Lees deur internet, klik hier >>
16 Februarie 2018
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
Lydenstyd
Sorg vir die Skepping
SINODENUUS
1. "Watermomente"
- vir Lydenstyd

Op 14 Februarie het ons ons verootmoedig voor die Here. Ons het ons vertroue en afhanklikheid van God opnuut verklaar. Ons het ons egter ook verbind aan groter sensitiwiteit in ons rentmeesterskap van God se skepping. Só het ons die Lydenstyd ingegaan.Vir die sewe Sondae van Lydenstyd sou daar 'n oomblik in die liturgie geskep kon word om hierdie verootmoediging voort te sit. Laai die YouTube-clip vir eerskomende Sondag hieronder af.
Daar sal weekliks so 'n kort insetsel wees wat 'n ekologiese werklikheid uitlig, met 'n belydenis in reaksie daarop. Die liturg sou na elkeen van hierdie momente die gemeente in gebed en voorbidding kan lei. Die droogte en waterkrisis is 'n werklikheid wat ons almal raak, maar terselfdertyd deel ons die verantwoordelikheid om te sorg vir God se skepping.
Watermoment een
Sorg vir die Skepping
2. Rampfonds:
Versterking van gemeentes se pastorale hand

Die Sinode van Wes-Kaapland stel via die Diensgroep Diaconia ’n reserwehulpfonds vir ondersteuning aan gemeentes en tydens rampgebeure beskikbaar. Die huidige droogte en waterkrisis is inderdaad ’n ramp.
“Gesprekke en konsultasie die afgelope maande het ons by die strategiese riglyn gebring dat selfs finansiële hulp wat gemeentes nou verleen, in die teken van pastorale betrokkenheid en ondersteuning sal staan,” verduidelik Nioma Venter (PSD: Diaconia). Lees hier meer oor die rampfonds. (Sien gerus ook elders die mooi getuienis van die SA Gemeente se meelewing in hierdie uitdagende droogtetyd vir Suid-Afrika.)  
Vrouebediening-uitnodiging aan Overberg-gemeentes
Vrouebediening se uitnodiging aan Overberg-gemeentes - klik bo.
4. Beyers Naudé en URCSA SKLAS
Alternative Economic Models
Die Beyers Naude Sentrum vir Openbare Teologie en die VGKSA se Kommissie vir Leer en Aktuele Sake het hierdie week by Goedgedacht, Malmesbury, vergader. Die tema van die konferensie was “Alternative Economic Models” en prof. Piet Naudé was onder diegene wat opgetree het. Onder is 'n foto wat tydens sy aanbieding geneem is.
Konferensie
5. Millennials in Suid-Afrika
Die Jong Volwasse Leer Gemeenskap het verlede week weer byeengekom in Hermanus om navorsing te doen en gesprek te voer oor die Millennial-generasie. Dié groep het onder andere geluister na Chris Adendorff en Adriaan Adams (beide toekomskundiges) se insette oor die millennial generasie in Suid-Afrika.
Die bespreking van die boeke Making Space for Millennials – Barna Resources, asook The Gospel according to Starbucks  - Leonard Sweet, het die groep gehelp om te dink oor hoe die kerk hierdie generasie ruimte kan gee om hulle geloof te vorm en uit te leef.
Groep byeen
n Groep van die Leer Gemeenskap, Etienne Snyman, Marileen Steyn, Bianca Botha, Nicola Alberts en Stephan Naudé, besig met ‘n voorlegging vir die moderamenvergadering. 
6. Getuienisaksie
RUVUMA-ondersteuning in Noordoos-Mosambiek
Die RUVUMA Netwerk ondersteun en koördineer spanne wat sendingwerkers in Noordoos-Mosambiek in hul verskeie bedieninge bystaan.
Hulle het die afgelope naweek hul Algemene Jaarvergadering in die vorm van 'n konferensie in Malmesbury met die tema "Moet ons nog vertel?" aangebied. 'n Hele paar van hierdie sendelingspare en ondersteuningsgroepe het dit bygewoon (foto onder).   Lees hier meer
RUVUMA AJV
Tom Long
7. Communitas: VBO
Kursus deur wêreldbekende Tom Long
Prof. Tom Long, een van die bekendste en mees gerespekteerde homilete (preekkundiges) in die wêreld, besoek Suid-Afrika en bied op 12-13  Maart in Stellenbosch `n tweedagkursus aan gebaseer op sy boeke The Witness of Preaching en Beyond the Worship Wars. Vir navrae kontak Wilma le Roux by wler@sun.ac.za en skryf in voor 7 Maart. Klik hier om die inskrywingsvorm af te laai en meer te lees oor prof. Long.
8. Seminariumkamp
Gedurende die naweek van 9-11 Februarie het die eerste- tot vyfdejaar studente hulle jaarlikse Seminariumkamp op Kleinmond gehad. Frederick Marais beskryf dit as ’n wonderlike geestelike ervaring. Dankie vir voorbidding vir hierdie groep studente (sien foto onder), die bestuurder van die seminarium, Eddie Orsmond, sowel as die dosente en andere wat hulle begelei.
Seminariumkamp
