Lees deur internet, klik hier >>
29 Januarie 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Uit die moderatuur
Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen van die NG Kerk in Suid-Afrika, bring die volgende boodskap van "Troos en hoop vir vreesbevange, vermoeide en radelose mense vir 2021." In die video (onder) gesels hy oor die besondere uitdagings wat ons tans ervaar, hoe ons grense van veiligheid deur omstandighede geskuif word en hoe ons as gelowiges die nuwe jaar tegemoet kan gaan met hoop, moed en krag.
Klik ook hier om die volgende video in die reeks te sien wanneer die kwessie van eenheid in die NG Kerk aangespreek word. "Ons eenheid is in ons verbondenheid aan Christus, die Here. Daar word ook gesprekke gevoer om die meningsverskille te hanteer. Saam bid, werk en hande vat is nou ons beste opsie."
Publieke Getuienis in Afrika
Verlede jaar is die monumentale boek African Public Theology met Sunday Bobai Agang as hoofredakteur en Dion Forster en Jurgens Hendriks as mede-redakteurs gepubliseer. Dié projek is geïnisieer deur NetACT, deur hulle gepubliseer en bekendgestel aan al die teologiese instellings wat NetACT-lede is. Dit sluit ook al hul teologiese skole in. Die kern van die boek gaan oor dat ons as Christene op hierdie kontinent ernstig moet besin oor die Afrika wat God wil hê; ons moenie die onontbeerlike rol wat die Kerk moet speel om ons geloofsgemeenskappe hierin te lei, onderskat nie.
Daar is nog enkele boeke beskikbaar teen 'n spesiale prys van R150 by Getuienisaksie se kantoor by Maturia Sentrum, Pastoriestraat 11, Bellville. Die boek kan ook teen R350 aanlyn by CLF bestel word.
Die boek word vanaf 4 Februarie in ‘n program van vier sessies op opeenvolgende Donderdae aangebied. Kyk hier na die videobekendstelling van die program. Die registrasiedatum is uitgestel na 1 Februarie. Klik hier om te registreer.
Kameras, gereed, aksie!
Maak julle gemeente videogrepe (buiten aanlyn- eredienste) wat vars en eietyds is? Is daar 'n blog, vlog of YouTube kanaal wat relevante, aktuele inhoud bied? Of is jy gereed om jou stem te laat hoor? Ons is op soek na medewerkers om inhoud met teologiese integriteit beskikbaar te stel of te skep vir 'n nuwe platform gemik op die jonger generasie. As jy belangstel om betrokke te raak of jou oog op interessante inhoud het, stuur gerus die inligting of 'n skakel na kommunikasie@kaapkerk.co.za vir oorweging.
Ras en Versoening
Die Versoen Leergemeenskap nooi predikante en gemeenteleiers uit na ‘n kontekstuele pelgrimstog met rasversoening. 
In die hart van die lydensweg saam met Christus is die uitnodiging om ons kruis(e) op te neem. In hierdie 40-dae aanlynreis wil ons saam ontdek hoe so lydensweg lyk vir wit Suid-Afrikaners, vandag. Hierdie reis wat ons as ‘n virtuele pelgrimstog aanpak, vorm deel van ‘n weg na diep versoening. Dit is ‘n uitnodiging om as gemeenteleiers saam te ontdek wat dit beteken om belydend en met waagmoed die historiese kruise op te neem wat met witheid gepaard gaan. Dit is 'n pelgrimstog op weg na Opstanding, met hoop!
Die 7-weke reis skop af met ‘n aanlynbyeenkoms op Sondag 14 Februarie om 19:00. Die 40-dae program is gemik op predikante en gemeenteleiers. Beperkte aantal plekke beskikbaar en deelname is gratis. Klik hier om in the skryf.   
Louis van der Riet (versoen.africa@gmail.com) kan gekontak word indien daar enige navrae is. 
