Subscribe to our email list
 9 September 2016

Beste Leser
SINODENUUS
1. NG Algemene Sinode Moderamen (ASM) 
Buitengewone Algemene Sinode in November

Die NG Algemene Sinode Moderamen het vandeesweek in Kemptonpark 'n buitengewone Algemene Sinodesitting van 7 tot 10 November 2016 by die NG Gemeente Pierre van Ryneveld, Pretoria goedgekeur. Die sinode sal net oor selfdegeslagverbintenisse handel en alle beswaarskrifte oor selfdegeslagverbin-tenisse moet voor 30 September 2016 by die skriba van die Algemene Sinode ingedien wees. Meer hieroor sal binnekort volg.
Daar is ook besluit dat die predikantekonferensie van April 2017 uitgestel word tot 'n latere datum. Die herskedulering van die gewone Algemene Sinode van Oktober 2017 word ook oorweeg.
Tydens die buitengewone Algemene Sinode in November sal besluit word oor 'n nuwe datum vir die predikantekonferensie en oor die moontlike uitstel van die volgende sinodesitting. Lees gerus hier meer oor die buitengewone sitting, met dank aan Neels Jackson en e-Kerkbode.
(Wes-Kaapland se verteenwoordigers by hierdie week se vergadering was: Nelis Janse van Rensburg, Frederick Marais, Quintus Heine, Bossie Minnaar, Elize Morkel, Charl Stander en Heerden van Niekerk.) 
ASM Kemptonpark
Lede van die ASM hierdie week in Kemptonpark
2. Badisa: Die GOEIE NUUS van Christelike barmhartigheid
Hier is nuus om deeglik van kennis te neem. Badisa, die NG Wes-Kaapland en VG Kaapland se gesamentlike bedieningsaksie, het op 6 September 2016 hulle jaarvergadering by Vredelust gehou. Dit was weereens 'n wysie wat helder klink!
In die woorde van Averell Rust, HUB van Badisa: "Ons werk meestal met hulle wat die lied verloor het. Laat ons die lied in gebroke en eensame mense se lewens terugbring. Ps 40: 4: 'Hy het my 'n nuwe lied gegee, 'n lofsang om ons God te prys.'" Badisa se jaarverslag vertel van dienslewering waaroor 'n mens net jou hande kan saamslaan. Dit verdien om wyd gelees en van kennis geneem te word.
Badisa Algemene Jaarverslag Badisa dienslewering statistiek
3. Welkom, Diaconia!
Die Diensgroep Armoede en Sorg het hul naam verander na Diensgroep Diaconia. Leon Venter skryf: "Die nuwe naam verduidelik beter wat die diensgroep doen. Ons bevorder die diakonaat  van die twee kerke en gemeentes. Badisa is onder die oorsig van die Diensgroep Diaconia en 'n inherente deel van die kerk se diakonaatswerk. Die woord 'Diaconia' kan verskillend vertaal word. In Grieks beteken dit primêr 'om te sorg vir mekaar,' en 'om mekaar te bedien'.
Die woorde: 'Gee van jouself' gee inhoud aan die betekenis van 'Diaconia': As diensknegte van die koninkryk van die Here Jesus Christus is ons almal geroep en gestuur om minderbevoorregtes te dien. " By www.diaconia.co.za is meer.
Diaconia
Diaconia - Simboliek
Die nuwe logo van Diensgroep Diaconia bestaan uit drie kleure: pers, groen en blou. Pers is 'n koninklike kleur wat simboliseer dat die kerk en gelowiges in diens van die koninkryk van God staan en onder heerskappy van die Here Jesus Christus.
Blou is 'n kleur wat dui op spiritualiteit, wysheid, veiligheid en hulp. Die kleur boesem vertroue in. 
Groen is 'n kleur wat dui op groei, nuwe lewe en nuwe moontlikhede. (Badisa, die welsynsorganisasie van die NG Kerk [Wes-Kaapland] en VG Kerk [Kaapland], gebruik ook die groen en blou in hul embleem.) 
Armoede en Sorg-jaarvergadering
Die Diensgroep Diaconia se Algemene Jaarvergadering, 7 September 2016
4. Teologiese Opleiding
Is ek te Oud of te Jonk vir die Bediening? 
Roeping kom na ons in verskillende fases van ons lewens. Daar was 'n tyd waarin ons gedink het dit gebeur net met ons as ons jonk is, of as skoolverlaters. Maar meer en meer mense wat ouer is, kom na voor en praat met ons oor hul roeping. Frederick Marais gesels in die onderstaande kort video verder.
Inskrywings sluit einde September. Kontak Amanda van Niekerk by 021 808 9138 of toerusting@sun.ac.za met navrae.
Is ek te oud of te jonk vir die bediening
5. NG Kerk-familie Emeriti-tee vir Gesellige Saamkuier
Die moderatuur van die Sinode van Wes-Kaapland nooi elkeen graag na 'n lekker saamkuier op Dinsdag 25 Oktober in George of Woensdag 2 November in die Strand. Beide byeenkomste begin 10:00.
Dié uitnodiging is vir alle emeriti, ook diegene wat in ander sinodes afgetree het en intussen verhuis het, sowel as dié wat die dag toevallig in die omgewing is. Weduwees van predikante is net so welkom! 
Kom kuier gerus saam - kontak Sanet (021 957 7155 of skriba@kaapkerk.co.za) voor 7 Oktober om plek te bespreek. 
Emeriti-tee Uitnodiging
6. Ons Gemeentes op Kaapkerk-webwerf
Die splinternuwe voorkoms van die sinodale webwerf, (http://kaapkerk.co.za) hou ook 'n hele paar nuwe funksies en moontlikhede vir besoekers op soek na inligting oor die kerk en bepaalde gemeentes in.
As jy gedurende Desember iewers in ons sinodale gebied uitspan en wil weet waar die kerk naaste aan jou is, kan jy klik op Gemeentes A tot Z, bloot die dorp se naam in die soekruimte intik, en kyk watter gemeentes naby is. Kontakinligting van gemeentes, met hulle webwerwe of Facebookblaaie, is ook daar beskikbaar.
Gemeentes, dit sal baie help as julle vinnig jul eie kontakinligting nagaan en laat weet indien daar enige aanpassings gemaak moet word.

