Lees deur internet, klik hier >>
6 Maart 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Hoe genees ons getraumatiseerde gemeenskappe?
Na aanleiding van die onlangse vlaag van geweld teen ons kinders, skryf Stephen Pedro, PSD Gemeentegetuienis, as volg: "Die ontvoering en moord van die 8-jarige Taznè van Wyk, ‘n dooplidmaat van VGK Goodwood in Elsiesrivier, het die pyn, vrae, woede en trauma wat gemeenskappe op die Kaapse Vlaktes daagliks deurmaak, ervaar en moet verwerk, opnuut op die voorgrond van ons land geplaas. Die vraag wat by my opkom en waaroor ek baie dink, is: Besef Suid Afrika, veral gemeenskappe wat verwyder is van die pyn, seer en trauma wat genoemde gemeenskappe deurmaak, die erns van die situasie? Besef ons die erns van hul pyn en trauma?" Lees Stephen se verdere refleksie hier.
Geskiedkundige legitimasie op Stellenbosch
Maandag 2 Maart 2020 was ‘n historiese gebeurtenis vir die NG Kerk, skryf Eddie Orsmond van die Kuratorium. Die eerste groep van 20 kandidate wat deur die Stellenbosch Kuratorium gekeur is vir toegespitste bedieninge in die NGK, is by hierdie geleentheid as diensleraars deur die Algemene Sinode gelegitimeer. Die gelegitimeerdes is nou as proponente vir diensleraarskap beroepbaar in die NGK. Die groep kandidate verteenwoordig ’n verskeidenheid van vaardighede wat saam met die omvattende bediening in gemeentes, as toegespitste bedieninge aangewend kan word. Van hierdie toegespitste bedieninge is onder andere Familie- en Jeugbediening; Pastoraat; Berading; Sending; Evangelisasie; Prediking/Woordbediening.

Saam met hierdie 20 kandidate is ook ‘n kandidaat leraar gelegitimeer, wat deur middel van volledige deeltydse studie nou beroepbaar is as voltydse leraar in ‘n NGK Gemeente. Dit skep 'n nuwe moontlikheid dat persone wat in voltydse beroepe staan, nou deur deeltydse studie toelating kan verkry tot moontlike legitimasie as leraar. Dit open wonderlike nuwe bedieningsmoontlikhede vir byvoorbeeld tentmakerbedienaars, wat voortgaan met ‘n voltydse beroep, maar ook in ‘n gemeente dien as predikant.

