Nuwe Kerkorde nou beskikbaar
Nuwe Kerkorde nou beskikbaar
Lees deur internet, klik hier >>
10 Julie 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Kerkorde nou beskikbaar!
Die 2019 Kerkorde en Reglemente is nou beskikbaar. Kontak vir Lisa Human by 082 431 9955 om 'n kopie by die sinodale kantoor af te haal. Digitale weergawes is ook beskikbaar by www.kaapkerk.co.za en www.kerkargief.co.za. Kyk gerus na die video onder waarin Charl Stander, aktuarius van die Sinode van Wes-Kaapland, die publikasie bekendstel.
Biblia Hawesending weer aan boord
Biblia Hawesending se personeel het oor die jare hulself al deeglik bewys as mense wat pastoraal baie omgee vir die seemanne wat op skepe werk, en veral vir diegene wat uitgebuit word. Hierdie mense was die afgelope paar maande as gevolg van COVID-19 vasgevang op skepe en kan nou weer, uiteindelik, besoek ontvang van ons Biblia pastorale werkers – iets wat hulle intussen besonder baie gemis het. Een van die bemanningslede het dadelik sy Bybel begin lees (foto regs).
Lees meer van die hervatte besoeke aan die eerste skip te Richardsbaai hier
Dankoffers aan ons susterskerke in Afrika – waar maak dit ‘n verskil?
As lidmate hul dankoffers in bordjies gooi of donateurs ‘n internetbetaling aan ons susterskerke in Afrika maak, besef hulle nie altyd watter verreikende gevolge dit vir die lewens van ander het nie, veral nou in die COVID-19-tyd. Dit is ‘n reddingsboei vir vele huisgesinne. Getuienisaksie (sien foto onder) het onlangs finansiële ondersteuning aan predikante van ons susterskerk in Mosambiek, die Igreja Reformada em Moçambique (IRM) Sinode Mphatso, gegee. Lees hier verder.
V.l.n.r. is ds. Mateus Soko, skriba van die Sinode Mphatso, ds. Samuel Cassolo (moderator), Kobus Odendaal (PSD Getuienisaksie) en dr. Miguel Nobre, die algemene sekretaris van die sinode.
GROEI-projek 
Kraaifontein-gemeente se Alfred Borcherds en Anne-Marie Judeel (foto onder), het vandeesweek hulle twee saadbokse van GROEI ontvang. Hierdie saadbokse is saamgestel deur African Seeds Group en bevat winter- en somergewasse, bemesting en inligting oor tuinmaak. Hierdie gemeente is nou gereed om hul #GROEIprojek voort te sit op hul gronde vir die gemeente se eie gebruik.
As jou gemeente ook betrokke wil raak by hierdie projek wat 'n volhoubare leefstyl aanmoedig, stuur gerus 'n e-pos aan spg@kaapkerk.co.za vir meer inligting. 
EKOLOGIE
Plastiek-vrye Julie Veldtog
Dewald Hoffmann van ons Groen Span gesels hierdie week in hul #Eko-wenk oor hoe ons baie ernstig oor plastiekverbruik moet nadink. Kom ons begin ‘n nuwe leefstyl met verantwoordbaarheid teenoor die aarde. 

Haai daar!
Volgens Kristin Hetterman, ‘n oseaanbewaarder en onderwaterfotograaf, is haaie die diere in die oseaan (en moontlik ook op die planeet) wat die meeste misverstaan word.
As gevolg van die hoofrolle wat haaie in sommige van die skrikwekkendste films in Hollywood vertolk, het hulle 'n baie slegte reputasie gekry. Hierdie misverstaande roofdiere vorm egter 'n belangrike deel van die onderwater-ekosisteem en loop tans die gevaar om uit te sterf. Te danke aan bewegings soos die International Shark Awareness Day is die verouderde sienings oor haaie besig om uit te faseer. Hetterman noem dat ons oor die afgelope 20 jaar 'n groot positiewe verandering in die houdings teenoor haaie gesien het. 
Ter ere van die International Shark Awareness Day op 14 Julie, kan jy ook hierdie misverstaande seedier beter leer ken. Klik hier om ‘n paar interessante feite en mites oor haaie te lees of klik hier om ‘n persoonlikheidstoets te doen om vas te stel watter tipe haai jy is.  
Kyk gerus ook National Geographic se video (onder) vir meer inligting oor hierdie beweging. 
GEMEENTENUUS
Kuilsrivier-Suid maak op 'n skrefie oop
Na noukeurige beraadslaging het die gemeente van Kuilsriver-Suid besluit om weer eredienste vanaf 12 Julie 2020 te hervat. Drie eredienste sal op ‘n Sondag beskikbaar wees vir gemeentelede weens die beperking van 50 mense per samekoms. 
