Lees deur internet, klik hier >>
30 Oktober 2015
Beste Leser
Votum
Onse hulp is in die Naam van die Here.
Sien ons genadig aan soos al die kere
dat ons tevore reeds hier was:
Naämans in Sondagsklere.
- IL de Villiers (Leitourgos)


SINODENUUS
1. NG Wes-en-Suid-Kaap
Uit die Moderatuur

In die jongste brief van die moderatuur aan predikante en gemeentes, skryf Elize Morkel die afgelope week oor die onlangse Algemene Sinode, 'n hernude erns met die lees en verstaan van die Bybel, spanwerk en die #FeesMustFall-veldtog. Almal word ook herinner aan die komende streekkonferensies. Die volledige "Uit die Moderatuur" is hier beskikbaar.
2. NG Wes-en-Suid-Kaapland Streekkonferensies
'n Herinnering: Die moderatuur hou vanaf Ma 2 November streekskonferensies deur die hele sinodale gebied. Nie net leraars en gemeenteleiers nie, maar ook lidmate is baie welkom om dit by te woon. Sake wat van belang is vir die goeie funksionering van ons sinode is op die agenda, maar daar sal ook ruim tyd ingeruim word vir die besluite wat op die pas afgelope Algemene Sinode geneem is. 
Die program (klik hier) sluit oa in dat afgesluit word met 'n ligte middagete. Belangstellendes vir die eerste vier geleenthede moet asb vir Charl Stander by charl@parke.co.za of per SMS/WhatsApp by 084 234 1155 teen Vrydag 18:00 in kennis stel, sodat getalle vir die etes aangepas kan word. Vir die laaste twee geleenthede moet belangstellendes hom asb teen Maandagaand in kennis stel. 
Bossie Minnaar, Andre en Annette de la Porte
3. Armoede en Sorg en HospiVisie
Spesiale Nuus van Samewerking!

Die Armoede en Sorg-bediening van die NG Kerk in SA en die VGKSA Kaapland het pas ’n formele ooreenkoms met HospiVisie gesluit.
Hiervolgens borg die twee kerke HospiVisie om die spirituele en emosionele ondersteuning van pasiënte, hulle families en die hospitaalpersoneel in Wes-en-Suid-Kaaplandse hospitale te behartig. Dit sal in samewerking met ander kerke, wat reeds op ’n georganiseerde wyse soortgelyke dienste in hospitale lewer, geskied. 
Weens ander dringende verpligtinge kon die verteenwoordigers van die VGKSA Kaapland, ds Petrus Bock (saakgelastigde) en ds Sean Esterhuizen (Armoede en Sorg), nie teenwoordig wees nie. Hulle sal die kontrak by 'n latere gepaste geleentheid  onderteken. Seën met hierdie samewerking toegewens!
Armoede en Sorg en HospiVisie onderteken
Vlnr Deon Bruwer, Leon Venter, Annette en Andre de la Porte, Wanda de Jager, 
Koos van der Vyver, Isabella de Kock, Bossie Minnaar
4. Skrifverstaan
Hoe leef ons binne God se verhaal?
VrydagNuus het verlede week berig oor 'n reeks video's om mense te help met die lees en verstaan van die Bybel aan die hand van hedendaagse vraagstukke, soos selfdegeslagverhoudings.
Belangstellendes kan nou hier klik om te lees hoe Gielie Loubser PSD: Gemeentebegeleiding) oor hierdie reeks, vervaardig deur NOUS, skryf. Die gedagte is dat dit gebruik kan word om gemeentes te help met gesprekke oor hermeneutiek. Die video "Verlore Manuskrip" (sien onder) plaas die metafoor van die ses bedrywe op die tafel. inligting oor die ander video's in die reeks is ook in Gielie se skryfstuk.
Verlore Manuskrip
5. Selfdegeslagverbintenisse
Na aanleiding van predikante wat navraag doen oor die registrasie om selfdegeslagverbintenisse te voltrek, laat weet dr Kobus Gerber, algemene sekretaris van die NG Algemene Sinode, dat die Algemene Steunspan Regte opdrag ontvang het om aan die kerkregtelike en regstegniese aspekte hiervan aandag te gee. Kollegas sal daarom nog geduld met die proses moet hê. Lees gerus sy volledige reaksie.
Voorspoed Jer 29:11
6. Dames, ons groet Dankbaar!  
Op Stellenbosch is dit hierdie week tyd om twee jare lange kollegas, me Dawida du Plessis en Estelle van der Merwe, te groet. 
Dawida du Plessis