Met al hierdie opwinding moet ons ook onthou dat twee voltydse studente van die fakulteit Teologie Maandagaand gelegitimeer is en nou as proponente beroepbaar is vir bediening in NGK gemeentes. Lees Eddie se volledige skrywe hier, asook Reglemente en riglyne wat van toepassing is.
Pastorale werkers nou bedienaars
Twee van Arbeidsbediening se pastorale werkers Johan Crous van Wellington (links) en Jaco Leeuwner van Kaapstad (regs) het Maandagaand hul bedienaarsertifikate tydens die historiese legitimasiegeleentheid by die NG Moederkerk in Stellenbosch ontvang.
Johan en Jaco sal binnekort in hul onderskeie ringe as bedienaars binne hul Arbeidsbedieningswerk met prediking- en erediensleidingsbevoegdheid bevestig word.
Lees hier meer.
Registreer nou vir VBO Kursusse
Verdien VBO-punte deur nou in te skryf vir die onderstaande VBO kursusse. Johan Cilliers en Marnus Havenga ondersoek buitengewone perspektiewe op estetiese spiritualiteit met Die Kuns van Kyk (17-18 Maart), terwyl aftreebeplanning met Oppad na 65... op 15 April onder die soeklig kom.  Sien onderstaande pamflette of kontak Bridget Leibrandt vir meer inligting.  Klik hier vir registrasievorms.
#100 Dorpe Dialoog
Die Sentrum vir Publieke Getuienis het hierdie week hulle #100DorpeDialoog voortgesit in Laingsburg en Uniondale. Gemeenskapsforums is in beide dorpe gestig en die verkose lede sal nou namens die gemeenskappe met instellings soos skole en plaaslike regerings beraadslaag oor spesifieke uitdagings. In albei dorpe was krisisse en uitdagings onder ons jeug en in skole ernstige besprekingspunte. As jou gemeente wil deel word van die dialoog, kontak die Sentrum vir Publieke Getuienis by 021 957 7100.
Laingsburg forumlede v.l.n.r. Chrisjan van der Westhuizen, Mias Nortier, Michael Oerson, Maryke Gouws, Eddie April en Christof Cloete
Die bestuurskomitee van die Uniondale gemeenskapsforum saam met Petrus Carstens (regs).
#imagine 2020 – Hoe kan gemeentes help?
Die #imagine fees is spanwerk in die ware sin van die woord! Gemeentes kan op verskillende maniere betrokke raak en help (sien onder). Kry meer inligting hier of kontak Maryke by maryke@imaginemovement.co.za of 021 808 9050.
Develop new faith communities
The joint task team of the DRC and URCSA invites church leaders and congregations to attend a workshop to explore and discuss how the new Alpha course can be instrumental in the development of new faith communities.  Deon Koeglenberg will present the workshop at Bothasig DRC, c/o Nassau and Oranje Streets on Friday 13 March from 09:30 – 14:00. A light meal will be served. For further information, contact Stephen Pedro on 076 072 5158 or Gustav Meyer on 084 511 6966. To register for the workshop, email Sharon Naude at snaude@sun.ac.za.
Welkom Wilmi!
Hartlik welkom aan Wilmi Wheeler wat vanaf 1 Maart aangestel is as kommunikasiebeampte by die sinodekantoor.  Wilmi is oorspronklik van Bultfontein in die Vrystaat en het kommunikasiekunde by die Universiteit van die Vrystaat studeer.
"Ek is ongelooflik opgewonde oor my aanstelling as kommunikasiebeampte en sien vreeslik uit daarna om saam my nuwe kollegas ‘n pad te stap. Dit is ‘n voorreg om deel van die span te kan wees. Ek hoop en vertrou dat die Here my sal lei in hierdie nuwe avontuur." 
Welkom in die Kaap Wilmi en ons wens jou alle sukses in jou nuwe pos toe.
EKOLOGIE
Kokerbome bedreig
Die voortbestaan van die indrukwekkende kokerboom (Aloe dichotoma) as spesie is tans in die weegskaal. Verhoogde droogtestres weens klimaatsverandering asook die handeldryf in kokerbome, word volgens navorsing as die twee grootste bedreigings beskou.
Lees meer oor hoe jy ‘n bydrae kan maak om hierdie besondere bome te help red.  
Waterbeperkings steeds in plek
Die Wes-Kaapse plaaslike regering doen ‘n beroep op die publiek om steeds water te spaar, selfs al is die watervlakke ietwat hoër as wat dit hierdie tyd verlede jaar was. Vlak een waterbeperkings word oor die grootste deel van die provinsie toegepas, behalwe in die munisipaliteite wat steeds knellende droogtes ondergaan: Oudtshoorn, Beaufort-Wes, Laingsburg, Kannaland, Bergrivier en Saldanhabaai.

Volgens die riglyne mag tuine slegs twee keer per week tussen 18:00 en 20:00 natgemaak word, water mag onder geen omstandighede gebruik word op opritte en dakke nie en voertuie mag nie met ‘n tuinslang gewas word nie. Oortreders sal beboet word. 
Sò lyk Wes-Kaapse damvlakke 
Volgens die jongste syfers het die algehele damvlakke van die Wes-Kaap met 1.6% verminder na die afgelope week. Die gemiddelde damvlak vir die provinsie is huidiglik 45.93% in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar toe dit slegs 40.5% was.

VAKATURES
Durbanville: Voltydse leraar
Durbanville-gemeente adverteer tans 'n voltydse leraarspos. Die ideale kandidaat is iemand met ‘n pastorale hart wat met gasvryheid mense kan intrek in die lewe van die gemeente, wat met deernis en aanvoeling mense kan bystaan in tye van nood en wat as brugbouer die onderlinge versorging onder diverse lidmate kan help fasiliteer. Sien meer inligting oor die pos hier.  Aansoeke sluit 15 Maart.
Alta Du Toit Nasorg, Bellville: Boekhouer
Aansoeke van entoesiastiese, verantwoordelike en
gemotiveerde persone word vir hierdie betrekking ingewag. Kandidate moet oor goeie menseverhoudinge en goed ontwikkelde syferkundige en rekenaarvaardighede beskik. Sien volledige posvereistes hier.
Stellenberg:  Gemeentebestuurder
Die gemeente beskik tans oor 'n vakature vir 'n gemeentebestuurder. Hierdie senior bestuursposisie behels finansiële, personeel- en batebestuur. Aansoeke sluit op 19 Maart.  Klik hier vir posbeskrywing en aansoekbesonderhede.
George-Bergsig: Emeritusleraar
Die NG Gemeente George-Bergsig beskik tans oor ‘n vakature vir ‘n kontrakpos vir ‘n emeritusleraar van die NG Kerk wat verantwoordelik sal wees vir die pastorale versorging en begeleiding van lidmate bo 70 jaar in al die aftree-oorde binne gemeentegrense.  Aansoeke vir hierdie pos sluit 20 Maart 2020. Handig ‘n CV by die kerkkantoor in of stuur jou aansoek per e-pos aan admin@george-bergsig.co.za.  Klik hier vir meer inligting. 
Stilbaai: Verpleegsters
Stilbaai Bejaardesorg adverteer poste vir 'n ingeskrewe en geregistreerde verpleegster met ervaring met bejaardes. Aansoeke sluit 16 Maart. Meer besonderhede is hier beskikbaar.
Kliek bo vir die nuutste Kerkbode vakatures. 

