Lees deur internet, klik hier >>
4 Maart 2022
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Lydenstyd is meer as net die opgee van koffie
Christo Benadé, lid van die moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland, skryf as volg oor Lydenstyd: "Dit is  ʼn gewilde geloofsdissipline om iets waarvoor jy lief is op te gee tydens Lydenstyd. Op sigself is daar niks fout hiermee nie. Dietrich Bonhoeffer waarsku ons egter dat hierdie opgee van ʼn plesier maklik ʼn egoïstiese behoeftebevrediging kan wees wat deur ʼn stukkie eie 'lyding' die realiteit van Christus se lyding  ʼn groter realiteit probeer maak.
In Lydenstyd mag my lyding nooit die fokus wees nie. Lydenstyd help ons wegkyk van onsself na die lyding van Christus en ook die lyding in die wêreld." 
Christo se skrywe kom te midde van die konflik in Rusland en die Oekraïne: "Ek skryf hierdie stuk met my een oog op die Twitter-stroom met die jongste nuus uit  die Oekraïne oor lyding van onskuldige mense wat by die dag groter word. Tussen al die berigte van lyding verskyn daar foto’s van Christene wat op stadspleine bid terwyl sirenes loei; van kerke wat skuilings vir vlugtelinge geword het. In hierdie geweldige lyding breek iets van God se lig deur - lig wat moontlik gemaak is deur Christus se lyding. Dit is oor sulke tye wat Bonhoeffer dan ook so treffend skryf: 'Those who have found God in the cross of Jesus Christ know how wonderfully God hides himself in this world and how he is closest precisely when we believe him to be most distant' (God Is on the Cross: Reflections on Lent and Easter)."
Lees die volledige skrywe hier.
Andrew Murray Sentrum is drie jaar oud
Die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit op Wellington het op 28 Februarie hulle derde bestaansjaar gevier. Die onderskeie geboue spog met 'n ryk geskiedenis wat terugdateer tot 1877. Die onlangse restourasie en ontwikkeling het egter nuwe lewe in die historiese perseel geblaas. Kontak gerus vir Derine by admin@andrewmurraysentrum.co.za of 021 873 2151 vir navrae oor retraites en meer inligting oor die fasiliteite. Lees gerus hier meer.
Ondersteun ons sterrestappers
21 Stappers trek die naweek hulle stapskoene aan om die 108 km Stargazing Camino tussen Sutherland en Merweville aan te pak. Die stappers kom van heinde en verre om die Karoo-gemeenskappe met hulle teenwoordigheid te bemoedig.
Stappers van Bellville, Bloemfontein, Clarens, Durbanville, Kimberley, Kuilsrivier, Mosselbaai, Prins Albert, Wellington en Worcester maak deel van die stapgroep uit. Twee gesoute joernaliste, die hoof uitvoerende beampte van Badisa en vier stappers uit die Noord-Kaap is ook deel van die groep. 
Nioma Venter van Diaconia noem: “Nou het ons die ondersteuning van die publiek baie, baie nodig. Ons uiteindelike doel is om R600 000 in te samel. Daarmee wil Diensgroep Diaconia, 'n eenheidsbediening van die Wes-Kaapse Sinode van die NG Kerk en VGKSA Streeksinode Kaapland, die sewe gemeenskappe van Beaufort-Wes, Fraserburg, Leeu-Gamka, Merweville, Prins Albert, Victoria-Wes en Richmond in staat stel om op ’n ondersteunende wyse na hul gemeenskappe uit te reik. Gemeentes word gevra om ’n spesiale kollekte te hou of om ’n bydrae uit hul ondersteuningsfondse (barmhartigheidsfondse) te oorweeg. Individue kan ook persoonlik donasies maak. Besighede wat belange in die Karoo het, word ook vriendelik versoek om die fondsinsameling te ondersteun.” Klik hier vir meer inligting oor die projek.
Bydraes kan tot einde April aan Diaconia se ramphulpfonds gedoen word. Nedbank, tjekrekeningnommer 1135900337. Gebruik Stargazing Camino met jou gemeente/ naam/besigheid as verwysing.
