navrae@stellenberg.co.za | 021 976 4519 (Kantoorure: 08:00 tot 14:00)
WhatsApp-boodskappe:  081 045 2428 

Kerssangdienste | Sondag 1 Desember 2024


Kinderkerssangdiens om 09:00 in die kerk en aanlyn |  Ds. Visser

Kerssangdiens om 19:00 in die kerk en aanlyn | Ds. Breytenbach


Twee Kerssangdienste op 1 Desember

Die Annibrand Junior-groep bied vir ons ’n Kersprogram aan op 1 Desember om 09:00 in die kerk en nooi oud en jonk om die pragtige vertoning te kom bewonder.  Hulle oefen al ’n geruime tyd en verwelkom almal met entoesiasme.
Ons Kerssangdiens lei hierdie jaar die begin van die adventseisoen in. Na Sondag 1 Desember is daar net drie Sondae oor voor ons Kersdag vier.  Die Kerssangdiens bring ons jaarliks by ’n besondere plek uit om te ervaar hoe die realiteit van Immanuel, God by ons, opnuut in ons hede deurbreek wanneer ons saam Kersliedere sing.
Kom sing Sondagaand 1 Desember om 19:00 ’n groot verskeidendheid Kersliedere saam met Raimondo van Staden-Slabbert,  Johannes van Staden-Slabbert, Hilde Uys en ’n junior kamerkoor.  Die aand sal ’n klassieke inslag hê met klanke van ’n tjello, viool en orrel.  Kom beleef hierdie besondere aand van musiek saam met die werklikheid dat God alomteenwoordig is en ons kom nuut maak. 

Deurkollekte Sondag | Stellenbergkosprojek

Stellenberg se visie is om oor grense heen uit te reik. Wanneer ons dié grense oorsteek, bring dit ons gereeld by mense wat vanweë verskeie redes nie kos het om te eet nie, terwyl voedsel ’n basiese menslike behoefte is. Om hulle nood te verlig, voorsien ons dan maandeliks aan hulle ’n kospakkie.  Lees meer . . .

Worsbroodjies en roomys


Na die Kinderkerssangdiens op Sondag 1 Desember word worsbroodjies en heerlike roomys, ten bate van die uitreik na Namibië in 2025, verkoop.  Kontant en bankkaarte word aanvaar.  Ondersteun asseblief ons uitreik.

Hartlik geluk aan Tiaan Brand en Mia van der Merwe

Tiaan Brand op die foto heel bo is op 27 November as ’n diensleraar by NG kerk Parowvallei-Oos gelegitimeer.  Tiaan is ’n gemeentekind wat hier gedoop is en in die gemeente grootgeword het.  Ons is saam met hom en sy ouers, Burger en Monice Brand, opgewonde oor die mooi loopbaan wat op hom wag. Saam met hulle op die foto is Theo Swart, leraar van Parowvallei-Oos-gemeente. 

Mia van der Merwe, foto onder, ook ’n gemeentekind, het die afgelope jaar ’n bekende en geliefde gesig in die gemeente geraak, nadat sy haar gemeentejaar in Stellenberg voltooi het.  Mia is op 28 November in die NG kerk Sonstraal as proponent gelegitimeer. Op die foto saam met haar, is van links, Josh Oliver, haar verloofde, Floors en Joanie Coetzee, haar grootouers en ouers, Mariël en Frans van der Merwe.  

Tiendemaandinsameling

Ons is opreg dankbaar teenoor elke lidmaat wat tot vanjaar se tiendemaandinsameling bygedra het.  Lidmate het geleentheid om tot einde Januarie 2025 tot die tiendemaandinsameling by te dra.  Bydraes kan elektronies ( ABSA-tjekrekening 145 058 0011, takkode 632005)  of d.m.v. SnapScan (QR-kode onderaan die nuusblad) oorbetaal word.

