Lees deur internet, klik hier >>
2 November 2018
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
Menswaardigheid
Dis die goue draad deur elke berig. En een van ons sinode se fokusareas.
Mag ons fokus op menswaardigheid ons help om anders te leer gee; nuut leer dink oor rampondersteuning; élkeen van ons land se kinders as ons eie te ag, onder andere deur vroeëkindontwikkeling en leesinisiatiewe.
Dalk ontdek ons die menswaardigheid van ons naaste in stilte en nadenke; dalk word dit onderstreep deur die doodgewone welwillendheid en gasvryheid wat ons ontvang én betoon (ook met die Taizé-broers in 2019).
'n Bybelvertaling vir die eerste maal in iemand se eie taal bevestig menswaardigheid; ons opregte gebed vir slagoffers van trauma en brande ook.
Waagmoedige gesprekke oor sensitiewe sake, en veral die versigtige luister na standpunte wat van ons s'n verskil, word deur agting vir die ander se menswaardigheid versterk. Etiese leierskap vra die erkenning van ander se menswaardigheid.
Dit is in ons strewe na omarming en inklusiwiteit van oud en jonk, vrou en man. Dit is deel van die kerk wat ons wil wees. "Ons buig voor die Here. Ons is hier. Ons is sy kerk. Ons is gestuurdes. Aan God al die eer." (Roepingsverklaring, NG Algemene Sinode 2007.)
SINODENUUS
1. Diaconia
Khayelitsha - en 'n nuwe kultuur van gee
Die uitreik na Khayelitsha na die brand verlede naweek was op verskillende vlakke besonders. "Ja, ons kon 357 voorbereide pakkies uitdeel, maar meer as dit, kon ons nadink oor die manier waarop ons gee en wat dit kommunikeer in terme van ons verstaan van die evangeliese opdrag tot naasteliefde," sê Nioma Venter, PSD van die Diensgroep Diaconia, wat die interkerklike uitreik gereël het. "Die hoe ons gee spreek soms baie harder as die dat ons gee.” Kan ons dalk ’n nuwe kultuur van gee vestig? Lees asb. hier verder ...
Deel onderstaande video gerus as getuienis van God se werk deur sy kerk.
Khayelitsha omgee-uitreik 27 Oktober 2018
Diaconia - nuut gedink oor rampondersteuning
2. Brande woed ... wat is die rol van plaaslike gemeentes?
Die afgelope twee weke hou ons van oral met groot besorgdheid en meelewing die spoor van brande deur ons sinodale gebied en ook bedreiging in ander rigtings, soos bv. die Oos-Kaap, dop.
Ons is bewus van die brande in Khayelitsha, Vrygrond, Phillipi, Vermaaklikheid, George, Outeniekwa en omstreke. Volgens Netwerk24 het die brandspoor vandeesweek in die Suid-Kaap spesifiek in twee rigtings geloop: deur die Keurboomsrivier suid en die noordelike brandlyn  in die rigting van De Vlught en ook in die rigting van Stormsrivier.
Nugter optrede van die plaaslike gemeente as deel van 'n groter gemeenskap is uiters noodsaaklik. Lees verder ...
3. Spesiale nuus van Nal’ibali en Diaconia!
Vroeëkindontwikkeling is 'n prioriteit vir die NG gemeente in Rawsonville. Luister na die getuienis van twee FUNDAleiers in hierdie klein gemeenskap en hul impak op die kritiese geletterdheid van die jong kindertjies saam met wie hulle lees ... In die onderstaande video getuig WP du Plessis (predikant in die NG Gemeente Goudini): “Dis net wonderlik om te sien hoe die kerk op ’n doodeenvoudig manier, deur net te lees, ’n verskil kan maak in ’n kind se lewe.”
Kontak Righardt le Roux by nalibali@kaapkerk.co.za met navrae oor so 'n leesgroepie in jou gemeenskap.
Video
4.1 Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit vorder fluks
Dit is 'n besondere voorreg om te beleef hoeveel individue en gemeentes die vordering van die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington op die hart dra. Dankie vir diegene wat betrokke raak deur skenkings en inligting van uiteenlopende aard en die bouwerk met soveel belangstelling dophou. Die jongste foto's is hier!
Frederick Marais berig dat hulle besig is om meubels vir die kamers te versamel, stukke wat pas by die historiese aard van die geboue. Familielede van oudstudente van die Sendinginstituut, of selfs diegene met bande met die Murray-familie, kan gerus hieraan oorweging skenk. Kontak Frederick Marais asb.: jfm@sun.ac.za of 083 380 1657. 
Gesoek vir AMSS
Donkiebos-uitsig
4.2 Andrew Murray Spiritualiteitsentrum
Ruimtes vir stille nadenke en gebed