Streng protokol sal geskied om te verseker dat lidmate nie blootgestel sal word aan die COVID-19-virus nie. Gemeentelede moet dus hulle sitplekke vooraf bespreek om die eredienste te kan bywoon. Diegene sonder ‘n masker of wat nie op die lys is nie, sal nie ingelaat word nie. 
Lidmate wat enige van die dienste wil bywoon, moet voor 10:00 op Vrydae vir Elsa Sadie kontak by 021 903 3095 of kan 'n vorm aanlyn invul hier
Kenridge-gemeente versprei tonne appels
Die appelpakkers by Kenridge-gemeente het hierdie week die 10 ton-mylpaal bereik! Die gemeente skryf op hulle Facebook-blad dat hulle baie dankbaar is om met ander netwerke in die gemeenskap te kan saamspan om weekliks vars vrugte regoor die Skiereiland te kan versprei.
"Dankie vir elke dominee, lidmaat en hele gesinne wat sedert lockdown reeds 10 000 kilogram appels verpak het in ongeveer 9 000 sakkies vir verspreiding met kospakkies. Die Here is so goed. Wat ‘n voorreg om as deel van die liggaam van Christus ‘n verskil te maak." 
Butterfly World in Stellenbosch ontvang al die vrugte wat nie geskik is vir verspreiding nie. Kyk gerus die video (onder) van Tillie en Charlie van Butterfly World wat te heerlik smul aan een van die appels!
Brei kniekombersies saam met Goodwood-gemeente
Goodwood Moedergemeente nooi almal uit om deel te raak van hulle kniekombersies-projek. Die gemeente mik om 10 kombersies teen die einde van die maand te brei. Jy kan 'n bydrae lewer deur wol te skenk of jy kan saam brei!
As jy betrokke wil raak, kontak vir Talitha Conradie by 081 725 8172 vir meer inligting. 
‘n Nagmaal met ‘n verskil
Helderberg-gemeente verlang daarna om saam met hulle gemeentelede die Here te aanbid. Maar weens die hoë risiko van COVID-19-infeksies verbonde aan groot samekomste, respekteer hulle die kerkraad se besluit om nie tydens Vlak 3 van die inperking 'n erediens vir 50 persone aan te bied nie.
Daarom gaan die gemeente op Sondag 19 Julie ‘n buitelug nagmaal op die groot parkeerarea langs hulle kapel hou en hul nooi die hele gemeente uit na dié nagmaalsdiens met ‘n verskil. Die bestaande veiligheidsregulasies gaan streng gevolg word en die gemeentelede word versoek om hulle maskers te dra. Lidmate mag deur die loop van die diens ook nie hulle voertuie verlaat nie en die nagmaal word deur die leraars, kerkraad en ander vrywilligers aan hulle bedien.
Die nagmaalsete is vooraf verpak en verseël en is veilig en maklik om te gebruik. Nadat die nagmaalsakrament voorgehou is, is lidmate welkom om die nagmaal daar te gebruik of dit huis toe te neem. So kry die lidmate van Helderberg-gemeente weer die kans om saam ‘n simboliese element van kerkwees te beleef.
Besoek gerus hulle Facebook-blad hier vir meer inligting oor hierdie geleentheid. 
Helderberg help klein sakeondernemings
Helderberg Uitreik se COVID-19-Rampverligtingsfonds ontvang tans aansoeke van klein sakeondernemings of praktyke wat bystand benodig om te verseker dat hul werkomgewing aan die regering se standaarde voldoen om besigheid te doen. Dié fonds kon, te danke aan wonderlike ondersteuning en bydraes uit die gemeente en gemeenskap, sedert die begin van die inperking reeds meer as R425 000 uitbetaal aan individue, klein besighede, organisasies, sopkombuise en vennote wat kospakkies verskaf.
Met die heropening van die ekonomie verskuif die fokus nou na die volhoubaarheid van klein sakeondernemings om weer ‘n inkomste te verdien.
Stuur gerus ‘n e-pos aan Chris Eager VATig@outlook.com vir ‘n aansoekvorm.  
PREDIKANTENUUS - IN MEMORIAM
Gerhard Pieter Martin 12/09/1942 - 2/07/2020
Ons neem met leedwese kennis van die heengaan van Dr. GP Martin. Hy was vir 12 jaar by die VGK-gemeente op Loeriesfontein. Die gemeente beskryf hom soos volg: “’n Groot man met net so 'n groot hart, oop hande en baie vriendelik. Hy was gestuur uit die hand van ons Hemelse Vader. Hardwerkend en liefdevol. Ds. Martin het gebou met liefde om eenheid teweeg te bring. Hy kon agter 'n braaivleisvuur staan om self te braai, agter 'n driebeen pot sit om kos te maak, alles om die gemeente finansieel te bou. Die spore wat hy agterlaat vir VGK Loeriesfontein is diep, ons gun jou die rus Dominee. U het die goeie stryd gestry, die wedloop voltooi en die geloof behou. Rus in vrede.”
