Subscribe to our email list
 12 Augustus 2016

Beste Leser
Prayer
"Here, maak veral my oë oop
vir die arrogansie
wat dink dat ek ál een is wat die waarheid beet het."
- 'n Gebed uit Kenia
(Uit Die groot gebedeboek, Piet Naude)

SINODENUUS
1. Ringsverteenwoordigers vir Regsake sit koppe bymekaar

Hierdie was ook 'n bedrywige week vir ringsverteenwoordigers gemoeid met kerklike ondersoeke en dissipline. Hulle het op Wo 10 en Do 11 Augustus by die NG Kerksentrum in Bellville vergader om opleiding te ontvang van die Regskommissie - 'n nuwe tree en noodsaaklike inisiatief van Quintus Heine en sy span.
Seën met julle verantwoordelikhede, kollegas.
Ringsverteenwoordigers by opleiding
Agter vlnr Peter Adams (VGKSA), Tallie van den Heever, André van Wyk, Christo Klopper, George Prinsloo, Herman Burger, Pierre Marais, Danie Smit, Arnold van der Westhuizen
Middel vlnr Hannes Theron, Thys du Toit, Charel Nel, Pieter van Santen, Floors Meyer,
Johan Vollgraaff, Francois Herselman
Voor vlnr Kotie Kritzinger, Hannes Steenkamp, Quintus Heine, Smuts van Rensburg,
Charl Stander en Charl van Rensburg
KGA-logo
2. Getuienisaksie
2.1 Forum van Gereformeerde Familie in Afrika byeen

Die afgelope naweek het die Forum van ons Gereformeerde Familie in Afrika langs die Malawi-meer in die Salima-distrik, Malawi, vergader om hierdie forum verder te verstewig.
Kobus Odendaal skryf: "Ons het deeglik besef dat ons nie die pad vorentoe alleen kan loop nie. In ons groot besluite moet ons na mekaar luister. Die reuse-uitdagings van waardegedrewe leierskap, van voorspoedprediking, teologiese opleiding en publieke getuienis is enkele sake wat bespreek is."
Forum van ons Gereformeerde Familie in Afrika
Voor lnr: Godfrey Betha (URCSA), Libias Boloma (CCAP Harare), Timoteo Fabiao (IRM Mphatso), Vasco Kachipapa (CCAP Nkhoma), Gustav Claassen (NGK Algemene Sinode) 
Tweede ry: Gideon van der Watt (NGK Vrystaat), Andries Hoffman (NGKA), Jonah Lagat (RCEA Kenia), Joao Herbath (IRM Tumbine), William Zulu (RCZ Zambia),
Grabriel Marata (IRM Novo), Kgosi Tlhowe (DRC Botswana) 
Agterste ry: Kovlan Moodley (RCA), Charmaine Stoffberg (CLF), Jurgens Hendriks (NetACT)
en Kobus Odendaal (Getuienisaksie)
AnnaMarie de Klerk en Jurgens Hendriks op Malingunde
Kobus en Jurgens het ook 'n vinnige besoek gebring by AnnaMarie de Klerk se
KIX-skooltjie op Malingunde, Malawi.  
2.2 Malawi Uber?!
Malawi Uber? (Sien onder.) Nee, dis hoe Jurgens Hendriks (NetACT) en Kobus Odendaal (Afrika Ekumene) Dinsdagoggend (9 Augustus) deur een van die dorpies op fietstaxi's op pad na Lilongwe (Malawi) se lughawe gereis het! Dit was darem net 'n kort stukkie twv die ervaring; AnnaMarie de Klerk en haar KIX-span het hulle en hul bagasie met haar motor veilig op die lughawe besorg.
Volgens Kobus was die Uber-diens besonder flink met goeie lugversorging!
Jurgens Hendriks en Kobus Odendaal op pad lughawe toe
3. Algemene Taakspan Argief
Die Algemene Taakspan Argief het op 10 en 11 Augustus 2016 in Kempton Park onder voorsitterskap van Bertus Koorts (Gesamentlike Sinodale Kommissie van die NG Kerk van Transvaal) vergader. 
Op die agenda was onder meer die formulering van 'n algemene argiefbeleid vir die Kerk; die koördinering van werksaamhede van die onderskeie sinodale argiewe en die bekendstelling van die geskiedenis van die Kerk as geheel. Die impak van wette soos Wet 2 van 2000 (Inligtingswet) en Wet 4 van 2013 (Die beskerming van persoonlike inligting) het ook aandag geniet.  
'n Konferensie van gereformeerde kerkargiewe is ook vandeesweek gehou.
Retief Muller, Bossie Minnaar, Liesl Rabie en Lysander Prins
Die Kaapse kollegas was Retief Müller (kundige), Bossie Minnaar (inligtingsbeampte van die NG Kerk), Liesl Rabie (Argivaris van die Argief op Stellenbosch) en Lysander Prins (VGKSA)
4.  Sentrum vir Publieke Getuienis
4.1 Dissipline onder ons Kinders en in Skole

