Lees deur internet, klik hier >>
11 September 2015
Beste Leser
"If you are not disciplined, you can never be leaders." - Beyers Naudé


Wes-en-Suid-Kaap Sinode-logo
SINODENUUS
1. Gemeentes: Deel asb met lidmate!
In die onderstaande video deel Nelis Janse van Rensburg (voorsitter van die moderamen) belangrike inligting oor die sinodale beplanning en die fokusareas wat tydens die moderamenvergadering bevestig is. Daar is ook nuus oor kerkeenheid en 'n voorlopige Tussenorde waarvan gemeentes gerus kennis kan neem om hulle te help om 'n gesamentlike pad te stap. Nelis vra ook voorbidding vir die Algemene Sinode se sitting.
Die versoek is dat
gemeentes asb hierdie video van 5min Sondag tydens die erediens sal wys. Laai dit af by http://mema.bybelmedia.org.za
Nelis Janse van Rensburg gesels oor die sinodebeplanning
2. 100 Jaar van Diakonale Dienste gevier!
As deel van die Hugenote Kollege, die NGK Wes-en-Suid-Kaap (Armoede & Sorg) en Kerklike Maatskaplike Diensteraad se DiacAfric Konferensie hierdie week, is 100 jaar van kerk-georganiseerde diakonale werk in Suid-Afrika tydens ’n glansaand op 7 September in Wellington gevier.
Die toespraak van Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Hugenote Kollege se direksie, bied ’n insiggewende blik op ons NG Kerk-familie se pad met ’n Seisoen van Luister, ’n Seisoen van Menswaardigheid en meer. Lees hier.
Nelis Janse van Rensburg
Nelis Janse van Rensburg word na
sy toespraak bedank.
Viering van 100 Jaar van diakonale diens
Honderde kolwyntjies vier 100 jaar van diakonale werk!
Leopold Scholtz
3. Publieke Getuienis en Vlugtelinge
Die welbekende onafhanklike politieke analis Leopold Scholtz gee gelowiges waardevolle perspektief op die vlugteling kwessie wat tans in Europa aan die broei is.
Dit is nodig om nugter hieroor te dink. Lees gerus Leopold se bydrae, soos geskryf vir die Sentrum vir Publieke Getuienis, aangeheg
4. Vroeë Kindontwikkeling Konferensie
Tydens verlede week se Vroeë Kindontwikkeling-konferensie het Zylia Volschenk (Badisa Maatskaplike diensprogramme Bestuurder: VKO en Nasorg) 'n waardevolle perspektief vanuit Badisa se oogpunt gelewer. Sy het veral gefokus op gemeentes se praktiese betrokkenheid by VKO. Haar PP-aanbieding is hier op www.kaapkerk.co.za. Dit is ook as pdf-dokument beskikbaar; klik hier
Smuts Janse van Rensburg
5. Sinodale Taakspan Regte kry nuwe Voorsitter
Die skriba van die sinode, Charl Stander, laat weet dat Smuts Janse van Rensburg (NG Gemeente Kangovalleie) die nuwe voorsitter van die Sinodale Taakspan Regte (STR) is. Charl, voorheen STR-voorsitter, het bedank vanweë verskeie ander verantwoordelikhede as skriba van die sinode. Smuts se kontakinligting is smutsmar@gmail.com of 082 921 6854. Seën vir jou, Smuts!
6. NGK Algemene Sinode: Agenda
Harde kopieë van die Agenda van die NGK Algemene Sinode is reeds by 'n groot groep afgevaardigdes besorg. Dankie vir flinke reaksie!
As jy jou kopie self kan kom haal, tref asseblief so gou moontlik met Sanet Gunter by skriba@kaapkerk.co.za of 021 957 7155 'n reëling.
Gemeentes wat nog 'n harde kopie van die agenda wil bestel, kan dit tot Vrydag 11 September doen.
Dankie vir elkeen se voorbidding vir hierdie belangrike geleentheid, die sestiende vergadering waar ons kerk se sinodes in Pretoria by die Afrikaanse Hoër Seunskool saamkom om oor belangrike sake te besin.
US Fakulteit Teologie
ALGEMEEN
1. Ekklesia: Conversation on Liturgy and Worship

