Lees deur internet, klik hier >>
4 Februarie 2022
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Aangepaste Vlak 1-regulasies
Nuwe Vlak 1-regulasies is vandeesweek aangekondig en is vanaf 1 Februarie van toepassing. Kliek hier vir volledige uiteensetting in die Staatskoerant.
  • Kinders moet voltyds teruggaan skool toe.
  • Mense wat positief getoets word vir COVID-19, maar geen simptome ervaar nie, hoef nie meer te isoleer nie.
  • Mense wat positief getoets word én COVID-19 simptome vertoon, moet steeds isoleer, maar die tydperk van isolasie is van tien tot sewe dae verkort.
  • Kontakte hoef nie te isoleer nie, tensy hulle COVID-19 simptome vertoon.
  • Begrafnisse word steeds tot 100 persone beperk. Nagwake voor en byeenkomste na ’n begrafnis bly steeds verbode. 
  • Die volgende gesondheidsprotokolle bly steeds in plek: ontsmetting van hande, neem van temperatuur en die neerskryf van kontakbesonderhede.
Acta van sinodes by Argief beskikbaar
Die NG Kerk in SA Argief (Stellenbosch) is besig met ’n projek met behulp van studente om al die agendas en notules (acta) van al die NG Kerk-sinodes te digitaliseer en op die Argief se webblad te plaas. Sover is die Algemene Sinode, die Sinode van Wes-Kaapland en Noordelike Sinode (Noord-Transvaal) se acta volledig in soekbare formaat op die webblad beskikbaar. Die uiteindelike doelwit is om al die sinodes se acta volledig  te digitaliseer en op die webblad te plaas. Sodoende kan enige iemand ’n soektog met behulp van trefwoorde op die webblad gaan doen om inligting te bekom oor sinodebesluite. Kliek hier om die vordering te sien of besoek die Argief se webblad
Indien u beskik oor acta wat nog nie op die webblad geplaas is nie, kontak asseblief die Argief. Hulle duplikaat-versameling wat gebruik word vir digitalisering is ongelukkig nie volledig vir al die sinodes nie. Duplikate van acta wat reeds geplaas is, kan gratis beskikbaar gemaak word vir enigeen wat in die harde kopieë belangstel. Kontak vir Karen Minnaar van die Argief by karen@kaapkerk.co.za of 021 882 9923.
KIX: Valentynsdag
Wie is my valentyn?
Laai KIX Kinderbediening se ontmoeting (in Afrikaans of Engels) hier af. 
Vind rus in Wellington
Die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit bied die ideale wegkomplek indien jy die behoefte het om tot rus te kom, meer bewustelik te leef en fyner te onderskei. Die vreedsame atmosfeer skep 'n geleentheid om die heiligheid van die alledaagse te (her)ontdek. Hier kan besoekers ‘n stil, begeleide of semi-begeleide retraite (tyd van afsondering) in ‘n mooi omgewing meemaak of as egpaar, gesin, selgroep, kerkraad en kollegas ontmoet.
Dis ook die perfekte plek om te fokus en te skryf - aan 'n joernaal, proefskrif, familieverhale of selfs jou eerste digbundel. Die sentrum is geskik om ‘n lewensveranderende konferensie te huisves en bied ook ‘n beskermde ruimte om met ‘n spirituele begeleier of ‘n pastorale berader te gesels. 
Kontak Derine by 021 873 2151 of stuur 'n e-pos na admin@andrewmurraysentrum.co.za vir meer besonderhede.
Ons besondere vennootskap met Msinga, KZN
Vennootskapsontwikkeling is een van die kernfokusse van Getuienisaksie en daarom was die Msinga Vennootskapsvergadering wat die afgelope week in die Paarl plaasgevind het van groot belang. Predikant Lourens Schoeman en Kazimulo Ngcobo, een van die jeugleiers van die VGK Msinga Gemeente, was ook teenwoordig en kon waardevolle inligting oor hierdie besondere bediening met die vergadering deel.
"Tydens hierdie vergadering is daar net weer eens bevestig dat ons mekaar nodig het; dat vennootskappe geweldig belangrik is en dat ons mekaar se hande op hierdie manier wil vat," vertel Daniël de Wet, taakspanbestuurder van Ekumeniese Vennootskappe in Afrika by Getuienisaksie. Daar was ook ’n ontmoeting met die leiers van die Tygerberg Kampus-studente se Msinga-uitreikspan, wat beplan om Msinga vanjaar weer te gaan besoek. Die Msinga Vennootskap bied ’n wonderlike geleentheid aan gemeentes om hul belewenis van ons interkulturele-geloofsverbondenheid hier in Suid-Afrika op 'n verrassende manier te verryk. Lees gerus hier meer.