Gemeentes A tot Z soekfunksie
Soek gemeentes met 'n poskode of dorpnaam
7. Jeugwerkers Retraite
Anriëtte de Ridder (PSD: Jeug- en Familiebegeleiding) bied 'n jeugbedienaars retraite aan vir kinder- en jeugwerkers, sowel as jeugleraars by Blinkwater in Hermanus op 18-20 Oktober 2016.
Sy vertel "Ons gaan wyn proe, walvisse kyk, saam kuier en goed rus. Melanie Thirion bied 'n sessie aan oor 'Hoe bly ek vars in jeugbediening?' en Pierre Goosen gesels oor 'Wat is my roeping en hoe hoor ek dit opnuut?'. Ons bespreek ook die boek You Are What You Love: The Spiritual Power of Habit."  Inligting en inskrywings by José in die Jeugkantoor by 021 808 3381 of jeug@sun.ac.za.
Jeugwerkers en jeugleraars Retraite
8. Communitas: Geloofsonderskeiding in Praktyk
Min gelowiges is vandag régtig vaardig in die eeue-oue geloofsdissipline van Geloofsonderskeiding – terwyl ons dit vandag nodiger het as ooit. Dit is ʼn integrale deel van die Christelike geloofslewe wat in die laaste aantal jare weer herontdek word. Kom skryf dus in vir die kursus Geloofsonderskeiding in die praktyk, waar jy die inoefening kan kry om vaardig te raak met hierdie dissipline (20 VBO-punte), nooi Wilma le Roux uit die VBO-kantoor. Lees hier meer.
Communitas logo
9. Sentrum vir Publieke Getuienis
Gesprek oor die toekoms van Wolseley
Die Sentrum vir Publieke Getuienis (SPG) het Maandagaand 5 September 'n gesprek op Wolseley aangebied waar die toekoms van die dorp bespreek is. Daar is onder meer gekyk na uitdagings soos rommelstrooiing, werkloosheid, drankmisbruik en dwelms, misdaad, behuising en gesinsverbrokkeling.
Positiewe planne is egter ook beraam. Die geleentheid is bygewoon deur raadslede, persone uit die besigheids- en landbousektor en ook kerklui.  Die belang van samewerking oor kerkgrense en tussen verskillende sektore is weer onderstreep. Ons sien uit na wat hierdie gesprek kan en gaan oplewer. Ons dank aan ds Wouter van Velden wat 'n groot rol gespeel het om die geleentheid moontlik te maak. Op die foto is Braam Hanekom (middel) van die Sentrum saam met sommige van die gespreksgenote. 
Wolseley gespreksgenote
Vlnr:  D Dicey, N Dicey (blou trui), D Kinnear,  N Lottering, B Hanekom, L Plaatjies (agter),
P Daniels (voor), D Viljoen en P Dicey
(Nie almal was teenwoordig toe die foto geneem is nie)
Sokkerkursus
10. Getuienisaksie
10.1 Sokkerafrigting sit bal aan die rol vir rolmodelle