Youth, race and inequality
The Faculty of Theology at the University of Stellenbosh is hosting a colloquium on youth, race and inequality among young adults in South Africa on 4 February (online via Microsoft Teams). Please confirm your attendance with Marita Snyman (maritasnyman@sun.ac.za) by Tuesday 2 February to receive the MS Teams link. 
DinkJeug Wenk van die Week vir Leraars
Anriëtte de Ridder vertel dat meer as 100 leraars vir die DinkJeug Wenk van die Week ingeskryf het en die eerste e-pos is Maandag 27 Januarie uitgestuur. “Die reaksie was oorweldigend en ons is opgewonde om op hierdie wyse leraars en jeugwerkers te ondersteun in hulle bediening aan families en die jeug in 2021.”
Die e-pos sal weekliks die volgende insluit: 'n intergenerasionele wenk om in die erediens te gebruik; ‘n skakel na die Familie Tuisblad wat in die bulletin gebruik kan word of per WhatsApp uitgestuur kan word; inligting oor die komende week se Dinkjeug Familie App tema en skakel om met families te deel; ‘n skakel na die DinkJeug podcast om kategete mee toe te rus asook nog hulpmiddels om te gebruik in jou bediening.
Leraars, diensleraars en jeugwerkers kan hier klik om op die e-pos in te teken. 
Help maak ‘n verskil daar waar jy werk
“Pak jou hout daar waar die vuur reeds brand,” verduidelik Ilse Maartens die motivering vir die vennootskap wat daar al ‘n geruime tyd tussen MES en Arbeidsbediening bestaan. Albei hierdie organisasies fokus daarop om mense geestelik toe te rus en te bemagtig om hul lewens in hul plekke van werk met Christelike waardes betekenis te help gee. In die proses word daar dan soms gehelp met personeel as daar kapasiteitsprobleme ontstaan, soos in die geval van Collins Bomali van Arbeidsbediening wie se kundigheid tans in diens van MES aangewend word. Klik hier om meer te lees. 
#100 Dorpe Dialoog - gebrek aan sosiale kohesie in Suid-Afrika
2020 was ‘n jaar wat niemand sien kom het nie en ook nie kon voorspel het nie. COVID-19, droogtes, die ekonomie en werkloosheid, uitdagings vir die kerk en gemeentes en les bes, kwynende sosiale kohesie in ons land, het ons bykans verlam. 
Daarom het die Sentrum vir Publieke Getuienis ‘n stukkie gereedskap ontwikkel wat gemeentes sal bemagtig om saam eenheid en sosiale kohesie in die land te bou. Die sentrum gaan oor die verloop van 2021 hierdie hulpmiddel in kleiner, meer verteerbare eenhede beskikbaar stel. Volg gerus hulle blad op Facebook om op hoogte te bly van hierdie projek. Braam Hanekom vertel in die video onder meer hieroor. 
Compassion Fatigue
Cas Wepener will facilitate the second and third webinars in the series on compassion fatigue with panelists Etienne van der Walt, Marileen Steyn and Pieter van der Walt. Register here for the discussions taking place on 16 and 23 February.
Nuus oor #imagine local 2021!
Die visie om jong SA met hoop te inspireer is nou, meer as ooit tevore, te midde van die COVID-19-pandemie, uiters relevant. #imagine beplan om hierdie jaar ‘n kleiner, plaaslike vorm aan te neem met een-dag byeenkomste in verskillende dorpe dwarsoor die land op Saterdag 10 April 2021. Gemeentes op een dorp of in een area sal kan saamspan om só ‘n geleentheid te reël. ‘n Volledige pakket met inhoud, sowel as deurlopende ondersteuning sal deur #imagine gegee word.
Ons nooi predikante of jeugleiers uit na die volgende inligtingsessie wat op Dinsdag 2 Februarie van 10:00 - 12:00 op Zoom sal plaasvind. Stuur asseblief 'n e-pos aan Johan Botes by sondagoggend@gmail.com om 'n skakel vir die Zoom-sessie te ontvang.
EKOLOGIE
Neem deel aan ons opwindende eko-kompetisie!
