Lees deur internet, klik hier >>
26 Maart 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
BROS - 'n lewe gebou op die vaste Rots
Luister gerus hier na die volgende podcast in die BROS-reeks wat saamgestel word deur die Taakspan vir Gendergeregtigheid.
Hierdie week se podcast met die titel: Stof is jy en tot stof sal jy terugkeer word aangebied deur Tinus van Zyl.
Kix deel hulpbronne vir Paastyd
Met Paasfees om die draai deel Kix talle hulpbronne om aan die jongspan te verduidelik wat hierdie belangrike tyd op die kerkkalender beteken. Klik hier vir pragtige inkleurprente asook talle ander vindingryke Paasfeesidees.
Daar is ook kort videos soos Die Storie van Paasfees en God se plan wat ideaal is vir kinders.
Die behuisingskruispad na COVID-19
Braam Hanekom het met Quinton Adams (The Shackbuilder) gaan gesels en saam sit hulle ‘n paar perspektiewe oor die toekoms van behuising in Suid-Afrika op die tafel. 
"Suid-Afrika sit tans met ’n behuisingsagterstand van ongeveer 2,3 miljoen huise en die staat het aangekondig dat behuisingsprojekte vanweë ‘n geldtekort eers gestop is. As gevolg hiervan woed ‘n lae-intensiteit oorlog oor grond vir behuising op baie plekke in die land. PRASA se aankondiging dat mense wat op spoorlyne bly, verwyder gaan word, is maar ‘n enkele voorbeeld."
Volgens Adams en Hanekom het die regering nie net by ‘n kruispad gekom nie, maar bevind hulle hulself in ‘n doodloopstraat. "Ons is oortuig dat daar alternatiewe metodes en behuisingsmoontlikhede is wat gebied kan word om hierdie krisis op te los. Dit het egter tyd geword dat kerke sal begin saamdink en saamdoen. Die kapasiteit en moontlikhede is beslis daar. In ‘n tyd waar ons baie saamdink oor sosiale kohesie (en ‘n nuwe sosiale kontrak) kan die kerk se bydrae tot behuisingsoplossings ‘n spelbreker word. Onthou, dit gaan nie net oor geld nie. 
Baie word deesdae gesê oor (grond)onteiening sonder vergoeding. Dalk is die groot fout, wat ons gemaak het, dat ons nooit self ernstig genoeg oor restitusie was nie. Die proses is as’t ware in die regering se hande gelaat. So is ‘n geleentheid verbeur. Gelukkig het ons nou weer ‘n kans."
Lees hulle volledige skrywe hier
KiXperasie
Die Piketberg KiX-span het verlede maand weer bymekaar gekom en vertel dat hulle ‘n woordverrykende tyd saam spandeer het.
"In die tuin, met heerlike koue water met mentblare, pepermentroomys en -suiglekkers, kon ons die Skeppingsverhaal opnuut waardeer, die orde en ritme... Ook dink aan die chaos op sekere terreine in ons lewe. Ons het 'n woordverrykende uur gehad met die "ment"-woorde: uit die “ment-skatkis” kom woorde soos allimentasie, fragment, fondament, instrument, implement, kompliment, moment, mentor, ornament, predikament, sakrament, sement, testament, temperament."
KiX Piketberg ondersteun steeds Badisa se voorskoolse program en sal ingestel wees op behoeftes in dié verband. "Mag ons almal aanhou om instruMENTe in God se orkes te wees!"
Kollektiewe trauma
Die VBO-forum en Sinode Oos-Kaapland bied die onderstaande Zoom-kursus in April en Mei aan. Vir meer inligting, besoek die webwerf. Klik hier vir inskrywings.
EKOLOGIE
Aarde-uur
Hierdie Saterdag om 20:30 is die jaarlikse Aarde-uur (Earth Hour). Maar wat is Earth Hour? Waar kom dit vandaan? Waaroor gaan dit? En hoekom moet ons as gelowiges daaroor omgee?