Waar het Andrew Murray God se teenwoordigheid opgesoek? As ons in stilte langs hom sou kon staan op die breë stoep van sy destydse pastorie, Clairvaux, of saam met hom deur die Donkiebos wandel, word dít gebed.

Die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit herskep hierdie binne- en buiteruimtes vir ons hedendaagse pelgrims. Net meer as 100 jaar ná Andrew Murray se dood in 1917, sal besoekers God se teenwoordigheid kan opsoek onder die veranda of in die koel-stilte van die Donkiebos.
Isabel Murray, argiefbeampte, skryf ...
Dankie
5. Argieftaakspan byeen
Die Sinodale Taakspan Argief het op 29 Oktober 2018 op Stellenbosch vergader. Die doel van die taakspan is om om te sien na die werksaamhede van die Kerkargief. Tydens die vergadering is veral aandag gegee aan die onderskeie projekte waarmee die argief besig is. Hieronder is die verdere ontsluiting van die Andrew Murray-privaatversameling, die digitisering van die foto’s uit die sendingvelde en die opteken van gemeentegeskiedenisse en gepaardgaande foto’s van kerkgeboue en predikante. Aandag is ook veral geskenk aan 'n insamelingsbeleid vir die Kerkargief.
Op die foto onder is v.l.n.r. Bossie Minnaar (saakgelastigde), Andrew Kok (bestuurder van die Kerkargief), Albé Theunissen (voorsitter), Retief Müller en Johan de Villiers, taakspanlede. Martin Steyn, die ander lid van die taakspan, was afwesig.
Taakspan
6. Getuienisaksie
6.1 Gemeentegetuienis tot diens van gemeentes
Stephen Pedro, bestuurder van die Taakspan vir Gemeentegetuienis, het die afgelope naweek, op uitnodiging van die VGK George se kerkraad, 'n werkswinkel gefasiliteer ter voorbereiding van 'n beroepingsproses. Lees meer hier. Op die foto onder is die kerkraad wat die werkswinkel bygewoon het. Dankie, Stephen!
Kerkraad
Vertaalspan
6.2 Die Makhua Shirima-Bybelvertaling flink op pad na wenpaal!
Op 19 September 2018, na 19 jaar se harde werk en toegewyde deursettingsvermoë, bereik die Makhua Shirima Bybelvertalings-projek in Noord-Mosambiek by Muapula 'n hoogtepunt. 
Gerard Olivier is die vertalings-koördineerder en saam met sy span vertalers is die laaste vers van Maleagi in Shirima vertaal.  Daar lê nog 'n lang pad van afronding en integrasie voor, maar die wenpaal is in sig. Lees meer hier. Agter op die foto staan Gerard Olivier en voor v.l.n.r. Lodriques Daniel Paulino en Bernardo Manuel Dinala, die eerste kontrolegroep, en Raimundo Luis Nande en Domingos Manuel Assibo, die vertaalspan.
7. Vrystaatse kollegas deel welwillendheid in Kaap
Dit was vandeesweek 'n lekker voorreg om vier kollegas van die Vrystaatse sinode op Stellenbosch te verwelkom. Hulle het 'n besoek by ons Kerkargief afgelê, met die amptenare oor die pensioenfonds gesels en ook 'n sessie oor die kerk se databasis ingepas. Hier het o.a. Bossie Minnaar (saakgelastigde), Kenny Raats (menslike hulpbronbestuurder) en Andrew Kok (argiefbestuurder) hulle vriendelik ontvang.
Op die onderstaande foto is Johan Coertzen, Tertius Botha, Leon Foot en Adriaan de Ruiter in die Kerkargief. Baie seën op julle werk in die Vrystaat toegebid.
Vrystaat kollegas op besoek aan Stellenbosch
8. Sentrum vir Publieke Getuienis
Waagmoedige Gesprekke Porterville 
'n Aantal gemeenskapsleiers, wat ook raadslede van die Bergrivier Munisipaliteit ingesluit het, het verlede Donderdagaand op Porterville vergader om die toekoms van die dorp te bespreek. Die NG en VG gemeentes het veral inisiatief geneem met die reël van die gesprek. Uit die gesprek het dit duidelik geblyk dat Porterville 'n relatief stabiele gemeenskap is en dat daar baie is om voor dankbaar te wees. Tog sluimer die uitdagings wat soveel van ons gemeenskappe in die gesig staar, ook daar. Vir 'n opsomming van die gesprek, klik hier.