Ambassadors Football, in samewerking met die Groter Tygerberg Vennootskap, bied van Ma 3 Oktober tot Vr 7 Oktober 'n vyfdag-sokkerafrigtingskursus aan.
Die kursus word daagliks van 08:30 tot 17:00 aangebied by Hoërskool DF Malan. Voornemende afrigters word opgelei om die speler se lewe holisties te impakteer deur sokkerafrigting. Getuienisaksie nooi veral gemeentes uit om voornemende afrigters te identifiseer as pa-figure en rolmodelle. Koste: R500 pp. Klik hier v
ir meer inligting of kontak gerus vir Ben Marais, wat by Getuienisaksie se Sport-en-Spelbediening betrokke is, by bmarais@ambassadorsfootball.org.
10.2. Getuienisaksie
Opwindende Publikasie sien die lig!

Dit is met groot vreugde dat Getuienisaksie hierdie monumentale boek bekendstel, wat pas in samewerking met CLF gepubliseer is (klik hier). Mission and Church in Malawi, geskryf deur prof Martin Pauw, gaan oor die geskiedenis van die Nkhoma Sinode van die Church of Central Africa Presbyterian (CCAP) van 1889 tot 1962. Kontak CLF by 021 873 6964 of info@clf.co.za
Mission and Chruch in Malawi Martin Pauw
10.3 Getuienisaksie
Alpha-werkswinkel by Oostersee

Alle lede van getuieniswerkgroepe word hartlik uitgenooi na 'n bekendstelling en werkswinkel oor Alpha. Dit vind van 18:00 tot 21:00 op Ma 12 September by die NG Gemeente Oostersee plaas. Koste: R100 pp, wat aandete insluit.
Meer as 29 miljoen mense in 169 lande het al die Alpha-kursus aangepak en dit is in 112 tale vertaal. Opsomming van die program:
Waarom evangelisasie? Het die die kerk haar hart en passie verloor om die evangelie aan ongelowiges te bring? Die aand sal aangebied word deur Fanie Heyns (RSG-kommentator en lank betrokke by Alpha) en Braam Hanekom. Vir inskrywings, kontak Dawn Erasmus by 021 957 7184 of kga2@kaapkerk.co.za
Ds EJJ (Eggie) Dippenaar
ALGEMEEN
1. Innige simpatie
Ds Eggie (EJJ) Dippenaar
14.10.1931 – 04.09.2016

Die Sinode van Wes-Kaapland spreek graag innige simpatie uit teenoor Gerhard, Annette en Marésa, die drie kinders van ds Eggie Dippenaar. Ds Dippenaar is op Sondag 4 September 2016 na ’n lang siekbed in die Hartenbos Versorgingsoord oorlede. Sy eggenoot, Connie, is in Januarie vanjaar oorlede.
’n Gedenkdiens vind plaas op Saterdag 10 September om 11:00 vanuit die AP Kerk, Brakrivier, Reebok - die gemeente waar ds Dippenaar van sy laaste preke gelewer het en vir wie hy sy toga in ’n besondere simboliese gebaar geskenk het.
Oor ds Dippenaar skryf sy kinders soos volg in 'n huldeblyk: "Ons is dankbaar vir sy voorbeeld as Christen en standvastige rotsman. Die bediening was vir hom 'n roeping en passie."
2. Ringsittings in September
2.1 Ring van Durbanville vier die Lewe by Sonstraal

