Subscribe to our email list
 22 Julie 2016

Beste Leser
Sleutel
“Laat jou taal ’n sleutel wees
wat ’n duisend deure oopmaak.
Skep nuwe moontlikhede
Waak altyd oor jou woord:
Elke byvoeglike naamwoord
wat geen lewe skenk
pleeg moord.”       - Vicente Huidobro, Chileense digter

SINODENUUS
1. NG Kerk vra Gebed en Hoop in Verkiesingstyd
Die NG Kerk roep sy lidmate op tot gebed met die oog op die komende munisipale verkiesing. Dié verkiesing op 3 Augustus word wyd beskou as een van die moeilikste en belangrikste verkiesings tot op datum.
Hierdie omstandighede bied egter aan die lidmate van die NG Kerk 'n besondere geleentheid om getuienis te lewer van ons geloofsoortuigings. Dr Gustav Claassen, algemene sekretaris, se brief is hier beskikbaar. Grafika vir PP's, met dank en erkenning aan Nico Simpson van Bybel-Media, is aangeheg.
Dankie aan gemeentes wat tyd in die erediens en elders hiervoor inruim.
Gebed vir 3 Aug
2. VGKSA Verwelkom Hertoelating van NG Kerk tot WRK
In 'n pastorale brief wat dr Mary-Anne Plaatjies van Huffel, moderator van die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider Afrika aan die NG Kerk gerig het, dra sy die vreugde van die VGKSA oor dat die NGK formeel terugverwelkom is as lid van die Wêreldraad van Kerke (WRK).
Nelis Janse van Rensburg (voorsitter van die Algemene Sinode Moderamen) en Gustav Claassen (algemene sekretaris) het onlangs die NG Kerk verteenwoordig by die vergadering van die Sentrale Komitee van die WRK in Trondheim, Noorweë. Tydens hierdie vergadering is die NG Kerk op 26 Junie 2016 - 
na 55 jaar -  amptelik as lid van die WRK erken. Ons is dankbaar vir hierdie seën en hernude bande!
Dr Plaatjies van Huffel en ds Janse van Rensburg
3. Nuwe PSD: Teologiese Navorsing!
Dit is besonder aangenaam om bekend te maak dat dr Pieter van der Walt van NG Paarlberg die benoeming na die NG Kerk in SA (Wes-Kaapland Sinode) as Predikant in Sinodale Diens (PSD) vir Teologiese Navorsing aanvaar het. 
Ons sien opgewonde uit na 1 Augustus 2016, wanneer hy by die bekwame span van die Diensgroep Toerusting aansluit. Meer besonderhede oor sy bevestiging sal volg. Intussen wens ons vir Pieter en sy vrou, Heidi, saam met hulle drie kinders ’n sinryke en vreugdevolle nuwe seisoen toe. 
Pieter, Tjaart, Hettie, Elise en Heidi van der Walt
Vlnr Pieter, Tjaart, Hettie, Elise en Heidi van der Walt
4. Kerkorde en Reglemente: Sinode van Wes-Kaapland
Die Kerkorde en Reglementebundel van die Sinode van Wes-Kaapland is nou op ons webwerf beskikbaar. Die Wes-Kaap se reglemente was al wettig in gebruik toe die notule van die Wes-Kaap Sinode 2015 gepubliseer is. Daar is enkele veranderinge aangebring nadat die Algemene Sinode se Kerkorde verskyn het. Elke kerkkantoor en bevestigde predikant in 'n gemeente in die Wes-Kaap gaan in die volgende weke 'n gratis gepubliseerde weergawe ontvang. Diegene wat ook 'n bundel by Sanet Gunter wil bestel, kan dit teen R40, plus posgeld, doen by skriba@kaapkerk.co.za
Die Algemene Sinode se reglemente vir predikante en ander gemeentesake is hierby ingevoeg. Die Algemene Sinode Kerkorde is dus nie afsonderlik nodig vir gemeentes en predikante nie. "Mag die Here gee dat ons die Kerkorde en Reglemente met groot wysheid en liefde sal toepas. Lees dit gerus deur, dit is goeie teologiese leesstof!" skryf Quintus Heine, aktuarius.
5. So werk ons Sinode: Getuienisaksie
Die werk van die Sinode van Wes-Kaapland word deur vyf diensgroepe hanteer. Elke diensgroep bestaan uit verskillende taakspanne. Die vyf diensgroepe is: Armoede en Sorg, Gemeentebegeleiding, Getuienisaksie, Ondersteuningsdienste en Toerusting. 
Die Diensgroep Getuienisaksie se bestuurder is Kobus Odendaal (Predikant in Sinodale Diens: Getuienisaksie), met Donald Gantana (VG Gemeente Grabouw) en Jan Grobbelaar (NG Gemeente Wellington-Oos) as voorsitters. 
Die taakspanne as deel van Getuienisaksie is Afrika Ekumene, Gemeentegetuienis, Arbeidsbediening en Publieke Getuienis. 
Donald Gantana en Jan Grobbelaar
Donald Gantana en Jan Grobbelaar
5.1 Getuienisaksie 
Kobus Odendaal, diensgroepbestuurder van die Diensgroep Getuienisaksie, vertel in die video (klik op sy foto) meer van dié gesamentlike diensgroep van die NGK Wes-Kaap en die VGK Kaapland wat uit vier taakspanne bestaan en ook twee maal per jaar die nuusbrief, Getuie/Witness,  publiseer. 
Kontak Kobus by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
5.2  Getuienisaksie: Algemene Jaarvergadering
Getuienisaksie se Algemene Jaarvergadering vind plaas op 27 Julie by Bellville Dienssentrum, Chrismar Villas. Dit is ook 'n geleentheid waar VBO-punte verdien kan word. Onderwerpe soos Celebrating 500 Years of Protestant Tradition – the empowering energy behind our witness (Braam Hanekom), Poor people, the Gospel and the local church (Alan Storey), The disciplines of a witnessing church (Xolile Simon) en The unfinished task and new challenges for our Witness in Southern Africa (paneelbespreking) sal bespreek word.
Die vergadering verdeel in verskillende sessies vir die middag (sien die program).
Die groep wat 2015 se Algemene Jaarvergadering bygewoon het
5.3 Getuienisaksie: NetACT help verbind ons Ekumenies in Afrika
NetACT (Network for African Congregational Theology) is ’n belangrike netwerk van meestal Gereformeerde teologiese skole in Sub-Sahara Afrika wat ten doel het om deelnemende skole by te staan om leierskap te ontwikkel en die vlak van teologiese opleiding te verhoog.  
Kobus Odendaal van Getuienisaksie het vanaf 4 tot 7 Julie die NetACT Jaarvergadering, asook ’n werkswinkel van hulle in Kenia, bygewoon. Dit het plaasgevind by die Universiteit van St Paul, 50km noordwes van Nairobi. Lees meer
NetACT-groepfoto Julie 2016
Die NetACT-groep in Julie 2016 byeen
6. Hoop vir Riviersonderend-kleuters
Averell Rust (Badisa se HUB) en Braam Hanekom (Sentrum vir Publieke Getuienis) het net voor die skoolvakansie saam met Badisa-personeel die spreekwoordelike lint gaan knip om die nuwe crèche wat deur die Hoop en Versoening Trust by die Wiggel-Waggel-skool op Riviersonderend gebou is, in te wy.
Finale afronding is deur die vakansie gedoen sodat ongeveer 80 kinders die nuwe kwartaal in die nuwe gebou kon begin.
Dit is 'n eko-vriendelike gebou met watertenks, is elektries volledig selfversorgend en is uitstekend geïsoleer vir temperatuurwisseling in beide die somer en winter.
Die Trust hoop om in die tweede semester 'n tweede soortgelyke skool te bou.
Kontak Salomi by die Sentrum vir Publieke Getuienis
by spg@kaapkerk.co.za of 021 957 7202. Op die foto onder is Braam Hanekom en Averell Rust saam met van die Badisa-personeel en 'n groepie kinders vir die lintknipseremonie.
Riviersonderend Joeys Babies
Wiggel Waggel-speelgrond
Plastiekstoel
7. Sentrum vir Publieke Getuienis
7.1  Stoele Asseblief!
Die Sentrum vir Publieke Getuienis (SPG) werk nou saam met ‘n aantal onafhanklike kerke in Khayelitsha.  Een van die dringende behoeftes wat geïdentifiseer is, is stoele vir mense wat soms in informele strukture bymekaarkom. Dit mag onbenullig klink, maar dis inderdaad 'n groot behoefte.
Enige persoon of gemeente wat hiermee kan help, kontak asb vir Salomi by die kantoor by 021 957 7202 of spg@kaapkerk.co.za. So in die gees van Mandela-maand, is dit dalk JOU kans om met 'n klein gebaar 'n reuse-verskil iewers te maak ...
7.2  Bedink Rassisme, Versoening, Heling
Die Sentrum vir Publieke Getuienis hou op Donderdag 21 Julie 'n volgende rondte dialoë oor rassisme, heling en versoening in opvolg van die vorige gesprekke vroeër vanjaar.
Die gesprekke vind op die volgende plekke plaas:
Oudtshoorn en omgewing (NG Oudtshoorn-Wes) 18:00 vir 18:30

