Lees deur internet, klik hier >>
14 Mei 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Hemelvaart - 13 Mei
Skakel gerus in by die Ekumeniese Hemelvaartdiens wat Donderdagoggend om 11:00 plaasvind. Klik hier vir die Zoom-skakel. Kodes vir die vergadering is hieronder. Dis raadsaam om so paar minute voor die tyd in te skakel om seker te wees dat jou tegnologie werk.
Malawi: “Laat die kindertjies …”
Op 12 Maart vanjaar het oud-sendeling AnnaMarie de Klerk vir vyf weke na Malawi vertrek waar sy vir meer as veertig jaar in diens van ons susterskerk daar, die CCAP (Church in Central Africa Presbyterian) gestaan het.
Een van haar projekte was om 77 Bybels in Chichewa met groot sorg aan Bybelstudiegroepe, pasgebore babas in Malingunde Hospitaal en die Yoswa Skool op Nkhoma uit te deel. Sy was ook op besoek aan die KIX-skool wat sy destyds in 2012 geïnisieer het. Lees meer hier.
Global Youth Movement Week of Prayer
Die GYM se week van gebed is 16 - 22 Mei 2021 en vind aanlyn plaas. #imagine ondersteun hierdie wêreldwye inisiatief waaraan 27 lande reeds deelneem om 24/7 vir 7 dae lank te bid. Gemeenteleiers word uitgenooi om te registreer om een uur van gebed te “host” by https://linktr.ee/prayunited.
Beplan dan self hoe jy die uur van gebed met jongmense wil inrig. Nooi jou eie gemeente se jeug uit om te registreer om dié uur aanlyn by te woon (of enige ander tyd) en saam te bid. Laat weet ook die Jeugkantoor (maryke@imaginemovement.co.za) as jou gemeente gaan deelneem, dan kan ons ander gemeentes wat betrokke wil raak, aanmoedig om by julle in te skakel. 
Verklaring van besorgde kerkleiers
Etlike kerkleiers in Kannaland het onlangs ‘n verklaring afgelê waarin hulle opnuut bely dat die aarde en ook Kannaland aan God behoort en dat Sy Koningkryk elke terrein van hulle lewens insluit. Francois Naudé, predikant op Ladismith, vertel dat die inisiatief voorgespruit het uit ‘n dorpsgesprek wat hulle aan die einde van 2020 op Ladismith gehou het. 
“Klomp rolspelers en verteenwoordigers van kerke, politieke partye, organisasies, die plaaslike owerheid, sportklubs ensovoorts het gesels oor die huidige situasie in Kannaland en oor ons toekomsvisie vir ons gemeenskap. Die proses is deur Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis gefasiliteer.
Voortspruitend uit hierdie gesprek, het ‘n groep kerkleiers bymekaargekom en besluit dat die kerke ‘n profetiese rol het om te vervul, gegewe die ongelukkige geskiedenis van die munisipale owerheid en die onstuimige klimaat wat tans heers. Hierdie faktore het ‘n uiters belemmerde impak op dienslewering, sosiale kohesie en versoening in die gemeenskap." 
Daarom is ‘n verklaring opgestel waarin die kerkleiers God se eiendomsreg oor elke faset van die lewe erken.  Voorts is die kerkleiers van mening dat die kerk ‘n besliste profetiese verantwoordelikheid het ten opsigte van die plaaslike regering en bely dat hul stem dikwels stil was te midde van onreg, korrupsie, nepotisme en politieke verdeelheid. Die kerkleiers verklaar hulle ook bereid om konstruktief betrokke te wees by die werksaamhede van die plaaslike regering en amptenary.
As opvolg van hierdie verklaring word ‘n dorpsvergadering van die bogenoemde rolspelers vir Mei of Junie beplan. 
Klik hier om die volledige verklaring te lees. 
Deel in Arbeidsbedieningsnetwerke met dié app!
In 2017 het Arbeidsbediening besef dat hulle die werksplekke in die middestad van Kaapstad meer effektief moet kan bereik. Maar hoe moes hulle te werk gaan?