VKO migreer tussen departemente
Vanaf 1 April sal die provinsiale Departement van Basiese Onderwys verantwoordelik wees vir die befondsing en registrasie van vroeëkind-ontwikkelingsprogramme.  Volgens 'n skrywe van Little Seeds, 'n gesamentlike inisiatief wat deur Diaconia en Badisa bestuur word, beteken dit dat alle funksies wat voorheen deur die Departement Maatskaplike Dienste vervul is, oorgedra word na die Departement van Basiese Onderwys.
"Volgens die Nasionale Geïntegreerde Vroeëkindontwikkelingsbeleid (2015) is die rede vir die programmigrasie om te verseker dat die Departement van Basiese Onderwys  kernverantwoordelikheid neem vir die voorsiening en monitering van vroeëkindontwikkeling sodat alle kinders universele kwaliteit toegang tot dienste kan ontvang.
VKO-sentrums wat tans by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling geregistreer is, sal met hulle registrasiestatus (voor 1 April 2022) oorgeplaas word na die Departement van Basiese Onderwys, waarna ‘n nuwe registrasiebeleid oor ‘n tydperk van twee jaar geïmplementeer sal word. Die geïntegreerde diensleweringsmodel sluit VKO-sentrums, speelgroepe en tuisgebaseerde programme in."
Vir verdere navrae, kontak Erika Hougaard of Zylia Volschenk van Little Seeds.
Bediening onder Jode – waarom en hoe? 
Kom luister gerus op Dinsdag 15 Maart van 18:30 tot 20:00 na die Messiaanse Jood Michael Sischy by die NG Gemeente Parow-Panorama. Die eertydse dokter is tans voltyds besig met bediening onder die Jode. Hy sal praat oor hoe Christene die evangelie met Jode kan deel soos ons die evangelie ken en verstaan, hoekom daar na Jode uitgereik moet word en hoe kinders van die Here, as hul daarvoor geroepe voel, by uitreike na Jode betrokke kan raak.
Kontak vir Jeanie de Wet by Simcha Ministry Bediening by simchaministry@gmail.com vir meer inligting.
EKOLOGIE
World Wildlife Day - 3 March
World Wildlife Day is an inititiative of the United Nations to celebrate wild fauna and flora and to raise awareness for conservation. It emphasises the economic, environmental and social impact of wildlife crimes and human-induced reduction of species. This year's theme was "Recovering key species for ecosystem restoration" and aimed to draw attention to the conservation status of some of the most critically endangered species in the world. Read more about the initiative here.
Groenspan verwelkom nuwe lede
Dit is met groot plesier dat ons Shaneeze Dilgee (VGK Lavender Hill) en Frikkie Marais (NGK Napier) aan boord van ons Groenspan verwelkom. 
As 'n buitelug-entoesias is Shaneeze passievol oor die natuur en ekologie. Op sy beurt voel Frikkie sterk oor die mens (en die kerk) se verantwoordelikheid teenoor God se skepping. Lees gerus meer oor ons nuwe spanlede hier.
Mag julle die energie en entoesiasme van ons span geniet en mag die Here ons insette op verskeie maniere gebruik om mense te help om GROENER te leef om sodoende ons wonderlike planeet te help bewaar.
Maak jou eie aquafaba mayo!
Ons Groenspan wil jou graag help met idees oor hoe om groener te probeer leef en dit sluit ook jou dieet in. Deur minder diereprodukte te probeer gebruik, dra jy jou deeltjie by om ons aarde ligter te laat asemhaal.
Hier is nog ’n wenk: As jy weer jou blikkie kekeretjies oopmaak, behou gerus daardie kosbare vloeistof en maak jou eie vegan-mayo. Kry die resep hier
UIT ONS RINGE
Ring van Caledon
Ons seënwense aan die 24 gemeentes van die Ring van Caledon wat die afgelope Sondag hulle eenwording gevier het. 'n Spesiale erediens en boomplantingseremonie is gehou.
GEMEENTENUUS
Helderberg bevestig diensleraar
Lizl Botha is Sondagoggend as diensleraar: familie en jeug by NG Gemeente Helderberg bevestig. Ons wens Lizl alle voorspoed met haar bediening toe.
