Lees deur internet, klik hier >>
2 Februarie 2018
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
Dag van verootmoediging
SINODENUUS
1. Dag van VEROOTMOEDIGING en GEBED
Verskeie kerkgenootskappe doen 'n beroep op alle landsburgers om Woensdag 14 Februarie 2018 'n dag van verootmoediging te maak. Hierdie oproep geniet reeds die steun van die moderature van die NG Kerk in Wes-Kaapland, die VGK Kaapland, die NG Kerk in Oos-Kaapland, die Congregational Kerk, die Presbiteriaanse Kerk en die Evangelical Lutheran Church of Southern Africa (ELCSA).  
14 Februarie is Aswoensdag, die begin van die lydenstyd in die kerkjaar. "Ons bede is dat in die lig van die droogte die hele lydenstyd vir die kerk van Christus 'n tyd van verootmoediging en gebed sal wees.
Ons versoek gemeentes om op 14 Februarie vanaf 12:00 hulle kerkklokke vir 'n tyd te lui om sodoende almal in ons gemeenskappe op te roep tot gebed en verootmoediging. 
Ons versoek ook gemeentes om deur die loop van hierdie dag in elke gemeenskap 'n spesiale gebedsbyeenkoms te hou." Nelis Janse van Rensburg se skrywe is hier.
2. Sinode begin jaar op spirituele noot
Op Vrydag 26 Januarie het die Wes-Kaapse moderatuur die sinodale personeel op Wellington se Samuel-kampus ontvang om die jaar se werksaamhede op ’n spesiale wyse te begin.
Die terrein vir die beplande Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit is tydens ’n kort besigtigingstoer aan die personeel bekendgestel. 'n Besondere wydingsdiens, gelei deur Theunis Botha (PSD: Predikantebegeleiding, foto onder) het die toon aangegee vir die jaar se bedrywighede. Dankie aan Neil Büchner en Maryke Spies vir die aangrypende musikale bydrae en komplimente aan elkeen wat ons bedien het met keurig gedekte tafels en 'n smaaklike middagete. Enkele verdere indrukke is hier.
Mag ons mekaar daaraan herinner dat ons 'n ligprik in die wêreld moet wees ... Geniet gerus die foto's saam met ons op Facebook (en "like" sommer die blad ook!)

Sendinginstituut Theunis Botha Samuel
3. Kerkhereniging op dreef
Groot vordering word volgende week gemaak met die kerkherenigingsproses. Al 17 die sinodes van die VGKSA en die NG Kerk se aktuarii en fasiliteerders kom eerskomende Maandag en Dinsdag (5 en 6 Februarie) in Johannesburg byeen om toegerus te word met die oog op die proses van kerkvereniging.
Al die goedkeurings is reeds deur beide kerke gegee, 'n Tussenorde is aanvaar en die verdere prosesse kan nou in alle erns aangepak word. Op die foto onder is 'n groep op 25 Januarie byeen om die komende toerustingsgeleentheid te beplan.
Kerkhereniging - beplanning
V.l.n.r. Lenois Stander (Bybel-Media), DP Carelse (VGK aktuarius), Nico Simpson (Bybel-Media), Dewyk Ungerer (NG aktuarius), Elize Morkel (Seisoen van Menswaardigheid), Frederick Marais (NG fasilitering), Dawid Mouton (VG fasilitering), Nelis Janse van Rensburg (NG voorsitter)
Lisa en Fourie Truter
4. Getuienisaksie
4.1 Straatwerk - jou vennoot!

Straatwerk lewer ‘n onontbeerlike diens aan die stukkende gemeenskappe van die Kaapse Metropool.
Kyk gerus na Kwêla (TV-kanaal 144) oor die impak wat Lisa Truter van Straatwerk se bediening op die Kaapse Vlakte het.
Lees ook meer van Straatwerk - klik hier
Foto: Lisa en Fourie Truter by van die gebreide poppies wat uitgedeel word aan skoolkinders om aan hulle te verduidelik hoe kosbaar hulle vir Jesus is. Lees meer oor die boodskap van die poppe op Straatwerk se webwerf.
Vissers en Susan Murray
Aalt Visser, Susan Murray en Anneke Visser
4.2 Afrika Ekumene
4.2.1 Vissers weer op  Morgenster, Zimbabwe

