Lees deur internet, klik hier >>
12 November 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Diensgroepe ontmoet VGK finalejaar-teologiestudente
Wat doen jy as jy as predikant in ’n gemeente instap en binne enkele maande oorweldig begin voel deur al die uitdagings van jou gemeente en breër gemeenskap? Jy wens dalk daar was iemand wat jou kan leiding gee, bystaan en raad gee. Van sinodale kant af word daar gepoog om jaarliks met ons finalejaar-teologiestudente ’n ontmoeting te hê voordat hulle die wêreld aandurf. Tydens hierdie ontmoeting deel ons dan met hulle verskillende ondersteuningsnetwerke waarmee ons diensgroepe hulle in die toekoms sal kan bystaan. Op Woensdag 10 November het Getuienisaksie saam met die VGK Finansiële Administrasie en Badisa die VGK finalejaar-teologiestudente in Belhar ontmoet. Lees meer daarvan HIER.
Foto: Die VGK finalejaar-teologiestudente met taakspanbestuurders
Gemeente en gemeenskap
Kyk gerus hieronder na die jongste videogesprek uit die Algemene Sinode se reeks met die tema So glo, leer en getuig ons... Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinode, gesels met Nioma Venter, ondervoorsitter van die Algemene Sinode Moderamen. As Voorsitter van die Taakspan Missionale Diakonaat vertel Nioma meer oor die NG Kerk se ryk geskiedenis van barmhartigheid. Sy verduidelik ook dat missionele diakonaat ('n wisselterm vir barmhartigheid) die verwesenliking van die Drie-Enige is en daar is om die lewegewende heerskappy van God in hierdie wêreld te herstel. Dit gaan oor praktiese uitreik en betrokkenheid nie net deur diensorganisasies nie, maar ook deur relevante bedieninge wat by die stukkend en die seer uitkom. Dit word ook beliggaam vanuit plaaslike gemeentes, gemeenskappe, binne kerkverband, die breër geloofsfamilie en ekumeniese verbintenisse, maar ook deur individuele gelowiges.
Vriende van De Hoop
Tussen Calitzdorp en Oudtshoorn, langs die R62, toring daar ‘n pragtige ou sandsteenkerk bo die Klein-Karoo-landskap uit. Die voortbestaan van die eens glorieryke gebou en die droom wat rondom die gebou ontstaan het, word nou ernstig bedreig. Dit bied egter ook ‘n unieke geleentheid om ‘n storie van hoop op De Hoop te skryf. Daarom het die Hoop en Versoening Trust besluit om 'n nuusbrief spesiaal vir De Hoop te skep.
De Hoop se visie kan as volg beskryf word: verseker die langtermyn voortbestaan van die pragtige ou kerkgebou as bron van hoop en middelpunt van ‘n lewegewende gemeenskap vir die armes – diegene sonder heenkome en hoop. In die besonder hoop hulle om ‘n heenkome te bied vir plaasarbeiders wat om 'n verskeidenheid van redes plase moet verlaat en ‘n veilige heenkome vir hulle oudag soek. Stuur 'n e-pos aan spg@kaapkerk.co.za om die Vriende van De Hoop nuusbrief te ontvang.
2021 - 'n jaar waarin HVT help 
Douloi Izicaka co-operative is 'n organisasie in nood wat die Hoop en Versoening Trust hierdie jaar kon bystaan. 'n Sterk tornado het op Dinsdag 17 November 2020 in die omgewing van Mthatha verwoesting gesaai. Sowat 430 meter van hierdie nie-winsgewende organisasie se heining is deur die vlieënde puin weggehark.
Douloi Izicaka fokus op boerdery, vroeë kinderontwikkeling en opleiding van voorheen benadeelde individue in Suid-Afrika. Hulle wil graag mense bystaan sodat hulle ‘n betekenisvolle en belangrike rol in die land se plaaslike ekonomiese aktiwiteite kan speel. Douloi Izicaka plant sedert 2016 groente op tien hektaar stukke grond en verskaf voedsel en periodieke werk aan agt jong mans.
