Subscribe to our email list
 2 Desember 2016

Beste Leser
SINODENUUS
1. Kaapland groet twee PSD's
1.1 Peter Adams: Nuwe Reis met God

Peter Adams (Nuwe Geloofsgemeenskap-ontwikkeling) se diens aan die sinode kom aan die einde van Desember na 'n reis van meer as nege jaar ten einde. Hy beskryf hierdie tydperk as ʼn aangename voorreg om die VGKSA Streeksinode Kaapland en die NG Kerk Wes-Kaapland in die besondere posisie as PSD vir Nuwe Geloofsgemeenskapontwikkeling te dien. Lees gerus hier hoe Peter die reis met God beleef het en let ook op sy wyse woorde aan kerkleiers.
Lees hier wat kollega Philip Botha oor hom skryf.
Peter, ons waardeer jou bydrae tot uitbou van die koninkryk en vertrou dat jou voortgesette reis saam met God geseënd sal wees.
1.2 Leon Venter: Span- en visiebouer, ons groet
"Die verlies van die Sinode van Wes-Kaapland (en spesifiek die Diensgroep Diaconia) en ongetwyfeld die wins van Bybel-Media." Aan die woord is Bossie Minnaar, NG Wes-Kaapse saakgelastigde. Hy beklemtoon Leon Venter se vermoë om ’n duidelike visie en sinergie te ontwikkel – iets wat vorentoe tot voordeel van Bybel-Media en die breër Christelike gemeenskap aangewend kan word. 
Leon Venter is in Oktober 2016 deur die direksie van Bybel-Media as uitvoerende hoof van dié groep aangestel. Lees gerus onderaan hoe kollegas Leon ken en waardeer. Leon, mag die Here jou altyd seën met sinvolle werk om te doen, iemand om lief te hê en veral iets om voor te hoop.
Leon en Renda Venter, Frederick Marais
Leon en Renda Venter saam met Frederick Marais
2. Seminarium: Ontvangs van Teologie Studente vir 2017
Tydens die naweek van 25 en 26 November 2016 is die nuwe studente vir teologiese opleiding met 'n bevestigingsdiens in die Moederkerk op Stellenbosch verwelkom as ‘n viering van die roeping van die nuwe studente.
'n Uittreksel uit die Seminarium se boodskap lui: "Ons is in dankbaarheid saam met julle bly oor die roeping wat julle ontvang het. Ons erken dat dit God is wat ons roep. Die diens is ook ‘n bevestiging van die nuwe studente se keuring as teologiese studente van die NG Kerk. 
Onder hierdie groep (wat tans 22 sterk is!) is kollegas Marius en Jampie Nel (NG Oostersee) se seun, Pieter, sowel as Alwyn en Martie Carstens (NG Parow-Welgelegen) se dogter, Jolizma. Seën vir elkeen van hierdie studente toegewens!
Klik gerus hier vir die program en meer foto's van die naweek.

Teologie Orientasie Moederkerk
2017 teologiese studente en ouers byeen
Braam Hanekom
3. Konsepwetgewing vra Deurdagte Reaksie
Uit die kantoor van die Algemene Sinode het Gustav Claassen, NG Kerk algemene sekretaris, reageer op konsepwetgewing wat bepaalde uitdagings aan kerke kan stel.
Die eerste het haatspraak in die visier en die ander raak die "kommersialisering" van godsdiens en misbruik van mense se geloof.
Lees die skrywe van die Algemene Sinode hier en klik hier vir die "Hate Crimes and Hate Speech Bill".

Braam Hanekom van die Sentrum Publieke Getuienis reageer op hierdie skrywe met inligting oor konsultasies wat vir volgende jaar beplan word. Lees hier verder
Gielie Loubser en Bossie Muller
4. Brugpredikant: Brug tussen Oue en Nuwe
Dis belangrik om die verskil tussen ’n aflospredikant en ’n brugpredikant te verstaan. Bugpredikante help vakante gemeentes om weer hul roeping en rol duidelik te verstaan. Ook om die gemeente te help om hulle eie storie / geskiedenis / konteks en kultuur te “hoor” en te verstaan. Die brugpredikant help die gemeente om aan die einde van die “ou hoofstuk” om te blaai en reg te maak vir ʼn nuwe hoofstuk.
Om brugpredikante toe te rus bied Communitas ʼn brugkursus op Stellenbosch aan – die eerste module hiervan is reeds van 7-9 Februarie 2017 en die tweede deel van 24-26 April. Lees hier verder en kontak Mathilda du Pisanie by mdup@sun.ac.za of 021 808 3265.
Op die foto's is die aanbieders van hierdie kursus: Gielie Loubser (bo) en Bossie Muller.
Alpha
5. Getuienisaksie 
5.1 Alpha Bekendstelling
Op Saterdag 10 Desember vind die volgende Alpha-bekendstelling plaas. Dit word vir die VGK Ring van die Paarl aangebied.
Die daaropvolgende geleentheid is op 18 Januarie vir die NGK Paarlberg. Alpha bied uitstekende materiaal en metodes om met die tipiese nie-kerkganger in gesprek oor lewensvrae en veral die betekenis van Jesus in ons alledaagse lewensuitdagings  rondom ‘n ete te gesels. Belangstellende gemeentes is welkom om Kobus Odendaal te kontak by missio@kaapkerk.co.za. Lees meer oor Alpha hier .