In die video onder deel Dewald Hoffmann van die Groen Span als wat jy hoef te weet oor Earth Hour en hoe maklik dit is om deel te neem!
Earth Hour is 'n inisiatief deur die WWF en is in 2007 tydens 'n ligte-af geleentheid in Sydney geloods. Sedertdien het dit een van die grootste omgewingsbewegings op voetsoolvlak ter wêreld geword en word in meer as 180 lande ondersteun.
Seeskoenlappers sukkel
Die jongste navorsing toon dat klimaatsverandering ook 'n impak het op spesifieke seediere soos die seeskoenlapper (Limacina retroversa). 'n Nagraadse student aan die Naturalis Sentrum vir Biodiversiteit en die Universiteit van Amsterdam het gevind dat die geleidelike toename in uitskeiding van koolstofdioksied stelselmatig besig is om die suurvlakke van ons oseane te laat toeneem. Dit beïnvloed veral die Suidelike Oseaan rondom Antarktika omdat die water daar kouer is en koolstofdioksied makliker absorbeer. Die stygende suurvlakke verminder die kalsiumkarbonaat in die water wat organismes soos koraal en skulpdiere gebruik om hulle eksoskelet te groei. Lees die volledige artikel hier.
GEMEENTENUUS
Robertson-Oos bly buite
Die gemeente van Robertson-Oos laat weet dat die bywoning van hulle buitelug eredienste die afgelope maand mooi toegeneem het. Daarom het hulle besluit om aan te hou met hierdie manier van kerkgaan totdat 250 of meer mense weer in die gebou toegelaat word. “Kom laat ons weer in die gewoonte kom om kerk toe te kom, terwyl ons nog steeds ons afstande volgens inperkingmaatreëls kan handhaaf.” 
Lidmate het die opsie om met hulle eie kampstoele of komberse op die grasperk onder koeltebome te sit tydens die erediens of om sommer vanuit hulle voertuie na die boodskap te kom luister. 
Boesmanland klerebank
Wil jy graag jou klerekas uitsorteer, maar het nie ‘n goeie motivering daarvoor nie? Of is jou kaste vol van klere wat nie gedra word nie? Boesmanland-gemeente nooi jou uit om dit by hulle af te laai. 
“Enige heel, skoon klere is welkom. Ons rakke is nog leeg. Die idee met die klerebank is om goeie klere, teen goedkoop pryse, aan die publiek beskikbaar te stel en die winste daarvan in die gemeenskap terug te ploeg... Maar eers kort ons klere!”
Ondersteun gerus die gemeente se projek! Kontak die kerkkantoor (027 712 2365) of stuur ‘n e-pos na ngkboesmanland@gmail.com vir enige navrae.
Bellville-Vallei kosblikprojek
Weens COVID-19 moes die gemeente van Bellville-Vallei verlede jaar ophou om broodjies te gee aan kinders wie se kosblikke leeg was. Laerskool Bellville het egter laat weet dat die projek hervat kan word. Daar is tans 30 kinders vir wie die gemeente ondersteun.
Kontak gerus vir Marizanne by die kerkkantoor by 021 919 2201 indien jy betrokke wil raak. 
Langebaan se basaar 'n sukses
NG Langebaan is opreg dankbaar aan elke sameroeper, organiseerder, werker en lidmaat wat vanjaar by hulle basaar betrokke was en bygedra het tot die sukses daarvan.
“Ons is verheug en dankbaar dat die meeste van die stalletjies teen Saterdagmiddag uitverkoop was! Die kerkraad het met hierdie poging net weer besef hoe getrou die Here van die kerk, dus ook ons gemeente, is! Sondag, voor die erediens by die kerk, kon ons as kerkraad eenparig ons dank aan Hom, maar ook ons belydenis van kleingeloof in Hom, erken.” Klik hier vir meer foto’s van die feestelike geleentheid.
Daar is nog vars vrugte, granate, tamaties en druiwe beskikbaar. Kontak die kerkkantoor by 022 772 2813 en kom ondersteun die gemeente enduit. 
