Lees deur internet, klik hier >>
9 November 2018
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
Advent
Advent: tyd van voorbereiding ...
om die wonder van Jesus se geboorte te vier
... 'n tyd om mekaar te herinner aan die gawes wat Jesus Christus bring: hoop, vrede, vreugde, liefde. Ook 'n tyd om doelbewus met oop hande te leef. Gerhard van Dyk (NG Gemeente Reebok) vertel hoe hy by 'n klein dogtertjie hiervan geleer het. 
... 'n tyd wat ons uitdaag om vandag, in ons uitdagende omstandighede, met hernude hoop en toewyding te leef. 'n Gebed deur Charl du Plessis (NG Gemeente George-Bergsig) na afloop van die onlangse brande verwoord iets van hierdie hoop. Lees hier.
... 'n tyd wat ons uitnooi om versoening te lééf. Want God het ons deur Jesus met Homself kom versoen. Die spesiale verhaal van The Community of the Cross of Nails onderstreep dit. Klik hier.
"Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou." (2 Kor. 5:18)
SINODENUUS
1. Predikantebegeleiding
Dankie, dominees!  

Van 4 tot 6 November kon 18 predikante naby Stanford vergader (foto onder). Theunis Botha, ons PSD: Predikantebegeleiding, vertel dat hierdie 'n inisiatief is om dankie te sê vir predikante wat op God se roepstem geantwoord het en onverpoosd vir 30 plus jare hulleself met oorgawe aan God en die kerk gee.
Die wenner van die 2018 Desmond Tutu-Gerrit Brand-prys, Pierre du Plessis, het hulle verbeelding opnuut gestimuleer om veerkragtig te gaan bedien.
As die besondere waarderingswoorde van Banus Botha (NG Kraaifontein) enige aanduiding van die waarde van die geleentheid is, kan ander kollegas beslis ook vorentoe so ’n kans benut. Lees hier meer en geniet ook ander foto’s op Facebook.
Predikante
Agter: Callie Visagie, Theo Swart, Jurie Goosen, Peet Bester, Danie Smit, Danie Nel, Banus Botha
Voor: Nico Viljoen, André Kritzinger, Herman Burger, Quintus Heine, Theunis Botha, Christo van Staden, Eddie Orsmond, Wilhelm Burger, Schalk Kotzé
2. Communitas Raad vergader
Die Communitas Raad, bestaande uit VG en NG Kerk-afgevaardigdes, het op 31 Oktober en 1 November 2018 by Communitas op Stellenbosch bymekaar gekom.
Onder op die foto is voor, v.l.n.r. Lynette Roelfse, Xholani Mhobo, Ankia du Plooÿ, Daniël Bock en Mkululi Menziwa. In die tweede ry staan Stephen Pedro, Peter September, en Anriëtte de Ridder, en in die derde ry Gielie Loubser, Andrew Esterhuizen, Shaneeze Dilgee, Gustav Meyer en Karien Muller. Agter hulle is Christi Thirion, Bossie Muller, Helené Fouché en Moses Baartman, en heel agter Quintun Minnaar, Christo Benadé, Daniël de Wet en Theunis Botha. Dankie vir julle ywer tot voordeel van Communitas!
Communitas raad
Ringsopleiding
3. Gemeentegetuienis & Nuwe Geloofsgemeenskappe
vir missionale gemeentewees
Op 3 November het die taakspanne van Gemeentegetuienis en Nuwe Geloofs-gemeenskapsontwikkeling 'n inligtings-werkswinkel vir die VGK-ringe van Kraaifontein, SA Gestig en Sarepta by VGK Belhar-Oos aangebied oor hoe om missionale gemeentes te wees. Die doel van die werkswinkel was om die taakspanne se visies, doelstellings en dienste wat vir gemeentes beskikbaar is, bekend te stel. Lees hier meer. Op die foto verduidelik Phillip Botha, direkteur van Fresh Expressions South Africa, die dienste wat hulle lewer, veral om gemeentes te bemagtig om missionaal te wees.
4. Taizé kom in 2019 Kaap toe!
Die bekende Taizé-geloofsgemeenskap in Frankryk bied weeklikse retraites vir jongmense aan waar meer as 50 000 mense jaarliks saamkom. Die GROOT NUUS is dat Taizé in 2019 Suid-Afrika toe kom en van 25-29 September bied hulle 'n byeenkoms in Kaapstad aan waar sowat 8 000 deelnemers tussen 18 en 35 jaar verwag word.
Gemeentes wat 45 minute of minder vanaf Kaapstad se middestad geleë is, kan as gasgemeentes aanmeld om jongmense te huisves en ook blootstelling aan hulle eie gemeente en projekte te gee. Gemeentes dwarsoor die land kan egter nou reeds die datum op hul 2019-kerkkalender merk en jong volwassenes hiervan vertel. Rig navrae aan Maryke by jeug@sun.ac.za.

