Lees deur internet, klik hier >>
9 Februarie 2018
kommunikasie@kaapkerk.co.za
Amptelike nuusbrief NG Wes-Kaapland
Beste Leser
Sorg vir die Skepping
SINODENUUS
1. Droogte en waterkrisis
Ons BELY

Die NG Kerk het 'n tradisie van pastorale sorg en welsyns- en ander ondersteuning wat oor jare in tye van nood aan die armes en weerloses hulp, troos en hóóp gebied het.
Die huidige waterkrisis en droogte in ons sinodale gebied (en elders in Suid-Afrika), is 'n geleentheid waartydens die NG Kerkfamilie, tesame met ekumeniese vennote in plaaslike gemeenskappe en op 'n breër front, op verskillende maniere die hande van hulle wat die swaarste deur hierdie uitdagings getref word, wil vat. Enkelvoudige antwoorde is daar nie.
Ons wil ons op 14 Februarie en vir die duur van Lydenstyd verootmoedig in gebed, maar ons wil ook deur ander bronne en voorstelle daar wees vir die noodlydende, die arme ... Lees meer en oorweeg asb. hoe jy en jou gemeenskap deel hiervan kan wees. Onderstaande video fokus op ons belydenis te midde van krisistye soos hierdie.
Dag Zero - Ons Bely
2. NG Kerk in SA se kerkseel amptelik geregistreer!
Na ’n interessante geskiedenis van allerlei weergawes van ons sinode se kerkseel, het die moderamen in Augustus 2016 die nuwe, “skoongemaakte” weergawe goedgekeur – netjies en bruikbaar vir drukwerk op amptelike dokumentasie. Die Kerkargief het in September 2016 aansoek gedoen om die registrasie van die kerkseel by die Buro vir Heraldiek. Na ’n uitgebreide proses is die registrasie uiteindelik afgehandel is en die registrasiesertifikaat nou in ons Kerkargief se besit.
Lees hier hoe Andrew Kok oor die kerkseel skryf. Die simboliek van hierdie seel is deel van ons kerk se geseënde, ryk geskiedenis – gaan kyk gerus wat die vrou, die anker, die boot en meer versinnebeeld. Dankie aan Karen Minnaar vir toewyding om hierdie projek suksesvol af te handel.
Kerkseel
Kerkargiefpersoneellede Isabel Murray en Karen Minnaar met die sertifikaat
3. Sinode werk gefokus
Die Sinode van Wes-Kaapland hou 16 fokusareas gedurig in die oog wanneer daar gewerk word om gemeentes te ondersteun. Ons sinodale koördineringspan, die SKS,  koördineer die operasionele werk van die vyf diensgroepe wat sorg dra dat hierdie fokusareas konkreet gestalte vind in hulle missionale bediening van gemeentes. Só wil ons bydra tot die uitbreiding van die koninkryk hier waar ons kerk in Suid-Afrika is.
Ons vyf diensgroepe is: Diaconia, Communitas Gemeentebegeleiding, Getuienisaksie, Ondersteuningsdienste; Toerusting en Navorsing.
’n Uitdaging: kyk gerus krities hoeveel van die volgende fokusareas jy in hierdie uitgawe van VrydagNuus raaksien. 
Spiritualiteit, Jeugbediening, Vroeëkindontwikkeling, Evangelisasie, Kommunikasie, Menswaardigheid, Publieke Getuienis, Nuwe geloofsgemeenskappe, Teologiese opleiding, Ringsleierskap, Navorsing, Kerkeenheid, Ekologie, Algemene Sinode, Ekumene, HospiVisie en Pastoraat.