Ons is diep dankbaar oor ds. Aalt en Anneke Visser van Nederland wat weer vir twee en ‘n half jaar terug is op Morgenster in Zimbabwe.
Aalt kom Henry Murray se werk as Missiologie-dosen by die Murray Teologiese Kollege voortsit. Hy skryf: “Wij verwonderen ons dat de Heere God ons her verlangen in ons hart gegeven heeft om nog een paar jaar (2,5) tot mijn pensioen voor de RCZ/MThC te dienen.” Lees hier meer. Baie seën toegewens!
Saretha en Riaan Terblanche
4.2.2 Veritas College slyp kerk-leiers in Mosambiek
"Empowering churches to train their own leaders to interpret Scripture and to apply and minister it in their own context.” So stel Veritas College hulself op hul webwerf bekend. Ons kerk ondersteun hierdie werk in ons susterskerk (die IRM) in Mosambiek waar Riaan Terblanche in Tete saam met sy vrou, Saretha, woon. Belangstellenders kan gerus hier verder lees en Veritas College se webwerf hier besoek.
Ronelle de Graaf
5. Welkom by Communitas, Ronelle!
Dit is lekker om Ronelle de Graaf as deel van Communitas se span te verwelkom!
Ronelle is aangestel as die nuwe administratiewe koördineerder van ons  jeugbediening (deel van die Diensgroep Gemeentebegeleiding by Communitas, Stellenbosch). Diegene wat met die jeugkantoor skakel oor #Imagine, sal in die toekoms ook op daardie manier met Ronelle kennis maak.
Sy woon die afgelope 18 jaar in Gordonsbaai en beskryf haarself as iemand wat glad nie stil kan sit nie - perfek om sulke energie tot die beskikking van ons sinodale werk te hê! Baie seën! Kontak Ronelle by jeug@sun.ac.za.

6. Jeugbediening: Kategese VBO
’n Baie suksesvolle kategese VBO-kursus het die afgelope week plaasgevind. Predikante en jeugwerkers het van dwarsoor die land bymekaar gekom om te gesels oor die toekoms van geloofsvorming in gemeentes. Van die temas wat bespreek is, is die invloed van konteks op die keuse van die kategesemateriaal en -sisteem, sowel as die belangrikheid van diepgaande verhoudings. Kontak die Jeugkantoor by jeug@sun.ac.za.  
Kursusgangers
Agter v.l.n.r.:  Anriëtte de Ridder, Mias van Jaarsveld, Andre Breytenbach, Hannes Janse van Rensburg, Anton Scholtz, Daniël de Wet, Adam Barker, Frankie Gerber, Bernard Joubert
Middel v.l.n.r.:  Babs van Wyk, Johan Smit, Jeanine Hepburn, Jan Theron
Voor v.l.n.r.: Chris Groenewald, Elrika Esterhuizen, Johan Dorfling,
Chris Weyers, Kenny Pritchard
7. #Imagine Suide hard aan die werk!
Vandeesweek, op 30 Januarie, was die #Imagine-span reeds hard aan die werk toe hulle by die NG Gemeente Stellenberg vergader het. Wat ’n wonderlike span mense!
#Imagine2018 vind plaas op 6-8 April in Bredasdorp. "Watch this space!" laat weet hulle!

