Lees deur internet, klik hier >>
30 Julie 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Van die Algemene Sinode
In hierdie videoboodskap gesels Nelis Janse van Rensburg as voorsitter van die moderamen van die Algemene Sinode oor aktuele sake wat die kerk en die breër gemeenskap raak soos die onlangse onluste, inenting, belydenis en kerkeenheid.
Boodskap van COVID-taakspan
In die lig van die COVID-19-pandemie en nuwe variante wat die virus sóveel meer aansteeklik maak, word groot verantwoordelikheid van ons gemeentes en lidmate geverg. Ons wil lidmate en gemeentes ten sterkste aanmoedig om die regulasies streng na te kom. Dit sluit in die nougesette navolging van voorskrifte ten opsigte van samekomste, die sanitasie van hande en oppervlaktes en die dra van maskers. 
Ons wil ook ‘n ernstige beroep doen op lidmate wie se gesondheid dit toelaat om hulself te laat inent. Onthou asseblief dat ons nie in die eerste plek aan ons eie gesondheid moet dink nie, maar aan dié van ander. Alhoewel Matteus 25:40 in die eerste plek verwys na voeding, is dit ook waar met verwysing na ons verantwoordelikheid teenoor andere ten opsigte van die COVID-19-virus in hierdie dae: “Die verseker Ek julle: Vir sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broers en susters van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen.”
Saakgelastigde vakature
Die pos van Saakgelastigde van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in Suid-Afrika (Sinode van Wes-Kaapland) word vakant op 1 Februarie 2022. Die sinode wag nou aansoeke om die pos van PSD (predikant in sinodale diens) in die Diensgroep vir Ondersteuningsdienste te vul.
Die sinode hoop om aansoeke te ontvang van leraars wat passievol is oor die rol van die kerk in die wêreld, maar ook oor vaardighede en kennis beskik om finansies te bestuur en ondersteuning te verleen aan ons gemeentes en bedieninge. Die sinode se belangrikste funksie is ondersteuning aan gemeentes. Daarom is dit belangrik dat die Saakgelastigde gemeentebediening verstaan en ook ‘n rolmodel is van diensbaarheid aan die Here.  
Klik hier vir die volledige posbeskrywing en -vereistes. Stuur jou aansoek as een PDF-dokument aan ngkadmin@kaapkerk.co.za. Die aansoekproses sluit op Maandag 23 Augustus om 12:00.  
Aangepaste Vlak 3-inperkings
President Cyril Ramaphosa het Sondagaand aangepaste Vlak 3-inperkings aangekondig. Hoe raak dit jou? Klik hier vir die nuutste weergawe 44895 van die Staatskoerant wat op 25 Julie gepubliseer is.
  • Die aandklokreël geld tussen 22:00 saans en soggens om 04:00.  
  • Restaurante moet saans om 21:00 sluit.   
  • Binnenshuise byeenkomste (hetsy godsdienstig, polities, sosiaal of kultureel) is beperk tot 50 mense. Plekke wat nie 50 mense veilig kan akkommodeer nie, is beperk tot 50% van hulle toegelate kapasiteit.
  • Alkohol mag verkoop word van Maandag tot Donderdag. Wynplase mag oor naweke wyn verkoop. Restaurante mag wyn bedien tot 20:00.
  • Maskers moet ten alle tye in die openbaar gedra word.  Dit is ’n misdaad om sonder ’n masker in die openbaar te verskyn.
  • Begrafnisse is wettig, maar nagwake voor en byeenkomste na ’n begrafnis bly steeds verbode. Die beperking vir begrafnisse (predikant, koster, orrelis en begrafnisondernemer ingesluit!) is net 50 mense en dit mag ’n maksimum van twee ure duur. Huwelikseremonies (beperk tot 50 mense) is toelaatbaar.
Die rimpeleffek van God se barmhartigheid
Augustus is Barmhartigheidsmaand en week een se tema is: "Soos God – ’n geskenk wat bly gee."
Barmhartigheid is ’n lewegewende daad. Geen wonder ook as mens ontdek dat die Hebreeuse woord dieselfde oorsprong as die woord ‘baarmoeder’ deel nie. In meeste gevalle is barmhartigheid die optrede wat dan ook sogenaamd teen verdienste ingaan. Dink aan die reaksie van die vader as sy verlore seun huis toe kom (Lukas 15:11-32). Barmhartigheid ontspring in die hart en aard van God self.  Hy is die Bron. Hy is die barmhartigheid vanself. Sy barmhartigheid kry juis betekenis wanneer die mens dit die minste verdien. Die Ou Testament teoloog, Walter Bruegemann, merk op dat God Homself in vyf  byvoeglike naamwoorde aan Sy volk voorstel: barmhartig, genadig, lankmoedig, vol liefde en trou. God wys sy hart op soveel plekke in die Ou Testament. Die grootste daad van barmhartigheid, genade, lankmoedigheid, liefde en trou word egter op Golgota bewys wanneer Hy sy Seun as offer vir ons sondes gee. 