Diensgroepe van die sinode
4. Kerkhereniging: toerusting
Verteenwoordigers van die VGKSA en die NG Kerk het Maandag en Dinsdag (5 en 6 Februarie) saam vergader om die proses van kerkhereniging verder te neem. Nuwe inisiatiewe word nou oral verwag.
Met die aanvaarding van ‘n tussenorde tussen die twee kerke is dit nou nie net moontlik om goeie verhoudinge te hê nie, maar om eenheidstrukture te skep. Gemeentes en ringe word nou opgeroep om opnuut erns te maak met die proses van hereniging. 
Op die foto onder is die groep byeen. Van ons sinode was Nelis Janse van Rensburg (voorsitter), Elize Morkel (Seisoen van Menswaardigheid), Thys du Toit (Taakspan Regte) en Frederick Marais (fasilitering) teenwoordig. As deel van die fasiliteringsproses het die vergadering die geleentheid gehad om 'n storiemuur van die afgelope ses dekades se proses oor die herenigingsproses saam te stel en te deurleef. 
Kerkhereniging: toerustingsgeleentheid in Johannesburg
5. Diaconia: Fokus op gemeentediakonaat
Die Diensgroep Diaconia se Taakspan Gemeentediakonaat het op Woensdag 7 Februarie in Bellville vergader. Die doel van die Taakspan is om geleenthede vir die ontwikkeling van missionale diakonaat te identifiseer en ontwikkel en gemeentes daarin te ondersteun.
Die platforms waarop hulle tans missionale diakonaat bedink, is vroeëkindontwikkeling (armoedeverligting), ramp- en droogtesteun en pastoraat (HospiVisie). Van tyd tot tyd kom ander temas ook op die tafel. Die taakspan dink ook saam oor vennootskappe (bv. CAPSA, Badisa) en effektiewe kommunikasie na gemeentes. Die voorsitter is André O’Kennedy en ledeverteenwoordigers van gemeentes en HospiVisie. Badisa is ook verteenwoordig op die Taakspan. Kontak Diaconia by diaconia@kaapkerk.co.za vir meer inligting.
Diaconia span
Agter v.l.n.r. André O’Kennedy, Heinrich Götze, Nadine Maletzki,
Christine Quickfall (Badisa), Andre de la Porte (HospiVisie),
Sean Esterhuizen, Nioma Venter
Voor: Ria Koen, Dolf du Plooÿ
Marvin en Veronika Petersen
6. Arbeidsbediening
Marvin van Biblia word pastoor in Kalkbaai
Marvin Petersen is al sedert 2011 betrokke by Biblia Hawesending (Vissers) in Kalkbaai en het ook vinnig by die breër gemeenskap betrokke geraak.
Die goeie nuus is dat hy intussen sy Bachelor of Ministry (BMIN)-graad in teologie behaal het en op 28 Januarie as die nuwe pastoor by die Kalk Bay Community Church (KBCC) bevestig is. Op die foto is Marvin en Veronika Petersen tydens sy bevestiging. Lees hier meer en besoek Arbeidsbediening se Facebook.
Argiefmateriaal
7. Argief by Woordfees:
Was oorlog goed vir die NG Kerk se sendingaksies?
Ons is behoorlik trots op ons eie argief: as deel van die gewilde en suksesvolle Woordfees op Stellenbosch, bied die Kerkargief op 4 en 11 Maart 'n reeks verhale uit die verlede aan. Retief Muller (Kerkgeskiedenis en Ekklesiologie) verskaf skitterend nagevorsde insigte oor die ABO en die invloed daarvan op die kerk se sendingaksies, terwyl stemkunstenaars soos Danny Fourie en Winnie Nel die stil stemme uit die verlede lewe gee. Voeg daarby ons argivale rykdom aan dokumente en foto's ... 'n wenner! Lees hier meer.
Imagine 6-8 April 2018
Theunis Botha
9. VBO-pastoraatkursus vir almal
Elke mens funksioneer binne 'n konteks en 'n netwerk verhoudinge. Hierbinne word verskillende soorte boodskappe geslagte lank soos aflosstokkies aangegee. Hoe daarmee gemaak?
Kom ontdek saam ʼn openbarende aanpak in die pastoraat aan mense  (enkel of in verhoudinge) deur die sertifikaatkursus in Kontekstuele Pastoraat by te woon. Hierdie kursus word vanjaar aangebied deur Theunis Botha in drie modules .Klik hier vir meer.

10. VGK Kaapland se nuwe mediaplatforms
Getuienisaksie, wat sedert 1991 'n gesamentlike diensgroep van die NG Kerk Wes-Kaap en die VGK Kaapland is, ondersteun tans die ontwikkeling en bestuur van die VGK Kaapland se nuwe Facebook, Twitter en webwerf. Gerus kyk solank gerus na die Facebook-blad en volg hulle op Twitter. Gaan bejubel ("like") en deel gerus hul nuus, vra Mariëtte Odendaal van Getuienisaksie.
Facebook-blad
Logo
11. NG Algemene Sinode
Mediaverklaring oor selfdegeslag-regsproses 

