Wat beteken Vlak 2-regulasies vir gemeentes?
Wat beteken Vlak 2-regulasies vir gemeentes?
Lees deur internet, klik hier >>
17 September 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Vlak 2 - wat beteken dit?
President Cyril Ramaphosa het vandeesweek aangekondig dat Suid-Afrika na Vlak 2-inperkingsregulasies beweeg. Klik hier vir die nuutste Staatskoerant, maar hiermee die belangrikste veranderinge.
  • Die aandklokreël geld van 23:00 saans tot 04:00 soggens. Restaurante moet saans om 22:00 sluit. 
  • Binnenshuise byeenkomste (hetsy godsdienstig, polities, sosiaal of kultureel) is nou oop vir groepe van tot 250 mense. Plekke wat nie 250 mense veilig kan akkommodeer nie, is beperk tot 50% van hulle toegelate kapasiteit.
  • Buitenshuise byeenkomste (hetsy godsdienstig, polities, sosiaal of kultureel – maar nie vir sport of begrafnisse nie) is nou oop vir groepe van tot 500 mense.
  • Alkohol mag verkoop word van Maandag tot Donderdag. Wynplase mag oor naweke wyn verkoop. Restaurante mag wyn bedien tot 22:00.
  • Maskers moet ten alle tye tot oor die neus in die openbaar gedra word. Dit is ’n misdaad om sonder ’n masker in die openbaar te verskyn.
  • Begrafnisse is wettig, maar nagwake voor en byeenkomste na ’n begrafnis bly steeds verbode. Die beperking vir begrafnisse (predikant, koster, orrelis en begrafnisondernemer ingesluit!) is steeds net 50 mense en dit mag ’n maksimum van twee ure duur.
  • Huwelike: Huwelikseremonies en onthale is toelaatbaar.
WCEN jaarvergadering
Menigte kerk- en gemeenskapsleiers het verlede week byeengekom vir die Western Cape Ecumenical Network (WCEN) se jaarvergadering by In Harmonie in Franschhoek. WCEN se missie is om dialoog en aksie te bevorder. Daarom was hulle agenda propvol aktuele onderwerpe wat hulle glo prioriteite en fokusareas vir Suid-Afrika moet wees.
Predikante se geestesgesondheid, die kerk en COVID-19, armoede, opvoeding en die krisis van haweloosheid is in die kollig geplaas. Verder het die gasspreker by die geleentheid se galadinee generaal-majoor Oswald Reddy (die nuutaangestelde Wes-Kaapse polisie ombudsman) gepraat oor die kerk, misdaad en geweld.
Die voorsitter van WCEN, Mbulelo Bikwani, vertel dat die kerk se rol in die breër Suid-Afrikaanse samelewing nie onderskat mag word nie. “Dit is altyd belangrik om te fokus en te besin oor wat die kerk, in wese, is en hoe ons ons kernwese (core being) kan aanpas by ons werkverrigtinge. Ons is nie 'n NRO of 'n groot korporatiewe organisasie nie. Ons is die liggaam van Christus. Ons werk in sy Koninkryk en getuig oor sy waarheid.”
Klik hier vir meer inligting en foto’s van die geleentheid of kyk na die video onder. 
Gemeentegetuienis omarm VGKSA-proponente
Die afgelope naweek het ds. Stephen Pedro (PSD Gemeentegetuienis) en ds. Danny Bock, voorsitter van dié taakspan, die VGKSA Streeksinode Kaapland-proponente wat nog op beroepe wag op 'n werksnaweek na Swellendam geneem. Die doel hiervan was om die proponente te bemoedig en verder te bemagtig. 
Hulle het saam gewandel in die Woord en ook gesels oor hoe 'n gemeente se kultuur verander kan word van 'n na-binne gerigtheid na 'n na-buite of missionale gerigtheid. Omdat dit ook die hooffokus van ds. Pedro se werk is, het hulle ook gesels oor hoe hulle hom in hierdie taak kan bystaan. Die plaaslike VGK- en NGK-predikante het ook kom inloer en daar is ook gesprekke gevoer met van die VGK-ringskribas van die omliggende areas. Lees meer hier.
