Lees deur internet, klik hier >>
29 Mei 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
Wat beteken Vlak 3 vir kerke?
Ons COVID-19-projekspan is tans besig om riglyne en regulasies saam te stel rakende kerkaktiwiteite nadat die nasionale inperking na Vlak 3 verslap word. Daar moet egter gewag word vir amptelike kommunikasie vanaf die nasionale regering. Die proses moet ook in oorlegpleging met ander streeksinodes plaasvind.
Die finale riglyne sal so gou as moontlik in 'n nuusflits sowel as www.kaapkerk.co.za en op ons verskillende sosiale mediakanale soos Facebook en Twitter gekommunikeer word.
President Cyril Ramaphosa het 'n nasionale biddag in die tyd van COVID-19 afgekondig. Spesiale liturgiese voorstelle en gebede vir Sondag 31 Mei sal binnekort op www.kaapkerk.co.za en ons sosiale mediakanale beskikbaar wees.

Wie is Diaconia?
Diaconia is die eenheidsbediening van die NG Kerk Wes-Kaapland en die VGK Streeksinode Kaapland. Tydens die koronapandemie help Diaconia om hulpbronne te ontsluit om humanitêre hulp aan ons mees kwesbare gemeenskappe te verleen. Hulle ondersteun gemeentes se uitreikaksies en speel ook 'n uiters belangrike koördeneringsrol binne gemeenskappe. Jy kan hulle pogings help deur donasies aan die Diaconia rampfonds te maak. Klik hier vir 'n A4 pamflet oor Diaconia en hulle werk. Deel dit gerus met vriende, ander lidmate en die wyer gemeenskap.
Covid en die dood
Braam Hanekom van die Sentrum vir Publieke Getuienis skryf vandeesweek in Die Burger (27 Mei) dat hy nie kan nie onthou of daar al ooit ‘n tyd in sy lewe was waar ons al so met sterftesyfers gekonfronteer is soos tans die geval is nie.
"Nie die dodetal op die paaie na ‘n Paasnaweek, die jaarlikse moordstatistiek, of die bekendmaking van die hemelhoë VIGS- en TB-sterftes kan vergelyk word met wat ons nou ervaar nie. Een van die redes hiervoor is natuurlik omdat mense graag wil weet of ons die stryd teen die virus wen of verloor. Wat die syfers wel doen, is om die dood konstant in ons gedagtewêreld in te bring."
Lees Braam se volledige skrywe hier.
Malawi: Teologiestudente ontvang graad
Ons wens graag ons susterkerk in Malawi, die CCAP Nkhoma Sinode, geluk met die nuwe teologiestudente wat op Saterdag 23 Mei aan die Josophat Mwale Teologiese Instituut gegradueer het. Hulle word op Vrydag 29 Mei in gemeentes uitgeplaas. “Ons vertrou dat hulle goeie predikante sal wees,” sê die sekretaris-generaal van die sinode, ds. Vasco Kachipapa. Klik hier om meer hieroor te lees. 
Die gegradueerdes en ander belanghebbendes voor die kerkgebou op Nkhoma
Groentesaad sorg vir meer kos!
Die Hoop en Versoening Trust gaan in die volgende paar maande geloofsgemeenskappe help om meer volhoubaar met kosverspreiding te word deur groentesaad aan hulle te skenk. Hierdie projek se naam is GROEI en jy kan die groentesaad aanvra of 'n skenking maak om die projek selfs meer uit te brei. Die gedagte is dat ons oral waar grond beskikbaar is, groentetuine op kerkterreine begin.
Kontak gerus vir Braam Hanekom vir enige navrae. Meer inligting kan op hul webblad gekry word. 
Retraite in Wellington
Die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit nooi alle predikante en lidmate om in te skakel by ‘n digitale ná-Pinkster-retraite van tien dae – elke weeksdag vanaf 1-12 Junie.
‘n Kort oordenking oor die tema Kyk (wéér), Ek maak alles nuut (Openbaring 21:5) met riglyne vir stilword, sal elke dag vanaf 06:00 beskikbaar wees.
Theunis Botha skryf: "Dominee, jy het andermaal in hierdie dae met Pinkster Woordsaad gesaai. Deur die Gees se leiding was jy spreekbuis én saaier gewees. Die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit wil jou innooi in ‘n ruimte waar jy mag aankom sonder skanse, jou kan oorgee en toelaat dat die Gees jou salf en vernuwe. Saam met ’n begeleier (spiritual director) kan jy jou laat verkwik."
