Lees deur internet, klik hier >>
3 Augustus 2018
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
sorgsame hande

Heer met die liefdevolle hart, 
maak my hart ook so;
Heer met die sagte hande, 
laat my aanraking ander vertroos;
Heer met die gewillige voete, 
stuur myne in die rigting
waar iemand op hulp wag.
Here, maak my so deursigtig
dat mense skaars van my sal weet. 
maar agter my vir U sal sien.
- Anoniem


SINODENUUS
1. Les in barmhartigheid: Ruyterwacht en Bulletrap bou brûe!
'n Doodgewone versoek vir hulp in die vorm van nie-bederfbare produkte aan Badisa se Bulletrap Dienssentrum word een van die mooiste getuienisse van diensbaarheid en barmhartigheid wat ons die afgelope tyd gehoor het!
Vér van Springbok en Bulletrap, besluit die lede van die Ruyterwacht Senior Sentrum om by te dra tot die insameling ... en uitreik oor grense heen beteken skielik vir die gewers en ontvangers éwe veel! Só lyk barmhartigheid in aksie. ’n Les vir ons almal. Klik hier.
(Baie dankie aan elke program of individu wat ook hulp verleen het!) Foto onder.

Ruyterwacht helpers
Barmhartigheidsmaand
2. Diaconia
2.1 Barmhartigheid kom nie uit 'n beursie nie!
Augustus is Barmhartigheidsmaand en hierdie jaar deel Nioma Venter (PSD: Diaconia) enkele gedagtes oor barmhartigheid met Badisa, die gesamentlike bedieningsaksie van die NG Kerk (Wes-Kaapland) en die VGKSA (Kaapland).
Nioma, self 'n opgeleide maatskaplike werker, skryf onder meer: "Wanneer barmhartigheid tussen mense betoon word, het dit weinig met geld te doen. Barmhartigheid gebeur diep uit mense se harte (ingewande), amper asof daar geboorte gegee word aan iets goddeliks; iets waardeur God self sigbaar raak in ’n andersins hardvogtige lewe van beloning alleen op grond van verdienste." Jy kan gerus hier verder lees - dalk bied dit vir jou nuwe perspektief op hierdie aktuele saak. Vrae vir nadenke of gebruik in kleingroepe word ook verskaf. (Artikel met dank en erkenning aan Badisa.) 
2.2 Barmhartige bere reis na Reformed Church in Japan!
Die Reformed Church in Japan het onlangs 'n groot skenking aan Diaconia gemaak om Kaapse gemeentes tydens die droogte te ondersteun. RCJ het eers onlangs op uitreike na ander gemeentes begin fokus en juis daarom is hierdie skenking vir ons baie spesiaal.
Ria Koen, sekretaresse van Diaconia, vertel: "In ons kommunikasie met die kerk in Japan, het ons van 11 kinders te hore gekom wat tydens die herbouing van hul huise (wat gedurende die aardbewing in 2011 beskadig is), by die kerk kom speel het. Die Diaconia-span het besluit om vir hulle handgemaakte beertjies te stuur, met rugsakkies met die woordlose boekie daarin. Hierdie projek was groot pret en ons hoop die beertjies bring baie plesier vir die kinders in Japan!”
Geniet nog meer foto’s van hierdie pragtige beertjies hier op ons Facebook.
Collage
Agter staan Diaconia se Nicola Vermeulen, Sean Esterhuizen en Nioma Venter en voor sit Isabella de Kock en Ria Koen.
Logo
2.3 Diaconia het rampondersteuning op radar!
Diaconia is deel van ’n ekumeniese rampondersteuningsgroep RESPOND en bied op 24 en 25 Augustus 'n konferensie in Goodwood aan waar verskeie sprekers sal optree en ondervinding t.o.v. rampondersteuning deel. Hulle wil ook ’n projekspan vestig om ons eie rampstrategie verder te ontwikkel. Wil jy deel van dié projekspan wees? Wil jy die konferensie bywoon? Lees hier en reageer so gou moontlik.