Ons Groen Span is deel van die ekumeniese projek #together4creation en loods hiermee 'n eko-kompetisie voordat die skole weer heropen. Kry daardie kreatiewe brein van jou in rat en neem deel. Herbruik of herbenut iets wat jy sou weggooi en skep iets nuuts daarmee, neem 'n mooi foto daarvan en pos dit op jou Facebook of instagram en merk dit #together4creation of #repurpose. Ons sien uit na wat julle gaan skep. Boonop is daar lekker pryse te wen, soos boeke wat jou leer van tuinmaak, groentesade en nog vele meer. Laat waai, ons hou jou inskrywings dop! Kyk die video onder en kom meer te wete oor die kompetisie. 
Wêreldvleilanddag – 2 Februarie
2 Februarie word elke jaar gebruik om wêreldwye bewusmaking te doen oor die belangrike rol wat vleilande vir mense en ons planeet speel. Die tema vir 2021 is: Wetlands and water.
Wetenskaplikes beraam dat ongeveer 64% van die wêreld se vleilande sedert 1900 verdwyn het. As gevolg hiervan word miljarde mense regoor die wêreld die toegang tot vars water ontneem. Vloedbeheer, koolstofopberging en tradisionele vleilandondernemings word ook negatief hierdeur beïnvloed.
Lees meer oor die belangrikheid van vleilande hier of klik hier vir ‘n lys van maniere waarop jy en jou gemeenskap hierdie dag van bewusmaking kan vier. 
NUUS VAN ONS FAMILIE UIT AFRIKA
Sikloon Eloise: Vennootskappe-hulp in Mosambiek
Soos ons die afgelope week gesien en gehoor het, is die sentraal-oostelike kusgedeelte van Mosambiek, veral hier rondom Beira, swaar deur Sikloon Eloise getref. Alhoewel dit nie dieselfde graad van verwoesting as Sikloon Idai (2019) tot gevolg gehad het nie, het dit baie mense in oorlewingsnood laat beland, veral ten opsigte van die beskikbaarheid van basiese oorlewingsmiddele, soos kos, watersuiwering, ens. Getuienisaksie in samewerking met die Gesamentlike Sendingkommissie vir Mosambiek in vennootskap met Mercy Air wat hul hoofkantoor in Witrivier, Mpumalanga het, kan in hierdie noodsituasie ‘n groot bydrae help lewer. Mercy Air is reeds besig en het in die verlede groot hulp verleen aan ons geloofsfamilie in Mosambiek, die IRM, in tye van nood. Hulle ondersteun deur kos ens. per vliegtuig aan onbereikbare areas te voorsien. Aangesien dit moeilik is om tans weens COVID-regulasies fisies daar te gaan help, sal finansiële ondersteuning meer prakties wees. Kontak Kobus Odendaal by missio@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
Foto: Dr Miguel Nobre, Algemene Sekretaris van die Sinode Mphatso, IRM, ons susterskerk in Mosambiek, het Saterdag hierdie foto van ‘n straat in Beira gestuur.
GEMEENTENUUS
Gemeenteverjaarsdae in Januarie
Veels geluk aan die onderstaande gemeentes wat in Januarie hulle bestaansjare vier. As enige van die onderstaande datums nie korrek is nie, stel asseblief die Kerkargief in kennis by argief@kaapkerk.co.za. 
Gemeentekalenders
Dankie aan die volgende gemeentes wat hulle kalenders vir 2021 deurgestuur het: Hartenbos, Kenridge, Merweville, Parowvallei-Oos, Prins Albert, St Helena, Wellington-Noord en Welgemoed. Vlak 3 regulasies van die nasionale inperking is tans in plek, maar hou ons gerus op hoogte by kommunikasie@kaapkerk.co.za van digitale byeenkomste en kuierkanse wat julle beplan. 
Uitsig se huwelik- en verhoudingsbediening
Hierdie bediening van Uitsig-gemeente ondersteun leraars met huwelikskategese, huweliksvoorbereiding en huweliksverrykingsprogramme vir persone wat gaan trou.  Huweliksvoorbereiding word vir individuele paartjies of in groepe aangebied.
