Ons vier Palmsondag
Ons vier Palmsondag
Lees deur internet, klik hier >>
8 April 2022
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Hoop, vrede en verlossing
Met die oog op Palmsondag lewer Nioma Venter die volgende bydrae namens die moderatuur:
"Daar is ’n voetpad teen die westelike hang van die Olyfberg op pad na Jerusalem waar ’n klein Fransiskaanse kapel met vensters in die vorm van ’n traandruppel in 1955 deur die argitek Antonio Barluzzi gebou is. Die kapel staan bekend as Dominus Flevit, Latyns vir The Lord wept, en merk die plek waar pelgrims meen die gebeure in Lukas 19:28-44 afspeel. ’n Betekenisvolle mosaïekwerk op die vloer voor die altaar in die kapel beeld ’n hen uit wat beskermend oor haar kuikens waak. Dit is hier waar Jesus in tere besorgdheid oor Jerusalem ween, wetende dat die stad nie gereed is om die vrede en verlossing waarvoor Hy bereid is om te sterf, te ontvang nie.
In die dae wat volg, demonstreer Jesus iets van sy eerste boodskap op die Berg van Saligsprekinge. Tree vir tree onderweg na Golgota lei Jesus die koms van die Koninkryk van God in deur die broosheid van trane, ’n sagte gees, besorgdheid oor die mense rondom Hom en ’n dienswillige gelatenheid oor die onreg wat teen Hom gepleeg word. 
Hoop en vrede en verlossing word volbring. 
Tog vloei die bloed vanweë huishoudelike geweld en misdaad steeds en woed sinnelose oorloë voort; raak die polarisasie tussen mense net groter en daarmee saam die vyandigheid en nyd; ontneem sistemiese onreg kwaliteit van lewe en sterf daar sowaar nog in ons dag en tyd kinders van die honger in ons eie land!  Vandag vertoef ons in die gees saam met Jesus teen die hange van die Olyfberg terwyl ons die omgewing rondom ons gadeslaan en smekend bid: Here, wees ons genadig! Herinner ons aan U gesindheid en die prys van verlossing en gebruik ons as instrumente van hoop en vrede tot U eer."
Legitimasiediens in Stellenbosch
Maandagaand was weereens 'n spesiale geleentheid met die legitimasie van elf nuwe diensleraars by Stellenbosch Moedergemeente. Klik hier om na die diens te kyk.
Van links na regs is: Elrika Esterhuizen, Wayne van Rooyen, Janneke Marais, Adri Vlok, Dolf Lubbe, Mikal Barnes, Tiaan Muller, Stephan de Kock en Ivor Swartz.
Mag julle 'n geseënde bediening beleef. 
Ramptoestand opgehef
President Cyril Ramaphosa het Maandagaand na 750 dae die nasionale ramptoestand opgehef. Daar is vir die volgende 30 dae steeds sekere oorgangsregulasies in plek en dit is in die jongste Staatskoerant van 4 April gepubliseer.
Die dra van maskers binnenshuis en op openbare vervoer bly steeds verpligtend. Bywoning van byeenkomste word beperk tot 50% van die kapasiteit van die perseel, indien mense ingeënt is of negatiewe toetse kan toon. Andersins word getalle tot 1000 binnenshuis en 2000 buite beperk.
Kenners spekuleer tans of die ramptoestand kan terugkeer indien infeksies skerp toeneem en intentingsyfers laag bly. Die regering het intussen konsepregulasies voorgestel om die toekomstige bestuur van die pandemie onder die Nasionale Gesondheidswet te laat bekragtig. Hierdie proses is tot 15 April oop vir openbare bespreking.
DinkJeug: Palm tot Paasfees-pakkie
Reis saam met DinkJeug vanaf Palmsondag na Paassondag met ‘n plekmatjie vir elkeen in die huis. Daar ‘n gespreksblad vir elke dag met wenke om saam te dink, te gesels, te doen en te bid. Laai die pakkie hier af.
