Lees deur internet, klik hier >>
13 November 2015
Beste Leser
"Laat die sterre dus my kompas wees
en U steeds my ware Noord
Lei elke voetstap van my reis, o Heer,
want dit is soos dit hoort."
- Coenie de Villiers (Uit "Gebed van 'n reisiger")
Gebed
SINODENUUS
1. BELANGRIK: Biddag oor Droogte 15 November
Hiermee 'n herinnering aan die ernstige versoek om Sondag in ons gemeentes aandag te skenk aan die voorgestelde gesamentlike biddag oor die knellende droogte wat 'n al groter deel van ons land raak.
In solidariteit met die landbousektor en elke individu hierdeur geraak, wil ons ons verootmoedig voor ons Skeppergod. Met 'n ernstige
waterkrisis wat ons in die gesig staar, is ons harte, gebede en gedagtes by elkeen wat nou reeds op 'n direkte, persoonlike vlak lyding ervaar, sowel as diegene wat op uiteenlopende wyse ondersteuning aan mens en dier moet bied. Mag die Here wysheid gee en op sy tyd voorsien.
Elize Morkel
Julie Claassens
2. NG Kerk-familie: Seisoen van Menswaardigheid
By die Oktober-bestuursvergadering van die vier susterskerke se Seisoen van Menswaardigheid is Elize Morkel verkies as voorsitter in Nelis Janse van Rensburg se plek. Hy het bedank weens sy verpligtinge as moderator van die NG Algemene Sinode. 
Die Taakspan van die Seisoen van Menswaardigheid het by hul vergadering op 6 November besluit dat Julie Claassens by Elize sal oorneem as voorsitter van die NGK Wes–en-Suid-Kaapse taakspan. Elize sal voortgaan om op die taakspan te dien en dit sal steeds haar verantwoordelikheid bly om aan die moderatuur verslag te doen omtrent die taakspan se werksaamhede. Kontak Elize by elize@elizemorkel.co.za en Julie by jclaassens@sun.ac.za.
Hartlike gelukwense, Elize en Julie!
3.1 NG Streekkonferensies
Die laaste van die NG Wes-en-Suid-Kaap moderatuur se streekkonferensies was op Vrydag 6 November (Suider-Paarl) en Woensdag 11 November (Vredelust). In die Paarl het Carel van Wyk op sy hartlike manier gasheer gespeel en selfs die Sinodale Koördineringspan (SKS) se lede met goeie koffie bederf!
By Vredelust was Woensdag meer as
80 mense teenwoordig. Die vergadering het in 'n baie goeie gees plaasgevind en daar is ruim tyd gegee vir bespreking.
Alhoewel daar verskil van mening bestaan oor die onderwerp van selfdegeslagverbintenis, was dit opvallend dat die waardes van respek, ruimte vir mekaar en luister na mekaar die klimaat in die meerderheid vergaderings bepaal het. Dit is regtig 'n voorreg om deel te wees van 'n geloofsgemeenskap waar jy, ten spyte van diep verskille oor hierdie aangeleentheid, die ervaring het dat ons regtig deel is van een liggaam. 
Carel van Wyk
Carel, die barista!
Guillaume Smit en Strydom Bruwer
Guillaume Smit en Strydom Bruwer
Frederick Marais en Nelis Janse van Rensburg bid
Frederick Marais en Nelis Janse van Rensburg bid saam voor die gesprek begin
Paarl streekkonferensie
Kobus Kriel (Worcester-Audenberg) en Leon Fouché (Stellenbosch-Welgelegen) 
Vredelust
Tafelgesprekke in Vredelust
Frederick Marais en Nelis Janse van Rensburg
3.2 Streekkonferensies: Dankie
In 'n kort nota wat op Donderdag 12 November aan predikante en kerkkantore gestuur is, bedank Nelis Janse van Rensburg (moderator) en Frederick Marais (assessor) elkeen wat moeite gedoen het om die afgelope streekkonferensies by te woon. Belangstellendes kan hier lees oor die moderatuur se verdere aandag aan die sake in 'n gees van voortgaande luister en geloofsonderskeiding.
4. Andrew Murray-lokaal: Ryke Geestelike Leierskap Gedenk!
Die NG Kerk staan in 'n wonderlike tradisie van geestelike leiers wat oor jare 'n groot impak op die vorming van ons spiritualiteit en identiteit gehad het. Met die benoeming van die nuutingerigte lokaal in die NG Kerksentrum, Bellville, wou die moderatuur erkenning gee aan die uitnemende nalatenskap van dr Andrew Murray. Hy kan met reg as een van die geestelike vaders van die NG Kerk beskou word. Ons dank die Here vir sy voorbeeld van diens en geestelike leierskap.
Die imposante stoel in dié lokaal is onder meer deur dr Andrew Murray gebruik, terwyl die pragtige tafel se oorsprong na 1938 teruggevoer word. Belangstellendes kan hier meer lees. (Met groot dank aan Alta Vrey by die NG Kerk se Argief, wat die geskiedenis nagespeur het.)
Me Marlene Wiehman en Carol Potgieter se keurige en stylvolle inrigting van die nuwe lokaal verdien beslis vermelding. Kontak Sanet Gunter, sekretaresse van die moderatuur, om hierdie netjiese nuwe toevoeging tot die sinodale sentrum te bespreek vir vergaderings. Sanet is by 021 957 7155 of skriba@kaapkerk.co.za.
Andrew Murray-skildery
Skildery van Andrew Murray
Marlene Wiehman
Marlene Wiehman, binneshuise versierder
Moderatorstoel
Moderatorstoel
Murray-stoel inskripsie
Inskripsie op ruglening
Sendingbouers se tafel
Sendingbouers se tafel in die nuutingerigte Andrew Murray-lokaal
Sendingbouers-plaatjie op tafel
Plaatjie: "Geskenk aan die Argief van die NG Kerk van Transvaal deur Sendingbouers"
5. Biddag vir Beskermingsdienste: So 15 November
Delft se Vlam bring Versoening