Foto: Die Msinga-gesprek by die NG Gemeente Toringkerk in Paarl is bygewoon deur (van links na regs): Andrea Adams, Annalise Loubser, Lourens Schoeman, Nkazimulo Ngcobo, Rudolph Scharneck, Albert Myburgh, Jurgens Thiart, Jaco Goosen, Eddie Orsmond, Daniël de Wet en Jana van den Munckhof.
Proponentefonds vir VGK-gemeentes sonder predikante 
Getuienisaksie beskik oor ’n Proponentefonds waarmee hulle veral vakante gemeentes wat nie sonder hulp ’n proponent sou kon bekostig nie, ’n hupstoot kan help gee. Kyk gerus na hierdie video waarin Stephen Pedro verduidelik vir wie hierdie fonds bedoel is en hoe dit werk.
EKOLOGIE
Waarom is ons vleilande so krities belangrik?
Water speel regdeur die Bybel ’n baie belangrike rol. Jesus gebruik lewende water as metafoor vir die verlossing wat Hy bring. Water is vir alle lewe op aarde krities belangrik. Ongelukkig sien te veel mense dit as ’n onuitputlike bron. Die werklikheid is dat vars en skoon water baie beperk is. Vleilande is natuurlike watersuiweraars. Op Woensdag 2 Februarie is Wêreld-vleilanddag gevier, maar wat is ’n vleiland presies en waarom is dit van kritiese belang dat dit bewaar word? Kyk gerus na die video onder en staan in verwondering. Dit is veral ook baie geskik om deur onderwysers gebruik te word.
GEMEENTENUUS
Geskiedkundige erediens by Ysterplaat
Op Sondag 13 Februarie lei Attie Beetge die erediens by Ysterplaat-gemeente. Hy en sy vrou Ester is presies 61 jaar gelede in die gemeente ontvang en hy is as opvolger van professor Johan Heyns as leraar bevestig. Op 28 Maart vier Attie en Ester hulle 63ste huweliksherdenking. Hulle is in 1959 deur prof. Willie Jonker op Potchefstroom in die huwelik verbind. Attie het in 1996  by Pretoria-Oos emeriteer. Hulle woon tans in Stellenbosch.
Leer meer oor Johannes by Oostersee-gemeente
Marius Nel bied leersame informele sessies by Oostersee aan. Kyk dieper na die boek Johannes saam met hierdie begaafde teoloog en akademikus wat sy gehoor met helderheid in die teks intrek. Almal is welkom.
Laaiplek groet geliefde orrelis
Laaiplek-gemeente het Sondag met hartseer afskeid geneem van hulle orrelis van 35 jaar, Willie Ströhfeldt en sy vrou Felicity. Die twee het diep spore in die gemeente en gemeenskap getrap. Willie was vir 60 jaar kerkorrelis en het vir 35 jaar lank die klawers by Laaiplek gestreel. Willie het in Januarie die voorreg gehad om sy 80ste verjaarsdag te vier. Tydens die afskeidsdiens het Willie steeds wonderlike begeleiding verskaf en die mooiste orrelstukke gespeel. Die gemeente gaan sy toewyding en teenwoordigheid mis.
PREDIKANTENUUS
Mynhardt by Hoop Geloofsgemeenskap
Helderberg-gemeente laat weet dat Mynhardt van Zyl pas aangestel is as deeltydse leraar van Hoop Geloofsgemeenskap. Hulle vorige predikant Marizanne Pfeil-Wessels is verlede maand in De Aar bevestig. Mynhardt laat weet dat hy uitsien om die gemeenskap beter te leer ken. 
“Ek en my gesin het in 2021 na Stellenbosch verhuis vanaf Port Elizabeth. My droom vir Hoop Geloofsgemeenskap is dat ons soos suurdeeg in ons gemeenskap sal wees: ‘n klein groepie committed dissipels wat ‘n groot verskil maak! Ons fokus vir die eerste deel van dié jaar is om verhoudings te bou en 'n atmosfeer van intimiteit tydens die eredienste te skep. Ons wil 'n 'anderse' soort kerk wees.” 
Almal wat in die omgewing van Curro Sitari woon, word genooi om Hoop Geloofsgemeenskap se eredienste Sondae om 9:00 daar by te woon en vir Mynhardt te ontmoet. Hy en sy vrou Lize-Maré bedryf ook Jacks Bagels in Stellenbosch en die Paarl.