Vir meer inligting, kontak Francois Swart by 082 781 6854.
Piketberg bedank gesondheidswerkers
Die vrouediens van Piketberg-gemeente het op 'n besondere wyse hulde gebring aan die gesondheidswerkers op die dorp. 'n Spesiale gebed (lees hieronder) is geskryf en in die vorm van 'n boekmerk saam met 'n handgemaakte hart uitgedeel om die 112 personeel by die hospitaal, kliniek, ambulansdiens en spreekkamers in die dorp te herinner hoe kosbaar hulle vir die gemeenskap is.
Liewe Vader, ons dank U vir elke gesondheidswerker.  
Ons bid dat U elkeen sal omvou met U oneindige liefde 1 Kron 16:34).   Wil U hulle elkeen beskerm en bewaar teen die COVID-19 virus.
 As omstandighede hulle oorweldig, ontferm U oor hulle en gee hulle moed sodat hulle ook ander kan bemoedig (2 Kor 1:3).
 As hulle werklading te veel raak en hulle moeg raak, gee hulle nuwe krag om aan te gaan (Jes 40:31).
 Wanneer hulle voel dat hulle nie ‘n verskil maak nie, maak hulle opnuut bewus van hulle roeping en dat hulle nou daar is waar U hulle nodig het (Jer 29:11).
 Bo alles Here, gee hulle vrede (Fil 4:7). Lei hulle harte en gedagtes, hulle dade en woorde só dat hulle ander hoop sal gee.
 Dankie vir U belofte dat U oral by ons is waar ons ook al gaan (Jes 1:9).  Amen
Vredelust Worship
Die gemeente van Vredelust se musiekgroep, Vredelust Worship, se eerste enkelsnit Wolke is nou beskikbaar op hulle splinternuwe Youtube-kanaal.
“Dit is met groot opgewondenheid dat gelowiges kan uitsien na Jesus se tweede koms. Dit is waaroor die enkelsnit 'Wolke' gaan, die vooruitsig dat Jesus terugkom om sy bruid te kom haal,” vertel Vredelust Worship.
Klik op die skakel onder om na die liedjie te luister. Onthou om die subscribe knoppie te druk om op hoogte te bly van die groep se jongste musiekvertonings. 
Brackenfell-Wes kospakkieprojek 
Die gemeente van Brackenfell-Wes laat weet dat hulle kospakkieprojek van 2020 uitstekend verloop het. Hulle kon vir 134 gesinne oor 'n tydperk van 10 maande ondersteun te danke aan donateurs wat mildelik kos geskenk het.
“Die kosnood is op Vlak 3 van inperking nog net so groot. Met aandklokreëling dat restaurante 21:00 moet sluit, het baie mense hul werk verloor. Dié wie reeds verlede jaar werkloos was, sukkel nogsteeds om op hul voete te kom. COVID-19-gevalle het name geword in plaas van getalle.
Daarom beplan ons weer 'n Drive-Thru op 30 Januarie vanaf 15:00-16:30 om sodoende te probeer kos op behoeftige gesinne se tafels te sit. Maak asseblief jul harte en hande oop. Help voed 'n behoeftige gesin. Jou beloning is die blydskap dat jy kon help voorsien.”  
Enige donasies is welkom.
PREDIKANTENUUS
Riviersonderend is bedrywig
Die gemeente van Riviersonderend neem na 34 jaar afskeid van Kobus Pretorius en sy vrou Joanie. Kobus was nou betrokke by die strukture van die ring en het as leraar van Riviersonderend onder andere gedien as skriba en voorsitter van die ring van Caledon onderskeidelik.  Hy was ook betrokke by Badisa, waar hy jare lank gedien het as voorsitter.  Die Overberg Tehuis vir bejaardes sal hom ewig dankbaar wees vir die diens wat hy ook daar gedoen het as voorsitter van die beheerliggaam.