Taizé-broers en leraars
Op Do. 25 Oktober het 'n paar predikante weer die Taizé-broers besoek vir 'n gesprek oor 2019 se konferensie. Die gespreksleier was Jandré Viljoen (fotograaf).
Op die verste punt sit Elsché Eygelaar en kloksgewys Paul Barnard, Cois de Kock,
Brother Paulo, Brother Reynold, Brother Hervé, Johan van den Heever,
Wynand Breytenbach, Almero Welgemoed, Sherlize Hayes en Brother Luc
5. NG Algemene Sinode Moderatuur vergader
Die moderatuur van die NG Kerk se Algemene Sinode het op Maandag 5 November in 'n goeie gees in Kaapstad vergader. Hulle het onder meer oor die ontwerp van die Algemene Sinode besin.
Op die foto onder is Gustav Claassen (algemene sekretaris), Dirkie van der Spuy (assessor), Elize Bezuidenhout, Nelis Janse van Rensburg (voorsitter van die moderamen), Chris van Wyk en Dewyk Ungerer (aktuarius).
NG Alg. Sinode se moderatuur byeen
#imagine 2019
6. #imagine 2019-materiaal is hier!
Luané McLachlan, #imagine projekkoördineerder, berig:
Ons is so opgewonde oor volgende jaar se #imagine (op 29-31 Maart); dit beloof om 'n onvergeetlike naweek te wees! Tog besef ons dat #imagine nie net vir 'n naweek 'n impak kan hê nie, maar eintlik deurlopend 'n rol moet speel t.o.v. ons identiteit in Christus, om 'n verskil te maak waar God ons plaas, en om brûe te bou met die mense rondom ons.

Dus is dit met groot vreugde dat ons die #imagine pre- en post-pakket bekendstel. Hierdie pakket is geskep vanuit 'n behoefte van gemeentes om tieners voor te berei vir die geestelike groei wat oor die #imagine naweek plaasvind, maar ook deurlopend deur die jaar by kampe, uitreike, en hul eie jeugbyeenkomste. Lees meer.
7. Sentrum vir Publieke Getuienis
Waagmoedige Gesprekke op Riversdal
Senior verteenwoordigers van die Hessequa-munisipaliteit (onder andere die burgemeester, munisipale bestuurder en raadslede) het op 1 November saam met kerk- en ander gemeenskapsleiers op Riversdal byeengekom. Die doel van die gesprek was om die uitdagings en geleenthede vir die streek eerlik in die oë te kyk. Na die vergadering was daar konsensus dat dialoog soms moeilik is, maar dat ons "treetjie vir treetjie" vorentoe neem op die pad na nuwe sosiale kohesie en 'n inklusiewe, herstelde en hoopvolle gemeenskap. Mense van Albertinia, Stilbaai en Heidelberg was ook teenwoordig. Vir meer inligting oor die inhoud van die gesprek kontak die kantoor by spg@kaapkerk.co.za.
Gespreksgenote
Saam met Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis (links) is o.a. 
Grant Riddles, burgemeester van die Hessequa-munisipaliteit in die middel
voor, en agter hom Johan Jacobs, munisipale bestuurder. Vierde van links
staan Boy van Rensburg, moderamenlid.
 