#Imagine-span
Agter: Pierre Malan, Marius du Randt, Annelet Slazus, Luané McLachlan, Genevieve Botman, Jana Dickason, Rehet Laskey, Kotie Langenhoven, Cois de Kock   
Middel: Tanya Malan, Dirmu Gouws, Celeste Lourens, Dolores Botman, Sandra Joubert   
Voor: Isabel Steenkamp, Helene du Toit, Cohen Erasmus, Jared Claasen
Stilbaai
8. Arbeidsbediening in Stilbaai
Christo Prins, bestuurder van Arbeidsbe-diening Stilbaai, is opgewonde as hy praat oor wat hierdie bediening vir mense in die werksplek beteken. Maar in ’n snelgroeiende dorp soos hiérdie, is daar altyd ‘n tekort aan vrywilligers, veral as dit jou droom is om die aantal besoekpunte vanjaar te laat verdubbel! Lees hier meer
9. Argief verwelkom eerstejaar teologiestudente
Op hul uiters kreatiewe wyse het Isabel Murray en Collette de Wet van die argief die eerstejaars van die teologiese fakulteit op Stellenbosch vandeesweek met ’n storie uit die verlede en prof. Johannes du Plessis se fiets (foto onder) verwelkom!
Nadat Isabel iets van die geskiedenis van die kerk in SA, en die argief se rol daarin, gedeel het, sluit sy af met die gepaste herinnering daaraan dat die kerk se argiewe 'n goed gedokumenteerde versameling van die geheue van die kerk en die lidmate van die kerk is, 'n stille getuie van die verhale uit die verlede wat ons help insig kry in vandag se verhale. Dankie, Isabel! Klik hier om die argief se webwerf te besoek.
Logo
10. Sentrum vir Publieke Getuienis
Geleentheid om soekendes om jou te ontmoet
Wil jou gemeente kontak maak met soekende mense in jou omgewing?
Die Sentrum vir Publieke Getuienis stel 'n unieke geleentheid bekend vir gemeentes om in vennootskap met Christian Vision Outreach en Google (via 'n Google “grant”) 'n platform te skep waardeur jy kontak kan maak met mense in jou omgewing wat worstel met spesifieke geloofsvrae. Meer as 30 gemeentes in Suid-Afrika het reeds deel van die program geword, en het in Januarie alleen gesprekke met 584 soekendes begin.Lees hier meer.
Indien jy belangstel om deel te wees van hierdie unieke program, kontak Danelle by spg@kaapkerk / 021 957 7202.

Mike
GEMEENTENUUS
1. Mike Burnard by NG Helderberg Uitreikfees
Op 3-4 Februarie 2018 is dit Helderberg Gemeente se jaarlikse Uitreikfees waar Mike Burnard van INcontext optree as gasspreker. Na 25 jaar diens aan die vervolgde kerk in die Midde-Ooste, Asië, Afrika en die sub-kontinent het Mike homself die laaste agt jaar toegewy aan ʼn nuwe inisiatief wat spesifieke tendense en wêreldgebeure binne ʼn sendingkonteks aanspreek. Lees hier meer.
Week van vernuwing: NG Gemeente Wellington-Oos
Week van vernuwing: NG Gemeente Wellington-Oos
aangebied deur Marius Nel - klik bo.
Heidekoppie Padlangs Ouerskap
Padlangs Ouerskapkursus
NG Heidekoppie- klik bo.
Kerktoring
4. Middagkonsert by Kuilsrivier Moedergemeente
Die NG Gemeente Kuilsrivier nooi almal uit na hulle eerste middagete- konsert wat aangebied word in die kerkgebou (Van Riebeeckweg 51, Kuilsrivier). Hulle vertrou dat dit die eerste van vele konserte met kunstenaars van die omgewing en elders sal wees. Indien jy jou op 14 Februarie tussen 13:15 en 13:45 in Kuilsrivier bevind, moenie hierdie geleentheid misloop nie. Parkering beskikbaar op die kerkterrein.
Tydens die eerste konsert sal Karen de Goede (sang), Annette Cronje (fluit) en Liz Carstens (pianis) optree. Donasies welkom. Gaan luister saam na God se liefdesklanke vir alle mense, nooi hulle.
5. Parstyd in De Eike
Op Vrydag 19 Januarie net na uitvaltyd het De Eike se boere en al hulle personeel by die NG Gemeente Kuilsrivier-De Eike bymekaar gekom om vir die Here seën te vra vir die parstyd wat op hande is.
Chris Barnardo vertel: “Ons het gebid vir ’n geseënde oes en dat almal wat van vroeg tot laat in die wingerde bedrywig is, gesondheid en lewenskrag sal ervaar uit die hand van ons lewende almagtige Vader. Verder het ons gebid vir ons land en in die besonder die Wes-Kaap, wat gebuk gaan onder ’n knellende droogte. #DagZero is vinnig besig om ons tegemoet te kom en ons het gesmeek dat die Here uitkoms sal gee en die sluise van die hemel sal oopmaak. Neil Büchner en sy groep het vir ons die lofprysing en aanbidding begelei, waarna tyd gegee is vir voorbidding.” (Foto's onder.)
Werkers Liturgiese ruimte
6. Stellenberg fokus op gemeentebou met Malan Nel
Die bekende en gerespekteerde prof. Malan Nel het op 26 en 27 Januarie by die NG Gemeente Stellenberg opgetree. In verskillende sessies oor die gemeente se identiteit en visie is kritiese vrae gevra en kon die kerkraad en lidmate onder meer aan die hand van persepsie, gedrag en bestemming evalueer hoe dit met die gemeente se bedieninge gaan.
Foto onder: Stellenberg se predikante saam met hulle gas. V.l.n.r. Why Duvenage, Marius Breytenbach, prof. Nel, Peter Kotze, Dirk Brand (leierouderling) en voor Callie Visagie.
Stellenberg en Malan Nel
UIT ONS RINGE
1. Ringsontbyt vir die Ring van Durbanville

