Lees deur internet, klik hier >>
24 Januarie 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Boodskap van die moderatuur
Nelis Janse van Rensburg skryf die volgende: "Leierskap, ja, dit is wat ons nodig het in Suid-Afrika, sterk leierskap. In bykans elke kring van die samelewing word gepraat oor ons president se leierskap. En soveel hoofde, soveel sinne oor wat nou eintlik bedoel word met sterk leierskap. Natuurlik het ons ook in die kerk leierskap nodig, in elke gesin en werkkring, in elke aksie van elke gemeente, in elke gemeente, ring, sinode. Ons het daar leiers nodig wat die leierskap van die Hoof van die kerk ernstig neem en geleer het om sy wil te onderskei en te doen.

Die moderatuur het oor die afgelope jare die gebruik om vroeg in Januarie ‘n paar dae af te sonder om iewers te gaan stil raak by die Here en te fokus op Hom, ons Hoof. Dit is nie ‘n jaarbeplanningsessie nie. Dit is ‘n geleentheid om as span diepgaande te kalibreer op die teenwoordigheid en bewegings van God in ons midde. Die moderatuur glo dat hulle as ‘n geloofsgemeenskappie op reis is, diensbaar aan Christus, ingeneem in die beweging van God in die wêreld.

Die moderatuur kon vanjaar van 15-17 Januarie vir die eerste keer by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington byeenkom. Theunis Botha en Elna Mouton het as geestelike mentors die groep begelei met insigte uit die Skrif en uitgebreide nadenke. Die insigte en ervarings waarvan die lede in die tye van stilte, afsondering en saam dink bewus geword het, getuig van die betekenis daarvan om leierskap te wortel in die bewussyn van God se teenwoordigheid en Sy wil vir ons lewe. Lede van die moderatuur getuig daarvan dat hulle opgewonde en vol verwagtinge is van die jaar wat voorlê. Hulle gebed is dat daar in elke hoekie van die kerk geroepe leiers sal wees wat die stem van die Hoof hoor en Hom volg met oorgawe." 
Wat kan ons vanjaar verwag?
Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis skryf oor vyf dinge wat ons vanjaar te wagte kan wees.  Hy reken dat ons sekere aanwysers vir môre reeds in vandag kan vind.  Lees hier meer oor hoe lae ekonomiese groei, die ANC, interne spanning en plaaslike regerings, minder geduld, klimaat en die toenemende druk op kerke ons in 2020 kan beïnvloed.
Twee retraites by Andrew Murray
Daar word in Februarie twee retraites (sien onder) by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington aangebied.  Theunis Botha bied van 14-15 Februarie vir egpare die geleentheid om hulle verbintenis aan mekaar in God se teenwoordigheid te kom vier.  Die Aswoensdag retraite op 26 Februarie is 'n reis van verdieping saam met God met die aanbreek van Lydingsweek.  Kontak Derine Piek by admin@andrewmurraysentrum.co.za of 021 873 2151 vir meer inligting.
100 Dorpe-dialoog in Victoria-Wes 
Die Sentrum vir Publieke Getuienis het Woensdag hulle 100 Dorpe-projek na Victoria-Wes uitgebrei. Kerk- en gemeenskapsleiers het vergader om die toekoms van die dorp te midde van die droogte te bespreek. Die algemene konsensus was dat die bou van wedersydse respek, die afbreek van vooroordele, die strewe na een gemeenskap en eenheid onder kerke nou belangriker as ooit is. Die skoolsituasie en die stigting van 'n gemeenskapsforum is ook bespreek. 'n Opvolgbyeenkoms word tans beplan.
Deelnemers aan die100 Dorpe-projek
Gesprekke oor Victoria-Wes se uitdagings
Herman Hugo, Louis Kruger, Roche Speak en Ronald le Fleur
Manus Duminy en Lazarus Makwena
VBO kursusse in Stellenbosch 
Verdien VBO punte deur die volgende kursusse by Communitas in Stellenbosch by te woon.  Tydens Die Bybelteks en die stories daaragter kyk Peter Nagel na die wonderlike stories wat in Bybelse geskrifte gevind kan word. Op 11-12 Februarie gesels hy oor verhale uit die Ou Testament en op 25-26 Augustus kom manuskrifte uit die Nuwe Testament aan die beurt.
Neil Büchner bied 'n praktiese kursus Vertel stories met video op 25 Februarie en 10 Maart aan. Leer hoe om oudiovisuele kommunikasie en getuienis te kombineer as deel van jou gemeente se digitale bediening.  Kontak vir Bridget Leibbrandt by 021 808 3624 of stuur 'n e-pos om jou plek te bespreek.
Mosambiekse proponente
Vyf kandidate van ons susterkerk in Mosambiek, die IRM Sinode Mphatso in Noordwes-Mosambiek, is op 8 Desember 2019 gelegitimeer. Dié spesiale geleentheid by die Hefsiba Teologiese Skool op Vila Ulongue is bygewoon deur Kobus Odendaal (PSD Afrika Ekumene), Jaco Botha (Bredasdorp-gemeente), Carl Lourens (Krugerwildtuin-gemeente) en Stephen Pedro (PSD Gemeentegetuienis). Dis van groot belang dat ons bande met ons susterkerke in Afrika sal bly versterk. Besoeke soos hierdie is dus waardevol. Dit help ons om mekaar te bemoedig en te ondersteun in die talle uitdagings wat die kerk moet aanpak om die Lig en Sout van Afrika te wees.
Agter v.l.n.r. Kobus Odendaal, Jaco Botha, Carl Lourens en Stephen Pedro 
Middel v.l.n.r Guduel Chissale Edisson, Isaac Damissone Jassitone, José Aberto Lissitone, Manuel Alfredo Pansimpatale en Yordani Guidion Faissoni met hulle vrouens voor hulle.
EKOLOGIE
Ons kan by sonneblomme leer
Die uitdaging vir elke mens is om te leer om vir God oral te verwag en in alles raak te sien. Of ons uiteindelik hierdie ervaring beleef, hang grootliks van ons oriëntasie af. En hier kan ons baie by sonneblomme (helianthus) leer. Lees meer wat David Botha, ons ekologie-korrespondent, hieroor te sê het. 
VAKATURES
Huis van Heerde/Huis Andrew Murray: Bestuurder
Aansoeke word ingewag vir 'n dinamiese leier en innoverende bestuurder wat 'n goeie begrip het vir die behoeftes van getraumatiseerde kinders en jeugdiges.  Sien posbeskrywing hier.  Aansoeke sluit 24 Januarie.
Huis van Heerde, Moorreesburg: Bestuurder Vakkundige Dienste
'n BA/B Diac graad of diploma in Maatskaplike Werk en ten minste vyf jaar toepaslike ondervinding word vereis. SACSSP registrasie en 'n geldige rybewys is noodsaaklik. Lees meer oor die diensvereistes hier.  Aansoeke sluit 24 Januarie.

