Lees deur internet, klik hier >>
7 Mei 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Epiese staptog vir droogtehulp
Twee streeksinodes van die NG Kerk span vandeesmaand saam om fondse in te samel vir droogtehulp en pastorale berading in die droogtegeteisterde Noord- en Wes-Kaap. ’n Span van dertien stappers, onder andere  Hannes Theron en Pia Nänny van Helderberg Uitreik, gaan die epiese 314km Boesmanland Camino vir die Red ’n Plaas-veldtog aanpak.
Volgens Nioma Venter, Wes-Kaapse predikant in sinodale diens van die eenheidsbediening Diaconia, is daar hegte bande tussen die twee provinsies. “Ons sinodale grense verskil effens van provinsiale grense en ons het jare reeds ’n noue verbintenis met die Noord-Kaap. Beide streeksinodes het reeds sedert 2019 verreikende rampfondsprojekte ter waarde van meer as R8 miljoen van stapel gestuur om plaasgemeenskappe in ons streke te ondersteun op ’n finansiële en pastorale vlak. Die droogte is egter nog nie gebreek nie en daar is mense wat geweldig swaarkry. Ons wil dus ’n beroep doen op ons gemeentes om die projek te steun deur die stappers te borg en sodoende ’n bydrae tot die fonds te maak. Ons wil graag die projek tot aan die einde van Junie laat duur en daarna sal al die fondse direk aan die Noord-Kaap oorbetaal word as ’n geskenk uit die suide aan ons buurprovinsie.” Lees die volle berig hier
Sien meer besonderhede hieronder.
Voorstelle vir Vigsherdenkingsondag
Met die oog op Vigsherdenkingsondag op 16 Mei, het Diaconia en CABSA hierdie inligtingstuk saamgestel en moedig gemeentes aan om die agtergrond en inligting tydens eredienste te gebruik.
Vanjaar se tema is We REMEMBER, We TAKE ACTION, We LIVE BEYOND HIV. Ons word daaraan herinner dat die Vigs-pandemie steeds bestaan, ook te midde van COVID-19. Daar is ongeveer 37 miljoen mense wat wêreldwyd met HIV leef.
Klik op die grafika om te registreer.

KIX Kinderbediening gee riglyne vir Pinkster

KIX Kinderbediening se Pinksterreeks bestaan uit ses ontmoetings, elk met 'n videogreep, ‘n PDF riglyn, aktiwiteite en hulpmiddellys.
Hierdie reeks kan op twee wyses gebruik word: ‘n groepie kan by die kerk bymekaar kom, die video’s saamkyk en die aktiwiteite en crafts in ‘n groep saam doen; OF al die hulpmiddels kan verpak en versprei word, waar gesinne die video’s saam vanaf KIX se speellys op Youtube kan kyk. Kry die materiaal hier en kyk hier na die video’s.
Lees ook KIX se nuusbrief van kwartaal 2 hier.

#imagine

Het jy gedink #imagine vind net op een dag plaas en dan is alles verby? Glad nie! Daar is tien weke se opvolgmateriaal bestaande uit ‘n video en ‘n kort Bybelstudiegids met gespreksvrae, gebed en doen idees. Kyk week 1 se video hieronder en kry die Bybelstudiegids hierDie opvolgmateriaal is ook in Afrikaans beskikbaar.
Kontak jeug@sun.ac.za of info@imaginemovement.co.za vir meer inligting.
Gesprek oor bendegeweld in Belhar
Die Sentrum vir Publieke Getuienis het onlangs ‘n gesprek oor bendegeweld op die Kaapse Vlakte gefasiliteer. Die gesprek het in Belhar plaasgevind. Irvin Kinnes, adviseur vir die parlementêre portefeuljekomitee oor veiligheid (foto middel), het die gesprek ingelei.
Die groep wat uit ‘n wye verskeidenheid kerkleiers bestaan het, het opnuut onder die indruk gekom van die omvang van die probleem met bendes. Die Americans het na raming 21 000 lede, die 28’s 13 000 en die Hard Livings 6000. Die sistemiese impak en omvang kompliseer die uitdaging verder, met sekondêre, alternatiewe ekonomieë wat rondom die bendes ontstaan het. Die kerk sal egter veel groter duidelikheid moet kry oor wat haar spesifieke taak in die situasie is.
