Lees deur internet, klik hier >>
22 Oktober 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Boodskap van die moderatuur
Die moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland het met leedwese en diep hartseer kennis geneem van die moord op ds. Liezel de Jager van die NG Gemeente Suidkus in Natal.
Die moderatuur treur saam met die gemeente, vriende en familie van ds. De Jager oor die onsinnige en tragiese gebeure; en wil in die besonder ons medelye met haar man Werner en twee dogters uitspreek. Woorde ontbreek.
Die moderatuur skaar ons volledig by die Thursdays in Black-veldtog en hoop en droom en wil meewerk aan 'n wêreld waarin enige geweld, van watter aard ook al, teenoor vroue, kinders en enige ander kwesbare persone in ons samelewing, gepleeg word.
Die moderatuur is gekant teen enige vorm van geweld teen vroue – wat insluit fisiese geweld, taalgeweld, afbrekende en seksistiese grappe, seksuele teistering, asook kuberboeliegedrag (soos op sosiale media).
Ons gaan binnekort die tyd van 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders binne, en ons weet dat president Ramaphosa die realiteit van 'n pandemie van gendergebaseerde geweld reeds belig het.
Mag elkeen van ons ons beywer vir 'n wêreld waarin vroue kan floreer, in die wete dat hulle veilig en geliefd is.
Foto: Anena Burger
Daar is 'n oplossing vir haweloses - in die kerk!
Kaapstad word tans gekonfronteer met 'n reuse-uitdaging van haweloosheid. Dit is egter nie net die Moederstad wat hierdie uitdaging ervaar nie, maar ook talle ander dorpe in ons streek. Die vraag is: waar lê die oplossing? In Kaapstad alleen word daar ‘n heenkome vir meer as 10 000 mense gesoek (dit sluit algemene behuisingsnood uit).
Nuwe navorsing wys daarop dat kerke uitstekend geposisioneer is om die probleem aan te spreek. Klein groepe mense, waar gemeenskapslewe versterk kan word, waardes gevestig kan word en nuwe integrering by die samelewing kan plaasvind is die ideaal. Ongebruikte geboue by kerke kan baie goed hiervoor aangewend word en die goeie nuus is dat fondse hiervoor heel moontlik beskikbaar is. Geen finansiële las word dan op gemeentes geplaas nie. Daar is ook bepaalde “exit”-strategieë in plek wat verseker dat dit eintlik net ‘n oornagfasiliteit is. Die krisis wat destyds in die Metodiste Kerk in Kaapstad ontstaan het, word so vermy.  
Die Sentrum vir Publieke Getuienis is tans in gesprek met ander kerke, NRO’s en Stad Kaapstad oor moontlike modelle wat kan werk. 'n Werkswinkel vir gemeentes word ook vir 9 November beplan. Lees 'n insiggewende artikel oor navorsing oor hierdie uitdaging hier
HVT maak 'n verskil
Khulasande Sports Development (KSD) is nog 'n projek wat die Hoop en Versoening Trust kon help danksy 'n donasie van R100 000 wat hulle vanaf Marina Sea Salt hierdie jaar ontvang het. KSD is 'n organisasie sonder winsbejag wat gestig is met die visie om jong atlete uit voorheen benadeelde gemeenskappe te ontwikkel deur middel van sport. Hulle fokus nie net op die atletiese aspek van die kinders se ontwikkeling nie, maar lê ook sterk klem op akademie en die ontwikkeling van lewensvaardighede met behulp van sport. 
Sedert die trust se skenking, het KSD ook ondersteuning ontvang van Future Life, wat 10kg sakke ontbytpap vir die leerders voorsien het.  Intussen het die atlete hard geoefen ter voorbereiding vir die baan- en veldatletiekseisoen. Hulle het reeds aan twee kompetisies deelgeneem en sal die NRO by drie ander byeenkomste hierdie maand verteenwoordig. Klik hier vir die volle storie en meer foto's. 
EKOLOGIE
Die COP26-byeenkoms is van lewensbelang
Die afgelope tyd is daar baie nuus oor die Congress of the Parties of kortweg COP se 26ste byeenkoms. Dit vind vanjaar plaas vanaf 31 Oktober tot 12 November in Glasgow, Skotland. Baie mense is van mening dat hierdie een van die belangrikste byeenkomste ooit ten opsigte van ons geveg teen klimaatsverandering kan wees. Dit sal ook een van die laaste geleenthede wees wat die mensdom nog het om konkrete stappe te neem om aardverwarming drasties te help verminder. Maar wat is COP? Kyk asseblief na die video hieronder.
Jou Eko-kalender vir 2022 is hier!
Maak seker dat jou gemeente volgende jaar by al hierdie opwindende wêreldwye ekologie-projekte inskakel, of begin sommer jul eie inisiatief om van jou omgewing en die hele wêreld ’n beter plek te maak.
Dankie aan ons op-en-wakker Groenspan wat hierdie kalender aan ons beskikbaar gestel het. 