3. Vrouebediening
Wat beteken barmhartigheid prakties? Hoe help ons?
’n Goeie plek om te begin, is om in te val by die kerk se fokus op vroeëkindontwikkeling (VKO): om ons hulpbronne, tyd en sorg te gee vir die optimale ontwikkeling gedurende die eerste 1000 dae van ’n kind se lewe en so by te dra om die gaping tussen ryk en arm te verklein.
In Interaksie, Vrouebediening se kwartaallikse nuusbrief, gee Ankia du Plooÿ (foto onder) ook ander praktiese voorstelle vir betrokkenheid: span kragte saam met ’n VKO-sentrum in jou gemeente of omgewing, skenk geld om ’n kinderlewe te verbeter, dink weer oor die gedagte van ’n blote minimumloon ... Lees die nuusbrief hier – en word geïnspireer deur getuienisse van vroue wat in geloof ’n verskil maak!
Ankia
4. Jeugbegeleiding: Ons dink oor roeping!
'n VBO-kursus "Tieners met roeping" het deelnemers geneem op 'n besoek aan vriende in Khayelitsha en het met verskeie persone uit verskillende kontekste ontmoet in die twee dae wat hul stories oor roeping gedeel het.
"Ons het saamgedink oor die moontlike (nadelige) effek van tradisionele maniere van 'uitreik' in jeugbediening en hoe ons dit anders kan aanpak," sê Anriëtte de Ridder (PSD: Jeug- en Familiebegeleiding). Sy het saam met Gielie Loubser, Jaco Botha, Gerhard Duvenhage en Zoleka Majola die kursus gefasiliteer. Foto onder. 
Tieners met roeping
Agter: Robert-John de Kock, Jeff Davis, Gielie Loubser, Erika Ferreira, Liezl Gossmann-Williams, Gugu Booi, Irenke Berko, Johan Nieuwenhuizen, Brian White
Middel: Lourens Bester, Sinazo Macozoma, Jana Dickason, Thando Macozoma, Tilana Meyer-Morkel, Sisanda Macozoma, Zoleka Majola, Le-Anke de Lange, Luané McLachlan, Bobbie Cox
Voor: Anriëtte de Ridder, Nico Lochner, Gerhard Duvenhage, Johan Bester
Brugkursus
Brugkursus 4-6 Sep. en 13-15 Nov. Klik bo. 
6. NG Kerk Leer en Aktuele Sake
Wat bedoel ons met "Woord van God"? 
In die tweede aflewering in 'n nuwe reeks artikels vir Kerkbode, skryf Pieter van der Walt (PSD: Teologiese Navorsing) namens die NG Kerk se Taakspan vir Leer en Aktuele Sake oor hoe die besluite van die Algemene Sinode praat oor die “Woord van God”. Lees die artikel hier.
Skrifgebruik en -gesag
Geen VrydagNuus
GEMEENTENUUS
1. Stellenbosch-Wes groet Marais Roux na meer as 11 jaar 
Na 11 jaar en drie maande as gemeentebestuurder by die NG Gemeente Stellenbosch-Wes, was Dinsdag 31 Julie 2018 Marais Roux (foto onder) se laaste dag op kantoor.  
Marais sê: "Baie dankie vir almal, leraars en personeel, se vriendelikheid, behulpsaamheid en menswees in kerkkantore oor die hele Suid-Afrika, die behulpsame personeel by ons sinodale kantoor, die Fakulteit Teologie, Communitas en ander met wie my pad in kerkverband gekruis het. Natuurlik ook aan al ons liewe lidmate, baie dankie! Hier by Stellenbosch-Wes was die beste werkstyd van my lewe en ek gaan almal baie mis. Seënwense aan Michéle Erwee, ons nuwe gemeentebestuurder, wat vanaf 1 Augustus aangestel is." Kontak Michéle by kerkkantoor@stellenboschwes.co.za of 021 886 5132.