Die aanspreek van afwesige vaders en verkrummelende familiebande sal  veel groter aandag moet kry. Kerke sal ook ‘n groter rol moet speel in die daarstel van vennootskappe om die probleem aan te spreek. Raak hier deel van die gesprek. 
Ons Indiër-verwante geloofsvriende in Kaapstad
Jy sit in die hartjie van Cravenby, langs Elsiesrivier op ’n Sondagoggend en sing saam aan bekende Hallelujas vanuit jou kinderdae, dis alles in Engels en die mense om jou is van ’n ander kultuur. En jy voel skatryk, want jy besef jy het nóg familielede leer ken.
Kobus Odendaal (PSD Getuienisaksie) en sy vrou Mariëtte was Sondag 1 Mei op besoek aan ons susterskerk, die RCA (Reformed Church in Africa) Cravenby Gemeente.
Die RCA het ontstaan uit NG Kerk-sendingwerk onder Hindu- en Moslem-gemeenskappe van Indiese afkoms wat hoofsaaklik as kontrakarbeiders na Suid-Afrika gekom het sedert 1860. Lees gerus meer hier
Arbeidsbediening groet Jan van den Berg
Dit is met groot hartseer dat Arbeidsbediening na sestien jaar se getroue diens van Jan van den Berg, administratiewe beampte en pastorale werker van Arbeidsbediening in die Helderbergkom, moet afskeid neem. Ons gaan sy ywer en entoesiasme vir Arbeidsbediening baie mis. Jan het die werk by Gerrie Grobler oorgeneem en word opgevolg deur At Kampman. Lees meer oor Jan se werk hier
Foto: Jan en Letitia van den Berg tydens Arbeidsbediening se AJV in Junie 2019.
Uit ons Argief: Pioniers van twee kontinente
Een van die interessantste verhale uit ons kerkgeskiedenis, is dié van die paartjie Jan van Zijl, ’n boorling van Cradock in die Oos-Kaap, en Britta Olén, predikantsdogter van die stad Karlskrone in Swede. Hulle ontmoet by die Sweedse Teologiese Instituut in Jerusalem en dien in verskeie terreine, van Cofimvaba in die Transkei, daarna word hy as dosent verbonde aan die Fakulteit Teologie van die Universiteit Stellenbosch aangestel.
Hulle bedien Noorweegse en Sweedse seelui in Kaapstad Hawe, daarna word hy die eerste predikant van die NG Kerk in Europa, terwyl hy met sy doktorale studie besig is. Hy is ook later verbonde aan die Fakulteit Teologie aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth, nou Nelson Mandela Metropolitan University.
Hanneke Meyer, pastorale hulpleraar by die NG Kerk Langenhovenpark in Bloemfontein, vertel meer oor hulle in die boek Randfigure - veral oor hoe Britta na jare van teenkanting, beide in Swede en Suid-Afrika, uiteindelik tot die leraarsamp toegelaat is. Kyk gerus na die video hieronder.
Klik hierbo om te registreer.
Leer meer oor deernis
Die samelewing plaas geweldig baie druk op ons om te presteer.
Ons dryf onsself om beter te wees, om take vinniger af te handel en in die proses vergelyk ons onsself met ander – net om nog moeër, meer opgewen en gestres te wees wat ons gesondheid beïnvloed en ons uit voeling laat met die oomblik.
Tydens hierdie retraite word deelnemers blootgestel aan verskillende vorms van meditasie en bewuswordingsoefeninge. Hierdie oefeninge of dissiplines stel jou in staat om met deernis met jouself om te gaan en met ‘n groter teenwoordigheid by mense op te daag.
Gedurende die retreat sal jy met vaardighede toegerus word wat jou sal help om jou spanning, pyn en alledaagse uitdagings beter te hanteer; om in plaas van te vlug van moeilike en uitdagende situasies, eerder daarna te draai en met deernis en grasie daarmee om te gaan en ook om ten volle teenwoordig en lewendig te wees in die oomblik. 
Stuur 'n e-pos aan Derine Piek om jou plek te bespreek.