"Die Ring van Durbanville het by die ringsitting op 5 September saam aanbid, saam geëet en saam gesels. Die tema was: 'Deel en vier die lewe'. Tydens die aanbidding het ons ons eenheid as kerk gevier en dit ook saam bely in die woorde van Apostoliese Geloofsbelydenis. 
Rondom die tafels het ons gesels oor die uitdagings en geleenthede wat gemeentes beleef. Ons het probeer om nie vir mekaar raad te gee nie, maar om goed na mekaar te luister en mekaar te ondersteun en bemoedig. Ten slotte het ons in 'n groot kring gestaan, hande vas gehou en saam die seën oor mekaar uitgespreek: Die genade van ons Here, Jesus Christus, die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal by julle wees. Amen. " So skryf Tinus van Zyl, voorsitter van die ring.
Vir elke gemeente van die ring is 'n simboliese kers tydens die liturgie aangesteek. Plekmatjies met die onderwerpe vir tafelbesprekings is ook aan elkeen uitgedeel.
Stephan Pretorius doen verslag oor moderamenvergadering
Ringslede luister na Stephan Pretorius, lid van die moderamen en
voorsitter van Durbanville se kerkraad
Kerse vir elke gemeente in die ring
Gemeentekerse in 'n ry
Plekmatjies met tafelbesprekings se onderwerpe
Plekmatjie met besprekingsonderwerpe
2.2 Bellville se "Reddingstou vir ons Kinders"
"Die Ring van Bellville het op 5 en 6 September 2016 vergader met die tema "'n Reddingstou vir ons kinders". Bea de Klerk, maatskaplike werker, het die ring begelei om na te dink oor hoe gemeentes die kinders en tieners in hulle midde kan beskerm en bystaan. 'n Taakspan is saamgestel om 'n protokol te skryf wat gemeentes kan aanpas vir hulle eie konteks en kan gebruik indien hulle agterkom 'n kind of tiener se welstand word bedreig."  So laat weet Wouter van Velden, ringskriba.
Ring van Bellville vergader
Die Ring van Bellville tesaam
2.3 Ring van Clanwilliam
Ringskriba Daniel van Zyl skryf vir ons oor Clanwilliam se ringsitting wat beplan word vir 11 en 12 September by die VCSV-kampterrein op Strandfontein.
"Hierdie is die eerste vergadering van die 'nuwe' ring, nadat die ringe van Clanwilliam en Calvinia een geword het. As gemeentes gaan ons saam gesels oor die NG Kerk in die Ring van Clanwilliam op die markplein. Die gemeentes in die ring val presies in drie munisipale areas en daarom gaan ons ook luister na die stem van ‘n munisipale raadslid oor waar ons gemeentes kan hande vat met die plaaslike owerheid. Ons sien uit daarna om nuwe vriende te ontmoet, maar veral om God se stem te hoor vir ons as gemeentes waar Hy tans reeds aan die werk is op die markplein". Alle seën op die byeenkoms!
Kerkgeboue in die Clanwilliam ring
Van die kerke wat deel uitmaak van die Clanwilliam ring is bo van links na regs Clanwilliam, Calvinia en Loeriesfontein. Voor vlnr is Vredendal-Wes, Klawer en Leipoldtville
Chris Barnardo en Johan Morkel
2.4 Kuilsrivier besin oor Roeping
Helené Fouché, ringskriba, vertel: "Die Ring van Kuilsrivier het Maandag- en Dinsdagaand (5 en 6 September) nagedink oor ons roeping in Kuilsrivier en hoe ons in die toekoms selfs beter om saamwerk."
Chris Barnardo het by die geleentheid 'n kierie aan Johan Morkel (albei van Kuilsrivier-De Eike) oorhandig en hom bedank vir sy besondere diens in Kuilsrivier. Dit was Johan se laaste amptelike ringsitting voordat hy aan die einde van November 2016 aftree.
Die voorsitter van dié ring is John le Roux (Kuilsrivier-Suid) en die volgende gemeentes maak deel van die ring uit: Kuilsrivier, Kuilsrivier-De Eike, Kuilsrivier-Digtebij, Kuilsrivier-Suid. Hulle vergadering was by NG Kuilsrivier.
Ring van Kuilsrivier
Agter vlnr Neels v Jaarsveld, John le Roux, Jannie du Plessis, Gideon Southey
Middel vlnr Renel Oliver, Henk Mostert, Pieter Fourie, Johan Morkel, Hannes Burger, Nico Burger, Chris Barnardo, Suzette vd Merwe, Jan Roussouw, Willie Cilliers, Nico Balters
Voor vlnr Bokkie Geyer, Daphne Jordaan, Nico Ras
2.5  Ring van Swartland Luister
"Die Ring van Swartland het van Sondagmiddag 4 September tot Maandag 5 September 2016 by Monte Video in Wellington vergader. Wat 'n belewenis om die kers te sien brand wat meer as 'n jaar terug by die Goudini-sinode ons daaraan herinner het dat God self met ons op pad is." So skryf Friedrich Claassen, ringskriba van die Ring van Swartland, na afloop van hulle ringsitting.
Onder is foto's wat tydens die sitting geneem is. Friedrich se indrukke kan hier gelees word.