Marias Roux en Michele Erwee van NG Stellenbosch-Wes
VGK Riebeek-Wes vier 120 jaar
VGK Riebeek-Wes vier 120 j. – 24-26 Aug. Klik bo.
Ouerleidingskursus 7-28 Aug.
Ouerleidingskursus: NG Gemeente Heidekoppie 7-28 Aug. Klik bo.
Monte Vista feesnaweek 3-5 Aug.
Monte Vista feesnaweek 3-5 Aug. Klik bo.
NG Gemeente Zeerust vier 150 jaar
NG Gemeente Zeerust vier 150 jaar. Klik bo.
Uitnodiging aan gemeentes vir getuienisse
Francois Herselman en René Potgieter
PREDIKANTENUUS
René Potgieter bevestig in Stellenberg 
Tydens René Potgieter se bevestiging op Sondag 29 Julie in die NG Gemeente Stellenberg, het 13 kollegas die geleentheid benut om haar met 'n seënbede of 'n teksvers te verwelkom en bemoedig. 
Op die foto onder is enkele van die persone wat haar verwelkom het. V.l.n.r. is Why Duvenage, René Potgieter, Peter Kotzé, Bossie Minnaar (namens die Sinode van Wes-Kaapland), Deon Bruwer, Braam Hanekom, Philipp Dietmann en Philip Scholtz (namens die Ring van Durbanville).
Ook aanwesig was Francois Herselman (predikant in die NG Gemeente Parow-Panorama en Ren
é se broer), saam met haar op die foto regs.
Die tema van René se intreepreek was "Bring wat jy het ..." uit Joh.6:1-15.
Baie seën word jou toegewens, René!

Rene Potgieter bevestig
Enkele kollegas wat René Potgieter seën toegebid het tydens haar bevestiging (berig bo)
GEBEDSVERSOEKE
Gebedsversoeke 3 Augustus
Ds. Van der Colff
ALGEMEEN
1. Met medelye: Attie van der Colff
30-08-1939 tot 28-07-2018
Ons het met leedwese kennis geneem van die afsterwe van emeritus ds. Adriaan Petrus (Attie) van der Colff.
Attie word in 1964 te Sasolburg-Wes georden. Hy bedien in Parys-Oos, Otjiwarongo-Suid, Kuruman en laastens Bothaville-Noord. In Maart 1987 emeriteer hy as gevolg van swak gesondheid. Na sy aftrede verhuis hulle na Kaapstad en hier is hy onder andere hulpprediker by Kaapstad, Drieankerbaai, Maitland, Ysterplaat-Suid en Rondebosch. Van 1988-1991 is hy ook ‘n assistent-argivaris by die Kerkargief van die NG Kerk in SA.
Sy gedenkdiens is op Vrydag 3 Augustus om 11:00 vanuit die NG Gemeente Kenridge, gelei deur Willem Lötter. Ons opregte simpatie aan die kinders, Carolien, Anna, Adri en Willem en die familie. Klik hier om meer te lees.
Pille
2. Fakulteit Teologie, US 
M.Th. in gender en gesondheid 
Die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch bied 'n besonderse geleentheid aan belangstellendes om 'n Magister in die Teologie te voltooi met die fokus op gesondheid en gender.
Vind al die relevante inligting hier.
3. Milan Murray ondersteun Badisa Trio kinderbeskerming! 
Die bekende Suid-Afrikaanse aktrise Milan Murray vertel in 'n nuwe video (sien onder) meer oor die werk van Badisa Trio, 'n kinderbeskermingsorganisasie wat in Bellville, Durbanville, Brackenfell, Kraaifontein, Scottsdene en Fisantekraal werk. Vind uit hoe jy 'n verskil in 'n kind se lewe kan maak. Dis barmhartigheid in aksie!
Besoek www.badisatrio.co.za vir meer inligting.
Milan Murray ondersteun Badisa Trio
Wynand
4. Gebroke verhoudings vra kreatiewe luister
Wynand Breytenbach, predikant van die NG Gemeente Durbanville-Bergsig, deel iets van die agtergrond en denke rondom 'n spesiale "detensie-bediening" waarby hulle gemeente en 'n paar ander kerke sedert 2017 by 'n plaaslike hoërskool betrokke geraak het.
"Ons moet kreatief luister en kyk waar God die NG Kerk wil gebruik in SA. Ons het honderde jare se verhoudings met skole en gemeenskapsentrums landwyd waar daar soveel nood is.” Lees verder. (Wynand is vanaf September predikant van die NG Gemeente Durbanville - meer daaroor in 'n volgende uitgawe.)