Die COVID-19-pandemie en 'n natuurramp het egter aansienlike uitdagings vir hulle gebied. Die Hoop en Versoening Trust het vir hulle  ’n skenking van R30 000 gegee wat hulle in staat gestel het om die heining te herstel, net toe die reënseisoen begin het.
EKOLOGIE
Vier Internasionale Stap 'n Slag-dag op 17 November
Met dank ontvang van Rudolp Scharneck van die Groenspan: Die bekende ekoloog Dave Pepler het gesê die rede waarom mense in ons tyd so min vir die natuur omgee, is omdat kinders nie met die natuur te doen kry nie. Mense spandeer nie meer, soos in die ou dae, as gesinne saam tyd in die natuur nie. Waar eens groentetuine was, is nou siertuine. Waar mense eens op ‘n tyd gereeld in die veld gaan stap het, sit almal nou voor die televisie as daar vrye tyd is. Jy kan egter nie vir iets omgee waaraan jy nooit blootgestel word nie, want jy kan iets net waardeer as jy dit self beleef.
Om in die natuur te stap, is dus ‘n krities belangrike deel van omgee vir die natuur, want dis waar jy diep bewus raak van hoe wonderlik God se skepping is. Dis waar ‘n hart vir die skepping gebore word. 17 November is die perfekte geleentheid om jouself (en dalk jou gesin) bloot te stel aan die natuur. Dit is internasionale “take a hike” dag (Stap 'n Slag-dag) waar mense aangemoedig word om iewers in die natuur te gaan stap. Vir diegene in en om Kaapstad is dit ook ‘n wonderlike geleentheid om die kabelkar gratis te ry. Jy moet net opstap en gemors optel terwyl jy stap, dan kan jy gratis afry met die kabelkar. Vir meer inligting, sien hulle Facebookblad of vind hulle by Table Mountain Aerial Cableway. As jy nie in staat is om ’n staproete te doen nie, gaan sit minstens vir ‘n ruk lank iewers buite waar jy plante en voëls kan sien en raak bewus van hoe groot en wonderlik God alles gemaak het. Kyk gerus na die video hieronder.
ONS FAMILIE IN AFRIKA
Getuienisaksie-vennootskap met kerk in Nederland
Daniël de Wet, PSD: Ekumeniese Vennootskappe in Afrika, het onlangs tydens twee geleenthede ontmoetings met GZB (Gereformeerde Zendingbond)-sendelinge van Nederland gehad. Die eerste ontmoeting was met Jaco en Anna Slingerland wat tot einde vandeesmaand met die ondersteuning van Getuienisaksie op Nkhoma, Malawi werk. Daniël het ook gereël dat hulle een Sondagoggend tydens ’n erediens van die NG Gemeente Stellenbosch-Wes van hul roeping en werk in Malawi getuig.  “Dit was kosbaarbaar om saam met die gemeente na hulle te kon luister,” vertel hy. “Dis baie belangrik om dié netwerk met die sendelinge van die GZB in stand te hou en verder uit te bou. Ons het mekaar nodig vir die werk wat ons in Afrika en ander plekke doen.” Sy tweede ontmoeting was met Willem-Henri den Hartog, verteenwoordiger van die GZB Suider-Afrika. “Sy passie is om daar waar jy woon en werk die evangelie regtig te beliggaam. Dit was baie inspirerend om hom te hoor praat oor kerk en die evangelie. Hy leef sy geloof; hy het sommer daar in ’n straat in Stellenbosch vir my gebid – dit het my diep geraak,” vertel Daniël. Kontak Daniël de Wet by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
Foto van links na regs: Jaco en Anna Sligerland met Elmien en Daniël de Wet
TOERUSTINGSGELEENTHEDE
Klik op die grafika vir meer inligting. 
GEBEDSVERSOEK
GEMEENTENUUS
Calitzdorp se Doppie-projek gaan voort!