Kontak Braam Hanekom, Sentrum vir Publieke Getuienis, by braam@kaapkerk.co.za.
Waagmoedige gesprek Porterville
Porterville se NG en VG predikante, Albé Theunissen en William Ficks, saam met
Braam Hanekom en verskeie gemeenskapsleiers
Jong Volwasse Leer Gemeenskap by Volmoed byeen September 2018
9. Komaan, dink nuut oor jong volwassenes!
Die JVLG is die Jong Volwasse Leer Gemeenskap wat sedert Oktober 2017 in opdrag van die Sinode van Wes-Kaapland navorsing doen om gemeentes te help met die bediening aan jong volwassenes.
Gemeentes wat graag op 'n nuwe manier wil dink oor jong volwassenes wat buite die kerk is en wil eksperimenteer met nuwe idees vir hierdie bediening, word uitgenooi om deel te raak van die netwerk. Gemeentes sal dan in 2019 begelei word in ‘n proses waarvoor die deelnemende predikante ook VBO-punte verdien. Die eerste byeenkoms is 'n inligting-sessie op Di. 13 November 2018, 10:00 – 13:00 by Communitas in Stellenbosch. Daar is slegs plek vir 15 gemeentes; laat weet dus vir Maryke by die Jeugkantoor (jeug@sun.ac.za of 021 808 9050) as jul wil deelneem. Meer oor die JVLG is hier
Kursusgangers
Die groep kursusgangers wat van 22-24 Oktober die Padlangs Ouerskapkursus by Communitas bygewoon het. Hierdie kursus oor deelnemende, positiewe ouerskap is spesifiek so ingerig dat deelnemers toegerus word om dit ook self te kan aanbied.
V.l.n.r. is Dolf du Plooÿ, Ruan Nieuwenhuizen, Jan van Zyl (aanbieder), Chris Cronjé, Annelet Slazus, Johan Janse van Rensburg, Nico van der Walt, Debbie Minnie, Lounette Engelbrecht, Suzanné de Kock, Jana Dickason en Servaas de Kock.
GEMEENTENUUS
1. D4J en MES span saam - vir méér as sop!
In die Durbanville 4 Jesus-gemeenskap word kragte met MES saamgespan om hawelose persone op 'n volhoubare manier op te help. Etekoepons is o.a. by NG Durbanville of NG Durbanville-Bergsig beskikbaar. Die kort bekendstellingsvideo, waarin Lilly Franks (MES) en Johan Els (NG Durbanville-Bergsig) meer oor hulle doelwitte met die gemeenskaps-kombuis en ander langertermyn volhoubare oplossings deel, is onder.
Durbanville-gemeeskapskombuis in samewerking met MES
Hervormingsfees
2. Wellington-gemeentes vier die Hervormingsfees
Op Sondag 28 Oktober het Wellington Moederkerk die voorreg geniet om saam met VGK Wellington te vier dat God voortdurend besig is om ons in te nooi in sy droom van 'n anderse wêreld.
Jesus se gesprek met die Samaritaanse vrou het hulle uitgedaag om mure en drade plat te slaan en brugbouers te word. Lees gerus ook hulle gebed aan die nagmaalstafel – klik hier. (Met dank aan Leefkerk se Facebook-blad oorgeneem.)
3. NG Gemeente De Aar hou dankfees
Die NG Gemeente De Aar in die Noord-Kaap berig dankbaar oor hulle afgelope dankfees, wat van 26 tot 28 Oktober plaasgevind het.
Onder die feestelikhede die naweek was 'n opvoering, bykans 100 geesdriftige stappers  ten bate van Bybelverspreiding, meer as een gesellige saamkuier en 'n dankdiens, gelei deur brugleraar, Cassie Wait (foto onder). Belangstellendes kan hier lees en meer foto's geniet! 
Cassie Wait
4. NG Gemeente Empangeni vier 75 jaar 
Die NG Gemeente Empangeni het die afgelope naweek hulle 75ste verjaardag gevier. Op die foto onder is huidige en oudleraars, v.l.n.r. Charle Rossouw (NG Empangeni), Hennie van den Heever (NG Dundee), Lambert Jacobs (NG Stellenbosch-Noord en 1991 tot 2000 in Empangeni), Erik Brits (NG Gemeente Sabie) en Stefan Malan (NG Empangeni). Hartlik geluk aan die gemeente met hierdie mylpaal!
Empangeni leraars
Verjaardag
5. Veels geluk, liewe gemeente ...
