Lees deur internet, klik hier >>
14 Junie 2019
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Spaargeld
1. Aftreebeplanning: werkswinkel in Suid-Kaap
In 'n onlangse berig in Die Burger se sakeblad word verwys na Suid-Afrikaners se krisis rondom aftrede. Dit is veral kommerwekkend in die lig daarvan dat 40% van stedelike werkende Suid-Afrikaners geen formele aftreeplan het nie. Op 23 en 24 Julie bied Kenny Raats eendagwerkswinkels oor aftreebeplanning in Hartenbos aan. Klik hier vir meer inligting asook
'n uiteensetting van die aspekte wat in die werkswinkel aangespreek gaan word. Tien VBO-punte kan verdien word. Kontak vir Wilma le Roux by wler@sun.ac.za of 021 808 3624 om in te skryf.
Logo
2. Sentrum vir Publieke Getuienis
HVT fokus op Wamakersvallei en Emfundweni crechè
Die Hoop en Versoening Trust (HVT) is op soek na gemeentes om by hierdie twee projekte betrokke te raak. Wamakersvallei is 'n vaardigheidsopleidingsentrum op Wellington en Enfundweni 'n crèche in Khayelitsha. By Wamakersvallei word veral fondse benodig en by Emfundweni mense wat op die beheerliggaam kan dien. Albei sentrums het baie potensiaal en die HVT wil dit graag na 'n volgende vlak help neem.
Emfundweni is geleë naby die Baden Powell-afrit in 'n area met feitlik geen chrèches nie. Daar is 'n veilige terrein met 'n bestaande struktuur (foto onder) wat opgegradeer moet word om aan die nodige standaarde te voldoen vir volledige registrasie en subsidie. Daar is reeds tussen 20 en 30 kindertjies wat die skooltjie bywoon. Braam Hanekom van die HVT: "Ons is oortuig dat dit die sogenaamde 'low hanging fruit' is waar 'n relatiewe klein inset 'n groot verskil kan maak". As enige van hierdie geleenthede tot jou spreek, kontak asb. vir Danelle via e-pos of by 021 957 7202 . 
Nelis en Sanet
Nelis Janse van Rensburg en Sanet tydens Sinode 2019
3. Tot siens, Sanet!
Sanet Gunter, sekretaresse in die kantoor van die moderatuur sedert 2015, groet die sinode aan die einde van Junie 2019. Diegene wat met haar te doen gehad het, het haar leer ken as uiters bekwaam, vriendelik en professioneel. As sy in beheer van 'n vergadering se reëlings was, het alles seepglad verloop en afgevaardigdes na moderamenvergaderings sal haar verwelkomende glimlag onthou. 
Sanet beskryf haar tyd in die pos as 'n besondere voorreg en skryf: "Ek was en is trots om vir die NG Kerk te werk, ten spyte van negatiwiteit in die media en die wêreld. Ek weet wie en wat die kerk is." Lees hier die res van Sanet se groetboodskap asook meer oor haar toekomsplanne.
Seënwense op jou pad vorentoe, Sanet! 

Lisa
4. En hartlik welkom, Lisa Human
Ons verwelkom Lisa Human wat aangestel is om vanaf 1 Julie 2019 in die moderatuurskantoor te begin werk. Met 18 jaar se ondervinding in die eiendomsbedryf, is sy slaggereed vir 'n verandering. Sy het in geloof haar vorige werk bedank en sê dat sy 'n behoefte het om iets méér te doen. Lisa is 'n gebore Kapenaar en sy en Hans is die ouers van Georgia (16) en Isabella (8). Mag jy heerlik by ons werk, Lisa! 

