Seëngebed
Hierdie vryvertaling van Jan Richardson se gedig het die openingsatmosfeer vasgevang.
Soms, onverwags, voel ‘n mens verlore
Jou bekende landskap is skielik weg
Jou bekende paaie is ver en jy bevind jou op ‘n vreemde plek in jou eie storie.
Laat jouself dan toe om ‘n bietjie verlore te voel.
Vertrek in jou binneste na ‘n plek waarvan jy nie die kontoere ken nie, waarvan die kadense vir jou hart vreemd is.
Laat jou voete trap oor die drumpel van ‘n nuwe deur, selfs al weerspieël dit jou eie onsekerheid.
Wie ook al jou verwelkom, sal ‘n verrassing wees.
Maar hulle sal jou naam ken en jou verwelkom aan die tafel.
Laat dit maar gebeur.
Laat hulle jou glas vol maak, laat hulle die kerse aansteek en sien die hande raak wat jou honger sal stil.
Laat die lag toe, nooi die soetheid en die seer,
Laat die saamwees vir jou wees soos skielike, ongenooide genade.
Wat ook al gesê word, ontvang dit met ‘n oop gemoed.
Wat ook al aangebied word, neem dit met dankbaarheid.
Seën diegene wat saam met jou sit en onderneem stilweg om hulle nie te vergeet nie
Want hulle is die wat vir jou as vreemdeling plek gemaak het by ‘n tafel
En jou wou leer ken.