Die barmhartigheid van God is ’n geskenk wat bly gee, want dit bly nie by Hom nie. Soos ’n klippie in die water, het dit ’n rimpeleffek wanneer gelowiges hul eie identiteit in God vind en uitleef.  Dan word God se kinders ’n refleksie van Homself in hierdie wêreld. Die volmaakte voorbeeld hiervan is Jesus wat net doen wat Hy die Vader sien doen (vgl. Johannes 5:19). Wat is dus die rede vir gelowiges se anderse gedrag as die wêreld rondom ons omgekeer is en vergelding skree? Waarheen wend gelowiges hulself wanneer onreg woed en die menslike instink is om net jou eie belange te beskerm? 
Klik hier https://bit.ly/3xxG10d vir 'n reeks idees, beelde, stories, narrafore, kinderoomblikke (Sakkie-video’s), kleingroepmateriaal, tuisgeloofmateriaal en Power Point-raamwerke en grafika vir die vyf Sondae in Augustus.  In die video hieronder vertel personeel van Badisa se Ruyterwacht Senior Sentrum wat mense dryf om barmhartig te wees.
Stellenbosch personeel kry nuwe e-posadresse 
Die sinodale personeel wat kantore in Stellenbosch het, het nou almal “kaapkerk” e-posadresse. Tradisioneel het die personeel van die Universiteit van Stellenbosch se e-posstelsel gebruik gemaak.  Dit het soms tot verwarring by gemeentes en lidmate gelei. 
Let dus daarop dat die @sun.ac.za nou met @kaapkerk.co.za vervang word.
In memoriam: Herman Bailey
Die Hoop en Versoening Trust (HVT) het vandeesweek 'n kosbare trusteelid weens COVID verloor. Die trustees laat weet: "Die HVT het met diepe hartseer kennis geneem van die afsterwe van Herman Bailey, een van ons lojale trusteelede. Herman het diep spore getrap onder andere by die Landelike Stigting as burgemeester van Wellington en as getroue VGK-lidmaat. Sy entoesiastiese en wyse insette by die HVT sal altyd onthou word en ons gaan hom ontsettend mis. Die Here het ons tydens die vestigingsjare van die HVT in Herman met 'n groot gees geseën. Aan Hom al die eer."
Ons innige simpatie aan sy familie en vriende.
Nuus van Help KZN
Francois Maritz van Pietermaritzburg skryf dat die meeste stof gaan lê het na die onlangse onrus en opstand in KwaZulu-Natal. "Die skole het weer oopgemaak en op die oppervlak lyk dit asof alles weer terug is na pandemie-normaal. Vra ‘n mens ‘n bietjie uit word daar vinnig agtergekom dat die angs en spanning vlak lê in almal se gemoed. Heelwat mense se lewens is diep veranderd gelaat - fisies, psigies en emosioneel.
Waarop die lig moet skyn en wat raakgesien moet word, is hoe die meerderheid mense hande vat en nader aan mekaar staan. Juis as gevolg van die krisis word dieper verhoudings gebou en word daar intensioneel nader aan mekaar geleef. Tussendeur die angs en spanning is die samewerking oor grense heen besig om die groter storie te raak. Groter as politieke beloftes of buurtwagpraatjies. Ons sal met oop hande saam staan in tye van nood."
Francois vertel ook van die groot geskenk wat hulle van gemeentes in George en Knysna ontvang het. Lees sy volledige skrywe hier.
Ons Argief: dr. Ellen Faul Smith
“Op die klam oggend van 29 Oktober 1956 hou ’n 3-ton-bakkie stil voor die twee grasdakrondawels op Ramasaga, ook genoem Shayandima – ‘plek waar daar nie geploeg word nie’. Hier, 60 kilometer van Makhado, aan die voet van die Soutpansberg, tussen die reënvlae deur, kry Nico, Ellen en die een-en-’n-halfjarige Maretha Smith die eerste vlugtige indruk van hul nuwe tuiste. Die deur staan oop ...”