Ons innige simpatie aan sy drie kinders Gerard, Cindy en Wesley; hul eggenotes Renee, Cleveland en Ronel, asook vyf kleinkinders Laylah, Ghita, Hannah, Tyloh en Sage.
Johannes Hendrik (Johann) Spies 
16/05/1951 - 3/07/2020

Ons innige simpatie en medelye aan die familie van Johann Spies wat verlede week oorlede is.
August Basson skryf: "My paadjie met Johann het begin in die Kuratoruim waar hy swaar dogmatiese vrae vir amper klaar gestudeerde tokkelokke gevra het. Die akademiese reuse het beter as ek gevaar.
Vyf jaar later loop ek in 'n hospitaal in Pietermaritzburg weer in Johan vas. Ek staan by die bed van iemand wat hy ook as predikant kom besoek. “Is jy 'n predikant?” vra hy. “Soort van,” antwoord ek, waarop hy omdraai en uitloop. By die hyser klim hy saam met my in. “Waar werk jy?” begin die gesprek. Toe ek verduidelik dat ons sendelinge in Lesotho is, vertel hy dat hulle gemeente R40 000 begroot het om in Lesotho betrokke te raak, maar weet nie wat om te doen nie. So volg die uitnodiging om hom te kom sien. Dis hoe my paadjie met Johan en Hester begin het.  
Johann en Hester se huis was altyd oop vir ons en so word Johann een van my mentors en persoonlike ondersteuners die afgelope 23 jaar. Johann was predikant van Ysterplaat en Pietermaritzburg-Suid. Nadat hy met vroeë pensioen moes gaan, het Johan by die Universiteit van Stellenbosch begin werk. Na sy aftrede verlede jaar is hy in Februarie met pankreaskanker gediagnoseer. Hy het die afgelope 2 maande vinnig agteruitgegaan en is verlede Vrydag oorlede. 
Ek sal Johann altyd onthou as iemand wat nooit doekies omgedraai het as hy nie met jou saamgestem het nie. Nooit veroordelend nie, maar net baie reguit.  So het hy my sommer net 'n paar weke gelede oor die dood reggehelp.
Hester, ons dink aan julle as familie. Dankie vir julle oop huis vir soveel mense, soos ons, wat julle drumpels deur getrap het. Julle is spesiale mense."
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Ontvangsdame - Eversdal
Die Edelweiss ACVV Dienstak se residensiële fasiliteit vir ouer persone in Eversdal adverteer 'n 6/8ste (08:00 - 14:00) pos as ontvangsdame. Vorige ondervinding in bejaardesorg sal 'n aanbeveling wees. Klik hier vir meer inligting oor posvereistes. Aansoeke sluit 31 Julie 2020.
Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Klik bo vir Badisa se Julie nuusbrief en kry doenwenke vir Mandela Dag.
PUBLIKASIES
NetACT’s African Public Theology
We are thrilled to introduce to you NetACT’s latest book, African Public Theology. Africa needs leaders and Christians from every walk of life to rediscover their identity and purpose in all spheres of society. African Public Theology sounds a clarion call to accomplish this vital task. The publication will be used at all three NetACT affiliated theological institutions in South Africa for Continuous Ministerial Training and will hopefully be used as a textbook in the future.
God created all humans equally, intending for us to live in community and take responsibility for the world around us – a mandate we need to act on. Through faithful application of Scripture to contexts common in the continent today, contributors from across Africa join as one to present a vision for the Africa that God intended. No simplistic solutions are offered – instead African Public Theology challenges every reader to think through the application of biblical principles in their own community, place of work and sphere of influence.
If we heed the principles and lessons that God’s word has for society, culture and public life, then countries across Africa can have hope of a future that is free from corruption and self-promotion and is instead characterized by collective stewardship and servant-hearted leadership. Click here for more information in PDF format or visit the CLF website.
Hoogtepunte uit Kerkbode
'Armoede begin by die skoene'
Die dood begin by die voete, het Breyten Breytenbach iewers geskryf. Armoede begin by die skoene, skryf Dana Snyman hier

Evangelie moet deurdring tot diepe rassisme
Oor rassisme skryf Dons Kritzinger: "Die Amerikaners is nou erg onder skoot. Tereg. Kyk net die verskriklike ongelykheid van geleenthede, van sosiale omstandighede, van behandeling deur die polisie, ensovoorts. Maar laat ons liewer nie van ons eie ongelykhede praat nie!" Lees meer hier
ALGEMEEN
Alpha conference: Evangelism on the digital frontier
Due to the advances in digital technology, we now have the opportunity to participate in the annual Alpha conference. It comes highly recommended by Braam Hanekom of the Centre for Public Witness. 