Op Woensdag 31 Januarie is gesellig gekuier by die NG Gemeente Durbanville-Bergsig, waar oud en jonk van die Ring van Durbanville 'n heerlike ontbyt kon geniet. Dis veral lekker om nuwe kollegas (en jonges ook!) saam met die oueres te sien skouers skuur.
Dankie vir die tyd wat julle neem om hierdie gestalte van kerkwees in ringe ook op so 'n manier te vier, vriende! Meer foto’s is op die sinode se Facebook.
Ringsontbyt
Kobus de Jager (Durbanville-Bergsig), Philip Scholtz (Durbanville-Bergsig), Eugene Malan (Sonstraal), Lourens Bester (Parke), Wynand Breytenbach (Durbanville-Bergsig)
Bybel
2. Ring van Brackenfell
Hoe om die Bybel te lees en interpreteer
Vanjaar word die bekende lidmaatpredikerkursus deur Guillaume Smit en Schalk Treurnicht in Brackenfell-Wes aangebied. 
Die kursus het twee oogmerke: dit help mense om die Bybel beter uit te lê. Verder bied dit aan mense met geen teologiese agtergrond nie, die nodige opleiding om in hulle gemeentes diensbaar te wees as lidmaatpredikers. 
Dié geakkrediteerde Communitas-kursus begin op 16 Februarie. Lees meer.
Padpredikant
PADPREDIKANT
NUUT! Tweede aflewering in hierdie splinternuwe reeks!
In die eerste uitgawe van elke maand publiseer ons voortaan bydraes vir die "Padpredikant"-rubriek*. Ons stel deur die jaar die skrywers wat ingewillig het om hieraan deel te neem, bekend. Hulle dink saam met ons na oor ons pad as geloofsmense onderweg om God beter te ken en volg.
*Padpredikant is 'n sinoniem vir 'n padteken. Soms wys dit die pad, soms dui dit 'n heel nuwe perspektief aan. Mag hierdie bydraes 'n klein kolletjie lig op jou pad skyn, nooit prekerig of beterweterig klink nie, maar liefs lafenis soos padkos onder 'n skaduboom bied.
Die gemeenskap van gelowiges
Hoeveel keer gaan ons nie kerk toe met die verwagting van ’n treffende oomblik tydens die aanbidding of predikant se preek nie? Tréf die sakrament van die deel-wees van ʼn gemeenskap van mede-aanbidders ons nog? Ervaar ons die gemeenskap van gelowiges as ʼn sigbare teken van onsigbare genade? Hieroor dink Jacobie M. Helena na - klik hier.
Jacobie M Helena
Oor die skrywer
Jacobie M. Helena is 'n vryskut skrywer vir Kerkbode en tans besig met haar doktorale studies in Nuwe Testament by die Universiteit van Stellenbosch en Vrije Universiteit Amsterdam.
Ons vertrou dat lesers voortaan hierdie maandelikse rubriek in elke eerste uitgawe interessant sal vind. Hou die uitgawe van 2 Maart dop vir meer!
PREDIKANTENUUS
1. Durbanville groet swaar