So begin die storie oor dr. Ellen Faul, vrou van dr. Nico Smith, soos vertel deur hul oudste dogter Maretha Laubser. In hierdie video vertel sy meer.
Foto: Ellen in haar spreekkamer in die sendinghospitaal Tshilidzini, Venda. Sy het ook die opleidingshospitaal Khatoshelo begin.
VGKSA Nuusbrief
Die VGK vier vanjaar hul 27ste bestaanjaar. Lees gerus die jongste nuus oor ons susterskerk in hul URCSA Newsletter waar die moderator, professor Leepo Modise, met sy voorwoord hul kerknuus inlei.
Psalms, die asemhaling van die gelowige! 
Theunis Botha skryf: "Die Psalms is gebede, antwoorde op God se eerste Woord. Dis ’n gewilde Bybelboek, want dit resoneer met wat in ons harte is en gebeur. Ons hoor onsself daarin en daardeur praat, hoor soek, hoor worstel. Dis die ‘anatomie van ons siel’ en  wederwoord op God se Woord. Nie net vroom woorde van lof en aanbidding en geloof nie, maar ook vertwyfeling, aanklag en opstandigheid en verwyt – gerig aan die adres van God...en dit mag. Dit is immers by die regte adres. En jy, wanneer jy die deur van jou binnekamer agter jou toetrek. Hoe praat jy in dié dae met God, in jou binnegesprek? Hoe nader jý die adres?"
Hy nooi jou uit om jou af te sonder, uiting te gee aan jou ‘asemhaling’ deur jou eie Psalm te skryf en die vrymoedigheid te hê om dit voor die einde van Augustus te stuur aan pastor@kaapkerk.co.za
PREDIKANTENUUS
Albertinia groet le Rouxs
Marius le Roux is op 21 Januarie 1984 in Albertinia ontvang en bevestig. Na 37 jaar in die gemeente emeriteer hy op 31 Julie. Die gemeente het reeds op 20 Junie (met slegs 50 persone in die diens) van hom en sy eggenote Aletta afskeid geneem.
“Ons neem soveel kosbare herinneringe van ons bedieningstyd in Albertinia met ons saam. Ons kon in soveel lief en leed met so baie mense oor die jare deel – dit was ’n ongelooflike voorreg wat die Here ons gegun het. Daarom neem ons nie net afskeid van die bediening nie, maar van Albertinia en Gouritsmond se kosbare mense. Dié mense was vir ons oor jare genesend soos die aalwyn van die omgewing. Soet soos die fynbosheuning van die omgewing, het hulle ons telkens die soet van die lewe laat beleef as daar ook oor ons pad bitter tye gekom het. Bo alles het hulle ons knus met die warm liefde van ons Heer toegevou soos wat die dekriet steeds huise knus en warm teen die koue beskut. Ons kan maar net in dankbaarheid voor die Here staan vir die wonderlike voorreg om hier in sy bediening te kon staan.”
Marius en Aletta vestig hulle in Riversdal. Ons seënwense vergesel hulle met hulle aftrede.
NUUS VAN ONS FAMILIE IN AFRIKA
Dr. Chris Blignaut – die lig in baie lewens
Op Donderdag 8 Julie is baie van ons hier is Suid-Afrika asook lidmate van ons susterskerk in Malawi, die CCAP Nkhoma Sinode, in rou gedompel met die hartseer nuus dat die bekende oogarts van Nkhoma Hospitaal, dr. Chris Blignaut, oorlede is. Dié wonderlike oogdokter het nie net die lig van Christus uitgestraal nie, maar ook danksy sy oogwerk en katarak-operasies honderde mense weer fisies die lig laat sien. Lees meer hier.
Foto: Dr. Chris Blignaut besig om ’n pasiënt te ondersoek tydens een van hul ooguitreike in Mosambiek.
GEMEENTENUUS
Van gemeente na Dowe bediening
Andri Eloff van die Dowe Familie Kerk Worcester skryf dat die inperktyd en impak van COVID op die geestelike bediening van Dowes groot is. "De la Bat- gemeente op Worcester het gedurende die afgelope agt jaar ook groot missionale skuiwe gemaak van gemeente na bediening. Die gemeente weerspieël die diversiteit van ons Suid-Afrikaanse samelewing. Die gemeente waag dit en daag mekaar uit om nie net oor kleurgrense en/of kultuurgrense heen nie, maar ook om grense tussen mense met fisiese gestremdhede, mense met doofheid en/of gehoorverlies en DoofBlinde mense in die gemeentelike Godgevulde ruimte te ontmoet en te omhels. Ons taal is liefde, en almal, wyd en syd, vriend en vreemdeling, word na díe liefdesgesprek genooi. 
