Lees deur internet, klik hier >>
12 Februarie 2021
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Biddag vir Onderwys en Opvoeding
Hierdie Sondag, 14 Februarie, is Biddag vir Onderwys en Opvoeding. Gebruik gerus DinkJeug se PowerPoint hulpbron tydens die erediens. 
Die hulpbron is beskikbaar op hulle webtuiste hier. Bid gerus saam met ander gemeentes en lidmate vir die gesondheid en veiligheid van opvoeders en leerlinge. 
Valentynsdag
Kix Kinderbediening deel 'n paar idees vir Valentynsdag. Klik hier vir 'n kort animasie video wat kinders vertel waar Valentynsdag vandaan kom. 
Volg ook hierdie skakels en stuur dit gerus aan ouers:
  • Maak hartjie-ballonne op 'n kaartjie hier.
  • Maak 'n hartjie-klippie en maak iemand se hartjie bly hier.  
Ithemba
Die Sentrum vir Publieke Getuienis begin eersdaags met ‘n aanlyn nuusbrief: Ithemba (hoop). 
Hulle besef dat mense in dié dae oorlaai word met inligting en gaan daarom vra dat persone kies om die brief te ontvang. Klik hier om 'n voorlopige voorbeeld van Ithemba te besigtig en om daarvoor in te teken - dis gratis. Die nuusbrief sal kwartaalliks uitgereik word.
Tans fokus die sentrum onder andere op die volgende groot uitdagings in Suid-Afrika:
  • Volhoubare voedeselvoorsiening deur die Hoop en Versoening Trust (die #GROEI – saadprojek).
  • Menswaardige behuising.
  • Die groei van sosiale kohesie: praktiese wenke vir elke dorp.
  • Die formulering van ‘n apologie: Waarom glo ons? Praktiese wenke vir gewone gelowiges.
  • Enkele ekologiese kwessies deur hul verbintenis met SAFCEI.
  • Die herstel van morele waardes deur hulle verbintenis met #integritas.
  • Die daarstel van naskoolse leersentrums, met ander woorde veilige hawes waar kinders na skool die volgende kan ontvang: mentorskap, aanlynonderrig en ekstra klasse.
  • Die bou van ekumeniese eenheid deur die Western Cape Ecumenical Network.
Waarom glo ons? 
‘n Apologetiese gesprek oor die fundering van ons geloof. Kom deel in ‘n paneelbespreking Woensdag 17 Februarie om 19.00 via Zoom. Registreer per e-pos by Bridget Leibbrandt of by spg@kaapkerk.co.za.
Die afgelope tyd is die openbare media oorspoel met kommentaar deur gelowiges en ongelowiges oor die aard en karakter van ons geloof. Die Sentrum vir Publieke Getuienis het ‘n klein werkgroep tot stand gebring wat die afgelope weke herhaaldelik vergader het. Graag bied ons die uitkoms van die gesprekke in ‘n oop gesprek aan, wat van waarde vir predikante en lidmate kan wees. Dit word in samewerking met VBO aangebied.
EKOLOGIE
Ons impak op die skepping
Dalk sê jy: “Die eko-probleem raak my nie…” Dink weer. Marizanne Pfeil-Wessels van die Hoop Geloofsgemeenskap (‘n inisiatief van die NG Kerk Helderberg, Somerset-Wes) was in 'n derdejaaarsklas oor ekologie-teologie toe sy bewus geword het van die enorme eko-probleem. Leef ons nog in 'n 'goeie skepping' soos Genesis 1 die skepping beskryf? Beslis nie.
 Besoedeling en ons aandeel daaraan het alledaags geword.
Jy kan egter 'n verskil maak, al is dit ook hoe klein. Raak bewus van hoe jy meer volhoubaar kan leef en bydra tot die oplossing. Begin sommer dadelik deur PLAASLIK te koop. Kom meer te wete deur na die onderstaande video te kyk.
Die Groot Groen Muur van Afrika
Na afloop van die One Planet Summit for Biodiversity wat op 11 Januarie virtueel in Parys gehou is, het die Franse president Emmanuel Macron aangekondig dat daar vir die volgende tien jaar $14 miljard vir The Great Green Wall of Africa beloof word. 