Jurie Goosen stuur ook die volgende aangrypende gebed vir vlugtelinge en immigrante wat hy in dr. Barnabé Anzuruni Msabah se boek The Wayfarer: Perspectives on Forced Migration and Transformational Community Development gevind het. Die gebed is opgestel deur Reverend Jose Luis Casal.
Kuier gesellig by Brackenfell-Wes
NG Gemeente Brackenfell-Wes het onlangs 'n gesellige koffiewinkel op hulle perseel oopgemaak. Ariella Bistro bedien ontbyt, middagete en heerlike gebak van Maandag tot Saterdag (weeksdae 09:00 tot 16:30; Saterdae tot 16:00). Die lokaal is ook beskikbaar vir funksies. Bevrore maaltye, wegneemetes en snoepborde kan ook bestel word. Dinsdae is daar 'n spesiale aanbod vir pensioenarisse teen R25 vir 'n muffin met koffie/tee en Donderdae kan jy koffie/tee met 'n heerlike sny koek vir R40 geniet.
Ariella Bistro se bekwame span (foto van links na regs) Beatrice Brits, Janet Mtenga, Azandra Smit en Doreen Murray nooi almal hartlik uit om te kom inloer. Skakel 073 691 3611 vir meer inligting, bestellings of besprekings.
Malmesbury verwelkom Dowes
Die De La Bat Gemeente vir Dowes in Bellville laat weet dat hulle verlede maand hande gevat het met Swartland Moedergemeente en ‘n erediens vir Dowes op 20 Februarie gehou het. Chris Wheeler van De La Bat-gemeente vertel dat hulle Dowes regoor die Kaapse Skiereiland bedien en dat baie Dowes wat ver van Bellville af bly nie die geleentheid het om elke Sondag eredienste by te woon nie. 
“Dit is ‘n voorreg om die evangelie aan Dowes te kan bedien, maar die grootte van die geografiese gebied waarin Dowes versprei is, maak dit moeilik om weekliks almal te akkommodeer. Daarom is ons dankbaar dat NG Gemeente Swartland op Malmesbury hulle deure oopgemaak het vir die Dowes van die omgewing. Dit skep soveel bedieningsmoontlikhede en maak ook die punt duidelik: daar is oral Dowes wat bedien moet word en dit is die verantwoordelikheid van elke gemeente om toeganklik te wees vir almal wat graag die Here wil aanbid.” 
Jacobus Maass, predikant by Swartland Moedergemeente, hoop om in die toekoms meer gereeld saam met die Dowes te werk. “Dit is vir ons ‘n groot voorreg om die gemeenskap van gehoorgestremdes in ons omgewing te kon akkommodeer in ons kerkgebou. Die erediens was besonders waartydens dit opvallend was dat ons almal die Here op ons eie unieke manier loof en aanbid. Ons hoop is dat daar nog talle interkerklike eredienste sal wees tot eer van sy Naam.”  Indien daar gemeentes is wat ook belangstel om betrokke te raak by die bediening aan Dowes in hulle gemeenskappe, kontak gerus vir Chris Wheeler.  
Stellenbosch-Wes ondersteun haweloses
Haweloosheid is 'n groot sosiale probleem op Stellenbosch. Wanneer mense gekonfronteer word met haweloses wat geld vra, beleef hulle dikwels teenstrydige emosies. Talle goedhartige individue wil help, maar weet nie hoe nie. Die gemeente van Stellenbosch-Wes skryf op hulle Facebook-blad dat 'n goeie manier om 'n verskil te maak, is om die haweloses die geleentheid te gee om by die Stellenbosch Nagskuiling te bly.
“Ons is geseënd om ook die haweloses van Stellenbosch te kon seën gedurende Februarie. Ons het ‘n bydrae aan die Stellenbosch Nagskuiling gemaak om bestanddele aan te koop vir die ekonomiese etes wat hulle aan hulle kliënte voorsien. Ons het ook Heartflow koepons aangekoop wat met groot geduld en deernis by die kerkkantoor uitgedeel word vir dié wat daar aanklop. Hiermee kan iemand ‘n nag by die Nagskuiling deurbring of ‘n ete by ‘n voedingsaksie-punt bekom.”
Besoek gerus hulle Facebook-blad om meer oor hulle projekte te lees of klik hier vir meer inligting oor haweloses in Stellenbosch.