GEMEENTENUUS
Klassieke klanke met Helderberg Uitreik
Classical Sounds bied 'n gratis buitelugvertoning aan op Saterdag 6 November om 12:00 by die Helderberg hospitaal in Somerset-Wes. Die amateur-orkes bestaan uit musikante van regoor die Boland en omgewing en is geaffilieer met Helderberg-gemeente se uitreikaksie.
Toegang tot die vertoning is gratis, maar donasies is welkom. Alle fondse gaan ter ondersteuning van die personeel van die plaaslike hoësorgeenhede en jong opkomende musikante wat finansiële verliese weens COVID ervaar het.
Bring gerus 'n stoel saam en geniet die towerklanke onder leiding van Yolanda Botha.
Ysterplaat se Isibindi-droom
Ysterplaat Gemeenskapskerk se Isibindi Initiative bereik eersdaags nog 'n mylpaal wanneer die eerste gerestoureerde skeepsvraghouer in gebruik geneem word. Na uitgebreide opknapping gaan dit binnekort die woonplek word vir behoeftige kinders uit die omgewing.
Hulle benodig egter nog skenkings of donasies van huishoudelike items, veral vir die slaapkamers.
Stuur asseblief vir Scherlize 'n e-pos na scherlize@isibindi.org.za vir 'n lys van items. Ondersteun ook hulle fondsinsameling met Deon Meiring op 24 Oktober by die Ysterplaat gemeenskapsentrum.
Paarlberg en vriende maak skoon!
Op Saterdag 16 Oktober het ’n hele rits lidmate van Paarlberg-gemeente saamgespan met die gemeenskap om ’n stuk grond teen die Bergrivier skoon te maak. Die vrywilligers het gesinne met opgewonde kinders tot selfs ’n 84-jarige ingesluit, wat almal saamgewerk het om binne twee ure 47 sakke vullis op te tel en te laat wegneem! Die atmosfeer was heerlik en mense kon tussen die werk deur opvang en ’n geselsie inkry. Kinders het elke nou en dan opgewonde uitgeroep oor interessante vondse wat gemaak is.
Die skoonmaak van die Bergrivier is ’n projek wat deur die gemeente se getuienisbediening geïnisieer is tydens die bediening se kwartaalfokus op ekologie. Die gemeente hoop om die projek elke maand aan te pak en saam met die gemeenskap en vriende van die Bergrivier eienaarskap te neem van hierdie area in die dorp.
"Ons glo dit is deel van ons getuienis as Christene en dissipels om ook om te sien na die omgewing en om plaaslik te begin en klein verskille te maak. Ons hoop dat die projek sal groei en dat ons op hierdie manier ook ’n verskil in die Koninkryk kan maak, terwyl ons ook gemeenskap met mekaar ervaar!"
The Anchor of my soul musiekvideo is hier!
Clement Martin van Vredelust Gemeente laat weet dat Vredelust Worship se langverwagte 'The Anchor of my soul' musiekvideo Sondag 17 Oktober vrygestel is. "Die video is baie treffend en beeld uit hoe hopeloosheid oorwin kan en sal word. Dit was lekker om saam met Danie Nel van Danie Nel Photography te werk om hierdie video lewe te gee.
Kyk die video onder en share gerus. Ons glo dit gaan vir baie mense nuwe hoop gee in 'n tyd wat hopeloos lyk."
Welgemoed woeker
Welgemoed-gemeente het onlangs Seniorsondag gevier en die gasvryheidsbediening het geskenkpakkies by seniors gaan uitdeel, aangesien hulle nog nie die tradisionele seniortee kon aanbied nie. Die kategete het ook ingespring en bederfpakkies met tuisgebakte koekies by Huis Martina gaan aflewer.
Stellenbosch-Noord word dienssentrum
Dis reeds 'n geruime tyd die kerkraad van Stellenbosch-Noord se ideaal dat hulle fasiliteite 'n soort dienssentrum vir die gemeenskap moet wees. Lambert Jacobs laat weet: "Met al die gepaardgaande slegte ervarings van COVID-19 het hierdie tyd dit tog moontlik gemaak. Terwyl die meeste ander kerkgeboue die afgelope jaar toe gestaan het, was dit regdeur die inperking woelig op Noord se kerkterrein. Die dorp se COVID-19-toetssentrum is daar, waar daar sewe dae per week honderde mense getoets is, sowel as die bloedskenksentrum, waar noodsaaklike bloed in hierdie tyd ontvang is. Voeg daarby dat die naasliggende Spescare en Jonkersview mediese fasiliteite parkeerplekke by die kerk huur, en die ideaal van 'n "go to"-adres op Stellenbosch is verwesenlik."
Hartenbos vier Tuinedag
Jurg Zietsman van Hartenbos-gemeente en sy kategeteklas het spekboompies op die kerkterrein geplant om Tuinedag te vier.