Khayelitsha, Bellville en Delft (NG La Rochelle) 19:00
Citrusdal en omgewing (NG Citrusdal) 19:00
Riversdal en omgewing (NG Riversdal-Wes) 18:30
Belangstellendes kan die betrokke gemeentes of die kantoor skakel: 021 957 7202.
Braam Hanekom
7.3 Publieke Getuienis, ECCOC en die verkiesing
Braam Hanekom verteenwoordig vanjaar die NG Kerk hier in die Kaap op die Electoral Code of Conduct Observer Commission (ECCOC).
Hierdie kommissie is 'n moniteringskommissie wat die riglyne vir die verkiesing, soos daargestel deur die OVK, voor en tydens die verkiesing moet monitor. Dit staan onder voorsitterskap van aartsbiskop Thabo Makgoba en die bestuurder is me Nomfudo Walaza. Lees
hier wat Braam verder oor die verkiesing skryf
Kontak die Sentrum vir Publieke Getuienis: 
021 957 7202 of spg@kaapkerk.co.za.
8. Badisa: One More-Veldtog en Barmhartigheid vir SA
Augustus is om die draai en word in gemeentes beskou as die Maand van Barmhartigheid. Met Badisa se One More Omgee-veldtog verwag hulle nie om die hoofopskrifte in die pers of miljoene mense te bereik nie: dit gaan oor slegs nog een persoon in nood. "God het in sy Woord belowe dat as ons getrou is in die klein dinge, Hy getrou sal bly in die groter dinge. Die wyse waarop ons gee, is daarom ook belangrik. Ons vra dus dat gemeentes nie net sal fokus op korttermyn ad hoc projekte in hul omgewing nie, maar op Badisa se volhoubare projekte, wat die kerk buite sy grense kan neem na mense in nood."
Jou R28 help 150 Badisa-programme om aan nog een mens in nood 'n verskil te maak. Lees ook aangeheg oor "Die SA waarvoor ons bid" en barmhartigheid vir SA.
Badisa Dienslewering
Imagine Kidz
9. #Imagine Kidz
#Imagine Kidz is 'n splinternuwe vertakking van die #Imagine-beweging in SA.
Hulle fokus op kinders tussen 10 en 12 jaar. #Imagine Kidz is besig om kerke, skole, instansies en organisasies te mobiliseer en toe te rus om self in die Oktober-vakansie 'n suksesvolle en sinvolle #Imagine Kidz Experience aan te bied.
Met slegs 10 plekke beskikbaar, moet gemeentes spring om te registreer!
Kry al die inligting aangeheg en besoek www.imaginekidz.com.
Op Facebook is selfs meer inligting.
Collette de Wet
10. Die Argief verwelkom Collette de Wet
Collette de Wet het op 18 Julie as argiefbeampte by die NG Kerk in SA se Argief op Stellenbosch begin werk. Sy sal verantwoordelik wees vir die argief se Kaapse Versamelings. Dit sal behels die ontvangs van argivalia, die ontsluiting daarvan en die beantwoording van navrae rondom die drie Kaaplandse sinodes, die Kaapse ringe en Kaapse gemeentes, asook die Minnie Hofmeyer Kollege.
Collette was voorheen werksaam in die kerkkantoor van die NG Gemeente Durbanville en sedert 2008 was sy deel van NG Brackenfell-Proteahoogte se span.
Alle seën en voorspoed, Collette! Mag jy spoedig tuis in die nuwe omgewing wees.
Kerse
ALGEMEEN
1. Met innige Meegevoel
1.1 Ds Hans (HDR) Blok
(11 April 1930 - 28 Junie 2016)