Laaiplek winterprojek
Lidmate van NG Kerk Laaiplek is almal besig om tolletjie te brei vir ‘n goeie doel. “Al die lang slange gaan verwerk word tot komberse vir mense in wintertyd. So is ons gemeentelede gelyk besig om barmhartigheid te beoefen en uit te reik. En so bou almal van jonk tot oud aan sy Koninkryk.”
Klik hier vir meer foto’s van die projek.
GEBEDSVERSOEK
PREDIKANTENUUS
Lodewikus (Wiekie) Petrus Du Preez:   31.01.1929 - 18.03.2021
Ons het met leedwese kennis geneem van die afsterwe van ds. Wiekie du Preez. Hy het as 17-jarige in 1946 met sy studies aan die Universiteit Stellenbosch begin en is in 1953 gelegitimeer. Sy skoonseun Chris Barnardo van De Eike-gemeente in Kuilsrivier skryf: "Hy het in eenvoud voor die Here geleef en sy roeping passievol in die volgende gemeentes uitgeleef: Delportshoop, Volmoed, Namakwaland, NGSK Prins Albert,  Bothasrus – Despatch en Marquard in die Vrystaat. Sy empatie vir jongmense het daartoe bygedra dat hy die pos as superintendent by die Abraham Kriel Kinderhuis in Nylstroom tot en met sy aftrede gevul het. Hy laat sy vrou Anita, wat tans in Huis De Kuilen woonagtig is, sowel as drie dogters en hul pasmaats, agt kleinkinders en vier agterkleinkinders agter. Ons eer sy nagedagtenis.
Ons innige simpatie aan sy naasbestaandes. 
Fouries groet Oudtshoorn Park
Jannie Fourie lewer op 28 Maart 2021 sy afskeidsboodskap en tree amptelik op 31 Maart 2021 af, na 28 jaar diens by die gemeente van Oudtshoorn Park. Jannie vertel die volgende oor sy bediening.
Om Jesus Christus te verkondig as die Weg, die Waarheid en die Lewe was en is steeds een groot genade en voorreg.  As ek nou terugkyk op amper 35 jaar se be­diening is daar net een groot 'dankie Here.' Dankie vir U goedheid, dankie vir U leiding, dankie vir U seë­ninge - en dankie vir U kinders (die gemeente). Mense wat saam met my die geloofs­­pad gestap het, mense wat saam met my geleer het van moedhou, aanhou en oë op die Here hou! Aan die Here kom al die lof en eer toe." 
Quintes Scholtz sal vanaf April die leisels oorneem en word op 11 April deur Jannie bevestig. Daarna sal Jannie en sy vrou Mariëtte in Hartenbos aftree.
Alle seën en voorspoed word vir hulle toegewens!
Foto: Quintes, sy vrou Johnlene en seuns Lucan en Jovan saam met die Fourie-egpaar.
Ontmoet proponent Pieter Windvogel 
Dis altyd ‘n groot aanwins vir enige gemeenskap as jy ‘n predikant het wat passievol is oor waar ons as geloofsgemeenskappe die pad byster geraak het om Christus waarlik te volg. Pieter Windvogel voel baie sterk daaroor dat ons as Christene aktief moet meewerk om ons gemeenskappe te help heelmaak. Hy is ook ‘n kranige kok, lief vir tuinmaak, lees graag en geniet stiltes in die natuur. Lees sy storie hier
Fanie Herholdt neem afskeid
Fanie Herholdt tree aan die einde van Maart af as direkteur by die Jan Kriel Instituut. Hy was ook 'n gemeenteleraar by Chivhu, Zimbabwe en in Vredenburg.
Hy was ook betrokke by sport vir gestremdes, gemeenskapsontwikkeling, plaaswerkers sowel as ontwikkelingsprojekte. Fanie is getroud met sy skoolkys Louise en het drie seuns en twee kleinkinders. 