Kontak gerus vir Derine Piek per e-pos.
Tieners met depressie
Die VBO-forum bied twee aanlynwebinare oor die onderwerp van tienerdepressie tydens die Covid-19-pandemie. Johan Laten is die aanbieder op 17 en 18 Junie om 10:00. Klik hier om te registreer.
Andrew Murray: Celebration of family
Op 9 Mei 2020 was die 192ste herdenking van Dr. Andrew Murray se geboortedag. Ter viering van hierdie geleentheid word daar gekyk na Murray as die pa van agt kinders in 'n videoreeks getitel Celebration of family: Letters to his children.
Tydens die reeks van nege videos stap ons saam met Andrew Murray en sy kinders deur swaar en hartseer in 'n versameling briewe. Die uitkoms is meesal verrassend en bied hoop.
Vir 'n inleiding tot die reeks, besoek die webwerf. Eerskomende Maandag ontmoet ons die derde dogter, Kitty, op die foto saam met haar broer John Neethling Murray. 
GEMEENTENUUS
Merweville basaar afgestel
Merweville-gemeente laat weet dat hulle welbekende jaarlikse dankfeesbasaar weens die inperking afgestel is. Hulle doen egter 'n beroep op hulle gewone ondersteuners om steeds te help om die gemeente se finansiële oorlewing te verseker. Hulle verskuif die basaarterrein na die kuberruim en smullekker biltong en droëwors sal nogsteeds in grootmaat gemaak en verkoop word.
Wildsboere en jagters word aangemoedig om wildsvleis te skenk en kan vir Johan Alberts by 083 270 5504 kontak. Vir verdere navrae, stuur gerus 'n e-pos aan ngkerkmerweville@gmail.com.
Yzerfontein en Darling beleef die gees van omgee
Die gemeentes van Yzerfontein en Darling het geleer om te gee tydens die COVID-19-pandemie, vertel John Roux in die video op hulle Facebook-blad. "Hierdie tyd het die gees van omgee in ons gemeenskap wakker gemaak. Daar is samewerking en nie kompetisie nie." Daar word weekliks 45 kospakkies afgelewer wat bykans 200 mense voed. Die projek is 'n spanpoging tussen die NG-gemeentes, Yzerfontein gemeenskapskerk, die plaaslike buurtwag, ACVV en die Round Table.
Stellenbossers span saam
‘n Aantal organisasies uit Stellenbosch het byeengekom om die kwesbaarste lede van hulle gemeenskap tydens die Covid-19-pandemie te help. Die munisipaliteit, Universiteit van Stellenbosch, Visit Stellenbosch, SCAN (Stellenbosch Civil Advocacy Network), Ranyaka en die Greater Stellenbosch Development Trust het verenig onder die sambreel van Stellenbosch Unite.
Stellenbosch Unite se hoofkoördineerder Jeanneret Momberg verduidelik dat die projek voedselhulp bied aan lede van die gemeenskap en hulle families wat weens die grendeltyd hul inkomste verloor het. “Die mees kwesbare lede van ons gemeenskap is die mense wat ons elke dag gesien het op die strate en in die restaurante en kroeë van ons stad. Hulle het hul hele inkomste verloor en ons moet hul situasie verlig deur te help waar ons kan.”
Meer as R2 millioen se donasies is tot dusver vanuit die Stellenbosch-gemeenskap ingesamel en sowat 100 000 kilogram se kos is reeds versprei aan diegene wat hulp nodig het. 
Verder poog Stellenbosch Unite om die momentum van fondsinsameling volstoom aan die gang te hou sodat die behoeftiges van die gemeenskap nooit honger sal gaan slaap nie. Die projek maak dus staat op donasies, kosskenkings en vrywilligers. As jy ‘n bydrae wil maak, kontak vir Jeanneret Momberg.   
Besoek gerus hul webblad hier vir meer inligting. 
Kenridge deel tonne appels uit
Hoe vinnig kan Kenridge-gemeente 'n ton appels versprei? Binne een en 'n halwe uur! Die appels is tussen Mercy Meals, Sobambisana en Alta du Toit Nasorg versprei. Die gemeente sê spesifiek dankie aan Cape Span vir hulle skenking. 
Citrusdal se reaksie op Covid-19
Citrusdal-gemeente deel graag 'n kort video van ACT (Action of Community Transformation). Die NGK en VGK van die dorp is aandeelhouers in hierdie gemeenskapsprojek en was betrokke by die stigting van die inisiatief, wat poog om volhoubare ontwikkeling in die dorp te bevorder.
