Lees deur internet, klik hier >>
28 Augustus 2015
Beste Leser
Ons roeping is om te getuig van God se liefde,
versoening en geregtigheid.

Wes-en-Suid-Kaap Sinodesitting-logo
SINODENUUS
1. NG Wes-en-Suid-Kaap Moderamenvergadering

Tydens die afgelope week se Moderamenvergadering het die sinodale beplanning deeglik aandag geniet.
- Ons sinodale roeping (soos ook bo-aan hierdie uitgawe) is só geformuleer: "Ons roeping is om te getuig van God se liefde, versoening en geregtigheid."
- Spesifieke strategiese fokusareas, wat 'n verskeidenheid bedieningsaspekte dek, is vir verdere aandag geïdentifiseer.
- Die Moderamen het ruimte gegee vir nadenke oor die samelewing se persepsies oor die kerk. Voortspruitend daaruit is besluit om 'n getuienisstrategie te ontwerp wat dan by die volgende Moderamenvergadering sal dien.
- Die Moderamen het ook kennis geneem van die inhoud én die proses tussen die vier kerke in die NG Kerk-familie, onderweg na 'n konsep Tussenorde, waaraan die vier kerke nou verder oorweging kan skenk met die oog op insette. Daar is met groot dankbaarheid kennis geneem van die goeie gesindhede wat dié hele proses onderlê. Meer oor die Moderamen is hier.
2. Nuutverkose leiers ...
2.1 NG Wes-en-Suid-Kaap Moderatuur

