Biddag vir Onderwys en Opleiding
Biddag vir Onderwys en Opleiding
Lees deur internet, klik hier >>
11 Februarie 2022
kommunikasie@kaapkerk.co.za
AMPTELIKE NUUSBRIEF: NG KERK WES-KAAPLAND
Beste Leser
SINODENUUS
Onderwys: Laat ons biddend betrokke wees
Met die oog op eerskomende Sondag se Biddag vir Onderwys en Opvoeding skryf Nelis Janse van Rensburg die volgende: "Sedert Maandag is leerders landwyd weer almal gelyk terug in die skool. Die ontwrigting van skoolprogramme met die uitbreek van die COVID-pandemie en die inperkings het ‘n radikale impak op opvoeding en onderwys gehad. UNICEF het al in Julie 2021 gerapporteer dat leerders van 75% tot ‘n volle jaar agter is met hulle opleiding. Die rotasie-bywoningstelsel, skole wat kort-kort moes sluit en afdae vir verskillende grade het tot gevolg gehad dat leerders ongeveer 54% van hulle onderrigtyd verloor het.
UNICEF het ook toe reeds gesê dat tussen 400 000 en 500 000 leerders sedert die aanvang van die pandemie skole heeltemal verlaat het. Die totale aantal leerders wat glad nie skool bygewoon het nie, was toe reeds 750 000.
Hoewel skole in die afgeleë plattelandse gebiede meer geaffekteer is, was die laaste twee jaar vir geen skool maklik nie. Onderwysers moes gedurig hulle beplanning aanpas asook ekstra moeite doen om leermateriaal te versprei, assessering en eksaminering te doen. Dit het geweldige druk op leerkragte geplaas wat reeds oorlaai was. 
Die ontwrigting van ons onderwysstelsel het ook verreikende implikasies gehad vir huishoudings en die gemeenskappe waarin leerders woonagtig is. In vele opsigte was dit ‘n sosiale ramp. Nou moet die onderwysstelsel, wat al voor die pandemie onder druk was, herbou word. Dit stel geweldige eise aan leerkragte, leerders en ouers. Sondag is dit ons kerk se biddag vir Opvoeding en Onderwys. Ons wil vra dat daar voorbidding gedoen sal word vir:
~ Skole se beheerliggame en komitees 
~ Skoolhoofde
~ Onderwysers

~ Ondersteuningspersoneel

~ Toegewyde en betrokke ouers (met dank aan elke ouer wat betrokke is by beheerliggame en ander aktiwiteite van hulle kinders se skole)
~ Onderwysowerhede
Ons wil ook leraars versoek om hulle plaaslike skoolhoofde te gaan besoek en vir hulle in hulle kantoor ‘n gebed te doen. Dit kan natuurlik ook ‘n geleentheid word om vir al die opvoeders by die skool te bid. Die kerk se betrokkenheid by skole moet by hernuwing ernstig geneem word. Daar is by elke skool geleenthede om ‘n positiewe verskil te maak in opvoeders en leerders se lewe. Opvoeding en onderwys is ons almal se verantwoordelikeid."
DinkJeug gee riglyne
DinkJeug verskaf die volgende wenk vir die erediens op die Biddag vir Onderwys en Opvoeding: Vra alle lidmate om die name neer te skryf van mense wat hulle ken wat by opvoeding en onderwys betrokke is (onderwysers, dosente, skoolhoofde, skole ens.) op briefies wat vooraf uitgedeel is. Daarna kom hang hulle dit aan ‘n tak of wasgoedlyn wat vooraf in die liturgiese ruimte opgestel is. Doen dan ‘n gebed vir hierdie persone. 
Die meegaande PowerPoint kan ook gebruik word om die gemeente in groepies te laat bid. Indien jy weekliks ‘n wenk wil ontvang om in die erediens te gebruik, volg hierdie skakel.