Rondebosch Feesnaweek
NG Gemeente Rondebosch nooi alle oud-lidmate en belangstellendes hartlik uit na die inwyding van hulle gerestoureerde kerkgebou en nuwe kloktoring. Die kerk se klok gaan weer na meer as vyftig jaar lui!
Die nuwe kerkgebou word ingewy op Sondag 27 Maart om 10:00 met 'n spesiale erediens waartydens die Cape Town Youth Choir sal optree.
Hulle feesgeleentheid met hul nuwe kloktoring sal om 15:00 begin met 'n spesiale musiekuitvoering deur Lente Louw, Erik Dippenaar, Louisa Theart (fluitspeler) en ook Juliëtte Kriel (klavier). Kaartjies hiervoor beloop R50 per persoon met verversings na die tyd. Bespreek en betaal teen 21 Maart. 
Navrae kan aan Ester Freeman gerig word by ngkrbos@mweb.co.za of 021 686 4315.
NUUS VAN ONS FAMILIE IN AFRIKA
Nuus uit Madagaskar
In die jongste nuusbrief uit Madagaskar word daar onder andere vertel van die Toliara Bybelskool waarby Carel en Annetjie le Roux die afgelope 12 jaar betrokke is. Dit het sodanig uitgebrei dat pastoor Jonoro ’n ses maande-opleidingsprogram vir inheemse sendelinge begin het. Hulle is reeds in hulle vyfde week. Lees meer daarvan hier en ontmoet ook sommer die studente op bl. 3-5 en oorweeg dit ernstig om hulle opleiding te help ondersteun.
TOERUSTING
Klik op die grafika vir meer inligting.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Orrelis, Durbanville 
Durbanville-gemeente het ‘n vakature vir ’n vindingryke en aanpasbare orrelis wat in noue samewerking met ander musikale aanbiddingsleiers verantwoordelikheid sal aanvaar vir die uiteenlopende aanbiddingsbehoeftes van die gemeente. Die suksesvolle kandidaat moet inspirerende begeleiding van gemeentesang en alle voorbereiding rondom die oggenddiens wat ’n meer klassieke karakter het, hanteer. Lees meer oor die posvereistes hier. Aansoeke sluit 11 Maart.
Musiekleier, Parow-Panorama
Die NG Gemeente Parow-Panorama is 'n spiritueel gediversifiseerde voorstedelike gemeente, geleë in die noordelike stadsgebied 15 km van Kaapstad. Die gemeente is deel van die Ring van Tygerberg. 
Die kernvereistes van die pos behels onder meer musiekbegeleiding, musiekafrigting, musiekselektering, voorbereiding asook administrasie en skakeling. 'n BMus graad of toepaslike ervaring in gemeentebegeleiding (wat orrel en klavier insluit) is 'n belangrike vereiste. Verder is die ideale kandidaat entoesiasties en passievol oor musiek in die algemeen en beskou dit as 'n roeping om deur middel van musiek die Here te dien en die gemeente te bedien. Aansoeke sluit 15 Maart. Kry meer inligting hier
Voltydse leraar, Stellenberg 
Stellenberg-gemeente is ’n makrogemeente op die grens tussen Bellville en Durbanville. Die gemeente bestaan uit die volle spektrum van ouderdomsgroepe en het 'n dinamiese jeugbediening.  
Die suksesvolle kandidaat moet kan leiding neem om die jeugbediening tot nuwe hoogtes te voer.  Hy of sy moet onder andere ’n span vrywilligers identifiseer en as gids optree om hulle te motiveer en te inspireer. Die span deur die bou van verhoudinge en geestelike begeleiding die jongmense in ons gemeente kan lei en ondersteun om in ’n verhouding met die Here te leef.  Die suksesvolle kandidaat sal ook as lid van die leraarspan bereid en in staat moet wees om die groter gemeente, soos nodig, te bedien. Aansoeke sluit 31 Maart. Klik hier vir meer inligting. 