André van Wyk, leraar van Durbanville Gemeente vanaf 2003 (beroep) tot Desember 2018, het op So. 28 Januarie tydens ’n stampvol erediens sy afskeidspreek gelewer. “André sal onthou word vir sy toewyding, hartlike geaardheid en omgee vir oud en jonk – hy was by almal geliefd.  Ons dank die Here vir mooi spore wat hy hier en op wyer vlakke in die gemeenskap getrap het en bid hom die Here se seën toe vir sy taak by Jan Kriel Instituut,” skryf Jackie Pretorius van die gemeente.
Van Wyk gesin
André en Mathilda met hulle kroos voor die kansel
Lourens Bester
2. Lourens, welkom by Parke!
Ons verwelkom graag vir Lourens Bester, wat op 1 Februarie in Parke-gemeente, Kraaifontein begin het. Lourens was in sy studentedae by Stellenbosch Moedergemeente se jeug en later Kruiskerk betrokke. Hy het sy praktiese jaar by Prince Alfred’s Hamlet gedoen. Die kerk se rol in die genesing van ons land maak hom opgewonde vir die bediening, vertel hy. 
Lourens se bevestiging vind op So. 11 Februarie om 08:30 plaas en sal deur sy pa, Peet Bester (NG Franschhoek) behartig word.
Ons vier hierdie gebeure sommer saam met die hele familie, wat ma Adrienne (by Communitas se kantoor vir Predikantebegeleiding) én die trotse oupa, Christo Alheit (voormalige saakgelastigde) insluit! Mag dit 'n geseënde verbintenis vir almal wees.
Beetges
3. Attie Beetge in Ysterplaat
Attie Beetge lei die erediens in die NG Gemeente Ysterplaat op 11 Februarie 2018. Op die datum is dit presies 57 jaar gelede wat Attie en Ester as leraarspaar in Ysterplaat ontvang en bevestig is. Hy het dr. Johan Heyns opgevolg.
Hy het verder die gemeentes Viljoenskroon, Rustenburg en Pretoria-Oos bedien. Na aftrede het hulle vir 20 jaar in Jeffreysbaai gewoon. Tans woon hulle in Stellenbosch
Almal is welkom by die spesiale erediens. Die kerkgebou is in Bowerstraat en die diens begin om 09:00. 
Juanita Greyvenstein en Dion Forster
4. Gelukwense aan Juanita!
Dit is lekker om Juanita Greyvenstein (Maitland Gemeenskapskerk) hartlik geluk te wens met die verdediging van haar tesis op 29 Januarie 2018. 'n Meestersgraad word met lof aan haar toegeken!
Dion Forster (saam met Juanita op die foto regs) skryf: "I am so very pleased for my colleague Juanita Greyvenstein who defended her thesis today and will be awarded her degree with Distinction! She wrote a very topical study entitled: Planetary Health in the Anthropocene: Sharing Agency in the Body of God. She did a superb job of critiquing traditional approaches to the anthropocene from a Theological eco-feminist perspective. Congratulations Jua!" Welgedaan!
Gebedsversoeke
Versoeke vir voorbidding is welkom.
Reggie Nel
ALGEMEEN
1. LET WEL! Aankondiging: Teologiese Dag, US