Johan Orsmond het vandeesmaand die leisels oorgeneem - slegs die sesde predikant in die 99-jaar geskiedenis van die gemeente. Oorspronklik van Germiston, het Johan die beroep vanaf Somerset-Oos aanvaar. Hy doen reeds die virtuele preke, beplan en droom saam met die kerkraad oor hoe om die uitdagings van COVID-19 te oorkom. 
In die foto (van links na regs) is: Joanie Pretorius, Tamryn Orsmond met hulle seuns Joshua en Johan, Johan Orsmond en Kobus Pretorius.
Volgens Schalk Viljoen sal daar amptelik afskeid geneem word van die Pretorius egpaar en sal Johan Orsmond amptelik bevestig word, sodra die huidige inperkings opgehef word. Lees sy volledige skrywe hier
Ons seënwense vergesel beide families.
Parke neem afskeid van Louis van der Riet
Charl Stander van Parke-gemeente skryf dat hulle spyt is dat Louis van der Riet se internskaptermyn in die gemeente tot 'n einde kom: "Louis het in die twee jaar wat hy predikant was in die gemeente 'n betekenisvolle bydrae tot die bediening gelewer. Hy het nie gehuiwer het om sy "hande vuil" te maak nie en het veral hard gewerk in die gemarginaliseerde deel van die samelewing. Sy bydrae tot die gemeente se barmhartigheidsuitreike en ondersteuningsprogramme sal verseker gemis word. Verder is daar groot waardering vir sy kreatiewe vaardighede en innoverende denke as leier. Louis is 'n afgeronde predikant met 'n geloofwaardige getuienis en hy is regtig lief vir die Here en lief vir die kerk. My gebed is dat hy spoedig weer aan 'n gemeente gebind sal word en dat hy 'n geseënde bediening sal hê." Louis sal sy afskeidspreek eerskomende Sondag digitaal lewer.
Ons wens vir Louis voorspoed toe met sy reis vorentoe. 
Bellville-Wes verwelkom Karlie Liebenberg
Karlie Liebenberg begin in Februarie haar internskap by die gemeente van Bellville-Wes. Sy laat weet dat sy baie opgewonde hieroor is: "As gevolg van die vreemde tye en die chaos waarin ons leef, sal my bevestiging eers plaasvind sodra kerkgeboue weer kan oopmaak vir eredienste. Ek sal wel my intreepreek op 7 Februarie aanlyn doen. Ek het my praktiese jaar onder die mentorskap van Peet Bester by Franschhoek-gemeente gedoen en kan met eerlikheid sê dat ek as mens baie geleer en terselfdertyd gegroei het - 'n waardevolle leerskool.
Pastorale werk, prediking en gemeen­skaps­ontwikkeling is my passie. Die menswaardigheid van elke liewe individu is vir my ongelooflik belangrik. Ek sien uit om saam met die hele Bellville gemeenskap 'n pad te stap, ruimte te skep vir storievertelling, mense te help om te floreer en om kerk te wees soos ons daarvan in Handelinge 2 lees."
Beste wense vir jou bediening in Bellville.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Mede-leraarspos: Groote Kerk, Kaapstad
NG Kerk Kaapstad (Groote Kerk) wag aansoeke in vir 'n leraar wat in 'n span kan saamwerk om die kerkraad en gemeente te lei in die uitleef van hulle visie. Verantwoordelikhede van die suksesvolle kandidaat sal onder andere begeleiding, versorging en uitbreiding van die gesinsbediening, gesinsgeoriënteerde prediking en toerusting sowel as pastorale versorging en ondersteuning van lidmate insluit. Kry die volledige posomskrywing en leraarsprofiel hier. Aansoeke sluit 31 Januarie.
Bestuurder: Boston, Bellville
Die Alta Du Toit Nasorgsentrum in Boston, Bellville adverteer tans die pos vir 'n bestuurder. Die geskikte kandidaat moet kritieke leierskap vir die sentrum lewer en het 'n wye portfolio van verantwoordelikhede, wat onder meer programbestuur, finansies, personeel en bemarking/kommunikasie insluit. 