Ring van Swartland vergader
Predikante Ring van Swartland
Bo: Friedrich Claassen, Bennie van Rensburg, Jacobus Snyders
Tweede ry: NJ van As, Fourie Rossouw, George Prinsloo
Derde ry: Lindi Terblanche-Claassen, Kallie le Roux,  Francois Human,
Andre Duvenhage, Theo van Zyl
Onder: Lettie Buchner,  Johan O'Kennedy
2.6 Ring van Worcester ... Eenheid die Wese van God
"Ons het die afgelope jaar of twee daadwerklik verbind tot 'n leer ken van mekaar en kontak op 'n vriendskaplike basis tussen leraars van die VGK en NGK in Worcester. Met beide ringe se ringsittings wat in die week van 4-9 September plaasgevind het, het ons gewonder oor 'n gesamentlike opening en dit is die agtergrond van hierdie historiese gebeurtenis," vertel Nioma Venter, ringsvoorsitter.
Dit het onder meer 'n spesiale kanseldeling tussen Nelis Janse van Rensburg en Pieter Grove in  die VGK Worcester-Oos, met Joh 17 as teks, ingesluit. Hier is meer ....
Leraars by Ring van Worcester
Vlnr: Di John Williams (VGK Worcester-Oos), Danie le Roux (NG Worcester-Brandwag), Nioma Venter (NG Worcester), Nelis Janse van Rensburg (NG Wes-Kaapland moderator), Pieter Grove (VGKSA Kaapland moderator), GP Kellerman (NG Worcester-Audenberg) en Malcolm James (VGKSA Worcester-Suid).
Pieter Grove en Nelis Janse van Rensburg
Pieter Grove en Nelis J van Rensburg
Malcolm James steek kerse aan
Dawid W de Villiers
3. Dawid W de Villiers Gedenklesing
Dit is met groot genoeë dat prof Hendrik Bosman, waarnemende dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch, belangstellendes uitnooi na die tweejaarlikse Dawid W de Villiers Gedenklesing.
Dit vind plaas op Dinsdag 20 September van 09:00 - 12:00 in die Hofmeyr Lesingsaal (Lokaal 2003), Fakulteit Teologie en die spreker is prof Dirkie J Smit. Sien die uitnodiging vir meer inligting - klik hier.
The Global Leadership Summit
4. Global Leadership Summit 2016
Braam Hanekom (Sentrum vir Publieke Getuienis) herinner aan die nou reeds bekende Global Leadership Summit 2016, wat op 14 en 15 Oktober 2016 in Goodwood plaasvind. Kyk 'n video met hoogtepunte van 2016 hier en skryf so gou moontlik by by www.willowcreeksa.co.za in; beperkte plekke nog beskikbaar. Dié konferensie bied besondere leierskapsontwikkeling aan predikante en andere, skryf Braam. Inligting oor sommige van die sprekers is hieronder.
Sprekers
Julie Claassens
5. Menswaardigheid en Bybelinterpretasie
Julie Claassens, professor in Ou Testament aan die Universiteit Stellenbosch, skryf in 'n bydrae vir e-Kerkbode: "As 'n vrouepredikant en Ou Testament-dosent, is ek vroeg reeds met die vraag gekonfronteer hoe 'n mens Bybeltekste hanteer wat in die verlede gebruik is om oorlog, slawerny, apartheid en ook seksisme te legitimeer."
Belangstellendes kan in e-Kerkbode lees hoe sy hieroor nadink. 
Universiteit van die Vrystaat logo
6. UV Fakulteit Teologie nooi jou ...
Is jy moontlik volgende jaar op pad Vrystaat toe? Stel jy belang om 'n dominee te word? Dan nooi die Fakulteit Teologie van die Universiteit van die Vrystaat jou om dit te oorweeg om daar te studeer. Hulle bemarkingsdokument met meer inligting is hier beskikbaar.
Kontak me Marlene Oosthuizen, programdirekteur, voor 30 September 2016 by 051 401 2617 of moosthuizen@ufs.ac.za.

7. Seisoen van Menswaardigheid
Konferensie oor Restitusie: 9 en 10 November
Ons herinner aan die konferensie oor restitusie wat op 9 en 10 November in Kaapstad gehou gaan word. Maak nou reeds 'n nota van hierdie konferensie, wat onder meer in samewerking met die Groote Kerk in Kaapstad aangebied word deur die Restitution Foundation, die Human Sciences Research Council en die Kasteel van Goeie Hoop. Navrae kan gerig word aan Deon Snyman by deon.snyman@telkomsa.net en hier is meer.   

