Lees deur internet, klik hier >>
14 September 2018
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
Die Here is my Herder
SINODENUUS
1. Grondsake onder meer by ASM op agenda
Die NG Kerk se Algemene Sinode Moderamen (ASM) het hierdie week van 10 tot 12 September in Kemptonpark vergader. Uit die Wes-Kaap was Nelis Janse van Rensburg, Gielie Loubser, Frederick Marais, Bossie Minnaar, Elize Morkel, Charl Stander, Pieter van der Walt en Heerden van Niekerk by die vergadering teenwoordig.
Dinsdag het Christo van der Rheede (Agri SA) gedagtes oor grondhervorming met die ASM gedeel. Na afloop van die gesprek het Jan Woest (Namibië) voorbidding vir die werk van Agri SA gedoen. (Foto onder.)
ASM en Christo van der Rheede
Gustav Claassen, Christo van der Rheede, Jan Woest en Nelis Janse van Rensburg in gebed
NK en VG predikante van gemeentes besig met kerkeenheid
Die NG Kerk en VGKSA het ook hierdie week oor kerkeenheid vergader. Onder diegene
op die foto is predikante van gemeentes wat besig is om te verenig. 
Logo
2. NG Kerk Algemene Sinode 2019 - teken asb. aan!
Gemeentes word versoek om kennis daarvan te neem dat die volgende NG Algemene Sinodesitting van Maandag 7 tot Vrydag 11 Oktober 2019 in Benoni sal plaasvind, soos vandeesweek deur die ASM vasgestel. Teken hierdie datum asb. ook as deel van julle kalender vir 2019 aan.
3. Dis Tyd Om Te Sing massa-saamsingbyeenkoms
Saterdagaand 8 September het 430 koorlede en ongeveer 650 lede van die gehoor deelgeneem aan 'n saamsingbyeenkoms in die historiese Kaapstad stadsaal. Dié massakoor is onder leiding van die dirigent Chad Hendricks begelei deur die volle Kaapse Filharmoniese Orkes en 'n kontemporêre musiekgroep.
Vir 90 minute het die gehoor, met die massakoor as voorsangers, die Here geloof vanuit die musiekskat van die NG Kerk. Die Liedboek-, VONKK- en Flam-liedere is spesiaal deur Riaan Steyn verwerk vir die orkes. Naas die orkes is die koor deur Riaan Steyn, Diederick Basson en Chester Meyer op die klavier en orrel begelei.
Vir die massakoor, saamgestel uit meer as 25 gemeentekore, was die aand 'n uitsonderlike geleentheid. Hulle beskryf dit as: " 'n wonderlike ervaring" en " 'n mooi geleentheid." Almal wat daar was, stem saam dit was 'n voorreg en onvergeetlike ervaring. Bybel-Media het reeds begin praat oor die moontlikheid om dit 'n jaarlikse instelling te maak.
'n Video-opname van die aand sal binne die komende weke beskikbaar wees om te bestel. Indien jy herinner wil word wanneer dit beskikbaar raak, besoek distydomtesing.co.za.
Geniet intussen gerus die foto's en video's op Facebook.

Dis Tyd Om Te Sing
Dis Tyd Om Te Sing in die Kaapstad Stadsaal
Emerititee 8 Nov.
Emerititee 8 November by Helderberg - klik bo
5. Getuienisaksie
Stewige bande met ons susterskerk in Zimbabwe
Dit is vir ons 'n groot vreugde dat ons verhouding met ons susterskerk in Zimbabwe, die Reformed Church in Zimbabwe (RCZ) na al die jare nog so stewig staan. Kobus Odendaal, bestuurder van Getuienisaksie se Taakspan Afrika Ekumene, was in September weer op besoek aan die RCZ se sinodesitting by Morgenster en het tydens hierdie geleentheid ook groeteboodskappe namens die VGK Kaapstreek Sinode en die NG Kerk se Sinode van Wes-Kaapland oorgedra. Lees hier meer.
Sinodegangers
V.l.n.r.: Dr. Christopher Munikwa (visie-moderator), mnr. Mhizha (kassier), ds. Pandasvika (nuwe moderator) en Kobus Odendaal (Getuienisaksie)
Beurs
6. Gendergeregtigheid 
Sinodale beurse vir vier navorsers van NG Kerk beskikbaar
Die Diensgroep vir Toerusting en Navorsing van die Sinode van Wes-Kaap stel bekend: 
Befondsing vir vier studente van die NG Kerk wat in 2019 navorsing aanpak binne die M.Th. Gender- en Gesondheidprogram van die US Fakulteit Teologie.
Kry al die inligting, sowel as aansoekprosedure hier en reageer voor 30 Sep. 2018.