André Olivier
8. NG Kerk in Namibië
Pastorale brief aan landbougemeenskap
In die afgelope aantal weke het daar baie op die gebied van die landbou in Namibië gebeur: daar was 'n Nasionale Grondkonferensie, asook verskillende vergaderings van landbou-organisasies.
Op die agtergrond is ook die onteieningsgesprekke van grond in die RSA, asook die heersende droogte op talle plekke.
In die lig hiervan het die moderamen van die NG Kerk in Namibië 'n pastorale brief aan hul lidmate in die landbou, veral boere, gerig. André Olivier, voorsitter van hulle moderamen, is 'n ou bekende in die Sinode van Wes-Kaapland. Sy brief is hier beskikbaar. (Met erkenning aan Feldmuis, Namibië se e-nuusbrief.)
GEMEENTENUUS
Dankie
1. Appreciation Service in Parow
Parow Community Church (NG Gemeente Parow-Noord) en Revive Worship Centre nooi rolspelers wat hul tyd en hulpbronne aanwend tot voordeel van hierdie gemeenskap uit na 'n waarderingsdiens op 3 Februarie 2019. Die Engelse uitnodiging is hier. Reageer asb. voor 15 Desember soggens telefonies na  021 939 2395 of stuur 'n e-pos na ngkparownoord@telkomsa.net.
2. NG Sonstraal: Boekbekendstelling - Bloedbande
Die NG Gemeente Sonstraal nooi almal uit om op 28 November te gaan luister na Wilhelm Verwoerd wanneer hy praat oor sy boek: Bloedbande – ’n donker tuiskoms. Die bekendstelling vind plaas om 19:00 by NG Sonstraal op die hoek van Hebron- en Tulipstraat, Amanda Glen, Durbanville. Kontak Belinda teen 20 November rakende bywoning by 021 976 1236 of kommunikasie@sonstraal.co.za. 
3. Blanco-gemeente: dankbaar bewus van brose menswees
Na afloop van die onlangse brande in die Suid-Kaap, is ’n interkerklike dankseggingsdiens op Sondag 4 Nov. in Blanco gehou. Die geleentheid is gereël deur gemeenskapsleiers vanuit o.a. Blanco se kerke, besighede, skoolhoofde en niewinsgewende organisasies.
Francois Mulder (NG Gemeente Blanco) skryf: “Ek is opnuut bewus van die broosheid van menswees. Ons dink ons is so sterk  ... En dan verskyn die krag van wind, water, vuur, siekte en dood soms ... Ook is ek intens bewus van die VaderSeunGees se uitnodiging om na Hom te kom, ‘almal wat moeg en oorlaai is’. Sy omhelsing bring troos en vrede te midde van die ‘vure’ van die lewe. My kindskap van hierdie liefdevolle Vader vrywaar my nie van die ‘brande’ van die lewe nie. Maar een ding weet ek te midde van die lewenstorms: Hy is Immanuel, God met ons, God met my.
Die sáám werk van almal om te help waar hulle kan en die ondersteuning en aanmoediging van die brandbestryders en hulpverleners, bemoedig my. Ons kán oor alle grense saamstaan as 'n gemeenskap." (Dankie vir ondersteuning van die sinodale rampfonds.)
Biskop Harker en Francois Mulder
Biskop Harker en Francois Mulder
Brand in George-omgewing 30 Oktober
Francois se voorbladfoto in Die Burger, 30 Okt.
4. Gemeentes: kalenders 2019, asb.
Ons vra gemeentes graag weer om hul kalendervoorblaaie vir 2019 aan ons te stuur. Elkeen weerspieël iets van die karakter en fokus van die gemeente - dis 'n spesiale manier om in mekaar se wel en wee te deel en ons gemeenskaplike kerkwees te vier. In 2017 het ons 31 voorblaaie ontvang om te deel; in 2018 het dit gegroei tot 64. Dalk is hierdie jaar die een wat ons 100 kry! Stuur die voorblaaie na media@kaapkerk.co.za wanneer beskikbaar. Onder is enkele voorblaaie wat ons reeds ontvang het.
Kalenders
UIT ONS RINGE
1. Ring van Brackenfell analiseer bedieningsgeleenthede
Op 5 en 6 November het die Ring van Brackenfell byeengekom vir hulle jaarlikse ringsitting. Vanjaar se ringsitting is ingerig om die resultate van 'n gemeenskapsanalise wat die ringsgemeentes gedoen het, te bespreek. Familiekerk Bottelary se kollegas is ook op die vergadering verwelkom (foto onder). Om meer te lees oor die verskeidenheid bedienings-geleenthede wat geïdentifiseer is en hoe hulle beplan om hierdie proses vorentoe te bestuur, klik hier.