GEMEENTENUUS
Ses van die 25 breiers van NG Piketberg is v.l.n.r.  Helma Kotzé, Alison Muller, Susan de Vries, Jackie Ferguson, Magda le Roux en Kowie Duvenhage.
1.Arbeidsbediening: Piketberg se spanpoging vir seemansmusse
Marietha Goosen van NG Piketberg laat weet hoe 25 van hul vroue binne net vier weke 108 seemansmusse gebrei het! Dit was 'n prettige spanpoging om aan te sluit by Kinderpinkster se AHOOI!-tema met bekende Bybelse seeverhale wat op 'n nuwe manier aan die kinders vertel is: Noag: Wildtuin op Water; Jona: Diepsee Duik-Dilemma; Petrus: Fenomenale Vis-vangs en Woeste Water Wonderwerk!
Die musse is in 'n boot voor die kansel uitgestal op Pinksterfeessondag. Kids-Xpress se Kinderpinkstermateriaal het ook video's ingesluit van verskillende see-mansbedieningsorganisasies, o.m. Logos Hope, Biblia Hawesending, Mercy Ships, Christen Seemansorganisasie (CSO) en die NSRI om die werksaamhede van die organisasies te verduidelik. Van die mussies is reeds by Arbeidsbediening se kantoor afgelaai en dit sal volgende week by Dane du Plessis, Biblia Hawesending, besorg word.
Welgedaan, Piketberg!          
2. NG Suiderkruis, Plettenbergbaai
Bitou Opleiding is 'n verlengstuk van die Suiderkruis gemeente om opheffingswerk onder minderbevoorregde mense in die Plettenbergbaai omgewing te doen.  Op Saterdagoggend 20 Julie bied hulle 'n fondsinsamelingsgeleentheid aan met gasspreker Yolandé Korkie, wat haar ervarings as gevangene in Yemen in haar boek 588 Days - A True Story deel. Om kaartjies te bespreek, skakel 082 856 4150 of 081 720 7530. 
Korkie en haar man Pierre is in 2013 deur die militantegroep Al Qaeda as gyselaars gevange geneem. Alhoewel sy agt maande later vrygelaat is, het haar man in aanhouding gesterf.  
3. Gemeente-uitreike tydens wintervakansie
3.1 Bellville-Uitsig en Merweville

Uitsig gemeente se jeug reik die afgelope 13 jaar uit na die gemeenskap van Merweville in die Karoo. Ongeveer 550 kinders woon daagliks die programme by, geniet sop en brood, speel speletjies en volg 'n program met 'n Christelike inslag. Vanjaar se tema is "AHOOI! Ses stories oor bote in die Bybel om te wys dat God groter as die golwe is". Daar is ook nagenoeg 60 volwassenes uit die gemeenskap wat die werkswinkels bywoon. Vanjaar is die veertiende uitreik met ongeveer 60 jongmense wat vanaf 29 Junie tot 6 Julie uitreik na die gemeenskap. Onder is enkele foto's van die 2018-uitreik.
Uitreik
3.2 Sinethemba ontvang besoek van Strand gemeentes
Willem Botes, emeritusleraar wat meer as 30 jaar by VGK Decoligny bedien het, laat weet die volgende oor hierdie uitreik wat beplan word van 22 tot 30 Junie: die gemeentes van Lourensrivier, Suider-Strand, Strand-Noord en ander belangstellendes beplan om DV op 'n uitreik na Sinethemba, 'n tehuis vir verstandelik en fisies gestremde kinders naby Ngqeleni in die Transkei te gaan. Fondse word ingesamel en die span wil help met herstelwerk aan die omheining, loodgieterswerk, elektriese werk en meer. Die plan is ook om nuwe matrasse en duvets te skenk. Op die foto onder is kinders en personeel by Sinethemba.
Kinders en personeel by Sinethemba
3.3 Suid-Kaap reik uit na Botswana
Vanaf 22 Junie tot 5 Julie gaan die Suid-Kaap uitreikspan van 32 persone weer na Werda in Botswana. Die groep word verteenwoordig deur gemeentes vanaf Danabaai, Herbertsdale tot en met George. Lidmate van NG Kerke, AGS en Hervormde Kerke vorm deel van die groep. Die uitreikprogram, met die tema "Een dag in die lewe van 'n sendeling", word saamgestel in samewerking met ds. TC du Toit, plaaslike sendingprediker in die suidelike Botswana gebied.
Uitreik
wellington
GEBEDSVERSOEK
Gebed
ALGEMEEN
1. Youth Day - 16 June
Every year on 16 June, South Africa commemorates the 1976 Soweto uprising to pay tribute to learners who stood up against the apartheid government. Observed as a public holiday, the day serves as a reminder that young people in the country were at the forefront of the struggle. It also provides us with an opportunity to take stock of the strides we have made in addressing issues facing the youth. This year’s Youth Month coincides with the commemoration of 25 years of freedom and democracy. Read here about commemorative events, which will be hosted across the country. CapeNature reserves will allow free access to all persons aged 35 and younger on the day.
Missional Worship
Missional worship 7 - 8 August - closing date for Early Bird registration is 1 July. Click above for the programme and registration form.
3.1 SA Vigskonferensie in Durban
Aneleh Fourie-Le Roux vertel dat dit duidelik geblyk het dat die stryd teen MIV nog nie verby is nie. Wêreldwyd is daar daagliks 5000 nuwe infeksies. In Suid-Afrika alleen, is daar meer as 700 nuwe infeksies elke dag. Met ongeveer 7.5 miljoen mense in ons land wat met MIV lewe, kan ons as kerk nie blind wees vir die realiteite van MIV nie.