Op 22 September bied Ekklesia van 09:00-12:00 'n werkswinkel oor liturgie en transformasie in gemeentes van vandag aan. Vanaf 13:00-16:00 is die fokus op aanbidding wat relevant, inspirerend en transformerend is. Dit word by die Fakulteit Teologie op Stellenbosch aangebied; reageer asb voor 15 September. Meer inligting en registrasievorms (beide in Engels) is aanlyn beskikbaar.
Fresh Expressons SA
3. Oudste Dokument in die Argief
Op Sondag 23 Augustus 2015 het die Groote Kerk in Kaapstad hulle 350ste bestaansjaar gevier. Hierdie ontstaansdatum is gebaseer op die doopdatum van die eerste dopelinge, drie dogters en vyf seuns, van De Kaap van Goede Hoop, naamlik 23 Augustus 1665. Hulle name is opgeskryf in die eerste doopregister soos vervat in die oudste bestaande dokument van die NG Kerk.
Belangstellendes kan hier meer lees - klik op die foto's onderaan vir meer detail. Kontak die Argief by 021 882 9923 of klik hier.
Oudste geskrif in Argief Oudste Geskrif
4. Hoop in die Karoo - Gesamentlike Ringsvergadering
René Potgieter (NG Gamkavallei in Beaufort-Wes) laat weet dat die afgelope ringsvergadering van VGK Carnarvon en NGK Beaufort (3-4 September) regtig besonders was, 'n heerlike kans vir gesels, eet en grappies maak, met die hoogtepunt die Vrydagaand toe hulle gesamentlik kon afsluit met gebed en luister hoe 'n tolk die boodskap van 'n Xhosa ouderling vertaal. Daarna is eendragtig saamgebid. Meer oor hierdie samekoms, die vierde in sy soort, is hier te lese.
Beaufort Ringe vergader Beaufort Ringe vergader
5. Die rol van Media in die Samelewing
Wat is die rol van media in die samelewing? Hoe lyk die toekoms van godsdiens en die media? Hoe kan die kerk die media opvoed om meer akkuraat oor godsdienssake te berig? Qideas is die gasheer van belangrike gesprekke oor hierdie temas. Lees verder. (Met dank aan Danie Mouton in Grens.Pos, nuusbrief van die Oos-Kaapse NG-sinode.)
6. Menswaardigheid - Hy het 'n NAAM gehad
Die hartverskeurende foto van klein Aylan Kurdi is 'n ontstellende aanklag teen 'n wêreld se ongehoorsaamheid aan die Bybelse opdrag van naasteliefde. Die foto het die wêreld tot stilstand gedwing.

Die Franse eerste minister, Manuel Valls, het op Twitter reageer: "He had a name: Aylan Kurdi. Urgent action required - A Europe-wide mobilization is urgent," het hy geskryf. (Die foto hieronder wys dat dié tweet 2,5 miljoen keer "retweet" is). Nelis Janse van Rensburg verwys in sy toespraak (sien elders by SINODENUUS) na hierdie seuntjie - wat 'n naam gehad het. Ons mag dit nie vergeet nie! 

Ook prof Nico Koopman skryf in Die Burger: "Dit gaan nie oor net nog statistieke nie. Dit gaan oor ’n medemens. Dit gaan oor ons. Dit gaan oor een wat, soos Calvyn dit uitdruk, ons eie vlees is en, soos Madiba aangehaal het, vlees is van my vlees, been van my gebeente." Belangstellendes kan sy artikel van 9 September hier lees.
Manuel Valls se twitter-boodskap
7. Bybelgebaseerde Geletterdheid
Op Internasionale Geletterdheidsdag het die Bybelgenootskap van SA Bybelgebaseerde geletterdheidsboekies in isiXhosa bekendgestel. Beide die Engelse en Afrikaanse boekies is reeds sedert 2013 beskikbaar. Dirk Gevers, Uitvoerende Hoof van die BSA, sê: "Die taak van die Bybelgenootskap van SA is gemeenskapsgerig en met hierdie projek wil ons 'n verskil in ons gemeenskappe maak deur hoop te bring en ons mense te help om hulle volle potensiaal te bereik. Nie net kan hierdie boekies 'n bydrae lewer tot die lees- en skryfvaardighede van ons kinders nie, maar hulle kan ook reeds op 'n baie vroeë ouderdom begin om die Bybel, met sy boodskap van hoop, te ontdek."  Lees meer.
Andre van Wyk
8. Thunderclap vir Jesus op 30 September!
Van André van Wyk (NG Durbanville) ontvang ons die versoek om inligting hieroor bekend te maak. "Ons is bevoorreg dat daar by ons 'Pastor’s forum', of in ons geval die D4J-inisiatief (Durbanville4Jesus) nie net kerkleiers inskakel nie, maar ook ander Christen instansies. CVC Media het pas 'n wêreldwye veldtog geloods om op 30 September via Twiter en Facebook 'n “Thunderclap” te laat gebeur. Mense kan tydens hierdie maand inteken om deel daarvan te wees en op 30 September op presies dieselfde tyd word dieselfde video op almal se sosiale platforms versprei.  Awesome,nè! En dit vat net 'n paar sekondes om te registreer. Versprei asb die boodskap - sommer na ander gemeentes en sinodes ook!"  Meer inligting en die "media kit" (4MB-dokument) is hier.
9. Leprose Sondag - 13 September
Leprose Sondag is 'n jaarlikse viering van God se goedheid oor die volgehoue versorging van persone wat met leprose (melaatsheid) saamleef en 'n geleentheid om ons geloofsgemeenskap bewus te maak van die stryd van slagoffers om hierdie eeue-oue toestand te oorkom. 
By www.leprosymission.co.za is inligting oor die Sending aan die Melaatse se vasberadenheid om hierdie siekte te stuit en 'n verskil in die lewens van slagoffers te maak.  
PREDIKANTENUUS
Predikante stokperdjies en Belangstellings
Nes jy dink jy ken teen ons predikante teen hierdie tyd redelik goed, hoor jy van nog een met 'n interessante belangstelling: bekende musikante, kranige sportvroue, so kan die lys aangaan. Wie die spoggerige Franse name "garagiste" en selfs "oléiculteur” ken, ken dalk ook die gasvrye, joviale Dave Viljoen van die NG Gemeente Kenridge. Kyk net so ... (Dankie, Dave - dit was sommer lekker!)
Dave Viljoen, wyn- en olyfboer
GEMEENTENUUS
1. NG Strand-Noord: Uitreikmaand

