Lees deur internet, klik hier >>
26 Februarie 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Luister na DinkJeug se podcast vir praktiese idees hoe gesinne Lydenstyd kan vier.
Waarom glo ons?
Die afgelope maande woed daar ‘n hewige debat oor die geloof in die openbare media. Hierdie debat is natuurlik nie nuut nie en is al op verskeie maniere regdeur die geskiedenis herhaal. Die Sentrum vir Publieke Getuienis het ‘n klein taakspan byeengebring wat ook onlangs ‘n webinaar oor die verwoording van ons geloof in die 21ste eeu gehou het. Braam Hanekom gee hier ‘n samevatting van die belangrikste sake wat onder bespreking was. 
Klik op die skakel onder om die onlangse SPG/VBO webinaar: Waarom glo ons?  te kyk.
VGK Sutherland verken hulle kerkwees
"Ek kon alles verstaan; dit was vir my 'n belewenis! Dit was baie goed aangebied en ek is die Here baie dankbaar dat hy vir ds. Pedro na ons gestuur het; ek sien uit na nog 'n keer!" So getuig suster Eleanor de Water van die VGK Sutherland-kerkraad met wie  Stephen Pedro, PSD van Gemeentegetuienis, op Dinsdagaand 16 Februarie ’n verkenningsgesprek oor hul kerkwees gefasiliteer het. Lees hier meer. 
#imaginelocal
Die #imagine-beweging gaan in 2021 local. Kyk gerus hierdie kort video om te sien hoe dit gaan werk. 
Kontak maryke@imaginemovement.co.za vir meer inligting en indien jy in jou area betrokke wil raak. Daar is ook 'n nuttige PowerPoint-aanbieding wat jy hier kan aflaai.
God - ons toevlug en vesting
Net soos in ander plekke van werk, was dit ook vir Arbeidsbediening in Vredenburg langs die Weskus 'n uitdaging om weer met hul bediening aan die begin van vanjaar te kon voortgaan. “Mens wonder of jy nog ‘n rol het om te speel,” vertel pastoor Joseph Philander van die Assemblies of God (AOG), wat ook ‘n pastorale werker in diens van Arbeidsbediening is. Hy getuig van God se sorg en herbevestiging van die Here se plan vir hom in Arbeidsbediening en ook die breër gemeenskap. Lees hier meer. 
Op die foto is pastoor Philander (heel agter regs) by een van sy geestelike bedieningsessies by Vredenburg Bread Depot.
Wêreldbiddag vir mans - 6 Maart 
Die Taakspan: Gendergeregtigheid het besluit om hierdie jaar materiaal beskikbaar te stel vir Wêreldbiddag vir Mans wat op 6 Maart 2021 plaasvind. Hulle werk met die tema: Bros – ‘n lewe gebou op die Rots en gaan ses podcasts deel, waarvan die eerste een op 6 Maart beskikbaar sal wees.  
Rassisme staan in die pad van sosiale kohesie
Die gesprek oor rassisme is eintlik al 'n paar dekades op Suid-Afrika se tafel, maar het die laaste maande in felheid toegeneem. Die land is oorspoel met nuusberigte, menings en uitsprake, soveel so dat 'n mens wonder of daar nog iets nuuts is om by te voeg.
Die groot vraag waarmee die Sentrum vir Publieke Getuienis tans worstel, is dus hoe ons land werklike wedersydse respek gaan kweek. Gaan mense magsbeheptheid en gierigheid kan stuit? Hoe sal Suid-Afrikaners leer om te leef en laat leef? Dalk is dit omdat ons die les nog nie verstaan nie, dat ons so bloei onder rassisme?
Die sentrum beklemtoon die kerk se rol in die stryd teen rassisme. “Daar lê `n reuse-uitdaging voor kerke se deure om die weg te wys. Dit is nou die tyd en die geleentheid daarvoor. Verskonings is daar nie meer nie. Ons het nie meer tyd nie en daar is te veel wat ons kan verloor. Mag ons verskillende kulturele vorme gedy en mekaar verryk.”