Gaste Springbok
5.2 Sentrum vir Publieke Getuienis in Noord-Kaap
Op 29 November het Braam Hanekom (SPG), Gerome Haupt (VGK Caledon) en Johan Beukes (in Harmonie) 'n gesprek oor rassisme, versoening en heling in Springbok gefasiliteer.
Die geleentheid is saam gereël en aangebied deur die Sentrum vir Publieke Getuienis en in Harmonie. Ongeveer 30 VG- en NG-leraars en -gemeentelede van die omgewing is genooi om dit by te woon en daar is saam geëet, gekuier en na aangrypende verhale geluister. Op die foto's onder is 'n paar van die mense wat bygewoon het - party het so ver gekom soos van Kuboes (bykans 300 km), Alexanderbaai, Port Nolloth, Steinkopf, Concordia en Garies. Op die foto is vlnr Gerome Haupt, Willem de Klerk (Kuboes), Enez Fortuin (Springbok) en Braam Hanekom (Publieke Getuienis). Onder is nog foto's van die geleentheid.
Springbok gaste
5.3 Oos-Kaap: Decoligny Studiefonds
Soos ons reeds weet, is Sam Dandala, ouderling van die VGK Decoligny naby Mthatha in die Oos-Kaap, tans besig om deur UNISA teologie te studeer. Die VGK Decoligny het ’n studiefonds vir Sam (en moontlik toekomstige teologiestudente) gestig om sy studiekoste te ondersteun.
Lees meer hoe hierdie studiefonds in die lewe geroep is en hoe dit hoop vir die kerk in die Oos-Kaap gee. Op die foto onder is Sam en die VGK Decoligny-kerkgebou.
Decoligny
5.4 Getuienisaksie Jaareindfunksie
Die Diensgroep Getuienisaksie se personeel het op Vrydag 25 November hul jaareindfunksie afgeskop met koffie by Delicatessen, by Tokara bo-op Helshoogte, Stellenbosch, en daarna 'n gesellige piekniek by Boschendal naby Pniel gehad. Die rit in die kombi het ook gesorg vir baie pret! Mariëtte Odendaal was die fotograaf.
Getuienisaksiepersoneel
Jose verpak
6. Jeugkantoor
KiX koester Kinders!

