Lees deur internet, klik hier >>
4 Desember 2020
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
SINODENUUS
#integritas konferensie
Die eerste #integritas konferensie het vandeesweek by die Andrew Murray Sentrum vir Spiritualiteit in Wellington plaasgevind. Prof Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, het die programrede gelewer. Sy het onder andere gepraat oor die verband tussen sosiale geregtigheid en integriteit en wat geloofsgemeenskappe se rol is in die stryd teen korrupsie. Luister gerus na die kort onderhoud wat Erwin Schwella van #integritas met haar gevoer het. 
Gesamentlike legitimasie in Paarl
Vyftien studente het verlede week gesamentlik legitimasie ontvang tydens 'n geleentheid by VGK Hugenote, Paarl. Ons vier graag saam met die kandidate hierdie wonderlike mylpaal, wat 'n hoogtepunt op die jaarlikse kerkkalender is.
Van links na regs: Pieter Windvogel, Bulelwa Potwana, Msa Ntshongwana, Rachel Linderoth en Gabriel Conradie.
Van links na regs: Gerhard Meyer, Philip Olivier, Michelle Jacobs-Smith, Jan Coetzer, Karlie Liebenberg, Jacobus Maas (agter), Tiaan Pretorius, Hanlie Groenewald, Lionel Hutton en Stefan de Klerk.
Wat is #integritas?
In die video onder vertel Dewald Hoffmann en prof Erwin Schwella meer oor wat die #integritas beweging alles behels. Hierdie beweging poog om integriteit in Suid-Afrika te bevorder. Waar daar is integriteit is, in teenstelling met korrupsie, presteer die regering en maatskaplike instellings effektief tot voordeel van die landsburgers. Lewenskwaliteit neem toe en misdaad neem af. 
Stuur gerus 'n e-pos aan admin@civinovus.co.za indien jy belangstel om deel te raak van hierdie beweging. 
Erediensriglyne vir 16 Dae van Aktivisme
Rethie van Niekerk van die Taakspan Gendergeregtigheid (Sinode van Wes-Kaapland) het spesiaal ‘n erediensriglyn saamgestel wat op 6 Desember gebruik kan word tydens die 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders.
Die fokusteks kom uit Lukas 18: 1-8 met preekriglyne, voorgestelde gebede en liedere. Klik hier vir die volledige riglyn.
Algemene Sinode Handelinge nou beskikbaar
Die Handelinge vir die sewentiende vergadering van die Algemene Sinode van die NG Kerk gehou te eMseni Christian Centre, Benoni gedurende 6-11 Oktober 2019 is nou beskikbaar. Predikante/afgevaardigdes kan dit by Lisa Human bestel en by die sinodekantoor in Bellville of by die Argief in Stellenbosch afhaal.
Stuur 'n e-pos na skriba@kaapkerk.co.za om 'n kopie te bestel. Let asseblief daarop dat slegs 25 kopieë beskikbaar.
Hulpbronne vir Advent en Kersfees
Loer gerus by DinkJeug in vir idees en hulpbronne vir Advent en Kersfees. 
Daar is adventpakkies, gespreksvrae vir gesinne, aktwiteite vir kinders en nog meer!