Hartlike gelukwense aan Charl Stander (Parke-gemeente) wat tydens 'n verkiesing by die Moderamenvergadering aangewys is as skriba van die moderatuur, sowel as aan Tinus van Zyl (Durbanville), aangewys as addisionele lid in Charl se plek.
Dit nadat kollega Elsje Büchner verlede week weens verskillende redes as skriba van die moderatuur bedank het. Aan al drie hierdie gewaardeerde kollegas: ons seënwense op julle pad.
2.2. Ringsleiersforum
Gelukwense aan die ringsleiersforum se nuwe voorsitter, Tinus van Zyl (Ring van Durbanville), met Nioma Venter (Ring van Worcester) as skriba. Hulle is op 24 Augustus tydens die ringsvoorsitters se byeenkoms by Stellenberg verkies. Ons sien uit na die entoesiasme waarmee julle hierdie taak gaan opneem - baie sterkte!
Charl Stander
Charl Stander
Skriba van Moderatuur
Tinus van Zyl
Tinus van Zyl
Addisionele lid van Moderatuur en Voorsitter Ringsleiersforum
Nioma Venter
Nioma Venter
Skriba Ringsleiersforum
2.2.1 Energie in die Kerk en Kerkverband!
Tydens die Ringsleiersforum is van die lede gevra wat dit is wat hulle energie en hoop vir die kerk gee. Terselfdertyd het hulle iets van hulle gevoel oor ons ringe en die gereformeerde kerkverband gedeel. Een van hulle, Tinus van Zyl, vertel ... luister gerus in die volgende video. Meer hieroor in volgende uitgawes ... 
Tinus van Zyl oor energie en kerkverband
Gielie en Marie Loubser
3. Gielie: PSD Gemeentebegeleiding!
Dit is lekker om aan te kondig dat Gielie Loubser se aanstelling as PSD vir Gemeentebegeleiding by Communitas vandeesweek deur die moderamen goedgekeur is.  Gielie neem reeds die afgelope drie maande in hierdie pos waar en sal vanaf 1 September amptelik die pos beklee.
Die PSD: Gemeentebegeleiding is oa verantwoordelik vir die uitbou van Communitas tot 'n sentrum van uitnemendheid met betrekking tot dienslewering aan predikante en gemeentes, die opleiding en ontwikkeling van gemeente-fasiliteerders en begeleiers en die begeleiding van gemeentes. Ons bid hom (én sy vrou, Marié) die seën van die Here toe vir 'n uitdagende posisie en omvattende pligstaat! Gielie is by gielie@sun.ac.za.
Peter Adams
4.1 Peter Adams vir  Nuwe Geloofsgemeenskappe
Tydens vandeesweek se moderamenvergadering is die aanstelling van Peter Adams in 'n 50% PSD-pos vir NGGO, Nuwe Geloofsgemeenskapontwikkeling, ook bekragtig.
Hy sal dus voortaan saam met Philip Botha by hierdie baie belangrike taakspan en fokus van die sinode betrokke wees. Kontak Peter by peteradams@sun.ac.za. Wysheid toegewens! 
4.2 Nuwe Geloofsgemeenskapontwikkeling (NGGO) - Kyk HIER!
Tydens die afgelope moderamenvergadering is daar weer besin oor missionale kerkwees en die belangrike rol wat ontwikkeling van nuwe geloofsgemeenskappe daarin speel. Hulpmiddels is aan ringe en gemeentes beskikbaar gemaak, asook ’n PowerPoint wat deur ringskommissies gebruik kan word tydens die eerskomende ringsittings. Klik hier of kontak Philip Botha by philipb@sun.ac.za of 082 823 2272.
Kobus Neethling
5. Lidmaatbemagtiging: DVD's NOU beskikbaar!
Die DVD’s en materiaal van Nataniël, dr Brand Pretorius, dr Kobus Neethling en Leandie du Randt is nou gereed! Bestel betyds vir TOERUSTINGNAWEEK met hoë IMPAK 11-13 September - klik hier of skakel 0860 26 33 42.
Wat kry jy? DVD met sprekers. Ook op die DVD is ‘n gids met joernaal en gespreksvrae. Jy kan van die joernaal soveel kopieë maak soos benodig. Moet dit net oor dié naweek wees? Nee, maar wys ten minste die kort videosnit van die lidmaatbemagtigingspan tydens die naweek se erediens en vertel watter geleenthede julle gaan skep om die sprekers te sien en deel te neem. Kontak dr Jannie le Roux: jgleroux@isales.co.za of 072 127 5043.
6. Missionale Geleenthede vir Gemeentes
Die Koördineringspan (SKS) het inisiatief geneem met die samestelling van 'n pamflet om gemeentes te help met enkele vlagskip geleenthede en prosesse waardeur hulle missionaal betrokke kan raak. Voorbeelde van hierdie pamflet is tydens die Moderamenvergadering uitgedeel. Dit is ook elektronies beskikbaar op www.kaapkerk.co.za met kontakinligting en wenke om dadelik betrokke te raak. 
Mathilda du Pisanie
7. Communitas verwelkom Mathilda du Pisanie!
Dit is 'n lekker voorreg om Mathilda du Pisanie as deel van die NG Kerk in SA se personeel te verwelkom! Mathilda is aangestel as sekretaresse by Diensgroep Gemeentebegeleiding (Communitas) op Stellenbosch. Mag hierdie nuwe geleentheid een wees waarin jy 'n positiewe verskil kan maak! Kontak haar by mdup@sun.ac.za.
Jose Layman
8. Welkom aan José Layman!
Communitas rol ook die rooi tapyt uit vir die ander nuweling in hulle midde: José Layman begin op 1 September 2015 as Ontvangsdame by hulle kantoor op Stellenbosch.
Ons wens jou ook baie vreugde en sukses in jou nuwe pos toe, José! José se e-posadres is jose@sun.ac.za.
DP Carelse
9. Getuienisaksie besoek Susterskerke
DP Carelse (Aktuarius, VGKSA Kaapland Sinode), Kobus (Diensgroepbestuurder: Getuienisaksie) en Mariëtte Odendaal (Kommunikasiebeampte Getuienisaksie) vertrek op 31 Augustus na Malawi en Mosambiek vir tien dae. In hierdie tyd sal hulle groeteboodskappe namens die NGK en VGK aan ons susterskerk in Malawi, die CCAP Nkhoma Sinode tydens hul sinodesitting op Chongoni oordra, die Mobiele Kliniek, Hefsiba en die IRM Mphatso Sinode-kerkleiers in Vila Ulongue, Noordwes-Mosambiek besoek, AnnaMarie de Klerk en haar KIX-skooltjie op Malingunde besoek, asook vergaderings hê met die kerkleiers en hospitaalbestuur op Nkhoma Sendingstasie.
Hierdie besoek is van groot waarde, veral ten opsigte van ons verbande en volgehoue vennootskapsverhoudinge met ons NG Kerk-familie, asook die projekte wat daar deur die Getuienisaksie ondersteun word. Seën vir die reis - red.
10. Badisa Algemene Jaarvergadering
Ons wens graag al ons kollegas van Badisa sterkte toe vir die komende Algemene Jaarvergadering wat op 1 September om 18:30 by Vredelust plaasvind. Averell Rust, Hoof Uitvoerende Beampte, noem in sy verslag aan die Moderamen dat die 152 Badisa-programme die afgelope jaar bykans 780 000 begunstigdes met hulle uiteenlopende dienste kon bystaan!
Ons moedig ringe, gemeentes en individue graag aan om 'n verskil in ONE MORE se lewe te maak - met gebede, betrokkenheid en finansiële bydraes.