Arbeidsbediening se Think Tank
Sedert COVID-19 in ons midde is, moes ons almal skielik in hoogste rat oral veranderinge begin maak; nie net ten opsigte van ons eie veiligheid nie, maar ook oor hoe ons in ons nuwe werksomstandighede moes aanpas en kreatiewe maniere van werk moes vind. Jaco Leeuwner van Arbeidsbediening het in opdrag en met behulp van IMSA (Industrial Ministry in SA) Nasionaal die Think Tank-app ontwerp en ontwikkel vir gebruik deur Arbeidsbediening, ander organisasies en ook die breë kerk.  
Hierdie app word dan ingespan om organisasies se aktiwiteite en projekte te help ontleed sodat daar by veranderende omstandighede aangepas kan word; iets wat tans van groot belang is. Die Think Tank-app is alreeds baie suksesvol deur verskeie organisasies gebruik. Lees meer hiervan. 
Koringberg gesels saam oor hul toekoms
Gemeenskapsleiers van Koringberg het op 15 April vergader om saam oor die dorp se toekoms te gesels. `n Hele aantal geleenthede en uitdagings is bespreek. Soos in talle van ons dorpe is die gebrek aan behuising, werkloosheid en dwelmmisbruik bespreek. Een van die groot uitdagings is egter dat hoërskoolkinders sonder hoop of uitsigte leef. Dit het natuurlik 'n impak op hul motivering en uitslae.
Daar word nou gedink aan ‘n program om vir hierdie kinders beter voorligting ten opsigte van geleenthede te skep. Die energie wat loskom wanneer verteenwoordigers van verskeie sektore en gemeenskappe bymekaar kom, was weereens tasbaar. Groot dank  aan ds. Jaco Nel en die Ukubavimba Foundation vir hul moeite en insette. 
GEMEENTENUUS
Geluk aan ons gemeentes wat verjaar!
Die volgende gemeentes vier in Mei hulle verjaarsdae. As enige van die onderstaande datums nie korrek is nie, stel asseblief die Kerkargief in kennis by argief@kaapkerk.co.za.
Robertson loods Karoo Hoop-projek
Janlu Kuyler stuur vir ons die volgende storie van hoop uit Robertson. "So ‘n paar weke gelede bel ‘n boervrou my uit haar kar op pad huis toe.  Sy bly 35km buite die dorp op ‘n plaas en sy vertel dat sy daardie week al drie keer op RSG gehoor het van die boere in die Noord-Kaap, hoe swaar dit gaan en dat hulle nie kontant het om bande te koop vir hulle bakkies nie.  Sy vra of ons nie ons boere hier in die Boland kan opkommandeer om bande te skenk nie.  So ontstaan ons projek Karoo Hoop.
Ons begin gesels met ds. Muller Oosthuizen op Williston en hy bevestig dat die boere swaar trek en dat hy ons sal help om boere te identifiseer en ‘n lys saam te stel van watter groottes bande ons moet soek.  En dis eintlik so eenvoudig! Ek kry die lys van bandgroottes by Williston en gee dit deur aan die bandediens hier op Robertson.  Die boere hier wat bereid is om ‘n stel bande te skenk, bel eenvoudig die bandeplek en die bande word teen kosprys op hulle rekening gesit.  En toe ons gereed is om te ry, skenk die boere wyn, waatlemoene, botterskorsies, druiwe, pruime, granate, kwepers, naartjies – 3 bakkies vol! Lees die res van die storie hier!
Hy eindig die inspirerende storie met 'n uitdaging van Robertson Moedergemeente aan die gemeente van Ceresvallei om betrokke te raak by die boere van Brandvlei. "Ons hou dop hoe die Here verder sy liggaam gebruik om mekaar se laste te dra!"
George help haweloses so
Hawelose mense in George word deur NG Kerk George-Bergsig en CREMHOG (Christian Rehabilitation Ministries to the Homeless of George) ondersteun. Hulle word met 'n Bybelboodskap bedien en ontvang ook ses dae per week ‘n ete 6 dae by die kiosk.
CREMHOG beplan om vrolike, warm komberse vir mense op straat vir die winter te maak. Hawelose mense verdien krediete – hulle noem dit krone – om ‘n kombers te kan bekom. Gehekelde of gebreide lappies word op vlieskomberse vasgewerk. “Ons mikpunt is om 75 komberse teen Mei 2021 te voltooi."