Skriba, Drieankerbaai
NG Kerk Drieankerbaai is ’n stadsgemeente met ongeveer 340 lidmate. Hulle fokus is om ’n tuiste te bied vir almal wat bely dat hulle in Christus glo en wat saam met hulle wil ontdek wat dit beteken om as volgelinge van Christus te leef. Die skriba speel ’n uiters wesenlike rol in die lewe van die gemeente. Die geskikte kandidaat moet oor die volgende beskik: goeie menseverhoudings, bewese kommunikasie-, taal- en rekenaarvaardighede, kennis in die hantering van sosiale media, goeie organisatoriese vermoë en noukeurige hantering van geld. Die volle advertensie kan in die gemeente se nuusbrief besigtig word. 
Klik op die grafika vir meer inligting.
NUUSBRIEWE
Klik onder vir nuus van KIX en Missie Japan.
BEHOU DIE HUMOR
PUBLIKASIES
Nuutste uitgawe van LiG 
LiG se herfs/Paasfees-uitgawe is tans op die winkelrakke. Musikant en TV-aanbieder Leah pryk op die voorblad en vertel haar storie.
Die uitgawe is propvol wenke, raad en inspirasie. Kry tien idees hoe om Paasfees as 'n gesin te vier. Lees ook die interessante artikel oor gesprekke met jou dogter oor seks, geld en emosies.
Vind uit waar jy hulp vir jou huwelik kan soek en hoe jy jou kind se geestelike woordeskat kan bou.
Kreukelgedagtes oor lewe en dood
Johann Voges is bekend vir sy eerlike en onopgesmukte skryfwerk, waarmee hy lesers betrek by sy eie worsteling om antwoorde te vind op moeilike lewensvrae. In Anderkant twyfel - kreukelgedagtes oor lewe en dood word daar vrae gevra oor lyding en dood, God se skynbare afwesigheid en onsigbaarheid, twyfel en geloof, oor hoop en die lewe self. Pertinente vrae vir die ontwrigtende tyd waarin ons tans leef.
Die boek is nou aanlyn beskikbaar in die CLF winkel. Klik hier om te bestel of stuur 'n e-pos aan order@clf.co.za.
KUIERKANSE
Klik bo vir meer inligting.
ALGEMEEN
Run for the Deaf in the Two Oceans Marathon
The National Institute for the Deaf is excited to announce that they are listed as an official charity for the Totalsports Two Oceans Marathon 2022. Run for the Deaf and persons with hearing loss by purchasing your Two Oceans Half Marathon charity entry from the NID.
The ticket guarantees your entry and also allows you to make a difference in the lives of our multiple-disabled and elderly Deaf beneficiaries.
Please send an email to fr.nid@nid.org.za if you have any questions or if you would like to purchase your entry. The deadline for charity entries is 10 March 2022.
Raakgelees: Lawwe tas-dag
Leerders van Hoërskool Oos-Moot in Pretoria het verlede maand vindingryke en skreeusnaakse maniere gevind om hulle handboeke en skryfbehoeftes rond te dra op die skool se Alles-behalwe-tas-dag. 
Op hierdie pretdag het die skoliere hulle skooltasse vervang met kreatiewe items soos winkeltrollies, popstootwaentjies, asblikke, wasmandjies, voëlhokke, stofsuiers, skottelgoedrakkies en selfs mikrogolfoonde! Foto’s van al die innoverende “tasse” kan op die skool se Facebook-blad aanskou word. 
TEN LAASTE
Lydenstyd het in die vierde eeu na Christus ontstaan en strek oor die 40 weeksdae wat op Aswoensdag (2 Maart) begin en met die Groot Lydensweek, Heilige Donderdag, Goeie Vrydag en Stil Saterdag ’n dieptepunt bereik.

Volgens Woord en Fees is Lydenstyd "die voorbereiding en aanloop tot die viering van Christus se verlossingswerk aan die kruis en die nuwe lewe wat deur sy opstanding moontlik gemaak is. Dit alles vind plaas teen die agtergrond van individue se verlange om God se genadige verlossing in hulle lewe, sowel as in die wêreld, verwesenlik te sien word. Lydenstyd word tradisioneel ook gekenmerk deur verootmoedigende gebed, vas en die versorging van die armes. In die lig van bogenoemde word Lydenstyd gesien as ’n tyd van gestrooptheid en eenvoud."
Luister gerus hier na Mans vir Jesus se Ek roem u Naam
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.