Op die foto is José Layman, sekretaresse in die Jeugkantoor, en haar dogter (Gené) besig om 340 Kix.kom kwartaal-blaaie in koeverte te verpak om te versend vir die begin van die nuwe jaar. 
Kix.kom is die lesmateriaal van Kix wat gebruik word dwarsoor die land en word aangebied in kerke, nasorge, skole en crèches. Vir bestellings of navrae kontak José in die jeugkantoor jeug@sun.ac.za of 021 808 9050.
Ou materiaal kan gratis afgelaai word by www.kixkinders.co.za of www.communitas.co.za
Vir meer inligting oor hoe om ‘n KiX-groep te begin of hoe die materiaal werk, lees hier
7. Huweliksbevestigers: Trou is nie Perde koop nie ...
Uit die kantoor van die saakgelastigde, Bossie Minnaar, word ons predikante wat as huweliksbevestigers aangestel is, uitgenooi om hulle te vergewis van die jongste inligting oor die registrasie van huwelike, sowel as inligting van toepassing op diegene wat wil aansoek doen om as huweliksbevestigers geregistreer te word.
Dit word onder meer beklemtoon dat huweliksbevestigers huwelike persoonlik moet registreer en dat dit binne drie dae na die huweliksbevestiging gedoen moet word. 
Gemeentes, help asb om hierdie inligting ook onder die aandag van emeriti wat steeds huwelike bevestig, te bring. Kry al die inligting hier. Navrae kan gerig word aan bossie@kaapkerk.co.za.
Kerskaarte
8. Argiefkronieke
Kersgroete van Duitse Wesies
Kollega Isabel Murray berig: "Gedu-rende die Tweede Wêreldoorlog kom die vroue van die Vrouesendingbond in Suid-Afrika bymekaar om die lot van die Duitse wesies te bespreek. Daar word besluit om bydraes toe stuur. As bewys van hul dankbaarheid vir dit wat hulle ontvang het, stuur die wesies hand-gemaakte Kerskaarte. Die fyn afwerking en veral die stukkies gekleurde papier wat hulle ten spyte van hul eie oorweldigende behoeftes gevind het om lig aan ander te stuur, laat my opnuut die waarde van ‘omgee vir mekaar’ besef.” Kontak die Argief by liesel@kaapkerk.co.za of 021 882 9923 met navrae.
Kersfees-sterre
9. Nelis Janse van Rensburg: Vrede vir julle
"Mag daar in hierdie Adventstyd 'n diep bewyssyn by ons almal kom van die vrede van Christus, vrede wat argumente en verskille te bowe gaan. Mag ons hierdie vrede na afloop van al die komplekse gesprekke mooier en beter ervaar as ooit vantevore."
- Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die Algemene Sinodale Moderamen. (Met dank aan e-Kerkbode; lees hier.)
ALGEMEEN
1.1 Gesamentlike Legitimasie

Vanjaar se gesamentlike legitimasie (op Sondag 27 November by VGK SA Gestig in Belhar) was ‘n buitengewone geleentheid, omdat dit saamgeval het met die 30-jarige vieringe van die Belydenis van Belhar in hierdie selfde kerkgebou.
Die prediker was prof Dirkie Smit en tydens hierdie besonderse geleentheid het hy ook die Akte van Emeritaat ontvang. Die teks van sy preek, sowel as die program en die kandidate se name, tesisonderwerpe en foto's, is hier te sien. 
Besoek gerus ook ons Facebook vir baie meer foto's van hierdie spesiale geleentheid. Seën aan een en almal vir julle voorgenome bediening.

2016 Legitimasie Groepfoto
Vlnr Jaco Botha, Marius Louw, Jandre Viljoen, Leon Durie, Toit Wessels, Ferdi Boll, Antje Bracht Du Plessis, Jacobie Visser, Tilana Meyer-Morkel, Estian Mentz, Dewald Hoffman, Karien Muller, Conroy Terblanche, Mbulelo Gcaza, Wynand Breytenbach 
Peet Bester, Corne Pretorius, Lucas Plaatjie, Ferdinand Boll, Johannes Nortier, Toit Wessels, Ferdi Boll
'n Paar mentors en studente in ligte luim
Agter vlnr: Peet Bester, Cornie Pretorius, Lucas Plaatjie, Ferdinand Boll, Johannes Nortier
Voor: Toit Wessels en Ferdi Boll
VGKSA-kandidate
VGK-kandidate netjies in 'n ry:
Mbulelo Gcaza, Estian Mentz, Karien Muller, Conroy Terblanche en Mbuyiselo Swelindawo
Kersaansteek seremonie
Kersseremonie
Dosente en lede van kuratorium in diens
Belangstellende toekykers
Oorkonde aan prof Dirkie Smit
1.2 Declaration: Prof Dirkie Smit
Dion Forster (from the Faculty of Theology, Stellenbosch University) writes: "Today (Sunday 27 November 2016) we honored the scholarship and ministry of Prof Dirkie J Smit by handing him an 'oorkonde' (declaration) on behalf of the Faculty of Theology at Stellenbosch University and the Uniting Reformed Church in Southern Africa (URCSA).
We are so thankful for his person, work and witness and the thousands who have been shaped by his scholarship over the years. He is an author of 45 books and more than 450 academic articles, 40 PhD students, and the shaping of many junior academics and ministers (myself included)." Thanks, Dion!