Huis Andrew Murray,Wellington:  Maatskaplike werker
'n Gemotiveerde en dinamiese persoon met ‘n positiewe lewensingesteldheid teenoor kinders en jeugdiges sal ideaal vir die betrekking wees. Sien verdere besonderhede hier.  Die volledige CV teen 24 Januarie in.
Ramot behandelingsentrum:  Maatskaplike werker
Aansoeke van gekwalifiseerde persone met ‘n positiewe lewensingesteldheid wat die waardes van die organisasie ondersteun word vir hierdie betrekking ingewag.  Sluitingsdatum vir aansoeke is 5 Februarie.

Huis Groeneweide, Darling:  Bestuurder
Die suksesvolle kandidaat sal verantwoordelik wees vir die bestuur van die tehuis en dienssentrum om 'n optimale diens aan bejaardes te lewer.  Sien diensbeskrywing en -vereistes hier.  Aansoeke sluit op 31 Januarie.
Parow-Welgelegen: geboue- en terreinopsiener (koster) 
Parow-Welgelegen benodig die dienste van 'n koster.  Die ideale kandidaat moet onder andere die terrein, geboue en toerusting, skoonmaakdiens, algemene herstelwerk en funksievoorbereiding oorsien.  Kliek hier vir volledige posbeskrywing.  Sluitingsdatum vir aansoeke is 7 Februarie.  Stuur CV en kort motivering na tania@ngkwelgelegen.co.za of dien dit by die kerkkantoor vir aandag Tania Olivier. 
GEMEENTENUUS
Groote Kerk hou Aswoensdagdiens
Die Groote Kerk in Kaapstad hou op Aswoensdag 26 Februarie 'n spesiale erediens om 13:00. Aswoensdag is die begin van Lydenstyd en is tradisioneel ’n tyd van gebed, vas, skuldbelydenis en verootmoediging waardeur gelowiges hulle voorberei vir die groot Lydensweek en Pase.

PREDIKANTENUUS
De La Bat verwelkom die Wheelers
Die kerkraad van De La Bat gemeente nooi alle ringspredikante uit na die erediens en nagmaal op 26 Januarie om 09:30 (Herta Louwstraat 29, Loumar, Bellville) vir die bevestiging en intreepreek van Chris Wheeler. Die bevestiging sal deur Rocco Hough waargeneem word. Na die diens sal daar verversings bedien word. Die Ring van Bellville sowel as die De La Bat en La Belle gemeentes wens vir Chris en sy vrou Wilmi alles van die beste toe met hulle nuwe seisoen in Bellville.
Die gemeente het reeds in Desember van Jan Nieder-Heitmann, wat sedert 2012 by die gemeente was, afskeid geneem.  Geniet jou aftrede.
Bevestingsgeleenthede  
Seënwense aan die volgende kollegas met hulle bevestigings by onderskeie gemeentes.