Me Dawida du Plessis het in 1992 by die dekaanskantoor by die Fakulteit Teologie aan die US begin werk. Sy het in 1998, na die tragiese dood van mev Maggie Knott, by die Kuratorium begin werk. Sy was dus die afgelope 17 jaar in diens van die NG Kerk in SA.  
Estelle van der Merwe
Me Estelle van der Merwe het in 1989 by die Kuratorium begin werk nadat mnr Chris Vermeulen finaal afgetree het. Sy was dus die afgelope 26 jaar in diens van die NG Kerk in SA.
Lees gerus hier meer oor hierdie twee dames se verantwoordelikhede, sowel as hulle planne vir hulle aftrede. Van VrydagNuus se kant: Baie dankie vir julle pligsgetrouheid oor jare - dit is 'n voorbeeld om na te volg. Mag die toekoms vol genade en seën vir julle en julle geliefdes wees.

Kobie van Jaarsveld
7. Kobie van Jaarsveld groet
Na 16 jaar moet ons op 31 Oktober 2015 van Kobie van Jaarsveld afskeid neem as hy uit diens tree by die sinodale kantore van die  NG Kerk Wes-en-Suid-Kaapland.
Ons gaan jou vriendelikheid, grappies en Namakwalandse sêgoed baie mis, Kobie.
Lees hier wat Johan Botha (voormalige PSD: Getuienisaksie) en ander kollegas oor hom skryf. 
Die NG Kerksenstrum-personeel neem op Vrydagmiddag 30 Oktober met 'n gesellige braai van Kobie afskeid.
8. Getuienisaksie: NBI-studente ontvang diplomas in Zimbabwe
Kobus Odendaal was verlede week op besoek aan Harare, Zimbabwe, waar hy die gasspreker was tydens die diplomaplegtigheid van NBI (Nehemiah Bible Institute) wat deur CAVA gefasiliteer word.
Dit was 'n besondere geleentheid waar gevangenes en offisiere van drie verskillende gevangenisse, mense van verskillende denominasies, die Nasionale Weermag en lede van die Zimbabwe Republic Police diplomas ontvang het; 70 in totaal! (Sien foto onder) Ons dank die Here vir NBI se kwaliteit opleiding wat tot beskikking gestel word aan mense wat 'n sterk Christelike kwaliteit en insig aan hul lewens wil gee. Lees meer.
Studente van NBI met diplomas
Dankie van moderatuur
9. Spesiale Sinodale Saamkuier!
As 'n tasbare teken van die moderatuur se groot waardering vir die werk wat die sinodale personeel verrig, is een en almal uitgenooi na 'n spesiale middagete by die pragtige Cassia-restaurant van Nitida buite Durbanville.
Tydens hierdie ete, op Vrydag 23 Oktober, kon kollegas van die Argief, Badisa, Communitas en die NG Kerksentrum in Bellville gesellig saam met die diensgroepvoorsitters en moderatuurslede kuier. Mag dit die begin van meer sulke geleenthede wees!
Facebook het meer foto's - mét die name daarby!
Jan Grobbelaar, Strydom Bruwer, Deon Bruwer Michelle van Rhyn, Gielie Loubser, Helet Malherbe, Tia Alberts
Peter Adams, Marius Wethmar, Sanet Gunter, Mariette Odendaal Philip Botha, Averell Rust, Frederick Marais
Melanie Thirion, Nelis Janse van Rensburg, Karen en Bossie Minnaar Sharon Naude en Chrisna van der Merwe
10. Noordelike Sinode
Nuwe moderatuurslede

Tydens die Noordelike Sinode se Sinodale Diensraad  vergadering van 23 Oktober 2015 is dr Dewyk Ungerer as moderator en dr James Kirkpatrick as assessor verkies. (Dit na aanleiding van dr Gustav Claassen - voorheen moderator - se aanstelling as algemene sekretaris van die NG Algmene Sinode.) Seën  toegebid!
Dewyk Ungerer James Kirkpatrick Gustav Claassen
VCSV-logo
ALGEMEEN
1. Diensjaar vir Christus 2016!

