Lees deur internet, klik hier >>
13 November 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Terugvoer van die moderamen
Die vergadering van die moderamen van die Sinode van Wes-Kaapland het oor twee dae by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington plaasgevind.
Die moderamen is die dagbestuur van die Sinode van Wes-Kaapland en bestaan uit ringsverteenwoordigers van die 25 ringe, voorsitters van sinodale diensgroepe en taakspanne sowel as predikante in sinodale diens.  Hulle vergader elke ses maande en bespreek relevante kwessies en vordering van projekte en inisiatiewe. Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen, reflekteer in die video (onder) oor die byeenkoms. Hy lig die omvangryke werk wat gemeentes tydens die COVID-tyd gedoen het as een van die hoogtepunte uit en skets ook die pad vorentoe vir die kerk.
Welkom aan ons nuwe skriba
Marinus Theron van Caledon-gemeente is tydens die moderamenvergadering verkies tot skriba van die Sinode van Wes-Kaapland.
Marinus is in Nelspruit gebore en het sy bedieningspad in die Wes-Kaap by Goodwoodpark begin, waarna hy Saldanha toe is. Hy is reeds sedert 2012 in die Overberg by Caledon-gemeente. Hy is getroud met Gesie en het twee dogters Gita en Nina.
Hy dink dit is belangrik om ‘n gesonde lewenstyl te handhaaf en is ‘n entoesiastiese gholfspeler en bergfietsryer. Hy is ook ‘n kranige tuiner en voel dit is helend om met jou hande in die grond te werk. 
Oor sy verkiesing sê Marinus: “Soms moet mens ‘n diensgeleentheid saam met die uitdaging wat daarmee saamkom, vat. Dit het nou oor my pad gekom en jy moet dit aanvaar met die wete dat jy persoonlik daaruit gaan groei. Om deel te wees van saamdink en saamgroei as leiers. Die tyd waarin kerk nou is, is ontwrigtend, maar skep terselfdertyd soveel geleenthede. Dis ‘n voorreg om deel te wees van die Here se plan. Dis ‘n geval van tydsberekening dat dit op hierdie oomblik op my pad moes kom en ek is bereid om op so manier in die kerk diensbaar te wees.” 
Ons wens hom alle seën en sterkte vir hierdie uitdaging toe.
Gesprek met dr. Mamphela Ramphele
Braam Hanekom van die Sentrum van Publieke Getuienis gesels in die video (onder) vandeesweek met dr. 
Mamphele Ramphele, aktivis, akademikus, sakevrou en politieke leier oor die rol van die kerk in hierdie uitdagende tye. Hulle gesprek raak aan sosiale kohesie, sosiale impak, die belangrikheid van heling en wat dominees kan doen.
VGK Vredendal BrightStar tydens skoolvakansie!
Arbeidsbediening se bekende lewensvaardigheidsprogram, BrightStar, is onlangs vanaf 25 Oktober tot 1 November 2020 aan twee groepe finalejaar-katkisante van die VGK Vredendal aangebied. Dit is gefasiliteer deur Jannie Booysen wat deur Lene November bygestaan is. Lees gerus hier hoe Sandra Leeuwner van Arbeidsbediening Weskus en Namakwaland  asook van die jongmense wat die kursus bygewoon het, dit beleef het
Een van die groepe finalejaar-katkisante tydens die opleiding.
Module 2 van die 2020 Brugkursus is die eerste kursus wat tydens die pandemie by Communitas plaasgevind het.  
Voor v.l.n.r. Riaan Esterhuize, Bossie Muller, Kobus Bohnen. 
Middel v.l.n.r. Koos Uys, Geo de Kok, Kobus de Kock, Schalk Kotzé, Jakes Barnard.
Agter  v.l.n.r. André Agenbag, Dolf du Plooy, NJ van As.
#imagine 
Hoe kan 2020 ‘n goeie fondasie vir 2021 wees? #imagine moedig jou aan om 2020 doelgerig af te sluit. Die laaste #imagine Connect sessie is op 18 November. Klik hier om daarvoor te registreer.  