Photo: Rev Walter Philander (URCSA Curatorium) with Professors Hendrik Bosman and Dirkie Smit. Click here for the declaration and more photos.
We wish prof Dirkie Smit a truly blessed retirement at the end of this year. Thank you for your immense contribution and for allowing us to share in your wisdom, Professor.
1.3 Blanco beroep Ferdi Boll!
Hier is sommer ekstra wonderlike nuus kort na die legitimasie op Stellenbosch!
Die gemeenteraad van die NG Gemeente Blanco (foto onderaan) het Ferdi Boll, wat sy gemeentejaar vanjaar in hierdie gemeente in die Suid-Kaap voltooi het, op Wo 29 November beroep in ’n voltydse tweejaartermyn kontrakpos!
Ons opregte wense aan Ferdi en sy vrou, Jeandré, is dat hulle ook in hierdie proses die Here se sorg, liefde en leiding op ’n spesiale manier sal ervaar.
Belangstellendes kan die Kerkbode van 2 Desember gerus dophou vir al die proponente van US, UP en UV se kontakinligting. Die meeste van hulle is onmiddellik beroepbaar.
NG Blanco gemeenteraad
Agter vlnr: Marius Smit, Ferdi Boll, Francois Mulder (leraar), Rikus Lamprecht
Middel: Nico van Rensburg, Ben Vermeulen, Ferdinand Heymann, Anneliese de Klerk, Cecile Olivier (skriba), Andries Olivier, Stefan Schoeman, Pieter Groenewald en Janna van der Colff
Voor: Johan v Greunen (voorsitter), Cornie Pretorius (leraar), Donovan Gultig, Mike van Niekerk
Nico Koopman
1.4 Skep moed! Evangelie is Meer as die Kerk
“Vir ’n oomblik kry ons kans om moed te skep uit die saamwees in verskeidenheid. Te midde van soveel verdeeldheid in ons samelewings, plaaslik en internasionaal, lyk dit tog of sosiale kohesie te midde van sosio-ekonomiese klowe, en sosiale solidariteit te midde van soveel voortdurende vervreemding nie so vergesog is nie. En ons skep moed uit die perspektief van Smit, die evangeliedienaar van Belhar, dat die evangelie veel meer as die Kerk is. 
As jong teoloog in die apartheidsjare het hy ons gehelp om ons nie vir die evangelie te skaam nie, om nie die evangelie gering te skat nie, om nie die evangelie as ’n verleentheid te beskou nie. Sondag doen hy dit toe weer.” So reflekteer prof Nico Koopman op Sondag se legitimasie erediens met prof Dirkie Smit as prediker. Lees hier – en skep moed!
2. Teologiese Dag 2017
Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch se jaarlikse Teologiese Dag vind plaas op Maandagoggend 30 Januarie 2017 om 09:00 in die Attie van Wijk Ouditorium by die Fakulteit. Die onderwerp vir die dag is "Geloof en Burgerlike Samelewing/Faith and Civil Society", en ons besin oor ons burgerlike verantwoordelikheid in ons demo-kratiese samelewing (gegewe die broosheid daarvan).
Die Openingserediens vind plaas op Sondagaand 29 Januarie 2017 om 19:00 by Die Volkskerk van Afrika se Stellenbosch-gemeente in Kahlerstraat, Idasvallei. Meer inligting oor die sprekers en prediker volg vroeg in die nuwe jaar.
3. Bybel-Media
Dankie-sê met 'n Ligspoor ...

Vrydag 25 November was 'n baie spesiale dankie-sê dag saam met Bybel-Media. Die geleentheid is gevier saam met medewerkers, diensverskaffers, studente, donateurs en personeel.
Besoekers is die unieke geleentheid gebied om 'n eerstehandse kykie na die verskeidenheid van afdelings en aktiwiteite in die statige ou Ferguson-gebou te kry. Die interaktiewe aard van die begeleide toer het gesorg vir groot pret en baie glimlagte, maar ook vir 'n nuwe waardering vir en insig in die omvang van die werk wat hierdie begeesterde span personeellede verrig. Lees meer hier.
Hierdie spesiale dag was ook die ideale geleentheid om die nuutontwerpte logo-reeks van Bybel-Media bekend te stel.
Die omvangryke werk waarmee BM as vennote in geloof en bediening besig is, word netjies in 'n video van 40 sekondes saamgevat - klik hier.
Hartlik geluk, Bybel-Media - dit is 'n voorreg om julle as vennote te hê. Mag julle ligspoor aanhou inspireer!
Sean Fortuin
Sean Fortuin
Johan Steenkamp
Johan Steenkamp
Eerstejaarskamp Wellington
GEMEENTENUUS
1. NG Gemeente Calitzdorp ontvang Lenny en Anje!