9. Diensgroep Diaconia: Ontmoet die dagbestuur
Die Diensgroep Diaconia se dagbestuur het op Woensdag 14 Februarie in Bellville vergader.
Hierdie groep sien toe dat die strategie en beleid van die Bestuursraad van Diaconia ten opsigte van die hooftake van die bediening uitgevoer word. Hulle maak ook voorstelle om die strategie en uitvoering te verbeter. Die dagbestuur het gelyke verteenwoordiging vanuit die VGK en NG Kerk se sinodale bedieninge vir diakonaat en werk onder voorsitterskap van Gerome Haupt (VGK) en Dawid de Wet (NG Kerk).
Kontak Diaconia by diaconia@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
Diaconia Dagbestuur
Diaconia Dagbestuur - teenwoordig was:
V.l.n.r. Dawid de Wet, Sheldon Julies, Ria Koen, Sean Esterhuizen, Nicola Vermeulen, Christine Quickfall, Nioma Venter, Christopher Maarman, Frankie Gerber, André O’Kennedy
Logo
10. Help met kerklike navorsing, asb.
Die volgende rondte van die NCLS-opname in Suid-Afrika begin in Augustus. Hierdie is die grootste opname onder erediensgangers in die wêreld. Lourens Bosman, nuwe algemene bestuurder van die NG Algemene Sinode, nooi gemeentes uit om aan hierdie rondte, wat vanjaar begin en tot in 2020 duur, deel te neem.
NCLS staan vir “National Church Life Survey”. Dit is ’n kerklike navorsingsinstituut in Australië en die NG Kerk werk sedert 2010 met hulle saam. Op hulle webwerf is meer inligting. Lees Lourens se brief hier. 
11. NG Kerk se bande met Evangelies Lutherse Kerk verstewig
Op Maandag 5 Februarie het die NG Kerk 'n uitstekende gesprek met die Evangelies Lutherse Kerk* se kollegas gehad. “Ons begin werk aan 'n stewige ooreenkoms tussen die kerke,” vertel Nelis Janse van Rensburg.
(*Die voorvoegsel “Evangelies” is vir hierdie kerkgenootskap baie belangrik, aangesien dit aandui dat hierdie genootskap gegrond is op die evangelie en nie op Luther nie. In die algemene spreektaal word daar na hulle verwys as die Lutherse Kerk. Sowat 15 kerke werk saam onder die sambreel van die “Lutheran Communion in Southern Africa", [LUCSA], vanaf Zambië tot in SA in ’n losse verbintenis.)
Afgevaardigdes
V.l.n.r.: Dirkie van der Spuy, Horst Müller, Paul du Plessis, Burgert Brand, Gustav Claassen, Nelis Janse van Rensburg, Gilbert Filter en Dewyk Ungerer.
#imagine 6-8 April
Sluit aan by #imagine op Facebook vir al die inligting oor die #imagine fees 6- 8 April. Nooi jou vriende om die Event-blad van #imagine South te volg! 
Johan van Zyl
13. Welgedaan, Johan - nutsman soos min!
Die Sinode van Wes-Kaapland groet Johan van Zyl (die NG Kerksentrum in Bellville se toegewyde faktotum sedert Augustus 2012) met spesiale herinneringe. Johan laat inderdaad ’n “skoon blaadjie” agter: hy was soggens douvoordag reeds op en om die terrein aan die werskaf; altyd gereed om behulpsaam te wees en ’n plan te beraam. Onder sy hand het die gebou en terrein ’n gedaanteverwisseling ondergaan. 
Ons eer hom vir ’n taak nougeset en welgedaan afgehandel en gun hom ’n rustiger pas saam met wederhelf, Christa, wanneer hy op 28 Februarie 2018 groet.
Schalk van Schalkwyk
14. Welkom, Schalk
Die sinode is dankbaar om iemand van Schalk van Schalkwyk se kaliber vanaf 21 Februarie as faktotum as deel van die personeel te verwelkom. Schalk, ’n afgetrede lid van die SAP en onder meer bedrewe in die bestuur van eiendomme, sekuriteitsoorde, sowel as projekbestuur, sien uit na die nuwe geleentheid om tot diens te wees. Mag dit ’n geseënde fase vir jou en Sandra inlei, Schalk. Jy is hartlik welkom!
GEMEENTENUUS
1. SA 
Gemeente: blywende bande met SA
"SA Gemeente in die Verenigde Koninkryk is nie so ver weg van ons moederkerk in Suid-Afrika nie. Dit wat in Suid-Afrika gebeur, raak ons nog elke dag diep." - Rian Steyn
Elke jaar samel SA Gemeente met Kerssangdienste by die verskillende punte geld in vir nood in Suid-Afrika en vanjaar het hulle hierdie geld vir droogtehulp in die Wes-Kaap gegee. Rian Steyn, een van die predikante, laat weet dat hulle spesifiek tydens eredienste op 11 en 18 Februarie saam met gemeentes in SA verenig in gebed vir reën.
Lees hier meer. Dankie, vriende! Mag julle self groot seën deur hierdie mooi gebaar van meelewing in gebed en ondersteuning van die rampfonds beleef.
SA Gemeente ondersteun rampfonds van Sinode van Wes-Kaapland
2. NG Gemeente Helderberg
Harmonie Uitreik-projek