Foto v.l.n.r.: (Agter) Ds. Stephen Pedro en prop. Msawenkosi Ntshongwana. (Voor) Ds. Danny Bock, mev. Bock, prop. Rachel Linderoth, prop. Bulelwa Potwana, prop. Zolani None en prop. Pieter André Windvogel.
Ontmoet Missie Japan se Van der Watts
Getuienisaksie fasiliteer en bevorder die samewerking tussen gemeentes van die NG Kerkfamilie en susterskerke in die buiteland, wat in vennootskap met mekaar is. Een van hierdie vennootskappe is Missie Japan, gesetel by Vennote in Getuienis by die NG Kerk Vrystaat, maar wat deur heelwat gemeentes binne ons sinode gesteun word. Een van die sendelingspare wat al sedert 2008 daar betrokke is, is Stéphan en Carina van der Watt en hul vier kinders, Annlie (14), Cornelius (12), Lodewyk (10 in November) en Stephan (8 in November) wat tans in Kobe woon. Hulle is tans op besoek in Suid-Afrika en het ook alreeds heelwat gemeentes besoek. Lees meer van hulle en hul werk in Japan hier
Foto v.l.n.r.: (Agter) Annlie en Stéphan. (Voor) Stephan, Carina, Lodewyk en Cornelius.
Vakature vir administratiewe beampte: medies
Die NG Kerk in SA soek ’n bekwame administratiewe beampte wat die vakature in die mediese kantoor by die NG Kerksentrum in Bellville kan vul.  Die mediese kantoor hanteer pensioenarisse, predikante en werknemers van die NG Kerk in SA se mediesefondsaangeleenthede.  Dit behels deeglike aantekening van elkeen se plankeuse ten einde maandeliks die korrekte premie te hef.  Die administratiewe beampte hanteer ook algemene navrae oor die NG Kerk in SA se mediese fonds. Die ideale kandidaat moet dus goed georganiseerd en rekenaarvaardig wees en uitstekende menseverhoudinge kan handhaaf.
Die sluitingsdatum vir aansoeke is Maandag 27 September 2021. Datum van diensaanvaarding:  Maandag 1 November 2021. Besoek die webblad vir meer inligting.
EKOLOGIE
Elke aksie tel om die osoonlaag te red
Donderdag 16 September is die Internasionale Dag vir die Bewaring van die Osoonlaag. Die osoonlaag is 'n natuurlike laag gas in die boonste atmosfeer wat mense en ander lewende dinge teen skadelike ultraviolet (UV)-strale van die son beskerm. Wat kan ons gewone mense daaraan doen? Hoe kan ons die osoonlaag beskerm? 
Wêreld Motorvrye Dag – 22 September
Wêreld Motorvrye Dag wat op 22 September gevier word, moedig ons aan om ons motors minder te gebruik. Dit hou baie voordele in, soos dat die lug minder besoedel word en dat ons kan stap en fietsry in 'n gesonder omgewing. Waarom is dit so belangrik en watter wenke kan jy volg om jou motor minder hoef te gebruik?
Janneke Marais van ons Groenspan deel met ons 'n paar idees hier.
TOERUSTINGSGELEENTHEDE
Click on the image above to view the programme for the Gender Unit Writing Retreat: Writing the Wrongs of the World.
Klik bo vir meer inligting. 
Klik op die grafika vir meer inligting. 
GEMEENTENUUS
Kruiskoffie - waar paaie kruis
Kapenaars is lief vir goeie koffie. Goeie koffie gaan immers gepaard met ‘n uitstekende atmosfeer, smullekker kos en goeie geselskap. As jy op soek is na so ‘n koffiewinkel, hoef jy nie verder as Bellville te kyk nie. Kruiskoffie, ‘n gesellige ruimte omskep uit die gemeente van Bellville-Wes se kerksaal, bied soveel meer as net 'n plek om 'n vinnige koppie boeretroos af te sluk. Dit is ook 'n gemeenskapsruimte waar paaie kruis.
