Lees deur internet, klik hier >>
28 Mei 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Overberg se eenheidsreis
Op 28 Maart 2021 het 24 gemeentes van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die Verenigende Gereformeerde Kerk in die Verenigende Ring van Caledon ’n nuwe hoofstuk in ons kerkgeskiedenis gemaak, toe die onderskeie ringe hulself verbind het tot hereniging.
Die Herenigde Ring van Caledon (HRC) sal in die toekoms as  eenheid konstitueer en gesamentlike besluite neem vir die pad vorentoe.  Die getuienis vanuit die Ring is dat daar ’n wedersydse gewilligheid in die Ringsgebied heers waaroor hulle feesvierend verheug is.
In ’n brief aan gemeentes word daar gemeld dat dit nie beteken dat eenheid tussen gemeentes outomaties sal realiseer nie, maar dat dit afhanklik is van die plaaslike gemeentes om hierin inisiatief te neem. “Alhoewel ons dit op grond van ons belydenis en koninkryksvisie sterk aanmoedig, is elke gemeente outonoom en verantwoordelik om met geestelike onderskeiding die uitdagings aan te durf.”
Donald Gantana (foto links onder) van Grabouw is as voorsitter van die Herenigde Ring van Caledon verkies en noem dat hierdie reis lank reeds aan die gang is. Hy identifiseer betekenisvolle momente soos die gesamentlike Ringsittings by Mizpah in Greyton in 2005 en Riviersonderend in 2008 en die roepingsverklaring wat in 2009 die lig gesien het as belangrike mylpale. 
Hy skryf: “Ek glo dat eenheid, soos geloof, ’n gawe en ’n opdrag is. Die Ring het in 2014 bevestig dat ons uit ’n diep teologiese oortuiging die eenheidspad met mekaar moet bly stap en dit is tydens die 2020-sitting bekragtig as die volgende logiese stap in die lig van die ruimte wat die Tussenorde aan ons bied. Gemeentes en kerkrade is gepols vir hulle reaksies rakende eenwording en die terugvoer was sonder uitsondering positief.”
Op die foto onder regs steek Donald Gantana en Corné Kemp van Hermanus (voormalige medevoorsitter van die Ring) 'n kers aan om die historiese geleentheid te vier.
’n Spesiale sitting van die Herenigde Ring van Caledon word vir Oktober by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit beplan. VrydagNuus sal lesers op datum hou van hierdie sonderlinge gebeurtenis en ander merkwaardige getuienisse en ervarings van Overberg-gemeentes op reis na eenheid.
Ons seënwense vergesel die Herenigde Ring van Caledon.
Stappers voltooi 314 km vir Red 'n Plaas
Die dertien stappers wat die Boesmanland Camino vir die Red 'n Plaas-projek aangepak het, het Saterdag veilig in Garies aangekom. Hierdie projek was 'n inisiatief deur die Sinode van Noord-Kaapland en is deur Diaconia ondersteun.
Garies se predikant Piet Retief (op foto links onder saam met radiopersoonlikheid Amore Bekker) was daar met hulle aankoms en skryf: "Toe die stappers Saterdagmôre Garies instap, kon ’n mens aan hulle liggame sien dat hulle 313.9km op hulle voete het. Hulle het hulle stof en sweet met trots gedra. Hulle lywe was seer en toe hulle eers sit en smul aan ’n lekker wors-roosterkoek, toe kon ’n mens sien dat hulle styf raak - so styf dat nie eens die ritme van die rieldansers hulle lywe aan die dans kon kry nie, al het ’n paar se koppe op die maat van die musiek geknik. Tog, tog was daar ook iets anders.
’n Dankbaarheid. ’n Nederigheid. ’n Hoop. Dieselfde hoop wat daar in ons mense se oë was toe hulle hierdie mense ontmoet en met hulle gesels. Dieselfde hoop wat daar in ons almal se oë geblink het toe ons die vrag lusern en bale aflaai. Dieselfde hoop wat in die vuurvlamme weerkaats het om die braaivleisvuur die aand. En daardie hoop, glo ek, is die Heilige Gees. Daarom was dit vir my baie spesiaal dat ons dit op die vooraand van Pinksterfees kon beleef! Die vuur wat in ons brand en ons saambind.
Namens die mense van die Namakwaland en die Boesmanland, wil ek opreg dankie sê aan elkeen van die stappers, elkeen van die donateurs, elkeen wat gemoeid was met die reëlings en elkeen wat hulle langs die pad bemoedig en ondersteun het - op watter manier ook al.