Nadat fondse beskikbaar gestel is vir ’n jaar-lange bediening, is ’n jeugwerkpos by die NG Gemeente Calitzdorp onlangs geskep. Die spesiale nuus is dat Lenny en Anje Baron (foto onder) in hierdie pos aangestel is en eerskomende naweek hulle bediening daar begin.
Calitzdorp se bestaande jeuggroep, Skype (“Servant Kingdom Young People Educators”) met portuurgroep-ondersteuning as een van hulle fokusse, sal dien as Lenny en Anje se basis en van hier sal uitreike en projekte na die res van die gemeenskap beoog word. Lenny en Anje was voorheen betrokke by JAM en Stellenberg se Jeugwerk en uitreike en is dus ou bekendes (en geliefdes!) in die Calitzdorp-omgewing. Baie seën vir julle, die gemeente en breër gemeenskap toegewens!
Anje en Lenny
Wellington Ons huis reis na Kersfees
2. NG Moedergemeente Wellington
Ons huis se reis na Kersfees

Wellington Moedergemeente het 'n "kosblik" gepak vir huisgesinne wat saam wil dink oor die dieper betekenis van Kersfees. Die kosblikke is genoem "ons huis se reis na Kersfees" en elkeen bevat vier lekker saamgesels-kaarte, vier simbole en aktiwiteit-idees vir gesinne (oud en jonk) om saam te doen tydens Advent of gedurende die vakansie.
Enigeen is welkom om die uitdeelstuk en idees te gebruik. Die kosblikke en items kos ongeveer R10 elk as ‘n gemeente dit sou wou saamstel vir families. Klik hier.
3. NG Parowvallei-Oos: Care Coffee Corner van krag tot krag
Theo Swart van Parowvallei-Oos het nog foto's gestuur van hulle gemeente se Care Coffee Corner waar elkeen wat honger en dors is vir 'n bekertjie koffie en 'n stuk beskuit, sekere oggende douvoordag welkom is om in die verbystap daarvan te neem. Theo skryf dat hulle met 65 koppies koffie begin het, wat later 145 geword het en vandag staan die getal op 210 koppies koffie en 12 sakke beskuit! Dit klink of hulle inderdaad verstaan wat dit beteken om die goeie nuus te versprei!
Parowvallei-Oos lidmate deel koffie uit
Pieter en Liz Fourie
PREDIKANTENUUS
1. Nuwe blaadjie vir BM se Pieter Fourie 
"Dr Pieter Fourie, uitvoerende hoof van Bybel-Media, tree aan die einde van Desember 2016 af na 'n geseënde dekade in diens van dié groep van maatskappye.
Ons kerk was besonder bevoorreg om uit sy leierskap en bekwaamhede te kon baat." Aan die woord is Danie Mouton, voorsitter van die BM-direksie. Lees gerus hier meer.
Op die vooraand van dr Fourie se aftrede vertel hy een en ander oor sy toekomsplanne en loopbaan - op 5 Desember is dit sowaar presies 40 jaar sedert hy in die Rynse NG Sendingkerk op Stellenbosch georden is! Belangstellendes kan hier verder lees. Pieter en Liz, baie seën en vervulling toegewens!
BM-direksie 2015
2015 se BM-direksie
Pieter Fourie, Francois Cillié, Elize Bezuidenhout, Danie Mouton, Gustav Claassen,
Zander van der Westhuizen, Immanuel van Tonder, Kobus Gerber
Voor: Johan Vosloo, Hanna Kotze en Albie Basson
Kotie en Ronel Kritzinger
2. Kotie en Ronél Kritzinger
Stille water in Laaiplek!

Aan die einde van sy diensplig in 1984 is Kotie Kritzinger na die NG Gemeente Laaiplek beroep (en daar bevestig op 10 Maart 1985). Dis hier waar hy tot 4 Desember 2016 steeds amptelik in diens van die gemeente is, aan die lekker ou Weskus! Volgens Kotie het die Weskus net mooi alles en daarom sien hy en Ronél uit daarna om daar te bly woon en aandag aan verskillende tydverdrywe te gee. Diegene wat Kotie ken, sal weet dat hy ’n wye verskeidenheid talente het en gewis nie maklik sal stilsit nie! Lees gerus aangeheg meer. Ons wens jou en Ronél vele mooi sonsondergange en seëninge in julle geliefde Weskus toe.
André en Lenska Lötter
3. NG Ysterplaat-Suid
André en Lenska Lötter gegroet