Ondersteun die Ring van Beaufort
Twintig stappers sal eersdaags die Stargazing Camino aanpak. Volgens Nioma Venter van Diaconia is die doel van die 108 km staptog tussen Merweville en Sutherland om die land bewus te maak van die uitdagings waardeur gemeenskappe in die Ring van Beaufort die afgelope jare vanweë die droogte is.
"Om by die mikpunt van R600 000 uit te kom, vra ons gemeentes en individue om saam te staan en ’n bydrae aan die rampfonds te maak. Oorweeg ’n borgskap gelykstaande aan die koste van een stapper (R6 000), veelvoude daarvan of bepaal self die bedrag wat julle kans sien om by te dra. Elke bydrae, ongeag die bedrag, dra by tot die geheel. Kom ons wys ons meelewing op hierdie tasbare wyse."   
Bankbesonderhede: Nedbank; takkode: 198765
Rekeningnaam: Diaconia; rekeningnommer: 1135900337
Verwysing: Naam van individu/gemeente + STARGAZING 
Oom Chum van Arbeidsbediening, Mosselbaai
Arbeidsbediening gee vir baie mense weer moed om met die lewe aan te gaan via hul bediening in die plekke van werk, veral in hierdie uitdagende tye. Dit is van groot waarde as jy iemand soos oom Chum Botha in jou span het. So getuig die mense van Mosselbaai oor hierdie besondere man wat tot met sy afsterwe verlede jaar so getrou die haweloses van The Haven nagskuiling weekliks bedien het. Lees hier meer.
Skryf nou in vir fasiliteerdersopleiding
Diensgroep Diaconia in samewerking met CABSA nooi graag NG, VGK en Calvyns Protestante predikante om in te skryf vir die Churches, Channels of Hope fasiliteerdersopleiding. 
Die kursus is daarop gemik om predikante te bemagtig om as gelowiges op ‘n betekenisvolle manier betrokke te wees binne die MIV-pandemie en die breër gemeenskap. COVID-19 het natuurlik hierdie landskap beïnvloed en is deel van die konteks wat ons in ag neem in hierdie kursus. 
Hierdie 6-dag kursus word in twee blokke van drie dae elk aangebied en die kostes hiervoor word deur Diaconia gedek. Kursusgangers kwalifiseer vir 30 VBO-punte. Dit word aangebied op 28 Februarie tot 2 Maart en 3 tot 5 Mei.
Klik hier vir die aansoekvorm met meer inligting. Die sluitingsdatum vir aansoeke is 12 Februarie. Vir navrae, kontak Aneleh Fourie by management@cabsa.org.za of 083 292 5358.
Geestesgesondheid in 'n neutedop
Die afgelope twee jaar praat ons baie oor die impak van trauma op individue en gemeenskappe. Dit lê op die vlak van pastoraat as ons in terme van gemeentebediening dink. Die werklikheid van COVID-19 en ander omgewingsrealiteite het gelei tot die ontwikkeling van ’n geestesgesondheidgesprek en -hulpmiddel onder die titel Veerkragtige Lewensritme.
Verskeie van ons leraars en gemeenteleiers het in 2020 die geleentheid gehad om ’n werkswinkel by te woon waar primêre waarhede oor geestesgesondheid bespreek is. Gemeenteleiers is toegerus met vaardighede om die hart, die verstand en die wil van die individu te beïnvloed tot ’n gesonde self. Die Christelike Lektuurfonds (CLF) in samewerking met van ons sinodale diensgroepe en Whitehead Industrial Psychologists het ’n pamflet ontwikkel wat van hierdie rigtingwysings in ’n neutedop saamvat. Klik hier om die pamflet gratis af te laai en versprei dit gerus vanaf die skakel.
Vir meer navrae oor Veerkragtige Lewensritme, kontak nioma@kaapkerk.co.za.