Bowenal, dankie aan ons Hemelse Vader, wat mense gebruik om mekaar te bemoedig en ondersteun." Lees Piet se volledige storie hier.
Jy kan nogsteeds die projek ondersteun deur 'n donasie aan Diaconia se rampfonds te maak:
Nedbank 1135900337, bankkode 198765. Gebruik jou naam/gemeente + Red 'n Plaas as verwysing.
Die pad vorentoe vir Msinga, KwaZulu-Natal
Op 19 Mei was Kobus Odendaal, bestuurder van Getuienisaksie, op besoek aan die VGK Msinga in Sentraal KwaZulu-Natal. Tydens ‘n vergadering met die kerkleierskap is daar onder andere besin oor die pad vorentoe, veral ten opsigte van die ontwikkeling van grondvlakleierskap en die jeugbediening. Lees hier meer. 
Foto (van links na regs): Lourens Schoeman, Bonginkosi Sithole, Samuel Zuma, Kobus Odendaal en Nkazi Ngcobo.
SA kan 'n paar lesse uit dié konflik leer
Braam Hanekom skryf vandeesweek in Godsdiens Aktueel oor die konflik tussen Israel en Palestina. "Hierdie konflik word die afgelope weke, vir die soveelste keer, intens in die media en deur gelowiges bespreek. Dit wil voorkom asof daar tans geen ander konflik op die planeet is, wat soveel emosie losmaak, soos die een in Israel en Palestina nie. Suid-Afrikaners behoort hieruit ‘n paar lesse oor konflik te leer.
Die eerste les is dat in konflik, ons siening van die werklikheid en waarheid, maklik kan verskraal. In konflik behoort ons wyer te kyk en veral nie eie belang die norm te maak nie. In ‘n land propvol diversiteit behoort ons ons mure laer te maak en ons tafels groter. Nie andersom nie.
'n Tweede les wat ons moet leer, is dat trauma dikwels verdere konflik baar. Afrikaners is verguis tydens die Anglo-Boereoorlog en kyk wat gebeur na 1948. Apartheidslagoffers gaan deur groot lyding en kyk wat doen sommige van hulle vandag. Op die Kaapse Vlakte loop duisende getraumatiseerde kinders rond en kyk hoe het die bendes gegroei. En Israel? Wie kan ooit Dachau en Auschwitz vergeet, maar kyk wat doen Jode vandag met Palestyne. Dit help as ons die trauma agter die konflik verstaan.
Konflik mag nooit vlak gekyk word nie en vrede is duur, maar gelukkig is die vredemakers.
Die volle artikel kan op die Sentrum vir Publieke Getuienis se webblad gelees word.  
BROS - 'n lewe gebou op die vaste Rots
Luister gerus na die laaste podcast in die BROS-reeks wat saamgestel word deur die Taakspan vir Gendergeregtigheid. Hierdie week se podcast met die titel: Water uit Rots word aangebied deur Laurie Gaum.
EKOLOGIE
Biddag vir Ekologie
6 Junie is Biddag vir Ekologie. Dewald Hoffmann van die Groenspan verduidelik in die video hieronder waarom ekologie so belangrik is en gee 'n paar idees hoe die skepping tydens die erediens ingenooi kan word en hoe ons onsself om die skepping kan sentreer. 
COVID-19: geboortepyn tot nuwe lewe?
“Elke ramp wat hierdie aarde tref (LW, nie net rampe wat mense tref nie!) is 'n uitnodiging aan mense om in liefde by die lyding van die ramp betrokke te wees. Dit is 'n uitnodiging om te groei in liefde en om met deernisvolle omgee by alles en almal betrokke te wees wat as gevolg van die ramp ly – op die voorbeeld van Jesus van Nasaret.” So sê ons eko-korrespondent David Botha, ten opsigte van hoe ons oor COVID-19 moet dink as navolgers van Christus. Lees hier meer.
TOERUSTINGSGELEENTHEDE
Mans en hul wonde: ’n Retraite vir mans
Woede, eensaamheid en pyn kom algemeen onder mans voor terwyl hul hunker na geborgenheid en sekuriteit. Dis moeilik om los te kom uit die gevangenskap waarin patriargie en gemeenskapsverwagtinge hul soms laat. Tydens hierdie vyfdagretraite by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington word alternatiewe verken, aansluitend by Cas van Rensburg se gelyknamige boek Mans en hulle wonde.