Volg die sentrum hierdie week op Facebook vir meer inligting oor hoe Suid-Afrikaners saam kan werk om sosiale kohesie in die land te bevorder. 
Wes-Kaap Ekumene neem stap vorentoe
Verteenwoordigers van een van die grootste ekumeniese liggame in die Wes-Kaap is deur die Sentrum vir Publieke Getuienis genooi om saam te gesels oor groter samewerking vorentoe. Die groep het Dinsdag by die sinodale sentrum vergader.
Op die foto onder verskyn van links na regs: Braam Hanekom (SPG), Mark Long (Western Cape Religious Leaders Forum), Mbulelo Bikwani (Western Cape Ecumenical Network), Lionel Louw (Western Province Council of Churches/SACC) en Barry Isaacs (Religious Leaders Task Team). `n Aantal groot gesamentlike uitdagings is bespreek, onder andere ook die nuwe belastings op kerkgeboue. 
EKOLOGIE
God is naatloos een met die heelal
Berge is in die Bybel dikwels ontmoetingsplekke tussen God en mense. En dié ontmoetings getuig almal van God se teenwoordigheid en betrokkenheid in sy skepping. Hoe beter ek vir Jesus Christus leer ken, hoe meer ontdek ek dat ek ook in Hom naatloos een is met die heelal. En saam met dié ontdekking sterf alle denke en gevoelens van skeiding en verdeeldheid en vyandskap (die groot apartheid) en word denke en gevoelens van liefde en verbondenheid gebore. Dan verander my verhouding met die skepping ook. Oral waar ek kyk, sien ek vir Christus raak – oral! En omdat ek vir Christus self in alles ontmoet, is niks my vyand meer en vrees ek niks - ook nie die koronavirus of alle ander virusse nie. En dan, net soos God in Christus doen, stel ek my lewe in diens van die welsyn van ons heelal. Lees meer hier
Help red ons seevoëls
n Paar weke gelede het ‘n groot aantal seevoëls (trekduikers, of in Engels cape cormorants) op Robbeneiland hulle neste met kuikens verlaat, moontlik weens ‘n tekort aan voedsel. SANCCOB, ‘n nie-winsgewende organisasie wat ten doel het om seevoëls te beskerm, het hierdie kuikens gered en nou moet hulle gevoer en gerehabiliteer word totdat hulle groot genoeg is om op hul eie te kan funksioneer. SANCCOB is dringend op soek na vrywilligers om te help kos voorberei vir die voëls en te help om die plek skoon te maak. Hulle is in Table View geleë.
Lees hier meer.
#GROEI
COVID-19 het beklemtoon hoe belangrik volhoubare voedselvoorsiening is en diegene by die Hoop en Versoening Trust het besef dat die uitdeel van kospakkies nie volhoubaar is nie. Daarom poog hulle om individue en gemeenskappe te bemagtig om hulle eie kos te produseer met die #GROEI-projek. 
Die trust het oor die afgelope maande positiewe terugvoer ontvang rakende hierdie innoverende groentesaadprojek. Talle gemeenskappe deel stories van hoop oor hoe #GROEI hulle gehelp het om die breër gemeenteskap te inspireer en hulle meer selfonderhoudend te maak. Lees meer terugvoer oor die projek hier
Wat hierdie projek spesiaal maak is die feit dat enige individue, gemeenskap of gemeente betrokke kan raak. Jy het nie ’n graad of spesiale vaardighede en opleiding nodig nie. Dit is bekostigbaar, en kan deur jonk en oud geniet word. Kontak gerus vir Annelie by spg@kaapkerk.co.za vir meer inligting oor hoe om aan te sluit.    