Gemeente-almanak  

Die nuwe gemeente-almanak vir 2025 sal Sondagoggend en -aand met die Kerssangdienste in die voorportaal van die kerk beskikbaar wees.  Neem asseblief slegs een per huishouding wanneer jy dié eredienste bywoon.  
Jonathan Mitchell, voorsitter van die kommunikasiekommissie, het ’n pragtige agterblad wat die gees van Stellenberg-gemeente visueel uitbeeld, vir die almanak ontwerp.
Bo en behalwe die gedrukte kalenders is daar ook ’n aanlyn almanak op die gemeente se werbwerf beskikbaar.  Klik gerus HIER om daarna te kyk.  Die aanlyn almanak bevat meer besonderhede oor gebeure en sal ook gereeld opgedateer word.  Lidmate word ook uitgenooi om op die Google-kalender te registreer indien jy die kalender aan jou persoonlike dagboek wil koppel, of aan gemeenteaktiwiteite herinner wil word.  

VatVyf-groep sluit die jaar op ’n hoë noot af

Die VatVyf-groep het die jaar se bedrywighede met 'n heerlike Kersete afgesluit.    Die VatVyf-groep ontmoet maandeliks en het ’n interessante program wat sprekers en uitstappies insluit en in 2025 word selfs ’n VatVyf-toer beoog.  Vir meer inligting rakende die groep se bedrywighede, kontak asseblief vir Charlotte by die kerkkantoor. 

Program tydens feesgety


Tydens die komende skoolvakansie en feesgety nooi ons jou hartlik uit om die volgende eredienste by te woon:
- Sondae: ’n Oggenddiens word elke Sondagoggend om 09:00 in die kerk en aanlyn aangebied.
- Oukersaand 24 Desember: Samesang van Kersliedere vanaf 19:00 tot 19:30 in die kerk.
- Kersdag 25 Desember: Kersdienste word om 07:30, 08:30 en 09:30 in die kerk en aanlyn aangebied. Prediker: Ds. René Potgieter. Deuroffer: Projekte in Klipheuwel. 
- Oujaarsdag 31 Desember: Oujaarsdiens om 19:00 in die kerk. Prediker: Ds. Marius Breytenbach.

Kerkkantoor sluit

Neem asseblief kennis dat die kerkkantoor vanaf 23 Desember 2024 tot 3 Januarie 2025 gesluit sal wees.  Kontak gerus die leraar aan diens in geval van nood.  Ds. René Potgieter is tot 25 Desember aan diens en vanaf 26 Desember is ds. Marius Breytenbach aan diens.

Kategeseregistrasie 2025

Kategeseregistrasie vir 2025 is nou oop.  Klik op dié skakel om aanlyn te registreer.  Inskrywingsgeld is R200 per kind en betaalbaar saam met die inskrywing. Die inskrywingsgeld word gebruik om materiaalkoste te dek.  Neem asseblief kennis dat ons versoek dat almal weer registreer vir kategese, al was jy voorheen geregistreer.  Ons wil graag weet vir hoeveel kinders ons per graadgroep moet voorberei. 

Graad 8-kamp | 10 tot 12 Januarie 2025

Stellenberg-gemeente, in vennootskap met Hoërskool Stellenberg, bied aan: Into The Unknown, 'n kamp waar ons jou gaan help om ’n gemaklike oorgang na die onbekende van hoërskool te maak.

Gemeentekamp | 6 tot 8 Desember - daar is plek!

Daar was ’n paar kansellasies; dus het die gewilde gemeentekamp nou weer ’n paar staanplekke beskikbaar.  Ons kampeer weer by die pragtige Goudmyn-kampeerterrein in Robertson.  
 Bespreek jou staanplek so gou moontlik deur die aanlyn vorm te voltooi.  Staanplekke beloop R1 300 vir maksimum ses persone en twee voertuie.

Vroue-retraite

Skryf die datum vir 2025 se vroue-retraite nou reeds in jou dagboek.

Ons gaan vanaf 14 tot 16 Februarie 2025 ’n naweek by die Andrew Murray Spiritualiteitsentrum deurbring.  Die koste sal R1 200 per persoon beloop.  Bespreek jou plek by Charlotte, ontvangs@stellenberg.co.za.