7. Sentrum vir Publieke Getuienis
7.1 Waagmoedige gesprekke (Courageous Conversations)
Nog 'n inklusiewe gesprek oor die toekoms van 'n dorp het verlede Donderdag op Malmesbury plaasgevind. Senior gemeenskapsleiers insluitende die munisipale bestuurder, hooflanddros, onderwysers, boere en kerkleiers het by die Meerhof Landgoed vergader om oor die toekoms van Malmesbury te gesels. Uitdagende werklikhede is in die oë gekyk, maar daar is veral ook gepraat oor hoe die sosiale kapitaal/kohesie op die dorp verhoog kan word. Ons dank aan kollegas Jan Steyn en Eugéne Beukes wat groot inisiatief hierin geneem het. Daar word beplan om die gesprekke voort te sit. Sien die foto onder.
Kontak die Sentrum vir Publieke Getuienis by spg@kaapkerk.co.za met navrae.

Gespreksgenote
Agter v.l.n.r.: Motsipa Seroto, John Durr, David Davids, Eugéne Beukes, Reinette Scholtz, Joggie Scholtz, Joshua Mutemeri
Voor: Jan Steyn, De Waal Esterhuizen
Stan Henkeman
7.2 Opleiding vir predikante in konflikmediasie
Ons bring graag die volgende onder leraars en lidmate se aandag. Die Institute for Justice and Reconciliation (IJR) se Stan Henkeman gaan vir vier agtereenvolgende Woensdae vanaf 19 September saam met More than Peace gratis opleiding verskaf oor hoe om met die verskillende rolspelers (“stakeholders”) in gemeenskappe in gesprek te tree tydens protes en konflik.
Vir meer besonderhede, lees hier en kontak Annie Kirke so gou moontlik by 060 718 7636 of annie@morethanpeace.org. Die Sentrum vir Publieke Getuienis beveel dit sterk aan. 

8. Moderamenvergadering:
'n oorsig
Ter uitbreiding van die kommunikasie en terugvoer rakende ons moderamen se vergaderings, verskaf Charl Stander (tot onlangs die skriba van die sinode) 'n oorsig oor die vergadering van die Sinode van Wes-Kaapland se moderamen op 28 en 29 Augustus 2018.
Hierdie inligting is reeds aan predikante en kerkkantore gestuur en is ter inligting ook hier beskikbaar vir belangstellendes.
VrydagNuus van 31 Augustus 2018 het ook inligting oor dié vergadering gedeel. Klik hier.
9. #K-imagine droom oor grense!
#K-imagine is 'n geleentheid vir jongmense om mekaar oor kleurgrense te ontmoet en saam te droom oor die pad vorentoe. Dit is geïnisieer deur jongmense van Khayelitsha na afloop van vanjaar se #imagine-experience en word ondersteun deur die #imagine-beweging.
Die geleentheid vind op 29 September by Hoërskool Luhlaza in Khayelitsha plaas. Tieners (en volwassenes) van oraloor die groter Kaap-omgewing word genooi om die geleentheid by te woon. Verdere inligting en gratis kaartjies is beskikbaar by Wouter van Velden: wouter@ngkwelgemoed.co.za of 082 419 2118. Kom bou saam brûe!

10. Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit
... die storie ontvou ...
Om met die ontwikkeling van die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit (AMSS) voort te bou op die lewe en werk van Andrew Murray, histories geanker in ons eie kerk se geskiedenis, vra weldeurdagte beplanning en navorsing. Hierin is ons Kerkargief - en by name die entoesiastiese Isabel Murray - goud werd.
Sy deel Frederick Marais (PSD: Kerklike Opleiding) se besorgdheid dat die verhaal van Andrew en Emma Murray, Clairvaux en die Sendinginstituut se Donkies op 'n netjiese en eerbare wyse aan besoekers oorgedra moet word. Daarom nooi hulle toe vir Kotie-Alet Agenbag, videograaf en kunstenaar, saam na die geskiedkundige terrein op Wellington. Die res, soos hulle sê, is geskiedenis!
Geniet gerus die ontvouing van die AMSS-storie - en verskeie karaktervolle foto's (soos die onderstaande een van die Donkies) - saam met ons ... klik hier.

Donkie-klasgroep van ongeveer 1950 voor Huis Samuel
'n Donkie-klasgroep van ongeveer 1950 voor Huis Samuel
Ansha en Ronell van Sutherland
11. Diaconia en Nal'ibali:
Geletterdheid gevier!

Ons Diensgroep Diaconia het Internasionale Geletterdheidsdag op 8 September saam met Ansha Phillies van die Fanatics Leesgroep in Sutherland gevier.
Sutherland spog nou reeds met nege leesgroepe waar die VG Kerk en NG Kerk kindergeletterdheid met die hulp van ge-meentelidmate help bevorder. Kinders wat deel van die leesprojek is, is gevra om ’n storie oor hulself te skryf en Ansha is as die wenner aangewys.
Deur die projek probeer Diaconia nie net om kinders se leesvaardigheid te verbeter nie, maar ook 'n lees-en skryfkultuur onder kinders te vestig. Diaconia wil hul dank uitspreek teenoor IBBY SA en The FunDza Literacy Trust wat die boekpakkie vir Ansha moontlik gemaak het. (Foto: Ansha en Ronell Cloete).
Kontak Righardt by nalibali@kaapkerk.co.za as jou gemeente betrokke wil raak hierby. Deel gerus ook onderstaande video van Nal'ibali met wenke en die voordele van storievertel.
Nal'ibali storytelling tips and benefits
12. KiX-kinderkonferensie groot sukses
KiX (Kinders in Christus) het op 11 en 12 September by Kuilsrivier-Suid ‘n baie opwindende en geslaagde kinderkonferensie met die tema “Toegerus vir die Toekoms” aangebied. Die hoofsprekers was Doris Viljoen, Siegfried Louw, Hugo Theron en Gert van der Merwe.
Daar is 12 verskillende werkswinkels aangebied, o.a. "Die hantering van boeliegedrag", "Sketsbordtekentegnieke", "Kreatiewe gebed", "Buikspraak", "Depressie" en "Familie-gewoontes". Kinderbedienaars van so ver as Springbok en Centurion het die konferensie bygewoon. Geniet 'n paar foto's van die konferensie - klik hier.
Rig navrae aan Maryke by die Jeugkantoor: jeug@sun.ac.za of 021 808 9050.
Konferensiegangers diep in gesprek by die Kix-konferensie
Kinderbedienaars druk in gesprek by die KiX-konferensie
GEMEENTENUUS
Lukhanyo en Riaan
1. Restitusie, versoening in kollig
Van 30 Augustus tot 2 September het die Groote Kerk die kollig op restitusie laat val met die tweede Restitusiekonferensie in Kaapstad aangebied.
Tydens 'n andersoortige erediens op Sondag 2 September, was Wilhelm Verwoerd, kleinseun van Hendrik Verwoerd, in gesprek met Lukhanyo Calata (foto links), seun van een van die Cradock 4, oor versoening en restitusie. Riaan de Villiers se terugblik op die konferensie is hier beskikbaar. Tydens die konferensie is 'n dokument saamgestel wat wil help met konkrete aksies en tydsraamwerke, dit vra vir simboliese gebruike en daadwerklike aksies op die gebied van stadsbeplanning, onder-wys, oudits, nuwe ekonomiese konsensus, ens. Die dokument word tans gefinaliseer en sal dan versprei word aan vennote, geloofsgemeenskappe, instansies en politici. 
Meer foto’s is op Groote Kerk se Facebook. Diegene wat die geleentheid misgeloop het, kan onder klik vir die gesprek.  
Wilhelm Verwoerd en Lukhanyo Calata: Restitusie en versoening
Wilhelm Verwoerd en Lukhanyo Calata: Restitusie en versoening 
Andries
2. NG Sonstraal: Bediening aan besigheidsmense
Die NG Gemeente Sonstraal bied, onder die naam Brightfuture ('n bediening vanuit hulle gemeente deur hul gemeentelede), op 13 Oktober 2018 'n oggendwerkswinkel aan vir besigheidsmense. Die tema is "Bybelse Riglyne vir Besigheidseienaars" en daar word gesels oor onderwerpe soos God se meesterplan vir jou, God as die eienaar van alles, die Bybel as besigheidskompas en Christelike selfsorg vir besigheidsmense. Belangstellendes kan www.brightfuture.co.za besoek of skakel met Andries Cilliers by 084 528 8717 of andries@apcilliers.co.za.
UIT ONS RINGE
Quentin Minnaar
1. Ons bid vir komende ringsittings
Dink asb. saam met ons aan die volgende beplande ringsittings in ons sinodale gebied:
Die Ring van Namakwaland vergader op 16 en 17 September in Port Nolloth. Hierdie ring se nuwe voorsitter is Nicol Smit (NG Gemeente Namakwaland, Springbok), met Nadine Maletzki van Alexanderbaai steeds die bedrewe ringskriba.
Die Ring van Riversdal ontmoet op 20 September by die NG Gemeente Stilbaai. Deon Beyers (NG Gemeente Riversdal-Wes) is ringskriba en Marius le Roux (NG Albertinia) is die voorsitter van die ring.
Die Ring van Swellendam, onder voorsitterskap van Charl van Rensburg (NG Montagu) hou hulle sitting op 16 en 18 September by die NG Gemeente Swellendam.
Die Wesland Verenigende Ring vergader op 17 September by die VGK Malmesbury - en dis terselfdertyd 'n spesiale geleentheid om hul nuwe leraar, ds. Quentin Minnaar (foto) - op 1 September daar ontvang en bevestig - in die ring te verwelkom!
 