Restitusiekonferensie
8. Hulpmiddels vir die Bediening
Wanneer ons Jesus wil volg, moet ons nie net weet wie Hy is nie, ons moet ook weet wat het Hy gesê. Wat is die sentrale boodskap, die basiese tema waaroor Jesus kom praat het?
E-Kerk se Roedolf Botha dink in die jongste van hulle reeks "60 sekonde waarhede"-video’s hieroor na. Klik op die foto om na hom te luister.
Blind-friendly park
9. Raakgelees:
Goeie nuus vir Gesiggestremdes 

"The City of Cape Town unveiled its first blind-friendly park in Bellville on Tuesday, 23 August 2016. The park has a unique design and special features, such as a scented garden and acoustic way-finding to assist children with limited or no vision to orientate themselves in this outdoor space. The park is situated between Berol Street and Beroma Crescent, within walking distance of the Athlone School for the Blind."
Met ons fokus op menswaardigheid is hierdie dalk net iets waarby 'n gemeente of kleingroep in die Bellville-omgewing betrokke wil raak ... Die Stad Kaapstad se mediaverklaring is hier en meer foto's hier. Welgedaan!
10. Seisoen vir Kom én Gaan
"In a perfect world, you wish everyone who comes to your church would stay forever. But the reality is that on this side of heaven people come and go, not just in church, but everywhere. Usually, when people leave a church, it’s because there’s a problem, a disagreement or a conflict of some kind.
But I’ve also come to realize people leave churches when things are going well. As surprising as this sounds, every time you make progress as a church, you’ll lose people. This comes as a shock to most leaders. And it can be very disheartening, especially if you don’t realize some loss even in great seasons is ‘normal’." 
Diegene wat hieroor nadink en wil lees wat Carey Nieuwhof se opinie is, klik hier.
Twitter Facebook
Prof Piet Meiring
GEMEENTENUUS
1. NG Rondebosch Vier 125 Jaar van Genade
Die NG Gemeente Rondebosch (foto onder) vier vanjaar 125 jaar van genade. Op die gemeente se verjaardag (Saterdag 10 September) bied hulle om 19:00 'n fynproewersfeesdinee aan.
Die spreker by dié geleentheid sal prof Piet Meiring wees. Beide sy pa en oupa was leraars van die gemeente. Kaartjies kos R100 per persoon en daar is slegs enkeles beskikbaar.  Lees hier meer oor die gemeente se feesvieringe, en hier oor die geskiedenis van die gemeente. Aan Jan Momsen (predikant), die kerkraad, Ester Freeman (saakgelastigde), elke amptenaar, personeellid en lidmaat: baie seën en genade vorentoe toegewens!
NG Rondebosch kerkgebou
Rondebosch se statige kerkgebou
Rondebosch-pastorie inwoners
Jan Momsen (predikant) saam met drie O'Kennedy-predikantseuns wat in die Rondebosse pastorie in Nuweland grootgeword het: André (Goudini), Johan (Swartland) en Danie (Helderberg)
2. Bellville-Vallei: Om God se wil beter te onderskei
Christo Benadé (voorsitter, Taakspan Gemeentebegeleiding) vertel opgewonde oor 'n proses vir gemeente-opbou waarby hy (namens Communitas se Taakspan vir Gemeentebegeleiding) by die NG Gemeente Bellville-Vallei betrokke is. 
Hier is 'n voorbeeld van 'n gemeente wat gevra het vir begeleiding nie omdat daar probleme is nie, maar omdat hulle God se wil en roeping beter wil onderskei. Dankie aan Kobus Swarts, die kerkraad en die gemeentelede wat so positief aan hierdie onderskeidingsproses deelneem.
Kontak Gielie Loubser (PSD: Gemeentebegeleiding) by gielie@sun.ac.za of 021 808 3265 vir meer inligting oor hierdie proses.