Ons vier in November graag die volgende gemeentes se verjaardae:
Richmond (November 1843 - help die Kerkargief asb. met die volledige inligting!)
Lutzville (3 November 1937)
Maitland Gemeenskapskerk (4 November 1912)
Prince Alfred's Hamlet (5 November 1954)
Oudtshoorn-Suid (8 November 1954)
Stellenbosch-Sentraal (10 November 1985)
Observatory (11 November 1912)
Vredendal (13 November 1933)
Groot-Brakrivier (14 November 1935)
Suidpunt (Struisbaai) (17 November 1996)
Parke-gemeente (19 November 1979)
Vasco (22 November 1960)
Prins Albert (24 November 1842)
Stellenbosch-Wes (24 November 1952)
Ceresvallei (25 November 1961)
Op-die-Berg (25 November 1961)
Simon van der Stel (Nababeep) (27 November 1974)
De Rust (28 November 1899)
Merweville (29 November 1904)
Volmoed (29 November 1921)
Leeu Gamka (30 November 1954)
Onthou: as daar enige veranderinge aan hierdie inligting gemaak moet word, kontak asb. die Kerkargief by argief@kaapkerk.co.za of 021 882 9923. 
UIT ONS RINGE
Die Ring van Caledon: suidelike skribadag soos min!
Op Woensdag 24 Oktober het die Ring van Caledon (Bredasdorp, Caledon, Caledon-Wes, Gansbaai, Grabouw, Greyton, Hermanus, Kleinmond, Napier, Onrusrivier, Riviersonderend, Stanford, Suidpunt, Villiersdorp) 'n welverdiende skribadag by die NG Gemeente Suidpunt (Struisbaai/L'Agulhas) geniet.
Hulle het onder andere die mees suidelike punt van Afrika besoek. Dankie vir die lekker nuus waarin ons kan deel - en dankie aan elke skriba wat stil-stil die spil is waarom die gemeente se werk draai! Ons gun julle elkeen só 'n bederfdag!
Skribas
Ida, Erin, Leona, Margaret, Elna, Elmarie, Hesma, Gerald, Daleen, Ninnie,
Elizna, Wilna, Eljoh en  Emmerentia van Cape Nature 
PREDIKANTENUUS
Jana Dickason afskeid
GEBEDSVERSOEKE
Gebedsversoeke
ALGEMEEN
1. Fakulteit Teologie, US
Festschrift vir prof. Elna Mouton oorhandig
'n Festschrift met die titel Reading Writing Right: Essays presented in honour of Prof Elna Mouton is op Donderdagmiddag 18 Oktober 2018 aan haar oorhandig. Die oorhandigings-geleentheid het by Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch, plaasgevind en is hoofsaaklik deur die mede-outeurs en skenkers bygewoon. Prof. Mouton het einde 2017 as professor in Nuwe Testament studies by Universiteit Stellenbosch afgetree. Lees meer.
Proff Punt, Koopman, Mouton, Nel
Proff. Jeremy Punt, Nico Koopman, Elna Mouton, Marius Nel
2. Taizé: Pilgrimage of Trust in Cape Town 2019
Br Alois Löser is the Prior of the ecumenical community of Taizé in France. Next year he will visit South Africa, where Community will host a gathering called "The Pilgrimage of Trust on Earth". Some brothers are already living in Cape Town, preparing for the meeting which will attract thousands of young people from across the world. Br Alois was in Rome for the Synod of Bishops on Young People. He spoke to Russell Pollitt SJ about South Africa and his hopes for the Cape Town meeting - click on the video. Contact Anriëtte de Ridder (Youth Ministry) at jeug@sun.ac.za or 021 808 9050  and read more on the Taizé Facebook page.
Logo
3. Badisa: Huis Izak van Tonder
Badisa se Huis Izak van Tonder in Ladismith is 'n bekostigbare tehuis vir bejaardes in 'n veilige omgewing en lewer 'n uitstekende diens. Hier is tans plek beskikbaar:
♦ Woonstelle/kamers vir onafhanklike persone - met dienste soos benodig
♦ Kamers vir diegene wat ondersteuning benodig - met sekere dienste
♦ Siekeboeg met volledige dienste
Kontak gerus vir Francois Nel by 028 551 1075 of bestuurivt@telkomsa.net  vir persoonlike aandag of skryf aan hom: Posbus 150, Ladismith, Wes-Kaap 6655.
4. Kommunikasie deur sosiale media ... 
Netwerke en getuienis oor grense 