Stellenberg-sokkies – die ideale Kersgeskenk

Ons nooi alle drawwers, stappers, tuiniers en tekkieliefhebbers om ’n paar Versus-sokkies met die gemeente-embleem op, aan te skaf.  Sokkies in nommer 4 tot 7 en 8 tot 12 is teen slegs R150 per paar by die kerkkantoor te koop.  Kaartfasiliteite is beskikbaar.

Elektroniese kommunikasie

  • Op jou rekenaar:
    Jy kan gemeentenuus weekliks deur middel van die Stellenberg-weekliks per e-pos ontvang.  Stuur jou e-posadres aan sanel@stellenberg.co.za.
  • Op jou selfoon:
    Skandeer enige van die QR-kodes met jou slimfoon se kamera om by die WhatsApp-groep van jou keuse aan te sluit en toegang tot gerieflike elektroniese kommunikasie te ontvang. Jy kan die Stellenberg-weekliks, geestelike dagstukke en algemene nuus op jou selfoon ontvang.

- Advertensies - 

Jy kan hier adverteer

Plaas gerus ’n advertensie in die Stellenberg-weekliks.  Die nuusblad word tans weekliks elektronies aan 2 500 persone gestuur en is ook op die gemeente se webwerf beskikbaar.  Advertensies sal slegs aanlyn beskikbaar wees en word nie in gedrukte formaat uitgegee nie. Lees meer . . .
- Verblyf gesoek: Ian Coetzé beoog om in 2025 ’n apteker-internskap by Dis-Chem apteek, Okavango crossing te doen. Hy is van Langebaan en op soek na verblyf in ’n tuinwoonstel, teen ’n billike tarrief in die omliggende omgewing.  Hy volg ’n netjiese, skoon en rustige leefstyl, is ’n nie-roker en nie-drinker en respekteer ander se eiendom. Kontak asseblief vir Ian by 072 592 1183.

- Geregistreerde verpleegkundige word by Edelweiss ACVV Dienstak, ’n residensiële fasiliteit vir ouer persone, benodig.   Aansoeke word ingewag vir ’n geregistreerde suster/stafverpleegster om permanent nagdiens te doen in die versorgingseenheid (ag nagte per maand). Rig CV’s  aan edelweisshoof@acvv.org.za.  Sluitingsdatum : 31 Desember 2024 
- Matskoonmaakdiens: Kontak Leon by 082 448 2438 vir ’n gratis kwotasie.

-Ateljee (Studio) 6 x 5.5 m2 te huur:  Maandag - Vrydag (Dinsdag- en Woensdagoggende 07:30 - 10:30 nie beskikbaar nie). Geskik vir pilates-, dans-, jogaklasse, of menige ander vorme/tipe van klasse Geleë naby Eversdal Laerskool. Kontak Aldea Anker by 083 446 0906 of aldeaanker@gmail.com.
- Tikwerk:  Is te veel tikwerk besig om u te oorweldig?  Ek kan help daarmee: kontrakte, verslae, take – enige tikwerk of dataprosessering.  Kontak Lizelle 082 325 7385.

- Bellair-pendeldiens: Bied vervoer vanaf R320 na die lughawe asook besoeke aan winkels, dokters en hospitale.  Kontak Marius Brink by 079 968 5486/ 079 590 1070.
Om juweliersware te herstel en/of te vervaardig, maar nie seker is waarheen om dit te neem nie, kan 'n uitdagende ervaring wees. Is u op soek na kundiges om u juweliersware te herstel, of nuwe juwele te vervaardig? 

Gold and Diamond Traders, Durbanville (GDT),
Palm Grove Sentrum, Winkel 8 &9b
Landlyn: 021-975 1835 / Selfone: 084 495 5639 & 084 607 7145

Ons dienste sluit die volgende in:
Lees meer . . .
Ons winkel se wins word ten bate van maatskaplike hulpverlening in plaaslike gemeenskappe aangewend.  Kom loer gerus in by ons openingsdag 25 Oktober 2024 by Durbanweg 176, Bellville.   Kontak Antoinette by 072 914 4676 / bellville@onswinkel.co.za.

Subscribe to our email list.