Jaco Leeuwner, pastorale werker van Arbeidsbediening, is toe getaak om die projek wat onder die aksie IMPAK val, te takel deur ’n toep (app) te bou en uit te brei tot waar dit vandag is. Lees meer hier.
VGK en NGK praat saam oor die toekoms op Piketberg
Lede van die kerkrade van die NGK en VGK op Piketberg het verlede Dinsdag vergader om saam te gesels oor die toekoms van die pragtige dorp. Dit kom na die gesprek onlangs op Koringberg wat ook deur die Sentrum vir Publieke Getuienis gefasiliteer is.
Daar is ernstig gepraat oor die gebrek aan hoop en motivering onder van ons jeug, werkloosheid en ander sosiale uitdagings. Die vergadering kon egter ook met moed praat oor seer wat in die gemeenskap opgesluit lê en oor jare nie na behore hanteer is nie. Daar is besluit op opvolggesprekke om dit op 'n verantwoordelike wyse te hanteer. Die bevestiging van ons eenheid as broers en susters in Christus het vir besonderse oomblikke die aand gesorg. Groot dank aan die leraars Martin Goosen, Walter Philander en Johan Smit wat uitnemende leiding hier geneem het.
Bros - 'n Lewe gebou op 'n rots
Die volgende uitsending van hierdie reeks 'n wyse man bou op die rots is nou beskikbaar. Hierdie reeks, deur die Taakspan: Gendergeregtigheid fokus op mans en is gepas vir eie gebruik of groepe.  
TOERUSTINGSGELEENTHEDE
Opleiding van brugpredikante
Slegs een kursus sal gedurende 2021 aangebied word en ʼn maksimum van 14 inskrywings sal aanvaar word.
Datums:
Module 1: 7 - 9 September 2021
Dag 1  09:30 – 16:00
Dag 2  08:30 – 16:00
Dag 3  08:30 – 14:00
Module  2: 16 – 18 November 2021
Dag 1  09:30 – 16:00
Dag 2  08:30 – 16:00
Dag 3  08:30 – 14:00
In die verlede het dit dikwels gebeur dat wanneer ʼn gemeente vakant raak, die dienste van ʼn aflospredikant bekom is. Die taak van ʼn aflospredikant is min of meer instandhoudingswerk en om die gemeente geestelik te bedien totdat die volgende predikant beroep en bevestig is.
Die doel van ʼn brugpredikant is egter om ʼn vakante gemeente te begelei om weer haar roeping en rol duidelik te verstaan. Ook om die gemeente by te staan om hulle eie storie/geskiedenis/konteks en kultuur te “hoor” en te verstaan. Die brugpredikant ondersteun die gemeente om aan die einde van die “ou hoofstuk” om te blaai en reg te maak vir ʼn nuwe hoofstuk. Die brugpredikant help ook die gemeente om die verandering as ʼn positiewe groei- geleentheid te beleef. Die brugpredikant assisteer die gemeente met die beroepingsproses en om ʼn profiel van die toekomstige predikant saam te stel.
Andrew Root webinare
DinkJeug en die Emmaus Sentrum bied in Junie ’n reeks van drie webinare met Andrew Root aan. Kom luister en gesels saam oor die tema: Ministry in a Secular Age in terme van geloofsvorming, predikante en gemeentes. Koste: R250 vir die reeks. VBO punte: 2 per sessie (6 in totaal). Klik hier om te registreer: https://forms.gle/TE722MgDTAK5LN9g7.
Sien meer inligting hieronder.
Moeg van emosionele wipplankry?
Annette de la Porte bied drie Zoom-sessies oor die tema in Mei en Junie aan. Kyk gerus na haar video hier.  Registreer so gou as moontlik by annette@growwithannette.co.za, aangesien slegs 20 persone per sessie geakkommodeer kan word. 