EKOLOGIE
Tipes plastiek wat herwin kan word
Het jy al ooit gewonder wat die nommers binne die herwinningsteken op plastiekprodukte beteken? In hierdie week se eko-wenk (sien video onder) gesels Marizanne Pfeil-Wessels van Hoop Geloofsgemeenskap oor die verskillende tipes plastiek wat herwin kan word. Sy beskryf nie net al sewe tipes plastiek wat in produkte gebruik word nie, maar vertel ook watter nuwe produkte geskep word uit die herwinningsproses. 
Help om Tafelberg skoon te maak!
Rudolph Scharneck van Goudini-gemeente skryf die volgende oor 'n skoonmaakinisiatief op Tafelberg.
"Tafelberg is een van Suid-Afrika se mees bekende en ikoniese landmerke. Ongelukkig word Tafelberg se lieflike natuurskoon ontsier deur rommel wat gestrooi word. Vir ons wat graag nog vir baie jare lank die natuurskoon wil geniet en lief is vir God se skepping, is daar geen ander keuse as om self die rommel op te ruim nie. Daarom reël Tafelberg se sweefspoormaatskappy 'n jaarlikse dag waarop Tafelberg skoongemaak word. Hierdie jaar vind dit op Dinsdag 17 November plaas. Dit val saam met die internasionale “Take-a-hike” dag. Dit begin om 08:00 by die onderkant van die Platteklipravyn staproete en eindig op Tafelberg om 13:00. Deelnemers sal dan GRATIS met die kabelkar na onder kan ry tot 16:00 die middag. Hierdie is ‘n wonderlike geleentheid waar ons as Christene wat lief is vir God se skepping 'n verskil kan maak deur in te skakel waar die Here reeds aan die werk is." Lees meer oor dié inisiatief hier
ONS FAMILIE IN AFRIKA
Bid asseblief vir Mosambiek en Ethiopië
Die Sentrum vir Publieke Getuienis vra ernstige voorbidding vir die verslegtende situasie in Mosambiek se Cabo Delgado provinsie waar ISIS militante 'n sokkerveld in 'n dorp gebruik het as ‘n teregstellingsgrond. 
Inwoners wat probeer vlug het, is gevang en na die plaaslike sokkerveld geneem waar hulle onthoof en stukkend gekap is in 'n gruweldaad wat van Vrydagaand tot Sondag uitgevoer is, volgens Pinnacle News. Meer as 50 mense is onthoof. Lees meer oor dié situasie hier
Die sentrum vra ook voorbidding vir die situasie in Ethiopië. Honderde Ethiopiërs het gesterf weens lugaanvalle en gevegte te midde die vrees dat Ethiopië ‘n burgeroorlog gaan verklaar, gegewe die diep vyandigheid tussen die Tigrayane en Abiy Ahmed (Eerste Minister van Ethiopië), wat uit die grootste etniese groep, Oromo, afkomstig is.
Meer as 8 000 vlugtelinge het sedert Dinsdag na Soedan gevlug en die Afrika-unie het 'n beroep op 'n skietstilstand in 'n Noord-Ethiopiese streek gedoen, waar Abiy Ahmed 'n militêre offensief voer teen plaaslike leiers wat sy gesag uitdaag. Klik hier om meer daaroor te lees. 
GEMEENTENUUS
Stuur julle 2021 kalenders!
Dit het al 'n tradisie geword dat gemeentes elke jaar vir ons die voorblaaie van hulle volgende jaar se kalenders stuur. E-pos dit gerus aan kommunikasie@kaapkerk.co.za sodat ons dit met ons lesers kan deel. Dankie aan George Moedergemeente wat die eerste kalender al vir ons gestuur het. 
As julle nog besig is om julle jaarbeplanning te doen, klik hier vir 'n lys van kerklike feesdae en biddae vir 2021.