NG Gemeente Calitzdorp skryf op hulle Facebook-blad dat hulle aan die einde van Oktober met behulp van Louis Zaayman Boerdery amper twee ton plastiekdoppies wegstuur Kaapstad toe, wat genoeg is vir 4 rolstoele. Om een rolstoel op hierdie herwinbare manier te maak, word 450kg plastiekdoppies of 45kg broodknippies benodig. Hulle is dankbaar vir almal se getroue bystand met hierdie projek. 
Die Doppie-projek is ‘n handevat-projek tussen die gemeente, besighede, skole en die gemeenskap. Selfs instansies van George en Oudtshoorn help ook! Die gemeente doen 'n beroep op die publiek om plastiekdoppies te versamel en by die kerkkantoor af te gee op weeksdae tussen 09:00 en 12:30. 
Wees dankbaar
In die lig van dankbaarheidsmaand wat deur meeste gemeentes in Oktober gevier word, het Henri Meyer, predikant by Mosselbaai Moedergemeente, spesifiek gefokus op dankbaarheid in sy blog: "Die ander aand kyk ek ‘n fliek. Dit was ‘n goeie fliek, regtig: Miracles from heaven. In die fliek sê die vrou: 'You can either live your life as if nothing is a miracle. Or you can live your life as if everything is a miracle.' Einstein het dit blykbaar gesê.
Maar ek het toe verder gedink. Ek’t gedink oor dankbaarheid. Jy kan of jou lewe leef asof jy niks het om voor dankbaar te wees nie. Almal is lelik met jou en alles loop verkeerd en almal is uit om jou te pynig. Of jy kan jou lewe leef asof jy vir alles kan dankbaar wees. Jesus het die nag voordat Hy gekruisig is, sy Vader gedank. Hy het die brood gebreek.
Die brood wat ‘n simbool is van sy liggaam wat gebreek is. En Hy dank sy Vader vir die brood. Die wreedheid van die kruis, word die grootste simbool van dankbaarheid." Klik hier om verder te lees. 
Nataniël in konsert 
Ná ’n lang afsondering en geen reise vir meer as ’n jaar nie, keer Nataniël tans terug na die verhoog met ’n landswye reeks Saterdagkonserte in talle van sy geliefde kerke. ’n Intieme konsert word op Saterdag 20 November 2021 om 18:30 vir 19:00 aangebied in die Toringkerk, Paarl.
Hierdie vertoning bestaan uit musiek, oud en nuut, oorspronklik en immergroen, jazz, blues, soul, pop en eksentriek, altyd verrassend. En natuurlik Nataniël se nuutste kenmerkende stories. 
Nataniël deel die verhoog met pianis Charl du Plessis. Kostuums is deur Floris Louw. Beperkte sitplekke beskikbaar! Geen kinders onder 15. Alle veiligheidsprotokol word gevolg.
Bespreek betyds op www.toringkerk.co.za.
Klik bo om 'n lootjie by Parow-Welgelegen te koop.
Inspirasie kunsfees in Franschhoek
Kunsliefhebbers kan gerus by die Franschhoek-gemeente gaan inloer van 31 Oktober tot 28 November vir die spesiale uitstalling met die tema True Colors. Kunstenaars Siobhan en Michelle-Lize neem besoekers op 'n reis en deel waar hulle inspirasie vir elke kunswerk gekry het: 13 & 18 Nov. om 10:00 en 25 Nov. om 19:00.
Op 30 November om 18:00 is daar n boekbekendstelling deur Lucille May en vriende. Bespreek asseblief hiervoor by Lucille op 082 333 5730 voor 22 November.
VAKATURES
Klik op die grafika hieronder vir meer inligting oor die beskikbare vakatures.
BEHOU DIE HUMOR
PUBLIKASIES
ALGEMEEN
Discovery maak nuwe vaksiendata bekend
Discovery Health het vandeesweek die uitslae van 'n omvattende verslag bekend gemaak rondom die effektiwiteit en veiligheid van inentings teen COVID-19. 'n Uitgebreide studie is gedoen onder meer as 1,7-miljoen Discovery-lede wat Pfizer-inentings ontvang het en kliniese "tweelinge" wat nie ingeënt is nie. Dit het getoon dat mense wat nie die inenting ontvang het nie se infeksierisiko vyf keer meer is en kanse om aan COVID-verwante komplikasies te sterf 20 keer meer is. Die studie het ook bewys dat die inenting die risiko van hospitalisasie met 98% verminder. 