NG Kerk Argief
11. Inligtingswet vereis Inventarisse
Gemeentes, ringe en sinodes het net tot 31 Desember 2015 tyd om volledige inventarisse by die Kerkargief in te handig (elektronies is ook welkom). Die Kerkargief is geregistreer om namens die gemeentes, ringe en sinodes die inventarisse aan die betrokke departement te oorhandig. Alle instellings is wetlik verplig in terme van die Inligtingswet (Wet 2 van 2000) om jaarliks hierdie inventarisse te voorsien.
Die voorgeskrewe vorm is op die Argief se webblad by http://kerkargief.co.za. Om die vorm af te laai, klik op die skakel vir Inligtingswet. In die derde paragraaf kry u die skakel vir die vorm wat u in PDF-formaat of in Word-formaat kan aflaai. Ons maak staat op u hartlike samewerking! 
Vir enige navrae, kontak Marlene Schoeman by marlene@kaapkerk.co.za.
ALGEMEEN
1. Biddag vir Dowes: 6 September 2015
Die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) het 'n spesiale video verskaf vir moontlike gebruik op So 6 September as gemeentes fokus op Dowes. Hierdie is 'n gebed deur 'n Dowe man wat by die NID studeer om predikant te word onder Dowes. (Die gebed se woorde is na sowat 30 sek op die skerm beskikbaar.)
Ongeveer 400 000 Dowe persone in Suid-Afrika het nie toegang tot die evangelie nie – die NID-afdeling, Deaf Christian Ministry Africa, lei Dowes op om predikante en pastore te word en onder hul eie gemeenskappe te werk.  DCMA ontvang Dowes van regoor  Suid-Afrika en Afrika. Besoek www.nid.org.za.
Biddag vir Dowes - Gebed
Lisa le Roux
2. Stellenbosch Studie- en Besprekingsgroep:
Seksuele geweld teen Vroue in SA 