Dissipline onder ons kinders bly 'n aktuele saak. Braam Hanekom (Sentrum vir Publieke Getuienis) vestig die aandag op die Waardegedrewe Skole-projek van die Federasie van Beheerliggame van SA-skole (FEDSAS). Maak die inligting asb in gemeentes in en om Oudtshoorn en George bekend.
"Met swak dissipline wat so ’n groot uitdaging vir onderwys in Suid-Afrika bly, is die unieke benadering van die Waardegedrewe Skole-projek ’n reddingsboei vir skole. Die klemverskuiwing van reëls na waardes bring mee dat leerders, onderwysers en ander rolspelers in die skoolgemeenskap meer verantwoordelikheid neem vir hul gedrag," sê dr Jaco Deacon, adjunkhoof van FEDSAS. Opskerpsessies met die bekende spreker en skrywer Johan Smith vind op Di 16 Augustus om 18:00 by Wesbank Primêre Skool, Oudtshoorn en op Wo 17 Augustus om 18:00 by Laerskool George-Suid plaas. Hierdie aandsessies is spesifiek gemik op ouers. 
Kontakbesonderhede is op FEDSAS se webwerf: klik hier en lees hier meer.
FEDSAS Waardegedrewe Skole
4.2 Sit gerus, Khayelitsha!
In VrydagNuus van 22 Julie het die Sentrum vir Publieke Getuienis (SPG) versoek dat stoele geskenk word aan onafhanklike kerke in Khayelitsha waar so 'n behoefte geïdentifiseer is.
Dis lekker om nou te berig dat Parke-gemeente hiermee kon help. Veertig stoele is op Woensdag 10 Augustus met die vriendelike samewerking van die sinode se behulpsame faktotum, mnr Johan van Zyl, veilig in Khayelitsha besorg en uitgepak. Tog wonderlik om te sien hoe die gemeenskap van gelowiges mekaar ook op so 'n praktiese manier ondersteun. Seënwense aan almal betrokke!
Stoele gelaai
Johan van Zyl van die sinode saam met Willem Beukes en sy seun, Martin, van Parke-gemeente
Stoele uitgepak
Pastoor Louis Nkonki van die Great Commission Network in Khayelitsha en Johan van Zyl pak die stoele uit
Badisa AJV 6 September
6. Argief Kronieke
6.1 Wat gebeur alles by die Kerkargief?

Alhoewel die Argief as "die geheue van die kerk" beskryf word, is dit ook 'n diensinstelling wat inligting en antwoorde op baie navrae van lidmate, die publiek en navorsers verskaf, soos "Wanneer is my ouma gebore?" en "Watter visuele opleidingshulpmiddels het die eerste sendelinge in Nyasaland (Malawi) gebruik?"
Wie onthou dalk nog die destydse "Magic Lantern" (foto middel onder)?
Lees meer, soos met dank ontvang van Isabel Murray, argiefbeampte. Met haar "Argief Kronieke" wil sy gereeld enkele spesiale verhale en gebeure uit die Argief met VrydagNuus-lesers deel.
Kontak die Argief by liesl@kaapkerk.co.za of 021 882 9923.
NG Kerk in SA Argief Stellenbosch Magic Lantern Isabel Murray
ALGEMEEN
1. CLF se Nuwe Baadjie!
Op Woensdag 10 Augustus is die vere behoorlik in Wellington reggeskud vir die feestelike bekendstelling van Christelike Lektuurfonds (CLF) se nuwe handelsmerk. 
Christelike Lektuurfonds (CLF) is reeds in 1957 deur oa dr Abraham Dekker gestig om gratis Christelike materiaal te ontwikkel en onder die verskillende taal- en kultuurgroepe van Suid-Afrika te versprei. By die bekendstelling was oa ds Japie du Plessis, legendariese stigterslid van die CLF, met Vinette Ebrahim as sprakelende seremoniemeester.