Ons het met hartseer kennis geneem van die dood van 'n welbekende in sending-kringe, ds Hans Blok.
Ds Blok was tydens sy bediening besonder aktief en passievol betrokke by die sending. Hy is in 1954 as predikant georden en het onder meer in Njassa-sending (Mcinji en Malingunde), Ugie, Bizana (Transkei), Zimbabwe, destyds nog Rhodesië (Bindura) en Cala (Transkei) bedien tot en met sy aftrede in 1995. 
'n Roudiens is gehou op 4 Julie in Huis Van Niekerk-Benadehof, Strand, waar ds Blok gebly het. Die diens is gelei deur ds Carel Smith van die NG Gemeente Suider-Strand. Ons innige simpatie aan sy weduwee en ander familie en vriende. 
Eduan Hay
1.2 Dr Eduan (EJ) Hay
(23 Desember 1932 - 9 Julie 2016)

Dit is met leedwese dat ons verneem het van die afsterwe van dr Eduan (Eduan Johan) Hay op 9 Julie in Wellington. 
Hy is op 23 Desember 1932 in Aberdeen gebore as een van vier broers waarvan drie (Eduan, Francois en Johnnie) in die bediening was.
Hy is in 1963 georden as predikant in Noorder-Paarl en was daarna ook in George, die Kaapse Jeugkantoor, Bosmanstraatkerk in Pretoria, Universitas en Kovsiekerk in Bloemfontein in die bediening. Dr Hay het sy bediening afgesluit as predikant in diens van die Algemene Sinode met opdrag: Opvoeding en Onderwys, en emeriteer in 1997. Sy lewe het altyd getuig van 'n groot liefde vir die jeug. 
Dr Hay word oorleef deur sy vrou Eunice, kinders Minda, Theo, Eduan en Annelize, hulle gades en nege kleinkinders. 'n Troosdiens sal op 24 Julie om 14:00 in Silwerkruin Huis vir Bejaardes in Wellington deur ds Theo Hay van Suider-Paarl gelei word.
Ds GJP Kriel
1.3 Ds GJP Kriel
(5 Januarie 1922 - 10 Julie 2016)