"As ek vorentoe kyk, is ek oorweldig deur die genadige Here wat my geroep het om nog een akker vir Hom te ploeg. Hugenote Kollege het my aangestel om te help sodat die kerk deure oopmaak vir bekostigbare en lewensveranderende opleiding - veral vir studente wat nie op die gewone manier kanse kry nie." Oor sy bediening haal hy die onderstaande illustrasie aan.
Ons wens vir Fanie en Louise voorspoed toe. 
VAKATURES
Maatskaplike werker: Somerset-Wes
NG Kerk Helderberg in Somerset-Wes is op soek na ‘n gekwalifiseerde maatskaplike werker met minstens 5 jaar ervaring om hierdie pos te vul. Rekenaarvaardighede en vermoë om in spanverband te werk, is vereistes. Kennis en ervaring as ʼn kerklike maatskaplike werker sal ʼn voordeel wees. Aansoeke sluit 6 April. Leer meer oor die pos hier
Hoof verpleegkundige: Kuilsrivier
Huis De Kuilen wag aansoeke in van gemotiveerde persone met ‘n positiewe lewensingesteldheid teenoor ouer persone vir hierdie betrekking. Sterk leierseienskappe, goeie rekenaarvaardighede en registrasie by SARV as professionele verpleegkundige is vereistes. Aansoeke sluit 31 Maart. Klik hier vir meer inligting.
Klik bo vir meer inligting.
PUBLIKASIES
Nuut op die rak
Bybel-Media stel vandeesmaand etlike publikasies bekend van mense se lewensverhale en ontdekkingsreise hoe om uitdagende situasies, trauma en verlies te hanteer.
In Leef Lig beskryf Jaco Strydom vyf gewoontes wat die vroeë kerk suksesvol gemaak het en vandag steeds van toepassing is. Joernalis en oud-onderwyser Julian Jansen kyk na die werklikheid agter die statistiek dat 60% van kinders in Suid-Afrika sonder 'n pa grootword in Seuns sonder pa's. Roelf Opperman se Ek wil nie die kaarte hê nie beskryf nie net hoe hy die verlies van sy dogter verwerk het nie, maar kyk ook na veerkragtigheid om tydens en ná enige soort trauma te oorleef, oor heelword ná trauma en oor hoe om ander in hulle trauma by te staan.
Besoek Bybel-Media se aanlynwinkel om die boeke te bestel.
Hoogtepunte uit Kerkbode
In gesprek met Jaco Strydom: Wat behels dit om Jesus te volg? Dit is nie so ’n eenvoudige vraag nie. In ’n nuwe boek hanteer Jaco Strydom die saak aan die hand van vyf geloofsgewoontes waarvolgens die vroeë kerk geleef het. Kyk hier na die videogesprek met die skrywer.
Finansiële impak van pandemie op gemeentes: Te midde van die ekonomiese uitkringeffek van die COVID-19-pandemie behoort byna 90% van die NG gemeentes finansieel “te kan oorleef”, volgens ’n peiling onder predikante. Terselfdertyd skryf Daniel Louw dat bykans alle aflosgeleenthede vir beroepbares weggeval het. Lees sy brief hier.  

NUUSBRIEWE
Klik bo vir die jongste nuus uit Japan.
Lees meer oor Bybelgenootskap se 2 Miljoen Bybels-projek hierbo.
Click above for a special edition from URCSA Cape.
Read more about the impact MES Cape Town made in 2020.
ALGEMEEN
Raakgelees: Meer vrywilligers as ooit tevore
Die pandemie was vir menigte individue regoor die wêreld 'n wekroep om na hulle gemeenskappe uit te reik. 'n Onlangse opname rakende vrywilligers (gelei deur OnePoll) toon dat meer as die helfte van die respondente vir die eerste keer in hulle lewe vrywilligerwerk gedoen het weens die omstandighede wat die pandemie meegebring het.
Vrywilligeraktiwiteite wat dramaties verhoog het sedert die begin van die pandemie is: kospakkieprojekte (35%), vrywilligers wat bejaardes of gestremdes versorg (23%), insameling van kruideniersware en ander produkte vir gesondheidswerkers (21%), sopkombuise (20%) en bloedskenk (19%). 