GEMEENTENUUS
Blouberg beplan virtuele stap/draf vir Enkosi-projek
Vir die gemeente van Bloubergstrand is kosvoorsiening aan minderbevoorregtes so oud soos die gemeente self. Teen 1999 het die projek struktuur gekry, die inhoud van die inkopiesak is gestandaardiseer en die naam Kospakkies is gekies. Tye het egter verander en daarmee saam die behoeftes. Nou laat weet die gemeente dat hulle 'n nuwe inisiatief Enkosi tot stand gebring het. Die projek voorsien nie slegs kos nie, maar ook basiese toiletware en skoonmaakmiddels wat nodig is in elke huishouding.
Klik hier vir meer inligting, skenkings en inskrywings vir hulle virtuele stap/draf. 
Paarl-Vallei bederf gesondheidswerkers
Die gemeente van Paarl-Vallei, in samewerking met Adopt a Health Care Hero, wys hulle waardering vir hulle gemeenskap se voorste linie vegters op ‘n baie spesiale manier. Die mediese personeel in die Paarl word ondersteun met omgee-pakkies propvol bederfies en tuisgemaakte kaartjies met bemoedigende woorde, ‘n gebed of ‘n mooi prentjie. 
“Die omgee-pakkies is niks anders as ‘n lekker bederf vir die personeel wat in die hospitale, klinieke en spreekkamers werk nie.”  
Die gemeente wil graag dankie sê vir elkeen wat kaartjies en bederfies geskenk het. Hulle het tot dusver al 100 pakkies uitgedeel. “Kom ons mik vir die volgende 100! Hou asseblief aan om bydraes na die kerkkantoor te bring.” 
Klik hier vir meer besonderhede oor die projek. 
Die Rooi Bank Podcast
BMD (Bloubergstrand Maatskaplike Dienste) en NG Kerk Bloubergstrand spog met 'n storie van hoop inisiatief genaamd Die Rooi Bank Podcast. In ‘n reeks komende gesprekke van 2-3 minute is daar ‘n kort, maar insiggewende gesprek oor praktiese geestesgesondheidswenke vir alledaagse mense.
Maatskaplike werker Thamar Jacobs noem dat geestesgesondheidsprobleme tydens die COVID-19-pandemie hoogty vier. Die unieke manier om inligting te deel – ‘n potgooi - vervang die boodskap op die gedrukte Sondagafkondigings wat nie gelees kan word nie (of deur ‘n beperkte gehoor gelees word) en bereik mense ver buite die  gemeentegrense.
Klik hier om na die jongste opname te luister. 
Sorg vir jouself
Voel jy of jy op ‘n COVID-tuimeltrein is vol van onsekerheid, vrese, verliese, buite beheer, jou planne na die maan? Dit hoef nie so te bly nie!
Self-Care is 'n 10-weke groepgebaseerde program aangebied deur Vredelust-gemeente wat daargestel is om jou te help met hanteringsvaardighede deur moeilike tye, veerkragtigheid, gesonde denke, emosionele regulering en die nodige leefstylaanpassings sodat jy weer jou balans en vreugde kan vind en behou. Die program skop af op 9 Maart 2021 om 19:00. Die sessies kan by die kerkgebou self of aanlyn bygewoon word.
Onderwerpe sluit in: almal het ‘n storie, ontkenning, kommunikasie, depressie, angs en vrees, woede, eensaamheid, aanvaarding en selfsorg, vergifnis, veerkragtigheid en hoop. Kontak vir Diedre Mans by diedre@churchadventure.co.za of 073 545 5821 vir meer inligting. 
GEBEDSVERSOEK
PREDIKANTENUUS
Hendrik Jakobus Gerhardus van Heerden 07.12.1954 - 12.2.2020
Ons innige simpatie gaan aan die familie van Erik van Heerden wat onlangs oorlede is. Erik was sedert 2017 by Velddrif-gemeente en het verlede jaar afgetree. Hy het ook in Carnarvon en Vanwyksvlei bedien.