CLF nuwe handelsmerk Oom Japie en Vinette Ebrahim
2. HospiVisie: Reis met Depressie
Depressie kan lewensvernietigend wees en raak alle aspekte van ons menswees.
In HospiVisie se kursus, "To believe in sunshine: narrative practices in journeying with depression", word na nuwe maniere gekyk hoe om die reis met depressie aan te pak en vol te hou.  Datum:  25-27 Augustus 2016 by Vredelust gemeente. Kontak Wanda by 021 931 0311 of wanda@hospivision.org.za en lees aangeheg meer.
3. Hulpmiddels vir die Bediening
Worstel jy soms om te verstaan hoe God ons die vrye wil kan gee om te kies, terwyl Hy terselfdertyd almagtig is en alles in sy hand hou, met 'n plan vir elkeen se lewe? 
Klik langsaan op die pyltjie om te hoor hoe Roedolf Botha hierdie vraagstuk verduidelik as een van Ekerk se "60 sekonde waarhede". Ekerk se reeks kort video's - waarin talle onderwerpe kort en kragtig aangeraak word - is 'n nuttige hulpmiddel vir enigiemand wat op soek is na vars maniere om die boodskapte bring. 
(Met dank en erkenning aan Ekerk oorgeneem).
Wentzel Coetzer
4. Pastorale Beradingskursus
Genesing impliseer keuses

Ware genesing en heling impliseer volgens Stephen Arterburn in sy boek Healing is a choice tien keuses. Ten opsigte van elk van die tien keuses is daar egter telkens ook 'n leuen wat die teenpool bied. 
Wentzel Coetzer bied 'n VBO-geakkrediteerde kursus oor keuses en heling aan op 3 September in Potchefstroom.
(Veral) ons lesers in die Noord-Kaap en omstreke kan hier meer inligting kry.
5. VCSV vier 120 jaar van Genade
Op 28 Julie 2016 het die Verenigende Christen-Studentevereniging van SA (VCSV) hulle verjaardag vol opwinding gevier. As deel hiervan word onder meer vir 120 minute gemeenskapsdiens verrig en vir 120 sekondes gebuig om God te eer vir 120 genade-jare. Vind gerus by 'n skool in jou omgewing uit hoe hulle in die loop van die jaar hierby inskakel - jy kan hulle dalk ondersteun.
Meer inligting oor die VCSV se projekte soos skole-bediening, vakansiedienste, uitreike in die Desembervakansie, kampe en Diensjaar vir Christus is hier beskikbaar. (Die VCSV is ook een van #Imagine se vennote en medewerkers.)

VCSV 120 jaar VCSV 120-verjaardagkoek
GEMEENTENUUS
1. NG Worcester-Vallei: Kerk wat Kóók!
"Op twee winterdae in Junie is daar by Worcester-Vallei gekook dat die kerkkombuis deur heerlike geure en kleure van 'n verskeidenheid kossoorte gevul is. Dié idee van 'n kosmaraton, ten bate van mense in nood, het reeds geruime tyd gelede by Annemarie Colling, een van die lidmate, ontstaan." Lees hier verder - met dank aan e-Kerkbode en Jacobie M Helena. (Foto met erkenning aan Jacobie M Helena)
Marie-Louise du Preez oorhandig kos aan Dalene Muller met Annetjie Bester wat agter toekyk
2.1 NG Durbanville vier 190 Jaar 
Hier is 'n fotoblik op Sondag 7 Augustus se vieringe om die 190ste bestaansjaar van die Durbanville-gemeente te vier. As deel van die liturgie het Tinus van Zyl en Robert Vosloo opgetree, met Ockert Meyer wat uit 1 Konings 19 die Woord bedien het.
Tydens die diens het Alfred Gwemntu (vir 22 jaar die gemeente se tuinier) 'n afskeidsgeskenk ontvang. Na afloop van die feesdiens is vonkelwyn en kaaskoek in die saal bedien. Behoorlik feestelik!
Robert Vosloo en Ockert Meyer
Prof Robert Vosloo en dr Ockert Meyer op die kansel
Durbanville-gemeente se ingang feestelik versier Durbanville-gemeente se ingang
2.2 Durbanville gesels oor Seksualiteit en Spiritualiteit
'n Aktuele gesprekreeks oor seksualiteit en spiritualiteit word vanaf 14 Augustus vir die volgende paar Sondaeaande om 18:30 in die kerkgebou van die NG Gemeente Durbanville (hoek van Kerkstraat en Weyerslaan) aangebied.
Sprekers sluit in Nicki Spies, Michelle Boonzaaier en André Killian  - lees aangeheg meer. 
Nicci Spies, Michelle Boonzaaier, Andre Killian
3. NG Hopefield se besondere Kerkorrel
In Julie berig Die Burger in die Buite-bylae oor Hopefield se "imposante orrel" en wat dit alles in sy leeftyd moes deurmaak. 'n Soektog en navraag by die hulpvaardige Clifford James (predikant) bring ons in kontak met Ben Theron. En wat 'n vonds!  
Ben is al sedert 1980 kurator en orrelis by NG Hopefield en is nie min trots op hierdie geskiedkundige orrel nie - dit was reeds in 2011 'n honderd jaar oud! Die orrel is een van tien kerkorrels wat deur Forster & Andrews in Engeland vervaardig en na Suid-Afrika ingevoer is. Op 20 Desember 1911 het die orrel sy tuiste gevind in die NG Gemeente Hopefield en daar staan hy vandag nog - met dieselfde perfekte klank waarmee hy vervaardig is. 