Innige simpatie gaan ook aan mev Zelda Kriel, weduwee van ds Gideon (GJP) Kriel wat op 10 Julie 2016 oorlede is.
Nadat hy in 1951 sy studies aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi het, is hy in 1952 in Oranjeville (Vrystaat) as predikant bevestig. Daarna bedien hy ook in Tsitsikamma, Koringberg, Windhoek-Oos en Garies, waar hy in 1975 emeriteer. Ds Kriel het in Kareedouw, waar hy vroeër as proponent dikwels preekbeurte waargeneem het, afgetree.
Hy laat ook vyf kinders en sewe kleinkinders agter. 'n Gedenkdiens vir ds Kriel het op Donderdag 14 Julie by die Durbanville Gedenkpark plaasgevind. Mag kosbare herinneringe die gesin en familie vertroos.
Alta du Toit skets
1.4 Tot siens aan Alta du Toit
Me Alta du Toit, na wie die Nasorgsentrum in Lincolnstraat, Boston vernoem is,  is Dinsdagaand in die ouderdom van 61 jaar en 10 maande in die Louis Leipoldt Medi-kliniek oorlede.       
Alta en ander verstandelike gestremde volwassenes het 38 jaar gelede hul intrek in die “nuwe” Alta du Toit Nasorgsentrum geneem. Die ontstaan van die Sentrum, asook die Alta du Toit- skool in Kuilsrivier,  is te danke aan Alta se ouers (wyle ds Daan en mev Alta du Toit).
"Ons groet Alta met die gerusstelling dat haar nagedagtenis altyd sal voortleef in die honderde intellektueel gestremde kinders en volwassenes wat al versorg en opgelei is by die Alta du Toit-skool en daarna 'n tuiste gevind het by Alta du Toit Nasorgsentrum," skryf die Nasorgsentrum in hulle huldeblyk.
Die gedenkdiens vind plaas op Woensdag 27 Julie om 11:00 vanuit die Vredelust-ouditorium (13de Laan, Boston) en word gelei deur ds Nelis Janse van Rensburg.
Die Sinode van Wes-Kaapland se opregte simpatie aan elkeen van haar familie en vriende. Ons eer haar nagedagtenis vir die besondere impak wat sy gehad het en die lewens wat sy aangeraak het.
Alta du Toit 1954-2016
Pieter du Toit
2. Leef jou Oortuigings - vind jou Stem
•  Is jy bang vir die gevolge sou jy opstaan vir jou oortuigings?
•  Hanteer jy konfliksituasies suksesvol en met vertroue?
• Wanneer jy wél opstaan vir jou waardes, het jy impak of word jy afgelag of geïsoleer? 
Op 29 en 30 Julie gee Pieter du Toit van Jireh Consulting Services jou die gereedskap hiervoor by 'n kursus wat by die NG Gemeente Stellenberg in die noordelike voorstede aangebied word. Kontak Marina by
071 421 3475 of marina@jirehconsultingservices.co.za vir meer oor hierdie VBO-geakkrediteerde kursus. Klik hier vir die program.
3. Ons eie Pelgrimstaptog
Nadat Frederick Marais (PSD: Toerusting) in 2012 die Camino de Santiago in Spanje gestap het, het hy teruggekom met die idee om iets soortgelyk in SA te begin. 
Dit was die begin van die Pelgrimstog van Hoop saam met Communitas op Stellenbosch. Die volledige artikel hieroor, wat onlangs in die Buite-bylae van Die Burger verskyn het, kan hier  gelees word. 
Enige belangstellende wat meer wil weet oor die proses as hulle self wil stap, kan hier lees wat Adrienne Bester, wat ook die tog meegemaak het en by die reëlings betrokke is, skryf. 
Communitas se webwerf bevat inligting oor die handleiding. Wat 'n spesiale inisiatief! (Foto onder: met erkenning aan Louise Jackson)
Pelgrimstog 2016
Pelgrims onderweg deur die prentjiemooie Boland
4. Excelsus se Lentekonferensie
Excelsus is die Sentrum vir Bedieningsontwikkeling verbonde aan die Fakulteit Teologie by die Universiteit van Pretoria en is, soos Communitas, verantwoordelik vir predikante van die NG Kerk se voortgesette bedieningsontwikkeling (VBO).
Hulle elfde Lentekonferensie, Lente in Bediening en Teologie, vind plaas vanaf 20-22 September 2016 by die NG Universiteitsoord en die Universiteit van Pretoria.
Die tema vir 2016 is: "Wees die goeie nuus. Van oorlewing tot impak”.
Vir meer inligting, klik op: Excelsus Lentekonferensie.
5. Hulp vir Gemeentes: Belydenis van Belhar
Gemeentes wat tans (weer) besig is met die betekenis en waarde van die Belydenis van Belhar, kan oorweeg om ’n video van die Presbiteriaanse Kerk in die VSA (Presbyterian Church USA) in gesprekke en nadenke hieroor te gebruik. Klik bo om die video te kyk.
Aberdeen kerkgebou
6. Aberdeen se Kerktoring
Onlangs berig kollega Danie Mouton in die Oos-Kaapland Sinode se Grens.Pos hoe "ene" Koos Reyneke deur Aberdeen se kerktoring "gered" is. Koos skryf: "Vir my bly Aberdeen se kerkgebou altyd 'n rigtingwyser en baken op die lewenspad, 'n gróót lewensles en teken van dankbaarheid, sonder dat ek ooit in die kerk was."  
Sedertdien het Danie uitgevind dat Koos 'n gerekende argitek is wat reeds 72 kerkgeboue ontwerp het, waarvan 67 NG kerkgeboue. Dit gee beslis 'n heel nuwe perspektief op sy opmerkings. Hy het oa die kerkgebou van Humansdorp-Oos ontwerp. Lees meer oor Koos Reyneke. (Aberdeen het blykbaar die tweede hoogste kerktoring in die land naas die Toringkerk in die Paarl s'n.) Dankie, Grens.Pos!