Terselfdertyd doen hulle ook 'n beroep om landsburgers om vaksienveldtogte te ondersteun om 'n vierde vlaag te voorkom - veral gedurende die Desember-vakansie wanneer byeenkomste en inter-provinsiale reis aansienlik gaan toeneem. As gevolg van toenemende vaksienhuiwering reken kundiges dat Suid-Afrika moontlik slegs op 51% vaksiendekking teen middel-Desember gaan staan. Dit is aansienlik laer as die teiken waarvoor die Department van Gesondheid gehoop het. Lees die volledige verslag hier
Raakgelees: Op avontuur saam met pa
Kenny Deuss, 'n skreeusnaakse pa uit België, laat ouers regoor die wêreld skaterlag met die geredigeerde foto's wat hy van sy kinders plaas. Nadat die ma van sy kinders, Tineke Vanobbergen, teruggekeer het werk toe het sy vreeslik na haar kleintjies verlang. Sy het Kenny gereeld begin vra hoe dit met hulle gaan en hy het besluit om Photoshop te gebruik om die kinders in gevaarlike scenarios te plaas en vir haar gestuur. "Ek hou daarvan om vir Tineke poetse te bak, so dit was vanselfsprekend vir my om sulke foto’s te maak," verduidelik Kenny. “Sy was aanvanklik verward omdat sy nie kon verstaan wat in die prentjies gebeur het nie. Maar sy het vinnig besef dit was 'n grap."
Die geredigeerde foto's het vinnig 'n weeklikse gewoonte geword en Kenny het dit op sy nou virale sosiale media-rekeninge, On Adventure With Dad, begin dokumenteer. Kyk gerus hier na 'n paar van die skreeusnaakse foto's. 
Parow Seniors hou oggendtee
Die Parow Senior Sentrum wend ‘n laaste groot fondsinsamelingspoging aan nadat so baie geleenthede tydens 2020/2021 se inperkings in die slag gebly het. Die geleentheid is ‘n oggendtee met gasspreker Rosebud Tsobane en sanger Vilene Kannemeyer.
"Ons Hartjie Tee se tema is Kom deel jou hart. Ons het almal ‘n behoefte om weer fisies bymekaar te kom, ons ervarings van die afgelope tyd en ons nuwe drome met ander mense te deel… En hierdie is ‘n geleentheid om dit oor ‘n koppie tee en lekker eetgoed te doen.
Kontak 021 930 3702 of 082 567 9377 of parowsentrum@mweb.co.za vir navrae of besprekings.
NID Jaarverslag nou beskikbaar
Die Nasionale Instituut vir Dowes (NID), Worcester het onlangs hulle 2021 Jaarverslag vrygestel. Klik op hierdie skakel om dit te besigtig of af te laai.
Die onderstaande video in samewerking met kunstenaar Elandré was ook opgeneem ter viering van Maand vir Dowes in September, en gee ‘n kort oorsig oor NID se werksaamhede. 
KUIERKANSE
Klik bo vir meer inligting oor die gesellige geleenthede.
TEN LAASTE
Eerskomende Sondag is Biddag vir Beskermingsdienste. Dit sluit in die polisie, brandweer, lede van die weermag, lugmag, vloot, mediese korps, asook buurtwagte,  gemeenskapspolisiëringsforums, nooddienste, gevangenisbewaarders  en selfs openbare en privaat beskermingsdienste.
Hou asseblief hierdie manne en vroue in julle gebede gedurende hierdie uitdagende tye. Ons dra hierdie weergawe van Neem my in beskerming (gebaseer op Psalm 16) opgevoer deur die Drakensberg Seunskoor aan ons beskermingsdienste op.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.