Bekende orreliste wat al die voorreg gehad het om daarop optredes te hou, sluit in Gawie Cillié, Johan Enslin, Zorada Temmingh en Winand Grundlingh. Lees hier meer van hierdie besondere orrel se herkoms en bekyk ook hulle volkleur brosjure. Belangstellende kan selfs moeite doen om prof Albert Troskie se boek "The Pipe Organ Heritage of South Africa" in die hande te kry.
Dankie, Ben, vir jou vriendelike ondersteuning en die passie waarmee jy jou werk verrig. Dit is inspirerend. Mag die orrel nog lank die Here se lof besing!
NG Hopefield se kerkorrel
NG Gemeente Hopefield se orrel
Intergenerational Dialogue
Twitter Facebook YouTube
PREDIKANTENUUS
NG Gemeente Graafwater:
Sam & Madelief Eygelaar, welkom!

Dr Sam Eygelaar word op Sondag 14 Augustus 2016 om 09:45 bevestig as leraar by NG Graafwater, waar hy aangestel is in 'n drie-jaar vastetermyn-pos. 
Sam het in 1975 sy studies op Stellenbosch voltooi en was in die jare wat volg in die bediening by Fort Beaufort en Ficksburg-Noord, waarna hy in die kapelaansdiens werksaam was by 3 Militêre Hospitaal in Bloemfontein. Hy het met behoud van status oorgeskakel van kapelaansdiens na die Departement: Sielkunde en was later Direkteur: Geneeskundige Dienste. Ons wens hom en sy vrou, Madelief, 'n geseënde en gelukkige bedieningstyd op Graafwater toe!
EKOLOGIE
1. Eko-sensitiewe Spiritualiteit
Ekerk verduidelik die doel van hulle gereelde navorsingsverslae oor aktuele tendense soos volg: "Navorsing wil leiers en organisasies help om versigtig te luister, vinnig te leer en voluit te leef - om 'n groter impak op God se koninkryk te maak.
In die jongste verslag, "Down to Earth" word die klem geplaas op daardie hulpbronne wat toekomstige lewe op die aarde kan verseker, bv water, suurstof, kos en dierelewe.
"The point of departure is that we are dealing with Christian spirituality since it concerns the Christian faith's most fundamental teaching: the Creation." (Met dank en erkenning aan E-Kerk en samesteller van die verslag, Roedolf Botha.) 
Fynbos
2. Suid-Afrika: fynbosparadys
Fynbos in Suid-Afrika groei in 'n 100 tot 200 km-wye area kuslangs van Vanrhyns-dorp, deur die Kaapstad-omgewing tot so ver soos Grahamstad in die Oos-Kaap. Fynbos groei nie verder as 200 km van die see af nie en is perfek aangepas om te floreer in arm grond en ten spyte van baie wisselvallige reënval.
In hierdie betreklike klein area groei meer as 9 000 plantsoorte, waarvan 70 % inheems is. 'n Volle 3 % van AL die wêreld se plante floreer hier, in 'n area wat kleiner is as 0.05 % van die aarde se landoppervlak. In die Kaapse Skiereiland alleen groei 2 285 soorte plante, drie keer meer plantspesies per vierkante kilometer as in die digste reënwoude.  Lees die volledige berig, met dank aan southafrica.net hier.
"As God dan die gras van die veld, wat vandag nog daar is en môre verbrand word, so versier, hoeveel te meer sal Hy dan nie vir julle sorg nie ..." - Matt 6:30