Ekerk-logo
7. Ekerk - Hulpbronne vir Gemeentes en Leiers
Dalk het jy al van Ekerk gehoor... dalk nie? Wie is Ekerk?
"Ekerk is eerstens nie 'n eie kerk nie. Ekerk vervang ook nie jou plaaslike gemeente nie. Ekerk is bloot net nog 'n manier om kerk te wees in die wêreld. Deur middel van Christelike groei- materiaal, en lewendige byeenkomste, vorm alle ekerk’ers deel van 'n gemeenskap van Christelike gelowiges regoor die wêreld. Enigiemand is welkom as deel van die Ekerk-familie."
Besoek hulle webwerf vir artikels, video's ensovoorts.
Vind meer uit van Ekerk se Learning Community.
Vind meer uit oor Ekerk se navorsing.
Vind meer uit oor Ekerk se tendense.
Die nuusbriewe van Ekerk is propvol bruikbare boodskappe en inligting. (Met erkenning aan Mossie Mostert, Noord-Kaapland eNuus, sowel as Ekerk)
Godsdiens en wetenskap
8. Stellenbosch Studiegroep
Ons Godsdiens en die Wetenskappe

Piet Walters, sekretaris, stuur inligting oor die Stellenbosch Studie- en Besprekingsgroep se program vir die tweede semester van 2016. Hulle doen altyd moeite om kundige sprekers en relevante onderwerpe by hulle program in te sluit en ontmoet Dinsdae vanaf 17:00 in die kerksentrum van NG Stellenbosch-Sentraal. Kry die program aangeheg en teken die datums aan! Die eerste byeenkoms is op 2 Augustus.
9. US Fakulteit Teologie
Opwindende geleentheid vir 2017

Die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch, in samewerking met die Kerk in Swede, bied 'n besonderse geleentheid aan studente om 'n Magister in die Teologie te voltooi met die fokus op gesondheid en gender.
Lees hier meer en kry die aansoekvorm hier. Belangstellendes kan kontak maak met dr Charlene van der Walt (charlenevanderwalt@sun.ac.za) voor 1 September 2016.
GEMEENTENUUS
1. Spesiale nuus: Calvinia-gemeentes smelt saam!
Ons vier hierdie naweek 'n wonderlike geleentheid en baken van hoop met die samesmelting van die twee NG gemeentes in Calvinia as gelyke vennote.
'n Spesiale feesdiens word beplan vir Sondag 24 Julie. Om 07:30 vind 'n biduur plaas op die plaas Ramskop by die eerste gebou wat as kerk gebruik is.
Vandaar gaan die gemeentes na die Moederkerk waar Hantamkerk hul nagmaalservies simbolies aan Moederkerk oorhandig as die plek waar die nuwe gemeente voortaan nagmaalsdienste gaan hou. Om 11:00 vind 'n dankdiens by die Hantamkerk plaas, waartydens Moederkerk hul Kanselbybel seremonieel oorhandig aan Hantamkerk as plek waar gewone eredienste in die vervolg gaan plaasvind. Daarna word die fees afgesluit met 'n geselligheid in die kerksaal.
Meer oor die geskiedenis van die twee gemeentes is hier beskikbaar.
Aan di Edward Archer en Maryke Uys, Elize Mostert (voorsitter van Calvinia-kerkraad), Frikkie Roodtman (voorsitter van Hantam-kerkraad), sowel as die res van die kerkrade en lidmate: mag die Here se Hand van leiding 'n sigbare werklikheid wees in elke tree op die nuwe gesamentlike pad. Seënwense!
NG Calvinia
NG Calvinia
Calvinia-Hantam
Calvinia, hart van die Hantam
Calvinia-Hantam
NG Calvinia-Hantam
NG Saldanha 50 jaar
2. NG Gemeente Saldanha
50 Jaar van Genade
 
