Lees deur internet, klik hier >>
11 Oktober 2019
kommunikasie@kaapkerk.co.za
  NG Wes-Kaapland: oorsig van algemene sinode 2019
dag 6 - 11 oktober

Beste Leser

Algemene Sinode: Dag 6
Elise Klut open hierdie laaste dag van die sinode. Sy vra dat elkeen net sal kom stil word by die Here en lees uit Johannes 15: 1-8.
"Na al die besluite wat ons die afgelope week geneem het, is die belangrikste besluit wat ons kan neem om te kies om in Christus te bly as ’n individu en as ’n kerk. As ons aan Jesus Christus as lewensaar en Wingerdstok geanker is, dan kan ons ’n lewegewende verskil maak in ons wêreld, in ons kerk, in die nood waartoe U ons geroep het."
Skrywe van Algemene Sinode
Gustav Claassen
skryf: Tydens die afgelope week het die 17de Algemene Sinode van die NG Kerk bymekaar gekom. Dit was ‘n vergadering wat van die begin af in ‘n besondere gees plaasgevind het. Die vergadering het ‘n stewige agenda van bykans 529 bladsye gehad om deur te werk en ‘n verskeidenheid van sake was op die tafel. Oor die besluite wat geneem is, sal ek graag in die tyd wat kom aan jou wil terugvoer gee. Heel waarskynlik, as jy op sosiale media is, het jy reeds van sommige besluite kennis geneem. Ek sou egter graag net die belangrike besluit oor selfdegeslagverhoudings op hierdie stadium aan jou wil kommunikeer. ‘n Verklaring oor die besluite in die verband word vir jou aangeheg. Die ander besluite en hoogtepunte soos die verslag oor scenario-beplanning, Dan Kriek van AgriSA se boodskap van hoop rondom grondhervorming en die besoek van hoofregter Mogoeng Mogoeng, wil ons netjies verpak en beskikbaar stel met PowerPoint en klankgrepe vir jou gebruik in die gemeente.  Kliek hier vir die persverklaring oor selfdegeslagverhoudings.  Jou voorbidding vir die vergadering word baie waardeer.
Willem Botha en Charmaine Stoffberg
Christelike Lektuurfonds
Willem Botha het die verslag van die CLF Lektuurfonds voorgelê.  Sedert hulle stigting in 1957 sien die maatskappy ’n wêreld waar mense die boodskap van die Bybel leef.  Hulle roeping is om gratis Christelike literatuur aan alle mense in suidelike Afrika te verskaf. Vir meer oor hulle produkte soos pamflette, publikasies, selfoontoepassing en selfs 'n petrolkaart, besoek hulle nuwe webwerf.
Belangrike vennootskap met Bybel-Media
Bybel-Media is ’n mediavennoot in geloof en bediening. Danie Mouton lê die verslag voor wat hulle strategiese doelwitte saamvat.  In die Bybel-Media stal is publikasies soos die Liedboek, Vlam, Vonkk, Kerkbode en Lig, Bybelkor, E-Media, toepassings vir fone sowel as die Nehemia Bybelinstituut. Inligting kan ook digitaal op die webblad of via ’n selfoontoepassing gekry word. Daar word tans gekyk na verdere digitalisering van die maatskappy.
Hoe kommunikeer die kerk?
Nelis Janse van Rensburg gesels oor die kommunikasieverslag en hoe die “brand” of handelsmerk van die kerk uitgebeeld kan word.  Hy stel dit dat die missionale tema om ’n lewegewende verskil te maak moontlik vasgevang kan word in ’n taal wat ongelooflike potensiaal kan ontsluit.  Nioma Venter voeg by dat daar ’n skuif moet wees tussen kommunikasie as inligting en as getuienis en sê:  “Die hart van ons roeping lê eintlik in kommunikasie.”
#Hope4NGkerk
Gaan kyk gerus op Facebook by #Hope4NGkerk, ’n groep wat vandeesweek geskep is om stories en getuienisse van hoop binne die kerk te deel.  Die blad het in minder as 24uur al 395 lede gewerf.  Hierdie groep wil 'n ruimte bied vir mense om getuienisse van hoop te deel en wil 'n inspirasie wees vir almal. Dit is 'n geleentheid om ons eenheid in Christus te vier. Ons nooi enige persoon om 'n verhaal te deel van hoe die NG kerk 'n verskil in mense se lewens gemaak het. Deel stories van plaaslike gemeentes, projekte of individue. Ons wil 'n lewendegewende ruimte skep, daarom: geen haatspraak, klagtes, teologiese debatte, of kritiek teen persone, gemeentes of denominasies nie. Enige oortreding hiervan moet gerapporteer word sodat die admin die post kan verwyder en/of die persoon kan blok.  
Hoe dink ons jongmense oor die kerk?
Anriëtte de Ridder (PSD: Jeug en Familiebediening) deel video’s waar van ons jongmense vertel hoe hulle oor die kerk dink en waar hulle die toekoms van die kerk sien.  Klik op dinkjeug se webwerf.  
Uitstaande sake word afgehandel
Die laaste mosies, voorstelle en beskrywingspunte word afgehandel.
Amptelike sinodebesluite
Besluit oor kerkhereniging - lees hier 
Sinode-oomblikke
24 vroulike predikante wat Algemene Sinode 2019 bygewoon het 
Meer dekking oor die Algemene Sinode
Kry die laaste nuus oor die Algemene Sinode op ons Facebook en Twitter (@WSKaap) platforms. Die hele vergadering is deur die loop van die week  direk op YouTube uitgesaai en Kerkbode se dekking kon regstreeks hier gevolg word. Lees hier die nuusbriewe van die byeenkoms sover.

Ten laaste
Baie sinodegangers het getuig hoe die kerk vandeesweek diversiteit omarm het en terselftyd 'n gesamentlike identiteit in Christus gevind het.  Dat daar ruimte geskep is vir uiteenlopende standpunte is veral bemoedigend vir die toekoms van die kerk.
Ons groet vir oulaas uit eMseni.
Ronelda Visser


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.