Die droom vir die koffiewinkel het aanvanklik by die predikantspaar Willie en Andra Badenhorst begin, maar hulle is baie gou deur gemeentelede ondersteun. “Weens die COVID-19-pandemie moes gemeentes nuut begin dink oor die bediening en gemeenskap. Ons het gesien dat mense gemakliker is om by ‘n koffiewinkel bymekaar te kom, as by die kerk vir eredienste.” Willie vertel ook dat hy Kruiskoffie met sy bediening integreer het. “Dinsdae is my skof en staan ook bekend as pla jou dominee dag. Lidmate is welkom om my te kom sien en natuurlik is die koffie dan gratis.”   
Die ruimte is ‘n ideale ontmoetingsplek wat ook vir ander gemeentelike aktiwiteite soos omgeegroepe en die jeug se koffiekroeg beskikbaar is. Filterkoffie word ook gratis aangebied Sondae na die erediens. Willie gebruik die koffiewinkel om die gemeente se koninkryksvisie te verbreed. “Kruiskoffie is oop vir almal en ons wil regtig hê dat enigeen die vrymoedigheid sal hê om ‘n koppie koffie by ons te kom geniet. Hier kruis ons paaie met mense oor die hele spektrum en natuurlik ook met die Liewe Here.” 
Kruiskoffie is Dinsdae tot Vrydae oop tussen 08:00 en 17:00 en Saterdae tussen 09:00 en 13:00. Gratis WiFi is vir kliënte beskikbaar en daar is Dinsdae ‘n spesiale promosie vir pensioenarisse. Alles op die spyskaart is ook beskikbaar vir wegneem. Volg hulle gerus op Facebook en Instagram vir meer inligting. 
Vishoek vind inspirasie deur uitreike
Martin Barnard van Vishoek-gemeente laat weet dat 85 lidmate onlangs deelgeneem het aan die Bybelstap ten bate van die Bybelgenootskap. Daar was verskeie roetes om sosiale afstand te handhaaf en ook om vir verskillende fiksheidsvlakke voorsiening te maak. Kyk gerus na die video hier.
Martin vertel ook dis slegs een van talle uitreike en projekte waarby hulle lidmate betrokke is. Lees gerus hier meer oor hulle Kol4'5 inisiatief met die leuse Ons leef wat ons glo, wat steeds sterk aan die gang is. "Hierdie sake het nie te doen met ons gemeentebedieninge nie, maar met dit wat die Here individueel op mense se hart lê. Een nuwe lidmaat getuig dat dit vir haar wonderlik is dat hierdie bedieninge nie deur die kerk of die dominee beheer word nie, maar dat elkeen die vryheid het om te doen wat die Here op sy/haar hart lê. Jy kan net deel en as die Here andere stuur om saam te deel, prys die Here!”
Hartenbos plant bome
Hartenbos-gemeente se getuienisdiensgroep het besluit om die gemeente te mobiliseer om tydens Boomplantweek nuut bewus te raak van die mens se verantwoordelikheid teenoor die skepping.  Johan Engelbrecht laat weet: "Om ‘n boom te plant, is mos een van die mees onselfsugtige dade,  want die vrug daarvan word eintlik eers geniet deur mense wat ná jou kom. Ons het besluit om suurlemoenbome te plant omdat suurlemoenbome nie net die mooiste sonskyngeel vrugte dra nie, maar ook omdat dit die wonderlikste en gesondste vrugte gee! En daarmee wil ons ook die gemeenskap rondom ons dien en nooi om by ons te kom vrugte pluk.  Terselfdertyd herinner dit ons self om vrug te dra in God se Koninkryk.  Die gedagte spruit voort uit THE LEMON TREE PROJECT wat wêreldwyd plaasvind en selfs ook deur sommige van ons eie munisipaliteite ondersteun word.
Ons het ons kleingroepe en kategesegroepe – jip, want die jongmense het baie keer die meeste energie en kreatiwiteit - genooi om elk ‘n boom te kom plant. Wetende dat nie almal sal reageer nie,  was my droom dat ons so 10 bome sal staanmaak. My verwagting is heeltemal oortref toe daar uit al die hoeke van die gemeente uiteindelik 22 boompies geplant is.  Die dag was een groot feesvreugde en ek kan nie wag dat daardie eerste geelvreugde-vrugte hulle verskyning maak nie."  
Mimmie Butler, Sita Rootman en Jean Rossouw (foto links) en klein Christiaan Fourie (regs) was onder die ywerige boomplanters.