Lees gerus hier meer oor die veranderinge en uitdagings van hierdie bediening. Tradisioneel ondersteun Wes-Kaapse NG-gemeentes hierdie geestelike bediening aan Dowes deur 'n deuroffer, maar COVID het ook hier 'n beduidende effek gehad. Jy kan verseker dat hierdie interkerklike bediening (voorheen NG Kerk De la Bat-Worcester) voortgaan deur hulle direk te ondersteun. Kyk ook hier na die videoboodskap van pastoor Hennie Burger.
Ligstad Aanlynmark
Groot nuus! Ligstad Aanlynmark is eersdaags oop vir aanlynbestellings! Die bestelde produkte kan gekoerier word of dit kan by NG Gemeente Bellville-Vallei afgehaal word. Gaan asseblief na www.ligstadonline.co.za om u bestellings te plaas. Kry meer inligting oor hoe die aanlynmark werk en klik deur die produkkategorieë om te sien wat tans beskikbaar is. Volledige verskafferinligting is ook op die webblad beskikbaar.  
"Ons is baie opgewonde oor ons verskaffers wat reeds aan boord is en nooi graag nuwe verskaffers om deel te neem sodat ons ‘n groter verskeidenheid produkte kan beskikbaar stel," vertel die direksie van Ligstad. 
Ons is 'n NG Gemeente wat glo
NG Gemeente Helderberg deel hierdie boodskap van bemoediging vir hierdie tyd van onsekerheid. "Ons is ‘n NG gemeente wat glo, hoop en vertrou dat die Here ons gebruik om dissipels van Jesus te maak. As gemeente het ons duisende sendelinge wat elke dag oral waar ons beweeg die boodskap van Christus verkondig. Hy is ons fondament." 
EKOLOGIE
Julie, die maand van aktivisme teen enkelgebruik-plastiek
Wil jy ook soms die mure uitklim as jy sien hoe lyndrade en bosse langs die pad besoedel is met plastieksakke? Die moedeloosheid oorweldig jou, veral as jy sien dat daar diere in die omgewing wei. Maar daar kan iets aan gedoen word, soos in baie van ons Afrika-lande waarvan Kenia ’n baie goeie voorbeeld is. Begin sommer by jouself. Ons almal kan dadelik begin om ’n reuse-verskil te maak deur onmiddellik alle verpakking met enkelgebruik-plastiek te weier. Word so ’n aktivis van enkelgebruik-plastiek.
Eetbare bakkies
As deel van hulle veldtog om Plastiekvrye Julie te ondersteun, kyk die webwerf GoodThingsGuy na maatskappye wat besig is om 'n daadwerklike verskil te maak. Navorsing wys dat slegs 16% van Suid-Afrika se plastiek tans herwin word.
Onlangs het Munch Innovation onder hulle aandag gekom met die eetbare bakkies wat hulle vervaardig. Die bakkies word gemaak van organiese produkte soos klipgemaalde meel, kanola-olie en rooibosekstrak en is spesiaal gemik op die kos- en spyseniersbedrywe om enkelgebruik-plastiekhouers te vervang. Lees die res van die storie hier
TOERUSTINGSGELEENTHEDE
Kursus in brugbediening
Die Sentrum vir Geloof en Gemeenskap van die Universiteit van Pretoria begin eersdaags met hierdie kursus wat poog om brugpredikante op te lei om die oorgangsperiode in gemeentes te fasiliteer tot voordeel van die gemeente. Die kursus word oor twee weke aangebied: 8 - 11 November en 21 - 24 Februarie 2022.
Kontak vir Hesmarie Bosman by 012 420 4952 of Hesmarie.Bosman@up.ac.za vir meer inligting. 70 VBO-punte kan verdien word.
Kom ons lees die Bybel
Jy word uitgenooi na die tweede van ‘n reeks aanbiedinge oor die lees van die Bybel. In hierdie werkswinkel word daar gefokus op die eerste brief van Petrus met die tema: Hoe lyk ‘n Diaspora Identiteit vir ‘n Missionale Kerk? Die aanlynsessies word op 11 - 12 Augustus van 09:00 – 16:00 deur Leon Westhof aangebied. 20 VBO-punte word toegeken. Klik hier om aanlyn in te skryf. Stuur bewys van betaling aan Rika by excelsus@up.ac.za.