ACT wil graag vir elke individu, organisasie, besigheid en die sitrusbedryf in geheel bedank vir die volgehoue ondersteuning in ʼn tyd soos hierdie. "Die sekerheid en hoop wat die goeie samewerking en goedhartigheid van die Citrusdal-gemeenskap bring, is soveel groter as die onsekerheid wat Covid-19 vir ons gebring het."
Die video kan hier gekyk word. 
GEBEDSVERSOEK
VAKATURES
Admin/boekhouer - Huis Overberg
Overberg Tehuis in Riviersonderend het tans 'n betrekking vir 'n administratiewe beampte/boekhouer. Kandidate moet teen 'n hoë tempo kan funksioneer en kennis van Pastel en VIP word vereis. Volledige posvereistes kan hier gelees word. Aansoeke sluit 8 Junie 2020. 
Stafverpleegster - Huis Wittekruin
Huis Wittekruin in Vredenburg adverteer tans 'n pos vir 'n staf- verpleegster. Registrasie by SANC word vereis. Lees verdere posvereistes hier. Aansoeke sluit 29 Mei 2020. 
Klik bo vir meer inligting.
EKOLOGIE
Dis die klein (plastiek)jakkalsies wat die wingerd verniel
Hierdie week gesels ons Groen Span se Samantha Chamberlain van die NG Gemeente Suider-Strand oor goeie alternatiewe vir plastiekstrooitjies en -eetgerei. Sy praat ook oor die nut van ’n eko-vriendelike sakkie wat jy altyd byderhand kan hou en travel mugs. Kry jouself solank gereed vir as die grendels opgelig word en jy weer die Sederberge kan invaar of langs die see kan gaan kamp. Kyk na ons video hieronder.
Noord-Atlantiese walvisse krimp
Na onlangse studies is wetenskaplikes verstom oor hoe klein hierdie bedreigde walvisse geraak het. Fredrik Christiansen, 'n mariene ekofisioloog van die Aarhus Instituut vir Gevorderde Studies in Denemarke, het ondersoek ingestel oor waarom hierdie walvis kleiner geraak het. Hy het hommeltuie (“drones”) gebruik om die Noord-Atlantiese walvisse van bo af te vergelyk met suidelike walvisse. Hierdie twee tipes walvisse is veronderstel om dieselfde liggaamsbou te hê.
Christiansen was geskok oor hoe dun die Noord-Atlantiese walvisse gelyk het. In teenstelling hiermee het die suidelike walvisse soos 'n aanloopbaan gelyk. “Jy kan basies 'n tent op hul rug oprig," sê Christiansen. In vergelyking met dieselfde grootte suidelike walvisse, het die noordelike walvisse sowat 20% minder geweeg - 'n verskil van ongeveer 5000 kilogram! 
Hierdie walvis se swak toestand verklaar vir wetenskaplikes waarom die diere so stadig voortplant – daar is slegs 409 van hierdie spesie oor. "Ons dink dié spesie is in die moeilikheid," sê Peter Corkeron, leier van die walvisnavorsingspan by die Anderson Cabot Sentrum. “As daar nie ‘n massiewe ingryping is nie, sal hulle oor 20 jaar heeltemal uitgewis wees.” Die gewigsverlies word toegeskryf aan die verwarming van oseane asook die walvisse se stryd om visvangnette te ontsnap. Lees die volledige berig in National Geographic hier
PUBLIKASIES
Wees agente van hoop, nie draers van die virus
Dr. Gustav Claassen, algemene sekretaris van die NG Kerk, het op 26 Mei klem gelê op die verantwoordelikheid van kerkleiers en lidmate om binne die nuwe bepalings (wat wel klein eredienste tydens Vlak 3 sal toelaat) verantwoordelik op te tree en te help verhoed dat die koronavirus versprei. Klik hier om die Kerkbode artikel te lees.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Uit Kokstad
Christo Wooding deel die volgende nuus van VGK Kokstad: "Die drie nuwe leraars in ons ring het vanjaar `n vol program gereël vir ons gemeentes en ring. Ons het net lekker op dreef gekom, toe alles skielik einde Maart tot stilstand knars. Die Paasfees wat nie kon plaasvind nie, was `n groot teleurstelling vir ons gemeentes. Ons is tans in `n groot mate afgesny van die  gemeentes en buiteposte. Ons gemeentes is geleë in twee provinsies, naamlik KZN en Oos-Kaap, wat kontak verder bemoeilik. Ons probeer kontak hou met die paar lidmate wat wel selfone het.  Ons mis die uitry op `n Sondag na `n verafgeleë buitepos in Transkei. Ons mis die dienste saam met ons lidmate en die gelowiges wat so hartlik kan sing en opreg kan bid.  En ons mis natuurlik ook die lekker warm potbrood en soet tee na kerk en die ncokola  (lekker gesels) met ons mense. Lees Christo se volledige brief hier.