Merweville hou wynveiling
Die gemeente van Merweville is geknel deur COVID, maar gaan ook reeds agt jaar gebuk onder ernstige droogte. Om hulle fondsinsamelingsinisiatiewe 'n hupstoot te gee, hou die gemeente vandeesmaand 'n virtuele wynveiling hou.
Die proses is heel eenvoudig. Belangstellendes kan ’n WhatsApp na 084 581 6669 stuur met jou naam en van en hulle voeg jou by die wynveilinggroepie waarop al die besonderhede van die beskikbare wyne is. Wynliefhebbers kan dan 'n aanbod maak en sien as iemand anders ’n hoër bod insit. Teen die sluiting van die veiling sal die suksesvolle bieërs ’n privaat nota ontvang om te bevestig dat hulle bod suksesvol was.  Kennisgewings sal ook gestuur word met die bedrag wat in die rekening van die NG Gemeente Merweville inbetaal moet word.
Sodra die betaling ontvang is, kan die wyn afgehaal word. Die veiling sluit op 30 September 2021 om middernag.
Groote Kerk se nagmaal
As jy jou in die Kaapse middestad bevind, maak gerus gebruik van die geleentheid om saam met die Groote Kerk-gemeente nagmaal te vier. 
Die kerk se ryk geskiedenis dateer terug na 1678 en dit is die oudste gemeente van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika. Die huidige kerkgebou is in 1841 deur Herman Schuette gebou. 
Die nagmaaldiens vind elke Woensdag om 12:00 plaas.
PREDIKANTENUUS
Pofadder verwelkom nuwe dominee
Willie Korb het die beroep na die NG Gemeente Pofadder aanvaar. Hy word op Saterdag 9 Oktober deur Annelet Slazus, konsulent van die Ring van Namakwaland, bevestig. Willie sal sy intreepreek Sondagoggend 10 Oktober lewer.
Hy is in Pretoria gebore en het aan die Universiteit van Pretoria studeer. Hy het in 2018 met sy eerste bediening by Môregloed in die Mootvallei begin.
"In my bediening het ek ervaar hoe ‘n mens geestelik kan groei wanneer jy naby aan die Here en die mense lewe. Jou gesindheid en houding speel ‘n belangrike rol en so ook die bou van verhoudings. My liefde om te gaan bedien op die platteland was in my eerste jaar van teologiese studies al wakker gemaak en dit is waarna ek strewe. Ek wil gaan na die plek wat die Here vir my wys. Daarom was dit ‘n besonderse voorreg om so vroeg in my bediening die geleentheid te kon kry om na die platteland te kom en saam met die gemeenskap God te loof en te prys."
Seënwense met jou bediening, Willie.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Klik op die grafika om die vakature te besigtig.
Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Click on the image for the latest news from Inclusive & Affirming Ministries.
PUBLIKASIES
Jongste Getuie/Witness vars uit die oond
Alhoewel die wêreld onlangs geskok was na die ontstellende geplunder en chaos in KwaZulu-Natal, is daar in ons jongste Getuie/Witness pragtige getuienisstories van Christene wat volhardend bly hoop bring in ons stukkende wêreld. Ons lees van hoe geloofsgemeenskappe oral kreatiewe planne maak om steeds met hul werk voort te gaan in Mosambiek, Zimbabwe en Malawi. Straatwerk, Hope Prison Ministry en Isibindi Initiatives bly hoop gee aan haweloses. Arbeidsbediening Tuinroete vat hande met Partners for Possibility.
Gemeentegetuienis maak planne om hul ‘vakante’ gemeentes meer missionaal te laat fokus en Publieke Getuienis soek na alternatiewe behuisingsmodelle. Ons hoop dat hierdie getuienisstories aan jou die hoop wat daar in Jesus Christus is, sal bevestig. Lees die nuwe Getuie/Witness hier.
Hoogtepunte uit Kerkbode
Suid-Afrika en kerke landwyd slaak ‘n sug van verligting vir ‘n tydjie van ‘reset’ in Vlak 2. Lees meer wat NG Kerk-leierskap bedoel as hul sê die kerk is ‘pro-lewe’ en ondersteun daarom dat soveel moontlik mense ingeënt word.