Tulbagh verwelkom Marco Koch
Marco Koch laat weet dat hy geëerd voel om deel van NG Gemeente Tulbagh se ryk geskiedenis te wees. “Die passie van elke gemeentelid is aansteeklik en die gemeente se drome maak my opgewonde. Ons droom van ’n gemeente waarin Jesus die middelpunt en fokus is van ons hele lewe en bediening. Waar enigeen onbeskaamd welkom sal voel en elkeen se gawes, lewe en bediening net so belangrik is soos dié van die leraar. Ons droom is om oor grense met ander hande te vat vir ’n beter en gesonder Tulbagh vir almal.” 
By sy vorige gemeente, NG Kerk Eros in Windhoek, stap Marco weg met die wete dat God as die middelpunt van alles moet staan en dat leraars se geldeenheid nie in rande gemeet word nie, maar in vertroue.
Sy bevestiging en intreepreek was op 30 Januarie. Professor Nelus Niemandt, Marco se skoonpa, het die bevestiging hanteer. Vir die gemeente sê hy: “Min het ek en my vrou Marthinet geweet, toe ek verlede jaar hier kom preek het, dat ons 'n noue verbintenis met hierdie spesiale gemeente gaan hê.” Uit sy rede maak hy dit duidelik dat die roeping na Tulbagh nie net Marco roeping is nie. Die gemeente het deel aan die roeping.
Foto: Marco, sy vrou Doret, hulle seuntjie Henré en twee hondekinders, Baloo en Frodo.
Johan Visser lewer intreepreek by Stellenberg
Stellenberg-gemeente bevestig eerskomende Sondag om 09:00 vir Johan Visser as leraar. Johan was voorheen by die Woodland Hills Gemeenskapskerk in Bloemfontein. Hy skryf: "Vanoggend 1 Februarie word ek vroeg wakker, reg om my eerste dag amptelik te begin. Tydens my stilwordtyd lees ek hierdie aanhaling van Leonard Sweet raak: 'Disciples of Jesus are hard to predict because we are constantly being created anew and being sent to do things we had no intention of doing and going places we had no intention of going.'
Met hierdie aanhaling raak ‘n mens diep bewus van God se soewereiniteit in die lewe. Ons dien ’n God wat roep, ’n God wat stuur en ons as huisgesin kan nie anders as om in verwondering te staan en dankbaar te wees vir God se handeling in ons lewens nie. Dis mos altyd in die truspieëltjie van die lewe wat ’n mens die goue draad van genade raaksien. Ons is opgewonde dat Stellenberg-gemeente vir ons ’n nuwe geestelike tuiste kan bied en vir ons as nog ’n roetemerker kan dien. Ek sien persoonlik veral uit om saam te werk met ‘n besonderse kollegaspan. Dis heerlik om weer terug in die Kaap te wees, maar ek vermoed dat die Vrystaatstof nog ’n tyd lank aan ons gaan kleef met goeie herinneringe. Daar word gesê dat ons sin van die lewe maak deur die vertel van stories en ons sien uit om die Jesus-storie van genade, liefde en versoening te verkondig. ’n Lewende Hoop. ’n Vaste Hoop." 
Ons wens vir Johan en sy familie alle voorspoed toe met hierdie nuwe hoofstuk in hulle storie.
Tulbagh neem afskeid van Gert Cordier
Tulbagh-gemeente laat weet dat Gert Cordier, wat as brugleraar vir die afgelope 18 maande by die gemeente gedien het, sy afskeidspreek op 23 Januarie gelewer het. “Die simboliek van die jaartal 2022 vind uiting in twee groot oorgange in NG Kerk Tulbagh se geskiedenis – en dit op dieselfde dag. Op 30 Januarie het Gert Cordier oorgegee aan Marco Koch as leraar van die gemeente. Só ook gee Paul Meyer (na 10 jaar) oor aan Jurie Herbst as die nuwe kerkraadsvoorsitter. As argitek het Paul nie net 'n groot aandeel in die bou van die fasiliteite nie, maar ook aan die bou van 'n gesonde gemeentekultuur.”
Marco vertel dat hy vanuit die bedankings aan Gert en sy vrou Koekoes gesien het dat dié twee diep spore die laaste jaar en ‘n half in Tulbagh getrap het. “Almal wat ‘n kans gekry het om te praat, kon nie anders as om vir hulle dankie te sê nie. Erika Jordaan herinner ons aan wat Gert vir ons geleer het: dat die gemeente se krag nie in ‘n enkele persoon lê nie, maar in die geheel, as liggaam van Christus. Ons as gemeente sal mekaar dra, ons sal mekaar ondersteun en hopelik sal ons 'n paar randfigure in die samelewing ook kan opskep. Tulbagh is meer as net 'n gemeente, dit is 'n tuiskomplek.