Dit is met spyt dat Fakulteit Teologie aankondig dat prof. Thuli Madonsela nie meer in persoon die Teologiese Dag as spreker kan bywoon nie. Die Teologiese Dag, wat die akademiese jaar van die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch (US), inlei, vind plaas op Ma. 5 Februarie van 09:00 tot 12:30 in die Attie van Wijk Ouditorium by Fakulteit Teologie, Dorpstraat 171. Die tema is: "Onverskrokke woord en daad in hierdie tyd: Teologie, etiek en burgerlike moed."
Prof. Madonsela se lesing sal per video vertoon word en dr. Dion Forster sal die vrae-en- antwoorde-sessie hanteer. Na die verversingspouse praat Fr. Courtney Sampson, gevolg deur 'n paneel wat op die tema reageer met di. Jeanet Sibanda, Hanzline Davids en Alan Storey.
Die volledige program, sowel as inligting oor die openingserediens op Sondag 4 Februarie, is aangeheg. Seënwense aan die prediker, prof. Reggie Nel (dekaan).
Richard
2. Western Cape Religious Leaders Forum:
Water is more than scarce, it is sacred!

The Western Cape Religious Leaders Forum (WCRLF) has issued a statement about the water crisis in the Cape Town metropole, noting that water is more than scarce - it is sacred!
This is an opportunity for communities to come together in service of each other and the common good with extra attention given to the vulnerable within our communities. All membership bodies are called upon to assist in creating awareness within their communities on how Day Zero can be avoided, but also in planning community responses should it arrive. See the full statement here.
Our synod is represented by Richard Holloway and Braam Hanekom at the WCRLF. Contact Richard for more information.

Biddag vir opvoeding
3. Biddag op 11 Februarie
-
vir opvoeding en onderwys

Vir beplanning: op Sondag 11 Februarie het gemeentes die geleentheid om spesiaal voorbidding te doen vir die onderwys en opvoeding.
Dit mag ook ’n goeie geleentheid bied om julle missionale gerigtheid prakties gestalte te gee deur uit te reik na skole en ander opvoedkundige instansies in jul omgewing. ’n Hand van ondersteuning, of ’n persoonlike uitnodiging aan onderwysers, dosente e.a. by opvoeding betrokke, mag die begin van spesiale bande beteken – en is deel van ons getuienis in die wêreld waarin ons kerk is. Meer voorstelle is hier.

Grafika
4. Fakulteit Teologie:
Inleiding tot argeologie van Bybelse wêreld

Elke jaar word ‘n keusemodule by die Fakulteit Teologie op Stellenbosch aangebied, wat ‘n inleiding bied tot die argeologie van die Bybelse wêreld. Die module is geskik vir voltydse studente of nie-graad studente van buite – beide lidmate en/of predikante welkom!. Dit word oor vier naweekblokke aangebied; daar is dus nie klasse in die week nie. Aanbieders vanjaar is proff. Jeremy Punt en Louis Jonker (Ou en Nuwe Testament), tesame met ds. Marius Breytenbach (NG Stellenberg), wat ook ‘n gekwalifiseerde argeoloog is. Bo en behalwe algemene inligting oor die tegnieke van argeologie, sal die fokus vanjaar op die wêreld van die NT val. Klik hier.

NUUSBRIEWE
1. Bybelstorie-luistertyd 
Christelike Lektuurfonds (CLF) nooi alle gemeentelede uit om in te skakel op Radio Kansel en CLF se storietyd voorlesing uit die Desmond Tutu Kinderbybel, God se kinders (regs).
Uitsendings vind plaas op Sondagmiddae vanaf 13:00 in Afrikaans, Sondagaande vanaf 17:00 in isiXhosa en Maandagaande in Engels vanaf 19:00. 
Verander ’n kind se lewe en bestel die Desmond Tutu Kinderbybel aanlyn by www.clf.co.za of per e-pos by order@clf.co.za.

2. Missie Japan: Nuwe jaar, nuwe moed
Soos altyd deel Stéphan van der Watt getuienisse en die wonderlike foto’s van hulle ritme in Kobe, Japan. Daar is ’n volledige projekles met kreatiewe idees vir die hele jaar (video’s, musiek en meer) waardeur KiX, in vennootskap met Missie Japan, gemeentes kan help met hulle betrokkenheid in Japan – en kinders se harte vir God se koninkryk daar laat vlamvat. Kry dit hier.
Vir meer oor die Van der Watts se gesellige en vol program in Desember, sowel as gebedsversoeke en hulle Februarie-program, lees die volledige nuusbrief .

Gaste in Japan
Verrykende interaksie in Kobe vir oud en jonk! 
Kinders
Die Van der Watt-kleinspan en maats.
Dave Bookless
EKOLOGIE
1. Bekende eko-teoloog Dave Bookless in Kaap!
Dave Bookless, 'n befaamde internasionale spreker en eko-teoloog is een van die sprekers tydens die Lausanne konferensie oor aardesorg (19-23 Februarie in Pietermartizburg). Hy besoek Kaapstad ook binnekort en lewer ’n aanbieding by NG Gemeente Kuilsrivier-De Eike op 12 Februarie 2018 om 19:00. Meer is onder.
Dave Bookless by Kuilsrivier-De Eike
Waterkrisis
2. Moses: "Waterskaarste kan gevaarlik wees."
David Botha (Projekspan Ekologie) skryf: “Die droogte en Dag Zero bedreig nie ons lewens nie; dit bedreig wel ons gewoontes.  Uiteindelik sal dit helend en goed wees vir hulle wat bereid is om te leer. Hierdie woorde sal van groot waarde wees vir diegene wat hulle geestelik en emosioneel wil voorberei op die uitdagings wat wag."

