Lees deur internet, klik hier >>
7 Februarie 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Word getel in Februarie!
Skribas het die uitdaging om jaarliks op 1 Maart die gemeente se Vorm vir Kerklike Statistiek te voltooi.  Daarom word daar gevra dat die getal mense wat elke Sondag in Februarie enige van die gemeente se eredienste bywoon, getel moet word.  Hierdie statistiek help om tendense in die NG Kerk te bepaal en vir die leierskap om strategiese beplanning te doen.  Dit is van kritiese belang dat elke gemeente sal seker maak dat hulle syfers so akkuraat as moontlik gegee word.  Sien die 2019 statistieke vir Wes-Kaapland hier. Kontak vir Elmien Theron by 021 957 7104 of ngkadmin@kaapkerk.co.za vir navrae oor die Vorm vir Kerklike Statistiek. Laat weet gerus vir VrydagNuus watter metode julle gebruik om die telling te doen.
Die Boodskap moet uit!
Die Sentrum vir Publieke Getuienis versoek gemeentes om lede vir die nuutgestigte evangelisasie taakspan te nomineer. Ons is oortuig daarvan dat daar bekwame en passievolle lidmate is wat graag by hierdie saak op ‘n breër vlak betrokke sal wil raak. Stuur asb. kontakbesonderhede na  of spg@kaapkerk.co.za.
Geestelike toer na Malawi
Baie van ons ken vir AnnaMarie de Klerk wat vir meer as veertig jaar by ons susterskerk in Malawi, die CCAP Nkhoma Sinode, in diens was.  Nadat AnnaMarie op Porterville kom 'aftree' het, het sy onmiddellik betrokke geraak by beide die VGK en NG Kerk. En watter beter toegeruste persoon kon die Here uitstuur om ons mense hier in die Wes-Kaap aan haar mense daar in Malawi te gaan bekendstel? Vanaf 9 tot 18 Maart sal vier vroue haar vergesel na Malawi om die ekumeniese bande met ons kerk daar te gaan help verstewig. Lees hier meer.
V.l.n.r.  Johanlie Bock (NG Gemeente Kleinmond), AnnaMarie de Klerk, Hilary Maarman (VGK Porterville), Louise Bruiners (Getuienisaksie) en agter Emelie Farao (VGK Porterville)
Christelike perspektief op die nuus
Braam Hanekom het onlangs op Radio Kaapse Kansel gesels oor die Korona-virus, drank op Stellenbosch, woede en ongeduld en die vredesplan in Israel/Palestina.  Luister gerus hier na die gesprek.
Little Seeds lees hardop
Little Seeds, ‘n gesamentlike inisiatief van Badisa en Diaconia, het Woensdag 5 Februarie deelgeneem aan die Wêreld Hardoplees Dag.  Nicola Vermeulen het by Môresterretjies in Durbanville gaan inloer en vir 22 gretige kleuters 'n storie gelees.  Hierdie geregisteerde dagsorgsentrum is 10 jaar gelede op die plaas Morgenster opgerig om al die omliggende plase se kleuters te bedien deur hulle opvoedkundig te stimuleer en te ontwikkel.  Môresterretjies word ondersteun deur Kenridge Laerskool en Sandra Wessels is die programbestuurder. Nal'ibali, een van die programme wat Little Seeds aan gemeentes en gemeenskappe bied, het die storie ‘n Dag om te onthou geskryf deur Lorato Trok spesiaal vir die spesiale dag ontwikkel. 
Biddag vir Opvoeding en Onderwys - 9 Februarie
Eerskomende Sondag is Biddag vir Opvoeding en Onderwys. Ter voorbereiding skryf Gustav Claassen van die Algemene Sinode dat die NG Kerk ons beywer om deu­ren­tyd in voeling te wees met on­derwyssake en dat daar soos nodig kommentaar gelewer word op voorgestelde wetgewing en ander sake wat van belang is. Hy vra gemeentes spesifiek om voorbidding oor die onderwerp te doen.  Lees sy volledige skrywe hier.  Met dank aan Kerkbode.
Motiveringsessies op Tuinroete
Die Sentrum vir Publieke Getuienis het die week motiveringsgesprekke met die Tuinroete Distriksmunisipaliteit gefasiliteer.  Verskeie bestuurspanne van veiligheid, rampbestuur, brandbestryding, gesondheid en  omgewingsorg het die beplanning- en motiveringsessie bygewoon.
EKOLOGIE
Wie het die waarheid beet?
Die feit dat nie alle wetenskaplikes deur die navorsing van Keeling (soos verlede week berig) oortuig word nie en veral ook nie saamstem dat dit die mens is wat die groot verhoging in CO2-vlakke in die aarde se atmosfeer veroorsaak nie, konfronteer ons met die volgende vraag: Wie het die waarheid beet? Lees meer wat ons eko-korrespondent David Botha hieroor te sê het.
VAKATURES
Fasiliteitebestuurder - Uitsig Gemeente
Die Uitsig Gemeente in Ridgeworth, Bellville wag aansoeke in vir die pos van fasiliteitebestuurder om onder meer die gebouekompleks te bestuur, fondsinsamelingsfunksies te bestuur en die administratiewe personeel te ondersteun. Sien posvereistes hier.
Manager - SA Children's Home
This child and youth care centre in Cape Town is looking for a dynamic and driven individual to fill the position of manager. The ideal candidate must have strong administrative and managerial skills as well as an empathetic understanding of traumatised children. Click here for more details.  Submit your application by 21 February. 
Watch this video for more background on the facility.
Voltydse leraar - Sutherland
Die NG Gemeente Sutherland nooi alle gelegitimeerde proponente, predikante en emeriti leraars uit om aansoek te doen vir hierdie termyn pos as voltydse leraar. Aansoeke sluit 15 Maart. 
Vir meer besonderhede, klik hier.
Skriba - Gansbaai (7/8 pos)
Die NG Gemeente Gansbaai beskik tans oor ‘n vakature vir ‘n skriba. Die skriba is primêr verantwoordelik vir die doeltreffende hantering van die administratiewe funksies van die gemeente en skakeling met gemeentelede. Dien 'n CV by die kerkkantoor in of stuur per e-pos aan ngkgansbaai@telkomsa.net. Vir meer besonderhede, klik hier.
Kinderversorger - Steinthal, Tulbagh
Die Steinthal Kinder- en Jeugsorgsentrum in Tulbagh benodig die dienste van 'n kinderversorger in hulle senior seunshuis. Die suksesvolle kandidaat moet beskik oor ‘n FETC sertifikaat in kinderversorging met ten minste vyf jaar toepaslike ervaring.  Klik hier vir aansoekbesonderhede.
Bestuurder - Huis van Heerde/Huis Andrew Murray
Aansoeke word ingewag vir 'n dinamiese leier en innoverende bestuurder wat 'n goeie begrip het vir die behoeftes van getraumatiseerde kinders en jeugdiges.  Sien posbeskrywing hier.  Aansoeke sluit 7 Februarie.