Ná 'n video oor ‘n gesprek tussen Frederick Marais en Dubois du Toit oor teologiese opleiding verlede week wyd versprei is, het Kerkbode ’n paar vrae aan Du Toit gestel. Lees hier meer.
In 1981 was hy assistentredakteur van Die Kerkbode en het gewerk vanuit ’n kantoor neffens die Parlementsgebou in Kaapstad. Met ’n onlangse besoek aan Kerkbode se nuwe werkruimte op Wellington vind Johannes Froneman ’n gans ander opset en benade­ring. En ’n omgewing om in tuis te voel. Lees hier verder.
Sluit aan by CLF se boekklub
Die Christelike Lektuurfonds het pas hulle eie boekklub begin. Lede kan aansluit en soveel as 50% afslag ontvang as hulle een boek per maand aanskaf. Klik hier om aan te sluit.
ALGEMEEN
Raakgelees: ABBA – Here they go again
Die Sweedse supergroep ABBA het hierdie maand aangekondig dat hulle eerste nuwe album in meer as vier dekades, ABBA Voyage, binnekort vrygestel gaan word. Die album word in November bekendgestel, voor 'n revolusionêre konsert, waar virtuele avatars treffers soos Mamma Mia en Waterloo sal opvoer.
Die kwartet, wat in 1982 uitmekaar is, het gesê dat hulle terug in die opnamestudio beland het terwyl hulle aan die verhoogvertoning gewerk het. “Eers was dit net twee liedjies - I still have faith in you en Don’t shut me down. En toe sê ons: 'Wel, miskien moet ons 'n paar ander ook doen',” vertel Benny Andersson. Uiteindelik het hulle tien snitte opgeneem.
"Die album gaan oor die besef dat dit ondenkbaar is om te wees waar ons is. Geen verbeelding kan dit bedink om na 40 jaar 'n album uit te bring, steeds beste vriende te wees en steeds mekaar se geselskap te geniet nie,” vertel Bjorn Ulvaeus. Klik gerus op die skakel onder om na hulle jongste treffer te luister. 
Liedere met gebaarversterkte taal
NID vertel meer oor video's van gewilde aanbiddingsliedere wat getranslitereer word met behulp van 'n gesproke taal en gebare uit Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT). SAGT verskil baie van gesproke tale, deurdat dit 'n ander grammatika het, die ruimte rondom jou gebruik en nie op klank staatmaak nie. Die ouer Dowe bevolking is opgelei in 'n tyd waarin SAGT nie toegelaat was nie en vertrou veel meer op die strukture en woorde van gesproke tale. Hierdie groep verkies dat hul aanbiddingsliedere met gebare ondersteun word, dit wil sê die grammatika van die gesproke taal word gevolg, maar gebare van SAGT word gebruik. Die SAGT liedere is vervaardig in samewerking met Dowe Familie Kerk (NGK Worcester – De la Bat).
Klik hier om toegang tot hierdie aanbiddingsliedere te kry. Kontak Lynette Victor by die Nasionale Instituut vir Dowes se steundienste-afdeling by 023 342 5555 vir navrae.
Ken jy die banke se storie?
Een van ons VrydagNuus-lesers het onlangs hierdie banke by 'n skrootwerf langs die Bottelary-pad net buite Stellenbosch gekoop. Daar is 'n netjiese gegraveerde plaatjie op elkeen om die kerkraad se sitplekke aan te dui. As jy die storie agter die banke ken of weet waar dit vandaan kom, laat weet ons gerus by kommunikasie@kaapkerk.co.za.
KUIERKANSE
Klik bo vir meer inligting.
TEN LAASTE
Ons hoor die opwinding van gemeentes nadat inperkings verslap het en daar weer meer mense by eredienste en geleenthede bymekaar kan kom. Maar die COVID-pandemie is verseker nog nie verby nie en dit bly steeds ons verantwoordelikheid om die bestaande regulasies na te kom.
Naasteliefde in hierdie tyd is ook om jouself en die mense om jou te beskerm. Dra jou masker, bly bewus van sosiale afstandregulasies, onthou om te saniteer en ondersteun asseblief inentingsveldtogte in jou gemeenskap. 
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.