, het gesê daar is paar prioriteite wat in 2023 aandag sal moet kry, dit is:
• Samewerking tussen plaaslike sakekamers en munisipaliteite binne 'n inklusiewe ekonomie;
• "Red10 Dorpe Projek". Verdere ontwikkeling van 'n raamwerk vir implementering van die projek om veral Klein gemeenskappe te help om hul plaaslike ekonomie te stimuleer;
• Afhandelings van die toekomstige sakekamer model. Implementering daarvan asook die opleiding van sakekamer besture;
• Deurlopende ontwikkeling van die instansie se platforms om sakekamers by te staan;
• Die daarstel van 'n databasis van besigheidmentors in die Wes-Kaap en
• Ondersoek bronne van finansiering om sakekamers by te staan in moeilike finansiële omstandighede.
Cilliers het benadruk dat die toekomspad van sakekamers beslis een is waar onderlinge samewerking uiters belangrik gaan word.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'