Die wêreld van sosiale media verander daagliks en die platforms wat gebruikers vandag gebruik, is môre reeds ou nuus. Terwyl so baie lidmate hul opinies graag op sosiale media deel, kan die kerk eintlik beswaarlik daarvan wegkom om kennis te neem van hierdie deel van mense se lewens en ruimte vir gesprek. 
Twitter is 'n unieke manier om inligting vinnig en kripties te deel, dit help die gebruiker om met ander mense kontak te maak, waardevolle netwerke op te bou en na uiteenlopende menings te luister.  
Kan 'n boodskap met net sowat 280 karakters 'n verskil maak? As jou gemeente se boodskap netjies verpak word en deur foto's 'n eerlike blik op julle werk en getuienis bied, word dit dalk net raakgesien en veel wyer (sien onder oor verlede week se VrydagNuus as voorbeeld) uitgedra! Deel julle veldtog, vertel iets van julle verhaal - oorweeg gerus om weer met nuwe oë na Twitter (en sosiale media) te kyk.
WCC's tweet about VrydagNuus
Twitter notifications
Kerkdeur
5. Raakgelees 
5.1 Kom in, die kerk is oop

Hoewel kritiek op die kerk van 30 jaar gelede van belang is, het daardie kritiek meestal nie meer vandag betrekking nie, skryf Nelis Janse van Rensburg in Rapport van 21 Oktober. “Ons is ook ’n diverse kerk met baie gestaltes. Ons koester deesdae ons diversiteit terwyl ons vashou aan ons kernidentiteit. Die nuwe benadering het op elke vlak van die kerklike lewe inslag gevind. Ek getuig graag daarvan, want God het ons op wonderlike paaie geneem.” Lees hier verder oor die ingrypende veranderinge in die kerk.
5.2 Oor etiese leierskap nagedink
"In die afgelope tyd is die NG Kerk deur baie beskuldig van onetiese leierskap. Hieroor dink Nelis na in sy jongste bydrae vir Kerkbode: "Die kerk sal op 'n positiewe manier die wantroue in hom moet aanpak. Dan is die vraag: Wat maak dat mense of 'n groep of 'n kerk vertrouenswaardig is? Die antwoord lê myns insiens in sterk etiese leierskap. Etiese leiers is immers mense wat ruimtes skep waarbinne mense veilig voel om kritiek te lewer en vrae te vra en aan te dring op antwoorde wat sin maak. Lees meer.
5.3 Women's inclusion called a "duty of justice"
"A worldwide gathering of hundreds of the Catholic Church's prelates ended October 27 with the issuing of some of the global institution's strongest language yet for the inclusion of women in its all-male decision-making structures, calling the matter a 'duty of justice' that requires a 'courageous cultural conversion.' 
This Synod of Bishops, the Synod on the Youth 2018, included about 30 young people and participants have said the discussions were notable for their open and diverse nature, including conversations about a wide range of topics."
The full article, with thanks to the National Catholic Reporter, is here
Walking together
Missie Japan-logo
5.4 Oud én jonk ... behoorlike nadenke vir kerk nodig
"Die gemiddelde ouderdom van lidmate is hoog. Jonger generasies se betrokkenheid word bemoeilik deur oorvol programme, en min ruimte en genade vir dié wat nie goed genoeg presteer nie. Tyd vir rus en ontspan is skaars ..." Klink dit bekend? 
Aan die woord is Stéphan van der Watt van Missie Japan, wat in sy jongste nuusbrief vertel oor die "supersnel-verouderende" bevolking van Japan wat die kerk ook swaar tref. Eweneens is "die fokus op jongmense en kinders net so ontsettend belangrik vir die kerk van môre in hierdie uitdagende konteks," voeg hy by. Lees hier en bid asb. saam met hulle vir oud en jonk, maar veral ook vir Elmar en Nadine du Rand, sendelingkandidate ...
Padpredikant
PADPREDIKANT
Maandelikse nadenke
Padpredikant wil perspektief gee oor ons pad as geloofsmense onderweg om God beter te ken en volg. Hierdie maand deel ons vir oulaas Hannes Burger se gedagtes in die voorlaaste aflewering.
Padpredikant is 'n sinoniem vir 'n padteken. Soms wys dit die pad, soms dui dit 'n heel nuwe perspektief aan. Mag hierdie bydraes 'n klein kolletjie lig op jou pad skyn ...
Genade
Blootgestel en vry!
Vreemd hoe die Here party keer goed oor jou pad stuur wat jou net verwonderd nuut laat kyk na die ou waarhede waarmee jy al jou hele bediening lank kom, en waaraan jy so maklik langs die pad gewoond kon raak. En hoe Hy party keer dalk selfs 'n ernstige verleentheid gebruik om dit weer by jou tuis te bring ... Lees verder.
Hannes Burger
Oor die skrywer
Vir diegene wat Hannes Burger, hierdie maand se skrywer, nie ken nie:
Hannes was voorheen predikant in die NG Gemeente Mosselbaai-Suid en is sedert 1992 predikant in die NG Gemeente Kuilsrivier-De Eike. Hy skilder en skets graag, en daar het reeds etlike geestelike boeke uit sy pen verskyn. 'n Trotser oupa kry jy nie maklik nie! E-pos hom hier.