Elf lidmate van die NG Kerk het gedurende 2017 ’n regsproses begin om die 2016 Algemene Sinode se besluit oor selfdegeslagverhoudings nietig te verklaar. In ’n mediaverklaring van 7 Februarie gee die NG Kerk inligting oor die verloop van die regsproses. Dit is hier beskikbaar.
Fopnuus
12. NG Kerk en poligamie? 
Moenie (weer) gevang word deur ou fopnuus

Ja, sowaar: daardie stokou poging tot ’n grap oor die NG Kerk wat glo ’n kommissie aangewys het om die wettiging van poligame huwelike te ondersoek, word vir die derde jaar opgediep en versprei. Gaap ...  Lesers word herinner daaraan dat hierdie flou grap reeds in 2016 én 2017 deur middel van mediaverklarings deur die NG Algemene Sinode aangespreek is. Wanneer ’n berig hieroor jou ore bereik, help die verspreider asb. reg deur hulle te verwys na dié verklarings. Dis deel van ons getuienis.
Badseloop
13. Badseloop-gedenkblad
Badseloop, die Noordelike Sinode se jeugkampterrein, is wyd binne die NG Kerk bekend. Die tyd het nou ryp geword om die geskiedenis van die afgelope sowat 75 jaar, en die reuse-invloed wat van daar af uitgekring het, op skrif te stel. As jy 'n bydrae of wenke/hulp wil aanbied, kontak Willus Knipe by willus.knipe@gmail.com of 082 447 1297. Vir meer inligting, klik hier.

Aswoensdag
GEMEENTENUUS
1. NG Gemeente La Rochelle
Aswoensdag en Dag van Verootmoediging
 
Die NG Gemeente La Rochelle nooi almal uit na hul deurloopnagmaal en ervaringsgeleenthede op Woensdag 14 Februarie. Op hierdie manier kombineer die gemeente Aswoensdag en die Dag van Verootmoediging ten opsigte van die droogte. 
Almal is welkom - gaan beleef dit volgens jou eie tyd en ritme: gaan alleen, as gesin of kleingroep. Die kerkgebou is oop tussen 16:00 en 20:00. Adres: hoek van Meerlust- en Hadleystraat, Bellair, Bellville.
Groote Kerk: Dag van verootmoediging
Groote Kerk: Dag van Verootmoediging 14 Februarie 12:00
Logo
3. Halfweek van gebed: Stellenberg-gemeente
Die NG Gemeente Stellenberg hou 'n halfweek van gebed van 11 tot 14 Februarie om 19:00 in die Kleinsaal.  
Dié geleenthede word deur Francois Carr gelei, ’n gesoute spreker en stigter van "Heart Cry Ministries". Gaan luister gerus na sy insigte rondom die vestiging van 'n sinvolle gebedslewe. Bywoning is gratis - navrae kan gerig word aan milda@stellenberg.co.za.
Heinz Winkler
Bedieningsgeleentheid met Heinz Winkler
NG Durbanville 11 Feb. 18:00 - klik bo.
Anton van Niekerk
5. NG Stellenbosch-Welgelegen
Gespreksgeleenthede oor dood en sin

Twee Sondagaand-byeenkomste vind eersdaags in die NG Gemeente Stellenbosch-Welgelegen plaas. By hierdie twee geleenthede (18 en 25 Februarie om 19:00) sal Anton van Niekerk, professor in Filosofie aan die Universiteit Stellenbosch en gelegitimeerde lidmaat van die gemeente, gesprekke lei oor die tema: “Watter sin is daar te maak van die dood?” Aangeheg is meer.
Pierre, Marthinus en Pieter
6. Denkedokter by NG Ceres
Op Woensdagaand 31 Januarie 2018 het Pieter van Jaarsveld, skrywer van die boek Dink jouself gelukkig, Ceres besoek. Daar was ongeveer 500 mense in die NG Moedergemeente Ceres. Hulle is vergas deur Pieter se energieke en humoristiese aanbieding van 'n tema waarvan hy duidelik 'n meester is – geen wonder hy staan bekend as die sogenaamde denkedokter nie! Hy noem onder meer dat navorsing aantoon dat mense hulle brein kan “herbedraad” deur ‘n doelbewuste besluit om anders te begin dink. Lees hier meer.
Foto: Pierre Marais (predikant, NG Ceres) Marthinus de Villiers en Pieter van Jaarsveld.
UIT ONS RINGE
Ringsbederf vir die Ring van Swellendam