EKOLOGIE
Armoede en die omgewing
By die Sentrum vir Publieke Getuienis word daar oor verskeie samelewingskwessies saamgedink. Nie net hoe dit nou ons lewens beïnvloed nie, maar ook watter impak dit op die toekoms gaan hê. Ekologie en die omgewing is een van ons vyf groot fokusareas en daar word die afgelope tyd al meer nagedink oor die wisselwerking tussen armoede en ekologiese volhoubaarheid/omgewingsimpak. Die bostaande scenario-model is ontwikkel. Kontak die kantoor gerus as jy verder hieroor wil gesels. 
Hoe maak ek my eie ‘swart goud’?
“Baie maklik,” sê ons assessor Nioma Venter. Kyk gerus na die video onder waarin sy meer van die wonder van 'swart goud' vertel - die kosbare kompos wat jy sommer met jou eie wurmplaas daar op jou werf kan skep. Jy kry vir jou 'n paar Red Wiggler-komposwurms, voer hulle met organiese afval uit jou kombuis en kantoor en siedaar - jou plantjies is in die hemel!
GEMEENTENUUS
Mannegeleentheid by Stellenberg
Stellenberg-gemeente se mannebediening nooi alle mans in die gemeente en veral ook diegene buite die gemeentegrense na die mannebraai en lofprysingsaand op Vrydag 18 Februarie om 18:00 in die markplein en die kerk. Kostes beloop slegs R50 per persoon. Jy hoef niks saam te bring nie. Bespreek jou plek voor 16 Februarie by lindy@stellenberg.co.za of stuur ’n WhatsApp na ds. Why Duvenhage by 082 570 5931.
Wêreldbiddag vir vroue in Citrusdal
Die Wêreldbiddag vir Vroue val vanjaar op Donderdag 3 Maart en die gemeente van Citrusdal nooi jou uit om die geleentheid saam met hulle op die dag om 18:30 by te woon. Hulle gasspreker is Wilmien Davin. Wilmien is een van die vroue wat die Kalahari-brand oorleef het. Sy en haar seuntjie het oorleef en haar man en twee ander kinders is oorlede tydens die brand.
"Wilmien is 'n voorbeeld vir elkeen van ons. Sy omhels die lewe en leef elke dag voluit! Kom en luister saam na haar getuienis. Alle vroue is welkom!"
PREDIKANTENUUS
Vredendal groet Viljoen egpaar
Nico Viljoen het amptelik aan die einde van Januarie emeriteer, maar die gemeente van Vredendal het reeds in November 'n afskeidsdiens vir hom en sy vrou Berna gehou.
"Op 28 November 2021 het ons met dankbare harte afskeid geneem van dr. Nico en Berna Viljoen. Dankie Nico en Berna vir 24 jaar se inspanning, liefde, geduld en arbeid in ons gemeente. Julle afskeid laat 'n groot leemte in ons midde. Ons gaan julle omgee en liefde vir elkeen in die gemeente verseker mis. Seënwense met 'n aangename aftrede, hoewel dit klink of julle nog lank nie gaan stilsit nie!" Klik hier om meer foto's van die afskeidsdiens te sien. 
ONS FAMILIE IN AFRIKA
Die Thiarts van Mosambiek 
Wat gaan deur jou hart as jy as sendeling tydens jou somersverlof hoor jou huis van 15 jaar daar ver in Noordoos-Mosambiek is afgebrand, jou medegelowiges leef daar in angs en die situasie vererger by die dag? En wat laat jou besluit om terug te keer en te gaan kyk hoe jy massas in hul nood kan bystaan? Baie van ons ken vir André en Anna-Marie Thiart wat hulle in 2006 as sendelinge in Quionga gaan vestig het. Hulle het die afgelope maande al meer as 60 ton kos aan derduisende ontheemdes in dié geweldgeteisterde area help versprei. Lees hier verder.
Foto: André en Anna-Marie Thiart met Daniël de Wet.
UIT ONS RINGE
Piketberg groet predikante
Die Ring van Piketberg het einde Januarie van Albé Theunissen (Porterville) en Gert Kok (Eendekuil) afskeid geneem.  Martin Goosen laat weet: "Albé en Jennie verhuis na Oudtshoorn waar hy in Oudtshoorn Moedergemeente sy bediening voortsit.  Hy was vanaf Januarie 2008 tot Januarie 2022 leraar van die NG Gemeente Porterville.  