As jy weet van 'n oulike jongmens met die potensiaal van jeugbediening, of jou gemeente het matrikulante of ander jongmense wat afgestudeer of sonder werk is, is hierdie 'n wonderlike geleentheid! Die VCSV gaan in 2016 hard werk om die Diensjaar-program weer so groot soos in die verlede te maak.
Lees gerus Gielie Loubser (PSD: Gemeentebegeleiding) se opmerkings hier en nooi jongmense om aansoek te doen vir keuring. Carla Swanepoel, die VCSV se koördineerder, se inligtingsbrief, is hier beskikbaar. 
2. Nadia Marais: Doktorsgraad!
Hartlike gelukwense aan Nadia Marais wat haar proefskrif vir die verwerwing van haar doktorsgraad in filosofie aan die US Fakulteit Teologie suksesvol verdedig het!
Nadia verduidelik: "Die proefskrif het gegaan oor hedendaagse beskrywings van verlossing, wat ons as teoloë en gelowiges 'n taal of 'n woordeskat sou kon gee om te praat oor die gedy, bloei, florering, of selfs geluk van mense. Met ander woorde, ek het vanuit die verlossingsleer gewerk oor wat dit beteken om te floreer, omdat die goeie nuus van die evangelie te make het met die goeie lewe, die vol lewe, die vervulde lewe. Die presiese onderwerp van my studie is "Imagining Human Flourishing? A Systematic Theological Exploration of Contemporary Soteriological Discourses." (soteriologie = verlossingsleer).
Sy het in 2013 aan die proefskrif begin werk en haar eksaminatore was dr Sorita Baard (Villanova Universiteit, VSA), prof David Kelsey (Yale) en prof Robert Vosloo (US), met prof Dirkie Smit as promotor. Nadia se graad word later vanjaar, op 9 Desember, aan haar toegeken.
Nadia Marais en prof Dirkie Smit
Nadia Marais en prof Dirkie Smit
Kalender
3. Vir Gemeentes se Kalenderbeplanning: Skoolkwartale 2016
Die amptelik goedgekeurde inligting rakende 2016 se skoolkwartale en skool- en openbare vakansiedae vir openbare skole is beskikbaar op die Departement Opvoeding se webwerf: klik hier.
FeesMustFall
4. Reaksie op Studente se #FeesMustFall   
Diegene wat die gebeure aan ons tersiêre instellings landswyd besorg en/of belangstellend volg, kan hier klik vir die National Church Leaders' Forum se mediaverklaring.
Die Consultation of Christian Churches het ook verlede week op die #FeesMustFall-veldtog reageer - lees hier meer
Intussen dink Jan Lubbe (NG Berg-en-Dal, Bloemfontein) in 'n artikel op Netwerk24 ook hieroor na: "
Skep ons ’n veilige ruimte vir hierdie jong, denkende generasie? Want dit gaan van óns as ouers, skole en kerke die bereidheid vra om te luister en saam te dink." Die volledige artikel is hier beskikbaar.
5. Kerkvergaderings ...
5.1 Sinode - 23 Oktober 1965