5. Redes WAAROM jy glo - met dank aan Ekerk 
"As jy evangelisasie wil doen, as jy met sekulêre mense wil praat oor geloof, moet jy vir hulle kan verduidelik waarom jy glo," vertel Roedolf Botha van Ekerk onder meer in 'n nuwe videoreeks, waarin hy redes hoekom ons glo, bespreek. Buiten die stel "geloofswaarhede" en "handelinge" help hy met die wortelstelsel: die God- en wêreldbeskouing waarin ons geloof gewortel behoort te wees. 
Die inleidende video in die reeks van 12 sessies is onderaan.
Ekerk - redes waarom ek glo
Logo
6. Huis Izak van Tonder:
akkommodasie beskikbaar
Badisa se Huis Izak van Tonder in Ladismith is 'n bekostigbare tehuis vir bejaardes in 'n veilige omgewing en lewer 'n uitstekende diens. Hier is tans plek beskikbaar:
♦ Woonstelle/kamers vir onafhanklike persone - met dienste soos benodig
♦ Kamers vir diegene wat ondersteuning benodig - met sekere dienste
♦ Siekeboeg met volledige dienste
Kontak gerus vir Francois Nel by 028 551 1075 of bestuurivt@telkomsa.net vir persoonlike aandag of skryf aan hom: Posbus 150, Ladismith, Wes-Kaap 6655.
Brightstar
7. Brigthstar Lifeskills in Durbanville 
'n Herinnering: op 16, 23 en 30 Augustus fasiliteer Hennie en Amanda Swanepoel hierdie VBO-geakkrediteerde program by die NG Gemeente Durbanville-Bergsig. 
Die kursus fokus daarop om jou doelgerig en uitnemend te laat leef en 'n groter impak te hê. Jy kan ook self opgelei word as fasiliteerder. Klik hier om meer te lees. 

8. Raakgelees ...
Deernis kan vlamme van swaarkry blus
"Die kerkhervormer Martin Luther het gesê ons hoef nie torings te bou om God in die hemel te gaan soek nie – ons sal God elke dag vind in die agterstrate, stegies en gange van swaarkry in hierdie wêreld. Jesus se boodskap vra dat ons oplet na wat om ons gebeur, dat ons die nood onder ons neuse raaksien.”
Aan die woord is Nico Koopman, teoloog verbonde aan die Universiteit van Stellenbosch. Om verder na te dink oor geleenthede om mense deernisvol, met menswaardigheid en gelykheid te behandel, om talente te ontwikkel, klik hier.
Deernis
Padpredikant
PADPREDIKANT
'n Maandelikse perspektief op nuwe roetes
Padpredikant wil perspektief gee oor ons pad as geloofsmense onderweg om God beter te ken en volg. Hierdie maand deel ons Johan van Rooyen se nadenke.
Padpredikant is 'n sinoniem vir 'n padteken. Soms wys dit die pad, soms dui dit 'n heel nuwe perspektief aan. Mag hierdie bydraes 'n klein kolletjie lig op jou pad skyn ...
Ware wynstok
Saam met Jesus op reis (deel 2)
"Deur die helfte van my bediening as predikant het die vraag by my opgekom of ek vir nog 17 jaar moet doen wat ek die afgelope 17 jaar gedoen het. Dit is nie dat ek dit nie geniet het nie. Dit is net effens uitsigloos, verbeeldingloos en dit dreig aan vasval soos in los sand. Die pad is nog daar, maar die wil en energie baie minder.
Die Here gee toe vir my 'n nuwe droom. Dit het alles te make met kontemplatiewe spiritualiteit. 
Nie net die tweede helfte van my bediening nie, maar die res van my lewe kan hierdeur gekleur word." Johan se eerste bydrae hieroor is hier. Lees nou gerus verder - klik hier.
Johan van Rooyen
Oor die skrywer
Digter, dromer,  tuinier, gesinsman, stories en boeke, groen en stadiger is die woorde waarmee Johan van Rooyen (predikant in die Groote Kerk, Kaapstad en voorheen Aliwal-Noord en Cradock) homself sou beskryf.
Johan is op reis saam met Jesus en dink baie oor die vrae wat 'n mens lei na 'n dieper verstaan van dissipelskap - veral in die stad, waar hy besige mense probeer begelei om meer bewustelik met God te lewe.