Die Great Green Wall is 'n beweging onder leiding van Afrika wat poog om 'n natuurwonder van epiese proporsies te skep – die plant van ‘n massiewe muur van droogtebestande akasia-bome wat 8 000km oor die hele breedte van die vasteland sal groei.
Dié muur beloof om 'n innoverende oplossing te wees vir talle dringende bedreigings wat nie net die vasteland van Afrika in die gesig staar nie, maar ook die wêreldwye gemeenskap as geheel - veral klimaatsverandering, droogte, hongersnood, konflik en migrasie.
Die finansiering van Frankryk bied 30% van die ontwikkelingsgeld wat nodig is om die projek teen 2030 te voltooi. Sodra die projek voltooi is, sal die Great Green Wall die grootste lewende struktuur op die planeet wees, drie keer so groot soos die Groot Koraalrif (Great Barrier Reef).
Klik hier om meer oor hierdie projek te lees of kyk die video onder vir meer inligting. 
GEMEENTENUUS
Brackenfell se gebedstuin
Brackenfell-gemeente se week van gebed is amptelik van 15 - 17 Februarie. Hulle het besluit om die tuin vir die hele maand van Februarie as 'n gebedswandel in te rig. Die tuin is daarom beskikbaar vir enige iemand wat daar wil kom stil raak. Die gebedswandelboekie kan in die tuin by verskillende stasies of by die huis gebruik word. Daar is hier en daar aktiwiteite vir kinders wat slegs by die huis moontlik sal wees. Klik hier om die elektroniese weergawe van die boekie op hulle webtuiste af te laai.
Aswoensdag by La Rochelle
La Rochelle-gemeente bied vanjaar 'n virtuele Aswoensdaggeleentheid aan. Indien daar gemeentes is wat belangstel om dit te ontvang en daaraan deel te neem, kontak gerus die kerkkantoor by nglarochelle@gmail.com. Daar is 'n PDF-dokument beskikbaar wat per e-pos uitgestuur sal word. Vanaf Woensdag 17 Februarie 2021 om 06:00 sal daar 'n video beskikbaar wees wat saam met die dokument gebruik kan word. Die video sal beskikbaar wees by www.nglarochelle.co.za of op die gemeente se YouTube kanaal. 
Deelnemers kan solank die volgende items regkry: ‘n stuk tou, wol of lint; ‘n bietjie as of grond en olie (meng die as/grond met die olie vooraf); ‘n kers en vuurhoutjies of ‘n aansteker; ‘n bak met water (groot genoeg om albei jou hande gelyk in te plaas) sowel as die nagmaalstekens (‘n stukkie brood en wyn of druiwesap). 
"In 2021 gedenk ons Aswoensdag en die begin van Lydenstyd tydens ‘n grendeltyd en ‘n pandemie. Hierdie afgelope jaar het unieke uitdagings aan elkeen van ons gestel. Ons elkeen beleef verskillende emosies en ervaar die uitdagings anders. Tog raak die pandemie en die grendeltyd ons elkeen persoonlik. Miskien is daar vrae in ons gemoed - die hoekoms en waaroms wat ons teenoor God rig. Miskien is daar woede, angs, hartseer, pyn, rou en klag wat ons nodig het om voor die Here te bring. Aswoensdag is 'n geleentheid om juis dit te doen."
Merweville stel dankfeesbasaar af
Merweville-gemeente laat weet dat hulle beplande dankfeesbasaar wat in April/Mei sou plaasvind, vir eers afgestel is. Hulle skryf: "Met 2020 agter ons,  voel dit asof daar ‘n “hold” knoppie is wat gedurig gedruk word en dinge vir ons deurmekaar krap. Die afgelope jaar het ons geleer dat  daar geen sekerheid is omtrent enige reëlings wat vooruit getref word nie. So hartseer soos dit is, moes ons hierdie besluit uiteindelik neem. 
Daarmee sê ons nie dat dit glad nie later in die jaar kan/sal plaasvind nie, maar daaroor moet die kerkraad vorentoe besin. Buiten die inperkingsprobleme is dit ook steeds bitter droog in Merweville en die distrik en ons boere is teen die grond.  Sonder ons boere se bystand en ondersteuning kan ons nie ‘n dankfees aanpak nie.