Publieke Getuienis publikasies
Waarom glo ons? Redes vir geloof in die 21ste eeu is ‘n apologetiese werk (72 bladsye) geskryf deur Braam Hanekom wat op 'n eenvoudige wyse wil aandui waarom ons steeds kan glo in ‘n tyd waar geloof van soveel kante bevraagteken word. In 'n diverse land waarin ons verskeie godsdienste aantref, sekularisasie momentum kry en die vraag na die verhouding tussen geloof en wetenskap oral gevra word, probeer die skrywer hierdie problematiek aanspreek en ‘n verduideliking van ons geloof gee. Kostes vir hierdie boek beloop R50 per eksemplaar. Koerierkostes is nie ingesluit nie. 
Bybelse antwoorde op die uitdagings van ons tyd is 'n kort Bybelstudiereeks saamgestel deur Braam Hanekom, Johannes Mouton en Chris Wheeler en vertel waarom die kerk op die markplein betrokke moet wees. Die gesprekke word ingelei met ‘n kort feitelike agtergrond en Skrifgedeeltes wat Bybelse lig op temas laat val. Van die temas wat bespreek word, is sosiale kohesie en versoening, migrasie en behuising, vaardighede en werkloosheid, klimaatsverandering en geloof in ‘n ongelowige wêreld. Kostes vir hierdie Bybelstudiereeks beloop R20. Gemeentes en individue kan bestellings by media@kaapkerk.co.za plaas.   
Maak aantekening van Murray Jubileumfees
Hiermee die volgende bydrae in die Argief se reeks oor die Murray-familie. VrydagNuus plaas weekliks 'n kort berig in die aanloop tot die geskiedkundige Murray Jubileum wat van 6-8 Mei in Wellington gehou word.
John Murray is op 15 September 1826 in Graaff-Reinet gebore. Hy behaal sy MA in Aberdeen en gaan daarna na Utrecht vir sy teologiese opleiding. Hy word op 27 Mei 1849 op Burgersdorp bevestig en bedien vir nege jaar lank daar. In November 1858 vestig hy hom op Stellenbosch om een van die eerste twee hoogleraars aan die Kweekskool te word. Die ander een was professor Nicolaas Hofmeyr. Murray gaan in 1881 weens swak gesondheid na Skotland. Hy sterf op 27 Desember 1882 kort na sy terugkeer na Suid-Afrika.
Belangstellendes kan die dagkonferensie oor die Murray-familie bywoon, 'n boekbekendstelling geniet of die naweek oorbly vir ‘n Murray Retraite. In een van die referate bespreek Lizelle Smit die bydrae van die invloedryke dr. Pauline Pretorius, gebore Murray, wat as 'n NG Kerk sendingdokter gewerk het in Njassaland van 1928 tot 1976. Sy het die gesondheidsorgpraktyke van vroue en kinders verbeter en plaaslike vroedvroue opgelei in Mlanda. Baie nasate van Andrew Murray Sr. het as sendingdokters in Njassaland gewerk.
Bespreek aanlyn voor 2 Mei. Klik hier vir die volledige program. Lees volgende keer meer oor hierdie merkwaardige familie, wanneer William onder die soeklig kom.
Entrepreneurskursus op Kleinmond
Die Hoop en Versoening Trust het verlede week met behulp van dr. Nico de Klerk van Wellington ‘n entrepreneurskursus by Mthimkhulu Community Development op Kleinmond aangebied.
Die kursus het ondermeer gefokus daarop om ‘n nuwe denkraamwerk vir entrepreneurskap te ontwikkel, kreatief te dink en besigheidsplanne te skryf. Gemeentes wat belangstel om ‘n soortgelyke kursus in hul omgewing aan te bied kan vir Annelie kontak by spg@kaapkerk.co.za.
“Jy dink nooit weer dieselfde oor Msinga nie …”
Op Woensdag 23 Maart het Daniël de Wet, taakspanbestuurder van Ekumeniese Vennootskappe in Afrika, saam met Ryno Els en Janneke Marais van die NG Toringkerk in die Paarl na Msinga vertrek. Lees meer oor hoe hierdie blootstelling hulle verstaan van kerkwees verryk het en hoe onontbeerlik uitreike na mekaar in hierdie diverse land van ons is. Mag gemeentes opnuut deur hierdie bydrae begeester word om by ons medegelowiges in KwaZulu-Natal betrokke te raak. 