"Dit is prysenswaardig en bemoedigend om te sien dat so baie mense 'n helpende hand in hul gemeenskappe uitsteek gedurende hierdie uitdagende tyd," vertel 'n woordvoerder van OnePoll.
Die kort animasievideo hieronder verduidelik hoekom vrywilligerwerk nie net vir ander nie, maar ook vir jouself, van ontsaglike belang kan wees.
Emosionele logika vir VBO-punte
Kontak gerus vir Annette de la Porte vir ‘n inleidende twee ure Zoom-opleiding, om die konsepte van Emosionele Logika bekend te stel, voor registrasie vir die voldag opleiding en praktyksessies.
Die eerste 20 predikante wat vir haar ‘n epos stuur by annette@growwithannette.co.za om te sê dat hulle in die inleiding belangstel, kan die sessie van R250 gratis kry. 
Alfa-kursus skop af in April
Die Alfa-gemeenskapsentrum vir pastorale opleiding en berading bied vir die sewende jaar hierdie unieke kursus aan. Die jaarlange sertifikaatkursus word deur die Excelsus Sentrum vir Bedieningsontwikkeling van die Fakulteit Teologie, Universiteit van Pretoria geakkrediteer met 120 VBO-punte en is ook geregistreer  deur  die Council for Pastoral and Spiritual Counsellors (20 CPSC/CPD-punte). Kontak kursusleier Jan Botha by 012 546 3545, selfoon 076 481 5683 of stuur 'n e-pos aan janbotha1102@gmail.com.  
CLF loods jeugprojek
CLF se jeugopheffingsprojek se doelwit is om die boek WEES ’n WENNER! teen Jeugdag (16 Junie) in samewerking met hulle gemeenskapsvennote in die hande van 20 000 jongmense in minder-bevoorregte gemeenskappe te plaas. 
Skrywer André de Villiers breek elke week se relevante onderwerp in daaglikse temas op. Lees hier verder as jy belangstel om die projek te ondersteun.
BEHOU DIE HUMOR
KUIERKANS
Simondium Oesfees
Moenie Simondium Familiekerk se oesfees hierdie jaar misloop nie! Vir die volwassenes is daar 'n asemrowende steak-ete en vir die kinders ordentlike boereworsrolle. Kaartjies kan gekoop word op Sondae na die erediens in die voorportaal of Ma. - Do. (08:00 - 13:00) by die kerkkantoor.
  • Steak-ete: R120pp (300g steak met sous, 2 slaaie, broodjie en poeding)
  • Worsrol: R50pp (worsrol, pakkie tjips en 'n roomysie). 
Kaartjieverkope sluit 7 April 2021. Spring gou - daar is beperkte kaartjies!
Onrusrivier wegneemetes
NG Kerk Onrusrivier se Dienssentrum gaan weer op 31 Maart heerlike wegneemetes verkoop. Hierdie slag is die volgende geregte beskikbaar: Hoenderpastei (R80), maalvleis met kruie-bolaag (R80), pampoentertjies (4 vir R20) en malvapoeding (R25). Bestel asseblief voor Vrydag 26 Maart om 12:00 by Hannie Koch (028 316 1745).
TEN LAASTE
Sondag is die begin van Groot Lydensweek en staan bekend as Palmsondag/Passiesondag. Woord & Fees herinner ons aan beide Jesus se heerlikheid en sy lyding in afwagting van Goeie Vrydag en Paassondag: "Die tradisionele feesdiens vir Sondag van die Passie bestaan uit twee dele. Eerstens die intogritueel (liturgie van die palms) gebaseer op die verhaal oor Jesus se intog in Jerusalem. Tweedens volg die viering van die lyding van Christus (liturgie van die Passie). Aan die einde van die diens behoort die gemeente ernstig oor die betekenis van die komende week in die skadu van die kruis te dink."
Illustrasie: Jyoti Sahi - Entry into Jerusalem
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.