Weereens sal die gemeente alles in ons vermoë doen om fondse in te samel op enige moontlike manier, maar intussen maak ons staat op ons vriende, om vir ons, maar ook saam met ons te bid vir uitkoms. Uitkoms in die vorm van wydverspreide reën, asook vir moed om elke oggend op te staan en nog ‘n dag in dankbaarheid teenoor ons hemelse Vader, die beste te doen waartoe ons in staat is."
Kom ons bid saam
Die gemeente van George-Bergsig doen ‘n spesiale beroep op almal om van Maandae tot Vrydae om 12:00 saam te bid. Hulle sal hul kerkklok daagliks om 12:00 lui as herinnering en aanmoediging vir gebed. 
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Medeleraar: Prieska
Die kerkraad van NG Kerk Prieska wag in biddende afhanklikheid van die Here aansoeke in vir die pos van bedienaar van die Woord. Die ideale kandidaat is 'n persoon wat na aan die Here leef, ‘n skrifgetroue prediker is en iemand wat intensioneel sal bou aan ekumeniese verhoudings.
Klik hier vir die volle posbeskrywing. Aansoeke sluit 5 Maart. 
Finansiële bestuurder: Stellenberg
Die gemeente beskik oor ’n vakature vir ’n voltydse finansiële bestuurder. 'n Tersiêre finansiële kwalifikasie, asook bewese ondervinding is vereistes. E
rvaring en kreatiwiteit in ’n niewinsgewende milieu sal ook in ag geneem word. 
Stuur asb. ’n dekbrief waarin u motiveer waarom u aansoek doen vir die pos, sowel as ’n volledige CV met ’n afskrif van u ID-dokument, voor 12 Feb om 12:00 na stellenberg@stellenberg.co.za. Die volle posbeskrywing kan ook by die e-posadres aangevra word. Diensaanvaarding: 1 Maart 2021 of so spoedig moontlik daarna.
Alta du Toit: Stafverpleegster
Alta du Toit Nasorg wag tans aansoeke van entoesiastiese, verantwoordelike en gemotiveerde persone vir hierdie betrekking. Die aangewese kandidaat moet geregistreer wees by die SARV as Professionele Verpleegkundige/Stafverpleegster.
Klik hier om meer oor die pos te lees. Aansoeke sluit 28 Februarie. 
Maatskaplike werker: Tygerberg
Badisa Tygerberg wag aansoeke in vir 'n tweetalige maatskaplike werker. Registrasie by die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe en 'n geldige rybewys is 'n moet. Lees meer hier. Aansoeke sluit 19 Februarie.

Bestuurder en hoofverpleegkundige: Steinkopf
Huis EJ Appies en Immanuel Sentrum vir Gestremdes adverteer tans die bogenoemde poste. Goeie leierseienskappe en kommunikasievaardighede is vereistes. Die ideale kandidaat beskik oor ’n relevante kwalifikasie. Klik hier vir meer inligting oor die bestuurspos of lees hier meer oor die hoofverpleegkundige betrekking. Aansoeke vir beide poste sluit 25 Februarie. 
Hoofverpleegster: Sutherland
Johenco Tehuis vir Bejaardes in Sutherland, Noordkaap het tans 'n vakature vir 'n hoofverpleegkundige. Kandidate moet aan die volgende vereistes voldoen: minimum kwalifikasie van stafverpleegster en registrasie by die Raad op Verpleging. Lees die volle posbeskrywing hier. Aansoeke sluit 17 Februarie. 
Assistent verpleegkundige: Worcester
Innovation for the Blind bied tans ‘n beroepsgeleentheid vir ‘n dinamiese assistent verpleegster by Huis Ebenhaezer, 'n tehuis vir meervoudige gestremdes asook Huis Brevis tehuis vir bejaardes. Die ideale kandidaat moet bereid wees om skofte te werk, geregistreer wees by die SA Raad op Verpleging en moet beskik oor ʼn bewys van indemniteit. Klik hier vir meer inligting. Aansoeke sluit 19 Februarie. 