Ons is nie altyd bewus van die uitdagings en gevaar waarin van ons Beskermingsdienste hul werk moet doen nie. Op 15 November hou ons Biddag vir ons Beskermingsdienste. Mariëtte Odendaal het onlangs by 'n inwoner van die bendegeteisterde Delft gehoor van speurkonstabel De Vlam se omgee en besondere talent om deur middel van mediasie, versoening tussen mense en konflik-groepe in Delft te help bewerkstellig. Hy vertel wat sy werk behels en hoe hy in dié ‘hotspot’-area sy werk aanpak. Kom ons hou alle beskermingsdienste in ons gebede.
Speurkonstabel De Vlam van Delft
Getuienisaksie-logo
6. Getuienisaksie
6.1 Herstellende Geregtigheid

Die Hope Prison Ministry se Herstellende Geregtigheid (Restorative Justice)-program het al gerekende joernaliste soos Willemien Brümmer en ook internasionale navorsers oor herstellende geregtigheid aangegryp.
Dr Koos Oosthuysen (voorheen moderator van die VGKSA Kaapland) en sy vrou, Lucia, is al vir ‘n hele paar jaar vrywilligers by hierdie merkwaardige bediening wat toegewyd werk om mense in die gevangenis te help om hul rug te draai op misdaad, met hul families te versoen en uiteindelik die slagoffers te woord te staan. Hulle versprei graag die goeie nuus van herstelde lewens. Lees
meer
Margie Prosch
6.2 Getuienisaksie Huldig mev Margie Prosch 
Vele van ons NG Kerk-familie se projekte is in die verlede gedryf deur dinamiese vroueleierskap wat 'n enorme impak op die uitbreiding van God’s Koninkryk, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook in die res van Afrika, gehad het. Een van hulle was mev Margie Prosch.
In 1968 word mev Prosch aangestel as sekretaresse van die destydse Vroue Sending Bond (VSB). Toe die VSB en Vrouediens in 1983 saamsmelt as die Vroueaksie, was sy die sekretaresse tot en met haar aftrede in 1991. Hiermee 'n huldeblyk aan mev Prosch wat op 17 Oktober vanjaar oorlede is - klik hier.
#Imagine Kidz-logo
7. #Imagine Kidz: Next Level!
As jy enigsins betrokke is by die Jeug, is hier nou 'n lekker geleentheid om jou passie uit te leef by #Imagine Kidz! Wees op 20 November by NG Gemeente Durbanville-Bergsig en help beplan vir die Oktobervakansie van 2016 se GROOT geleentheid! Lees hier meer ...
ALGEMEEN
1. Ring van Caledon hou Skribadag