Laurie Gaum en Lesley Thomas fasiliteer al vir twaalf jaar vir die Imbadu Mansprojek van die Sentrum vir Christelike Spiritualiteit. ‘Imbadu’ is die Xhosa konsep vir mans wat in die kraal sit en mans-sake bespreek.
Om te bespreek, stuur 'n e-pos aan Derine Piek by admin@andrewmurraysentrum.co.za.
Register for Stellenbosch colloquium
The Department of Practical Theology and Missiology at the University of Stellenbosch will be hosting their next student forum and colloquium via MS Teams at 09:00 on Friday 18 June 2021. Kindly RSVP to Bonita Robyn before Tuesday 15 June if you want to join this online session.
Ministry in a COVID-shaped world
The Calvin Theological Seminary in collaboration with the Calvin Institute of Christian Worship and the Center for Excellence in Preaching is offering courses designed to support ministry leadership amidst the ongoing pandemic. 

These online mini-courses focus on key ministry challenges faced by faith leaders daily. A commitment of about four hours per week for three weeks is required. Click here for course outlines for the three modules and to register. The Forum for Continuous Professional Development will award four points per course or twelve points for the series.
GEMEENTENUUS
Ekologiedag by Fisantekraal
Durbanville Gemeente, in samewerking met Sprouting Minds en Mercy Aids, het die afgelope week ‘n ekologiedag by Fisantekraal Laerskool gehad waar daar vir die kinders meer geleer is van bome en plante en die belangrikheid daarvan.
Hulle vertel in hul nuusbrief dat elke klas 'n groentetuin-boks gekry het en dat die leerders hul eie groente geplant het wat hulle nou self gaan water gee en onderhou. Die groente gaan dan gebruik kan word om die skool se sopkombuis te ondersteun. Die gemeente het ook saam met die leerders bome geplant (foto's onder). 
"Ons het bome (Kareebome) om die skool begin plant sodat daar skaduwee (en bietjie kleur) op die speelgrond kan wees. Elke klas het 'n boom geplant. Ons hoop om nog baie te plant en die skool te omring daarmee."
Donasies vir hierdie projek is meer as welkom! Kontak gerus die kerkkantoor by 0219756370 of direk vir Wynand Breytenbach vir meer inligting. 
Hulp vir egpare
Die gemeente van Parow-Welgelegen bied die onderstaande huweliksverrykingsessie op Woensdag 2 Junie aan. Hulle vind dat daar 'n groot behoefte onder paartjies bestaan en moedig hulle aan om die gratis sessie op Zoom by te woon. Klik hier om in te skakel. 
Aanlynveiligheid vir ons kinders
Die Rooibank Podcast, 'n samewerking tussen NG Kerk Bloubergstrand en Bloubergstrand Maatskaplike Dienste (BMD), gesels weekliks saam oor emosionele, geestelike en fisiese uitdagings wat mense en gesinne in hierdie tye ervaar. In hulle nuutste potgooi praat hulle met 'n skoolhoof van 'n laerskool in die platteland oor hoe ouers hulle kinders se veiligheid op die internet kan verseker. Klik hier om daarna te luister. 
George Blanco vier fees
NG Gemeente Blanco het op 16 Mei hul 70ste bestaansjaar gedenk met 'n spesiale feesdiens waarna almal heerlik saamgeëet het. Die Blanco-gemeente het ontstaan ná afstigting van die Moedergemeente George op 16 Mei 1951.
"Gemeentelede het die geleentheid gekry om elkeen 'n klip te bring en ons het 'n klipstapel gepak tot eer van die Here wat ons tot hiertoe gehelp het, net soos Samuel 'n klip opgerig het by Ebenhaëser in 1 Samuel 7:12," vertel Francois Mulder, een van die gemeenteleraars, aan die George Herald koerant. "Ons het saam teruggekyk in dankbaarheid en vorentoe gekyk in geloof." 
Foto: Cornie Pretorius. Meer foto’s van die feesgeleentheid kan op die George Herald se webblad gesien word en ‘n opname van die Feesdiens is beskikbaar op YouTube.
Baie geluk Blanco-gemeente, mag die Hemelse Vader julle seën met julle diens aan Hom.
#Imagine 2.0
Meeste van ons het al die vraag vir onsself gevra: "Hoekom voel ek so af?" Johan Laten het die tema van depressie met die jeug by Toringkerk bespreek op sy kreatiewe en interaktiewe manier. Lidmate weet nou meer wat depressie behels, hoe hierdie simptome lyk en waar om hulp te vra.
"Ons is dankbaar dat ons hierdie aand met ons #Imagine en Hidden Treasure familie kon deel. Jy is nooit alleen nie. Daar is altyd hoop."