Daar bestaan oor jare uiteenlopende sienings oor kerkvergaderings. Sinodesittings het vroeër jare 'n ander karakter en atmosfeer gehad. Die 35ste vergadering van die NG Kerk in Suid-Afrika het in 1965 van 21 Oktober tot 11 November geduur! Ds JS Gericke is destyds as die nuwe moderator verkies. 
Vergelyk gerus die onderstaande berig ("Verdeling gevra van Kaapse Kerk") uit Die Burger van 50 jaar gelede (gedateer 23 Oktober 1965), waarin berig word oor 'n ernstige debat oor die verdeling van die Kaapse Kerk ... met byna 20 sprekers en tot 15 beskrywingspunte oor die saak! Daar is selfs melding gemaak van 'n kruispad vir die kerk ... 
Belangstellendes kan op die berig klik vir 'n groter weergawe, terwyl die eerste blad van die Handelinge van daardie sinode hier is vir diegene wat selfs meer wil lees. Die nuwe Kerksentrum in Oranjestraat is tydens dié vergadering in gebruik geneem, met die Staatspresident, mnr CR Swart, wat 'n groeteboodskap gebring het.
Die Kerk kom 'n ver pad ... 'n pad van genade.
Die Burger 23 Oktober 1965
Met erkenning aan Die Burger van Saterdag 24 Oktober 2015
5.2 Sinode - 23 Oktober 2015
Daarteenoor skryf Jaco Strydom (Echo-Jeugontwikkeling en NG Villieria) in die jongste Kerkbode oor sý ervaring van sinodesittings ...
en Lenois Stander (US-teologiestudent)dink na oor die waarde van fasilitering by die onlangse Algemene Sinode om 'n ruimte vir gesprekvoering te skep, 'n ruimte "waarbinne gelowiges mekaar kan vashou binne die spanning van diverse teologiese perspektiewe."
Klik hier om die twee berigte te lees. (Met dank en erkenning aan Kerkbode, 23 Oktober 2015) Teken hier in om Kerkbode gereeld te ontvang.
Jaco Strydom Lenois Stander
6. Sosiale Media: Spesiale Oomblikke
Te midde van kommunikasie wat veeleisend of oorweldigend kan wees, kom 'n mens soms op iets af wat jou energie en hoop gee. So was dit die afgelope week op die sosiale media met 'n foto en boodskappe op Twitter.
Hier is 'n besonderse foto wat rugbyliefhebbers sommer weer hulle geloof in die mensdom kan terugbesorg ... met reaksie op Twitter (sien onder) na Saterdag se wedstryd tussen die All Blacks en die Springbokke, wat die waardes van respek en omarming netjies  eggo! Só maak mens mos!
Volg die sinode op Twitter by @WSKaap en like ons op Facebook!
Tweet van Liam Messam
PREDIKANTENUUS
1. Jannie en Alta Hougaard in Caledon gegroet
Jannie Hougaard ontvang emeritaat by die NG Moedergemeente Caledon se erediens op Sondag 1 November nadat hy op 31 Oktober 2015 afgetree het.
Op 'n vraag oor sy planne na aftrede, vertel Jannie dat sy roeping nie sal ophou nie, wel skuif, Verder sien hy en Alta met baie goeie rede uit na die nuwe fase wat voorlê. Lees gerus hier verder ...
Mag die nuwe paaie vol seën vir julle wees!
Jannie en Alta Hougaard
2. Predikant in Sinodale Diens: Kerklike Opleiding
VrydagNuus begin hierdie week met 'n reeks video's om die verskillende bedieningsvelde en verantwoordelikhede van ons Predikante in Sinodale Diens, die PSD's, bekend te stel.
Frederick Marais is ons PSD gemoeid met Kerklike Opleiding. Hy vertel meer oor sy taak, wat hoofsaaklik die opleiding van predikante, lidmaatstoerusting en die voortgesette opleiding van predikante behels. Kontak Frederick by jfm@sun.ac.za.
Frederick Marais - PSD Kerklike Opleiding
PUBLIKASIES
1. CLF Gratis Pamflette en Meer!
Verskillende interessante pamflette van die Christelike Lektuurfonds (CLF) is nou ook in Engels beskikbaar. Hieronder tel leesstof oor korttermyn uitreike, geloof en die wetenskap, sowel as nadenke oor wat ons onder "kerk" verstaan. Belangstellendes kan die CLF se jongste nuusbrief hier lees.
2. Bybel-Media: Kleurgebede oor liefde
Inkleurboek vir volwassenes oor 1 Korintiërs