Kyk net hoe lekker word ons skribas in die Ring van Swellendam bederf! Op Dinsdag 6 Februarie het die predikante en skribas by Jan Harmsgat naby Swellendam gekuier - en die drie nuwe predikante (Johan Dorfling van NG Robertson-Oos, Hannes Ries van NG Montagu en Nico van der Walt van NG Buffeljagsrivier) is sommer ook in hierdie groep verwelkom. Dalk is daar van ons ander ringe wat hierdie gesellige voorbeeld wil volg. Meer foto’s is op die sinode se Facebook.
Skribas van Ring van Swellendam
Agter v.l.n.r.: Suzette Jansen van Rensburg, Barbara du Toit, Esté Viljoen, Johanna Coetzee, Hannie Kemp, Lizl Oosthuizen
Voor v.l.n.r.: Elsabé Wright, Maydene de Villiers, Breggie Rabie, Sonja Prins

PREDIKANTENUUS
NG Ottery verwelkom Jannie Engelbrecht
Op Sondag 4 Februarie het die NG Gemeente Ottery vir Jannie Engelbrecht verwelkom en bevestig as tentmaker. Hy was vantevore in die bediening by Boston en Vredelust gemeentes, waar hy aan die einde van Augustus 2014 demissie ontvang het. 
In die jare wat Jannie as sakeman werksaam was, het hy steeds by NG Tamboerskloof aanddienste gehou en het deur 'n vorige buurvrou, wat 'n Kerkbode in sy posbus gesit het, gelees van die pos by Ottery. Ten spyte van die beperkinge rondom 'n tentmakerpos, is hy  ywerig om voluit vir die gemeente te werk. Ons seënwense, Jannie!
Engelbrecht gesin
V.l.n.r. Liezel, Anita, Janu en Jannie Engelbrecht
Gebedsversoeke
Versoeke vir voorbidding is welkom.
ALGEMEEN
1. Fakulteit Teologiese
1.1 Teologiese dag: teologie, etiek en burgerlike moed

Die Teologiese Dag, wat die akademiese jaar van die Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch (US), inlei, het op Maandag 5 Februarie plaasgevind met die tema: “Onverskrokke woord en daad in hierdie tyd: Teologie, etiek en burgerlike moed”.
Prof. Thuli Madonsela was een van die genooide sprekers en haar lesing is per video vertoon met dr. Dion Forster as fasiliteerder. Die ander sprekers was Vader Courtney Sampson en di. Jeanet Sibanda, Hanzline Davids en Alan Storey.
Op die foto onder verskyn die sprekers saam met die dekaan, prof. Reggie Nel (derde van links) en prof. Nico Koopman, Vise-rektor: Sosiale impak, Transformasie en Personeel (derde van regs), en die voorsitters van die onderskeie sessies. Fotograaf: Hennie Rudman
Teologiese dag
Anti-korrupsie
1.2 Konferensie oor korrupsie
In aansluiting by die Afrika Unie se eerste Anti-korrupsiejaar-inisiatief, bied Fakulteit Teologie, Universiteit Stellenbosch in samewerking met PANAFSTRAG (die PanAfrican Strategiese en Beleidsnavorsingsgroep in Nigerië) ’n konferensie aan oor korrupsie. Die konferensie vind plaas vanaf 11-13 Julie 2018 by die Universiteit Stellenbosch met die tema “Korrupsie: Rykdom, Mag, Kerk en Demokrasie”. Belangstellendes word genooi om voorstelle te stuur vir voordragte – die sluitingsdatum is einde Maart. Lees hier verder.
Melanie Thirion
2. 'n Getuienis: Ryloop in die koninkryk
"Ons is almal rylopers op reis met Christus. Hy laai mens op en weer af daar waar mens benodig word. Oor die tydsduur van die reis het mens min beheer! As jeugwerk-student het ek myself belowe ek sal ‘n jeugwerker bly tot ek aftree. Helaas toe nie."
Melanie Thirion, lid van ons moderatuur en verbonde aan die NG Gemeente Kenridge, getuig oor haar reis met Christus. Klik hier.
Meer inligting oor die NG Gemeente Kenridge is op hulle webwerf en Facebook.