Die volgende byeenkoms van die Stellenbosch Studie- en Besprekingsgroep is op Di 1 September om 17:00 by NG Stellenbosch-Sentraal (Unie- & Martinsonstraat, Uniepark). Onderwerp: “Seksuele geweld teenoor vroue in Suid-Afrika - 'n olifant in die kamer van ons geloofsgemeenskappe?” en die spreker is dr Lisa le Roux, EGON, Teologie, US. Lees hier verder ...
3. Missionale Diakonaat
'n Herinnering: Hugenote Kollege, die NG Wes-en-Suid-Kaapland en die Kerklike Maatskaplike Diensteraad nooi belangstellendes na 'n konferensie vir die bevordering van missionale diakonaat in Afrika.
Dit vind op 7 en 8 September by die Hugenote Kollege in Wellington plaas. Besoek www.diacafric.co.za vir meer inligting en lees hier verder. Kry die inskrywingsvorm en finale program hier.
Charlene van der Walt
4. US Teologie: MTh in Gender en Gesondheid
Ons herinner aan die volgende opwindende geleentheid met die oog op die akademiese jaar 2016. Die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch in samewerking met die Kerk in Swede bied hiermee ‘n besonderse geleentheid aan studente om ‘n Magister in die Teologie te voltooi met die fokus op gesondheid en gender.
Al die relevante inligting is in die aangehegde dokument. Belangstellendes kan meer inligting kry by dr Charlene van der Walt: charlenevanderwalt@sun.ac.za of 083 693 8686 of Kantoor 2070, Fakulteit Teologie.
5. Seisoen van Menswaardigheid: Krete uit Ons Vader-gebed
Tinus van Zyl, lid van die Taakspan vir Menswaardigheid, herinner daaraan dat prof Nico Koopman se preekreeks, Noodkrete om 'n Menswaardige Lewe (gebaseer op die Ons Vader-gebed) baie gepas is vir gebruik tydens koninkrykstyd. 
Die preekreeks is op Bybel-Media se webblad in beide Afrikaans en Engels beskikbaar. Klik hier.
6. Gebedsaksie teen Padsterftes
Uit die kantoor van die Algemene Sinode ontvang ons van dr Kobus Gerber die versoek om inligting oor hierdie gebedsaksie teen padsterftes bekend te maak. Highway Prayer Patrol is sedert 2006 betrokke by Arrive Alive en ander padveiligheidsaksies. Hulle organiseer nou onder meer 'n nasionale dag van gebed in dié verband op 10 en 11 Oktober. Belangstellendes kan aangeheg meer lees.
PREDIKANTENUUS
1. Frikkie Marais in Napier Verwelkom!
Frikkie Evert Marais het die beroep na die NG Gemeente Napier aanvaar. Hy was sedert 2000 predikant in die NG Gemeente Retief op Despatch. Sy bevestiging (Sondag 6 September om 09:30) word waargeneem deur die ringsvoorsitter, Kobus Pretorius (Riviersonderend). Aan Frikkie, sy vrou Zirina en hulle twee kinders, Zina en Reece: ons wens julle hope vreugde en geluk in julle nuwe omgewing toe!
Frikkie Marais en gesin
2. Durbanville-Bergsig ontvang Mizelle Prinsloo
Spesiale nuus is dat Mizelle Prinsloo, 'n hele rukkie een van ons Armoede & Sorg-kollegas hier in die sinodale sentrum, op Sondag 30 Augustus om 08:15 en 10:00 haar intreepreek in die NG Gemeente Durbanville-Bergsig lewer. Mizelle, mag jy, Carlo en die kleine Milla baie vervulling in die nuwe omgewing ervaar én bring. Ons deel beslis in jou opwinding en vreugde!
Carlo, Mizelle en Milla Prinsloo
GEMEENTENUUS
1. Groote Kerk Feesdiens 'n Hoogtepunt!
Die Groote Kerk het Sondag 350 jaar oud geword. Johan van Rooyen, predikant in dié gemeente, skryf: "Ons feesvieringe het Vrydagaand al begin met 'n heerlike ete en stoepstories saam met vorige dominees. Die hoogtepunt was egter Sondag. Om 15:00 het ons 'n dank- en feesdiens tot eer van God gehou. " Belangstellendes kan gerus hier meer lees ...
Oudpredikante van Groote Kerk
Predikante van die Groote Kerk oor die jare ...
Agter vlnr: Andre Olivier, Johann Smith, Kobus van der Westhuyzen,
Johan Botes, Rian Prins, Fritz Gaum
Voor vlnr: Johan van Rooyen en Riaan de Villiers
Mary Anne Plaatjies van Huffel
Dr Mary Anne Plaatjies van Huffel
dra groete oor.
Japie Malan, Peter Veldsman, Ronnie Bruce
Japie Malan (96) links, voormalige orrelis, Peter Veldsman, Feeskomitee Voorsitter, en Ronnie Bruce, voormalige skriba.
2. NG Gemeente Stellenbosch-Wes: Getuienisaand
Stellenbosch-Wes (Alexanderstraat 3) het op Saterdagaand 29 Augustus vanaf 18:00 tot 20:00 'n Getuienisaand. Kontak Carel van der Merwe (082 781 0690) en klik hier vir meer inligting. 
NG Swartland
KUIER-KANS
1. NG Swartland: Basaar en Gospel-konsert