Klik hier om meer foto's van hierdie geleentheid te sien. 
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Koster/Fasiliteitebeampte, Strand
Die gemeente van Suider-Strand bied tans 'n pos aan vir 'n voltydse koster/fasiliteitebeampte. Die aangewese kandidaat se verantwoordelikhede sal die volgende insluit:  kerklike aktiwiteite, administrasie en die beheer van fasiliteite (geboue en infrastruktuur), instandhouding en versorging van en toesig oor geboue en terrein. Klik hier vir profielvereiste, posbeskrywing en meer inligting. Aansoeke sluit 14 Junie.
Musiek-koӧrdineerder, Philadelphia
Die NG Gemeente Philadelphia se kerkraad wag aansoeke in vir die pos van musiek-koӧrdineerder. Die posbekleër sal verantwoordelik wees vir die kreatiewe uitbou en ontwikkeling van die musiek by die erediens en alle ander kerklike byeenkomste waar musiek en begeleiding noodsaaklik is. 
Die geskikte kandidaat is entoesiasties en passievol oor musiek en beskou dit as ’n roeping om die Here deur middel van musiek te bedien, het genoegsame kennis van geestelike musiek- en sangbegeleiding en kan self op die orrel of klavier begelei tydens eredienste. Die speel van ander instrumente sal ‘n bonus wees. Voldoende teoretiese kennis van musiekverwerking en -transponering is ook noodsaaklik. Aansoeke sluit 14 Junie. Kry meer inligting hier.
Hulp maatskaplike werker, Citrusdal 
Badisa Citrusdal vra maatskaplike werkers geregistreer by SACSSP om aansoek te doen vir hierdie betrekking. ‘n Diploma in maatskaplike hulpwerk, 'n geldige rybewys en rekenaarvaardighede (Word, Excel, Powerpoint) word vereis. Aansoeke sluit 28 Mei. Lees die volle posbeskrywing hier
Maatskaplike werker, Citrusdal
Aansoeke van 'n geregistreerde maatskaplike werker met 'n toepaslike tersiêre kwalifikasie word ingewag deur Badisa Citrusdal. Ervaring van die implementering van die Kinderwet, ‘n geldige rybewys en beskikbaarheid om na-ure op skiktyd-basis te werk is vereistes. Afrikaans 1ste taal spreker en vaardigheid in die ander twee amptelike tale van die Wes-Kaap sal ‘n aanbeveling wees. Aansoeke sluit 28 Mei. Klik hier vir meer inligting. 
Administratiewe beampte/boekhouer, Darling 
Huis Groeneweide in Darling is op soek na kandidate met kennis in VIP en Pastel om aansoek te doen vir hierdie pos. Verantwoordelikhede sluit in: gerekenariseerde boekhouding tot proefbalans, finansiële administrasie, salaris administrasie, statutêre opgawes, hantering van trustfondse en opstel van begrotings. Aansoeke sluit 4 Junie. Die volle vakature is hier beskikbaar. 
Administratiewe beampte/boekhouer, Kleinmond
Fynbos Dienssentrum in Kleinmond wag tans aansoeke in vir hierdie betrekking. Die aangewese kandidaat sal regstreeks aan die bestuur verslag doen en moet oor goeie menseverhoudinge en goed ontwikkelde rekenaar- en syferkundige vaardighede beskik. Akkuraatheid en vermoë om teen hoë tempo te funksioneer, tesame met kennis van Pastel en VIP, word vereis. Aansoeke sluit 4 Junie. Lees meer hier.
Geregistreerde verpleegkundige, Riviersonderend
Overberg Tehuis, ‘n program van Badisa in Riversonderend, vra verpleegkundiges wat geregistreer is by SARV om aansoek te doen vir hierdie pos. Die aangewese kandidaat het goeie kennis van bejaardes, die vermoë om binne spanverband te funksioneer en kan goeie menseverhoudinge handhaaf. Aansoeke sluit 15 Junie. Lees meer hier.  
Ontvangs/admin beampte, Parow-Vallei
Die bogenoemde pos is tans by Huis Martina in Parow-Vallei beskikbaar. Aansoekers moet beskik oor uitstekende interpersoonlike en kommunikasievaardighede, ‘n warm en hartlike persoonlikheid en moet goed georganiseerd en selfstandig kan werk. Sluitingsdatum vir aansoeke is 30 Mei. Klik hier vir die volle posbeskrywing en vereistes.

Klik bo vir meer inligting.