Nelis Janse van Rensburg
3. Raakgelees 
3.1 Vennootskappe tussen staat en private instellings
Die kerk het nog altyd sy verantwoordelikheid en roeping om die evangelie konkrete gestalte in die gemeenskap te gee, verstaan en uitgeoefen as deel van sy publieke (en profetiese) getuienis.
Nelis Janse van Rensburg sluit hierby aan as hy  die belangrikheid van gesonde vennootskappe tussen die staat en private instellings beklemtoon. Want, skryf hy: "As kerk weet ons die antwoord lê in die skep van egte gemeenskappe en verhoudings tussen mense en instellings." Lees Nelis se artikel hier.
Dirk Smit
3.2 Conversation with Dirk J. Smit
"Dr. Dirk Smit joined the Princeton Seminary faculty in the fall of 2017 as the Rimmer and Ruth de Vries Professor of Reformed Theology and Public Life. He is a leader in public theology in church life in South Africa and in the ecumenical world." In an Q and A article on Princeton Theological Seminary's website, he was recently asked about his work and what motivates his teaching. Read more.

Enneagram
3.3 Enneagram vir predikante
Danie Mouton berig in Grens.Pos (van die NG Kerk in Oos-Kaapland): “Hier is 'n baie oulike artikel uit Christianity Today waarin die nege profiele van die Enneagram van toepassing gemaak word op predikante. Veral diegene wat hulle nommer (en dus plek) ken, sal dit verhelderend vind.” Dankie, Danie.  

PUBLIKASIES
LiG Maart 2018
LiG se Maart voorblad
Seisoene van Genade
Seisoene van Genade - klik bo 
Simbool
EKOLOGIE
1. WWF SA: Wednesday Water File
In the latest “Wednesday Water File” the question about what to do if you can’t flush the loo, is tackled.
“Many people in drought-affected areas are getting really worried about what will happen when we don't have enough water to flush the toilets. There are alternative dry sanitation solutions that you can start looking at now, both in preparation for Day Zero and to reduce your water use to delay Day Zero for as long as possible.” Click here for more information and alternatives to consider.

Droogte
2. Voorbereiding vir Dag Zero
Heelwat mense ontken steeds dat Dag Zero sal aanbreek. Ander plaas die blaam vir die krisis op verskeie partye se skouers. David Botha (Projekspan Ekologie) skryf: "Die beste manier om vir Dag Zero voor te berei, is om te sorg dat dit nie aanbreek nie. Is dit moontlik?" 
Lees hier meer.

BEHOU DIE HUMOR
Humor
KUIERKANS
Huis Zonnekus Bazaar
Huis Zonnekus Bazaar 3 Maart - klik bo

Wees eerlik! Werk ons kommunikasie vir JOU?

Help ons asb. om die sinode se kommunikasie te beoordeel. Wat is JOU gevoel oor VrydagNuus - klik net op die EEN prentjie onder wat jou gevoel die beste opsom. Dankie!
Thumbs Up Thumbs Down
Logo

VAKATURES

Vakatures in Kerkbode

Besoek die NG Kerk se amptelike kerkkoerant, Kerkbode, vir die jongste nuus oor vakatures vir predikante, ander kerklike amptenare en verwante kerklike instansies. Dit word ook op e-Kerkbode bekendgemaak.
Die volgende uitgawe van Kerkbode verskyn op 16 Februarie.

Logo
1. NG Gemeente Bellville-Wes
1.1 Koster
Die NG Gemeente Bellville-Wes is op soek na 'n koster vir 'n kontrakperiode van ses maande. Die pos behels 'n agtuurwerksweek wat saamgestel word uit vaste sowel as fleksietye. Doen aansoek voor 19 Februarie 12:00 en rig navrae aan Willie Badenhorst (021 948 3456) of Suranelle Laubscher (021 948 2402). Lees hier meer.

1.2 Administratiewe hulp
Aansoeke word ingewag vir 'n administratiewe hulp vir 'n kontrakperiode van ses maande. Die geskikte kandidaat moet onder meer eie vervoer en 'n geldige rybewys hê, selfstandig asook in spanverband kan werk, en moet oor goeie lees-, syfer- en skryfvaardighede beskik. Meer inligting oor die pos is hier beskikbaar. Aansoeke sluit 19 Februarie om 12:00.
Kerkgebou
2. NG Bellville Moedergemeente: orrelis
Persone wat die Moedergemeente Bellville op orrel en klavier/klawerbord kan begelei, sowel as die musiekbediening in 'n gemeente kan koördineer, word genooi om aansoek te doen vir die pos van musiekbegeleiding in die erediens. Die ideale kandidaat moet 'n belydende Christen wees en moet goed in spanverband kan werk. Klik hier. Aansoeke sluit 12 Februarie.
Logo
3.1 Bestuurder: Maatskaplike Dienste
Badisa beskik tans oor bogenoemde vakature in die Boland/Drakenstein-area. Die suksesvolle kandidaat moet oor minstens vyf jaar toepaslike ervaring binne die kinder- en gesinsorgveld beskik en bereid wees om te reis. Registrasie by die Suid-Afrikaanse Raad vir Maatskaplike Diensberoepe is verpligtend. Doen aansoek teen 20 Februarie. Meer inligting oor die pos is hier.