Kursus oor inligtingswette
Onthou dat jy steeds kan registreer vir die kursus oor inligtingswette wat deur die VBO-forum en die Kerkargief aangebied word. Indien jy reeds betaal het en jou bewys van betaling aan bleibbrandt@sun.ac.za gestuur het, maak asseblief seker dat jy vir die kursus registreer deur hier te kliek. Daar is inbetalings ontvang sonder gepaardgaande registrasie.
Indien jy nog geen kennisgewing ten opsigte van registrasie ontvang het nie, kontak asseblief vir Bridget by bleibbrandt@sun.ac.za.
GEMEENTENUUS
Lofprysing saam met Parow-Welgelegen 
Die gemeente van Parow-Welgelegen deel 'n akoestiese weergawe van Battle Belongs deur Phil Whickham wat deur Sybrand en Tania van hulle musiekspan opgeneem is. Whickham deel dat hierdie lied gebaseer is op die verhaal in 2 Kronieke 20; die storie van die groot leër wat versamel word om in opstand te kom teen die volk van God. Toe die volk hoor dat hierdie horde na hulle kant toe kom, skrik hulle. Tog verootmoedig hulle hulself voor God en sê: "Ons is magteloos teen hierdie leër, maar ons oë is op U. Wys ons wat ons moet doen."
Hierdie liedjie is 'n goeie herinnering aan hoe ons moet optree, veral in 2021 te midde van 'n wêreldwye pandemie. Wat jy ook al in die gesig staar en die stryd waarin jy verkeer, kan jy gerus wees dat die Here saam met ons is - ons kan net stil wees en weet dat Hy God is en ons bekommernisse en probleme aan Hom gee. 
#imagine local in Knysna
Enel Lambrechts van Knysnakerk deel op die #Hope4NGKerk groep op Facebook dat #imagine local 'n wonderlike samewerkingsgeleentheid tussen verskillende jeugorganisasies was, sowel as 'n groot sukses by hulle gemeente.
"Onder die jong gelowiges in die dorp het dit 'n mooi gevoel van samehorigheid geskep en ons beplan reeds aan nog sulke geleenthede vir die jaar!" Kyk gerus hierdie video vir terugvoer oor die ervaring. 
Kalahari Fietsrit
Die avontuurlustige predikant by Mosselbaai Moedergemeente, Henri Meyer, gaan aan die einde van die maand 1000km met die fiets aandurf Kalahari toe om geld in te samel vir die gemeente se basaar. Die fietsrit sal vyf dae duur (23-27 Mei) en Henri beoog om ‘n gemiddeld van 200km per dag te ry.
Die gemeente getuig hoe wonderlik lidmate en borge vir vorige pogings bygedra het en hoop en vertrou dat dit hierdie jaar weer die geval sal wees. Die hulp van gemeentes langs die pad, wat gratis verblyf en etes beskikbaar stel, word ook hoog op prys gestel.
Henri het in 2019 ‘n soortgelyke tog aangedurf en sê dat hy in verwondering was oor hoe mooi God die natuur gemaak het. Lees sy terugvoer oor hulle vorige fietstoer op sy blog.
Ondersteun gerus die gemeente se inisiatief. Die basaar vind op 5 Junie plaas. Hou hulle Facebook-blad dop om op hoogte te bly van hierdie projek.  
Groote Kerk host Freedom Day initiative
The historic Groote Kerk in the heart of Cape Town co-hosted a special event with Defend our Democracy on Freedom Day 27 April 2021. Themed Freedom from Corruption - A People's Assembly, the event saw participants from various ecumenical partners and civic organisations join in discussions on #DefendOurDemocracy.
Represented were: One Billion Rising SA, the Dutch Reformed Church, the South African Council of Churches, the Uniting Reformed Church in Southern Africa, Equal Education, Indigene Foundation, the Muslim Judicial Council, COSATU, Philisa Abafazi Bethu Women’s Center, Gugulethu Community Forum, the Rural and Farmworkers' Development Corporation, the United Public Safety Front, SA First Forum, United Methodist Church of South Africa, Mitchells Plain United Residents Association, Sport Coalition, Groep van 10, IHATA Women’s Shelter and Defend our Democracy. Watch the video of proceedings below. For more information, visit the Defend our Democracy website and sign the declaration.