Pinksterboodskap uit Japan
Stéphan van der Watt van Missie Japan vertel dat hulle diep bewus bly van die Here se sorg en ons totale afhanklikheid van Hom. "Ons is ook opnuut in verwondering oor die werk van die Heilige Gees in menselewens." Hy stuur hierdie video met 'n spesiale Pinksterboodskap vir Suid-Afrika.
ALGEMEEN
Orkes voer Beethoven vir Dowes op
'n Hongaarse orkes uit Boedapest help Dowes om die musiek van Beethoven deur middel van aanraking te “hoor” en te geniet. Die Danubia-orkes hou konserte vir gehoorgestremdes sodat hulle Beethoven se Vyfde Simfonie letterlik kan voel. Máté Hámori, die orkes se dirigent, sê dat hy spesifiek musiek van Beethoven gekies het omdat Beethoven self met gehoorverlies gesukkel het en van sy bekendste musiek geskryf het terwyl hy besig was om doof te word. Hámori vertel verder dat hy graag musiek aan mense wil bring wat andersins geen kans het om dit te geniet nie.

Sommige van die Dowes sit langs die musikante en plaas hulle hande op die instrumente om die vibrasie te voel. Ander hou ballonne vas wat die vibrasie van die geluide oordra. Sommige kan weer die musiek hoor deur gebruik te maak van spesiale hiper-sensitiewe gehoorapparate.

"Toe ek langs die musikant sit wat die kontrabas speel, het ek begin huil," vertel Zsuzsanna Foldi, wat haar hele lewe lank al doof is.
Kyk gerus 'n video hier om te sien hoe die Dowes die musiek ervaar het. 
Die Danubia-orkes
Tooi jou gemeenskap turkoois
Elke jaar vanaf 15 Mei tot 15 Junie word die Tooi Turkoois veldtog geloods om gemeenskappe bewus te maak van die behoeftes van ouer persone. Ons het ongeveer 2,75 miljoen ouer persone in Suid-Afrika, daarom is die tema vir Tooi Turkoois 2020: sien ouer persone raak.
Badisa doen ‘n beroep op die publiek om steeds hulle veldtog te ondersteun. Al kan die inwoners van ouetehuise nog nie besoekers ontvang nie, kan jy steeds deelneem aan Tooi Turkoois. Badisa gee die volgende riglyne vir deelname:

1) Stuur boodskappe, prentjies of kort videos vir ons inwoners.
2) Bak ‘n koek. Kontak jou naaste tehuis en hoor of daar dalk ouer persone is wie se kinders weens die land se regulasies nie mag reis en hul kan bederf op hul verjaardag nie.
3) Skenk maskers, handskoene, ontsmettingsmiddels en skoonmaakmiddels.
4) Van ons tehuise het ook ‘n tekort aan volwasse doeke.
5) Verrassings. Bederf ons ouer persone met ‘n persoonlike bederfie - blomme, ‘n sepie, handeroom of waslappie.
6) Help ons ouer persone om besig te bly – skenk boeke, bordspeletjies, legkaarte en tydskrifte.
7) Skenk lap, rek, wol, verf en ander kreatiewe materiaal.
8) Kontantskenkings help ons tehuise geweldig baie.
Kry meer inligting oor hierdie inisiatief hier
TEN LAASTE
Sondag is Pinksterfees en ons hoor oral dat dit 'n sonderlinge Pinkstertyd vir sowel lidmate en predikante was. Ons vra ook dat julle die Nasionale Biddag op 31 Mei sal ondersteun en vir ons hele land en al sy mense sal bid tydens hierdie ongekende tye. 
Ons dink ook spesiaal aan ons onderwyspersoneel wat vandeesweek teruggekeer het skole toe en ons leerders wat volgende week op 'n nuwe manier hulle skooljaar moet hervat.
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.