Afgetrede mielieboer vat hande met opkomende boer 
Floors Meyer van George is die IMSA (Industrial Ministry SA) se opleidingskoördineerder van Arbeidsbediening Tuinroete. Hy het onlangs tydens een van sy akkreditasie-opleidingaanbiedings ’n baie interessante persoon ontmoet, wat ook nou aangesluit het as vrywillige arbeidsbedienaar in Mosselbaai.
Lees meer oor die afgetrede Wes-Transvaalse mielieboer Jasper van Zyl (links) en hoe hy die opkomende boer Booi Manewil (regs) en dié se vrou onder sy vlerk begin neem het.
Little Seeds vier Boomplantdag
Tien leesgroepe in De Doorns het van 9-13 November ’n boomplantweek gehou. Die bome is geskenk deur die Breede Vallei munisipaliteit en die Departement van Omgewingsake. Michelle Goliath skryf: “Die fokus van die projek was om ons kinders meer bewus te maak  van hul omgewing en die belangrikheid van bome vir ons as mense. Ons het die kinders geleer van bome, die groeiproses sowel as hoe om  water te bespaar deur afvalwater te gebruik om die bome nat te maak.
Hier in De Doorns is ons kinders baie gretig om met hul hande te werk en was dit ‘n groot lekkerte om in die natuur te kon werk. ‘n Nuwe wêreld het vir die kinders oopgegaan. Dit was vir die kinders net so interessant om van Suid-Afrika se nasionale boom, die geelhout, te kon leer en dit self te kon plant.”
Hulle beplan reeds aan volgende jaar se geleentheid en beoog om ’n kompetisie te loods om te sien watter leesgroep se bome die hoogste  en beste gegroei het.
Finansiële geletterdheid vat vlam in Tuinroete!
Arbeidsbediening Tuinroete het aan die begin van die jaar 'n vennootskap met Africa Skills College in George gevestig met die doel om hulle finansiële geletterdheidsprogram, Debt Savvy,  'n SAQA-geakkrediteeerde program, te kan aanbied.  Floors Meyer is as fasiliteerder daarvan opgelei en het vanjaar hul eerste werkswinkel aan 13 geestelike leiers (foto onder) van die VGK Gemeente te Touwsranten naby George,  aangebied. Lees hier meer.
EKOLOGIE
Die sterre help ons om Christus (en onsself) in die stal raak te sien
Dit is Adventstyd en een van die dae weer Kersfees. Die bestudering van die sterre het wyse manne uit die Ooste gehelp om die Christus-kind en Skepper van die heelal te vind in die stal van Betlehem. Dalk kan ons eie bestudering van die sterre en die hemelruim ons ook help om die Skepper en Verlosser van die heelal in die “stalle” (plekke van broosheid, eenvoud en geringheid) van ons lewens, dorpies, gemeenskappe en die natuur te vind. Lees meer hier.  
NUUS VAN ONS FAMILIE UIT AFRIKA
Lord Somerset, AC Murray en kerkwees in Malawi
Lord Charles Somerset het seker nooit kon dink dat sy versoek om Engelssprekende predikante en onderwysers na Suid-Afrika te lok (as deel van sy verengelsingsbeleid) een van die grootste geestelike invloede in die NG Kerk sou help bewerkstellig nie. In 1822 immigreer Andrew Murray vanaf Skotland na Suid-Afrika en trou later met die 16-jarige mej Stegmann. Uit hul nageslag is daar talryke predikante en sendelinge gebore, waarvan sy kleinseun, Andrew Charles Murray, een van die pioniersendelinge in Malawi was. Op 28 November 1889 slaan Andrew saam met TCB Vlok tent op by Mvera, oos van Lilongwe op pad na die Malawi-meer, waar die eerste sendingstasie van die NG Kerk gestig is. Vandag bestaan ons susterskerk daar, die CCAP (Church of Central Africa Presbyterian) uit meer as 1 miljoen lidmate en handhaaf ons deur middel van Getuienisaksie steeds baie goeie verhoudinge met ons geloofsfamilie daar. Lees meer oor die CCAP hier.  Die foto bo is tydens 'n jeugbyeenkoms geneem.
GEMEENTENUUS
Nog gemeentekalenders!

Groote Kerk vier nuwe Bybelvertaling
Die gemeente van Groote Kerk het hierdie video gemaak om die 2020-vertaling van die Bybel te vier. Verskillende lidmate lees die nuwe weergawe van Psalm 23.
Bloubergstrand staan saam teen geweld
Die gemeente van Bloubergstrand is aktief betrokke by die 16 Dae-veldtog teen geweld teen vroue en kinders. Hulle gaan tot 10 Desember 'n vreedsame protesoptog hou, geklee in swart, met plakkate wat hulle doel uiteensit: dit is tyd om geweld teen vroue en kinders te stop.
Die gemeente het verlede jaar ‘n belofte gemaak vir hierdie veldtog en het besluit dat hulle hierdie jaar graag daarop wou voorbou deur iets meer prakties en visueel te doen tydens die 16 dae.
Hulle is elke weeksoggend tussen 07:00 en 08:00 vir die verloop van die veldtog te sien by Marine Circle. Enige persoon wat ook sterk oor hierdie saak voel, is welkom om by hulle aan te sluit. 
Durbanville-gemeente hou Kerspiekniek
Durbanville-gemeente hou Sondag om 18:00 'n Kerspiekniek in die kerktuin en nooi lidmate en hulle vriende en familie om saam te kom kuier en sing. Maskers is verpligtend. Besprekings is nie noodsaaklik nie, jy kan net opdaag.
Klik hier vir aanwysings na die kerkgebou.