Skryf nou in vir gedenklesing
Die tweede Mary-Anne Plaatjies-Van Huffel gedenklesing vind op 12 Augustus aanlyn plaas. Sien bostaande grafika vir meer inligting. Klik hier om teen 10 Augustus te registreer.
Integriteit en goeie regering?
Hugenote Kollege en Civinovus se nuutste digitale kursus plaas die soeklig op integriteit, konstitusialisme en regering. Daar word onder andere gekyk hoe huidige kwessies en vraagstukke hanteer kan word. In die video vertel Erwin Schwella van die Skool vir Sosiale Innovasie meer oor die kursus. Klik hier om te registreer. 
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Assistent verpleegkundige, Kuilsrivier
Huis de Kuilen in Kuilsrivier wag aansoeke in van entoesiastiese, verantwoordelike en gemotiveerde persone vir hierdie betrekking. Minimumvereistes sluit in: registrasie by SA Raad vir Verpleegkundiges, toepaslike ondervinding, kennis van versorging van bejaardes, bereidwilligheid om skofte te werk en goeie menseverhoudings. Aansoeke sluit 30 Julie. Klik hier vir meer inligting. 
Bestuurder, Citrusdal
Ons Huis in Citrusdal vra gemotiveerde persone met ‘n positiewe lewensingesteldheid teenoor bejaardes om aansoek te doen vir hierdie pos. Die ideale kandidaat beskik oor ‘n naskoolse kwalifikasie en die vermoë om ‘n span te lei en te motiveer. Kennis en ervaring van personeel- en finansiële bestuur, arbeidswetgewing, fondswerwing en bemarking asook rekenaarvaardigheid is verdere vereistes. Moet oor ’n geldige rybewys beskik. Aansoeke sluit 20 Augustus. Lees die volle vakature hier
Bestuurder, Ruyterwacht
Ruyterwacht Senior Sentrum beskik tans oor hierdie vakature. Die ideale kandidaat het 'n kwalifikasie in maatskaplike werk, 'n geldige rybewys en sterk leierseienskappe. Minstens drie jaar se ervaring in ‘n bestuursposisie sal as sterk aanbeveling dien. Aansoeke sluit 6 Augustus. Lees meer hier
Maatskaplike hulpwerker, George
Die Beheerraad van Badisa George wag dringend aansoeke in vir hierdie betrekking. Die volgende word as vereistes gelys: geakkrediteerde kwalifikasie in Maatskaplike Hulpwerk, registrasie by die Raad vir Maatskaplike Diensberoepe (SACSSP), geldige bestuurderslisensie en rekenaarvaardigheid. Aansoeke sluit 5 Augustus. Lees die volle posbeskrywing en vereistes hier
Maatskaplike werker, George
Badisa George vra persone met 'n graad of diploma in maatskaplike werk om aansoek te doen vir hierdie pos. Die ideale kandidaat beskik oor ‘n geldige bestuurslisensie, is tweetalig (Afrikaans en Engels) en het kennis van statutêre prosedures t.o.v. die Kinderwet. Registrasie by die Raad vir Maatskaplike Diensberoepe is verpligtend. Aansoeke sluit 5 Augustus. Lees die volle advertensie hier

Eredienskoster, Gordonsbaai
Gordonsbaai-gemeente beskik oor ‘n vakture vir ‘n eredienskoster vanaf 1 September 2021.
Primêre pligte behels die voorbereiding van die gebou en toesighouding vir alle eredienste op Sondae sowel as Goeie Vrydag, Hemelvaart, Pinkster en Kersdag asook huwelike, begrafnisse en funksies. Die geskikte kandidaat moet ook hulp verleen tydens gemeentefunksies en rekenaarvaardigheid is 'n vereiste.
Kontak Sanette Strydom by ngkgordonsbaai@absamail.co.za vir meer inligting oor die posvereistes en verantwoordelikhede. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 31 Julie 2021. 
Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Lees Arbeidsbediening se jongste nuusbrief hier.
Inclusive & Affirming Ministries share their latest news.
PUBLIKASIES
Nuut op die rak
Freek Swanepoel se boek Die Eerste Tree gee belangrike historiese inligting oor die veranderinge vir die kerk in die demokratiese  Suid-Afrika sedert 1994.  Swanepoel was moderator van die opspraakwekkende Algemene Sinode van die NG Kerk in 1994; wat deur president Mandela toegespreek is en bekend gestaan het as Die Sinode van Versoening. Oor die tydperk tot 1998 skryf hy  onder andere oor Johan Heyns, ekumene, die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke, kerkeenheid, skakeling met die owerheid en die Waarheids- en Versoeningskommissie.