Teo-logo
NUUSBRIEWE
UP se teo.co.za-nuusbrief
Die jongste uitgawe van teo.co.za (webdiens van die Fakulteit Teologie van UP) word aan korter en langer boekbesprekings, asook 'n rolprentresensie gewy.
Hulle kondig ook 'n nuwe funksie op die webwerf aan. Voortaan kan gebruikers die bydraes in Engels, Duits en ander tale lees. Die outomatiese vertaalfunksie verskyn aan die regterkant van die webwerf. Kies die taal van jou voorkeur en klik daarop. Hulle hoop om die teo-webblad hiermee meer toeganklik te maak. Klik hier om meer te lees.
PUBLIKASIES
1. Bybel-Media: LiG - vir jou en jou mense
In die September-uitgawe van LiG:
• Gretha Wiid: My droom vir my dogters
• Ysterman in ’n rolstoel
• Kerk tussen die karre
• Matriekafskeid-drome word waar
• Vorm jou kind só
• Dis hoe God die huwelik bedoel het
• Die Bybel sê: bid só vir ons land en sy leiers
• Wees geld se baas
• Is inenting nodig vir my kind?
Teken in by Jeanne: 021 864 8252 of hier.

1.2 Jongste Jeugfokus-publikasie
Kleuterkerk 1 – Aanbiedersgids
Kleuterkerk 1 is 'n uitstekende hulpmiddel vir enige gemeente se kinderbediening.
Die 20 aanbiedings in hierdie boek bevat alles wat jy nodig het om jong kinders van 2-5 te laat ervaar dat Jesus baie lief is vir hulle, om hulle meer van die Here Jesus te leer en om hulle te lei om 'n persoonlike verhouding met die Here te bou.
Prys: R115,00 (BTW en posgeld ingesluit). Reeds beskikbaar.
Dit is 'n besondere toevoeging tot hulpmiddels wat geloofsvorming van 2 – 5 jarige kinders ondersteun.
Skakel 0860 26 33 42 óf 021 864 8210
Of bestel per e-pos: bestel@bmedia.co.za
Of koop direk met jou kredietkaart op die webwerf: www.bybelmedia.org.za, klik dan op winkel.
2. CLF: The Prayer Power-reeks
Christelike Lektuurfonds (CLF) het reeds twee pragtige boeke in die nuwe The Prayer Power-reeks beskikbaar om ouers deur swangerskap en ook deur die eerste ses jaar van 'n kind se lewe te lei deur saam as egpaar vir hul kind te bid. Die unieke boeke kombineer die biologiese, intellektuele en fisiese ontwikkelingsfases van die kind met lewensveranderende Skrif en gebed.
Elke week van swangerskap bevat 'n Skrifgedeelte, 'n uiteensetting van hierdie swangerskapfase en dan volg die ouers se gebede met spasie vir aantekeninge.Vir bestellings en meer inligting besoek www.clf.co.za of kontak CLF by 021 873 6964 of info@clf.co.za. Klik onder op die publikasies vir meer inligting.
The Pregnancy Prayer Book The Toddler Prayer Book
KUIERKANS
Klik onder vir nuus oor markte en feeste! Hou ook die sinode se Facebook dop. 
1. Parow-Noord hou Feesnaweek!
NG Parow-Noord vier hulle 50ste bestaansjaar met groot jolyt gedurende die naweek van 26 tot 28 Augustus (sien ook die advertensie vir hulle basaar hier onder). Daar word 'n feeskonsert beplan vir Vrydagaand, Saterdag is tradisionele basaartyd en Sondag 'n dankdiens. Lees hier meer.
Kaartjies vir die konsert kan vooraf by die kerkkantoor gekoop word: 021 939 2395.
NG Parow-Noord basaar
NG Parow-Noord Basaar
27 Augustus 2016
NG Brackenfell-Wes Vrouetee
NG Brackenfell-Wes Vrouetee
13 Augustus 2016
NG Kraaifontein Jan de Wet
NG Kraaifontein Jan de Wet
21 Augustus 2016
NG Somerset-Wes gholfdag
NG Somerset-Wes Gholfdag
19 Augustus 2016
VAKATURES
1. NG Bethanie: Emerituspos