Gert het sy emeritaat op 30 Januarie ontvang.  Hy en Antoinette verhuis nou na Villiersdorp. Dankie aan beide predikante vir julle getroue bediening in jul gemeentes, julle toewyding aan die groter NG Kerk en julle omgee-teenwoordigheid in die ring."
Op navraag oor sy loopbaan en waar hy in die kerk betrokke was, het ds. Gert Kok die volgende getuig: "Dit was ‘n voorreg om oor soveel jare in die NG Kerk te kon dien. As ek my werk in die gemeentes en al die ure se werksaamhede by die verskillende ringe, sinodes en Algemene Sinode bymekaar tel, is dit nou ‘n goeie tyd om die tuig neer te lê. Oor al hierdie dienswerk kan ek net die Here dank en soos Psalm 16:11 getuig: 'U leer my hoe om te lewe. By U is daar oorvloedige blydskap. Uit u hand kom net wat mooi is'.
Gert se bediening het in 1982 as kapelaan by 5 SA Infanteriebataljon in Ladysmith (Natal) begin. Daarna het hy vir bykans 40 jaar by die volgende gemeentes  gedien: Gelofte (Ladysmith Natal), Estcourt, Thabazimbi, Bergville en Eendekuil. Hy was ook betrokke by die werk van verskeie ringe en sinodes. 
Ons wens vir Gert 'n welverdiende aftrede toe en voorspoed aan die Theunissen-familie in julle nuwe gemeente in Oudtshoorn.
Foto links: Herman Rossouw (leierouderling van Eendekuil), Antoinette en Gert Kok saam met Martin Goossen (ringsverteenwoordiger).
Foto regs: Die Theunissen-familie: Albé en Jennie met kinders Daniël, Markus en Emma.
TOERUSTING
Klik op die grafika vir meer inligting.
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Administratiewe beampte/boekhouer, Bellville
Goeie Hoop Behuisingsmaatskappy beskik tans oor ’n vakature vir ’n administratiewe beampte/boekhouer.  Die kantoor is by die NG Kerksentrum in Bellville.  Dit is ’n 5/8ste pos (09:00 tot 14:00). 
’n Ervare persoon met finansiële/boekhoudingkwalifikasies word as voorvereiste gestel. Kandidate moet oor goeie menseverhoudinge en goed ontwikkelde syferkundige en rekenaarvaardighede beskik. Akkuraatheid en die vermoë om teen hoë tempo te funksioneer tesame met vaardigheid ten opsigte van Pastel en Microsoft Excel word vereis. Die aangewese kandidaat beskik voorts oor goed ontwikkelde analitiese vaardighede en is fyn ingestel op detail. Aansoeke sluit 14 Februarie. Lees die volle advertensie hier.
Klik op die grafika vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
PUBLIKASIES
Nuwe teologiese joernaal nou beskikbaar
Die Stellenbosch Teologiese Joernaal (STJ), voorheen die Nederduitse Gereformeerde Teologiese Tydskrif, het onlangs hul uitgawes vir 2021 voltooi. Dié twee uitgawes (Volume 7 nrs. 1 & 2) bevat 53 eweknie-geëvalueerde artikels en ’n reeks boekresensies waarin hoë-gehalte teologiese navorsing, uit verskillende teologiese dissiplines, verskyn. Klik hier om die uitgawes gratis op die STJ-webtuiste te lees.
Hoogtepunte uit Kerkbode
In die middel van die COVID-19-pandemie het Marileen Steyn onderhoude met meer as 40 Wes-Kaapse NG predikante gaan voer. Sy wou onder meer hoor wat Korona se geskenk aan hulle was en hoe 'cope' hulle? Hierdie onderhoude het sy verwerk in 'n treffende reeks woordportrette Predikante in 'n pandemie. Dit kan ook op Kerkbode se webblad onder die hofie REEKS gelees word. Hierdie navorsingsprojek is in samewerking met die Sinode van Wes-Kaapland gedoen.