Cecilia Burger
NUUSBRIEWE 
L’Chaim – Simcha Bediening aan Jode
In die Augustus-uitgawe van die Bediening aan Jode se nuusbrief is ’n aangrypende getuienis oor ’n gesprek tydens ’n “Shabbat” ete wat Cecilia Burger kon bywoon. Lees ook oor die afgelope Lausanne Consultation on Jewish Evangelism (LCJE) konferensie in Kaapstad. Is jy vertroud met Rosj Hasjana en Joom Kippoer? Lees hier verder.
PUBLIKASIES
1. Strydom Bruwer deel Bybel-Media se nuus - Kerkbode
 
Lees in Kerkbode van 3 Augustus 2018 van 'n paar merkwaardige reise.
Op die voorblad is daar die staptog van 2750 km wat Nico de Klerk van die Uniegebou in Pretoria tot by die Parlement in Kaapstad aanpak om die saadjies van entrepreneurskap in arm gemeenskappe oral langs die pad te saai.
'n Ander reis is deur 'n groep oudsoldate aangepak Angola toe. Dertig jaar gelede het hulle daar oorlog gemaak en van hulle makkers verloor. Dié slag was dit 'n vriendskapstoer met versoening tussen ou vyande en heling vir baie van hulle.
Die derde reis is deur 'n leiersgroep van Bybel-Media Indië toe aangepak. Daar het hulle gaan kyk hoe die ondersteuning wat uit Wellington aan 'n bediening in Indië verleen word, verstommende vrug oor dié reuseland dra.
Lees ook oor die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) se nuwe algemene sekretaris, oor die NG Kerk se internasionale ekumeniese bande, oor 'n interessante skildery, en interessante boeke.
Dié uitgawe bevat ook die tweede aflewering in die reeks oor hoe die NG Kerk volgens sy amptelike besluite die Bybel verstaan.
2. Die jongste publikasie van Bybelkor
Matteus 1-16. Sout en lig. Matteus se beeld van Jesus. In Matteus se weergawe van die Jesus-gebeure is daar baie rolspelers soos:
Maria en Josef, die sterrekykers uit die ooste, Johannes die Doper en koning Herodes, Petrus se skoonma, tollenaars en sondaars, 'n Romeinse offisier en 'n Kanaänitiese vrou.
Die hoofrolspelers is: die dissipels - doodgewone mense wat vir Jesus begin volg het nadat Hy hulle geroep het; die skare: die armstes van armes wat ly onder die Joodse leiers en die Romeine, en die Joodse leiers: die Fariseërs, Sadduseërs en skrifgeleerdes - die vooraanstaandes wat God vir die volk verduister.
Kobus Myburgh het hierdie Bybelstudie oorspronklik in die NG Gemeente Wierdapark in Centurion aangebied en Annene Mullins het dit verwerk en verwoord in ʼn Bybelstudieboek. Johannes Mouton (wat die gespreksvrae opgestel het) is leraar van die NG Gemeente Table View, Kaapstad. Klik op die grafika om die publikasie te koop.
EKOLOGIE
1. Plant 'n boom hierdie lente!
Met die koms van die lente oor 'n maand of twee, word heelwat omgewingsinisiatiewe beplan. Ons wil gemeentes vroegtydig aanmoedig om vooruit te beplan en waar moontlik 'n boom te plant, spesiaal op herwinning te fokus of die kus naby aan die gemeente (waar van toepassing) skoon te maak.
Sien onder sommige inisiatiewe wat vir September beplan word.
Omgewingsdae in September
Klik hier om meer te lees van: Nasionale Boomplantweek en Wêreldkusskoonmaakdag
Boom van de jaar
Chisomo Community Youth Club - plaveisel. Photo: SAFCEI
3. Jeugdige Malawiërs omskep plastiekafval in plaveisel