Ring van Brackenfell
2. Ring van Knysna hou afsluitingsontbyt
Die Ring van Knysna het op Woensdag 7 November die jaarlikse afsluitingsontbyt vir die predikante van die ring gehou. Plettenbergbaai-gemeente was die gasheer. Die ontbyt is by die restaurant, Nineteen89, aangebied.
Behalwe vir die lekker kuier, was dit ook ‘n voorreg om na mekaar se stories na aanleiding van die afgelope twee weke se brande te luister. Lees gerus hier hoe Chris du Preez (Plettenbergbaai) vertel van George-Denneoord en George-Bergsig, Die Vleie, Karatara, Knysna en Plettenbergbaai se unieke belewenis rondom die jongste vlaag brande. Eugene Barnard (ringskriba, Knysna) en Rudolph Grobler (George-Bergsig) was ongelukkig nie teenwoordig nie. Kollegas, wees asb. verseker dat ons julle in ons gebede onthou - red.
Ring van Knysna
Van links om die tafel: Dawie le Roux (Die Vleie), Gideon Volschenk (George-Denneoord), Anton Louw (ringsvoorsitter, George-Bergsig), Francois Cilliers (Plettenbergbaai), Stefan Human (Knysna, jeugwerker), Charl du Plessis (George-Bergsig), Hannes Pretorius (George-Bergsig), Alwyn Burger (Karatara), Vernon Bekker (George-Denneoord), Marius Coetzee (Karatara), Suzette Luwes (George-Bergsig, jeugwerker), Chris du Preez (Plettenbergbaai, fotograaf).
PREDIKANTENUUS
Grobbelaars
1. Jan en Carien Grobbelaar in NG Wellington-Oos gegroet
In die NG Gemeente Wellington-Oos word daar op Sondag 11 November tydens die 09:00 erediens van Jan en Carien Grobbelaar afskeid geneem. Jan het 'n beroep na die NG Gemeente Prince Alfred's Hamlet aanvaar en word op 18 Nov. daar bevestig.
Carien was die gemeente se finansiële beampte en sal dus ook in die kantoor 'n besliste leemte laat. 
Lees hier hoe Wellington-Oos spesiaal vir Jan en Carien groet. Ons seënwense aan julle en terselfdertyd wens ons Wellington-Oos sterkte en wysheid toe met die beroepingsproses wat voorlê.
2. "Jongdominee" Barend Vos groet Warrenton
Getroue lesers van LiG-tydskrif sien uit na elke bydrae waarin die wedervaringe van Jongdominee en sy wederhelf in die bediening op die platteland gedeel word.
Barend Vos, die skrywer van hierdie gewilde rubriek, het op Sondag 4 November na dertig jaar as predikant in die NG Gemeente Warrenton in die Noord-Kaap die akte van emeritaat ontvang, geldig vanaf 30 November 2018. VrydagNuus wens hom en SyGoeieVrou (Retha) baie seën in hul plekkie by die see toe! Welkom in die Wes-Kaap!
Barend Vos en Jongdominee
Gert Duursema
3. Gert Duursema na Dordt (Nederland) genooi
Van 14 tot 17 November vind 'n internasionale kongres in Dordrecht, Nederland plaas met die tema: "The International Synod of Dordt (1618-1619). Contents, Contexts, and Effects, 17th – 21th Centuries".
In Noord-Kaapland se e-nuusbrief van 6 November word berig dat dr. Gert Duursema ook 'n genooide spreker sal wees. Sy tema is: "The distinctive character of ecclesiastical decisions within the Dordtian Church Order. Ecclesiastical authority."
In hoofsaak gaan dit oor die kwessie dat besluite van kerklike vergaderings wat met ’n meerderheidstem geneem is, bindend is. Tensy dit in stryd is met die Skrif. Wat word presies daarmee bedoel? Kortliks: ’n meerderheidstem het nie die finale sê nie! In ’n tweede ronde gaan hy krities beskryf hoe dié artikel in die Gereformeerde kerke van Nederlandse herkoms in Suid-Afrika toe- en aangepas is. Baie geluk en sterkte!
GEBEDSVERSOEKE
Gebedsversoeke
ALGEMEEN
Fanie Snyman
1. Fakulteit Teologie en Religie, UV
Festschrift, kongres ter ere van prof. Fanie Snyman 