Sedert die pandemie lyk begrafnisse steeds anders. Aanlyn-roudienste skep afstand tussen roubeklaers. "Hoe rou ons nou?" vra Le Roux Schoeman vir dr. Nicholaas Matthee, 'n navorsingsgenoot verbonde aan die Universiteit Stellenbosch. Matthee het navorsing gedoen oor tendense in liturgiese reaksies met die wegval van die opsie om iemand “tradisioneel” te begrawe. Lees hier meer. 
Die eerste groepe bedienaars en diensleraars het laasjaar hulle teologiese kursusse voltooi. Teoloë meen die nuwe 'bane' maak teologiese opleiding meer toeganklik. Vir lidmate kan al die nuwe benamings egter nog vreemd op die oor val. Kerkbode het ds. Jan Lubbe, voorsitter van die kuratorium van die NG Kerk in die Vrystaat, gevra hoe die ‘nuwe bane’ vir geroepenes tot die bediening van mekaar verskil. Lees die volledige artikel hier.
KUIERKANSE
Klik op die grafika vir meer inligting.
ALGEMEEN
Raakgelees: Boomslang gaan kerk toe
Die Gereformeerde Gemeente van Wierdapark in Centurion het verlede week tonele uit die tuin van Eden herleef nadat hulle ‘n groot boomslang op die kerk se perseel aangetref het. Leonie Oberholzer, die gemeente se jeugwerker, vertel aan Netwerk24 dat mense ‘n paar spesiale danspassies uitgevoer het toe die slang soos ‘n vetgesmeerde blits op die konsistoriedeur afgepyl het.
In plaas daarvan om soos in Genesis 1:15 die slang se kop te vermorsel, het die gemeente dadelik vir Hermien Grobler, ‘n slangvanger van Highveld Venom Pest Control Services, ontbied. Sy laat weet dat hierdie die eerste boomslang is wat die plaagbeheerdienste in Wierdapark gekry het, aangesien die area te bebou en besig is vir hierdie soort reptiel. “Hy moes oor vier bane van ‘n besige straat geseil het om tot by die kerk uit te kom, juis op die dag waarop hulle die heerlikste pannekoeke gebak het. Noudat ons weet die slang se pens was leeg, kon dit die reuk van die pannekoeke gewees het wat hom na die kerk toe gelok het,” skerts Grobler. 
Die volledige artikel kan deur Netwerk24-intekenare aanlyn gelees word. 
Gewilde kampterrein gereed vir besoekers
Die bekende Bridgetown kampterrein buite Moorreesburg is na die pandemie weer in volle gang. Die badkamers is oorgedoen en daar is baie slaapplek vir groot groepe teen baie bekostigbare tariewe.
Geriewe sluit in: ‘n groot toegeruste kombuis, saaltjie en braaiplekke.  Daar is slaapplek vir 74 mense in vyf jeugkamers, drie gesinskamers en die gastehuis. Verder is daar ook 15 karavaanstaanplekke met elektrisiteit. Vir navrae en besprekings, kontak Ansu op WhatsApp 073 830 4759 of ansulotter@gmail.com.
TEN LAASTE
Op die sesde Sondag na Epifanie kom die sleutelteks uit 1 Korintiërs 15:12-20 en word daar steeds gekyk na die opstanding en die boodskap wat dit vir gelowiges inhou. Volgens Woord & Fees beteken Jesus se opstanding dat niks of niemand anders as Hy die laaste sê in ons lewe en in die geskiedenis van die wêreld het nie. "As al ons moeite en inspanning en verwagtings in die lewe in stukke breek, as ons voor die laaste vyand staan, mag ons steeds hoop en blydskap hê, want ons is veilig geborge in God, op sy skoot, toegevou deur sy liefde. Hy bereik sy doel met ons deur alles heen. Die lewe is nie sinloos nie, en aan die einde sal Hy alles in almal wees."
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.