Ons medelye gaan aan sy vrou Lorinda, kinders en kleinkinders.
Liebenbergs groet Bonnievale
Willem en Hilde Liebenberg groet aan die einde van Februarie die Vandermerwe-gemeente op Bonnievale na 29 jaar. Willem skryf dat hulle met harte vol van dankbaarheid uit die bediening tree.
"Onwillekeurig dink ek terug aan die tyd toe die Here my as ‘n matriekseun geroep het tot die bediening.  Wat ‘n voorreg om vir soveel jare voltyds in die diens van die Here te kon staan!  Ek het nooit getwyfel aan my roeping en oor die boodskap van redding en heling in Jesus Christus nie.   Ek en Hilde kon ‘n wonderlike span wees en koester saam die mooiste herinneringe.  Bonnievale het ons harte aangeraak en verryk… en as ons langs hierdie pad iemand na die Here kon lei en net vir een persoon iets kon beteken, dank ons die Here daarvoor.  Wat ons die meeste van die bediening gaan mis, is die voorreg om so nou deel van menselewens te kon wees, in lief en leed." 
Hulle gaan in Bonnievale aftree, maar ook tyd by hulle strandhuis deurbring. Hulle sien ook uit daarna om by hulle kinders en kleinkinders te kuier en bietjie te reis. Ons wens hulle alle seën toe.
Hans Steyn groet Worcester-Vallei
Hans en Hannelie Steyn groet einde Februarie 2021 vir Worcester-Vallei. Hy laat weet dat die Here sy bediening op Gamka-Oos, Kangovalleie en Worcester-Vallei ryklik geseën het.
"In al drie gemeentes (in die Karoo, Klein-Karoo en Boland) was ons uitsonderlik gelukkig en kan nooit genoeg dankie sê vir hoe ons versorg en gevorm is, asook die wonderlike vriendskapsbande wat ons kon sluit nie.
Ons het drie kinders wat almal getroud is en vier kleinkinders (die vyfde een kom einde April). Ek en Hannelie sien baie daarna uit om nouer betrokke te wees by ons kleinkinders en meer tyd by hulle te kan deurbring.
Alhoewel ek aftree in die gemeente het ek ‘n nuwe roeping waarop ek, as die Here wil,  die volgende paar jaar wil fokus. Ons gaan aanbly op Worcester en wil meer aandag gee aan dissipelmaking en die geestelike begeleiding van mense. Ek wil dit veral doen deur lidmate bloot te stel aan stilword (kontemplasie) en die ontwikkeling van Bybelskool-materiaal. Verder wil ek fokus op gemeenskapsontwikkeling, waarby ek my lewe lank nog betrokke is.  Dis soos Richard Rohr sê, “action and contemplation”, maar die klem val op die “and”.  Dus stilword en opbou.  Oftewel bid en spit!"
Hannelie, ‘n lewenswetenskap onderwyseres, beoog om saam met Hans aan hierdie bediening te werk.
"Na 33 jaar in die bediening en 37 saam as huweliksmaats kan ons net getuig van die Here se goedheid en trou, maar ook van die besondere manier waarop mede-gelowiges, kollegas, asook die  kerk,  ons versorg en gevorm het.  Ons groet met dankbare harte en met ‘n opgewondenheid oor die nuwe bedieningsfase wat nou aanbreek. Ons beste wense vergesel ons kollegas, Rousseau Malan en Stefaans Burden, sowel as die kerkraad en lidmate van die gemeente van Worcester-Vallei.  Dit was ‘n voorreg om die laaste 17 jaar van ons bediening deel van julle Godstorie te wees.
Ek gee graag vir julle ‘n teks uit my afskeidspreek in Johannes 13 waar Jesus, na Hy die dissipels se voete gewas het, hierdie opdrag gee:  'Amen.  Amen. Ek sê vir julle ‘n slaaf is nie belangriker as sy eienaar nie, en ‘n gesant nie belangriker as die een wat hom gestuur het nie.  As julle dit begryp, gelukkig is julle as julle dit doen.' Aan God alleen die eer." 