Teken en bid gaan saam. Saam met die ink vloei daar gedagtes oor lewe, seer, vreugdes en God na die oppervlak. Inkleur laat jou fokus, ontsnap, nadink, loskom, die Gees hoor, nuut sien, skep. Geniet God se wonderwêreld vol reënboë terwyl jy fokus, hoor en bid in volkleur.
Aletta Simpson is ʼn graad 11-leerder in Durbanville, Kaapstad. Vandat sy kan onthou, stel sy belang in boeke, skryfgoed, teken en skets. Dit is haar eerste publikasie. Sy het al hierdie sketse oor dae heen met die hand geteken. Lees hier verder ...
KUIER-KANS
Klik gerus op die advertensie pamflette om 'n groter weergawe oop te maak. 
Chrismar Villas-logo
1. Bellville Senior Sentrum: Pretstap
Bellville Senior Sentrum/Chrismar Villas ('n Program van Badisa) hou hul jaarlikse Pretstap/Pretdraf van 6 km op Do 5 November om 18:10, te Jessiestraat 25, Chrismar.  Dit begin en eindig by Chrismar Villas se gronde.  Vroeë inskrywings welkom oorkant Hoërskool Bellville se hokkievelde tussen 07:30 en 16:00.  Heerlike karnavalatmosfeer en hope te eet en drink! Fondse ten bate van ondersteuningsdienste aan bejaardes in die gemeenskap.  Navrae:  021 910 1250 gedurende kantoorure.
NG Brackenfell-Wes Basaar
Brackenfell-Wes Basaar
NG Melkbos Feesmark
NG Melkbos
Feesmark
NG Gemeente Bellville-Noord Basaar
NG Bellville-Noord
Basaar
NG Drieankerbaai Basaar
NG Drieankerbaai
Basaar
Oostersee-logo
6. NG Gemeente Oostersee vier 48 Jaar
Oostersee vier hulle 48ste bestaansjaar op Vrydag 6 November met 'n sokkie om 19:00 in die saal teen R30pp. Verskillende kombo's met eetgoed ook beskikbaar en bestellings vir eetgoed kan geplaas word. Kaartjies by die kerkkantoor gedurende kantoorure; Ma, Wo en Vr vanaf 08:00 – 13:00. Skakel 021 939 3830 of Gerhard Barnard (Jeugwerker) by 084 569 8492. Almal baie welkom! 
NG Kerk Tableview
7. NG Gemeente Tableview: Kersmark
Tableview se jaarlikse Kersmark begin op Donderdag 29 Oktober en duur tot 8 November. Die mark is daagliks oop en spog met 'n lieflike restaurant en 'n groot verskeidenheid Kersgeskenke.
Almal welkom by die NG Kerk Table View, Greylaan 41, Table View. 
Badisa-logo
VAKATURES
1. Badisa Goue Aar Tehuis: Ingeskrewe Verpleegkundige

Badisa, 'n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-en-Suid-Kaap) en VGKSA (Kaapland), beskik tans oor 'n vakature as ingeskrewe verpleegkundige by die Goue Aar Tehuis in Malmesbury. Aansoeke sluit op 30 November - lees hier meer.
Ramot-logo
2. Ramot: Professionele Verpleegkundige
Ramot Behandelingsentrum vir verslawing (Tonerstraat 54, Parow-Oos) benodig die dienste van 'n professionele verpleegkundige wat 'n verskil wil maak in die lewe van persone met 'n afhanklikheidsprobleem. Aangeheg is meer inligting hieroor. 
NG Durbanville-logo
3. NG Durbanville: Ontvangsdame
Die NG Gemeente Durbanville beskik oor 'n vakature vir 'n ontvangspersoon by hulle kerkkantoor. Meer inligting oor die verantwoordelikhede en vereistes is hier beskikbaar. Reageer asseblief voor 16 November, want die aanvangsdatum van die posisie is reeds vroeg Desember 2015. 
Jannie Hougaard, seun en kleinseun
Jannie neem 'n foto van sy skoonseun en
nuwe kleinseun in die spieë
TEN LAASTE ...

Uit die Pen van
... Jannie Hougaard
Die Skrifgedeelte in Joh 3 oor die tempel en die “in-drie-dae-weer-opbou” episode sluit af met die opmerking: “Later ... het sy disippels daaraan gedink … en die woorde van Jesus geglo.”
Ek kom agter ons lewe deesdae so vinnig, dat ons min kans het om 'n bietjie te dink oor alles in en om ons.  Kan ons mekaar help met terugkyk en dink?  Ek glo tog so.  
'n Maklike hulp daarvoor, is selfoon-foto's. Foto's kan momente vol lewe, vol emosie, vol verwondering oor die gawe van die lewe, vasvang.  En as dit vasgelê is, kan dit deesdae so maklik gedeel word. Foto’s word vertellings, getuienisse! En getuienisse maak mos glo en vertrou vir almal makliker. Vier met jou foto’s die lewe wat God ons gun!  

Jannie Hougaard (NG Moedergemeente Caledon sedert 1990) was voorheen predikant op Mariental, Williston en Vredendal.  
Belangstellendes kan Jannie by hougaardjan@gmail.com kontak. 
Ontvang jy ons nuus deur gmail? Kyk dan gerus in die "Promotions"-lêer daarvoor. Gmail sorteer e-pos deesdae outomaties in "Primary", "Social" en "Promotions".

VrydagNuus-groete.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.