CABSA, die Christen Vigsburo, in samewerking met die Gesamentlike Vigstaakgroep van die Sinode van Wes-Kaapland, rig 'n ernstige pleidooi tot gemeentes, predikante en kerkleiers om nader te staan aan hierdie voortslepende krisis en diegene wie se lewens so direk en dramaties deur MIV geraak word. Ons nooi kerke om deel te wees van die oplossing en herinner gemeentes weer aan die Gesamentlike Vigsverklaring. 

Vir meer besonderhede oor hoe u gemeente kan betrokke raak, kontak Aneleh per e-pos of by 083 292 5358.

3.2  Kerke Kanale van Hoop - fasiliteerdersopleidingskursus
CABSA se fasiliteerdersopleiding fokus daarop om geloofsleiers toe te rus om die rol en verantwoordelikheid van die kerk te verstaan met betrekking tot die MIV-epidemie. Volgens Aneleh Fourie-Le Roux van CABSA het ons as kerk ook 'n verantwoordelikheid om ons te bemagtig en deel te wees of deel te word van die oplossing. Om te sien wat ander predikante oor die kursus sê – klik hier.

CABSA, in samewerking met Diaconia se Vigstaakgroep, nooi predikante na die volgende sesdagkursus wat van 9-11 Julie en 5-7 Augustus in Wellington by die Andrew Murray Spiritualiteitsentrum aangebied word. Laai die aansoekvorm hier af.  Vir meer inligting, kontak gerus vir Aneleh per e-pos  of by 083 292 5358. 

4. Read it online
Carey Nieuhof writes as follows in his article 5 VERY REAL TENSIONS EVERY SMALL TO MID-SIZED CHURCH LEADER FEELS: "It’s critical that as church leaders we both understand and address the tensions we’re facing. In the same way that diagnosing that pain under your kneecap when you’re trying to run a race is helpful, diagnosing what you sense in the congregation can be critical to taking your next step forward. Overcome these tensions and you’re closer to progress. Avoid them or fail to deal with them and you can stay stuck a long time. Here are five tensions every small to mid-sized church leader feels."
Read the article here.
NUUSBRIEWE
1. Arbeidsbediening nuusbrief
Lees gerus die jongste nuusbrief van Arbeidsbediening waarin daar gedeel word waar en hoe Jesus se liefde in sakeondernemings, by skole en langs hawens sigbaar gemaak word. Harde kopieë is ook aan die geestelike werkers tydens Arbeidsbediening se algemene jaarvergadering op 11 Junie uitgedeel. Lees die elektroniese nuusbrief hier.
Nuusbrief
Nuusbrief
PUBLIKASIES
In LiG se Julie-uitgawe lees ons…
waar Andriëtte deel hoe sy haar roeping met vreugde uitleef, nadat sy amper haar stem kwyt was.
’n Enkelma vertel hoe sy ander bemagtig – eers emosioneel, dan finansieel.
Oom Karolus en Lente bring Jesus-hoop reeds vir 30 jaar. LiG ondersoek ook die waarde van poppekas in kinderbediening.
Help jou kind só as stres hom onderkry.
Kom saam op 'n geloofsafari, en leer lesse uit die diereryk. Lees ook meer oor meelewingsuitputting.
Kry raad as jy uitvind dat jou vriendin ’n affair het.
Om nog van LiG se puik Christelike inhoud te lees, besoek www.lig.co.za.