Die spekboom (Portulacaria Afra) is inheems aan die Oos-Kaap en word deur baie as 'n wonderplant beskou. Die blare is eetbaar en kan selfs in slaaie gebruik word. Baie gemeenskappe glo in die medisinale waarde van die plant en gebruik die sap om onder andere brandplekke en blase te behandel. 'n Hektaar spekbome kan ook tussen vier en tien ton koolstofdioksied absorbeer, wat dit 'n belangrike wapen in die geveg teen klimaatsverandering maak.
PREDIKANTENUUS
Adam Johannes (Johan) Jacobs:
09.04.1955 - 17.10.2021
Ons het met hartseer kennis geneem van die afsterwe van ds. Johan Jacobs. Hy was vir 33 jaar verbonde aan die NG Gemeente Aurora. Na sy aftrede in 2017 het hy en sy vrou hulle in Lambertsbaai gevestig. Sy gedenkdiens het Woensdag uit die NG Gemeente Lambertsbaai plaasgevind.

Ons innige simpatie gaan aan sy vrou Suzette, hulle kinders en die gemeenskappe van Aurora en Lambertsbaai.

Daniel Pieter (Daan) Wium:
15.07.1949 - 16.10.2021
Ons het met leedwese gehoor dat ds. Daan Wium die naweek oorlede is. Ds. Daan was eers betrokke by Koringberg en daarna by Moorreesburg van 1991 tot en met sy aftrede in 2016. Sy gedenkdiens is Donderdag by die NG Gemeente Moorreesburg gehou.
Ons medelye aan sy vrou Hannalie, hulle kinders en kleinkinders en die gemeenskap van Moorreesberg en Ceres, waar hulle na hulle aftrede gewoon het.
TOERUSTINGSGELEENTHEDE
 Klik op die grafika om meer inligting en skakels vir registrasie te kry.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Klik op die grafika om die vakatures te besigtig. 
Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Lees hier van MES se werksaamhede.
Lees meer oor Badisa se ondersteuning van Maatskaplike Ontwikkelingsmaand.
PUBLIKASIES
Boekbespreking
Jy word vriendelik uitgenooi om deel te neem aan die boekbespreking van George Hunsinger se The Eucharist and Ecumenism: Let us Keep the Feast. Die aanlynsessies vind op 26 Oktober, 2 November, 9 November en 16 November om 14:00 plaas. Sprekers sluit Martin Laubscher, Jacobus de Bruyn en Dieter de Bruin in. 
Kyk gerus na die onderstaande agtergrondvideo rondom die tema. Registreer by hierdie skakel.  
Oktober in CLF se boekklub
Lede van die CLF Boekklub kry 50% korting op een boek per maand. Daar is ook talle ander spesiale aanbiedinge. Teken hier in en kyk wat in Oktober op die boekrak is.
Onthou om jou boekklub-rekeningnommer te gebruik vir bestellings. Stuur 'n e-pos na order@clf.co.za of besoek hulle aanlynwinkel.

ALGEMEEN
Raakgelees: Indië se musikale motors
Indië het vir ons joga, skaak, die konsep van nul, geheuestafies en knope uitgedink en nou wil die land se minister van vervoer, Nitin Gadkari, nog ‘n item by hierdie lys voeg: musikale toeters. “Ek ondersoek tans en beplan binnekort om 'n wet te maak dat toeters van alle voertuie vervang moet word met die klanke van Indiese musiekinstrumente sodat dit aangenaam is om te hoor,” het Gadkari onlangs aan plaaslike media gesê.
Hierdie veldtog is ‘n poging om die geraasbesoedeling in Indië te verminder. Die land se groeiende bevolking, toename in die hoeveelheid voertuie op die pad en verkeersknope is van die hoofredes waarom Indië een van die wêreldleiers is van klankbesoedeling. Gadkari hoop dat toeters met die salige geluide van die sitar, fluit, tabla en viool hierdie kwessie sal aanspreek. Hy vertel verder dat hy die irriterende sirenes van ambulanse en polisievoertuie wil vervang met strelende deuntjies.
Klik op die video onder om te hoor hoe so musikale toeter klink. 
Kateder vir Andrew Murray
Die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington is op soek na 'n kateder vir die Jubeleum-saal. Indien daar dalk 'n ongebruikte een by jou gemeente staan, laat weet asseblief vir Adrienne Bester by bestera@kaapkerk.co.za.
KUIERKANSE
Klik bo vir meer inligting.
TEN LAASTE
Ons is weereens die afgelope paar weke in die nuusmedia oorval deur berigte van geweld teenoor vroue en kinders. Die moderatuur doen in hierdie nuusbrief 'n oproep om die #ThursdaysinBlack-veldtog te ondersteun.
Die veldtog dateer terug na die 1970s in Argentinië
toe groepe soos Mothers of the Disappeared swart begin dra het om stil protes aan te teken teen die verdwyning van talle meisies en vroue. Deur die jare het etlike organisasies, insluitend die Wêreldraad van Kerke hulle by die veldtog geskaar.
Hoe kan jy die veldtog ondersteun? Dra elke Donderdag swart klere of 'n swart serp. Bestel lapelknopies hier en dra dit elke Donderdag - moedig jou familie, vriende,kollegas en lidmate aan om dit ook te doen. Ondersteun die veldtog deur die petisie hier te onderteken en ook meer oor die ontstaan van die veldtog te lees.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.