2. Caledon Verenigende Ring: Goeie Nuus van die Bybel
Die Caledon Verenigende Ring het vanaf 9 tot 11 September by die NG Gemeente Gansbaai rondom die tema "Die goeie nuus van die Bybel vir vandag" vergader.
Tydens die gesamentlike erediens in die NG Gemeente Gansbaai het prof. Louis Jonker Jeremia 29 voorgehou. Dankie aan Kobus Pretorius (voorsitter), Dewald du Toit (ringskriba), sowel as Maureen Voigt vir die inligting en foto's. Nog 'n foto is hier.

Ringsbywoners
Caledon Verenigende Ring byeen
3. Ring van Kaap die Goeie Hoop byeen
Die Ring van Kaap die Goeie Hoop het op 11 September by Tableview vergader.
Marietjie Steyn, ringskriba van NG Bloubergstrand, skryf: "Ons het terugvoer ontvang van die Taizé-saamtrek en Theunis Botha (PSD: Predikantebegeleiding) het met ons kom gesels oor die werk wat vanuit sy kantoor gedoen word. Bowenal was dit sommer 'n saamkuier geleentheid en 'n kans om mekaar bietjie in die oë te kyk.” Onderaan is 'n foto van die ring.

Ring van Kaap die Goeie Hoop September 2018
4. Ring van Mosselbaai
Migrasie, onrus en protes - wat is die kerk se rol?
Die Ring van Mosselbaai (bestaande uit die gemeentes Brandwacht, Danabaai, Groot-Brakrivier, Hartenbos, Herbertsdale, Mosselbaai, Mosselbaai-Suid, Reebok) het op 11 September 2018 onder die leiding van voorsitter Willem Smit in die Moedergemeente Mosselbaai vergader.
Braam Hanekom (PSD: Publieke Getuienis) en onderburgemeester Dirk Kotze het die gesprek oor migrasie, onrus en protes - en die kerk se rol daarin - ingelei, met VGK en Volkskerk-kollegas ook deel van die gesprek. Konstruktiewe besluite oor die pad vorentoe is ook geneem. Seën toegebid!