Vir Paul en Gert groet ons vir eers. Maar ons sê nie koebaai nie, ons sê totsiens, want julle gaan nie so vinnig ontsnap nie. Julle sal altyd in ons harte en gebede bly.” 
TOERUSTING
Klik op die grafika vir meer inligting.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Voltydse medeleraar, Caledon  
Caledon Moedergemeente is biddend in afwagting op 'n leraar wat ons Vader se roeping ontvang om saam met die gemeente in sy diens te kom staan. Hulle glo dat God reeds die regte persoon voorberei om saam met die gemeente tot sy eer te werk.
Hierdie plattelandse gemeente is 110 km vanaf Kaapstad en 36 km vanaf Hermanus. Hulle is die agste oudste gemeente in die land en het in die Overberg bygedra tot die stigting van verskeie ander gemeentes. Soos tye verander wil hulle steeds die blye boodskap help bring aan geliefdes in die Overberg.  Aansoeke sluit 7 Februarie. Klik hier vir meer inligting. 
Orrelis, Rondebosch
NG Gemeente Rondebosch is op soek na ‘n persoon met die vermoë om die gemeente in hulle aanbidding te begelei. Die primêre instrument sal die orrel wees. Klavierbegeleiding sal ‘n sterk aanbeveling wees, so ook ‘n musiekkwalifikasie. Diensaanvaarding is 1 April 2022. Aansoekers sal as deel van die proses hulle vermoëns op die orrel moet demonstreer. Kontak die gemeentekantoor by ngkrbos@mweb.co.za of 021 686 4315 vir verdere navrae.
Medeleraar, Suider-Paarl
NG Kerk Suider-Paarl nooi graag belangstellendes, wat resoneer met die gemeente se belydenisverklaring en geroepe voel, om aansoek te doen vir die permanente pos van voltydse leraar. Diensaanvaarding is verkieslik vanaf 1 Augustus 2022.
Belangstellendes word versoek om aansoekinligting per e-pos aan die gemeente se skriba Madeleine Fourie te stuur by admin@suiderpaarl.co.za voor 12:00 op Vrydag 11 Maart. Navrae kan ook aan haar gerig word. Klik hier om die volledige advertensie te lees. 
Klik op die grafika vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Klik bo vir die jongste nuus van Missie Japan.
KUIERKANSE
Klik bo vir meer inligting. 
ALGEMEEN
Raakgelees: Bekende produkte van rak af
Suid-Afrikaanse verbruikers het verlede week geskarrel toe Pioneer Foods aangekondig het dat hulle die gewilde vissmere Pecks Anchovette en Redro van die mark onttrek. Pecks word al sedert 1891 in die Verenigde Koninkryk vervaardig en pryk van die 1960s op plaaslike winkelrakke. Redro het 'n ikoniese Suid-Afrikaanse produk geword nadat dit volgens 'n familieresep ontwikkel is en in die tagtigerjare in 'n baanbreker-advertensie op die kassie verskyn het. Kliek hier om BusinessInsider se artikel te lees en die oorspronklike "Everybody loves Redro" advertensie te kyk.  
Gain valuable life skills with Brightstar
MoreThan#MeerAs in collaboration with NID presents the Brightstar Life Skills 4-day programme.
The programme consists of three modules namely Self, Relationships and Leaders - addressing a variety of skills within these areas. It is a journey of transformation, connection and impact. A great exercise for groups, staff development for companies or simply a personal experience for any individual. It’s also deaf-accessible! For more information and bookings, contact Andri Eloff on 083 654 3939 or send an email to morethanmeeras@gmail.com. Click here to win an entry into the Brightstar Life Skills 4-day programme and be part of this amazing journey of understanding yourself, growing your abilities and discovering how to live a life of excellence.
TEN LAASTE
Eerskomende Sondag se erediens vorm die eerste van drie dienste tydens Epifanie waarin die sleuteltekste uit Korintiërs 15 oor die opstanding handel. Volgens Woord & Fees antwoord Paulus hier die Korintiërs se vrae oor die opstanding en die gevolge daarvan, deur by hulle gedeelde geloof in die opstanding van Jesus te begin. "Die rede hiervoor is dat die ervaring en belydenis van Jesus se opstanding alles bepaal – dit was en is deurslaggewend vir die Christelike geloof. Vir Paulus het die opstanding alles verander en daarom kan en moet gelowiges nuut leef. Paulus gebruik die getuienis oor Jesus se opstanding, wat ’n onverwagte en onbekende gebeurtenis was, om nuwe betekenis aan die teenwoordige, bekende lewe te gee."
Luister gerus hier na "Ons Glo" deur Retief Burger. 
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.