Elna Geldenhuys, skriba/kassier van NG Gemeente Bredasdorp vertel: "In 2006 het daar 'n behoefte onder ons ring se kantoorpersoneel ontstaan om een dag in 'ʼn jaar saam te kuier. Daaruit het die Skribadag ontwikkel.
Ons het mekaar goed leer ken en kan nou 'n gesig by elke gemeente plaas. Gemeentes roteer jaarliks alfabeties om die dag te reël. Dit is weinig dat 'ʼn skriba dié belangrike dag mis. Die gemeente wat dit aanbied, besluit self hoe die oggend verloop. Ons leer byvoorbeeld iets van die verskillende gemeentes se geskiedenis, besoek 'n unieke besienswaardigheid in die dorp en eet heerlik saam. Dit is ons feesdag!" Ander ringe wat ook so vergader, kan gerus van hulle laat hoor.
Ring van Caledon se skribas
2. Nuus oor die Nepal Rampfonds
Van Louise Theron (Helderberg Uitreik) ontvang ons nuus oor die Nepal Rampfonds waaroor VrydagNuus in Mei vanjaar berig het na afloop van die aardbewing op 25 April 2015. Die direkteur van Sahodar Nepal, Hom Adhikari, doen verslag dat die fondse aangewend is vir tydelike skuilings van mense wat hulle huise verloor het, die algemene herstel van die hospitaal en die herstel van die laboratorium wat vernietig is. Lees hier verder en kontak Louise by louise@nghelder.co.za of 021 851 5582 as jy betrokke wil raak. (Herboude hospitaal met ablusieblok onder)
Nepal nuwe hospitaal
3. NG Kerk se Oornaghuis: Blinknuwe Baadjie!
Hier is lekker nuus! Nelia Botes, bestuurder, laat weet dat die NG Kerk Oornaghuis, waar bekostigbare selfsorg kamers beskikbaar is vir familie en pasiënte uit die platteland, sowel as verblyf tydens sinodale vergaderings, met 'n nuwe voorkoms spog!
Onthou: die Oornaghuis (Bo-Lincolnstraat 80 in Hoheizen) is gerieflik geleë in die noordelike voorstede, naby Louis Leipoldt Medi-Kliniek en die N1 Stad-hospitaal. K
offie in die kamers, sowel as kraakvars handdoeke is teen 'n geringe bykomende koste beskikbaar. Veilige parkering onder afdakke, 'n volledig toegeruste kombuis en braaigeriewe maak dit 'n gerieflike opsie. Doen navraag by 021 913 3733 of oornaghuis@telkomsa.net. (Sien foto's onder).
Oornaghuis dubbelkamer Oornaghuis 4-bedkamer
Wally, Why en Lianca
4. Nuus uit Bambisana
Van Why Duvenage (Stellenberg) ontvang ons die nuus dat Wally en Lianca Kruger, wat vir 'n jaar by gemeenskapsbediening in die Bambisana-area in die Transkei  betrokke was, hierdie week afskeid neem. Wally se afskeidspreek in die Lusikisiki-kerk was op Sondag 8 November. Lianca beplan oa om mettertyd 'n spelterapie-praktyk in George op die been te bring.
Diegene wat meer inligting oor die werk in die Transkei verlang, of belangstel om daarby betrokke te raak of dit te ondersteun, kan Why Duvenage by why@stellenberg.co.za kontak.
Seën vir julle, Wally en Lianca!
5. Raakgelees ...
Reeds in November 1965 was die Kaapse sinodesitting al 'n duur oefening, klink dit uit onderstaande berig in Die Burger van 50 jaar gelede.
Tel jou woorde (hoe duur of goedkoop ook al). Vyftig jaar later steeds goeie raad!
1965 Sinodesitting duur
Twitter Facebook
Ysterplaat mosaiek
GEMEENTENUUS
1. NG Gemeente Ysterplaat
1.1 75 Jaar met Kerssang- en Feesdiens gevier!

Ysterplaat vier op So 6 Desember om 09:30 sy 75-jarige bestaan met 'n besondere Kerssang- en Feesdiens. Benewens samesang en orrelspel deur Stéfan Doveton-Moore, tree die Canta Varia-koor, die Bellville Moravian Brass Band, asook ander instrumentaliste tydens die diens op. Dit beloof om werklik feestelik te wees. Die diens word in die kerk in Bowerstraat, Ysterplaat, gehou.
Alle belangstellendes word vriendelik uitgenooi om hierdie besondere mylpaal saam te gaan vier. Navrae: ds Hannes Steenkamp by 021 948 7213 of by pjas@telkomsa.net. Daar word ook 'n feesete na die diens aangebied. Die ete is gratis, maar donasies welkom. Bevestig teenwoordigheid voor 22 November by Marie van Rhyn by 021 511 5767, per SMS by 072 261 0506 of by botterkraal@absamail.co.za.
NG Ysterplaat 75
1.2 "Mees besproke Kerk in ons land"
Hier is nog interessante nuus! Ysterplaat beskik oor 'n besondere kerk wat gebou is in 1960 toe wyle dr Johan Heyns (later professor in Teologie by US en UP) predikant daar was.
Die simbole wat in die kerk aangebring is, het destyds vir heelwat kontroversie gesorg. In die uitgawe van Die Huisgenoot van 12 Augustus 1960 het daar 'n artikel hieroor onder die opskrif: "Mees besproke kerk in ons land" verskyn.