Kraaifontein-Noord vier 50 jaar!
NG Kerk Kraaifontein-Noord is hierdie jaar 50 jaar oud. Hulle nooi alle oudlidmate en leraars na die feesdiens op Sondag 23 Mei 2021 om 09:00. Vorige leraars gaan deel wees van die feesvieringe - ds. Gert Olivier gaan die preek waarneem en ds. Kokkie Swart sal ook die diens bywoon. Almal is welkom!
Vir meer inligting, kontak die kerkkantoor by 021 988 3384 of skakel ds. Heinrich Götze op 084 606 1106.
EKOLOGIE
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Geregistreerde verpleegkundige, Bellville
Die sorgeenheid by Chrismar Villas is op soek na ‘n verpleegkundige geregistreer by SARV om hierdie deeltydse betrekking (116 uur per maand) te vul. Die ideale kandidaat beskik oor indemniteitsversekering. Toepaslike ondervinding in bejaardesorg sal as aanbeveling dien. Aansoeke moet aan die bestuurder gerig word en kan per hand by ontvangs by Jessiestraat 25, Chrismar, Bellville afgelewer word.  Die sluitingsdatum vir aansoeke is 21 Mei.
Assistent en Stafverpleegster, De Doorns
Huis Mimosa tehuis vir bejaardes adverteer tans hierdie twee betrekkings. Vereistes sluit in: registrasie by SA Raad vir Verpleegkundiges, toepaslike opleiding, kennis van versorging van bejaardes, bereidwilligheid om skofte te werk en goeie menseverhoudings. Aansoeke vir beide poste sluit 15 Junie. Klik hier vir inligting oor die pos van assistent verpleegster en hier vir die stafverpleegsterpos. 
Admin beampte/boekhouer, Parow-Noord
Huis Uitsig in Parow-Noord wag aansoeke in van verantwoordelike en gemotiveerde persone vir hierdie pos. Kandidate moet oor goeie menseverhoudinge en goed ontwikkelde syferkundige en rekenaarvaardighede beskik. Akkuraatheid en vermoë om teen hoë tempo te funksioneer, tesame met kennis van Pastel en VIP, word vereis. Aansoeke sluit 28 Mei. Lees die volle posbeskrywing hier
Bestuurder, Citrusdal
Ons Huis in Citrusdal is op soek na ‘n persoon wat die tehuis sal bestuur om sodoende ‘n optimale versorgingsdiens aan bejaardes te verseker. Die ideale kandidaat beskik oor ‘n naskoolse kwalifikasie, leierseienskappe en rekenaarvaardighede. Vorige ervaring van die bestuur van ’n tehuis vir bejaardes sal as sterk aanbeveling dien. Aansoeke sluit 21 Mei. Die volledige advertensie kan hier gelees word.
Admin beampte/boekhouer, Heidelberg
Huis Zenobia du Toit vra persone met goed ontwikkelde syferkundige en rekenaarvaardighede om aansoek te doen vir hierdie betrekking. Kennis van Pastel en VIP is noodsaaklik. Aansoeke sluit 4 Junie. Lees meer hier
Social worker, Kraaifontein
Badisa Trio in Kraaifontein has a vacancy for a registered social worker. A degree in social work, SACSSP registration and a valid driver's license are required. Experience in child protection services and being bilingual in Afrikaans and English will serve as a recommendation. Closing date for applications is 21 May. Click here for further information.
Social Auxiliary Worker, Kraaifontein
Badisa Trio in Kraaifontein is also looking for a registered social auxiliary worker. A degree or diploma in social auxiliary work and the necessary registration is required. The ability to work in a team and being bilingual in Afrikaans and English will be an advantage. Apply before 17 May. See further details here.
Klik bo vir meer inligting.