Foto van links na regs is: Daniël de Wet, mev. Ngubane (kerkraadsvoorsitter en maatskaplike hulpwerker), Nonhlanhla Gumbi (onderwyser), Xolani Sibiya (prediker en opsigter), Thandazile Ngubane, ds. BT Sithole en Ryno Els.
EKOLOGIE
Waardeer jou plante
Op Woensdag 13 April vier ons Internasionale Plantwaarderingsdag. Om plante te vier, klink dalk vreemd, maar ons het ons hele bestaan aan plante te danke. Sonder plante kan ons nie asemhaal of eet nie – ons kan basies niks doen as dit nie vir plante was nie! So, waaroor gaan hierdie dag en hoekom moet ons omgee? Baie dankie aan Dewald Hoffmann van ons Groenspan wat hierdie week vir ons die redes daarvoor gee. Kyk na die video hieronder.

Cape Nature vier die unieke diversiteit van plante in die Wes-Kaap en moedig die publiek aan om deel te word van hulle boomplantinisiatief. Die organisasie is reeds sedert Augustus 2021 deel van die globale Plant One Million Trees-projek en ondersteun gemeenskappe om inheemse bome in geskikte grond en persele te plant.  Wintertyd is 'n ideale tyd om bome te plant, aangesien die winterreëns sorg vir water en genoeg tyd gee dat boompies kan aanpas voor die warm seisoen. Daar is ook minder wind en insekte. 

PREDIKANTENUUS
Stellenbosch-Welgelegen groet Monty Sahd 
Monty Sahd het na 29 jaar as leraar in diens van die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen afgetree en op Sondag 27 Maart die Akte van Emeritaat tydens sy afskeidspreek ontvang. Monty is in Februarie 1993 as leraar in die gemeente bevestig. Hy, Hanna en hul drie seuns het vanaf George Moedergemeente na Stellenbosch verhuis. Monty was ook voorheen dienspligkapelaan op George. 
Monty bly egter steeds betrokke by sinodale werksaamhede. Hy is as kundige lid verkies tot die Sinodale Taakspan vir Finansies en Administrasie en dien steeds op die Predikante Pensioenfonds en Ouditkomitee. Monty is ook 'n voormalige skriba van die moderatuur.
Worcester-Noord verwelkom Van Heerdens
Pieter van Heerden word eerskomende Sondag by NG Gemeente Worcester-Noord as pastorale hulpleraar bevestig. Johan Nieuwenhuizen sal die bevestiging behartig.
Pieter het vantevore die gemeentes van Senekal-Noord, Edenville en Rustenburg-Bergsig bedien.
Hartlik welkom in die Wes-Kaap, Pieter en Elize.
GEMEENTENUUS
Klik op die grafika om te bespreek.
Orreluitvoering in Kuilsrivier
Die Stasies van die Kruis (ook bekend as Via Dolorosa) is ’n reeks van 14 artistieke voorstellings wat momente langs Jesus se lydingsweg vasvang. Die bekroonde orrelis Winand Grundling het ’n opwindende reeks improvisasies geskep met eklektiese en verrassende invloede soos Mozart, Mike Oldfield, die Liedboek en selfs musiek vir rekenaarspeletjies!
“Ek het deur die jare ’n aantal patrone, motiewe en lukrake stukkies musiek geïmproviseer en neergeskryf,” vertel Winand. “Ek wou dit als bymekaar bring in een groot siklus. Die Stasies bied die perfekte platform om kerklike en sekulêre elemente te gebruik om die storie van Jesus se lydingsweg uit te beeld."
