Pastorale brief aan gemeentes
Ons is al ‘n aantal weke in die eerste maand van die nuwe jaar. Die ou jaar is afgeskud. Dit is 2021! Dit is die Nederlandse teoloog Versteeg wat wys op die absolute teenstelling wat die woorde ‘nuut’ en ‘oud’ vorm. Net soos ‘dag’ en ‘nag’ sê hy. Tóg reken hy dat ons weinig van die teenstelling tussen oud en nuut beleef. Hulle ‘loop voortdurend in mekaar oor,’ reken hy. Dit is maar die klokslag om 12 wat die ou jaar en die nuwe jaar van mekaar skei. Die nuwe jaar het wel ’n nuwe jaartal, maar dit is tóg asof dit wat ons ‘nuut’ noem in ’n sirkel draai rondom die ‘oue’. Dit is asof ons in alles wat ons ‘nuut’ noem ons onsself nie kan losmaak van die ‘oue’ nie. Ja, dit is asof die ou jaar en die nuwe met mekaar meeding in ons hart.
Baie van ons het die nuwe jaar anders as soortgelyke tye in die verlede betree. Ons president het kort voor die draai van die jaar met ons gepraat en binne enkele dae in die nuwe jaar het hy wéér gepraat. Ons was oortuig dat ons 2020 gegroet het, dat dit wat in maande sedert Maart 2020 aan ons bekend geword het nou geskiedenis is en geen bedreiging inhou nie. Dit is ’n nuwe jaar. ’n Nuwe variant van die COVID-virus het egter te voorskyn gekom, wat blyk baie vinnig en maklik versprei en ons het die nuwe jaar ingegaan met ’n tweede vlaag. Wat toenemend bekend word, is dat hierdie vlaag gedryf word deur verspreiding aan huis, in familiekringe en by sosiale byeenkomste waar goeie vriende saamkuier en dan ook by kerkbyeenkomste soos eredienste en begrafnisse. Dit is nie meer net ouer persone bo sestig wat kwesbaar is nie. Jonger mense en selfs kinders word geïnfekteer en sterf.
Skielik is dit asof die nuwe jaar al die besorgdheid en die onsekerheid en die spanning en die angs van die ou jaar in haar skoot ontvang en vashou met ’n groot vraagteken.
Ons is weer deur die president op vlak drie met aangepaste regulasies rakende inperking geplaas. Dit het nie net verreikende effek op ons land se brose ekonomie nie, maar het ook implikasies vir ons as gemeentes.