50 liter water
Logo
4. WWF: How to secure safe drinking water
In their weekly Wednesday Water File, the WWF South Africa offers useful information about securing the safety of our drinking water.
This includes testing and various methods of treating untreated borehole or well point water. (The simplest and safest way to ensure the microbial safety of drinking water is to boil it for at least three minutes.) One of the items on their bucket list this week is ensuring that we have enough clean storage containers for drinkable water. Read more

BEHOU DIE HUMOR
Humor
KUIERKANS
Kuierkans
Logo

VAKATURES

Vakatures in Kerkbode

Besoek die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode, vir die jongste nuus oor vakatures vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies. Dit word ook op e-Kerkbode bekendgemaak.
Die volgende uitgawe van Kerkbode verskyn op 16 Februarie.

Logo
1.1 Loeriehof Tehuis vir Bejaardes:
Ingeskrewe verpleegster

Aansoeke van entoesiastiese, verantwoordelike en gemotiveerde persone word vir hierdie betrekking as ingeskrewe verpleegster ingewag. Klik hier en reageer voor 12 Februarie.
1.2 Huis Boesmanland:
Geregistreerde (senior) verpleegkundige

Die ideale kandidaat vir hierdie pos is as professionele verpleegkundige by die Suid-Afrikaanse Raad vir Verpleegkundiges geregistreer. Benewens sterk leierseienskappe word ervaring van alle verpleegaspekte, verbintenis tot gehalte dienslewering, professionele versorging van bejaardes, opleiding van personeel in bejaardesorg en goeie menseverhoudings vereis. Lees hier meer. Aansoeke sluit 12 Februarie.

1.3 Die Herberg Kinder- en Jeugsorgsentrum:  
Administratiewe beampte/boekhouer (5/8-pos)
Kandidate moet oor goeie menseverhoudinge en goed ontwikkelde syferkundige en rekenaarvaardighede beskik. Akkuraatheid en die vermoë om teen 'n hoë tempo te kan funksioneer, tesame met kennis van Pastel en VIP, word vereis. Reageer voor 12 Februarie. Meer inligting is hier.  
Francois
TEN LAASTE
Uit die pen van ... 
François Cilliers
Die talentvolle musiekgroep, Kaleidoskoop, sing in een van hulle liedjies getiteld “Die Goeie” soos volg:
Mag die vuur van hoop so onblusbaar in jou brandend bly ...
En die vlamme onbeheersd soos 'n veldbrand rondom jou versprei ...
Die donker nagte rondom jou verlig en helder bly.


Die boodskap agter die lirieke is om moed en hoop te behou wanneer die lewe nie altyd maklik is nie.
Terwyl so baie mense in die Kaapprovinsie (en elders in die land) diep bekommerd is oor die droogte en die gevolglike, naderende Dag Zero, bly die uitdaging vir die kerk en gelowiges om hierdie krisis-tyd met hoop en geloof tegemoet te gaan. My gebed is dat ons hoop sal bly saai daar waar ons só baie stemme van kritiek en verwyte hoor oor die waterkrisis. Mag ons veral in hierdie moeilike tye ons harte bly draai na dié Een wat op sy tyd vir mens en dier uitkoms sal gee.
                                                                    - - - - - 

François Cilliers was vanaf 2011 tot 2017 leraar van die NG Gemeente Unitaspark in Vereeniging. Hy is sedert November 2017 leraar van Plettenbergbaai se Suiderkruis-wyksgemeente. Na 31 jaar in Gauteng is hy en sy vrou, Magdeleen, opgewonde oor die begin van hierdie nuwe hoofstuk  in die mooie Tuinroete.
Kontak François by fcilliers4@gmail.com

Day of Atonement
Vriendelike groete

Marieta Visagie en Salomi Steenkamp



kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.