As deel van SAFCEI se FLEAT-program (sien hul doelwitte onder) het die Chisomo jeugklub in Malawi onlangs daarin kon slaag om plastiek afvalmateriaal in plaveiselstene te omskep. Benewens die moontlikheid van 'n inkomste vir die groep jeugdiges van hierdie klub, mag dit help om ontbossing te verminder - én is daar nou voorstelle van verdere navorsing en befondsing vir hierdie omgewingsvriendelike projek! 
Volgens ds. Collings Chizumira van die Church in Central Africa Presbyterian (CCAP) in Malawi, kan die jongmense met 'n bietjie oefening uitstekende produkte lewer; klik hier om SAFCEI se berig te lees. (Lees hier meer oor Diensgroep Getuienisaksie en die CCAP.)
SAFCEI - FLEAT
Logo
4. Gratis toegang tot reservate
Hoe algemeen is dit nie dat mense nie die besienswaardighede besoek wat die naaste aan hulle is nie? Suid-Afrika is wêreldwyd bekend vir die asemrowende natuurskoon van sy berge, oseane, blomvlaktes, velde, staproetes en meer.
As deel van Erfenis- en Toerismedagvieringe bied CapeNature gratis toegang tot al sy natuurreservate van 17 tot 24 September 2018. Moet nie hierdie geleentheid misloop nie - klik hier om meer te lees.  
BEHOU DIE HUMOR
Acting perfect in church
KUIERKANS
Kuierkans
Kuierkans 3 Augustus - klik bo vir meer
VAKATURES
Kerkbode vakatures
Logo
NG Gemeente La Rochelle: Jeugleraar
Ons herinner: die NG Gemeente La Rochelle nooi gelegitimeerdes met volle ampsbevoegdheid om aansoek te doen vir die pos as jeugleraar. La Rochelle is ’n voorstedelike makrogemeente van ongeveer 973 doop- en 3468 belydende lidmate wat tans deur twee leraars bedien word. Lees verder en reageer voor 17 Augustus 2018.
Eugene Beukes
TEN LAASTE
Uit die pen van ... Eugéne Beukes
Ek lees onlangs 'n artikel van die Amerikaanse godsdiens sosioloog Robert Wuthnow oor die gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Hy maak daarin die interessante punt dat ons dade van ontferming dikwels hul religieuse en teologiese oorsprong in hierdie verhaal vind. Soms onthou ons nie altyd die chronologiese verloop en ander detail van die storie nie, maar die gedagte van uitreik na weerlose mense raak ons diep in die hart. Dit gee dan oorsprong aan ons dade van deernis en ontferming, aldus Wuthnow. 

Hierdie tydlose verhaal dwing ons om daagliks na ons eie omgang met weerloses te kyk, veral in 'n land wat bekend is daarvoor dat ons die mees ongelyke land ter wêreld is. Dit behoort ons voortdurend te herinner aan die uitdaging aan kerke om dinamies betrokke te raak in handelinge van ontfermende geregtigheid, hoopbarende eenheid en outentieke versoening ten einde heling in ons land te bring.

                                                                  -0-0-0-
                                                                                                                                   
Eugéne Beukes is leraar van die VGK Riverlands en het voorheen die gemeentes Malmesbury en Die Slot, Grassypark bedien. Hy is ook bestuurder van die VGK-program by die VGK-NGK Seminarium by die Universiteit van Stellenbosch se Fakulteit Teologie. Kontak Eugene hier

Gebed om openheid vir mekaar
Mag die week vol tekens van deernis wees.
Vriendelike groete tot die uitgawe van 17 Augustus
Marieta Visagie en Salomi Steenkamp


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.