Klik hier vir meer inligting oor poskriteria. Aansoeke sluit op 15 Februarie.
Stafverpleegster: Boston, Bellville
Alta Du Toit Nasorgsentrum het ook tans 'n vakature vir 'n geregistreerde verpleegkundige. 
Die aangewese kandidaat moet geregistreer wees by die SARV as Professionele Verpleegkundige/Stafverpleegster. Bewese ervaring in die verpleging van intellektueel gestremde persone is 'n vereiste. Klik hier vir posbeskrywing en -vereistes. Aansoeke sluit op 3 Februarie.
Voedseldiensbestuurder: Vredendal
Vredendal Tehuis vir Bejaardes adverteer 'n betrekking vir voedseldiensbestuurder. 'n Toepaslike nagraadse kwalifikasie en ten minste drie jaar soortgelyke werksondervinding sal 'n aanbeveling wees. Klik hier vir meer inligting. 
Maatskaplike Werker: Bellville
Badisa Trio het ‘n voltydse betrekking vir ‘n maatskaplike werker om kinderbeskermingsdienste te lewer in die Bellville kantoor. ’n Graad of diploma in Maatskaplike Werk en registrasie by die Raad op Maatskaplike Diensberoepe word vereis. Klik hier vir meer inligting. Aansoeke sluit op 15 Februarie.
Finansiële bestuurder: Eversdal
Die Stellenberg-gemeente beskik oor ’n vakature vir ’n finansiële bestuurder. 'n Tersiêre finansiële kwalifikasie, asook bewese ondervinding is vereistes. Diensaanvaarding: 1 April 2021. Stuur ’n volledige CV met ID-dokument voor 12 Februarie 2021 om 12:00 na stellenberg@stellenberg.co.za. Sluit ook ‘n dekbrief in waarin u motiveer waarom u aansoek doen vir die pos. 
Die volledige posbeskrywing kan ook by die e-posadres aangevra word.
Toesighouer - Kliniese pastorale sorg: Tygerberg
HospiVisie beskik oor 'n deeltydse pos vir 'n toesighouer: kliniese pastorale sorg by Tygerberg hospitaal.
 ‘n Meestersgraad in Kliniese Pastorale Berading of Praktiese Teologie van ‘n erkende instelling is noodsaaklik.
Toepaslike ervaring en vertroudheid met die NRO- en gesondheidssektor sal as aanbeveling dien. Klik hier vir meer inligting.
Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Klik bo vir Inclusive & Affirming Ministries se Januarie nuusbrief.
Kry die jongste nuus van CLF hierbo.
Klik bo vir KIXpirasie in hulle eerste nuusbrief van 2021.
PUBLIKASIES
Together in God's Theatre
Ian Nell’s book Together in God’s Theatre – Practical Theology in an African context is opening a new chapter in Practical Theology. It is approaching this important discipline from the (South) African context and taking the faith practices of African Initiated (Independent) Churches seriously, while simultaneously keeping the strong link to the mainline churches and traditional discipline of Practical Theology. 
To order a copy, send an e-mail to order@clf.co.za or contact 021 873 6964. Alternatively, click here to shop online.
Hoogtepunte uit Kerkbode
Vanjaar se eerste uitgawe van Kerkbode is propvol interessante en inspirerende stories. Lees Cas Wepener se artikel oor die drie struikelblokke wat gefrustreerde luisteraars na aanlynpreke na die afstandbeheer laat gryp. Dana Snyman skryf oor die slaapkamer as intieme plek in “Daar haal jy jou masker af.” Lees die storie hier 
Die kerke in Suid-Afrika, COVID-19 en die toekoms
Hierdie praktiese werkboek deur CLF kan gemeentes help om te besin oor kerkwees en die bediening in die voortgang en nadraai van die ontwrigting wat die pandemie veroorsaak het.