Administreerder/Ontvangsdame: Vanrhynsdorp
Badisa Matzicare is op soek na 'n administreerder/ontvangsdame met goeie interpersoonlike en kommunikasievaardighede. Rekenaargeletterdheid en stiptelikheid is vereistes. Lees meer oor die pos hier. Aansoeke sluit 15 Februarie.
 
Klik bo vir meer inligting.
NUUSBRIEWE
Klik bo vir Bybel-Media se Februarie nuusbrief.
PUBLIKASIES
R50-boeke van Bybel-Media 
Bybel-Media vier hulle 50ste verjaarsdag met 'n spesiale aanbod deur 'n verskeidenheid boeke teen slegs R50 te koop aan die bied. Talle personeellede het hulle gunstelingboeke gekies om teen hierdie spotgoedkoop prys beskikbaar te maak. Die aanbod geld egter net tot 12 Februarie. Klik dus hier vir 'n lys van R50-boeke en bestel aanlyn.
Hoogtepunte uit Kerkbode
Historiese gemeente wil ‘huis van vrede’ wees
By Groote Kerk se eerste gebou-erediens vir 2021, tref Kerkbode ’n gemeente aan met vredesplanne wat terugstrek na Krotoa. Lees hier meer.
Lesers se opinies
"Ons gebrokenheid (geestelik, liggaamlik of andersheid) maak ons meer afhanklik van ’n liefdevolle Vader vir wie elkeen kosbaar is," skryf Chris Smith. Lees sy brief op Kerkbode se gewilde brieweblad hier 

ALGEMEEN
Raakgelees: Lap uit Dawid se era opgegrawe
Argeoloë in Israel het ’n 3 000 jaar oue lap oorblyfsel (foto onder) opgegrawe wat terugdateer na die tyd wat koning Dawid regeer het (1 000 v.C.). Die lap is ‘n unieke pers, ‘n kleur wat in die Bybelse tyd deur konings gedra is. Hierdie ontdekking is in die Timna-vallei, ongeveer 220 kilometer suid van Jerusalem, gemaak.
"Ons werk al etlike jare aan hierdie projek," vertel dr. Naama Sukenik van die Israeliese Oudheidsowerheid.  “Hierdie studie is om verskeie redes baie opwindend en belangrik. Dit is skaars om oorblyfsels met hierdie kleur, wat so dikwels in die Bybel beskryf word, te kry.” 
"Die kleur het onmiddellik ons aandag getrek, maar ons het dit moeilik gevind om te glo dat ons werklik 'n item van so 'n antieke tydperk gekry het," sê prof. Erez Ben-Yosef van Tel Aviv Universiteit se Departement van Argeologie. 
Klik hier om meer van hierdie ontdekking te lees. 
Nuwe skoolkalender bekendgestel
Die Departement van Basiese Onderwys het pas die nuwe skoolkalender vir 2021 bekendgestel. Die kalender is aangepas nadat die akademiese jaar weens 'n nuwe golf van COVID-infeksies met twee weke uitgestel is.
Daar word beplan dat skole op 15 Desember sal sluit en dat die skooljaar 192 skooldae sal insluit. Klik hier vir die gewysigde kalender. Die nuwe kwartaaldatums is as volg:
  • 15 Februarie - 23 April
  • 3 Mei - 9 Julie
  • 26 Julie - 1 Oktober
  • 11 Oktober - 15 Desember
BEHOU DIE HUMOR
KUIERKANS
TEN LAASTE
Woensdag 17 Februarie is Aswoensdag en is die begin van die veertig dae van Lydenstyd voor Paassondag. Dit is tradisioneel 'n tyd van selfondersoek, skuldbelydenis, gebed en naastediens. Ook hierdie tydperk sal in 2021 in 'n nuwe gedaante beleef word. Mag dit 'n verrykende tyd vir ons lesers wees. (Kunswerk deur Vader John Russell)
Eerskomende Maandag begin die 2021 skoolkwartaal vir meeste skole. Ons dink ook hierdie week spesiaal aan ons kinders, families en onderwyspersoneel, bestuurspanne en regeringsdepartemente wat met unieke uitdagings hierdie skooljaar tegemoetgaan.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.