NUUSBRIEWE
Klik bo vir CLF se Mei-nuusbrief. 
PUBLIKASIES
Nuwe LiG tydskrif nou beskikbaar
Die Pinksteruitgawe van LiG is tans op die rakke en sal tot 12 Augustus beskikbaar wees. Voorbladvrou Lindie Strydom vertel hoe ritmes vastigheid kan bring.
Stephan Joubert gee raad uit die Woord oor hoe ons behoort te bid. Lees hoe om jou geestesgawes te ontdek, wat jy kan doen om jou kind se humorsin te ontwikkel en hoe om nuut oor begrafnisse te dink. Kyk ook hoe sprankel voormalige Springbokflank Ruben Kruger se twee dogters op die tennisbane.
Nuut op die rak
CLF beskryf hulle nuutste publikasie as tydig en broodnodig. Dít is die ware opdrag van die kerk! vertel die verhaal van die pad wat veral die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika, maar ook die NG Kerk-familie, geloop het om te groei tot ‘n nuwe identiteit en roeping: om missionale kerk te wees.
"JNM Hartney  en sy span medewerkers se boek is ryk aan inhoud met ‘n duidelike profetiese woord vir ons tyd. Dit help die kerk om duideliker te dink oor haar missionale identiteit en roeping vandag."
Klik hier om die boek aanlyn te koop.
ALGEMEEN
Raakgeluister: Knoffelbroodjie
Loané van Sandwyk het in 2018 haar skreeusnaakse komiese liedjie, Knoffelbroodjie, opgeneem (video onder) waarin sy 'n mens se stryd met diëte weerspieël. “My groot passie is om mense te laat lag," vertel Loané aan Netwerk24. “Ek glo die Here gebruik lag om ons nuwe perspektief op die lewe te gee."
Sy het al in 2010 begin om haar eie liedjies te skryf en begelei haarself op die klavier, kitaar, trekklavier en ukulele. Loané het drama aan die Universiteit van die Vrystaat studeer en daarna ‘n honneursgraad in kabaret aan die Universiteit Stellenbosch voltooi.
Volg hiedie liedjieskrywer gerus op Facebook om op hoogte te bly van haar jongste treffers.  
Alta du Toit brei uit
Nadat Weltevrede Akkommodasie hulle deure in Maart gesluit het, is daar  ‘n deeglike analise gedoen van die huidige behoeftes van Alta du Toit Sorgsentrum, wat op dieselfde perseel geleë is. In lyn met Badisa se strategie vir gestremdesorg, is daar besluit dat die fasiliteit aangewend sal word om die uitbreidingsbehoeftes van Alta du Toit Sorgsentrum te akkommodeer.  
Volgens 'n verklaring word ‘n besigheidsooreenkoms tussen die twee sentrums tans ontwikkel om steeds aan ‘n intensie van barmhartigheid in hospitaalbediening te vervul. "Badisa wil graag die beheerraad, bestuurder Nelia Botes asook die personeel bedank vir hul lojale diens deur die jare."
Enige navrae kan per e-pos aan Jan Crafford gerig word. Vir verblyfreëlings tydens mediese afsprake of hospitalisasie, kontak die Hanna Hopkins program by 021 448 7301 of obskerkhuis@gmail.com.
BEHOU DIE HUMOR
KUIERKANS
Worcester-Noord hou inrybasaar
Plaas nou jou bestelling vir Worcester-Noord se inrybasaar op Vrydag 4 Junie. Daar is heerlike pasteie, pannekoek, sop en vetkoek, 'n snoekete, kerrie beespotjie en verskillende poedings op die spyskaart. Kry ook mosbolletjies, vars sampioene, beskuit en kleinkoekies. Bestel voor 31 Mei deur 'n WhatsApp te stuur aan 064 911 5521 of e-pos worcesternoord@gmail.com. Bestellings kan Vrydag tussen 17:00 en 18:00 afgehaal word deur die ingang in Dennelaan te gebruik.
Ondersteun gerus Durbanville-gemeente.
Bestel jou kerrie en rys deur op die grafika te klik.  
TEN LAASTE
Drie-eenheidsondag merk die begin van die Koninkrykstyd, die langste seisoen op die kerkkalender wat strek tot voor Advent. Die verhouding van die drie-enige God word beklemtoon en ons besef dat ons alleen deur die Gees in ons van die Drie-eenheid kan getuig. Luister gerus hier na Stass se weergawe van Heilig is die Heer.
Kunswerk: Albrecht Dürer se Adoration of the Trinity.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.