EKOLOGIE
1. Homo sapiens: nie God se witbroodspesie nie
Eintlik is ons God se "verlore spesie"! (Luk. 15). En dit is omdat ons verlore geraak het dat God uit liefde soveel moeite met ons moet doen – nie omdat ons so spesiaal en oulik is nie, maar omdat ons 'n bedreiging inhou vir die res van God se huishouding.
En dit is hoekom God die Gees spesiaal op Pinkster oor homo sapiens uitgegiet het, naamlik om ons oë daarvoor oop te maak dat ons nie God se witbroodspesie is nie en om ons te leer om, net soos Jesus van Nasaret, diensknegte te word van al die ander spesies in God se een huishouding. Lees meer by hier. Met dank ontvang van Projekspan Ekologie.
2. Biodiveristy loss as great a threat as climate change
A recent report by the Intergovernmental Science-Policy Platform on Biodiversity and Ecosystem Services (IPBES) claimed that the loss of biodiversity is of the same critical importance as climate change. According to the report, compiled by 150 leading international experts from 50 countries, nature is declining globally at unprecedented rates with up to 1 million species threatened with extinction. This global loss of biodiversity is attributed predominantly to the actions of humans during the past fifty years. Read the Chatham House article on the report. 

Photo by Getty Images of elks being released into the wild to improve biodiversity and protect the ecosystem of China's largest freshwater lake. 
BEHOU DIE HUMOR
Humor
VAKATURES
1. NG Simondium Familiekerk: Leraarspos
Hierdie gemeente lê in die Paarlvallei, tussen Franschhoek en die Paarl, langs die R45. Die gemeente is 'n klein, maar groeiende geloofsgemeenskap wat as familiekerk funksioneer. Die kerngroep van die huidige betrokke lidmate is tussen die ouderdom van 30 en 45 jaar. Hier is 'n twee jaar vastetermynleraarspos met die opsie om dit te verleng. Die sluitingsdatum vir aansoeke is Sondag 21 Julie – lees hier verder.
2. Deeltydse vasgestelde leraarspos NG Stanford
Hierdie gemeente het 'n behoefte aan woordbediening, pastorale versorging, lidmaattoerusting en gemeentebeplanning en -bestuur. Hier is 'n deeltydse vasgestelde leraarspos van 1 Julie of so gou moontlik daarna tot 31 Desember 2019. Navrae moet per e-pos gestuur word aan die kerkkantoor. Doen aansoek teen 21 Junie - hier is meer.
Logo
3.1 Overberg tehuis, Riviersonderend: Bestuurder
Hierdie Badisa tehuis in Riviersonderend beskik oor 'n vakature vir 'n bestuurder. Stuur 'n volledige CV aan mhb@badisa.org.za teen 21 Junie. Klik hier om die volledige advertensie af te laai.
3.2 Huis Martina: Assistent nutsman
Huis Martina in Parowvallei is 'n tehuis vir bejaardes. Hier is tans 'n vakature vir 'n assistent nutsman om so spoedig moontlik diens te aanvaar. Lees hier en reageer voor 20 Junie.
TEN LAASTE
Ons wens al ons lesers 'n wonderlike wintervakansie toe.  Mag julle veilig reis en weer veilig tuis kom. Ons hoop dat julle 'n welverdiende ruskans geniet en ook tyd kry om stil te raak in die aangesig van die Here. Luister na Hillsong se Still vir inspirasie.
Onthou dat daar geen uitgawes van VrydagNuus tydens die vakansie is nie en dat die volgende uitgawe op 12 Julie sal verskyn. Hou ons egter op hoogte van enige gemeentenuus, uitreike en ander interessante aktiwiteite deur 'n e-pos te stuur aan die kantoor by kommunikasie@kaapkerk.co.za. Ons ontvang steeds graag videogrepe van julle gemeentes in aksie om by die Algemene Sinode in Oktober te vertoon.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser & Salomi Steenkamp


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.