Die klippies wat rinkel
'n Bydrae van 'n sinodeganger wat die sitting vir die eerste keer bygewoon het.
"Die massa gelowiges by die sinodesitting vang my onkant. Ek het altyd gehoor dat daar baie mense bywoon, maar dit is die eerste keer dat ek soveel leraars, kerkraad en ander kerkwerkers bymekaar ervaar. Dit sal baie mense in Suid-Afrika hoop gee en tog maak sommige momente baie leraars moedeloos, moeg en kwaad (maar net soos wat dit soms in die kerk ook gaan).
Die ordelike, goed georganiseerde program kry vir my ’n lekker kinkel wanneer ek hoor hoe daar geswem word. Toe ek net in die kerk begin werk het, was daar ’n spotprent in Die Burger. Die prentjie het krities uitgebeeld hoe die leraars “ten duurste” op die “supertube” gly. Die prentjie het nie gewys hoe leraars, vir net een week, sorgeloos met mede-gelowige maats speel nie - hul begrafnisdienste en moeilike beradingsgesprekke vir een oomblik vergete.
Die sitting gee ’n goeie ritme vir die kerk om te evalueer, te besin, te beplan en dinge te probeer.
Dit help kollegas om mekaar weer te sien, weer te vind, reg te maak wat voorheen verbrou was. Dit bied ‘n ruimte om verhoudings te bou. Dit help die kleiner gemeentes om te weet hulle behoort en dat hulle steeds ’n plek het.
Die geskarrel by die sinode is opmerklik – soveel agtergrondwerkers wat met erns rondhardloop en honderde take uitvoer. Elkeen van hulle moet ’n medalje kry.
Wanneer die massa saamsing, hoor en ervaar jy die sinodetema – Christus, ons vreugde! Die oorgawe van sommiges is aansteeklik. Die spiritualiteitsessie dring jou om met begrip en begeleiding vir mekaar te bid.
By die sinodesitting word jy opnuut gekonfronteer met jou roeping – dit is ’n plek waar jy moet evalueer en voor God gaan staan. Is jou standvastigheid in Hom of probeer jy dit in jouself en mense/omstandighede rondom jou vind?
Die uitstaanmoment is die geluid van klippies wat in die metaalbak rinkel ... die klippie verteenwoordig ons vrese wat aan God oorgegee word. Die vrees maak plek vir die weg, waarheid en die lewe – ’n geluid wat deur ons nagmaalglasies in die kerk ge-eggo word. Daardie klippies wat rinkel, maak saam ’n mooi lied wat ons aan God in vertroue aanbied.
Met dank ontvang van Alida Vorster, Durbanville-Bergsig.