Hannes Steenkamp, leraar van Ysterplaat, het die artikel deur Dr Heyns met kleurfoto’s verwerk. Heelwat van VrydagNuus se lesers sal dit ook interessant vind - klik gerus hier
PUBLIKASIES
1. Bybel-Media Jeugkatalogus
Bybel-Media se omvattende oorsigblad verdien beslis almal by jeugbediening betrokke, se aandag. Hierdie gebruikersvriendelike gids gee duidelike aanduidings van watter produkte vir watter ouderdom kinders en jongmense geskik is. Klik byvoorbeeld by die Tema-kategese, 12-17 jaar vir iKonnekt en FXit, die materiaal van Susan Fourie en vele meer!
BM Kategese-oorsig
CLF-pamflet staander
2. CLF-produkte
Gedurende Oktober is CLF se produkte en gratis lektuur by die NG Algemene Sinode in Pretoria bekendgestel. CLF kon ook terugvoering oor die afgelope jaar se werksaamhede en projekte voorlê: goeie blootstelling!
Die jongste pamflet, Geloof en Wetenskap, is met trots aan van die afgevaardigdes uitgedeel. Elke afgevaardigde het ook ’n gratis karton pamfletstaander, A3-plakkaat, sekere pamflette en ’n katalogus van CLF ontvang om die gratis lektuur so te versprei.
Gemeentes wat 'n staander wil ontvang, kan dit bestel by Driekie by 021 873 0198 of driekie@clf.co.za.
Meer oor CLF se jongste produkte is
hier.
KUIER-KANS
Klik gerus op die advertensie pamflette om 'n groter weergawe oop te maak. 
NG Bellville-Uitsig Kersmark NG Parke Josua na die reen
NG Durbanville-Bergsig Vinkel en Koljander Mark MES Fietsry Uitdaging 2016
Klassieke Musiek Konsert
5. NG Gemeente Helderberg: Klassieke Klanke Konsert
Na die sukses van die vorige konsert word die Klassieke Klanke Konsert weer op Sondag 22 November om 15:00 by NG Helderberg (Firmountweg 82, Somerset-Wes) aangebied.  Daarna kuier hulle heerlik saam met verversings te koop aangebied. 
Toegang is gratis, maar donasies vir die orrelfonds welkom. Die konsert word aangebied deur talentvolle lidmate van die gemeente en die program sluit  ‘n verskeidenheid werke in deur ‘n ensemble bestaande uit verskeie violiste, tjelliste, kitaarspelers, sololiste en die kantory. Navrae: 021 851 5582.
Maitland Gemeenskapskerk
VAKATURES
Maitland Gemeenskapskerk
Lofprysleier

Maitland Gemeenskapskerk het 'n vakature vir 'n Lofprysleier. Die persoon moet klavier of klawerbord bespeel. 'n Ghitaarspeler sal ook oorweeg word. Begindatum: 1 Januarie 2016.
Kontak Amanda by 083 550 1920 of  maitlandkerk@mweb.co.za en lees hier meer. 
Nicol Smit
TEN LAASTE ...

Uit die Pen van
... Nicol Smit
Gereformeerd-wees vandag ...

Word  deur  ieder  en  elk  gevul met eie inhoud, word verstaan met eie voorkeur. Dit sien jy in lidmate se uitgesproke menings en onuitgesproke houdings.

Is dit nie – om gereformeerd te wees – die onuitblusbare aptyt, ja bruisende soeke na die wil van die Onsienbare nie? Om Sola(ties) ongekende tye te verken en vreemde vraagstukke te takel. Tussen teks en konteks – aarselend en stamelend – te pendel. Om rusteloos te bly waag binne die veiligheid van vergifnis?

Dat ook in vandag se kerkwees niemand (ooit) van iemand onfeilbaarheid gaan verwag nie. Dat ons – gereformeerdes – mag waag sonder die sekerheid wat onaantasbare interpretasies bied. Sonder die veiligheid van voorgeskrewe teenwigte. Of die waantroos van simplisme.

Eerder met voorlopigheid te versoen as te leef met klinkklaar antwoorde – wat te laat kom (of nooit!).  Dat gereformeerd wees óók beteken dat (sou iets onbedoeld skeefloop) dit nie selfvernietigend is om aan die ontvangkant van genade te wees nie. Dat daar gemoedsrus en gelatenheid in is “om ten dele te ken”.

Op die banke van die Kweekskool was ek só seker hiervan ...

In die praktyk lyk dit soveel anders.


Nicol Smit (NG Gemeente Namakwaland, Springbok sedert 2009) was voorheen predikant op Grootmist en Port Nolloth. Belangstellendes kan vir Nicol 'n e-pos stuur na njl.smit@gmail.com
Die laaste uitgawe van VrydagNuus vir 2015 is dié van 4 Desember, aangesien die skole op Woensdag 9 Desember sluit.

Vriendelike groete.
Marieta Visagie
Facebook Twitter Webblad
Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
NG Sinode Wes-en-Suid-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.