Word jou familie geraak deur verlies van ’n geliefde, egskeiding of enkelouerskap? Harmonie Uitreik-projek bied vanaf 15 Februarie die volgende 13-weke reeks van GriefShare, DivorceCare, DivorceCare4Kids en Single&Parenting aan. Dit is internasionaal erkende en interkerklike programme gegrond op Bybelse waardes om gesinne te help met verlies, egskeiding of enkelouerskap. Hulle eet vanaf 17:30 saam en die onderskeie programme is van 18:00-20:00.
Plek: NG Gemeente Helderberg, Firmountstr. 82, Somerset Wes
Navrae: harmonyhelderberg@gmail.com – lees hier meer.
Moenie alleen hierdie pynlike pad loop nie – daar is mense wat verstaan en jou kan ondersteun.
Kursus in egskeidingsherstel NG Heidekoppie
Egskeidingsherstel NG Heidekoppie - klik bo.
65 jaar
4. NG Gemeente Parowvallei-Oos verjaar!
Op 25 Maart 2018 is NG Gemeente Parowvallei-Oos (vroeër Tiervlei-Oos) sowaar 65 jaar oud! Hulle nooi lidmate en oudlidmate om die erediens om 09:30 daardie oggend by te woon en die mylpaal saam met hulle te vier. Antwoord asb. voor 5 Maart: kontak die kerkkantoor by ngpvoos@telkomsa.net of skakel 021 931 6410. Klik hier vir die uitnodiging.
Prins egpaar
5. VGK Moorreesburg: 50 jaar!
Ons is saam met die VGKSA Gemeente Moorreesburg dankbaar: hierdie gemeente het die afgelope naweek hul kerkgebou se 50ste bestaansjaar gevier (die gemeente is al in 1914 gestig). Terselfdertyd is hulle predikantspaar, ds. Lysander en mev. Prins, 25 jaar in die bediening. Die gemeente se herinneringsmuur is Sondag onthul.
Baie seën vorentoe! (Lysander is die VGK se verteenwoordiger by ons sinode se kommunikasietaakspan – ons vier hierdie mylpaal graag saam met hom!)
Op die foto links is die Prins predikants-paar Lysander en Natasha voor die herinneringsmuur.
6. NG Gemeente Toringkerk
Die Hervorming in Hongarye: uitstalling van 20-25 Februarie
Die ere-konsul van Hongarye het Toringkerk genader om ’n uitstalling te huisves oor die rol van die Hervorming in Hongarye die afgelope 500 jaar. Die uitstalling word in die kerkgebou gehou (op die hoek van Hoof- en Van der Lingenstraat, Paarl) en duur van 20-25 Februarie van 09:00 tot 17:00, behalwe op Sondag 25 Februarie, wanneer die uitstalling om 13:00 toemaak. Alle belangstellendes is welkom! 
Toringkerk Hervorming
Gebedsversoeke
Versoeke vir voorbidding is welkom.
Ds. Constant Steyn
ALGEMEEN 
1. Innige simpatie
1.1 Ds. Constant W Steyn
(18-03-1930 - 14-02-2018)