'n 50ste verjaardag is rede vir groot dankbaarheid - en dit geld gemeentes se verjaardae ook. Hierdie naweek (22-24 Julie) bereik die NG Gemeente Saldanha se 50ste vieringe 'n gesellige hoogtepunt.
Met 'n feesete, orreluitvoering deur Winand Grundling, klipstapeling én 'n reünie-naweek wat in September wag, beloof dit om 'n unieke geselligheid aan die Weskus te wees. Ons bid Jakes Barnard, Kotze Olivier, die kerkraad en elke lidmaat besondere seën hiermee toe. Mag julle as gemeente die Here se sorg en leiding daagliks beleef. Klik hier vir meer inligting.
3. NG Gemeente Gordonsbaai se Kinders vir die Koning
Kinders vir die koning, 'n skooltjie in Gordonsbaai wat in 1993 deur Lynette van Dellen in haar motorhuis begin is, bestaan vandag uit drie volwaardige klaskamers en kinders tot en met Gr R word daagliks hier geleer en gevoed. Estie du Plessis, wat saam met Lynette die skooltjie bedryf, skryf: “Ons het nog 'n ver pad om te gaan, maar wanneer ons wil-wil benoud raak, dink ons aan Heb 13:5”.  Lees meer hier.
Kinders vir die Koning
Cheri-Lee Williams, Chantal Smith, Fransien Isaacs, Wilmiena Theunissen (kok), Ulene Loxton, Estelle Basardien (prinsipaal) saam met die kinders tydens etenstyd
Kinders vir die Koning klaskamer
Gr R-klassie met prinsipaal Estelle Basardien en Cheri-Lee Williams
4. Uitreike: Verhoudinge, Verrassende Genade ...
Een van die vele uitreike wat tydens die afgelope vakansie plaasgevind het, was 'n gesamentlike uitreik van die VGK Kraaifontein, Klipheuwel en NG Stellenberg na Zoar. Daar is vetplantjies met tuisbesoeke oorhandig en besondere brûe gebou.
Mike Maatjan, die geestelike spanleier, is diep geraak deur die plaaslike Anglikaanse kerk, St Agnes, se gasvryheid en aanbod vir akkommodasie vir 2017. Hy skryf: "Dit is vir my duidelik dat die Belydenis van Belhar gestalte kry in sulke optrede en nie in vergaderings of konferensies nie. En die eenheid van die kerk lê ook nie in gedwonge aksies nie. Op hierdie uitreik ervaar jy die verrassende genade van die Here!"  Dit is sekerlik 'n boodskap wat deur ander uitreikgroepe beaam sal word.
Mike Maatjan saam met 'n paar Zoar-kinders
Mike Maatjan omarm Zoar-kinders
Vader Rudy Laws en Mike Maatjan
Vader Rudy Laws ontvang 'n plantjie van Mike
5. Program vir Geskeides en Enkelouers
Word jy geraak deur egskeiding of enkelouerskap?
Helderberg Gemeente bied 'n inter-denominale program vir alle geskeides en enkelpersone aan. Die DivorceCare en Single & Parenting-program skop af op Donderdagaand 28 Julie om 18:00. Hulle het terselfdertyd 'n program vir kinders (3-13jr) uit enkelgesinne.
Plek: NG Helderberg - Tent, Firmountstr 82, Somerset-Wes.  
Die kontakpersoon is me Corneille Barnard by tel 021 851 5582 of leraarsekretaresse@nghelder.co.za
Lees gerus meer op www.churchinitiative.org.
Elsché Eygelaar foto
6. Kaptein Eygelaar tot u diens!
Met die besoek van die Logos Hope aan Kaapstad het Constantia-gemeente die skip besoek. Carlien Govender, haar man en gesin is al baie jare op die skip en is een van die sendelinge wat deur die gemeente ondersteun word.  Carlien het die besoek gereël. Tydens die besoek het hulle die brug ook besoek en verwonderd gestaan oor die beperkte werkruimte vir diegene wat so 'n groot skip moet stuur. 'n Offisiersbaadjie was 'n groot aantrekkings-krag en ds Elsché Eygelaar het nie op haar laat wag nie en haar summier verhef tot kaptein van die Logos Hope, al was dit net vir 'n foto!
Twitter Facebook YouTube
Peter Kotze
PREDIKANTENUUS
NG Stellenberg verwelkom Peter Kotze

By die NG Gemeente Stellenberg in Durbanville word hulle nuwe kollega, Peter Kotze, in hierdie dae hartlik verwelkom.
Peter is afkomstig van die NG Gemeente Rustenburg in die Noordelike Sinode en was oa daar betrokke by die Vision of Hope Foundation, met jeugontwikkeling, kerkplanting, gemeenskap, anti-mensehandel, uitreike, missionale aktiwiteite, sekswerkers en dwelmafhanklikheid as spesifieke take. 
Sy intreepreek is op Sondag 24 Julie tydens die jeugdiens om 18:45.
Baie goeie wense en seën in jou nuwe werk en omgewing, Peter! Mag die Kapenaars se warmte en gasvryheid die Kaap spoedig soos huis laat voel.
EKOLOGIE
1. Farming God's Way maak groot verskil in Malawi
Hennie Smit, bestuurder van die Departement Omgewingsorg op die Nkhoma Sendingstasie in Malawi, pas al jarelank die Farming God’s Way-metode toe om die opbrengs van die mielieboere te help vergroot.
Hy vertel meer in 'n kort video. (Met dank aan Diensgroep Getuienisaksie.)
Hennie Smit in die mielielande
Hennie Smit in die mielielande op Malawi
2. Noorweë Verklaar ontbossing Onwettig
Vroeër vanjaar het die Noorweegse Parlement hulle daartoe verbind om die afkap van woude en plantasies te staak en so die eerste land geword wat ontbossing heeltemal verban het. Dit volg na die Reënwoudstigting van Noorweë vir jare gewerk het om hierdie beleid geïmplementeer te kry. Sommige kenners is van mening dat die wêreld se reënwoude binne die volgende eeu heeltemal uitgewis gaan wees as hierdie soort voorkomende maatreëls nie ingestel word nie. Lees die volledige berig hier.
By: foto
3. Klein insek, Groot impak
Bye is van die mees ywerige werkertjies op ons planeet en die belang van hul rol in die ekosisteem moet beslis nie onderskat word nie! Om 500g heuning te produseer, moet twee miljoen blomme besoek word en meer as 800 000km afgelê word. Die gemiddelde by produseer net ongeveer 'n halwe teelepel heuning in 'n leeftyd. As al die aarde se byspesies uitgesterf het, sal soveel soos 60% van alle plantlewe uitsterf, omdat bestuiwing nie meer sou plaasvind nie.
"As die by van die aardbol se oppervlak af verdwyn, sal die mens net vier jaar kan lewe. Geen bye, geen bestuiwing, geen plante, geen diere, geen meer mens nie." (Albert Einstein)
"Aangename woorde is heuning, soet en geneeskragtig vir die mens." (Spr 16:24)
NUUSBRIEWE
1. Bybel-Media Nuus
In die jongste uitgawe van Bybel-Media se nuusbrief gee Hans Steyn inligting oor hulle nuwe publikasies. Dit sluit Kleurmeditasies vir Koninkrykstyd, Om God in mekaar te sien, Jesaja (e-Boek) en Protesstem (e-Boek) in. Kry meer inligting hier.
Kleurmeditasies Jesaja Om God in mekaar te sien Protesstem eBoek
2. Missie Japan Kwartaalflits
Stéphan en gesin draf die laaste week van hulle eerste kwartaal by KRTS (Kobe Reformed Theological Seminary) in, en kyk dankbaar terug na 'n baie besige en betekenisvolle paar maande. Nou brand die vreugdevure, want hulle somer-vakansie is in sig. Tyd vir uitspan en laaglê, én vir vars visie vind, voor hulle weer skouer aan die wiel moet sit. Voor hulle vertrek deel hy graag twee dinge. Kyk, lees en deel dit asseblief wyer ...
1. 'n Lekker YouTube video (9 min, onder) vir meer oor hulle onlangse lewe en werk.
2. Gebedsversoeke (klik hier) om te onthou in die volgende paar weke.