Orrel-duetkonsert op Robertson
Gedurende die grendeltyd het NG Moederkerk Robertson die geleentheid aangegryp om die nodige restourasie- en uitbreidingswerk te doen aan hul pragtige en geskiedkundige orrel.  Om hierdie geleentheid te vier, lewer twee orrelmeesters Mario Nell en Winand Grundling op Sondag 15 November 2020 om 16:30 'n uitvoering in dié gemeente.
Hierdie orreliste het geen bekendstelling nodig nie.  Hulle is wenners van al die gesogte musiekkompetisies in Suid-Afrika, onder andere ABSA Nasionale Jeugmusiek, ATKV Muziq, Mabel Quick-musiekbeurskompetisie asook Unisa se Oorsese Musiekbeurskompetisie. 
Die program sal vol vuurwerke wees!  Hulle speel werke van Bach, Saint Saëns, Elgar, eie verwerkings en twee opwindende duette van Mozart en Langlais.  Toegang tot die konsert is gratis, maar ‘n kollekte sal opgeneem word om by te dra tot die orrelfonds wat gestig is om vir die groot restourasiewerk te betaal.
Merweville sê dankie
Ester Steyn van Merweville stuur vir ons die volgende terugvoer na die kansellasie van hulle jaarlikse basaar, wat ook normaalweg hulle hoof-fondsinsamelinginisiatief is. "Ons almal is deur ‘n baie ongewone jaar en in meer as een huisgesin was daar onverwagte hartseer. Ons harte gaan uit na elkeen wat familie en/of vriende moes afstaan gedurende hierdie hartseer jaar of die uitmergelende siekte moes verduur. Toe ons gedwing was om ons 2020 Dankfees eers uit te stel en daarna heeltemal af te stel, het ons elkeen van ons vriende se ondersteuning gevra. Baie dankie aan elkeen wat ons gedurende hierdie jaar op een of ander manier ondersteun het, hetsy deur bestellings vir biltong en droëwors te plaas, die kunsveiling, eenmalige donasies asook maandelikse bydraes. Voeg daarby ons eie lidmate wat onder groot druk bygedra het soos elkeen kon en ons het tot op hierdie stadium 'n beduidende bedrag ingesamel vir ‘n dankfees wat nooit plaasgevind het nie!! Hoe goed is die Vader nie vir ons nie."
Merk gerus solank 23-25 April 2021 in julle dagboeke, wanneer Merweville hulle volgende dankfees beplan.
Draers van hoop
Die gemeente van Hopefield het onlangs lekker saam feesgevier tydens hulle basaar. Aphanca Photography, wat die geleentheid afgeneem het, sê dat dit werklik 'n seën was om hierdie vrolike affêre by te woon en dink ook dat 'n NG kerkbasaar 'n groot leerervaring vir enige mens kan wees.
"Die term basaar word soms ook gebruik om te verwys na die netwerk van handelaars, bankiers en vakmanne, wat in dieselfde omgewing werk. Wat 'n seën! Ek het 'n paar prysenswaardige mense ontmoet, 'n paar ou bekende gesigte gesien en ek was betower deur die pragtige klanke van die orrel wat deur Julian Melck in die kerk gespeel is.
Buite het die orkes gesorg dat oud en jonk 'n wonderlike tyd gehad het en dit was so lekker om foto's van hulle te neem!
Die geur van die braai was verwelkomend en die heerlike lekkernye in die saal was watertand en o so aanloklik! Daar was iets vir almal. Boeke en CD's, koffie en tee, lekkernye vir kinders en genoeg sitplekke vir elke vriend om te sit om die nodige geselsies in te haal." 
Klik hier vir foto's en geniet gerus so saam met die gemeente die dag se herinneringe. 
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Ontvangsdame: Weltevrede Akkommodasie
Weltevrede Akkommodasie in Bellville adverteer 'n halfdag pos vir 'n ontvangsdame. Stuur aansoeke sou gou as moontlik aan Nelia Botes by 
nelia@weltevrede.org.za. Sluitingsdatum vir aansoeke is 20 November. Klik hier vir meer inligting.