George-Bergsig nooi jou om deel te raak van die projek! As jy graag wil saambrei, gebruik liefs dubbeldraad wol, 4mm brei-penne en 40 steke vir ‘n 20cm blok. Die grootte van ‘n kombers is 1.2m by 1.8m. Die lappies is 20 x 20cm, dus 54 lappies per kombers. Hulle benodig slegs die voltooide blokkies – dit word deur die projekspan op die kombers vasgewerk. CREMHOG kan ook wol verskaf.
Gee asseblief jou lappies af by die kerkkantoor. André Olivier kan vir verdere navrae geskakel word by 082 551 8900. Belangstellendes kan ook per EFT ‘n bydrae maak: CREMHOG, ABSA, Spaarrekening 924 066 5875, Verwysing: Van & CREMHOG. 
Seisoen van leer by Kenridge
Is jy manlik en verantwoordelik vir kinders in jou huis? Dan is jy 'n pa en Kenridge-gemeente wil jou nooi om met The World Needs a Father kursus saam met ander pa's op 'n baie praktiese manier te gesels oor die uitdagings en vreugdes van pa-wees. Die kursus begin Woensdag, 12 Mei om 19:00. Jy kan hier meer inligting kry en inskryf. 
Aangebied deur NG Kerk Bothasig.
PREDIKANTENUUS
Mornay Du Plessis Le Roux  (12.02.1952 - 28.04.2021)
Ons het met leedwese kennis geneem dat ds. Mornay le Roux op 28 April oorlede is. ‘n Troosdiens is Woensdag 5 Mei in die NG Kerk Gansbaai gehou.
Hans Steyn van Stanford skryf: "Hy en sy eggenote Helene het sedert Mei 2017 in De Kelders (Gansbaai) gewoon. Hier het hy tot baie onlangs nog aktief aan kerk-aktiwiteite deelgeneem as lid van die kerkkoor en het ook by die gemeentes van Stanford, Riviersonderend en Gansbaai met prediking gehelp.
Ds. Mornay is in 1977 gelegitimeer en het as leraar gedien in Bedford, Grabouw en Leonardville, Namibië. Hy was 'n ware pastor in die gemeentes waar hy gedien het. Mense en hulle welwese was vir hom baie belangrik. Verder het hy hoë premie  op prediking, belydenisskrifte en die Kerkorde geplaas.
Hy is in Februarie vanjaar met gevorderde longkanker gediagnoseer. Ons dink in besonder aan sy vrou Helene, dogter Helena en seuns Mornay en Kobus."
Ons innige simpatie aan die familie.
EKOLOGIE
Suid-Afrikaanse dokumentêr maak wêreldwyd opslae
My Octopus Teacher, die boeiende verhaal van 'n man se band met 'n seekat, het pas 'n Oscar gewen as die beste dokumentêr vir 2020. Die film, wat reeds meer as 20 internasionale toekennings verower het, is die eerste natuurdokumentêr wat 'n Oscar ontvang het sedert The Cove in 2010.
In 'n persoonlike brief voor die seremonie het president Cyril Ramaphosa die produksiespan van die film gelukgewens en gesê dat die film "dokumentêre storievertelling op sy beste is, met 'n diep resonante bewaringsboodskap."
My Octopus Teacher gebruik geen ontstellende beelde van die agteruitgang van die oseaan of haar wesens nie, maar lok die gehoor sagkens in 'n diep gevoel van verwondering en medelye met die magiese wêreld binne 'n kelpbos. Kykers volg vir Craig Foster, die spoorsnyer onder water, wat 'n intieme verhouding met 'n gewone seekat bou terwyl hy naby sy huis in Valsbaai duik. 
"Dele van hierdie verhaal is universeel vir byna elke mens op aarde - liefde en vriendskap, en verbintenis en hoop," sê mederegisseur Pippa Ehrlich. "Dit gaan oor die natuur, maar dit is ook 'n baie kragtige, argetipiese verhaal wat ons help om sin van die wêreld te maak."
Die film is verlede jaar die eerste Suid-Afrikaanse dokumentêr wat 'n Netflix Original geword het. Hierdie film is beslis ‘n kyk werd en is steeds op Netflix beskikbaar. Kyk gerus die voorskou onder.  