GEMEENTENUUS
Geluk aan bogenoemde gemeentes wat hierdie maand hulle stigtingsdatums herdenk. Indien daar enige veranderinge aan hierdie inligting gemaak moet word, kontak asb. die Kerkargief by argief@kaapkerk.co.za of 021 882 9923. 
Menseregtedag by Groote Kerk
Groote Kerk-gemeente in Kaapstad rig ‘n oop uitnodiging aan die publiek om ‘n dialoogsessie rakende Apartheid op Menseregtedag (Saterdag 21 Maart 2020) vanaf 09:00 tot 17:00 by te woon. 
Tydens die byeenkoms sal stories gedeel word deur persone wat negatief deur Apartheid geraak is. Hierdie is ‘n spesiale geleentheid, aangesien dit plaasvind binne die oudste NG Kerk in Suid-Afrika. Met hierdie geleentheid poog die Groote Kerk om hoop en versoening te bevorder deur middel van die fasilitering van gemeenskaplike gesprekke.  Verder sal daar op Sondag 22 Maart om 10:00 'n spesiale erediens gelei word deur Vader Michael Lapsley, wat in 1990 die slagoffer was van 'n briefbom wat die Apartheidstaat aan hom gestuur het.
Indien jy ‘n verhaal wil deel oor jou persoonlike ervaring met Apartheid, stuur gerus 'n e-pos aan Riaan de Villiers.  
Toerusting en motivering vir kantoorpersoneel
NGK Stellenberg in Bellville bied ‘n werkswinkel aan wat gerig is op kantoorpersoneel. Besprekingsonderwerpe sluit in die bestuur van denke in hoë stres omgewings, basiese beginsels vir effektiewe kantoorbestuur en hoe om met energie take te verrig.