Christo Benadé
Christo Benade
NG Bellville-Vallei
NG Bellville-Vallei
NG Bellville-Vallei gemeentebegeleiding
NG Bellville-Vallei se kerkraad en gemeentelede deel die gemeente
se geskiedenis op hulle "Storiemuur"
3. NG Gemeente Keimoes: Eeufees!
Vir lesers met bande met die Noord-Kaap: die NG Gemeente Keimoes is vanjaar 100 jaar jonk en die naweek van 1 tot 3 Oktober 2016 vind die groot feesviering plaas.
Die Saterdag word ’n groot eeufeesbasaar en baie gewilde jaarlikse wilds- en avontuurfees by die kerk aangebied. Op Sondag vind die eeufeesdiens die oggend plaas, met verversings daarna. Die namiddag is daar ’n uitstappie na Blocuso se duin; Maandag ’n gebiedstoer binne die gemeentegrense en Dinsdag ’n omgewingstoer na Riemvasmaak en Augrabies. Besoek die gemeente se webwerf vir meer inligting.
NG Gemeente Keimoes
Jannie op pad uit Intensiewe Sorg
PREDIKANTENUUS
1. Buite aksie en buite beheer ...
Jannie le Roux dink na oor gesondheid en asemskep!

" 'Hoe maklik of moeilik is dit vir jou om beheer af te gee?' Frederick kyk my ernstig in die oë. Hierdie ene gaan ek nie kan systap nie. Hy het die Sondag spesiaal van Stellenbosch gery om my te besoek ... "
Was jy onlangs in die hospitaal om die twyfelagtige voorreg van ’n bedwassery aan jou eie lyf te ervaar? Jannie le Roux (NG Gordonsbaai) het. En het noodgedwonge beheer oorgegee ... "Alles skuif oop en toe en oop en toe soos gordyne op ’n konsert wat uit sync toetrek. Toe gee ek maar beheer oor."
Jannie is ook bekend as sameroeper van die NG Algemene Sinode se Taakspan vir Lidmaatbemagtiging. Pulmonêre embolisme, oftewel bloedklonte in die longe, het hom vir vier weke buite aksie en uitasem gehad. Hy het hierdie week weer begin werk. Die humor én erns waarmee hy oor sy ervaring skryf, maak dit beslis die moeite werd om oor elkeen van die drie dae in Intensiewe Sorg te lees! (Oorgeneem met dank en erkenning aan Jannie.) Seën en beterskap toegewens!
Pine Pienaar van Namibie tree af
Nuus uit Namibië se Feldmuis-brief. Pine is 'n oud-moderator van Namibië.
JAEI-logo
EKOLOGIE
1. Ekologie: Kalender vir September
Ons vriende by SAFCEI vestig ons aandag op die Johannesburgse Anglikaanse Omgewingsinisiatief (JAEI), wat 'n kalender met gebedsmoontlikhede, sowel as etlike belangrike gebeure vir Septembermaand beskikbaar gestel het.
Diegene wat in hierdie maand spesifiek in gemeentes of kleingroepe aan die ekologie aandag gee, kan oorweeg om te kyk watter inligting bruikbaar is vir eie gebruik. So word die derde week in September byvoorbeeld as Naionale Skoonmaakweek aangedui, terwyl 16 September die internasionale dag vir die beskerming van die osoonlaag is. Meer inligting is hier beskikbaar

Getuienisaksie-logo
2. Seisoen van die Skepping
Van David Botha (Getuienisaksie: Taakspan Ekologie) ontvang ons hierdie bydrae. 'n Oormatige fokus op die mens se waardigheid – tot nadeel van ander lewensvorme – is nie in pas met 'n gesonde fokus op die bewaring van die skepping nie. So ’n eensydige klem op die waardigheid van mense lei dikwels tot die tragiese benadeling van ander lewensvorme. (lees bv hier). Lees gerus hoe die VGKSA Sinode 2014 daaroor besluit het.
3. Water Lewe-fotokompetisie bring Troos en Lafenis
"Ter wille van haar eie oorlewing en dié van haar geliefdes, het Marí du Toit besluit sy moet iets goeds vir haarself doen, ’n passie volg ... en soggens ná ontbyt met haar kamera koers gekies rivier toe. Twee koffietafelboeke later, albei vol wenfoto’s van De Rust se watervoëls, kry ek my beskeie vriendin eindelik oorreed om aan ’n fotokompetisie, die NG Kerk Vrystaat se Water Lewe-fotokompetisie, deel te neem. En siedaar! Wenners – sy én haar foto! Lees gerus hier verder van hierdie interessante draai in die Vrystaat se fotokompetisie verhaal, met dank en erkenning aan Netwerk24.
Vrystaat Water Lewe-fotokompetisie
Enkele kategoriewenners in die Vrystaat se fotokompetisie
PUBLIKASIES
CLF - Seisoen van die Skepping: Gelowiges se rol

Die mens is deur God aangestel om te heers oor die skepping, maar wat beteken dit in die praktyk? Wat is ons rol as Christene om die skepping te beskerm en ander bewus te maak van die waarde daarvan?