Kuilsrivier Moedergemeente nooi musiekliefhebbers om eerskomende Sondag om 16:00 hierdie uitsonderlike uitvoering by te woon. Kaartjies is by die kerkkantoor (021 903 1529) en die deure beskikbaar. Kontak vir Arthur Appleby  by 083 311 4384 vir meer inligting.
Pasgamaal by Heidekoppie
Die Gemeente met Oop Deure bied op Woensdag 13 April 'n spesiale geleentheid aan. Die gemeente laat weet: "Een van die tradisies van die Joodse Pasga is ‘n pasgamaaltyd (sedar meal) – ‘n spesiale ete-ritueel waar verskillende kosse met ‘n simboliese betekenis geëet word. Op dié manier is die reddingsverhaal uit Egipte ook van geslag tot geslag aan die kinders oorgedra. Wanneer Jode hulle tot die Christendom bekeer, sien hulle nie af van Joodse kultuur en tradisies nie, maar die tradisies word verryk en vervul deur Christus se koms. Kom beleef ‘n besondere pasgamaal saam. Met interessante kossoorte word ons begelei vanaf die Israeliete se vrylating uit Egipte tot by die uitsien na Christus se wederkoms!"

Kontak vir Jackie by admin@heidekoppie.com of 021 981 2690 vir navrae. Bespreek asseblief teen Maandag 11 April om 10:00. Klik op die bostaande grafika vir aanlynbesprekings of kontak die kerkkantoor. 
Paassangdiens by Bellville-Riebeeck
Die gemeente van Bellville-Riebeeck hou ‘n Paassangdiens met koor- en gemeentesang op Goeie Vrydag 15 April.
Belangstellendes word hartlik uitgenooi om by die gemeente aan te sluit om 09:00. Besoek hulle gerus by 2 Noordstraat, Chrismar.
Parow-Welgelegen steun Oekraïne
Willem van der Colff, ‘n sendeling wat reeds vir 27 jaar in Oekraïne werk, het Sondag saam met sy gesin hul getuienis by NG Gemeente Parow-Welgelegen gedeel. Willem het vertel hoe hul lewens en die van hul gemeentelede in ‘n oogwink onherroeplik verander het met die uitbreek van die oorlog. Hy het ook sy ervaring ten opsigte van die oorlog en God se goedheid met die gemeente gedeel. Klik hier om na hulle roerende verhaal te kyk. 
Die gesin moes laas week vir veiligheidsredes noodgedwonge teruggekeer na Suid-Afrika, maar is steeds aktief betrokke om hulle gemeentelede aanlyn te bedien en om ook hulpverlening in Oekraïne te verskaf deur sy gevestigde netwerk. Willem en sy gesin het al hulle besittings verloor en Parow-Welgelegen doen 'n beroep om mense om hulle finansieel te help om weer op die been te kom en hulle goeie werk voort te sit.
Fietstrap vir Sending
Calvinia-gemeente laat weet dat hulle baie opgewonde is dat hulle Fietstrap vir Sending vanjaar weer kan plaasvind. Vyf fietsryers het die projek in 2002 begin deur 164 km vanaf Calvinia via Nieuwoudtville, Vanrhynsdorp en Vredendal na Klawer te trap om fondse in te samel vir sendelinge.  Die roete is sedertdien twee keer gewysig en sal vanjaar oor 240 km van Calvinia tot in Strandfontein gery word. Alle fondse wat ingesamel word, word direk vir sendingwerk geskenk. Skakel gerus die kerkkantoor weeksoggende by 027 341 1012 as jy belangstel om die projek finansieel te ondersteun. Vir navrae, kontak vir Noel Viljoen by 082 890 4489 of stuur 'n e-pos aan viljoen@hantam.co.za.
TOERUSTING
Klik op die grafika vir meer inligting.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Musiekkoördineerder, George
Dié deeltydse pos behels die koördinering van lofprysing tydens eredienste, lofprysingspanne, erediensbeplanning saam met erediensspan en uitbou van huidige spanne.