Bethanie Gemeente is geleë in die suide van Namibië, 140 km wes van Keetmanshoop.
Die gemeente bestaan uit 118 lidmate en 15 dooplidmate en is hoofsaaklik ‘n boerderygemeenskap.
H
ierdie gemeente het tans 'n vakature vir 'n emeritusleraar.
Meer inligting rakende die ideale leraarsprofiel, vergoeding, huisvestiging en aansoekprosedure is hier.
Let asseblief op die sluitingsdatum vir aansoeke: Saterdag 1 Oktober 2016. 
2. Badisa Huis Zonnekus
Geregistreerde Verpleegkundige

Huis Zonnekus in Milnerton is 'n tehuis vir ouer persone en 'n diens van Badisa. Aansoeke van verantwoordelike en gemotiveerde persone met geriatriese ondervinding word voor 15 Augustus vir die bogenoemde betrekking as geregistreerde verpleegkundige (suster in bevel) ingewag. Klik hier.
NG Gemeente Suidpunt, Struisbaai
3. NG Gemeente Suidpunt: Orrelis
Aansoeke word ingewag vir die pos van orrelis in die NG Gemeente Suidpunt in Struisbaai.  Die orrelis is verantwoordelik vir sang en musiek tydens die oggenddienste (L'Agulhas en Struisbaai) en ander geleentheidsdienste.  Die orrelis is verantwoordelik vir die kreatiewe uitbou en ontwikkeling van musiek by die erediens en moet as deel van ’n span kan funksioneer. Sluitingsdatum: 31 Augustus. Lees aangeheg meer.
NG Gemeente Welgemoed
4. NG Gemeente Welgemoed: Fasiliteitsbeampte
Ons herinner aan die vakature vir 'n fasiliteitsbeampte by die NG Gemeente Welgemoed. Welgemoed is ʼn voorstedelike gemeente in Bellville met 1314 belydende en 381 dooplidmate en word bedien deur vier leraars. Meer inligting is onderaan en aansoeke sluit op 20 Augustus.  
5. Huis Andrew Murray
Faktotum

Huis Andrew Murray Kinder- en Jeugsorgsentrum, 'n program van Badisa in Wellington, het 'n vakature vir 'n faktotum.
Die aangewese kandidaat se basiese taakomskrywing en meer inligting is hier.
Aansoeke sluit op 20 Augustus 2016 en diensaanvaarding is so spoedig moontlik. 
e-Kerkbode-logo
Vakatures op e-Kerkbode
Inligting oor vakatures vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante instansies is gerieflik beskikbaar in die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode.
Klik hier vir die jongste inligting.

As jy wil saampraat oor wat in die NG Kerk - en breër kerklike omgewing - gebeur, teken in om e-Kerkbode te ontvang. 
Marius le Roux
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Marius le Roux
Hoe kyk ons na gemeentes, die kerk? Hoe meet ons of dit goed of sleg in 'n gemeente gaan? Te lank het ons na die drie “goor g’s” (soos Stephan Joubert dit noem) gekyk. Ons kyk na getalle... hoe groot is die gemeente, hoeveel mense woon eredienste by? Ons kyk na gemeentes se geboue ... en bekommer ons daaroor. En natuurlik, ons kyk na die geld in 'n gemeente ... die begroting moet tog klop!

Miskien moet ons ánders kyk. Na ménse eerder as getalle. Want dit is immers God se mense! En dit is mense met middele. Gawes wat die Here aan sy kinders skenk! Talente, maar ook rand en sent. Dán laat die Here ons nuwe moontlikhede raaksien.

Nuwe moontlikhede, sodat ons ons roeping in die wêreld kan lééf.

* * *
Marius le Roux is predikant in die NG Gemeente Albertinia. Hy is ook gewaardeerde onder-voorsitter van die Sinodale Taakspan vir Finansies en Administrasie (STFA). Belangstellendes kan Marius per e-pos bereik by marius@albertinia.org.za.
Thumbs Up
Goeie wense aan elke leser. Die lente is om die draai. Kyk net ...
En: dankie vir elke stukkie kommentaar en wenk om die nuusbrief te verbeter. Dis 'n voorreg om selfs uit Australië en Skotland te hoor van lesers wat ons nuus en inligting interessant en relevant vind.
Dalk wil jy oorweeg om ook per e-pos te laat weet watter nuus jy graag in VrydagNuus wil sien? Doen dit sommer nou by kommunikasie@kaapkerk.co.za.
Vriendelike groete.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za