André Lötter emeriteer op 31 Des vanjaar, en het sy Akte van Emeritaat op 27 Nov tydens NG Ysterplaat-Suid se Kerssangdiens ontvang. 
André se kerklike loopbaan het 'n paar interessante draaie geloop. Vóór sy legitimasie in 1978 werk hy gedurende sy finalejaar in 'n studente-hulppos saam met wyle ds Leon Steenkamp in Bellville-Uitsig. Vanaf 1979 was hy voltyds leraar in Kuruman Moedergemeente. 
Hy neem in die tagtigerjare demissie ter wille van die voltooiing van onafge-handelde studies en besluit om tydelik onderwys te gee. Die onderwysfase duur langer as was aanvanklik beplan was, maar was geweldig genotvol.
In 2006 besluit hy egter om voltyds terug te keer na die bediening. Hy aanvaar ‘n beroep na Ysterplaat-Suid en dien in hierdie tyd ook vir vier termyne as voorsitter van die Ring van Kaap die Goeie Hoop.
Hy en Lenska gaan in die Wes-Kaap aanbly; sy tree ook aan die einde van die jaar na 'n lang onderwysloopbaan af. Twee van hul drie kinders en twee kleinkinders is naby, en selfs hul oudste seun wat in Australië werk en bly, kom gereeld SA toe - meer tyd saam met kinders en kleinkinders is beslis in die vooruitsig!
Ilze en Marcell Mey
4. Marcell en Ilze Mey word Kiwi's!
Uit die NG Gemeente Strand-Noord ontvang ons die nuus dat Marcell en Ilze Mey na ses gelukkige jare in die gemeente nou hulle vlerke ver sprei!
Marcell het middel November 'n beroep na 'n Presbiteriaanse gemeente in Wellington, Nieu-Seeland, ontvang. Intussen het Ilze ook 'n betrekking ontvang, nogal die dag voor Marcell sy amptelike beroepsbrief gekry het.
"Alhoewel ons Strand-Noord en die Wes-Kaap baie gaan mis, is ons dankbaar vir die geleentheid en opgewonde om 'n nuwe uitdaging saam te kan aanpak.
Ek sal met groot entoesiasme VrydagNuus vanuit Wellington volg; hopelik kan ek binnekort weer dieselfde oor die rugby sê!" Marcell se afskeidspreek is reeds op Sondag 4 Desember en ons wens hom en Ilze baie seën tussen die Kiwi's toe.

O'Kennedys
5. Johan en Tertia O'Kennedy neem afskeid
In die NG Gemeente Swartland in Malmesbury word aan die einde van Desember 2016 afskeid geneem van Johan en Tertia O'Kennedy.
Johan skryf soos volg: "’n Hoogtepunt vir my was om vir 38 jaar tussen mense te beweeg. Mense met hul interessante en unieke persoonlikhede, talente, voor- en afkeure, belangstellings en omstandig-hede. Om na verhale te luister, baie by elkeen te leer en te kon deel in die lief en leed van elkeen wat die Here oor my pad gebring het. Maar veral om die goeie nuus van Jesus Christus met woord en daad te probeer uitdra, en te glo en ervaar hoe Hy deur sy genade ons lewens voortdurend verander en vernuwe".  
Johan sien uit daarna om goed te rus en meer tyd te hê vir sy vrou, Tertia, hul kinders, familie en vriende. Hy is lief daarvoor om met praktiese dinge besig te wees, te kamp en geniet die natuur.

Johan en Tertia, vele gesonde en gelukkige jare toegebid!
Rian en Maria Verster
6. Rustiger tempo vir Durbanville se Rian en Maria Verster
Rian Verster ontvang op So 4 Desember die Akte vir Emeritaat in die NG Gemeente Durbanville en emeriteer aan die einde van 2016. Die kerkraad het hom egter ’n jaar-lange kontrakpos aangebied om deeltyds by senior bediening betrokke te wees. Rian en Maria bly dus aan in die gemeente en gemeenskap.
Hy begin sy bediening in die NG Kerk in Afrika en het ook lank in die Karoo (Vanwyksvlei) bedien. Hy is reeds byna 20 jaar in Durbanville in die bediening. Sy groot hart vir kerkeenheid en barmhartig-heidswerk is enkele van Rian se uitstaande kenmerke. Kollega Tinus van Zyl praat met waardering van Rian se droë sin vir humor en die onbaatsugtige wyse waarop hy sy werk doen, altyd bereid om ander te help. Rian en Maria, mag die stadiger ritme vir julle besondere seën en vreugde inhou!