Mag God julle ryklik seën op julle pad vorentoe. 
Laingsburg neem afskeid van Nortier-familie
Mias Nortier lewer Sondag sy afskeidspreek by Laingsburg-gemeente. Hy skryf: "Daar is die gesegde dat mens twee keer huil in die Karoo: Die dag wat jy arriveer in die Karoo en die dag wat jy wegtrek uit die Karoo. Vir die afgelope vier jaar het ek en Yolandi die gemeenskap van Laingsburg bedien. Dit is 'n harde wêreld, maar die mense se harte is eintlik baie sag. Hier kon ons baie ervaring en lewenskennis opbou. Dankie Laingsburg, dat ons julle herderspaar kon gewees het. Ons sal altyd aan julle as ons 'eerste liefde' terugdink." 
Ons wens vir Mias, sy vrou Yolandi en seun Hanre voorspoed toe met hulle skuif na Despatch Eendrag.
Graafwater verwelkom Leon Venter
Leon Venter en sy vrou Renda het hierdie maand aangesluit by die gemeente van Graafwater en hulle laat weet dat hulle baie opgewonde is vir die pad vorentoe.
"Ek en Renda is baie bevoorreg om die geleentheid te hê om in Graafwater-gemeente in die Sandveld-streek te kom woon en werk. Ons het al baie verhale en stories gehoor van die mooi van die kontrei, nie net stories oor die blomme in die lente na die winterreën nie, maar ook stories oor die spesiale mense wat oor geslagte hier wortel geskiet het en hier leef en werk. Iemand wat so 15 jaar gelede in die Graafwater-streek ingetrek het, sê die volgende wysheid: 'Dit is moeilik vir 'n mens om hier 'n lewe te maak, maar dit is maklik vir 'n mens om hier gelukkig te leef.'
Ons sal graag die drie jaar termyn wil leer om in die ritme van die Sandveld te kom en saam met ons nuwe broers en susters te leef as draers van die saad van die koninkryk van Jesus. Ons het reeds 'n klompie mense ontmoet. Ons is oorweldig deur hul gasvryheid en openheid om ons deel van die gemeenskap te maak en met groot en oop arms te ontvang. Ons is bevoorreg dat die vorige leraar Sam Eygelaar afgetree het in die gemeente. Ons sal graag wil leer by hom en die ander ringsleraars wat al baie lank in die Ring werksaam is."
Voorspoed vir jou bediening in Graafwater, Leon!
Loeriesfontein verwelkom Danie Gerber
Die NG Gemeente Loeriesfontein verwelkom vir Danie Gerber en sy vrou Charmaine as hulle nuwe predikantspaar. Die kerkraad laat weet dat Danie op Sondag, 17 Februarie 2021, as die nuwe predikant deur ds. Dokkie Lintvelt bevestig is. 
"Ons hoop is dat hulle gelukkig sal wees in ons gemeente. Ons is dankbaar vir die Hemelse Vader dat hy ons gebede verhoor het. Mag Hy die verhouding tussen hulle en ons as gemeente ryklik seën." 
Ontmoet VGK-proponent Gabriel Conradie
Die VGK Streeksinode Kaapland het aan die einde van verlede jaar vyf nuwe proponente gelegitimeer wat tans beroepbaar is. Ons stel hulle graag oor die volgende vyf weke voor. Ontmoet proponent Gabriel Conradie, ‘n middelafstandatleet van Caledon wat ook al ’n paar halfmarathonne kafgedraf het en ’n passie vir die kerk het. O ja, en so terloops – hy speel ook goed kitaar; vra maar die Silver Bell Band waarby hy voorheen betrokke was. Klik hier om meer te lees. 