Alpha Sub-Saharan Africa sends the following invite:  Join us and amazing thought leaders at our Alpha conference, hosted online! We will be exploring the opportunities for evangelism in this season; how to open the digital front door to your church and create an invitational culture; empowering young people to lead; strengthening and supporting marriages in this season, and more.
Please visit www.alphaconference.org to secure your free virtual seat for the conference, which will take place on 10 and 11 July 2020, 10:00am – 12:30pm (SAST). For more information or assistance, email run@alphasa.co.za.
The Great Colab 
The Great Colab is ʼn interkerklike jeug-inisiatief vir Afrikaanse kerke en organisasies. Hierdie inisiatief is gebore in 2020 tydens die nasionale grendeltydperk en hulle beoog om ʼn relevante, evangelies-gesentreerde, hoë kwaliteit erediens met lesmateriaal op ʼn weeklikse basis beskikbaar te stel.
Dié 7-weke preekreeks het verlede Sondag afgeskop, maar gemeentes words steeds uitgenooi om deel te neem aan hulle program. Deelname is baie maklik. Gemeentes kan net vir hulle jeug vra om in te skakel; daar is geen koste verbonde nie en alle materiaal sal aanlyn beskikbaar gestel word.
As jy wil deel wees hiervan, stuur 'n e-pos aan thegreatcolab@gmail.com
Kyk gerus die onderstaande video vir meer inligting.
Belastingseisoen uitgeskuif tot September
Die belastingseisoen vir persoonlike inkomstebelasting is uitgestel tot 1 September 2020. Sien onderstaande tabel vir datums vir opgawes. Besoek die SARS webwerf hier vir meer inligting.
Raakgelees: Robot hond veg saam teen COVID-19
Singapoer spog met ‘n bevolking van 5,7 miljoen en het tot dusver reeds meer as 45 000 positiewe COVID-19-gevalle aangemeld. Daarom het amptenare van die land besluit om 'robodogs' te gebruik om sosiale afstand in van die stede se besige parke aan te moedig. Hierdie robot hond, Spot, funksioneer met ‘n afstandbeheerstelsel en gebruik kameras om die aantal besoekers in die park en hul afstand van mekaar af te bepaal.
Maar hierdie hond blaf nie, dit praat Engels en herinner gereeld diegene wat deur die park wandel om voldoende sosiale afstand te handhaaf sodat die verspreiding van die virus beperk kan word. "For your own safety and for those around you, please stand at least one metre apart. Thank you,” en “Let’s keep Singapore healthy,” is van die gewildste sinne wat Spot vir die mense sê. Kyk gerus die onderstaande video om te sien hoe paraat Spot deur Singapoer se parke beweeg.   
Klik op grafika bo vir meer inligting oor die aanlyngeleentheid.
VIRTUELE KUIERKANSE
Ondersteun ons gemeentes se fondsinsamelingsinisiatiewe
Met die nasionale inperking en regulasies op publieke byeenkomste moes baie van ons gemeentes geleenthede soos hulle jaarlikse basaar kanselleer. Maar hulle raak elke dag meer vindingryk met projekte soos deurry-basaars, wegneemetes en selfs virtuele kunsveilings. In Julie is Durbanville, Bellville-Oos en Merweville bedrywig. Ondersteun hulle gerus. 


Merweville kunsveiling
Johan Hattingh van Merweville-gemeente laat weet dat hulle allerhande ander planne moes maak om fondse in te samel, aangesien COVID-19 hulle jaarlikse Dankfees ‘gekaap’ het. Een van hulle planne is 'n aanlyn kunsveiling met meer as 30 skilderye wat vir dié doel aan die gemeente geskenk is. Volledige besonderhede is op die gemeente se Facebook-blad te kry.
"Die veiling loop nog net tot 31 Julie 2020  -  so ondersteun ons asseblief en stuur u aanbod aan!" Kontak vir Johan Hattingh by 084 655 5789 of johanria@pawireless.co.za
TEN LAASTE
2020 is halfpad verby en niemand was voorbereid op wat hierdie jaar vir ons sou inhou nie. Ons wil graag hierdie uitgawe en ons gebedsversoek opdra aan ons bejaardes - veral inwoners van aftree-oorde en ouetehuise wat in die besonder deur die grendeltyd geraak word. Die noodgewonge isolasie, fisiese afstand van kinders en kleinkinders en inperkings op hulle vryheid laat diep spore. Maak gerus tyd om te kyk hoe jy bejaardes in jou gemeente en gemeenskap kan ondersteun.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.