Taakspan Ras en Versoening
Die wegbreeksessie Op reis met ras en versoening het klem gelê op die feit dat gesprekvoering die sleutel tot rasversoening- en geregtigheid in Suid-Afrika is. Die proses hiervoor is deur die woorde van prof. Klippies Kritzinger, ‘n missionale teoloog van Pretoria, geïnspireer. Hy het gesê dat verskillende tipe in-persoon gesprekke tussen verskillende kerke gehou moet word om aan lidmate die geleentheid te gee om hulle verhale en ervarings met mekaar te deel en na mekaar te luister sodat hulle uiteindelik ook kan begin om dinge saam te doen.
Daarom is ‘n veilige ruimte vir sessiegangers geskep, waarbinne hulle vanuit verskillende omgewings en perspektiewe met mekaar in gesprek kan tree om sodoende nader aan die koninkryk van God te kan kom.
Ter afsluiting is almal gevra om een woord op plakkers neer te skryf wat volgens hulle God se versoende toekomsdroom vir ons land, gemeenskap en/of kerk verteenwoordig. Terwyl hulle hierdie sessie in stilte verlaat het, is hulle plakkers op die Nagmaalskers aangebring. Hierdie kers dien nie slegs as ‘n kragtige visuele voorstelling van hierdie groep se visie vir ras en versoening in Suid-Afrika nie, maar ook as die stille getuie dat hierdie gesprekke nog baie ver van afgehandel is…