Mosselbaai se ring sing saam
Die Ring van Mosselbaai sing saam
Braam Hanekom aan die woord in Mosselbaai
Braam Hanekom aan die woord in Mosselbaai
Ringsbywoners
5. Ring van Worcester ondersteun Sutherland 
As deel van 'n groter projek waarin die gemeente en gemeenskap van Sutherland ondersteun word, het van die lidmate die naweek van 7-9 September saam met lidmate van die Ring van Worcester vergader rondom die tema "Dit vra moed om mens te wees ... soms". 
Die Ring van Worcester is diep onder die indruk van die impak wat die droogte op ons landbou-gemeenskappe het, 'n waarheid wat in Sutherland eweneens waar is. Op die foto regs is Andri Eloff en Eric Botha saam met sommige van die Worcesteriete en Sutherlanders.
Lees gerus hier hoe Andri Eloff van die Dowe Familie Kerk (ook bekend as NG Worcester-De la Bat) skryf.

PREDIKANTENUUS
Thom egpaar
1. Thoms groet Toringkerk
Op Sondag 16 September word afskeid geneem van Jaco en Elmien Thom in die Paarl se Toringkerk. Jaco skryf:
“Ná 'n wonderlike en geseënde skof in Toringkerk moet ons ons geliefde gemeente groet. Ons dink terug aan jare van genade, waarin ek en Elmien sy aan sy in die Here se diens kon staan, nie net as predikantspaar nie, maar ook in die erediens; vir die eerste 25 jaar was Elmien ook Toringkerk se orrelis.
Ons het saam eredienste beplan en gelei, saam konsert gehou, Kers- en Passiespele en Kerssangdienste. Ons het wonderlike vriende gemaak wat diep in ons harte ingekruip het en ons sal hulle baie mis.
Dit was my voorreg om die Woord te verkondig en 'n kleingroepbediening en Bybelskool te vestig en in stand te hou. Ek dink ook terug aan 'n baie geseënde bediening aan haweloses oor baie jare. Ek is nog te jonk om nou al af te tree en bid dat die Here vir my 'n ander standplaas sal voorsien.” Seën op nuwe paaie toegebid, Jaco en Elmien!

2. Johan en Nicolene van Rooyen groet die Groote Kerk
In die Groote Kerk in Kaapstad lewer Johan van Rooyen op Sondag 16 September om 10:00 sy afskeidspreek. Almal is hartlik welkom om die Van Rooyens by hierdie geleentheid te ondersteun.
Johan het onlangs heelwat verlof geneem en die kans gehad om - byna soos met 'n rugbywedstryd -  "die eerste helfte" van sy bediening te bestudeer. Hy glo die Here het 'n paar dinge vir hom gewys en hom ook aan 'n paar ander herinner. Lees hier verder.  
Ons bid die Van Rooyen-gesin (sien foto onder) 'n besonder geseënde nuwe lewensritme in hulle "tweede helfte" toe. Mag die Here aanhou om julle in sy diens te gebruik.

Van Rooyens groet
Willie van Zyl
3. NG Barrydale neem afskeid van Willie van Zyl
In die NG Gemeente Barrydale word op Sondag 16 September afskeid geneem van Willie van Zyl. Die konsulent, Hannes Ries, woon die erediens by en sal die Akte van Demissie aan Willie oorhandig.
Willie getuig met groot dankbaarheid oor sy 37 jaar in die bediening. Hy is bevoorreg "om as krom stok in God se diens te kon staan" in Worcester-Noord, Pionierspark, Swartland, Franschhoek, Vergelegen en sedert 2013 in Barrydale. Willie noem hoe bevoorreg hy voel om in Barrydale te kon klaarmaak - die gemeente was vir hom uitnemend goed en hy sal hulle altyd dankbaar wees en liefhê. ’n Lekker "toer" is in die vooruitsig, waarna Kleinmond wink ... Baie seën toegebid, Willie!

Andre Lammertyn
4. NG Gemeente Tafelberg bied hawe vir CSO se André Lammertyn 
Op Sondag 16 September om 09:30 word André Lammertyn in die NG Gemeente Tafelberg georden, waar hy van 1 Oktober sal werk met die opdrag Christelike Seemansorganisasie (CSO).
André, wat in 2015 aan die Universiteit Vrystaat gelegitimeer is, is sedert Februarie 2017 in diens van die CSO en werk in die Kaapse hawe. Baie seën toegebid, André! (Die Tafelberg-kerkgebou is in Buitenkantstr. 39, Kaapstad.)
5. Om oor na te dink ...
Verbondsvernuwing tussen die Here en sy kudde

Nadat Gert Duursema op 29 Julie van die NG Gemeente Kimberley-Bet-El geëmeriteer het, is ’n vastetermynpos in die gemeente goedgekeur – en is hy as leraar beroep en op 2 September bevestig.
Gert se getuienis hieroor beklemtoon die spesiale simboliek en betekenis rondom die hele beroepingsproses. Hy skryf: “Ek was aanvanklik ’n bietjie geïrriteerd om na emeritaat wéér die hele beroepingsproses te moet deurgaan en wéér bevestig te moes word. Dit het my gevoel na ’n stuk uiterlike pligpleging. Maar dit was dit heeltemal nie! Om te bely dat die Here sélf ’n mens na sy gemeente geroep het, gaan sit tog nie sommerso in ’n mens se ou klere nie. Vir my én die gemeente was dit soos ’n verbondsvernuwing tussen die Here en sy kudde.” (Berig met dank aan Noord-Kaapland se eNuus van 11 September 2018.)
Gert Duursema e.a.
Dr. Gert Duursema word deur dr. L.M. Basson bevestig
GEBEDSVERSOEKE
Gebedsversoeke 14 September 2018
ALGEMEEN
Russel Botman Gedenklesing 18 Oktober 2018
Klik bo vir meer oor die Russel Botman Gedenklesing op 18 Oktober
met Marlene le Roux (Artscape) as spreker.
DW de Villiers
2. DW de Villiers Gedenklesing
Die DW de Villiers Gedenklesing ter nagedagtenis aan prof. Dawid de Villiers (vanaf 1970 tot 1984 as professor verbonde aan die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch), vind plaas op Dinsdag 18 September 2018 om 09:00 by die fakulteit. Prof. Allan Boesak is vanjaar die spreker met die tema: "Learning, Unlearning, and Re-reading: Black Liberation Theology and Lessons from the Women" - hy bied twee lesings aan. Lees hier meer en reageer teen 14 September.
3. MDiv-studente op ekumeniese toer
'n Groep MDiv-studente van die Kweekskool op Stellenbosch is hierdie week op ‘n ekumeniese toer in die Oos- en Suid-Kaap. Die drie dosente wat saam toer is: prof. Ian Nell (toerleier), prof. Xolile Simon en dr. Eddie Orsmond (NG Kuratorium). Die doel van die toer is om die studente blootstelling te gee aan die ekumeniese kerk. Dit sluit besoeke aan verskillende denominasies, gemeenskapsorganisasies en deelname aan eredienste in. Die toer duur van 8-16 September. 
Foto onder
Sittend: Farren Watt, Jako Visser
Eerste ry: Theo Nel, Mardi Strydom, Marizanne Pfeil, Friederike Meyns
Tweede ry: Cornelius Spannenberg, Michelle Jacobs-Smith, Eddie Orsmond, John Majiedt, Ian Nell 
Derde ry: Nathania Hendriks, Gerhard Meyer, Johan Botes, Andrea Daniels, Charyn Myburgh;
Agter: Wimke Jurgens, Ole Sandland, Heinrich Niehaus, Thanduxolo Mountain, Xolile Simon, Gragory Jacobs, Phiip Olivier. Seën en veilige reis toegewens!
US Kweekskool ekumeniese toer
Nadia Marais
4. Teologiese strominge in NG Kerk
Nadia Marais, dosent in Dogmatiek aan die Fakulteit Teologie (US), het tydens haar aanbieding by die VBO-week vir leraars in die Vrystaat die onderwerp "Teologiese Strominge in die NG Kerk" aangespreek.
Sy sê: "Ons weet dalk nie hoe die roete wat voor ons lê, lyk nie. Dalk loop die pad vir die NG Kerk uiteindelik dood. Maar ons weet wél hoe die roete nie kan lyk nie, nie mag lyk nie. Ons weet wat ons nie ooit weer mag doen nie. Genade laat géén ruimte vir enige diskriminasie nie". Lees die volledige berig hier. (Met dank oorgeneem uit Vrypos van 6 September 2018.)
PUBLIKASIES
1. Lees in Kerkbode van 7 September ...
... oor die Nehemia-Bybelinstituut, wat as "koninkryks-bouers in ʼn gebroke Afrika" bestempel is.
Daar is ook ʼn onderhoud met Hennie van Deventer (10 jaar lank aan die stuur van sake by die NBI) wat later vanjaar aftree.
Kerkbode vertel die verhaal agter Kaross, die lieflike Afrika-borduurwerk wat in baie toeristewinkels verkoop word. Lees ook van die Kosmosgroep wat glo dit KOS MOS niks om om te gee nie. Daar is nog ʼn aflewering in die reeks oor hoe die NG Kerk die Bybel verstaan. In die rubriek "Op die Kerkstoep" wys André van Niekerk daarop dat missionaliteit oor meer as bloot barmhartigheid gaan. Daar is ook kommentare en reaksies op die hofsaak waarby die kerk betrokke is.

