Die Velddrif Sakekamer se voorsitter, Dennis Roberts, het vertel dat hulle uitsien om almal op Velddrif te verwelkom vir dié jaarkongres met die tema, “Weskus is lekker”, wat in die kol is.
“Velddrif is die hartklop van die Weskus en ons vertrou dat al die gaste sal dié warmte voel, het hy gesê.
Tydens die gala-aand sal ’n prysuitdeling, waartydens entrepeneurs vereer sal word vir hul werk, plaasvind.
Kongresgangers kan uitsien na geleentheidsprekers wat al jare in die bedryf is en wat waardevolle ervaring met die kongresgangers sal deel. Dié sprekers is Prof. Frederick Fourie, Professor in Ekonomie aan die Universiteit van die Vrystaat, met sy tema “Skep van Inklusiewe Sakekamer.” Monika de Jager, Bestuurder van Namaqua Weskus Toerisme, sal gesels oor toerisme as ekonomiese katalisator terwyl landbou as ekonomiese katalisator deur Cornie Swart, President van Agri Wes-Kaap bespreek sal word. André Diederichs, stigter en hoof van FABASA, sal gesels oor aspekte van familiebesighede.
Bespreek jou kaartjies nou en geniet die gala-aand en prysuitdeling saam met ons op Donderdag, 5 September en wees deel van ons kongres op Vrydag, 6 September.