Om die tafel kategese in Wellington-Oos
Die gemeente van Wellington-Oos is besig om hierdie kwartaal ‘n nuwe manier van kategese op die proef te stel. Die gemeente verwelkom gesinne om saam om ‘n tafel te sit.
Lesse, wat dien as kategese, word aangebied en almal word uitgenooi om saam te gesels, saam te doen en so ook saam te groei. Die sinvolle lesse is gebaseer op die preek van elke Sondag en omdat die kategese voor die preek plaasvind, help dit om die preek te vereenvoudig en makliker verstaanbaar te maak vir kinders en tieners. Die gemeente moedig ook die ouers aan om met hul kinders verder na kerk te gesels en die kerkdiens ook so vas te lê, evalueer en bespreek.     
“Verandering is goed en nodig. Ons is baie opgewonde en sien uit na  die vars manier van dink en doen. So leer ons ook om kreatiewe en nuwe maniere te kry om die kerk sommer baie lekker te maak vir ons kinders en tieners.” Klik hier vir ‘n voorbeeld van so les.
Helderberg deel Kersvreugde uit
Die Seniorsorgspan van Helderberg Uitreik het 594 pakkies koekies netjies in Kersversierings verpak. Dit word as geskenke aan die inwoners van Huis Marie Louw, Huis Esperanza en Zandvliet Care Centre geskenk. Dankie aan die span en hulle liefde en deernis met die senior burgers in die tehuise.
GEBEDSVERSOEK
Klik bo om die volledige gebed te lees.
VAKATURES
Fasiliteitebeampte: Welgemoed
Die NG Gemeente Welgemoed bied tans 'n pos vir 'n voltydse fasiliteitebeampte. Die aangewese kandidaat se verantwoordelikhede sal onder andere operasionele bestuur, administrasie en die beheer van fasiliteite (geboue en infrastruktuur) asook bates, toerusting, voorraad en terrein insluit.
Klik hier vir profielvereiste en posbeskrywing. Aansoeke sluit 4 Januarie 2021.
Leraarspos: De Tyger
NG Kerk De Tyger adverteer in biddende afhanklikheid die pos van voltydse leraar. Die geskikte persoon moet inspirasie put uit die hele Woord van God en 'n lewende getuienis uitleef. Klik hier vir leraarsprofiel en meer inligting.
Sluitingsdatum vir aansoeke is 8 Januarie 2021.
Finansiële bestuurder: Stellenberg
Stellenberg-gemeente in Eversdal beskik oor ’n vakature vir ’n finansiële bestuurder. 'n Tersiêre finansiële kwalifikasie asook bewese ondervinding is vereistes. Stuur ’n volledige CV voor 8 Januarie 2021 om 12:00 na stellenberg@stellenberg.co.za.   Die posbeskrywing kan ook by die e-posadres aangevra word. Diensaanvaarding: 1 Maart 2021.
Little Seeds: Programme Manager
Little Seeds, a joint programme of Badisa and Diaconia, requires the services of a programme manager. The successful candidate will be responsible for the overall operation and management of Little Seeds, to develop and ensure quality, affordable early learning opportunities and programmes for young children. Click here for more information. The closing date for applications is 10 December.

Klik bo vir meer inligting.
BEHOU DIE HUMOR
NUUSBRIEWE
Klik bo om meer te lees van MES Kaapstad.
Vind meer uit oor Bybel-Media se KinderKersKous-projek. Klik bo.
Lees die VGKSA Streeksinode Kaapland se nuusbrief  deur bo te klik.
KUIERKANSE
ALGEMEEN
Week van Gebed meditasies beskikbaar
Die Christelike Lektuurfonds laat weet dat die reeks meditasies vir die Week van Gebed 2021 nou beskikbaar is. Die reeks is vanjaar voorberei deur Eddie Orsmond van Wellington. Die reeks besin vanuit die Skrif oor die wesenlike fasette van ‘n seënryke gebedslewe. "Dit is goed as individuele gelowiges, gemeentes in die NG Kerkfamilie en ook gemeentes uit ander kerkgenootskappe die jaar 2021 kan ingaan met ‘n nadenke oor en ‘n oefening in die intimiteit van gebed in ons binneste kamer. Vandaar kan ons dan elke dag die nuwe uitdagings van 2021 aanpak, getroos, versterk, gelei en geborge in ‘n innige verhouding met ons Here.”
Klik hier om die reeks af te laai.
Raakgelees: Kaapstad wen weer!
Kaapstad is pas aangekondig as die wêreld se beste bestemming vir feeste en byeenkomste tydens die toonaangewende World Travel Awards. Kaapstad het stewige mededinging gehad van stede soos Barcelona, Glasgow en Rio de Janeiro. Die Kaapstad internasionale lughawe is ook as die beste op die Afrika-kontinent aangewys. 
TEN LAASTE
Volgende week is die laaste uitgawe van VrydagNuus vir 2020. Ons is weer terug op 29 Januarie.
Die tyd van Advent bring altyd 'n gevoel van afwagting en opwinding - nie net op die koms van die Jesuskind nie, maar ook die vooruitsig na die samesyn met familie en vriende. Luister gerus hier na die weergawe van Bethlehem Ster van die album Kersfees Bekoor.
Hierdie jaar mag dit dalk anders as gewoonlik wees. Wees dus verantwoordelik. Dra jou masker en bly veilig - so beskerm jy nie net jouself nie, maar ook ander mense met wie jy in kontak kom. 
VrydagNuus-groete
Ronelda Visser en Wilmi Wheeler


kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.