In dieselfde asem, maar op 'n ernstiger noot, is dit nodig om te noem dat Missie Japan se finansiële ondersteunings-netwerk voortdurend moet veg teen tekorte. Die rand se waarde tenoor die yen val die afgelope jaar konstant met meer as 30%. Ondersteuners word vriendelik gevra om ook hierin hulle hande te sterk. Klik hier.
Missie Japan Summer Snippets
PUBLIKASIES
1. LiG 
In die Augustus-uitgawe van LiG
Elizma Theron gesels oor haar  2e wonderwerk
* 'n Ma vertel van haar Downsindroom-kind
* 'n Karoo-boer verdryf gevoelens van depressie deur konfyt te kook
* EN vir ouers van 'n koppige kind is daar raad.
Teken gerus in op LiG, wat maandeliks uitgegee word. LiG - vir jou en jou mense.
NG Ceres gebruik LiG
CLF-logo
2. Christelike Lektuurfonds: Morele Regenerasie-maand
Gedurende Julie vier ons Morele Regenerasie-maand. Baie mense se reaksie sal egter wees: "Morele regenerasie? – ons sien net morele verval oral rondom ons!"
Ons as Christene en kerk kan en moet ʼn toonaangewende rol speel in die ontwikkeling van morele identiteit in ons gemeenskappe. Hoe LEEF ons as Christene en kerk elke dag ons Christenskap en maak ons ʼn impak in ons gemeenskap? Christelike Lektuurfonds (CLF) se lektuur kan prakties en
lewens-veranderend bydra om gemeenskappe te help om gesonde lewenskeuses te maak. Lees hier verder, skakel CLF by 021 873 6964 of besoek hul webwerf.
Hieronder is voorbeelde van die lektuur wat by hulle beskikbaar is:
3. Kerkbode - Kerknuus sedert 1849
* Kerkbode van 22 Julie 2016 vertel van Britstown se kruiwaens, en van 'n projek wat begin om hoop te bied in ’n konteks vol wanhoop.
Dit vertel ook die verhaal van die NG Gemeente Moreletapark en die groot uitreik na hulle plakkerbure, van wie honderde deur 'n brand dakloos gelaat is. 
* Lees hoe daar in die middestad van Pretoria hoop gebring word deur ondersteuning aan mense en plekke wat voorskoolse kinders versorg.
* In die gay debat is die vraag na die rol van die wetenskap in die kerklike debat op die tafel.