Septembermaand is UITREIKMAAND in Strand-Noord (Joubertstr 73). Hulle tema is vanjaar GEROEP! GESTUUR!
Op Sondag 13 September preek ds Leon Venter (Predikant in Sinodale Diens: Armoede en Sorg) oor "Ons Taak in die Gemeenskap" en op Sondag 20 September is dr Ernst van der Walt aan die woord oor "Ons Taak in die Wêreld."
Die oggenddienste is om 08:30 en 10:00 - almal welkom! 
NG Kenridge
2. NG Gemeente Kenridge: Gebedsinisiatief
Kenridge Gemeente en Protea Valley Church bied 'n gesamentlike gebedsinisiatief aan om voorbidding vir Suid-Afrika te doen. Jy word uitgenooi om in die week van 21-25 September enige tyd tussen 08:00 en 16:00 in die Kenridge Gebedskamer in die Grootsaal te kom bid (Maestrichtstraat 2, De Bron). (Gebedskamer gesluit Donderdag, 24 Sept).
Woe 23 Sep 19:00-20:00: UUR VAN GEBED - in die Kenridge kerk. Sing, luister en bid saam. Gebedstemas: "Spiritual awakening"; "Salvation for the unsaved"; "Social justice" en Seisoen van Menswaardigheid.
3. Groote Kerk ontvang Nelis Janse van Rensburg
"Dit is vir die Groote Kerk in Kaapstad 'n voorreg om in die jaar van ons 350-jarige bestaan die Wes-Kaapse NG-moderator, Nelis Janse van Rensburg, tydens die erediens van So 13 September om 10:00 by ons te ontvang om die erediens waar te neem," skryf Riaan de Villiers. 
"Europese vlugtelinge, Isis moorde, studente se geweldadige verset, moord en korrupsie is op die voorblaaie. Wat het van menswaardigheid geword? Hoeveel respek het mense regtig vir mekaar? Watter soort oplossings bied navolging van Jesus?"  Hieroor dink Nelis in sy preek na.
Almal welkom!
EKOLOGIE
Volgende week is Nasionale Skoonmaak-en-Herwinningsweek. In pas hiermee berig Die Hervormer (mondstuk van die NH Kerk van Afrika) op die voorblad oor "Bewerk en bewaar" met lekker praktiese dinge wat elkeen van ons by die huis kan doen, of wat gemeentes kan doen om by te dra tot natuurbewaring. Klik hier vir die volledige artikel, met erkenning aan ds Marius Bacon in Die Hervormer van September 2015. 
Dit is ook Boomplantmaand: dalk is die boom van die jaar, die bosvaderlandswilg (foto) 'n goeie geskenk vir julle plaaslike skool se tuin?
PUBLIKASIES
Die Christelike Lektuurfonds (CLF) stuur nuus oor drie gratis pamflette en ander publikasies. Klik op die onderstaande grafika vir meer inligting. 
By die doop Heerlike huwelike Brief aan my gay vriend
Work as calling and worship Celebrating the Good News
KUIER-KANS
1. Bybelgenootskap: Sakeontbyt met Johann Coetzee