Maatskaplike werker: Bellville-Suid
Badisa Bellville-Suid het ‘n voltydse betrekking vir ‘n maatskaplike werker om kinderbeskermingsdienste te lewer. Klik hier om die minimumvereistes te lees. Aansoeke sluit 17 November. 
Verpleegkundige poste: Darling
Huis Groeneweide in Darling adverteer tans poste vir 'n geregistreerde verpleegkundige, ingeskrewe verpleegkundige en assistent verpleegkundige. Die ideale kandidate vir hierdie beskikbare poste moet by die SANC geregistreerd wees en moet ook bereid wees om skofte te werk. Persoonlike indemniteit versekering en kennis en toepassing van geskeduleerde medikasie en kontrole daaroor is verdere vereistes. Lees die volledige posbeskrywings hier. Aansoeke sluit 11 Desember. 
Ingeskrewe en geregisteerde verpleegkundiges: Huis JJ Watson, George
Huis JJ Watson in George adverteer tans hierdie twee betrekkings. Goeie kennis van ouer persone se fisiese, psigiese en liggaamlike gesondheidstoestande en die hantering daarvan, asook kennis van palitatiewe sorg is vereistes. Registrasie by die SANC is 'n moet. Lees meer oor dié vakatures hier. Aansoeke sluit 13 November. 
Verpleegassistent en saalhulp: Huis Wittekruin, Vrendenburg
Dié tehuis vir bejaardes adverteer tans die twee bogenoemde poste. Die suksesvolle kandidaat moet goeie menseverhoudings kan handhaaf en kennis van versorging vir bejaardes hê. Aansoeke vir albei poste sluit 21 November. Klik hier vir meer inligting oor die pos van verpleegassistent en hier vir die saalhulpbetrekking se volle posbeskrywing. 
Klik bo vir meer inligting.
PUBLIKASIES
Boekbespreking: Jesus vir Almal
Bestel gerus die boek deur Neels Jackson en gesels saam op 18 November. Klik hier om te registreer. Registrasie sluit 16 November om 12:00.  
Die video van die bespreking sal vanaf 18 November beskikbaar wees op die Hugenote Kollege se platform sodat jy dit op jou eie tyd kan kyk.
Book launch: Writing and Reading to Survive 
Juliana Claassens is focusing on the intersection between trauma and gender in her new book, Writing and Reading to Survive and brings a number of trauma narratives from the Hebrew Bible into conversation with contemporary trauma narratives, exploring how these ancient and modern-day stories mitigate the experiences of pain and suffering in the face of trauma, including stories that narrate the insidious trauma associated with the systemic violence of a deeply patriarchal society; the secret trauma of reproductive loss that connects with many women’s lives both then and now; the ever-present reality of gender-based violence. 
DATE: Thursday, 26 November 2020
TIME: 17:00
VENUE: STIAS, Marais Road, Mostertsdrift Stellenbosch
RSVP: Marita Snyman (maritasnyman@sun.ac.za)
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Klik bo vir die jongste nuus van Badiso Trio.
Lees Missie Japan se nuusflits deur bo te klik.
KUIERKANSE
Appelkoos Jamboree en Kersmark
Calitzdorp-gemeente is baie opgewonde om aan te kondig dat dit amper weer tyd is vir hulle gewilde Appelkoos Jamboree en Kersmark! Hulle bied hierdie vrolike geleentheid aan saam met Calitzdorp Toerisme op 28 November 2020 op die gemeente se terrein tussen 10:00 en 20:00. Besoek gerus die gemeente se Facebook-blad vir meer inligting.
Aspirant stalletjiehouers is welkom om so gou as moontlik 'n tafel te bespreek teen R25 by Cara: 066 288 0048 of ngkerkcalitzdorp@gmail.com
Parow-Welgelegen se burger-aand
Moenie Parow-Welgelegen se drive-thru Vrydag misloop nie. Slegs R35 per burger. Sien meer inligting op grafika hieronder.