PUBLIKASIES
1. In die Kerkbode van 2 November ...
- verduidelik Immanuel van Tonder (predikant) waaroor “mindfulness” gaan – en hy vertel wat dit vir hom beteken het toe sy huis onlangs afgebrand het.
- Johan van der Merwe praat oor die lesse wat hy van die ontvangkant af oor siekebesoek geleer het toe hy verlede jaar half-verlam in die hospitaal gelê het nadat hy geopereer is om ’n kwaadaardige kankergewas te verwyder.
- Lees ook hoe ouma Lena se huis buite Stilbaai ’n vangnet vir kinders geword het.
- Cas Wepener skryf oor wat die kerk in dié tyd van die jaar kan leer by “die liturgie
van die mall”
- Daar is ’n berig oor ’n konferensie wat onlangs oor vroeëkindontwikkeling gehou is met die oog daarop om gemeentes te help om daarby betrokke te raak.
- Lees ook oor die sittings van die Oostelike Sinode en Sinode Hoëveld.

Publikasies
2. Splinternuwe Bybel-Media-publikasies
2.1 Woord en Fees

Vir die voorbereiding van eredienste en ontwikkeling van preke, bied Bybel-Media Woord en Fees. Hierdie publikasie is op die kerkjaar gebaseer en strek vanaf Advent 2018 tot Koninkrykstyd 2019. Klik hier vir die skakel.
Lees gerus hier hoe Neels du Plooy, jare lank ten nouste betrokke by die redaksionele versorging en persgereedheid van Woord en Fees, groet.
2.2 Leesrooster vir lidmate 2019
Hierdie boek bevat oordenkings vir lidmate gegrond op die kerkjaar. Lees en leer ken die Bybel oor drie jaar in sy groter omvang. Vir gebruik by stiltetyd, huisgodsdiens en groepbyeenkomste. Klik hier.
Vir meer inligting en bestellings, kontak Bybel-Media Handel by 0860 26 33 42 of bestel@bmedia.co.za. Besoek  die webwerf hier.
BM Jeugfokus publikasies
Partnering with God
4. CLF bied aan: Partnering with God
CLF stel Partnering with God deur Selina Kuchocha, bekend.
Berlisé Louwrens, CLF se bemarkingsbestuurder, skryf hieroor: "Die Bybel is die beste sakeboek, die beste huwelikshandleiding en die beste ouergids.
Die vennootskap met God beklemtoon dat ons as kinders van God sonder verskoning beheer moet neem oor elke aspek van ons lewe en God se invloed in elke sfeer van ons lewe moet uitbrei. As ons in vennootskap met God staan en die Heilige Gees toelaat om ons te lei, sal ons ons grootste potensiaal bereik en vervuld lewe. Jy is God se meesterstuk – dit is nou jóú tyd.