* Daarby skryf ds Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die algemene sinodale moderamen, oor die NG Kerk se hertoelating tot die Wêreldraad van Kerke.
# Teken gratis in op die e-Kerkbode by www.kerkbode.co.za.
KUIERKANS
Klik onder vir nuus oor markte en feeste! Hou ook die sinode se Facebook dop. 
Huis Klippedrift Wintermark
Overberg Wintermark
27-30 Julie
Leipoldt-kuier
6-7 Augustus
Caledon-Wes Wintermark
Caledon-Wes Wintermark
21-23 Julie
4. Vrouedag vir CLF!
Op 8 Augustus kom van die land se beste kunstenaars en verhoogpersoonlikhede in die hart van die Boland byeen om vrouwees op ’n unieke manier te vier. ’n Spesiale Vrouedag-vertoning getiteld “Jy is vrou” word teen skemeraand by die Grande Roche Hotel se amfi-arena aangebied.
Die vertoning word ten bate van Christelike Lektuurfonds (CLF) en Een miljoen Bybels vir een miljoen kinders-projek aangebied. Kunstenaars soos Heinz Winckler en Sarah Theron gaan vir musikale treffers sorg en die bekende 7de Laan-ster Vinette Ebrahim en verhoogaktrise Lizz Meiring gaan die gehoor met uitmuntende toneelspel vermaak.
Die aand beloof oomblikke vol lag, huil, nostalgiese heimwee en ’n huldeblyk aan die vroue wat ons gemeenskappe omarm en ons lewens verryk. Indien dit reën, sal die vertoning na ʼn onderdak area by Grande Roche verskuif word. Kaartjies is hier te kry. 
CLF Vroueaand
Vredelust Senior Groep Oggendtee
5. Vredelust Seniors vier Vrouedag!
Vredelust Gemeente se Senior Groep bied 'n oggendtee aan op Donderdag 11 Augustus 2016 vanaf 10:30 in die Aktiwiteitsentrum (hoek van Duminystraat en 14 Laan, Boston) met die oog op Vrouedag.
Anroux Marais, die Wes-Kaapse Minister van Sport en Kultuur, is die spreker.
Verversings word bedien en kaartjies kos R50 pp. Kaartjies/besprekings: 021 948 1600.
Besoek www.vredelust.co.za vir meer inligting oor hulle aktiwiteite.
Kerkgebou
VAKATURES
1. NG Gemeente Robertson-Oos: Leraarspos

Ons herinner aan hierdie vakature by die NG Gemeente Robertson-Oos: 'n voltydse onbepaalde leraarspos as mede-leraar.
Robertson is ’n ontwikkelende dorp in die pragtige Breëriviervallei en beskik oor goeie skool- en ander fasiliteite. Die gemeente bestaan uit 1 151 belydende en 295 dooplidmate en het ’n vernuwende karakter. Lidmate word ooreenkomstig hul gawes aangewend. Klik hier vir meer inligting. Die sluitingsdatum vir aansoeke vir hierdie vakature is 31 Augustus 2016.  
Caledon-Wes naam
2. NG Gemeente Caledon-Wes: Leraarspos
Aansoeke word ingewag van alle belangstellende beroepafwagtendes en gelegitimeerdes van die NG Kerk vir hierdie voltydse onbepaalde leraarspos. Die pos is bydraend en ondersteunend tot die huidige leraarspos. Die sluitingsdatum is 31 Julie 2016 en die volledige advertensie kan hier bestudeer word. 
.
Paarl-Vallei kerkgebou
3. NG Gemeente Paarl-Vallei: Medeleraar
Die NG Gemeente Paarl-Vallei het 'n vakature vir 'n medeleraar. Meer oor die gemeente, met sowat 1314 belydende en 360 dooplidmate, is hier beskikbaar. Aansoeke sluit op 5 Augustus.
4. Badisa Huis Van Heerde: Admin/Boekhouer
Huis Van Heerde Kinder- en Jeugsorgsentrum in Moorreesburg is 'n program van Badisa, 'n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-Kaapland) en die VGKSA (Kaapland).
Aansoeke van entoesiastiese, verantwoordelike en gemotiveerde persone word vir hierdie betrekking as administratiewe beampte/boekhouer (Maandae tot Vrydae 08:00 – 13:00) ingewag. Sluitingsdatum: 28 Julie 2016.
Vakatures op Kerkbode se Web
Kerkbode is steeds dié plek vir die amptelike bekendmaking van vakatures vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante instansies.
Klik hier vir die jongste inligting.

As jy wil saampraat oor wat in die NG Kerk - en breër kerklike omgewing - gebeur, teken in om e-Kerkbode te ontvang. 
Strydom Bruwer foto
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Strydom Bruwer
'n Ruk gelede ry ek 'n bekende roete, soos dikwels tevore. Uit die bloute skiet die vraag my te binne: "Waar is jy nou?" Vir 'n oomblik kry ek die vreemde gewaarwording dat ek wel fisies bestuur, maar in my gedagtes was ek totaal afwesig, besig om nóg 'n vergadering te reël, nóg 'n agenda op te stel,  wééreens te dink aan alles wat gedoen moet word ... Dalk ken jy ook dié onbewustelike voortjaag van een afspraak na 'n ander, een verantwoordelikheid na 'n volgende? 
Ons vol programme laat ons dikwels voel ons óórleef net eerder as om voluit te lééf! Ons gejaagde lewens het die suigkrag om ons energie te tap, ons vreugde te steel en ons te laat vergeet: die enigste tyd om bewustelik en met genot te leef is nóú! Daarom herinner die Bybel ons aan die belang van vandag en van nóú (vgl Ps 95:7b; Heb 4:7b; Kol 4:5b).
Die Vader skenk daagliks die genade van elke minuut. Kom ons waardeer die gawe van die lewe, kom ons leef bewústelik en geniet die NOU!
* * *
Strydom is sedert 1989 predikant in Gordonsbaai saam met kollega Jannie le Roux. Hy is ook die voorsitter van die Diensgroep Gemeentebegeleiding. Kontak hom by jsbruwer@isales.co.za.

"Op vaste fondamente het God sy kerk gebou ...
Hy lê die steen, Hy is die Rots, sy fondament is vas ... Hy is God ... "
(Flam 66)
Luister gerus hier, met dank aan Neil Büchner & Helmut Meijer.
Vriendelike groete.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za