Swartland se basaar begin Do 27 Aug met 'n steak-ete @ R120 per persoon.
Vrydagaand is daar 'n Gospel-konsert met plaaslike talent. (Kaartjies by kerkkantoor 022 482 2411).
Die basaar begin Saterdagoggend 29 Augustus om 09:00. Heerlike ontbyt, verskillende potjies, roosterkoek en allerlei basaar lekkernye! Moenie die vleismark, groente of kinderbasaar misloop nie!
NG Bellville-Uitsig Basaar NG Somerset-Wes Basaar
NG Bellville-Oos
4. NG Gemeente La Belle: Basaar
'n Herinnering: La Belle hou basaar op 29 Augustus om 09:00 op die gronde van NG Kerk De La Bat vir Dowes (Herta Lowstraat 29, Loumar, Bellville). Kom geniet al jou basaargunstelinge: gebak, pannekoek, poeding, hamburgers, handwerk, groente en vrugte, worsstokkies, drinkgoed, speletjies en nog vele meer! Vir meer inligting skakel Anita by 021 945 2810. 
Stellenbosch-Wes Basaar Worcester-Brandwag Basaar
Armoede en Sorg-logo
VAKATURES
1. NG Kerk in SA: Armoede en Sorg Sekretaresse
Die NG Kerk in Suid-Afrika (Sinode Wes-en-Suid-Kaapland) beskik tans oor ’n vakature by die Diensgroep Armoede en Sorg in Bellville. Die aangewese kandidaat sal verantwoordelik wees vir sekretariële ondersteuning en administratiewe pligte. Meer is aangeheg. Reageer voor 4 September 2015.
NBI-logo
2. Nehemia Bybelinstituur: Registrateur
Die huidige registrateur van Nehemia Bybelinstituut (NBI), waar kerkleiers opgelei word, tree eersdaags af. Die persoon wat vir hierdie pos in Wellington benodig word, lewer 'n diens aan studente van alle kerke dwarsoor Suid-Afrika. Lees gerus hier en reageer voor 11 September 2015.  
NG Stellenbosch-Sentraal
3. NG Stellenbosch-Sentraal: Kassier
Die NG Gemeente Stellenbosch-Sentraal het ʼn vakature vir die pos van kassier. Persone wat aan die aangehegte vereistes voldoen, kan aansoek doen. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 7 September 2015.
4. Badisa Knysna: Ontvangs/Telefoniste
Badisa Knysna is 'n program van Badisa, 'n gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-en-Suid-Kaap) en VGKSA (Kaapland). Entoesiastiese, verantwoordelike en gemotiveerde persone kan vir die betrekking as ontvangsdame/telefoniste aansoek doen. Lees meer en reageer teen 31 Augustus 2015.
NG Tamboerskloof
5. NG Gemeente Tamboerskloof: Orrelis
Onthou van die NG Gemeente Tamboerskloof se vakature vir 'n orrelis. Dis 'n unieke, diverse en dinamiese klein gemeente in die stadskom van Kaapstad. Hierdie pos sal geskik wees vir ‘n persoon wat lief is vir musiek en mense en die gemeente sal omarm. Aansoeke sluit op 31 Augustus - lees hier.
Willie van Zyl
TEN LAASTE ...

Uit die Pen van
... Willie van Zyl

Die oorsprong van plekname vertel dikwels verrassende verhale. Een so 'n pleknaam waaroor mens kan wonder, kry jy op die N7, so 20 km berg se kant van Piketberg. Daar staan ‘n uithangbord geplant wat rigting wys na Dwars-in-die-Weg. 'n Naam met sekerlik 'n baie interessante en gebeurtenisryke naamkry geskiedenis.
In Israel, vlak buite Jerusalem op Kopbeenhoogte is daar eeue gelede ook 'n uithangbord geplant wat rigting wys na 'n gebeure wat dwars in die weg van die mensdom kom plek inneem het. Maar dan nie om “dwars” te wees soos ons dit in die volksmond ken nie, maar reguit pad wys na 'n hemelse tuiste. Meer belangrik as Golgota, is die Man wat aan daai uithangbord gehang het en dwars in die weg van die sondaarmens se hellevaart kom stelling inneem het. En dit met net een doel, om vir hierdie sondaarmens Die-Enigste-Weg Rigtingwyser na 'n hemelse paradys te wees.

Willie van Zyl is predikant op Barrydale. Hy was voorheen onder andere in Worcester, Swartland, Franschhoek en Vergelegen predikant. Belangstellendes wat hom wil kontak, kan vir hom 'n e-pos stuur na wvanzyl7@gmail.com

Het iets uit al die inligting hierbo jou geroer? Jou inspireer? Oorweeg dan asb om dit met iemand te deel. Of, beter nog, stuur VrydagNuus aan iemand en nooi hulle om self ook direk in te teken - klik hier.
Vriendelike groete.

Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.