Goudini verkoop speelgoed 
Goudini se Wyk P verkoop oulike handgemaakte poppies (foto onder) as deel van hulle fondsinsamelingsprojek vir die gemeente. Klik hier vir meer foto's van wat alles verkoop word. Kontak gerus die kerkkantoor (023 349 1711) indien jy sou belangstel om daarvan te koop.
ALGEMEEN
Predikantspaar eerste wat in akwarium trou
Theo Nel, 'n teologiese student wat vanjaar sy praktiese jaar by die gemeente van Bellville-Wes gedoen het, het vandeesnaweek getrou met Corlette Nadel, ‘n onderwyseres by Curro Century City. Dié troue was die eerste wat volledig in die Twee Oseane-akwarium plaasgevind het. Die diens was gelei deur Corlette se pa, ds. Arnold Nadel, wat 'n emiritus is.
Corlette Nadel (nou Nadel-Nel) vertel aan Die Burger dat hierdie interessante lokaal nie deel was van hulle oorspronklike plan nie. “Ons het na baie lokale gaan kyk, maar nie gevoel een van hulle is reg nie. Ek het my verloofde toe gevra om die akwarium te nader en te kyk wat gebeur. Hulle het toe ingestem dat ons daar kan trou.”
Die Twee Oseane-akwarium is glo baie spesiaal vir hierdie paartjie omdat hulle eerste afspraak daar plaasgevind het en hulle het ook in die akwarium verloof geraak.
Ons wens vir Theo en Corlette ‘n gelukkige en geseënde huwelik toe! 
Raakgelees: 
Die IBM Institute for Business Value het onlangs ondersoek ingestel om te bepaal wat die algehele gevoel oor die post-COVID werksomgewing is. Om die data vir die opname in te samel, het navorsers onderhoude gevoer met 3 450 bestuurders in 20 lande, waarvan 400 uitvoerende hoofde van die Verenigde State afkomstig is. Hulle het ook aanlynvraelyste aan 50 000 mense in agt lande gestuur.
Die inligting wat hieruit voortspruit, gee 'n ander beeld as peilings vóór die pandemie. Volgens 'n wêreldwye opname in 2019 het 99% van werknemers aangedui dat hulle sou verkies om ten minste vir die helfte van hulle werksure van die huis af te werk. Maar, in werklikheid het die studie bevind dat baie werkers moeg en oorlaai voel te midde die pandemie. 
Byna driekwart van die bestuurders in die opname sê dat hulle hul personeel help om vaardighede aan te leer om op 'n nuwe manier te werk. Maar minder as 40% van die werkers dink dat hulle die opleiding kry wat hulle benodig. Hulle verlang boonop nog na die interaksie met ander kollegas op kantoor. Bykomend voel slegs 46% van die werkers dat hul organisasie genoeg doen om hulle met hul welstand te help, al het agt uit tien bestuurders gesê dat hulle presies dit doen. 
Die IBM-verslag het dus bevind dat die meeste werkers vandag ontkoppel en oorwerk voel. "Ons navorsing beklemtoon 'n gaping tussen wat bestuurders dink hulle werknemers ervaar en hoe die werknemers eintlik voel."
Klik hier om die volledige verslag te lees. 
TEN LAASTE
Sondag is die voorlaaste Sondag van Koninkrykstyd. Woord en Fees merk 'n paar teksverse as belangrike roetemerkers na die voleinding en kroning van Christus die Koning.
Psalm 123 is 'n pelgrimslied waarin gelowiges in moeilike omstandighede bely dat die enigste uitkoms is om “ons oë gerig op die Here ons God” te hou. Mag ons in hierdie tye dieselfde doen.
Luister hier na Matthys Roets se weergawe van Amanda Strydom se Pelgrimsgebed.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.