2. Oktober se LiG-tydskrif berig ...
... hoe die waarde van niksdoen ontdek word as 'n Bybelse opdrag. LiG gesels ook met Nádine oor die liefde in haar lewe en Frank Rautenbach vertel oor die ander plan wat God vir sy loopbaan gehad het. 'n Skrywer vertel hoe hy en sy vierjarige seun deur die kerkgeskiedenis gereis het en 'n paartjie deel hulle storie van verlies, hoop en genade.
LiG ondersoek die humor in die Bybel; ons vra waarom Hooglied in die Bybel hoort en raak weer verwonderd oor God se genade wat nooit ophou nie.
Ons kyk na die waarde van skoolsport en hoe om die regte terapeut vir jou kind te kies.
Om nog van LiG se puik Christelike inhoud te lees, besoek www.lig.co.za.

Doopboek
My Doopboek - klik bo
BM-logo
Bybel-Media-logo
Geloof-speelboek
Geloofspeelboek - klik bo
Kaleidoskoop van kerke
Kaleidoskoop van kerke klik bo
CLF-logo
CLF-logo
Verskil tussen kerke wat groei en kerke wat sterf
Verskil tussen kerke wat groei en sterf - klik bo
EKOLOGIE
1. Season of Creation: 1 September to 4 October 2018
From 1 September to 4 October, Christians around the world are praying and caring for creation. It’s the "Season of Creation" and it’s happening from Paris to Pittsburgh, Pretoria to La Paz. The theme for this year’s celebration is “Walking together”, and there are endless ways for your community to show it is on a journey toward better care of our common home. Register your Season of Creation celebration now and join the global movement to protect creation. Learn more: http://seasonofcreation.org/
The message from dr. Olav Fykse Tveit, general secretary of the World Council of Churches, inviting Christian brothers and sisters to join in thanksgiving for the unique life we have been given and to respond to the call to care for Creation, is below.

Season of Creation video
Kos mors
2. Ons hantering van kos deel van ons getuienis
'n Gesin se hantering van kos getuig van die gees en gesindheid waarmee die gesinslede leef. Hoe lyk jul gesin/gemeente se hantering van kos? En wat kan huishoudings of jul gemeente doen om te wys dat julle verstaan dat ons hantering van kos 'n aanduiding is van ons respek vir God? Lees hier .Met dank ontvang van Projekspan Ekologie.
Logo
3. 7th Africa Water Week
29.10 – 02.11, Gabon