GEBEDSVERSOEK
NUUS VAN ONS FAMILIE IN AFRIKA
Aan sý voete – in Malawi 
Op 12 Maart vanjaar het oud-sendeling, AnnaMarie de Klerk, na Malawi vertrek vir ’n vyf weke-besoek aan ons geloofsgemeenskap daar. Sy het oor die meer as 40 jaar wat sy in diens van ons susterskerk, die CCAP, gewerk het, baie stewige bande met verskeie geloofsgemeeenskappe daar opgebou. Die eerste aktiwiteit waarmee sy weggespring het, was die Bybelstudiesessies met die tema, ‘At his feet.” Lees gerus meer daaroor. 
Foto: Die eerste groep vroue wat geregistreer het vir die Bybelstudiesessies. 
VAKATURES
Voltydse leraar, Stellenberg
Die gemeente van Stellenberg (in die Noordelike Voorstede) vra gelegitimeerde predikante van die NG of VG Kerk met meer as vyf jaar se bedieningservaring om aansoek te doen vir hierdie betrekking.
Die ideale kandidaat resoneer die gemeente se visie en waardes, is geloofs- en emosioneel volwasse en iemand wat kreatief en innoverend sal dink oor die bediening in ’n stedelike voorstad. Aansoeke sluit 31 Mei. Verdere vereistes en die gemeenteprofiel is hier beskikbaar. 
Medeleraar, Bredasdorp
Die gemeente van Bredasdorp nooi alle gelegitimeerdes in die VGK en NGK om te hoor of die Here jou roep om saam met hulle die pad as medeleraar te stap.
Die gemeente lê klem op die volgende bedieningsfokusse: die bediening aan jongmense, veral skoolgaande jeug, en hul gesinne, versoening en kreatiewe missionale bediening van geregtigheid. Daar word van kandidate verwag om in ‘n sterk diverse span te kan werk. Aansoeke sluit 31 Mei. Klik hier vir meer inligting. 
SmartStart Coach, Bellville
This early learning social franchise delivered by Diaconia is looking to appoint a coach for the Tygerberg, Ravensmead, Strand and Kuils River areas. If you are passionate about supporting and developing social entrepreneurs running early learning programmes, click here to learn more about the programme and further job requirements. Experience in coaching, mentoring and facilitation in the ECD or a closely related field is recommended. Applications close 14 May.  
Maatskaplike werker, Strand
Badisa Strand is op soek na ‘n geregistreerde (SACCP) maatskaplike werker wat ‘n diploma of graad in maatskaplike werk verwerf het. ‘n Geldige rybewys en goeie kommunikasievaardighede (Afrikaans en Engels) word vereis. Aansoeke sluit 28 Mei. Lees bykomende vereistes hier.
Enrolled nurse, Claremont
Huis Nuweland in Claremont is looking for someone to provide a proficient nursing service within the facility. Requirements include: an enrolled nursing certificate, SANC certificate and experience in a hospital or old age home. Click here for more information. 
Nursing auxiliary, Claremont
Huis Nuweland in Claremont currently has a vacancy for an (ena) nursing auxiliary. The purpose of the position is to execute auxiliary nursing functions - ensuring comfort to the elderly in the facility. The ideal candidate has the following: auxiliary nurse certificate, SANC certificate and experience in a hospital or old age home. Read the full advert here
Verpleegdiensbestuurder, Heidelberg
Huis Zenobia du Toit in Heidelberg beskik oor die bogenoemde betrekking vir ‘n geregistreerde verpleegkundige. Goeie kennis van ouer persone se fisiese, psigiese en liggaamlike gesondheidstoestande, sterk leierseienskappe en kennis en toepassing van geskeduleerde medikasie word vereis. Registrasie by SARV as Professionele Verpleegkundige is ‘n moet. Aansoeke sluit 21 Mei. Kry meer inligting oor die pos hier

Verpleegkundige, Stilbaai
Stilbaai Bejaardesorg verlang die dienste van ‘n geregistreerde verpleegkundige. Registrasie by SARV, goeie kennis van bejaardes, bewese kommunikasievaardighede en persoonlike indemniteitsversekering word as vereistes gelys. Die ideale kandidaat moet so gou as moontlik kan begin. Aansoeke sluit 10 Mei. Lees meer hier
Skriba/kassier, Merweville 
Merweville-gemeente adverteer die posisie van 'n skriba/kassier. Aansoekers moet die waardes en etos van die gemeente ondersteun, rekenaarvaardig wees en beskikbaar wees vir indiensopleiding voor 31 Julie. Lees die posvereistes hier. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 31 Mei.