Blanco-gemeente is geleë in Blanco, George. Die gemeente het meer as 1000 belydende lidmate, meer as 400 kinders en tieners en is werksaam in die gemeente sowel as die gemeenskap van die groter George. Hulle leef hul roeping so aktief en eietyds as moontlik uit en daarom is eredienste en lofprysing gefokus op voordurende (gebalanseerde) vernuwing. Blanco-gemeente is deel van die NG Kerk in Suid-Afrika (Sinode van Wes-Kaapland).
Kwalifiserende kandidate kan hul volledige CV met stawende dokumente asook verwysings e-pos na essie@promattron.com met duidelike verwysing na die pos waarvoor aansoek gedoen word. Aansoeke sluit 10 April. Kontak Essie Esterhuizen by 082 552 9218 vir ‘n volledige posbeskrywing en verdere inligting.  
Klik op die grafika vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
PUBLIKASIES
Spesiale aanbod by CLF-winkels
CLF nooi boekliefhebbers om by hulle winkels in Kaapstad, Newton Park, Bloemfontein en Kimberley in te loer om van hulle nuutste aanbod gebruik te maak. 'n Pakket van tien uitgesoekte boeke kan vir R100 aangekoop word. Die promosie duur tot einde Junie of terwyl voorrade hou. 
Die aanbod geld slegs vir aankope by die boekwinkels of bestellings wat by order@clf.co.za geplaas word. 
Hoogtepunte uit Kerkbode
Al meer NG gemeentes asook ’n streeksinode samel fondse vir kerkleiers en hulporganisasies in Oekraïne in. Só probeer hulle om die miljoene honger en hawelose vlugtelinge met skuilplek en kospakkies te help. Lees hier meer.
ALGEMEEN
Raakgekyk: Die verskil tussen simpatie en empatie
Empatie word beskryf as die vermoë om iemand anders se gevoelens en emosies te deel asof dit jou eie is. Brené Brown is 'n Amerikaanse navorser en skrywer van talle gewilde boeke, soos The Gifts of Imperfection, Dare to Lead en Daring Greatly. Sy het bekendheid verwerf vir haar werk oor kwesbaarheid. In hierdie RSA Short kyk sy na empatie en hoe ons dit net werklik kan ervaar as ons eie weerloosheid blootgestel word. 
Nuus van NID
Cobus van Deventer van die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) laat weet dat daar noodgedwonge baie veranderinge oor die laaste twee jaar gekom het. "Daar het soveel positiewe energie losgekom deur hierdie moeilike tyd dat ons besluit het ons tema vir die nuwe jaar is Verandering vir Verbetering.
Verandering is onvermydelik, maar ons wil nie net veranderinge aanbring omdat ons verplig word nie. Ons mik daarna om met elke verandering ‘n verbetering aan te bring. Wat verbeter ons? Ons wil ons impak op ons begunstigdes verbeter. Beter versorging en beter toeganklikheid vir almal wat lewe met gehoorverlies. ‘n Beter lewe vir elke Dowe, ‘n lewe met al die voorregte wat ons as horendes as vanselfsprekend aanvaar. Ons vertrou dat al ons getroue ondersteuners ons sal help in ons strewe na hierdie konstante verbetering ten bate van ons begunstigdes, sodat ons die lewe vir hulle makliker kan maak en hulle kan help om hulle volle potensiaal te verwesenlik."
TEN LAASTE
Palmsondag herdenk Jesus Christus se triomfantelike intog in Jerusalem. Hierdie Sondag dien ook as voorbereiding vir die Groot Lydensweek. Dit is ’n geleentheid om in die regte stemming vir Paasfees te kom. Woord en Fees wys verskillende invalshoeke tot die sleutelteks uit Lukas 19:28-40. Daar kan gekyk word na die Man op die geleende donkie as "die wenende God, maar terselfdertyd ook as Verlosser en Trooster sowel as Koning en Profeet van reg en geregtigheid".
Mag ons ook in hierdie tyd die hoop, redding en vertroosting van Jesus Christus ervaar. Luister gerus hier na Mathys Roets se weergawe van Pelgrimsgebed deur Amanda Strydom, begeleiding deur Pedro Kruger.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.