An event to take note of: The 7th Africa Water Week (AWW-7) has as its theme "Toward Achieving Water Security and Safely Managed Sanitation for Africa".
The Africa Water Week meets to discuss and collectively seek solutions to Africa’s water resources, and sanitation challenges – definitely a topical issue for Cape Town and South Africa. Register here – early bird discount until 20 September.
4. Natuurfotografie suiwer vir die genot!
Hierdie een (sien onder) is sommer vir die mooi - en uit verwondering oor die natuurskoon van die skepping!
Die topfoto's van die gewilde Natuurfotograaf van die Jaar-kompetisie, vanjaar al 54 jaar aan die gang, is nou bekend. Meer as 45 000 inskrywings uit 95 lande is ontvang en die algehele wenners word op 16 Oktober in Londen aangekondig. Hier is 'n paar foto's.
Die 2019-kompetisie is van 22 Oktober tot 13 Desember 2018 oop vir inskrywings.
Cool cat by Isak Pretorius
"Cool cat" in Zambië se Suid-Luangwa Nasionale Park. Foto: Isak Pretorius
Met erkenning aan die Natural History Museum
BEHOU DIE HUMOR
Humor
KUIERKANS
Kuierkans
VAKATURES
Kerkbode vakatures
Logo
Badisa:
1. Koördineerder Bejaarde- en gestremdesorg

Badisa benodig die dienste van 'n geregistreerde verpleegkundige met die opdrag om versorgingsdienste aan ouer en gestremde persone in fasiliteite binne die organisasie te koördineer (Standplaas Bellville). Reageer voor 20 September; klik hier
Logo
2. Alta du Toit Nasorg:
Vakatures vir verpleegkundiges
Alta du Toit Nasorg vir volwassenes met intellektuele gestremdheid beskik oor 'n vakature vir 'n ingeskrewe professionele verpleegkundige (5-dag werkweek), sowel as 'n ingeskrewe stafverpleegkundige (7-dag werkweek). Lees hier meer oor beide poste en stuur ‘n volledige CV aan admin@altadutoit.org.za voor 28 September.
Creche
3. Goodwoodpark Bewaarskool: Hoof 
Aansoeke word ingewag vir die pos van hoof van Goodwoodpark Bewaarskool. Dit is 'n voldagpos by 'n Christelik-gebaseerde bewaarskool op die perseel van die NG Gemeente Goodwoodpark. Reageer voor 15 Oktober en kontak André Reynecke, predikant van Monte Vista, vir navrae. Klik hier.
Piet Retief
TEN LAASTE
Uit die pen van ... Piet Retief
Die grootste kompliment wat ek nóg hier in Garies gekry het, was die woorde: "Julle twee is die mense wat die maklikste nóg Namakwalanders geraak het."
Dit het my laat dink wat dit is wat ons onderskei:
• Hier meet jy nie reën in millimeter nie, maar in punte, want daar is 4 punte in 'n millimeter.
• 'n Ete sonder skuinskoek en/of soetkos is ontbyt!
• As dit reën, gaan soek jy die water, amper soos 'n familielid wat verdwaal het.
• Hier bestaan geloof nie altyd uit die vyf broodjies en twee vissies tipe wonderwerke nie, maar menige male uit die feit dat die bed leeg en jou skoene vol is.
• Vanuit hierdie geloof word vriend en vreemdeling gulhartig ontvang en daar is altyd tyd vir gesels.
• Afstand is relatief. Alles tot op 200km is net hier anderkant.
• Afval en skaapkop is lekkerder as sonde.
Ek sukkel nog met die laaste een, maar 6/7 is seker nie sleg nie!
                                                                 -0-0-0

Piet vertel: "Ons eerste gemeente was in Dordrecht, in die koue Noordoos-Kaap en ons het van daar via agterpaaie ons weg na Garies gevind, waar ons en ons twee aangenome hondekinders God en sy mense op 'n unieke manier probeer dien. Ek is lief vir goeie koffie, beter geselskap en die beste natuurskoon." Kontak hom hier.
(Piet is getroud met Sarizé, predikant in die NG Gemeente Aggeneys.)

Fluit
I am
a hole in a flute
that the Christ's breath moves through - 
listen to this
music                             
- Richard Rohr
Mag musiek deel van jou week wees.  
Marieta Visagie en Salomi Steenkamp


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.