GEMEENTENUUS
Plettenbergbaai vier 90ste bestaansjaar
Die Plettenbergbaai Gemeente het die jaar afgeskop met 'n feesnaweek om hulle 90ste bestaansjaar te vier. Francois Cilliers skryf oor die naweek se program, insluitende die spesiale nagmaal- en verjaarsdagdiens en hulle spekboomprojek. Hy vertel ook hoe die gemeente ontstaan het en 'n bietjie meer oor hulle predikante.  "Ons dank aan die Here vir hierdie voorreg! Ons sê ook dankie aan elke lidmaat en vakansieganger wat oor 90 jaar dit vir die gemeente moontlik gemaak het om 'n diep spoor van hoop en uitreik in die omgewing te kan trap. Mag ons nog baie jare hier in sy diens wees."  Lees Francois se skrywe hier.
Oostersee ouderling word 94
Oostersee Gemeente het verlede Donderdag Barbara von Solms se 94ste verjaarsdag gevier en sy was Sondag as ouderling op haar pos by die deur.  Sy het na haar aftrede deel geword van Oostersee se kerkraad en is sedertdien ononderbroke ouderling.
Jampie Nel skryf: "Ons weet sy is baie broos en tans in die hospitaal, maar ons dank die Here vir ‘n formidabele mens wat vir honderde mense oor jare ‘n voorbeeld en bemoediging was. Haar toewyding aan die Here en aan haar geloofsgenote inspireer ons. Ons eer die Here ons God vir haar en bid vir haar."
Ons hartlike gelukwense.
PREDIKANTENUUS
Kweekskool klasmaats vir 60ste herdenkings 
Drie emiriti leraars wat in 1960 saam op Stellenbosch studeer het, het in Januarie vanjaar hulle 60ste huweliksherdenkings gevier. Onder van links na regs is Callie en Katy Matthee, Johann en Rina Smith en Christo en Anna Albertyn.
Baie geluk met hierdie spesiale mylpaal.
GEBEDSVERSOEK
ALGEMEEN
CLF kondig vennootskap aan
Die Christelike Lektuurfonds het aangekondig dat hulle 'n strategiese vennootskap met Van Schaik Boekwinkel aangegaan het. CLF is in 1957 deur 'n groep sendelinge gestig met die doel om Christelike leesstof onder die verskillende taal- en kultuurgroepe van Suider-Afrika te versprei. CLF se bediening maak staat op vennootskappe waardeur hulle poog om 'n ondersteunende rol in kerke en hul aktiwiteite te speel. 
Deur Van Schaik se voetspoor te benut, sal CLF nader aan sy teikengehore van Christelike lesers wees. Hierdie ooreenkoms sal albei partye bevoordeel deur verskillende markte te bedien en 'n wyer produkreeks te bied.
NUUSBRIEF
Klik hier vir Badisa Trio se eerste nuusbrief van 2020.

BEHOU DIE HUMOR
KUIERKANS
Klik hier vir meer inligting.
Brackenfell orrelkonsert
Durbanville oggendkuier
TEN LAASTE
In Spreuke 16:16 lees ons: "Probeer eerder wysheid bekom as goud, liewer insig as silwer." Mag dit vandeesweek ons leuse wees en ons gebed dat diegene wat in beheer is van ons kinders se opvoeding en onderwys ook met wysheid geseën word.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser 


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.