Die kundige rakende selfverwaarlosing en tydskeuses, raadgewer aan meer as 27 000 bestuurslui en skrywer van sewe boeke, prof Johann Coetzee, tree op 16 Oktober op tydens 'n sake-ontbyt aangebied deur die Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Dit word gehou by die Bellvillepark-kampus van die Universiteit van Stellenbosch se Bestuurskool.  Hier is meer ... Klik ook op die uitnodiging hierby.
NG Worcester-Noord Vroue-oggend Vosburg Vleisfees
4. NG Gemeente Calvinia-Hantam: Klipwerf op Klipwerf 2015
Familie-saamkuier-kampnaweek op Klipwerf (60km buite Calvinia) saam met die Klipwerf Boereorkes van 27-29 November 2015.
Vir kampbesprekings, kontak die kerkkantoor 09:00 – 12:00 daagliks by 027 3411 301. R100 per persoon vir die naweek, ‘n Heerlike program is vir die Vrydag tot Sondag beplan. Verdere navrae: ngkhantam@hantam.co.za of kontak vir Klaas Louw by 083 544 5220. Sien julle daar, nooi hulle!
Twitter Facebook
VAKATURES
1. NG Gemeente Kraaifontein: Voltydse Leraar
Die NG Gemeente Kraaifontein is 'n kultureel gediversifiseerde voorstedelike gemeente van sowat 400 lidmate, ongeveer 30 km vanaf Kaapstad geleë. Die gemeente is ’n inklusiewe geloofsgemeenskap saamgestel uit werkende en afgetrede senior lidmate, waarvan sommige in die aftreeoord Huis Ravenzicht, sowel as werkende jong volwassenes en gesinne met voorskoolse en skoolgaande kinders. Hier is 'n vakature vir 'n voltydse leraar. Lees hier verder en reageer voor 9 Oktober.
VGK Ceres
2. VGKSA Gemeente Ceres: Voltydse Leraar
Die kerkraad van die VGKSA Gemeente Ceres maak in biddende afhanklikheid die vakature van hulle leraarspos bekend. Die gemeente is 133 jaar oud en bestaan uit ongeveer 1637 belydende en 767 dooplidmate.
Lees aangeheg meer oor die leraarsprofiel, voordele en aansoeke. Sluitingsdatum: 6 Oktober.
3. NG Gemeente King William's Town: Termynbepaalde Leraarspos
Die NG Gemeente King William's Town is aan die voet van die pragtige Amatolaberg geleë, 50 km van Oos-Londen. Naasliggend is Bisho, administratiewe hoofstad van die Oos-Kaap. Die gemeente het 'n vakature vir 'n leraar in 'n driejaar-termynkontrak. Dit is 'n ontwikkelingspos met gedeeltelike sinodale befondsing. Meer oor die pos is hier. Sluitingsdatum: 16 Oktober om 16:00.
NG Sonstraal-logo
4. NG Sonstraal: Jeugwerker
Die NG Gemeente Sonstraal in Durbanville het 'n vakature vir 'n termynpos as jeugwerker vanaf 1 Desember 2015. Lees oor verantwoordelikhede, vergoeding en meer: klik hier. Aansoeke vir die pos sluit op 15 Oktober. 
Badisa-logo
5. Badisa 
5.1 Ramot Behandelingsentrum: Maatskaplike Werker

Ramot Behandelingsentrum in Parow-Oos is 'n program van Badisa, die gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-en-Suid-Kaap) en VGKSA (Kaapland). Die Ramot Behandelingsentrum het is 'n vakature vir 'n maatskaplike werker en belangstellendes kan meer oor die vereistes hier lees. Reageer asb voor 25 September. 
5.2 Badisa Tulbagh: Maatskaplike Werkers
Badisa Tulbagh is ook 'n program van die gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-en-Suid-Kaap) en die VGKSA (Kaapland). Hier is tans twee poste vir maatskaplike werkers beskikbaar. Sluitingsdatum: 15 September - klik hier.
Kobus Gerber
TEN LAASTE ...

Uit die Pen van
... Kobus Gerber

VASGELOOP … EN TOG OOK NIE
Kollegas kom in vasgeloopte situasies. Dikwels meer as vasgeloop. Dertig jaar gelede bevind ek my op ʼn herfsdag ook daar. Sonder sin, uitsig of antwoord. Stom. Verlam. Ontnugter. Alleen. Hoekoms en waaroms my daaglikse narratief.
ʼn Kollega-vriend gee my op ʼn middag drie dinge. Hy lees Ps 13: jy mag hoekom en waarom en worstel – maar hou aan die Here se troue liefde vas (v6). Hy sê ʼn ou Engelse rympie: “Two behind the prison bars; the one sees mud, the other stars”. Hy lees Heb 12:1-3 teen die agtergrond van hoofstuk 11 se alles wat kan skeefloop. “Hou jou oë op Jesus”. En ʼn l(L)ig skyn.
Vandag het ʼn vasgeloopte kollega jou dalk nodig.

Dr Kobus Gerber is sedert 1 Januarie 2005 die Algemene Sekretaris van die NG Kerk se Algemene Sinode. Hy is getroud met Marti en het een dogter, Cari. Belangstellendes wat op hierdie bydrae wil reageer, kan vir hom 'n e-pos stuur na kobusg@ngkerk.org.za.
Vriendelike groete.

Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.