"Swanepoel gee ’n kykie op die  treë wat hy saam met die NG Kerk op hierdie pad gegee het. Dit is belangrik om kennis te neem van hierdie eerste treë, om die huidige stand van die NG Kerk in Suid-Afrika te evalueer.  Dit behoort belangrik te wees vir die lidmate van die NG Kerk wat die betrokke historiese momente beleef het en  vir jonger lidmate en studente wat na daardie tydperk gebore is,  kan dit help om die kerk waarvan hulle tans deel is, beter te verstaan."
Die publikasie is in die CLF aanlynwinkel beskikbaar. 
Hoogtepunte uit Kerkbode
Ras en versoening: “Die onlangse geweld en onrus in ons land bied ’n uitnodiging vir lidmate van die NG Kerk om opnuut saam te leer oor ras en versoening. 
Die Versoen Leergemeenskap, ’n beweging wat onlangs deur die Sinode van Wes-Kaapland se Taakspan vir Ras en Versoening begin is in samewerking met die Algemene Sinode (AS) se Taakspan vir Versoening en Identiteit, is besig om te leer waarom ons eksplisiet oor ras en witheid moet bly leer,” skryf dr. Louis van der Riet. Lees hier meer.
ALGEMEEN
Lewensruimte voorsien toevlugsoord
Die Nasionale Instituut vir Dowes se volwasse sorgafdeling, Lewensruimte, vier op 1 Augustus hul 43ste bestaansjaar. Hier vind volwasse Dowes met meervoudige gestremdhede nie net ‘n heenkome nie, maar kry hulle ook die geleentheid om hulle as volwaardige lede van die breë samelewing uit te leef.
Ds. Gawie de la Bat het in 1935 die versoek gerig dat aandag gegee moet word aan die versorging van meervoudig-gestremde Dowe volwassenes. In 1946, is ‘n plaas 10 kilometer buite Worcester aangekoop met die doel om huisvesting en werksgeleenthede aan meervoudig-gestremde Dowes te verskaf. Vandag, 43 jaar later, is dit steeds ‘n terapeutiese omgee-gemeenskap wat volhoubare sorg-, ontwikkeling- en terapeutiese programme bied aan volwasse meervoudig-gestremde Dowes en dowe persone met spesiale behoeftes in residensiële sorg en beskermde werkswinkels. Lees die volledige storie hier.
Raakgelees: Liefde vir SA
'n Groep Suid-Afrikaners (John Armstrong, Mark De Klerk, Kennedy John, Cara Saven, Elvis Chikata en Dylan Joseph) het verlede week ‘n groot "We Love You South Africa"-banier teen Tafelberg gehang in ‘n poging om ‘n boodskap van liefde te midde van onrus uit te dra. 
“Ons is een, ons is Suid-Afrikaners. Ons deel mekaar se verliese en vier mekaar se oorwinnings. Ons is verenig. Ons is saam sterk.” 
Die groep vriende het 04:00 die oggend opgestaan om die banier van 30 kilogram berg op te dra met die hoop dat die boodskap oor die hele land sou weerklink. Maar hulle wil nie hê die banier moet net op een plek vasgemaak word nie! Hulle vra Suid-Afrikaners om te help om hierdie boodskap van hoop soos ‘n veldbrand te versprei. Stuur 'n e-pos aan raquel@semperfortis.co.za as jy wil hê die banier moet jou dorp/area ook kom besoek.
KUIERKANSE
Klik op grafika vir bestelvorm.
TEN LAASTE
Ons dink hierdie week spesiaal aan al ons leerders en onderwyspersoneel wat terugkeer skool toe. Mag dit 'n produktiewe en veilige kwartaal wees. Mag julle krag en ondersteuning put uit die liefde van Jesus Christus. Hierdie weergawe van Christ Alone deur Lauren Daigle word aan julle opgedra.
Die Wes-Kaap het ook vandeesweek die 1-miljoen merk met inentings gehaal. Ons moedig graag ons lesers aan om ook op hierdie manier by jou gemeenskap betrokke te raak. Maak seker dat jy registreer vir jou inenting - dis nou oop vir almal bo 35. En as jy weet van ouer persone wat nog nie geregistreer is nie, help hulle met die proses en om by inentingstasies uit te kom. Hiermee beskerm jy nie net jouself nie, maar ook jou geliefdes, jou kollegas en jou gemeenskap.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.