Musiek Koӧrdineerder, Philadelphia
Die NG Gemeente Philadelphia se kerkraad wag aansoeke in vir die pos van musiek koӧrdineerder. Die posbekleër sal verantwoordelik wees vir die kreatiewe uitbou en ontwikkeling van die musiek by die erediens en alle ander kerklike byeenkomste waar musiek en begeleiding noodsaaklik is.
Die geskikte kandidaat is entoesiasties en passievol oor musiek en beskou dit as ’n roeping om die Here deur middel van musiek te bedien, het genoegsame kennis van geestelike musiek- en sangbegeleiding en kan self op die orrel of klavier begelei tydens eredienste. Die speel van ander instrumente sal ‘n bonus wees. Voldoende teoretiese kennis van musiekverwerking en -transponering is ook noodsaaklik. Aansoeke sluit 19 Mei. Kry meer inligting hier
Koster/Fasiliteitebeampte, Strand
Die gemeente van Suider-Strand bied tans 'n pos aan vir 'n voltydse koster/fasiliteitebeampte. Die aangewese kandidaat se verantwoordelikhede sal die volgende insluit: kerklike aktiwiteite, administrasie en die beheer van fasiliteite (geboue en infrastruktuur), instandhouding en versorging van en toesig oor geboue en terrein.
Klik hier vir profielvereiste, posbeskrywing en meer inligting. Aansoeke sluit 28 Mei 2021.
Skakelbeampte, Hermanus
Die NG Gemeente Onrusrivier het tans ‘n vakature vir ‘n geskikte persoon om as skakelbeampte in die plaaslike kerkkantoor op te tree. Die ideale kandidaat is ‘n meelewende Christen en het ‘n erkende kwalifikasie in kommunikasie en/of bemarking of bewese toepaslike ondervinding. Goeie interpersoonlike, mondelinge, skryf- en kommunikasievaardighede, vlotheid in Afrikaans en Engels en ‘n Kode 8-bestuurslisensie is verdere vereistes. Aansoeke sluit 14 Mei. Lees die volle advertensie hier
Klik bo vir meer inligting.
PUBLIKASIES
2020-vertaling in groot druk binnekort hier
Die Bybelgenootskap het in 'n onlangse mediaverklaring bevestig dat hulle bewus geword het van 'n groeiende behoefte na 'n grootdruk uitgawe van die 2020-vertaling van die Bybel, wat in November verlede jaar bekendgestel is.
Dirk Gevers, uitvoerende hoof van die Bybelgenootskap, deel die goeie nuus dat die drukproses tans onderweg is en dat die eerste besending van die Afrikaans 2020-vertaling Grootdrukbybels teen einde Augustus beskikbaar behoort te wees. Hierdie Bybel gaan in twee verskillende bindformate verkrygbaar wees; 'n swart hardeband asook ʼn luukse, verwerkte leerband met duimindeks.
Nuwe Getuie
Lees gerus die jongste Getuie wat nuus bevat van wat alles in die taakspanne van die Diensgroep Getuienisaksie aangaan.
Straatwerk vertel ons van hul ‘gentleman’ Shane. Stephen Pedro en sy span vat skaars grond soos hulle die afgelope maande VGK-gemeentes besoek het. Ons susterskerke in Mosambiek spog met nuwe predikante en AnnaMarie de Klerk is so pas terug van Malawi met opwindende nuus. Ben Marais vertel meer van hul sokkerbediening, terwyl Braam Hanekom vertel van nuwe kanse vir kinders op Kleinmond.
Neil Steyn vertel van hoe Isibindi jongmense ’n mooi toekoms help gee. Makhathini woel met kinderevangelisasie en Msinga neem afskeid van ds. Mnisi. Hope Prison Ministry bring versoening in gesinne en Biblia in Kalkbaai gee hoop vir nuwe werksgeleenthede. CAVA in Zimbabwe het nuwe planne en ons eko-korrespondent David Botha stap weg met die CLF-Elise Tempelhoff toekenning vir Omgewingsbewaring! Geniet die lees hier
NUUSBRIEWE
Lees meer oor MES se opkomende webinaar.
Missie Japan sien uit na hulle besoek aan Suid-Afrika. Lees bo meer.