Ds. CW Steyn, wat vir 21 jaar (1956-1977) leraar op Loeriesfontein was, is Woensdagoggend 14 Februarie in George oorlede na ernstige breinbloeding.
Hy word oorleef deur sy vrou, Belia, drie kinders en kleinkinders.
Hy het in die volgende gemeentes gedien: Maitland (1955-56) Loeriesfontein (1956-1977); George-Bergsig (1977-1983), Heidelberg KP (1983-1987) en Upington Blydeville (1987 tot hy in 1992 afgetree het). Hy en sy vrou was woonagtig in 'n aftreeoord in Oudtshoorn. Nico van der Westhuizen (NG Loeriesfontein) skryf: "Hy het nog gereeld vir ons op Loeriesfontein kom kuier en in 2013 tydens Loeriesfontein se Dankfees die naweek by ons opgetree. Op Loeriesfontein het hy diep spore getrap en mense praat nog altyd hier van hom."
Ons bied graag ons innige simpatie aan sy vrou en die res van die Steyn-familie aan.

Prof. en mev. Du Preez
 1.2 Mev. Tinka du Preez
(06-02-1930 - 12-02-2018)

Ons harte gaan uit na prof. Jannie du Preez (emeritus-professor in Sendingwetenskap aan die Fakulteit Teologie, US) en sy familie met die heengaan van sy vrou, Tinka, met wie hy 62 jaar getroud was. Toe prof. Jannie nog dosent was, was sy ook vir 'n ruk werksaam by die kweekskool. Sy was die afgelope tyd verswak en is op 12 Februarie in die ouderdom van 88 jaar oorlede. Die gedenkdiens vind plaas op Maandag 19 Februarie om 10:00 by Serenitas, Altenaweg, Strand. Die Du Preez’s het vier kinders: Henriëtte, Lettie, Gert en Roelien.
Prof. Jannie kan gekontak word by 021 854 4489.
(Dank aan Wilma Riekert vir die inligting.)

Press release
2. Reaksie op president se bedanking
Verskillende kerkgenootskappe het reeds mediaverklarings uitgereik na aanleiding van die bedanking van voormalige pres. Jacob Zuma.
Aartsbiskop Thabo Makgoba van die Anglikaanse Kerk in Suidelike Afrika het in sy verklaring verwys na die geleentheid wat ons land het om nuut te begin, ’n nuwe visie te vorm en nasiebou te bevorder. Die SA Catholic Bishop’s Conference se president, aartsbiskop Stephen Brislin, wys op die simboliek van Lydenstyd: ’n verbintenis aan die nuwe en die aflê van selfsug onderweg na die hoop van Paasfees. Hier is meer.

Nico Koopman
3. Allan Boesak Annual Public Lecture: The role of the religious community in strengthening the SA democracy
The Uniting Reformed Church (URCSA) Bellville, through its Allan Boesak Legacy Centre for Leadership, will host the third Allan Boesak Public Lecture on Thursday 22 February 2018 at 19:00. 
The lecture will be delivered by Prof Nico Koopman, vice-rector at Stellenbosch University, with a response by Mr Angelo Fick, political analyst and researcher at eNCA. Get the full invitation here.  

Logo
4. Beyers Naudé Sentrum vir Publieke Teologie
Nagedink oor kompleksiteit van vergifnis
Almal is hartlik welkom by 'n paneelbespreking oor “Die Kompleksiteit en Noodsaaklikheid van Vergifnis tussen Swart en Wit Suid-Afrikaners” op Dinsdag 20 Februarie om 12:30 by die Kapel, Fakulteit Teologie, Dorpstraat 171, Stellenbosch. Paneellede sluit in dr. Wilhelm Verwoerd, mnr. Themba Lonzi, prof. Julie Claassens en prof. Christo Thesnaar. Klik hier.
Logo
 5. HospiVision
Disappointment: Disaster, detour; new destiny?

Everybody experiences disappointments in life: in yourself, your relationships, your career and your religion. Where was God when this happened? How can I make sense of life now? How do we run the marathon of life, knowing the finish line is not predictable or prestigious but sometimes premature? HospiVision is hosting a workshop to assist with making sense of disappointments – either on Friday 20 April at Vredelust or Saturday 21 April at Kelvin Grove in Newlands. Click here.