Belangstellendes kan hier klik om te luister na die skrywer se opsomming oor die publikasie. Om te bestel, stuur 'n e-pos na order@clf.co.za of koop dit vir slegs R120 by www.clf.co.za
EKOLOGIE
Heelal
Tradisies van sterrekunde en kontemplasie nodig
Mev. Ferguson, een van die eerste twee dosente aan die skool vir dogters wat dr. Andrew Murray op Wellington begin het en wat later die Hugenote Kollege sou word, het sterrekunde vir haar studente geleer. Dit is dringend nodig dat ons by haar sal leer, want twee dissiplines wat ons kan help om vry te kom van die leuen dat ons in die sentrum van alles is, is ‘n gesonde kennis van die kosmos en ‘n lewe van kontemplasie. Lees meer hier.
BEHOU DIE HUMOR
Humor
KUIERKANS
Kuierkans
VAKATURES
Kerkbode - gedrukte uitgawes
Sinode logo
1. NG Kerk in Suid-Afrika (Sinode van Wes-Kaapland): Kommunikasiebestuurder
Die NG Kerk in Suid-Afrika (Sinode van Wes-Kaapland) nooi hiermee geskikte kandidate uit om aansoek te doen om die pos as kommunikasiebestuurder. Die suksesvolle kandidaat moet die waardes en visie van die Sinode van Wes-Kaapland onderskryf, bemark en kommunikeer. ’n Aanvoeling vir die kerklike omgewing, sowel as ondervinding van die NG Kerkfamilie se strukture sal die aansoek versterk.
Klik hier om meer te lees oor die vereistes van die pos. Aansoeke sluit 8 November om  12:00 en diensaanvaarding is 1 Januarie 2019.

Logo
2. Badisa
Maatskaplike Dienste Wolseley:
maatskaplike werker

Die Beheerraad van Badisa Maatskaplike Dienste, Wolseley, wag aansoeke in vir ’n 8/8ste maatskaplike werker. Belangstellendes kan hier meer lees oor die posvereistes en voordele. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 16 November 2018.
Breda Ludik
TEN LAASTE

Uit die pen van ... Breda Ludik

Ek gaan kerk toe om te detox.
Kom ek verduidelik wat ek bedoel. Die bekende sendingkundige van die 20e eeu, Lesslie Newbigin, het in sy boek The gospel in a pluralist society ’n lys van ses eienskappe neergeskryf wat van die kerk ’n plek sal maak wat die vraagstukke van ons tyd kan aanspreek.
Die heel eerste eienskap wat hy noem, is dat die kerk ’n plek is waar God geprys word. Dit, sê hy, is ’n radikale alternatief vir ’n wêreld waar ons leer om sinies en verdedigend te wees teenoor alles en almal wat ’n impak op ons lewens kan hê. Om die hele tyd met so ’n ingesteldheid te moet leef maak ons siek en negatief. In die kerk kan ons ontspan. In die kerk kan ons ons sinisme en negatiwiteit afskud, want daar het ons te make met Iemand sonder voete van klei. 
Ek gaan kerk toe om te detox!
                                                                 -0-0-0-

Breda Ludik het in Despatch-Eendrag, Upington-Oos en Upington-Blydeville se gemeentes bedien voordat hy in 1987 na Helderberg gemeente in Somerset-Wes gekom het. Hy is tans deel van die span wat die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington oprig. Kontak hom hier.

optelsom
Jesus min my
tel my op
maal my, deel my
tot ek klop
- W.L. van der Merwe

Vriendelike groete
Marieta Visagie en Salomi Steenkamp


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.