Met nét 41 dae na die einde van 2019 en besighede wat tans hul jaareind-gesellighede aanbied, besef mens dat daar slegs sowat drie weke effektiewe werkstyd vir 2019 oor is. Die AHi het verlede week n baie effektiewe werkswinkel in George aangebied met die tema: AHi op pad na sy sakemodel vir 2020.
Tydens hierdie geleentheid is daar intensiewe gesprekke gevoer met die gemeenskaps-sakekamers van Pacaltsdorp, Thembalethu, Klein-Karoo Sakekamer asook Klein-Karoo Black Business Chamber. Hierdie sakekamers verteenwoordig opkomende kleinbesighede in hul onderskeie gemeenskappe en is vraagstukke en uitdagings bespreek en doelwitte vir die AHi gestel vir 2020. Professor Frederick Fourie van die Vrystaat Universiteit was behulpsaam met sy navorsing en kundigheid om die AHi te help met sy sakemodel vir 2020. Die volgende vier prioriteite is bepaal vir 2020.
1. Sensus / data opname van opkomende kleinbesighede in ’n spesifieke gemeenskap. Die opname sal gedoen word met die hulp van kundige organisasies en as toetsmodel vir die Wes-Kaap gebruik word. Inligting soos aantal besighede, sektore, ligging van besigheid, aantal werkers indiens, omsette en netto inkomstes sal opgeneem word. Verder sal daar ook gekyk word na spanderingspatrone van huishoudings. Wat word waar aangekoop en hoekom?
2. Ontwikkeling van basiese boekhou opleidingsmateriaal wat gebruik kan word om kleinbesighede by te staan met hul finansiele vaardighede. Navorsing het bewys dat dit die grootste probleem van opkomende kleinbesighede tans is. Hierdie opleiding sal op verskillende metodes aangebied word soos byvoorbeeld n toepassing op n selfoon.
3. Besigheidspersele en fasiliteite sal ook in 2020 aandag geniet deur ontwikkelings-vennootskappe met Munisipaliteite se stadsbeplanners asook plaaslike ekonomiese ontwikkelings-kantore aan te gaan. Wetgewing om besigheid te vergemaklik sal ook aangespreek word.
4. Ontwikkeling en opstel van ’n Sakekamer-handleiding sal ook in 2020 afgehandel word om dit beskikbaar te stel vir bestaande sakekamers asook nuwe sakekamers. (AHi SAKEKAMER SAKEMODEL)
Tydens ons werkswinkel verlede week het die AHi Direksie en algemene bestuur ook vergader om die jaarbeplanning vir 2020 te bespreek wat insluit die 2020 kongres wat in Kaapstad gehou sal word saam met ’n beleggings-konferensie met Stadsraad van Kaapstad. Die beplande datum is einde Oktober 2020. Verder is daar besluit om die AHi webtuiste asook sosiale media platforms meer toeganklik te maak vir AHi Sakekamers asook hul lede. Nuus uit die sakekamers sal ook weekliks deurgegee word in ons weeklike nuusbrief wat insluit sakekamer- aktiwiteite in die Wes-Kaap.
Sodra die jaarbeplanning vir 2020 afgehandel is sal dit aan alle sakekamers en hul lede deurgegee word.
Saam die toekoms in.
AHi groete
Dr Willie Cilliers