VAKATURES
Leraarspos: Parow-Panorama
NG Kerk Parow-Panorama is op soek na 'n gelegitimeerde leraar van die NG Kerk van Suid-Afrika met uitgebreide ondervinding van alle areas/aspekte van die bedieningsveld. Die ideale kandidaat moet in staat wees om met 'n gediversifiseerde leierspan in spanverband saam te werk. Hierdie Skrifgetroue en geïnspireerde prediker moet ook 'n gemaklike preekstyl in Afrikaans en Engels kan handhaaf.
Klik hier vir die posbeskrywing en gemeenteprofiel. Aansoeke sluit 15 Maart. 
Maatskaplike werker: Villiersdorp
Die Beheerraad van Badisa Villiersdorp wag aansoeke in van gemotiveerde persone wat Badisa se waardes onderskryf. Die ideale kandidaat beskik oor ‘n kwalifikasie in maatskaplike werk en is geregistreer by die Raad vir Maatskaplike Diensberoepe. Leer meer oor die pos hier. Aansoeke sluit 8 Maart. 
Bestuurder: Skiereiland
Badisa Skiereiland beskik tans oor die bogenoemde vakature. Die suksesvolle kandidaat beskik oor minstens vyf jaar toepaslike ervaring binne die kinder- en gesinsorgveld. Registrasie by die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe is verpligtend. Leer verdere vereistes en verantwoordelikhede hier. Aansoeke sluit 5 Maart. 

Stafverpleegster: Citrusdal
Aansoeke van entoesiastiese, verantwoordelike en gemotiveerde persone word vir hierdie betrekking ingewag. ‘n Kwalifikasie as stafverpleegster en registrasie by SA Raad op Verpleging is noodsaaklik. Die ideale kandidaat moet ook bereid wees om 12 uur skofte, naweke en publieke vakansiedae te werk. Klik hier vir meer inligting. Aansoeke sluit 28 Februarie. 
Klik bo vir meer inligting.
PUBLIKASIES
Nuut op die rak
Bybel-Media se nuwe reeks aktiwiteitsboeke is nou beskikbaar. Die reeks van ses boeke bevat prettige stories en aktiwiteite om jong kinders se geloof te vorm. Die selfdoen-aktiwiteite is gegrond op sleuteltekse in die Ou en die Nuwe Testament van die Bybel.  Dit is ideaal vir kinderkategese vir kinders tussen drie en agt jaar oud en help hulle om Jesus op ‘n prettige manier te leer ken.  
Die volledige reeks is ook in Engels beskikbaar. Klik hier vir aanlynbestellings. 
Kry die jongste uitgawe van LiG
LiG-tydskrif se eerste uitgawe van 2021 met voorbladvrou Minki van der Westhuizen pryk tans op die rakke. Hierdie Paasuitgawe sal tot 6 Mei beskikbaar wees.
Lees meer oor Paasfees en Jesus se kruisdood, geloofstories tydens COVID-19 en kry die gratis goedvoel-lysie.
Daar is wenke hoe om jou kind selfdissipline te leer, hoe om met huisgeloof om God se Woord te kuier en hoe om emosionele intimiteit vir 'n gesonde huwelik te bou. 
NUUSBRIEWE
Klik bo vir Inclusive & Affirming Ministries se jongste nuusbrief.
Klik bo om meer te lees oor CLF se dankbaarheidsprojek.