NUUSBRIEWE
ALGEMEEN
Raakgelees: #ReflectiveRooikatte
Die Urban Caracal Project, 'n nie-winsgewende organisasie in Kaapstad, poog om die hoeveelheid rooikatte wat deur motors raakgery word te verminder met hulle nuwe #ReflectiveRooikatte veldtog.
Public shows of reflection is die skepper van hierdie reflekterende kunswerke wat ontwerp is om motoriste te herinner om stadiger te ry in die omgewings waar rooikatte die meeste al raakgery is.   
Volgens die Urban Caracal Project is meer as 70% van alle rooikatsterftes wat in Kaapstad aangeteken word as gevolg van motoriste wat hierdie diere raakry. Hulle deel die storie van Hermes die rooikat wat kort-kort deur stappers verfilm word en reeds 'n legende is op en rondom Tafelberg. Ongelukkig is hy al twee keer deur motors raakgery omdat hy die stedelike omgewing binnegegaan het en loop nou mank. Kyk gerus die video onder om sy storie te hoor of klik hier om meer te lees oor die #ReflectiveRooikatte veldtog. 
BEHOU DIE HUMOR
KUIERKANS
Nataniël kuier by Toringkerk
Ná ’n lang afsondering en geen reise vir meer as ’n jaar nie, keer Nataniël tans terug na die verhoog met ’n landswye reeks Saterdagkonserte in talle van sy geliefde kerke.
’n Intieme konsert word op Saterdag 19 Junie om 14:30 aangebied in die Toringkerk, Paarl.
Hierdie vertoning bestaan uit musiek, oud en nuut, oorspronklik en immergroen, jazz, blues, soul, pop en eksentriek, altyd verrassend. En natuurlik Nataniël se nuutste kenmerkende stories.
Beperkte sitplekke beskikbaar! Geen kinders onder 15. Alle veiligheidsprotokol word gevolg. Maskers verpligtend. Bespreek betyds op www.toringkerk.co.za.
Bellville Dowes verkoop jaffles
De La Bat NG Kerk vir Dowes in Bellville het besluit om weens COVID-19 nie een groot basaar te hou nie, maar eerder te fokus op talle fondsinsamelingsprojekte deur die verloop van die jaar. Vir hulle volgende projek verkoop hulle smullekker jaffles teen R20. Bestellings is oop tot 28 Mei en die jaffles kan op 5 of 6 Junie tussen 11:00 en 14:00 by die kerksaal (Herta Louwstraat 29, Loumar, Bellville) afgehaal word.
Kontak asseblief vir Niël de Vaal op WhatsApp (061 503 6677) vir bestellings. Niël verduidelik in gebaretaal in die video onder meer oor hierdie projek. 
Paarlberg mini-basaar
Paarlberg-gemeente se volgende mini-basaar is om die draai en hulle wil jou op 28 Mei graag help om te besluit wat vir aandete is - heerlike gebraaide hoender en slaai en gebakte poeding vir nagereg! Bestel by die kerkkantoor (021 872 8072) of gebruik Google Forms
Pannekoeke by Durbanville
Durbanville-gemeente verkoop pannekoeke op Sondag 16 Mei na die leefdiens in die konsistorie om fondse in te samel vir hulle Zithulele uitreik. Bestel joune vooraf by die kerkkantoor (021 975 6370/082 779 3356): R7 elk, 3 vir R20 of 15 vir R100. 
TEN LAASTE
Pinkstertyd is 'n wonderlike tyd op die kerkkalender en ons is saam met gemeentes bly dat ons volgende week weer hierdie tyd saam kan beleef. Mag dit 'n tyd van hernuwing en herlewing wees. Ons dink ook spesiaal aan ons predikante en kerkpersoneel wat druk besig is met Pinkstervoorbereiding. 
Laat weet ons gerus van julle gemeentes se ervaring met Hemelvaart en Pinkster. Stuur foto's of 'n kort berig na kommunikasie@kaapkerk.co.za.
Illustrasie: The Ascension of Christ, Pacino di Bonaguida
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.