Michiel en Louise
6. Getuienis: kerkwees in die uithoeke van die wêreld!
Al die pad uit Korea skryf oudkollega Michiel Burger oor die kerk waarby hy en sy vrou, Louise, ingeskakel het. Van ons lesers sal Michiel onthou: hy was sedert 1992 as leraar in diens van die vier NG-ringe van Mosselbaai, George, Oudtshoorn en Knysna, werksaam in die uitgestrekte gemeente (“seker die mooiste in die land”, vertel hy) van die VGK SWD tot 2014.
“Dit moet eintlik beleef word om te dit te glo, maar ons word regtig oorweldig met hartlikheid. Van die lidmate speel tafeltennis met ons en neem ons op uitstappies. Ek kan getuig dat die werking van die Heilige Gees in die gemeente in Korea kennelik teenwoordig is!” Die Geochang World Mission Church (Presbiteriaans) is in 2011 gestig deur dr. Ben Park, wat onder prof. Hendrik Bosman op Stellenbosch studeer het.
Oorweeg om hier verder te lees – en bid asb. vir hierdie bediening as deel van ons gemeenskap van gelowiges.

World Read Aloud Day
7. World Read Aloud Day 2018 - terugvoer
Nal’ibali, die lees-vir-genot program wat een van ons Diensgroep Diaconia se vennote in die fokus op vroeëkindontwikkeling (VKO) is, berig trots dat hulle onlangse “World Read Aloud Day” ’n wonderlike sukses was. Die mikpunt was om op 1 Februarie vir een miljoen kinders te lees – en uiteindelik is 1 294 345 kinders met die projek geraak! Ons waardeer elke gemeente, elke leesgroepie, elke individu wat deel hiervan was. 
Dankie aan diegene wat beplan om hierdie spesiale inisiatief as ’n permanente deel van hul bediening in gemeenskappe uit te bou. Nal’ibali bied allerlei hulpbronne op hulle webwerf. Dit sluit verskillende stories in ’n reeks Afrikatale en Engels (sowel as in oudio-formaat) in wat met die oog op Internasionale Moedertaaldag (21 Februarie) afgelaai kan word, storiekaarte, sowel as ’n pragtige kalender wat 2018 se geletterdheidsgeleenthede aandui. 
Elmarie
8. Raakgelees
Menswaardigheid vir skadu-mense
“En Christene deur alle eeue leer by Hom en verstaan dit só: Menswaardigheid is nie iets wat jy kan gee of neem nie. God gee dit aan elke mens wat die gawe van lewe ontvang. Ons kan net mekaar se menswaardigheid bevestig of ontken.” Dalk wil jy oorweeg om verder te lees hoe Elmarie Dercksen (NG Bloubergstrand) skryf oor Regter Moseneke wat in ’n onlangse reaksie ons mense se morele kompas beliggaam het. Sy herinner ook aan koning Dawid en Jesus se optrede wat “skadu-mense volledig as mense aansien”. Dankie, Elmarie! (Berig met erkenning aan Netwerk24.)
Lydenstyd
Klik bo om te lees hoe Kerkbode oor Lydenstyd skryf. Skets: Nico Simpson
NUUSBRIEWE
BM-nuusbrief
PUBLIKASIES
1. CLF: jongste publikasies
1.1 NUUT! VGKSA Jaarboek 2018
CLF het vandeesweek die publikasie van die VGKSA Jaarboek 2018 aangekondig. Hierdie handige bron van kontakinligting van gemeentes en meer is nou beskikbaar. Kry dit teen slegs R125, posgeld uitgesluit. Bestel by order@clf.co.za of skakel 021 873 6964. Klik hier.
Silence and Solidarity
1.2 Silence and Solidarity
Hierdie publikasie gee aan 'n mens ’n kykie in die 30 jaar wat die Centre for Christian Spirituality/Sentrum vir Christelike Spiritualiteit reeds bestaan.
Die sentrum met sy Anglikaanse wortels, het as die “Institute for Christian Spirituality” ontstaan. Die verlange van die destydse aartsbiskop Desmond Tutu, wat diep betrokke by die stigting was, was dat iets van “the church at prayer” in die sentrum weerspieël moes word. Die instituut wou in moeilike tye in ons land aan geestelike leiers ruimte gee vir stilte en gebed. Lees hier meer.
LiG - artikels en vrae vir selgroepe
Klik bo vir die artikels en vrae vir selgroepe se gebruik
EKOLOGIE
1. Bereken jou waterverbruik
Die eerste stap om minder water te gebruik, is om te weet hoeveel jy gebruik. Die Stad Kaapstad het ’n handige manier om te bereken hoeveel water jy per dag gebruik. Hulle gee ook wenke om dit te verminder. Dankie as jy reeds moeite hiermee doen!
Aarde
2. Hoe het ons in vernietigers verander?
Dit feit waarmee ons gekonfronteer word, is eenvoudig: Die mens se lewenswyse bedreig alle vorme van lewe op die aarde – ook sy eie!  Dit is direk in stryd met die bedoeling van die Skepper. Is jy bereid om te sterf ter wille van die lewe?
Dit is die vraag wat die droogte aan ons vra. Lees hier meer.