EKOLOGIE
1. Waterbesparing
Met vlak 3 waterbeperkings wat sedert 1 November in sekere gebiede in die Kaapse metropool en elders van krag is, kan gemeentes gerus ’n draai op die Stad Kaapstad-webwerf maak. Daar is allerlei wenke en hulpmiddele om waterbesparing in die hand te werk en jou waterverbruik te monitor. Nuttige pamflette en dokumente kan ook gratis (in Afrikaans, Engels en isiXhosa) afgelaai word. Sien hier.
Waterwenke
Oos-Asië
2. God omhels ganse skepping
Kersfees vier die menswording van God. Ons staan kinderlik verwonderd/oorweldig by die omhelsende liefde van God. Henri Nouwen sê dat die Gees van Jesus wat in ons woon ons help om in te sien dat God die ganse skepping omhels. By die Gees leer ons om dieselfde te doen. Mag dit ons oë oopmaak om gevoelig en verantwoordelik met God se skepping om te gaan. Lees meer hier

BM-logo
NUUSBRIEWE
1. Bybel-Media Nuusbrief 
In die laaste nuusbrief van die jaar fokus Bybel-Media op 2016 se laaste Kerkbode, Bybelkor-publikasies, die jongste kategese materiaal, ’n vakature vir ’n webjoernalis (sien elders onder VAKATURES), Bybel-Media se kraakvars en splinternuwe logo en nog meer! Lees hier verder.
Bybel-Media materiaal
2. LiG
2.1 Redaksie stuur Kersgroete

Die LiG-redaksie kyk terug op 'n jaar vol genade, uitdagings en seën. Ons is dankbaar vir elke leser wat saam op die LiG-pad stap. Of jy ons tydskrif lees oor die ouerskap-artikels of die resepte. Of dalk inspirasie vind in ons mense-stories en ons artikels oor geloof, bly ons gebed dat LiG jou sal help om Jesus hier tussen ons te ontdek. Hy is immers Immanuel - God met ons. En daarom juig ons ook in hierdie tyd saam met miljoene Christene van oor die wêreld oor die Seun van God wat Mens geword het en tussen ons kom woon het. Geseënde Christusfees! 
Lig-redaksie
Vlnr Conette le Roux, Sonja-Marie Brand, Amanda van der Westhuizen, Viona Ross, Jeanne Human, Hanno Coetzee, Mario Small
en Francine van Niekerk (redakteur)
2.2 Stephan Joubert: Wat die krip van Kersfees sê
"Sy geboorte is nie op 'n Kerskaartjie verewig nie. Boney M was nie die hemelse koor nie. Die krip is nie vir Hom ontwerp nie; dit was 'n gewone voerbak waaruit skape gevreet het. Hy was nooit 'Liewe Jesus' nie, maar uit die staanspoor Christus die Here."
Hiermee 'n bonus Kersverhaal uit LiG, geskryf deur die bekende Stephan Joubert, en met die vriendelike medewerking van LiG aan ons lesers beskikbaar gestel. Lees hier.
KUIERKANS
Gemeentes is besig met Kersmarkte en Kerssangdienste. Hou gerus die sinode se Facebookblad en Twitter hiervoor dop en ondersteun hulle waar moontlik.
Hartenbos Vleisfees
NG Hartenbos Vleisfees
10 Desember 2016
Parowvallei-Oos Kerssangdiens 4 Des
NG Parowvallei-Oos Kerssangdiens 4 Des 2016
Parow Panorama toring
VAKATURES
1. NG Parow Panorama: Voltydse Leraar
NG Parow Panorama is ‘n kultureel en spiritueel gediversifiseerde voorstedelike gemeente van sowat 1 100 lidmate. Gelegitimeerdes van die NG Kerk tussen 35 en 50 jaar oud met minstens sewe jaar ondervinding kan aansoek doen vir hierdie pos. Aansoeke sluit 10 Januarie 2017. Lees meer hier oor die leraars- en werksprofiel.
VGKSA logo
2. VGKSA Malmesbury: Voltydse Leraar
Die kerkraad en gemeente van die Verenigende Gereformeerde Kerk (VGK) gemeente Malmesbury maak in afhanklikheid van en in afwagting op God die vakature van ‘n leraarspos aan die breë kerk bekend.
Die sluitingsdatum vir aansoeke is 15 Januarie 2017.
Lees onderaan meer hieroor.
Logo
3. NG Kerk in SA: Kommunikasiebeampte
Die NG Kerk in Suid-Afrika (Sinode van Wes-Kaapland) het 'n vakature vir 'n kommunikasiebeampte in hulle kantoor in Bellville. Meer oor die vereistes en verantwoordelikhede van hierdie halfdag pos, wat ondersteuning aan die huidige kommunikasiebeampte sal bied, is hier.
Reageer asb voor 20 Januarie 2017. 
BM-logo
4. Bybel-Media: Webjoernalis 
Bybel-Media en Tydskriftemaatskappy (die uitgewer van die Christelike tydskrif, LiG) op Wellington, sal vanaf 1 Februarie 2017 ’n vakature hê vir die pos van webjoernalis. Meer oor die verantwoordelikhede en verwagte vaardighede is aangeheg. Aansoeke sluit reeds op 9 Desember 2016.
e-Kerkbode logo
Vakatures op e-Kerkbode
'n Lys van vakatures vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies is gerieflik beskikbaar in die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode.
Dit word ook via die nuwe e-Kerkbode elektronies versprei na predikante en gemeentes, sowel as ander intekenare.
Klik hier vir die jongste vakatures in die NG Kerk-familie.