Ses aktuele temas word oor ses weke behandel met riglyne, groepsgespreksgeleenthede,  preeksketse en ‘n leiersgids vir gebruik in gemeentes. Daar is ook skakels na stimulerende video's oor die onderskeie temas. Die ses temas is: Die kerke, verlede en hede; Die moontlike, waarskynlike en verkieslike toekoms; Kerkkrimping en missionale kerkwees; Eenheid en versoening; Die kerk in die platteland, te midde ook van COVID-19; COVID-19 en die toekoms.  
Die werkboek spruit uit ‘n meer omvattende navorsingsprojek deur ‘n studiegroep van kerkhistorici uit die vier grootste gereformeerde kerke in Suid-Afrika onder leiding van Hoffie Hofmeyr. Die werkboek word gratis beskikbaar gestel en kan hier afgelaai word. 
ALGEMEEN
Boodskap van die Nasionale Instituut vir Dowes
Kobus van Deventer, hoof uitvoerende beampte van NID, skryf dat hulle die aanbreek van die nuwe jaar afgewag het met ‘n ongegronde hoop dat alles in 2021 nuut gaan begin sonder die uitdagings wat die COVID-19-pandemie  in 2020 gebring het. "Ongelukkig het die blote oorskakeling op die kalender nie die uitdagings weggevat nie.  Ons is egter bemoedig daardeur dat NID die 2020 jaar kon voltooi met al ons dienste nog aktief aan die gang. Ons glo ook dat ons in die nuwe jaar die weg sal vind om voort te gaan met ons dienste aan al ons begunstigdes met gehoorverlies. Ons grootste bate is ons verhouding met ons vriende en ondersteuners. Ons verhoudings het ons deur ‘n moeilike 2020 gedra en ons vertrou dat dit in die volgende jaar ook ons behoud sal wees. Ons het groot dankbaarheid vir elke gemeente en individu se liefde en omgee vir ons Dowes en persone met gehoorverlies. Ons sien uit na nog ‘n jaar van samewerking, van hande vat en van werk tot ‘n gemeenskaplike doelwit. Dit is een les wat die pandemie weer vir die wêreld kom leer het, dat ons nie baie op ons eie kan vermag nie, maar saam kan ons baie uitdagings oorwin." 
Vir navrae of meer inligting, kontak nid@nid.org.za.  
Raakgelees: Kaapstad perfek vir afstandwerk
Afstandonderrig en afstandwerk (remote working) het in 2020 'n algemene neiging wêreldwyd geword. Die globale arbeidsmark het verander en Kaapstad is ideaal geposisioneer om hierop te kapitaliseer. Die reiswebblad Big 7 Travel het Kaapstad onlangs aangewys as een van die top 50 bestemmings vir afstandwerk. Maar dis nie net Kapenaars wat hieruit voordeel trek nie. 
Kaapstad Toerisme noem dat hierdie digitale swerwers 'n belangrike teikenmark in hulle nuwe bemarkingsveldtog vir 2021 gaan wees. Lees Fin24 se artikel oor die tendens hier.
TEN LAASTE
Ons wens al ons lesers 'n geseënde 2021. Mag die nuwe jaar ten spyte van die huidige uitdagings gekenmerk word deur liefde, vreugde en vrede. (Illustrasie: Pablo Picasso se vredesduif.)
Die 22-jarige digter Amanda Gorman het tydens die Amerikaanse presidensiële inhulding haar gedig "The Hill We Climb" voorgedra en die wêreld inspireer. Haar woorde kan verseker ook op ons as Suid-Afrikaners van toepassing wees. Hiermee 'n uittreksel van haar emosionele voordrag - klik hier vir die volledige weergawe.
Let the globe, if nothing else, say this is true, that even as we grieved, we grew,
that even as we hurt, we hoped, that even as we tired, we tried,
that we'll forever be tied together, victorious.
But one thing is certain, if we merge mercy with might, and might with right,
then love becomes our legacy, and change our children's birthright.
For there is always light, if only we're brave enough to see it.
If only we're brave enough to be it.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.