Subscribe to our email list
8 Oktober 2015

Beste Leser

Johan van den Heever
Dagwyding
Die vierde dagwyding, waargeneem deur emeritus Pieter Viljoen, het die tema "Oorvloedige goedheid" gehad.
Pieter was voorheen predikant in die NG Gemeente Wonderpark.
Die "hesed" (Hebreeuse woord wat naastenby met "troue liefde//faithfulness" vertaal sou kon word) van God strek verder as een volk en een ras en taal, verder as voorskrifte.
Vrydag hanteer Johan vd Heever (NG Eldoreigne) die dagwyding.
Kunstenaarsvoorstellings
Christiaan Harris,’n grafiese kunstenaar, het tydens die dagwydings grafiese voorstellings gemaak wat die dagtema uitbeeld. Die volle reeks sal na die sitting beskikbaar wees.
Dagwyding 1
Rondom kos word onmoontlike moontlik
Dag 2 Dagwyding
Die gewoon menslike – DIS waar God werk
Dagwyding dag3
Hoe lyk die ware kerk? 
Dagwyding Dag 4
Die troue liefde van God strek verder...
Thursdays in black
Thursdays in Black
Die vergadering is versoek om vandag so ver moontlik in swart geklee te wees as ondersteuning vir hierdie inisiatief wat die aandag wil vestig op geweld teen vroue en kinders. 
Elize Morkel beklemtoon dat daar sovele vroue is wat steeds op 'n daaglikse basis aan geweld blootgestel word.
Hier is meer inligting. Sien gerus ook Sinodebode se artikel hier.
Nelson Posholi
Raakgehoor
Groete uit Lesotho

Rev Nelson Khethang Posholi, Executive Secretary of Lesotho Evangelical Church in Southern Africa (LECSA) groet die Algemene Sinode vanoggend.
Hy haal Jean Varies aan:
"But let us not put our sights too high, we do not have to be saviours of the world! We are simply human beings, enfolded in weaknesses and in hope, called together to change our world one heart at a time." Sy volledige boodskap is hier.

Ds Hansie Schutte (Oos-Kaapland): 
"Ek hoop DIT staan môre op die koerant se voorblad: 'Dis 'n kerk wat worstel met die Woord.'" 
Spesiale Gas by Sinode
Dit was vandag 'n besondere oomblik toe ds Kobus Potgieter, voormalige moderator van die NG Kerk Algemene Sinode en skoonpa van prof Nelus Niemandt, by die vergadering verwelkom is. Op die foto is ds Potgieter en prof Niemandt.
Ds Kobus Potgieter en prof Nelus Niemandt
Selfdegeslagvehoudinge  
Ons leef in 'n tyd dat die kerk van Jesus - en by name die NG Kerk - diep uitgedaag word. Vandag het die Algemene Sinode van die NG Kerk na 'n diepgaande, meevoerende en respekvolle dialoog tussen predikante en ouderlinge, vroue en mans, die historiese besluit geeem om te bely dat hulle deur die Gees gelei voel om selfdegeslagverbintenisse te erken.
Gay proponente en predikante mag volgens die besluit 'n permanente verbintenis hê. Die selibaat voorwaarde van 2013 verval dus. Volgens die besluit het kerkrade die reg om hierdie besluit te implimenteer volgens hulle oortuiging en konteks.  