Water
3. WWF Wednesday Water File
Pulling together during water crisis

“A crisis can help to strengthen society, so we can use this moment to do just that. As a community, we will also need strong arms, time, DIY, organising skills, and good communication skills to see us through a period of extremely limited water supplies. We all have something to offer.” Get the latest WWF SA Wednesday Water File, dealing with important questions and offering food for thought.

Logo
4. Seven Weeks for Water 2018
The World Council of Churches Ecumenical Water Network (WCC-EWN) invites you to use the season of Lent to reflect on water. Since 2008, EWN has been providing weekly theological reflections and other resources on water for the seven weeks of Lent and for World Water Day on 22 March. Week 1: Water – Gift and source of life.

BEHOU DIE HUMOR
Valentynsdag
KUIERKANS
Kuierkans
Logo

VAKATURES
Vakatures in Kerkbode

Die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode, het die jongste nuus oor vakatures vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies. Dit word ook op e-Kerkbode bekendgemaak.
Die volgende uitgawe van Kerkbode verskyn op 16 Februarie.

Vryburg-Wes kerkgebou
1. NG Gemeente Vryburg-Wes: Leraar
Die NG Gemeente Vryburg-Wes, deel van die Sinode van Noord-Kaapland, het ’n vakature vir ’n voltydse leraar.  Stuur ‘n onlangse CV met referente se kontakinligting aan die skriba by ngvryburgwes@lantic.net of faks dit na 053 927 3476. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 6 April. Lees hier meer oor die gemeenteprofiel, ens.
Logo
2. Huis Wittekruin: Boekhouer/Administratiewe beampte
Huis Wittekruin in Vredenburg is ‘n program van Badisa, ‘n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-Kaapland) en VGKSA (Kaapland). Aansoeke van entoesiastiese, verantwoordelike en gemotiveerde persone word vir hierdie betrekking as administratiewe beampte/boekhouer ingewag. Reageer voor 1 Maart – klik hier. 
Almatine
TEN LAASTE
Uit die pen van ... Almatine Leene
Hierdie jaar het Valentynsdag, Aswoensdag en die biddag vir reën op dieselfde dag geval.
Om die liefde te vier en Jesus se lydensweg te gedenk, pas met die eerste oogopslag nie by mekaar nie. Die as, maar ook die droogte, maak ons eerder opnuut bewus van die dood.
Tog vertel Valentyn en die evangelie ons iets anders. Priester Valentyn is onthoof omdat mense nie gehou het van al die wonderlike dinge wat hy gedoen het nie. Ook Jesus se liefde is deur mense beantwoord met die dood. Maar gelukkig het God die Seun die dood oorwin. Deur sy wonde is daar vir ons hoop. Ons sal nie meer stof word nie en in tye van droogte mag ons weet en glo dat daar weer reën sal kom. Want God se liefde wen altyd.
Dit is eintlik fantasties dat Valentyn, Aswoensdag en die biddag vir reën op dieselfde dag geval het.  

                                                                    - - - - - 

Almatine Leene is predikant by die NG Gemeente Stellenbosch-Wes en gee klas in Zwolle, Nederland. Besoek www.almatine.nl om meer oor haar te lees.

"Skep vir my 'n rein hart, o God,
Gee my 'n nuwe standvastige gees."
(Ps. 51:12 - Die Bybel Nuwe Lewende Vertaling)

Geseënde Lydenstyd.
Marieta Visagie en Salomi Steenkamp


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.