Pieter Roeloffse
TEN LAASTE
Uit die Pen van ... Pieter Roeloffse

Die aardigste Krismis ...
Daar staan die spulletjie toe nou in Betlehem. Hoe potsierlik!
Hulle moes maar vat wat daar was - 'n stal. Want die wêreld, sélfs die kerkwêreld, het nog altyd gesukkel met herbergsaam wees.
Die vars baba - God - in 'n trog.
Die handyman, Josef, uit common Nasaret ('n getrouer vertaling van "tekton" wat óns soos 'n verleë skoonma opswier na timmerman).
Verrassend, die sterrekykers uit die Ooste, oor wie die Ou Testament meermaal sê dat jy afgesny sal word van die Godsvolk as jy hulle raad sou soek. Veel nader aan die verwerpte waarsêers as die edele wyse manne wat ons waardigheids-gedagtes van hulle maak.
Die engelsienende herders - manne van agterdogtige karakter met nog groter agterdogtige stories.
En die enigste vrou op die toneel, Maria, haar woorde maal in my vasgeloopte gedagtes:
“Laat met my gebeur wat met my moet gebeur … laat Gods water oor Gods akker loop … Ek is tot beskikking van die Here … ten spyte van ten spyte van my goeie naam … ten spyte van die verwerping ... ten spyte van die vrae … ten spyte van die kruis … Ek is tot beskikking … Laat God se wil maar met my gebeur … want Hy bewys ontferming van geslag tot geslag.”
Só begin God se groot plan om die wêreld te laat tuiskom. Potsierlik - met 'n heilige ontsag gesê!
Mag die Herbergsame God die stal van jou dierlikheid só verlig dat jy jou varkpeul-trog sal steriliseer, jou sluier-doeke om God se seun sal loswikkel - sodat die "ongewenste" herders en die "bose" sterrekykers sy handjies kan sien en saam met jou tot God se lof kan sing: "Welkom, o stille nag van vrede, onder die Suiderkruis," en dit ten spyte van jou en jou gemeente se goeie naam, ten spyte van die verwerping, die vrae en ten spyte van die kruis. Want Hy't ook onder óns, die begrensdes, kom woon.
                                                                          ***
Pieter Roeloffse is getroud met Jana. Hul drie kinders Sarike, Anouk en Pierre, is sy grootste leermeesters. Hy geniet dit om mense te begelei tot nuwe insigte in hulself, die lewe, God, die wêreld en die Woord. Hy werk ook vir die kerk en is die laaste drie jaar bevoorreg om in Prince Alfred’s Hamlet te kan leer en werk. Kontak hom by ontwaking@gmail.com.
Dankbaarheid
In die gees van die VSA se viering van Dankseggingsdag, het die bekende National Geographic-tydskrif foto’s wat dankbaarheid uitbeeld, met hul lesers gedeel.
Een fotograaf, Diana Markosian, het 'n Afgaanse vrou in haar kombuis afgeneem, besig om brood te bak. Dankbaar vir die eenvoudige, die alledaagse. (Klik op die foto hierby vir die groter weergawe.)
"Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus." (Fil 4: 6-7)
Hierdie vrede – wat in Kerstyd so voelbaar-tasbaar naby aan ons gekom het – word elke VrydagNuus-leser toegewens.
Groete tot die uitgawe van 13 Januarie 2017.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
 
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za