Wêreldbekende neuroloog  Etienne van der Walt, Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis en Inus Marais (voormalige hoofbestuurslid van Sanlam) sal as sprekers optree. Sien meer inligting onder.
Vir navrae, skakel 0826533734.
PREDIKANTENUUS
In Memoriam: Ds. Petrus Johannes Eloff (09/08/1936 - 01/03/2020)
Ons het met leedwese kennis geneem van die afsterwe van Ds. Loffie Eloff. 
Ds. Eloff is in 1963 georden, waarna hy onder andere in Westonaria, Coligny-Oos, Fichardt Park, Fairland, Weltevreden en Bredasdrop bedien het.
Sy dankdiens vind op Vrydag 6 Maart om 11:00 by NG Gemeente Bredasdorp plaas. 
Ons innige medelye aan sy vrou Marieta, kinders Johan, Andri en Corné en sy tien kleinkinders.
Kranskloof groet die Van Stadens
Christo van Staden het Dinsdagaand sy akte van emiritaat van Kranskloof-gemeente ontvang.  Hy skryf:  "Dit was vir ons ‘n baie groot voorreg om vir ‘n paar jaar van ons lewe in en buite die kerk, Koninkrykswerk te doen. Wonderlike gemeentes en mense het ons pad gekruis en saam met die Here aan ons lewens gevorm. Dit voel net vir ons of dit so effens te gou verbygegaan het! Ons is baie opgewonde oor die stuk of stukkie lewenspad wat nog voorlê hier op aarde. Ons sal graag nog heelwat wil rondry en sommer net volg waar die Here ons wil lei en gebruik in Sy Koninkryk!" Ons seënwense aan Christo en Herculene.
GEBEDSVERSOEK
ALGEMEEN
Korona-virus: hoe raak dit jou?
Die Covid-19, oftewel die Korona-virus, het die wêreld aan die gons nadat die siekte sedert Desember 2019 vanaf China na sestig ander lande versprei het. Ondersoeke het bevind dat die virus oorspronklik vanaf diere na mense oorgedra is. Die virus word verder versprei van persoon tot persoon. Algemene simptome is asemhalingsprobleme, koors en hoesbuie. In meer ernstige gevalle kan die infeksie longontsteking, nierversaking en die dood veroorsaak.
Volgens die nuutste syfers is meer as 90 000 mense besmet met 3 000 verwante sterftes wat reeds aangemeld is. Antarktika is die enigste kontinent wat tot dusver nie deur die virus geaffekteer is nie. Suid-Afrika het nog nie 'n bevestigde voorval gehad nie. Minister van Gesondheid, Zweli Mhkize, noem dat die nodige voorsorgmaatreëls en strategieë deur die Departement van Gesondheid in plek gestel is, indien die virus die Reënboognasie sou bereik: “Suid-Afrika is ten volle voorbereid vir die Korona-virus.”   
Kenners gee die volgende aanbevelings om die verspreiding van moontlike infeksies te voorkom: was gereeld hande, bedek mond en neus tydens nies- of hoesbuie, maak seker vleis en eiers is deeglik gaar voor inname en vermy noue kontak met mense wat simptome wys.  
Klik hier vir inligting en verslae.  Met dank ontvang van Alexander Forbes Investments.
Lofprysing in Gebaretaal
Die Nasionale Instituut vir Dowes (NID) in Worcester het onlangs ‘n reeks lofprysing- en aanbiddingsliedere in Gebaretaal uitgereik. Die geestelike nood onder Dowes en persone met gehoorverlies is kommerwekkend groot en word wêreldwyd gereken as een van die grootste geestelik onbereikte groepe. Suid-Afrikaanse Gebaretaal (SAGT) is tans in die proses om tot die 12de amptelike landstaal verklaar te word. Die uitreik van hierdie liedere in Gebaretaal sluit ook aan by die verskeie pogings en projekte wat deur NID geloods word om die horende gemeenskap meer bewus te maak en te sensitiseer rondom Gebaretaal en doofheid. Deur God se Woord aan Dowes te bring in hulle eie verstaanbare Gebaretaal, word hulle bemagtig om deel te wees van die bediening en om tot ‘n dieper verhouding met God saam te lewe en op Hom te vertrou. Volg gerus die skakel om toegang tot die reeks Afrikaanse en Engelse lofprysing- en aanbiddingsliedere in Gebaretaal te kry en deel dit asseblief met gemeentelede en vriende. Met dank ontvang van NID.
PUBLIKASIES
Saamreisgids vir Lydenstyd
Bybel-Media se Vreesloos-reeks bestaan uit 'n besprekingsgids, preekriglyne en video's vir Lydenstyd.  Lesers staan stil by ses simbole – as, vas, krake, klippe, doringkroon en palms. Hierdie simbole sal ons help om die storie van ons eie vrese en swaarkry te vertel. Bestel aanlyn hier.
Nuutste Kerkbode nou beskikbaar
In die jongste gedrukte uitgawe van Kerkbode word 'n nuwe gereelde rubriekskrywer verwelkom. Jaco Strydom gaan nie net in woorde nie, maar ook met klank vir ons stories vertel, deur 'n potgooi wat tesame met sy teks gepubliseer word by www.kerkbode.co.za; kliek op die Rubrieke-skakel. 

Daar word berig oor die Spesiale Beraad wat 25-26 Februarie by Moreletapark plaasgevind het (bl 1, 4 & 5) en ons gesels met  Louis van der Riet van Parke-gemeente in die Noordelike voorstede van Kaapstad oor sy eerste jaar op die kansel (bl 9&10). 


The slow violence of poverty
Lou-Marié Kruger, professor in Psychology at the University of Stellenbosch, will be launching her book Of Motherhood and Melancholia at the Stellenbosch Institute for Advanced Studies on Friday 6 March at 17:00. Her clinical and research encounters in the Dwarsrivier Valley attempt to give an account of the complex realities and lived experiences of low-income mothers in post-apartheid South Africa. RSVP to Jean Cilliers.
BEHOU DIE HUMOR
KUIERKANS
Klik hier vir meer besonderhede oor elke geleentheid.
TEN LAASTE
Dis die tweede week van Lydenstyd en ons luister na Kari Jobe se weergawe van  Majesty en verootmoedig ons voor God se nimmereindigende genade en aanvaarding. “Your grace has found me just as I am, empty handed, but alive in Your hands. Forever I am changed by Your love in the presence of Your Majesty.”  

VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.