Marileen Steyn word eerskomende Sondag deur Jakes Barnard as tentmakerleraar by Saldanha-gemeente bevestig.  Marileen was vir die afgelope drie jaar as jeugwerker by die gemeente betrokke.  Die diens vind om 09:30 plaas. 

Annelet Slazus is op Saterdag 18 Januarie deur Johan Janse van Rensburg by NG Gemeente Boesmanland (Springbok) bevestig as leraar en het Sondag haar intreepreek gelewer.  Annelet was voorheen by NG Gemeente Wellington-Oos. 

Enel Lambrechts is op 19 Januarie deur Anton Louw by NG Gemeente Knysna bevestig. Sy was voorheen by Bottelary Familiekerk/Vredelus-gemeente.
Scheepers-familie verwelkom by Drakenstein 
Louwrens Scheepers is verlede Sondag by Drakenstein-gemeente in die Paarl deur Peter Nagel as brugleraar bevestig. Louwrens skryf: "Dit is met opgewondenheid en afwagting dat ek die onbekende reis as brugpredikant saam met julle begin." Baie welkom in die Boland, Louwrens en Gerda.
GEBEDSVERSOEK
ALGEMEEN
Brugkursusse vir 2020
Die eerste brugkursus vir 2020 begin eersdaags.  Belangstellendes wat wil inskryf kan ʼn e-pos stuur aan Mathilda du Pisanie. Module 1 vind van 18-20 Februarie plaas en Module 2 van 21 – 23 April 2020.  Die kursus, etes asook kursusmateriaal word gratis voorsien.  Kursusgangers is verantwoordelik vir hul eie verblyf en vervoer na en van die kursus.
Seminar at Beyers Naudé Centre 
The Beyers Naudé Centre for Public Theology is hosting a seminar with Katharina Oppel on Wednesday 29 January from 11:00-12:30.  She will discuss "Regaining an "Eastern" Jesus for a Western Church - Bonhoeffer's  appreciation for Mahatma Gandhi" based on her extensive research on Dietrich Bonhoeffer. To attend, please RSVP to maritasnyman@sun.ac.za before 28 January.
Call for papers
The Gender Unit of the Faculty of Theology of the Stellenbosch University in conjunction with the Institut für Alttestamentliche Wissenschaft at the Faculty of Theology, Leipzig University, invite papers that consider the language of perversion in the Hebrew Bible for a conference to be held on 18 to 20 March 2020 at the Faculty of Theology in Stellenbosch. Keynote speakers include Prof Andreas Schuele (Leipzig University), Prof Jeremy Schipper (Temple University), Prof Nyasha Junior (Temple University), and Prof Johanna Stiebert (University of Leeds). For further inquiries, please email Juliana Claassens, jclaassens@sun.ac.za; Andreas Schuele or Marita Snyman. Visit our website for more information.
NUUSBRIEWE
Lees Bybelgenootskap se Januarie nuusbrief.

PUBLIKASIES
Februarie se LiG nou op die rak 
Dié uitgawe is propvol inspirerende stories, goeie raad en pragtige foto's.  Daar word gesels met bekroonde sanger en liedjieskrywer Riana Nel, akteur en pastoor Johan Scholtz en blinde fisioterapeut Anna Oberholzer.
Die eerste aflewering in die tydskrif se reeks oor onvrugbaarheid begin ook vandeesmaand. Verder gee kenners raad oor gesonde grense in die klaskamer met wenke vir ouers en onderwysers en hoe om vir jou kind te bid wat die pad byster geraak het. 
Kontak vir Jeanne van Niekerk per e-pos of by 021 864 8252 vir inligting hoe gemeentes kan spaar op intekenaarsfooie.
Eerste Kerkbode van 2020
Le Roux Schoeman, redakteur van Kerkbode, bedank alle lidmate en gemeentes wat ingeteken het op die gedrukte koerant. "Dis heerlik om te werk aan 'n produk wat van Bredasdorp tot Otavi stories vertel! Hierdie subskripsies is steeds 'n noodsaaklike deel van ons sakemodel. Dit laat ons toe om te belê in digitale platforms soos www.kerkbode.co.za en die Kerkbode-app wat tans gratis aan alle gebruikers beskikbaar is."
Die eerste gedrukte uitgawe van Kerkbode sal vandeesweek by gemeentes afgelewer word.


BEHOU DIE HUMOR
KUIERKANS
TEN LAASTE
Tydens die Seisoen van Epifanie word daar gefokus op die redding en verlossing wat gebring is deur die koms van Jesus Christus.  Daar word van ons gevra om selfs ten spyte van uitdagende omstandighede maniere te vind om die bron van lig in ons gemeentes en gemeenskappe te wees. Luister gerus na "Helder skyn U lig vir die nasies" en mag dit ons refrein en inspirasie vir die week wees.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser 


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.