Op Ma. 3 Desember vind 'n kongres ter ere van prof. Fanie Snyman, uittredende dekaan van die Fakulteit Teologie en Religie aan die Universiteit Vrystaat, by die fakulteit in Bloemfontein plaas. 
Prof. Snyman emeriteer aan die einde van 2018. 
Bywoning is gratis; bespreek asb. teen 26 November 2018 by Marina Oberholzer - oberholzerM1@ufs.ac.za en kry die volledige  program hier. Baie vervulling in die nuwe fase toegewens, Professor. (Berig met dank aan Vrypos, 1.November 2018.)

Liggieboom
André van Wyk, bestuurder by Jan Kriel Instituut, skryf - klik bo.
Prop. en mev. Bloro
3. 'n Getuienis van nuwe hoop
Die Here los Lusikisiki en Bambisana nooit alleen nie!

Nuwe hoop en energie in Kokstad! Op 20 Oktober is prop. Zukile Bloro en sy vrou in die gemeentes van Lusikisiki/
Bam-bisana bevestig, berig Christo Wooding.
Saam met bemoedigende uitreike van verskillende gemeentes en welkome besoeke van Stellenberg, Adelaide, Jeffreysbaai en uit Amerika het die nageslagte van die eerste bekeerlinge van Lusikisiki en Bambisana oor jare inisiatief geneem – en soveel nuwe lewe en hoop is hieruit gebore! Lees verder.
4. Raakgelees
Jan Peterson: My life as a pastor's wife 

Die bekende skrywer Eugene Peterson se vrou, Jan, skryf oor haar lewe as predikantsvrou ("pastor's wife"): “I’m well aware that being a pastor’s wife brings with it a lot of demands and a lot of time spent serving others. But the amazing thing about service is that it rarely returns void, even if we don’t see the end results ourselves."
Die getuienis wat sy deel, gee weer nuwe perspektief op diensbaarheid en die gemeenskap – en gemeensaamheid – wat dit bring. (Eugene Peterson is op 22 Oktober 2018 oorlede.) Lees hier verder.
Community and service
5. Kersfees: vrede op aarde, in die mense 'n welbehae ...
Wanneer ons tydens Advent met afwagting uitsien na die koms van die Verlosser, gaan dit oor 'n geboorteverhaal wat vertel van God se vrede wat deurbreek op aarde. Vrede vir almal - terwyl ons wag op die Vredevors.
In die jongste van 'n reeks video's vra Pous Franciskus mense om met sagte harte te bou aan 'n evangeliese vrede wat niemand uitsluit nie. "Let us pray together that the language of love and dialogue may always prevail over the language of conflict." Hiervoor kan ons almal elke dag, oral op aarde, bid. Die video is onder.
Pope's prayer network video - peace
PUBLIKASIES
Kategese-keusegids 2019
Hosannas van CLF Logo
EKOLOGIE
Heelal
Die sterre help ons om Christus (en onsself) in die stal raak te sien
Van David Botha (Projekspan Ekologie) ontvang ons die volgende bydrae: "Om ons plek in die heelal te vind en ons rol op die aarde reg uit te leef, help dit ons om na onsself vanuit die ruimte te kyk. Hiermee help die sterrekunde en kosmologie ons. Hulle help ons om te weet hoe klein ons is." Lees verder hier.
Prayer for our earth
Klik bo vir die Afrikaanse vertaling
BEHOU DIE HUMOR
Kerskonsert - oefening
KUIERKANS
Kuierkans
VAKATURES
Kerkbode vakatures
Kamieskroon
1. NG Gemeente Kamieskroon: leraarspos
Die NG Gemeente Kamieskroon wag aansoeke in van 'n gelegitimeerde van die NG Kerk om 'n termynbepaalde of 'n tentmakerspos (afhangende van die suksesvolle aansoeker se omstandighede) daar te vul. Die gemeente het ongeveer 120 belydende en 15 dooplidmate, waarvan 'n deel op plase woon. Hier is meer oor hierdie vakature - dien aansoeke in teen 15 Januarie 2019.
NG Leipoldtville
2. NG Gemeente Leipoldtville: vastetermynpos van twee jaar vir leraar
Die NG Gemeente Leipoldtville is 'n plattelandse gemeente wat bestaan uit 160 belydende lidmate en 75 dooplidmate. Hier is 'n vakature vir 'n vastetermynpos vir twee jaar. Klik hier om meer te lees en reageer voor of op 10 Januarie 2019.
NG Kerk Nuwerus
3. NG Gemeente Nuwerus: vastetermynpos van drie jaar vir leraar
NG Nuwerus is 'n plattelandse gemeente ongeveer 70 km noord van Vanrhynsdorp op die N7-snelweg. Hier is 'n vakature vir 'n leraar in 'n vastetermynpos van drie jaar. Klik hier. Aansoeke sluit op 6 Desember. 
Logo
4. NG Gemeente Wellington-Oos: voltydse medeleraar
Die NG Gemeente Wellington-Oos stel hiermee 'n vakature bekend vir 'n geskikte aansoeker om as voltydse medeleraar in die gemeente te kom dien. Die gemeente is geleë in die skilderagtige Bolandse dorp Wellington, is 45 jaar oud en bestaan uit ongeveer 1400 belydende lidmate en 400 dooplidmate. Klik hier vir meer oor die pos - aansoeke sluit 4 Januarie 2019.
Logo
5. NG Gemeente Durbanville
5.1 Aanbiddingsleier vir familiediens