ALGEMEEN
Raakgelees: Vriendelike Golden Retriever deel drukkies uit 
Liefdevol en lojaal, honde is vir ‘n rede mens se beste vriend en elke honde-eienaar sal daarvan getuig. Alhoewel die meeste honde liefde toon deur hulle sterte te waai of mense te lek, wys Loubie, 'n pragtige Golden Retriever van New York, haar liefde deur snoesige drukkies. 
Wanneer Loubie saam met haar eienaar Cesar Fernandez-Chavez gaan stap, is dit nooit 'n tipiese stap nie. Die ongelooflike vriendelike hond dring daarop aan om elke vreemdeling wat sy sien te groet en wanneer hulle ophou om haar te vryf, hou Loubie daarvan om haar voorpote om hul knieë te vou.
Volgens Fernandez-Chavez het Loubie die gedrag self geleer – sy hou van natuur daarvan om by mense te wees. "Ons stappies is nooit normaal nie,” bieg Fernandez-Chavez. “Binne sekondes nadat haar voete die sypaadjie getref het, het sy al vir iemand ‘n drukkie gegee.”
Kyk gerus die video onder om te sien hoe ‘n tipiese ekskursie vir Loubie en Cesar lyk. 
Register now for Winter School 2021
Registration for the Winter School 2021 is now open! This popular event hosted by the Faculty of Theology at Stellenbosch University will take place online from 22 to 23 June. The theme for 2021 is HOPE? The Church as alternative community in a context of disruption.
Keynote speakers include Tandeka Gqubule-Mbeki, economics editor at the SABC, the founder of the South African Family and Faith Institute Elizabeth Hoorn-Petersen as well as Trevor Herbert from the Apostolic Faith Mission. Find the preliminary programme here.

Click here for registration or send an e-mail to Marita Snyman for more information.
Call for papers: We are Family conference 
The conference will be hosted by the Gender Unit of the Faculty of Theology, University of Stellenbosch, in conjunction with North-West University and the University of KwaZulu-Natal. The conference is scheduled from 2 - 3 November and will focus on theological and ethical reflections on family in South Africa.
Please note the deadline for submissions of abstracts is 6 September 2021. Titles and abstracts can be sent to maritasnyman@sun.ac.za. Click here for more information.
Dirk Nel rides for the Deaf
Dirk Nel is raising funds for the National Institute for the Deaf! His sister is a resident at NID Adult Care for deaf adults with multiple disabilities and NID is therefore an organisation very close to his heart. 
In September 2021 (Deaf Awareness Month) he will cycle all the way from Pretoria to NID in Worcester via gravel roads over 10 days. His mission is to raise R100 for every kilometre that he must cycle. 
Please support Dirk and this amazing initiative to the benefit of the Deaf and persons with hearing loss at NID. Follow this link for a secure online donation.
EFT donations: NID Ontwikkeling, ABSA Bank, Acc no: 911 845 2209, Reference: RIDE/DN/(name and surname).
BEHOU DIE HUMOR
KUIERKANS
Roadhouse basaar by De Eike
Die gemeente van De Eike hou hulle Roadhouse Basaar op Saterdag 29 Mei 2021 om 10:00.
Dit gaan weer soos volg werk. Jy plaas jou bestelling op die bestelvorm, doen betaling en op die dag van die basaar kom jy vanaf 10:00 na die kerk, parkeer jou motor, gee die afskrif van die bestelling vir die kelner. Terwyl jy in jou motor wag, gaan haal die kelner jou bestelling en bring dit na jou motor en jy ry weer weg. Klik hier vir meer inligting.
Snoekbraai by Parke
Parke-gemeente se snoekbraai is hier! Is jy lus vir lekker gebraaide snoek, slaai, patat, brood en konfyt? Dan moet jy definitief vir jou ‘n kaartjie kry. Kaartjies is R50 per ete. Kaartjies is beskikbaar aanlyn of by die kerkkantoor (021 988 5340).
Klik bo vir die spyskaart.
TEN LAASTE
Ons vier eerskomende Sondag 9 Mei Moedersdag en wil van die geleentheid gebruik maak om al ons ma's, oumas en ander versorgers aan die Here op te dra met die gebed dat Hy julle elke dag sal seën. Hoop julle het 'n wonderlike dag.
Luister gerus na hierdie pragtige weergawe van Ave Maria deur Josh Groban. 
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.