Saambid
Voor die gesprek het die vergadering eers saamgebid
Besluit: Belydenis van Belhar 
Vandag het ons almal 'n diep beweging van die Gees beleef toe die Algemene Sinode met 'n oorweldigende meerderheid besluit het om 'n ruim kerk te wees deur die Wes-en-Suid-Kaapland Sinode toestemming te gee om die Belydenis van Belhar deel van die belydenisgrondslag van hierdie sinode te maak.
Die Moderatuur sal binnekort byeenkom om oor die implikasies van hierdie besluit en die proses vorentoe te besin. Die afvaardiging van die Wes-en-Suid-Kaap is emosioneel en broos oor die nuwe deure wat Jesus Christus deur hierdie besluit oopmaak en sal voortgaan met geloofsonderskeidende gesprekke hieroor. 
Verkiesing van lede van die ASM
Die volgende persone is vandag tot lede van die Algemene Sinode Moderamen verkies: Elize Bezuidenhout (Oostelike Sinode), Elize Morkel (Wes-en-Suid-Kaap) en Rethie van Niekerk (Oos-Kaapland).
Moderator nou op Onbekende Terrein
Nelis het vanoggend begin deur te bely dat hy hom op onbekende terrein bevind met joernaliste en kameraspanne wat al voor 07:00 vanoggend foto's wou neem en onderhoude versoek. Kom ons doen moeite om daagliks vir hom en al ons kerkleiers te bid vir wysheid en helderheid.
Nelis en joernaliste
Nelis vroegoggend op die grasperk voor Affies terwyl joernaliste kameras opstel
Wes-en-Suid-Kaap Moderatuur Byeen
Uiteindelik was daar vandag 'n oomblik om die Wes-en-Suid-Kaapland Moderatuur byeen te kry vir 'n foto. Ons sinode is inderdaad geseën met vroue en mans met spesiale gawes!
Wes-en-Suid-Kaap Moderatuur
Frik Bosman, Charl Stander, Quintus Heine, Melanie Thirion, Frederick Marais, Bossie Minnaar,
Leon Venter, Elize Morkel, Nelis Janse van Rensburg, Tinus van Zyl
Sinode (na)by Onheilige Grond?
Dit is so dat daar soms selfs by 'n kerkvergadering dinge gebeur waaroor die mense tuis maar net hulle koppe moet skud ... Die twee skuldiges het darem self redelik vinnig bely ... en die storie loop dat iemand op Loftus Versveld hulle selfs vir Victor Matfield en Heineke Meyer aangesien het! Oor die strafmaatreëls skryf geen ordentlike kerklike publikasie nie!
Charl en Quintus - Loftus
Rugby by Ooskerk
Goeie Rugby!
Daar was gisteraand tyd vir afgevaardigdes om by die NG Gemeente Pretoria-Oos (Ooskerk) na die Wêreldbeker-rugbywedstryd te kyk. 
'n Gesellige spitbraai is deur die Noordelike Sinode aangebied en die rugby (en die Springbokke se goeie oorwinning) het baie gehelp om die aand 'n groot sukses te maak! Terloops, dié pragtige kerkgebou is net oorkant Loftus Versfeld.
'n Fotoblik op die Sinode
Vir oulaas, 'n paar foto's om meer van die sinode en die mense van die sinode te vertel. 
Wikus Janse van Rensburg
Wikus Janse van Rensburg
Collette de Wet
Collette de Wet
Jan de Stadler, Geoff en Eileen Stenekamp, Dawid de Wet en Frik Bosman
Jan de Stadler, Geoff en Eileen Stenekamp,
Dawid de Wet, Frik Bosman
Tinus van Zyl
Tinus van Zyl: vroegoggend nadenke
Elize Morkel, Richard Holloway, Rethie van Niekerk
Elize Morkel, Richard Holloway en Rethie van Niekerk
Dawid Kuyler en Gielie Loubser
Dawid Kuyler en Gielie Loubser
Raakgehoor
Verstommende woorde vandag: “Dan sal die duiwel in jou gorrelgat neerdaal en die vet van jou ribbes stroop dat jou harslag daardeur loer soos 'n dief deur tralies om daarvan kerse te maak om jou pad hel toe te verlig want dis die pad wat jy sal loop.” – Dr Kobus Gerber se verduideliking (in een asemteug) aan sinodegangers van wat sou gebeur as dit een van hulle is wat Hermien se laaier weggedra het en dit nie teruggebring het nie.
Sinodebode se webblad het allerlei wonderlike aanhalings van die week: klik hier.
Vrydag op die Agenda
Voor die afsluiting van die sinodesitting môre, moet onder meer gekyk word na enige uitstaande sake, die grootte en frekwensie van die vergadering van die Algemene Sinode, sowel as 'n datum vir die volgende sitting van die Algemene Sinode.
Die vergadering se afsluiting is geskeduleer vir 12:30, met afgevaardigdes wat om 13:30 vertrek. Veilige reis toegewens!

Sinodebode gesalueer!
Groot gelukwense aan Neels Jackson en sy span wat gesorg het dat die Sinodebode ons daagliks van vars en aktuele nuus kon voorsien! Wat 'n plesier en voorreg om so 'n gebruikersvriendelike nuusbrief en  webwerf, sowel as sosiale media (waarvoor Cobus van Wyngaard verantwoordelik was) tot ons beskikking te hê!
Sinodebodespan
Liezl Lüneburg, Lenois Stander, Nico Simpson,
Cobus van Wyngaard, Neels Jackson
Neels Jackson
Neels Jackson neem foto's op Affies se galery
Dr Kobus Gerber met Agenda
'n Opregte Dankie
Die hele ontwerpspan/projekspan betrokke by die reëlings rondom die 16e vergadering van die NGK Algemene Sinode verdien 'n reuse woord van dank!
Die Agenda dui die personeellede soos volg aan:

Die personeel was: Kobus Gerber (sameroeper), Rinel Hugo (skriba), Gerhard Potgieter, Ester Steyn, Malinda Lazenby, Nelis J van Rensburg, Norma Rossouw, Johan Ernst, Gustav Claassen, Roelf Opperman, Fay van Eeden en Hermien Swart saam met ander verteenwoordigers van die Noordelike Sinode: Kobus Myburgh, Lizl-Louise Schoeman, Attie Nel, Daniël de Vos, Wynand van Niekerk, Fritz Snyman en Pieter Visser.
Dankie aan die Steunspan, aan elkeen by dagwydings en die musiekbediening betrokke. 
Dankie, Moeder!
Wes-en-Suid-Kaap se sinode het vanaand weer voor aandete saamgekom om te reflekteer oor 'n dag vol ingrypende besluite en emosie.
Gielie het afgesluit met 'n gebed: "Here, dankie dat ons 'n Moeder hier op aarde het. Dankie dat ons Moeder vir ons 'n ruimer huis gegee het om in te leef. Help ons asseblief om steeds toenemend gasvry en diensbaar om te gaan met elke ander lid van ons familie wat saam met ons in hierdie huis lewe. Dankie vir die Seisoen van Menswaardigheid wat ons hiermee help. Leer ons van respek, van liefde, van omarming en vergeef ons waar ons so onbeholpe met mense werk. Amen."
Vir oulaas, groete uit Pretoria. Hou gerus die kerk se kommunikasiekanale dop vir meer inligting om enkele sake verder te verhelder.
"Wat doen ons, die Kerk? Ons doen net een ding: ons getuig." 
-
Nelis Janse van Rensburg tydens Wes-en-Suid-Kaapland se sinodesitting, Mei 2015
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za