'n Herinnering: NG Durbanville wag aansoeke in vir die pos as aanbiddingsleier vir hulle familiediens. Die pos het ten doel om die gemeente te begelei in aanbidding tydens eredienste. Lees meer en reageer voor 15 November 2018.

5.2  Jeugwerker: kinderbediening
Durbanville Gemeente het ook ’n vakature vir ’n jeugwerker met ’n spesiale fokus op kinderbediening. Inligting oor die profiel, pligte en verantwoordelikhede is hier. Die sluitingsdatum vir hierdie vakature is ook 15 November 2018.

Logo
6. Badisa
Durbanville Kinderhuis: voertuigbestuurder

Die Durbanville Kinderhuis, 'n program van Badisa, het 'n vakature vir 'n voertuigbestuurder. Lees meer oor die vereistes en posbeskrywing en reageer voor 16 November 2018.
TEN LAASTE

Uit die pen van ... Marnus Havenga

As daar 'n land op aarde is waar Tim Noakes se "Banting"-dieet nie veel aftrek sal kry nie, is dit Duitsland.
Die Duitsers is gans te lief vir brood om hulself enigsins aan 'n eetplan daarsonder te steur. Elke streek het sy eie gunsteling broodsoorte en gedurende die jaar word daar selfs nóg tipes bygevoeg om spesiale geleenthede te herdenk. Oktobermaand hier in Leipzig was só 'n okkasie en die bakkerye het met sogenaamde "Reformationsbrötchen" in hul vertoonvensters gespog.
Hierdie spesiale brode word gemaak om soos die Luther-roos (die bekende seël wat Martin Luther op sy skrywes aangebring het) te lyk. Vir Luther het hierdie wit roos die vrede wat Christus se kruisdood (tussen God en mens, én tussen mense self) teweegbring, gesimboliseer. Dit is dan hierdie einste betekenis wat vandag ook aan dié gebak geheg word.
'n Gebruik wat onder sommige gemeentes in die stad ontstaan het, is om na afloop van hul onderskeie Reformasiedag-eredienste, "Reformationsbrötchen" op straat uit te deel. "Want", verduidelik 'n predikantsvriend, "vrede begin heel dikwels met die breek en saam-eet van 'n stukkie brood". 
                                                                 -0-0-0-

Marnus is tans besig met sy doktorale studies wat oor die Switserse teoloog Hans Urs von Balthasar se teologiese dramatiese teorie handel. Na afloop van navorsingsbesoeke aan Oxford Universiteit in Engeland en Leipzig Universiteit in Duitsland, sien hy en sy vrou, Angelique (ook 'n predikant wat met haar doktorale studies besig is), uit om eersdaags na Suid-Afrika terug te keer en in die kerk te dien. Kontak Marnus hier.

Marnus Havenga en Reformationbrotchen
VrydagNuus-groete - en mag ons vra dat jy 'n kers aansteek vir elkeen wat te midde van erge droogte só graag wil bly glo, wil bly boer ...
Marieta Visagie en Salomi Steenkamp


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.