3.2 Huis Uitsig, Parow-Noord: Bestuurder
Die ideale kandidaat moet beskik oor ’n naskoolse kwalifikasie en die vermoë hê om ’n span te lei en te motiveer, asook om probleemareas vroegtydig te identifiseer en op te los. Kennis en ervaring van personeel- en finansiële bestuur, arbeidswetgewing, fondswerwing en bemarking asook rekenaarvaardighede is verdere vereistes. Vorige ervaring van die bestuur van ’n tehuis vir bejaardes sal as sterk aanbeveling dien. Lees hier meer - aansoeke sluit 23 Februarie.
3.3 Badisa Wynberg:
3.3.1 Maatskaplike werker/kantoorkoördineerder
Klik hier vir inligting oor hierdie voltydse betrekking om kinderbeskermingsdienste te lewer en as kantoorkoördineerder by Badisa Wynberg op te tree. Aansoeke sluit op 20 Februarie.
3.3.2 Maatskaplike hulpwerker 
Badisa Wynberg het ook ’n voltydse betrekking vir ’n maatskaplike hulpwerker om sorg en ondersteuningsdienste aan kinders en gesinne te lewer. Reageer voor 20 Februarie. Meer is hier.

3.4 Huis Lückhoff, Rosebank:
Administratiewe beampte/boekhouer
Kandidate moet oor goeie menseverhoudinge en goed ontwikkelde syferkundige en rekenaarvaardighede beskik. Akkuraatheid en die vermoë om teen 'n hoë tempo te kan funksioneer, tesame met kennis van Pastel en VIP, word vereis. Reageer voor 16 Februarie. Meer inligting is hier.  
Johan Brink
TEN LAASTE
Uit die pen van ... Johan Brink
Vakansie is lekker, maar die opgewondenheid van die nuwe jaar is ook iets anders. 
Dink aan Josua as jy die jaar ingaan. 
Hy staan voor ‘n nuwe toekoms. 

Bang, onseker:
Miskien voel ons ook so bietjie bang en onseker oor die toekoms. Hoe gaan 2018 uitspeel in die kerk, politiek en my lewe?
Gaan daar uitkoms in die natuur kom met die droogte?  
Om bang en onseker te voel aan die begin van 'n jaar is nie so 'n slegte plek om te wees nie, solank dit lei na groter afhanklikheid van die Here. 

Moses is dood – jy lewe:
Moses is dood, maar ek en jy lewe 
Iemand het geskryf: "If you have a pulse – you have a purpose – find it – live it."
As jy lewe, het God 'n doel met jou – vind uit wat die doel is en léwe die doel.

Met die Here se Woord in jou hand, soos Josua, kan ons ...   


                                                                    - - - - - 

Johan Brink is voorsitter van die sinodale bestuurskommissie van Goudland Sinode. Hy is ook sedert 1978 predikant in die NG Gemeente Fochville-Noord. Johan kan per e-pos bereik word by jpabrink@gmail.com


Vir 'n angstige wêreld
  Vrede van Christus
Vir 'n soekende wêreld
  Liefde van Christus
Vir 'n wagtende wêreld
  Hoop vanuit Christus
Gaan dan in vrede om die Here lief te hê en te dien
In die naam van Christus.
Amen

Vriendelike groete

Marieta Visagie en Salomi Steenkamp



kommunikasie@kaapkerk.co.za


Bydraes voor 12:00 Woensdae na kommunikasie@kaapkerk.co.za
Teken In | Verander Inligting | Teken Uit | Vrywaring
NG Sinode Wes-Kaapland | De Langestraat 5, Bellville 7535 | 021 957 7195 | kommunikasie@kaapkerk.co.za
Subscribe to our email list.