ALGEMEEN
Raakgelees: Oudste preekstoel in SA
RSG het vandeesweek verklap dat Langebaan-gemeente spog met die oudste preekstoel (foto onder) in Suid-Afrika. Hierdie preekstoel is in 1721 deur Adam Albertyn gebou en was vir 130 jaar gebruik op Stellenbosch. Daarna is dit met ‘n ossewa vervoer na Hopefield en in 1872 was die preekstoel op pad Langebaan toe waar dit vandag nog in die 149 jaar oue kerkie gebruik word. Die preekstoel, die kerkie en die ringmuur is verklaar as nasionale gedenkwaardighede. Gaan kyk na die gemeente se blog, die klein kerkie, met interessante inskrywings oor die geskiedenis hier
NID bejaardesorg vier 12 jaar
Shalom (die Nasionale Instituut vir Dowes se afdeling vir bejaardesorg) vier hulle twaalfde bestaansjaar in Maart. Hulle fokus daarop om ‘n huislike atmosfeer te skep waar bejaarde Dowe persone gemaklik, veilig en geliefd voel. Die inwoners bestaan uit persone met gehoorverlies, doofblinde persone en meervoudig-gestremde Dowes. Gestruktureerde daaglikse programme en aktiwiteite word aangebied en fokus daarop om die inwoners te stimuleer en te motiveer. Toegewyde personeel bied daaglikse kwaliteit sorg, maatskaplike en ondersteuningsdienste en mediese sorg.
Ter viering van hierdie spesiale mylpaal wil NID graag 'n geskenkpakkie met toiletware aan elk van hulle 31 inwoners oorhandig. Om 'n geskenk te borg of 'n bydrae te maak, stuur 'n e-pos aan proposals@nid.org.za of Whatsapp 071 375 1426.
Save the date for winter school
The annual winter school hosted by the Faculty of Theology of the Stellenbosch University will take place online from 22 - 23 June 2021.
The topic: Hope? The Church as alternative community in a context of disruption will be addressed.
The full programme and registration information will be made available soon. If you are interested in attending, send an e-mail to Bridget Leibbrandt.
Weltevrede word 20!
Weltevrede Akkommodasie, voormalig bekend as die NG Kerk Oornaghuis, het in Februarie hulle 20ste verjaarsdag gevier. Die geloofsgebaseerde, nie-winsgewende organisasie bied bekostigbare en gemaklike selfsorgverblyf vir besoekers aan die noordelike voorstede van Kaapstad vir die doeleindes van opleiding, sake en sosiale geleenthede, met spesiale tariewe vir mediese langtermynverblyfBesoek die webtuiste vir meer inligting.
Op die foto: (agter van links na regs) is Carine van der Berg, Jeanette Groeneveld en Nelia Botes met Carina Swartz (voor). 
Skryf nou in vir Brightstar-program
Hennie en Amanda Swanepoel is die fasiliteerders van die volgende Brightstar-program wat in Maart aangebied word. Die program behandel drie modules en word op 10, 11, 12, 17, 18 en 19 Maart 2021 (09:00-12:30) via Zoom aangebied. Volgens Hennie het die gewoel van die afgelope jaar baie predikante en maatskaplike werkers uitgeput gelaat en word hulle genooi om op ‘n pret manier hulle lewensdoel te ontdek. 30 VBO-punte is op die spel vir predikante, terwyl maatskaplike werkers 13 CPD-punte kan verdien. Bespreek voor 1 Maart 2021 by Hennie Swanepoel 0827816330 of hjswanepoel09@gmail.com.
BEHOU DIE HUMOR
KUIERKANS
Kenridge Roadhouse
Bestellings moet vooraf aanlyn gemaak en betaal word hier en die bestellings word slegs afgehaal by die kerk. 
TEN LAASTE
Volgende week word die Wêreldbiddag vir Vroue gevier en ons dra hierdie uitgawe van VrydagNuus spesiaal op aan die ongelooflike vroue van Suid-Afrika wat op 'n daaglikse basis hulle eie uitdagings oorkom om 'n wesenlike verskil in hulle gesinne, gemeentes en gemeenskappe te maak. (Illustrasie: Picasso)
Luister gerus hier na die aangrypende weergawe van The Prayer deur Andrea Bocelli and Céline Dion. Mag elkeen die grasie en genade van God onse Vader ondervind.

VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.