Seisoen van die Skepping (Septembermaand) bied ons die geleentheid om met hernude ywer bewusmaking vir die bewaring en omgee vir die wêreld waarin ons leef, te skep. Lees hier meer oor CLF se publikasies oor die skepping.
Seisoen van die Skepping
2. LiG: Elizma Theron gesels oor Ma-wees
LiG gesels met Elizma Theron, wat op die voorblad van die Augustus-uitgawe van LiG was, oor ma-wees en om balans te vind daarin. Luister gerus in die onderstaande video na haar getuienis.
Gemeentes kan dit oorweeg om dit tydens die erediens of kollekte te vertoon – die opname duur slegs drie minute. Teken hier in om LiG eerstehandse te geniet.
Elizma Theron en LiG
KUIERKANS
Geniet elke basaar en fees! Klik op die verskillende pamflette vir meer inligting. Ons Facebook het ook inligting hieroor. 
Stellenbosch-Wes: Totius
NG Stellenbosch-Wes
17September 2016
Unashamedly Ethical A Moment in Time
NG Brackenfell-Wes
16September 2016
NG Swartland-Noord basaar
NG Swartland-Noord
24 September 2016
4. Stellenbosch Libertaskoor
Die Stellenbosch Libertaskoor tree op Sondag 18 September by Laerskool Overberg op. Die fondse wat ingesamel word, is vir die herstel van die NG Gemeente Caledon se kerkorrel. Vir navrae, kontak Mariëtte Labuschagne by 028 212 1202. Meer besonderhede is onder.
Stellenbosch Libertaskoor
VAKATURES
1. Badisa: Bestuurder Steinkopf

Huis EJ Appies en Immanuel Sentrum vir Gestremdes is programme van Badisa, ’n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-Kaapland) en VGKSA (Kaapland). Aansoeke van gemotiveerde persone met ’n positiewe lewens-ingesteldheid teenoor ouer persone en gestremdes, word vir hierdie betrekking as bestuurder ingewag.
Sluitingsdatum: 16 September 2016. Aangeheg is meer inligting.
Loeriehof Tehuis vir Bejaardes
2. Badisa: Loeriehof
Boekhouer/adminbeampte

Loeriehof Tehuis vir Bejaardes in Knysna is ‘n program van Badisa, 'n gesamentlike bedieningsaksie van die VGKSA (Kaap-land) en die NG Kerk (Wes-Kaap-land). 
Aansoeke van entoesiastiese, verant-woordelike persone word vir hierdie betrekking as boekhouer/administratie-we beampte ingewag. Klik hier vir meer inligting. Reageer voor 21 September.
e-Kerkbode-logo
Vakatures op e-Kerkbode
'n Lys van vakatures vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies is gerieflik beskikbaar in die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode.
Dit word ook via die nuwe e-Kerkbode elektronies versprei na predikante en gemeentes, sowel as ander intekenare.
Klik hier vir die jongste vakatures in die NG Kerk-familie.

Stephan Joubert
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Stephan Joubert
’n Vergete beeld vir die Christelike lewe is die "loop-beeld." Paulus gebruik dit ses keer in Efesiërs en Kolossense om te verduidelik dat ons elkeen se "loop in geloof" tot die eer van God moet gebeur. In Efesiërs 5:1 sê hy ons moet in liefde loop, soos wat God vra.
Net hierna sê hy in vers 8 ons moet as kinders van die lig loop. In vers 15 roep hy ons op om fyn te let op ons manier van loop in die Here. In Kolossense 1:10 beveel Paulus ons om waardig aan die Here te loop, terwyl hy in hoofstuk 2:6 skryf dat ons in Christus moet aanhou loop, presies soos wat ons vroeër leer loop het in Hom.
Ook noem Paulus in Kolossense 4:5 dat ons met wysheid moet loop tussen ander mense. Om reg te loop is om reg te leef. Kom ons loop en leef dan reg vir die Here.
                                                                     * * *
Stephan beskryf homself soos volg: "Ek sou wou sê ek is 'n voltydse volger van Jesus vermom as iemand met 'day-jobs' by 'n paar kerke en universiteite."  Seën op jou werk toegebid, Stephan!
"Julle moet Christus Jesus se voorbeeld volg. Soos Hy oor dinge gedink en gevoel het, so moet julle ook daaroor dink en voel. Laat ek verduidelik wat ek bedoel ..."
Fil 2:1-18, Die Boodskap
Vriendelike groete.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za