Siegfried Louw van Proteahoogte is pas aangestel as PSD: Predikantebegeleiding en reflekteer oor die sinodesitting.
“Is daar nog ʼn muurprop naby? Ons het meer nodig,” vra die een predikant. Sy het dringend plek nodig om haar rekenaar te laai. Oral skuifel mense rond om hulle sit te kry. Drade, luidsprekers, agendas en waterbottels is deel van die gros goedere wat betyds hulle lê moet kry. Sommige daag uitasem op, onverhoeds betrap met die lang opdraende na die vergadersaal. Iemand toets die luidspreker.
“Is dit nou dit?” vra nog iemand. “Waarvoor doen ons nou al hierdie moeite?” wil sy weet. ʼn Rukkie later staan almal en sing. Die gewoel verminder. Diegene wat net-nou nog met hulle fone besig was, kyk nou na die borde en sing saam.
“Daar is meer in hierdie lewe, as om bloot net te bestaan … Daar is meer, want U gee ʼn liefde wat oorweldig.”
Ons gaan sit anders as wat ons opgestaan het. Iets het geskuif. En toe Coenie Burger praat oor Jesus, spits ons weer ons ore. “Daar is meer,” sê hy. “Ons dink ons weet alles van Jesus. Maar daar is meer.”
Vanoggend gewaar ek die een bejaarde afgevaardigde, wat met moeite haar swaar handsak saamdra saal toe. Maar net totdat sy die sonsopkoms by die berge gewaar. Eers val haar mond oop. Dan val die handsak summier op die grond. Ywerig word ʼn foon uitgegrawe. Oopmond neem sy foto’s.
“Dit verander elke minuut,” sê nog iemand. Sommige kyk, sommige nie. My gedagtes loop na Klaagliedere 3:23. “Dit is elke oggend weer nuut – groot is u getrouheid.”
Dit is toe die waarheid. Daar is meer in hierdie lewe. En ons kom bymekaar juis omdat ons dít glo.
Foto: Johan Mocke
Groete uit Goudini
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler